

2025-11-10 03:21:56
Minstens 31 dood in onluste in tronk in Ecuador
Minstens 31 gevangenes het Sondag in twee voorvalle in Suidwes-Ecuador gedurende gewelddadige oproerigheid omgekom.
Dit het plaasgevind in die Machala-gevangenis in dié hawedorp, suid van Guayaquil, in die provinsie El Oro.
Minstens 27 het onmiddellik weens versmoring gesterf toe gevangenes onder mekaar hulle opgehang het, enkele ure nadat vier in ’n gewapende opstand dood en tientalle gewond is, sê die SNAI-gevangenisagentskap in ’n verklaring.
Besonderhede is nie verskaf oor die oorsaak van die dood van die gevangenes in die eerste voorval nie.
Die situasie is volgens die SNAI deur taktiese polisie in bedwang gebring. – Reuters, AFP
2025-11-10 03:32:40
Nog aanklagte teen Yoon ingedien
Suid-Korea se spesiale aanklaer het Maandag nog aanklagte teen oudpres. Yoon Suk Yeol ingedien van magsmisbruik en bystand aan ’n vyandelike staat.
Dit aanklagte hou verband met sy kortstondige instelling van ’n krygswet verlede jaar.
Yoon het na bewering probeer om militêre konflik tussen Suid- en Noord-Korea uit te lok om ’n krygswet in te stel, het ’n woordvoerder van die aanklaer tydens ’n inligtingsessie gesê.
Die woordvoerder het verwys na bewyse wat op ’n militêre amptenaar se selfoon gevind is. – Reuters

Yoon Suk Yeol in ’n hof in Seoel, Suid-Korea, in April vanjaar. Foto: Reuters
2025-11-10 03:43:03
Suid-Korea begin soektog nadat Chinese vissersvaartuig glo omslaan
Suid-Korea se kuswag het Maandag ’n soektog van stapel gestuur ná berigte dat ’n Chinese vissersvaartuig omgeslaan het.
Daar word geglo dat 11 bemanningslede aan boord was toe die vaartuig blykbaar sowat 150 km van Suid-Korea se weskus omgeslaan het, het ’n amptenaar van die kuswag gesê.
Vier kuswagvaartuie en drie lugtuie, waaronder ’n reddingshelikopter, is vir die soek-en-reddingsoperasie ontplooi.
Twee van die 11 bemanningslede is vermoedelik gered deur ’n skip wat in die gebied gevaar het. – Reuters
2025-11-10 04:05:59
3 hommeltuie bo kernkragaanleg in België bespeur
Drie hommeltuie is Sondagaand bo die Doel-kernkragaanleg in België bespeur, het ’n woordvoerder van die energiemaatskappy Engie gesê.
Dit het geen uitwerking op die aanleg se bedrywighede gehad nie en die owerheid is in kennis gestel.
Bedrywighede is Sondagaand by die Luik-lughawe tydelik gestaak toe hommeltuie bespeur is.
Dit is die jongste in ’n reeks onderbrekings weens hommeltuie oor die laaste paar dae. – Reuters
2025-11-10 04:15:11
Oorskot van Israeliese soldaat ná dekade oorhandig
Israel het Sondag die oorskot ontvang van ’n gesneuwelde Israeliese soldaat wat meer as ’n dekade gelede in die Gasastrook omgekom het.
Die kantoor van Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het gesê die oorskot is deur die Rooi Kruis aan Israeliese magte in die Gasastrook oorhandig.
Hamas se gewapende vleuel het vroeër gesê dat hulle die oorskot van Hadar Goldin, ’n militêre offisier wat in ’n lokval in die Gasastrook in die Israel-Hamas-oorlog in 2014 dood is, sal oorhandig. – Reuters
2025-11-10 04:25:08
6 sterf weens tornado in Brasilië

’n Lugfoto van ’n beskadigde gebied Sondag nadat ’n tornado die gebied Rio Bonito do Iguaçu, in die staat Paraná, Brasilië, Saterdag getref het. Minstens ses mense is dood, 437 beseer en sowat 1 000 mense is verwyder. Foto: Reuters
2025-11-10 04:57:48
Amerikaanse senaat gee groen lig vir maatreël om regeringsluiting te beëindig
Die Amerikaanse senaat het Sondag voortgegaan met ’n maatreël wat daarop gemik is om ’n einde te bring aan die ontwrigtende 40 dae lange Amerikaanse regeringsluiting.
Senatore het in ’n prosedurele stemming ’n wetsontwerp voorgelê wat deur die huis van verteenwoordigers aangeneem is.
Die wetsontwerp sal gewysig word om die regering tot 30 Januarie te finansier en sal ’n pakket insluit vir drie jaar se begrotingswetsontwerpe.
Indien die senaat uiteindelik die wetsontwerp aanneem, moet die pakket steeds deur die huis van verteenwoordigers goedgekeur word en aan pres. Donald Trump gestuur word vir sy ondertekening.
Die proses kan dae duur. – Reuters
2025-11-10 05:27:03
Inwoners betoog oor giftige lug in Nieu-Delhi
Tientalle betogers het Sondag in Nieu-Delhi saamgetrek om te eis dat die regering maatreëls tref om iets omtrent die giftige lug te doen.
Ouers het hul kinders saamgebring, wat maskers gedra en plakkate vertoon het. Die bewoording op een was: “Ek mis dit om asem te haal.”
Die uitgebreide metropool van die Indiese hoofstad, met nagenoeg 30 miljoen inwoners, word gereeld gereken onder die wêreld se mees besoedelde hoofstede.
Vlakke van 2.5 partikulêre materie per diameter (PM 2.5) – mikrodeeltjies wat kanker kan veroorsaak en wat klein genoeg is om in die bloedstroom te beland – styg soms tot 60 keer die VN se daaglikse gesondheidslimiete. – AFP

Betogers met maskers hou Sondag plakkate vas in Nieu-Delhi, Indië. Foto: AFP
2025-11-10 06:16:53
Twee hoës van BBC bedank ná skandaal oor Trump-dokumentêr
Tim Davie, direkteur-generaal van die BBC, het Sondag sy bedanking aangekondig ná onmin oor die manier waarop ’n dokumentêr oor pres. Donald Trump geredigeer is.
Deborah Turness, BBC-nuushoof, het ook bedank ná beskuldigings dat twee dele van ’n toespraak deur Trump in ’n dokumentêr in die program Panorama op ’n misleidende manier aanmekaar gelas is om dit te laat lyk asof hy die rebellie by die kongresgebou in Januarie 2021 aangemoedig het.
Trump het in reaksie op die nuus gesê “korrupte joernaliste” is blootgelê en bygevoeg “dit is baie oneerlike mense wat probeer het om op die skaal van ’n presidentsverkiesing te trap”. – AFP
2025-11-10 06:37:59
Boot slaan om tussen Thailand, Maleisië, honderde ook vermis
Elf mense is tot dusver dood nadat ’n boot met lede van Mianmar se Rohingja-gemeenskap Sondag naby die grens tussen Thailand en Maleisië gesink het.
Daar was vermoedelik ongeveer 70 mense op die boot.
Dit is nog onseker wat die stand van sake is oor ’n ander boot met 230 passasiers, het die Maleisiese owerheid gesê. Dertien oorlewendes is tot dusver gevind.
Rohingja-mense gaan toenemend gebuk onder geweld in Mianmar en moeilike lewensomstandighede in vlugtelingkampe in Bangladesj, en al hoe meer van hulle pak gevaarlike reise per see aan om daaraan te ontvlug. – Reuters
2025-11-10 07:51:16
4 dood weens supertifoon in Filippyne
Minstens vier mense is in die Filippyne dood nadat die supertifoon Fung-wong die land getref het.
Die owerhede het Maandag begin om die skade te bepaal nadat die weersomstandighede bedaar het, hoewel geen berigte van groot verwoesting nog ingestroom het nie.
Meer as 1 miljoen mense is na veiligheid geneem voordat die supertifoon die land getref het.
Die storm is die 21ste vanjaar in die Filippyne nadat die tifoon Kalmaegi verlede week tot die dood van minstens 224 mense gelei het.
Vyf mense is ook in Viëtnam dood. – Reuters

Reddingswerkers Sondag in die dorpie Tuao, Cagayan, in die Filippyne. Foto: Verskaf/AFP
2025-11-10 08:45:05
Iran noem VSA se bewering oor komplot teen amptenaar ‘absurd’
Iran het Maandag beskuldigings deur Amerika dat Teheran probeer het om die Israeliese ambassadeur in Mexiko dood te maak, verwerp.
“Hierdie bewering is baie belaglik en absurd,” het Esmaeil Baqaei, woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake, gesê. Mexiko se ministerie van buitelandse sake sê dat hy “geen inligting” oor die beweerde komplot ontvang het nie.
’n Amerikaanse amptenaar sê dat Iran se Islamitiese Revolusionêre Wag se elite-Quds-mag die komplot laat in 2024 begin het en dat dit vroeër vanjaar ontwrig is. – AFP
2025-11-10 09:07:47
Sowat 200 dood in gevegte in Nigerië
Sowat 200 mense is dood in botsings tussen mededingende djihad-faksies in die Tsjadmeer-gebied in die noordooste van Nigerië, het intelligensie-, milisie- en djihad-bronne Maandag gesê.
Gevegte tussen Boko Haram en militante van Isis-Wes-Afrika het Sondag in Dogon Chiku aan die oewers van die Tsjadmeer uitgebreek, het bronne gesê.
“Uit die inligting wat ons gekry het, is ongeveer 200 Boko Haram-terroriste in die gevegte dood.” – AFP
2025-11-10 09:13:48
2 soldate in landmynontploffing in Thailand beseer
Thailand het die implementering van ’n vredesooreenkoms met Kambodja opskort nadat twee Thaise soldate in ’n landmynontploffing naby die grens beseer is.
Die ooreenkoms, wat onder toesig van pres. Donald Trump gesluit is, was bedoel om ’n blywende einde aan die vyandelikhede te verseker.
Een van die soldate het ’n ernstige beenbesering opgedoen terwyl druk van die ontploffing veroorsaak het dat die ander soldaat borspyne opgedoen het. – AFP
2025-11-10 09:41:30
Aanklaers versoek Sarkozy se vrylating uit gevangenis
Aanklaers in Frankryk het Maandag die vrylating van oudpres. Nicolas Sarkozy (70) onder geregtelike toesig hangende ’n appèlverhoor versoek.
“Die risiko’s van sameswering en druk op getuies regverdig die versoek om vrylating onder geregtelike toesig,” het Damien Brunet, aanklaer, in die hof gesê en gevra dat Sarkozy se versoek om vrylating toegestaan word.
Sarkozy, wat die land van 2007 tot 2012 gelei het, is verlede maand daaraan skuldig bevind dat hy probeer het om finansiering by Moeammar Ghaddafi, voormalige leier van Libië, te kry vir sy verkiesingsveldtog. – AFP

Nicolas Sarkozy Foto: Getty Images
2025-11-10 09:50:14
Tronkstraf uitmergelend – Sarkozy
Nicolas Sarkozy (70), voormalige president van Frankryk, sê sy gevangenisstraf is “uitmergelend”.
“Dis moeilik, baie moeilik, beslis vir enige gevangene. Ek sou selfs sê dis uitmergelend,” het Sarkozy Maandag via videoskakel aan ’n hof in Parys gesê en bygevoeg dat hy hulde wil bring aan die personeel in die gevangenis wat “hierdie nagmerrie draaglik gemaak het”.
Vroeër is berig aanklaers het Maandag sy vrylating onder geregtelike toesig hangende ’n appèlverhoor versoek.
Hy is daaraan skuldig bevind dat hy probeer het om finansiering by Moeammar Ghaddafi, voormalige leier van Libië, te verkry. – AFP
2025-11-10 10:18:15
‘BBC nie institusioneel bevooroordeeld’
Deborah Turness, die BBC-nuushoof, het Maandag gesê die uitsaaier is “nie institusioneel bevooroordeeld nie”.
Vroeër is berig Turness en Tim Davie, direkteur-generaal van die BBC, het bedank ná beskuldigings dat die uitsaaier ’n toespraak deur pres. Donald Trump op ’n misleidende manier aanmekaargelas en geredigeer het.
“Ek wil een ding baie duidelik maak: BBC News is nie institusioneel bevooroordeeld nie. Daarom is dit die wêreld se mees vertroude verskaffer van nuus,” het Turness aan verslaggewers gesê. – AFP

Deborah Turness praat Maandag met die media buite die BBC se kantoor in Londen, Engeland. Foto: Reuters
2025-11-10 10:37:02
Spaanse Katolieke biskop oor ‘seksuele mishandeling’ ondersoek
’n Katolieke biskop in Spanje word deur die Vatikaan ondersoek oor ’n bewering van mishandeling.
Die Spaanse koerant El País het Maandag berig dat biskop Rafael Zornoza ondersoek word weens die beweerde seksuele mishandeling van ’n tienerseun in die 90’s.
Luidens ’n verklaring deur Zornoza se bisdom, skort hy sy skedule tydelik op terwyl die saak ondersoek word en sal hy sy volle samewerking in die ondersoek gee.
Die Vatikaan het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-11-10 10:49:07
Kremlin wil hê Oekraïne-oorlog moet so gou moontlik eindig
Die Kremlin wil hê dat die oorlog in Oekraïne so gou moontlik eindig, maar pogings om dit op te los word vertraag.
Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, het gereageer op opmerkings wat pres. Donald Trump Vrydag op ’n vergadering met Viktor Orban, Hongaarse premier, gemaak het.
“Ek dink ons stem saam dat die oorlog binnekort gaan eindig,” het Trump gesê.
Peskof sê die Kremlin verkies om sy doelwitte in Oekraïne met politieke en diplomatieke middele te bereik.
“Die situasie word vertraag. Dit is nie ons skuld nie,” sê hy en blameer Oekraïne. – Reuters
2025-11-10 11:26:31
Poetin besoek Indië in Desember
Die Kremlin sê hy "berei aktief voor" vir pres. Wladimir Poetin se besoek aan Indië voor die einde van die jaar en hoop dit sal 'n omvangryke reis wees. Poetin sal Indië in Desember besoek, volgens die Kremlin.
Sy laaste besoek daar was in Desember 2021, net 'n paar maande voordat hy troepe in Februarie 2022 na Oekraïne gestuur het. "Ons is besig om aktief voor te berei vir pres. Poetin se besoek aan Indië," het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, Maandag aan verslaggewers in Moskou gesê.
Peskof wou nie verdere besonderhede gee oor wat op die agenda sou wees vir die samesprekings op Poetin se besoek nie. – Reuters
2025-11-10 11:32:25
VSA, Israel voer gesprek in Jerusalem oor skietstilstand
Jared Kushner, Amerikaanse gesant, het Maandag in Jerusalem met Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, gesprekke gevoer, sê Netanyahu se kantoor sonder om verdere besonderhede oor die vergadering te verskaf.
"... Benjamin Netanyahu vergader tans in sy kantoor in Jerusalem met die Amerikaanse president, Donald Trump, se spesiale gesant en skoonseun, Jared Kushner," lui ’n verklaring wat uitgereik is.
Israeliese media berig dat Kushner se besoek kom terwyl Amerika druk uitoefen op pogings om te verseker dat die skietstilstand in die Gasastrook nagekom word. – AFP
2025-11-10 11:37:58
VAE nie nou deel van stabiliteitsmag in Gasastrook
Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) sien nog nie 'n duidelike raamwerk vir die voorgestelde internasionale stabiliteitsmag in die Gasastrook nie en sal onder die huidige omstandighede nie daaraan deelneem nie.
Anwar Gargash, diplomatieke raadgewer van die president van die VAE, sê sy land sal egter voortgaan om politieke vredespogings te ondersteun en 'n toonaangewende verskaffer van humanitêre hulp te bly.
"Die streek bly broos, maar daar is rede vir versigtige optimisme," sê hy. Die skietstilstand in die Gasastrook, wat daarop gemik is om vyandelikhede tussen Israel en Hamas te beëindig, is deur Amerika bemiddel. Egipte, Katar en Turkye het ook as bemiddelaars opgetree. – Reuters
2025-11-10 11:46:07
Nee vir diensplig in Duitsland, sê Greenpeace-lede

Jeuglede van Greenpeace sit ’n paar stewels met ’n boodskap op die trappe voor die laerhuis van die Duitse parlementsgebou in Berlyn in ’n betoging teen diensplig. Foto: Reuters
2025-11-10 12:14:46
Trump staan kwytskelding toe vir Giuliani, ander
Pres. Donald Trump het omstrede kwytskeldings toegestaan aan meer as 70 bondgenote wat beskuldig word van pogings om die 2020-verkiesing te ondermyn.
Die lys sluit name in soos Rudy Giuliani, voormalige burgemeester van New York en Trump se voormalige prokureur, Sidney Powell, nog ’n voormalige prokureur, sowel as Mark Meadows, Trump se eertydse stafhoof. Hulle het glo gepoog om kieserspanne in sleuteldeelstate te verander, dade wat gelei het tot die aanval op die Amerikaanse kongresgebou op 6 Januarie 2021.
Hoewel geen van die persone op federale vlak aangekla is nie, kan die kwytskelding deur Trump toekomstige vervolging verhinder. Die ander persone op die lys sluit in John Eastman en Boris Epshteyn, wat albei as raadgewers vir Trump opgetree het. – AFP
2025-11-10 12:25:56
Geen verband tussen parasetamol, outisme, sê oorsig in mediese joernaal
’n Omvattende oorsig toon daar is geen duidelike verband tussen die gebruik van parasetamol deur swanger vroue en outisme by hul kinders nie.
Die oorsig, die mees omvattende tot dusver, volg nadat pres. Donald Trump in September ’n opskudding veroorsaak het toe hy beweer het daar is 'n verband tussen parasetamol, oftewel asetaminofeen, en ’n toename in outisme.
Medici waarsku dat Trump se uitlatings vroue kan ontmoedig om dié veilige pynmiddel te gebruik. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beklemtoon ook dat daar geen bewyse is dat parasetamol outisme veroorsaak nie.
Die nuwe oorsig, gepubliseer in die British Medical Journal, sluit alle bestaande studies in en bevind dat daar geen duidelike verband tussen blootstelling aan parasetamol gedurende swangerskap en outisme of aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom is nie. – AFP

Pres. Donald Trump het in September ’n opskudding veroorsaak met sy bewering dat parasetamol verbind word met outisme. Foto: AFP
2025-11-10 12:42:55
Takaitsji se uitlating oor Taiwan lei tot diplomatieke storm
Japan het Maandag ’n Chinese diplomaat skerp gekritiseer oor 'n “uiters onbehoorlike” opmerking wat glo teen Sanae Takaitsji, premier van Japan, gerig is. Dit volg nadat Takaitsji laat blyk het Japan kan militêr ingryp as China Taiwan aanval.
Xue Jian, die Chinese konsul-generaal in Osaka, het toe op sosiale media geskryf “die vuil nek wat inmeng, moet afgesny word”. Xue se boodskap is later verwyder. Japan beskou die plasing as “ ’n dreigement”.
China, op sy beurt, sê Xue het net gereageer op Takaitsji se “gevaarlike” stelling oor Taiwan. Die Taiwanese regering sê ook sulke dreigemente is onaanvaarbaar.
Takaitjsi het later verduidelik dat haar opmerking as hipoteties beskou moet word. Die voorval kom te midde van groeiende spanning in die streek. – Reuters
2025-11-10 13:04:45
Franse hof laat Sarkozy vry hangende appèl
Oudpres. Nicolas Sarkozy van Frankryk sou Maandag uit die tronk vrygelaat word op bevel van ’n regter hangende sy appèlverhoor oor Libiese finansiering.
Aanklaers het aanbeveel dat Sarkozy, wat 70 jaar oud is, vrygelaat word ná 20 dae in die tronk – ’n tydperk wat hy as ’n “nagmerrie” beskryf het.
Sarkozy, wat van 2007 tot 2012 as president gedien het, is daarvan beskuldig dat hy onwettig geld van die destydse Libiese leier Moeammar Ghaddafi ontvang het vir sy 2007-verkiesingsveldtog.
Die saak spruit uit bewerings dat miljoene euro’s se onwettige finansiering van Libië na sy veldtog gevloei het – aanklagte wat Sarkozy ontken.
Die hof het hom aanvanklik gevangenisstraf opgelê, maar hy het appèl aangeteken teen die uitspraak.
Die jongste wending beteken hy sal vry wees tot sy appèlverhoor begin. – Reuters

Oudpres. Nicolas Sarkozy van Frankryk. Foto: Getty Images
2025-11-10 13:12:11
BBC-voorsitter vra om verskoning vir 'oordeelsfout'
Samir Shah, voorsitter van die BBC, het Maandag amptelik om verskoning gevra vir die wysiging van ’n toespraak deur pres. Donald Trump in ’n dokumentêr.
Dié voorval het gelei tot die bedanking van Tim Davie as hoof van die BBC en Deborah Turness as die nuushoof. Shah het erken die wysiging het ’n verkeerde indruk by kykers gelaat, en sê die saak is vroeër intern ondersoek, maar die BBC moes destyds formele stappe geneem het.
Hy beklemtoon die BBC se verbintenis tot onpartydigheid en die herstel van die publiek se vertroue.
Die program het twee insetsels van Trump saamgevoeg en só die indruk geskep dat hy die stormloop op die Amerikaanse kongresgebou in Januarie 2021 aangehits het. – Reuters
2025-11-10 13:17:19
6 sterf toe Amerika ‘dwelmbote’ aanval
Ses mense is dood in aanvalle op wat die Amerikaanse weermag beweer die bote van dwelmsmokkelaars is.
Die jongste aanval bring die dodetal van die VSA se omstrede veldtog teen narkotika op 76 te staan.
Volgens Pete Hegseth, Amerikaanse minister van oorlog, het die twee aanvalle Sondag in internasionale waters in die oostelike Stille Oseaan plaasgevind.
Twee bote “wat dwelms vervoer”, elk met drie mense aan boord, is geteiken. “Al 6 is dood. Geen Amerikaanse magte is beseer nie,” het Hegseth gesê. – AFP
2025-11-10 14:00:15
Hei, waar’s die pad?!

Mense staan Maandag by ’n verwoeste deel van ’n pad in Dipaculao in Aurora in die Filippyne, ’n dag nadat die tifoon Fung-wong aan land gekom het. Die tifoon Fung-wong het die lewe van vier mense geëis, het owerhede Maandag gesê. Meer as ’n miljoen mense is na veiligheid geneem voordat Fung-wong Sondag aan land gekom het. Foto: Reuters
2025-11-10 14:18:52
Duisende vlugte weer in VSA gekanselleer weens regeringsluiting
Amerikaanse lugdienste het Maandag vir die vierde agtereenvolgende dag meer as 1 500 vlugte gekanselleer terwyl die regering se vlugbesnoeiings en afwesigheid van lugverkeerspersoneel steeds lugvaart ontwrig.
Volgens FlightAware is meer as 1 550 vlugte Maandag gekanselleer en 1 200 vertraag nadat 2 950 vlugte Sondag gekanselleer is en byna 10 800 vertraag is in die ergste dag vir vlugonderbrekings sedert die regeringsluiting op 1 Oktober begin het. – Reuters
2025-11-10 14:37:35
Regter blokkeer direktief oor Amerikaanse voedselhulpvoordele
’n Federale regter het Maandag die Trump-administrasie se opdrag tydelik geblokkeer wat vereis dat Amerikaanse deelstate stappe moet herstel wat hulle geneem het om volle voedselhulpvoordele te verskaf.
Dit kom nadat ’n federale appèlhof Sondagaand laat ’n regter se bevel bekragtig het wat Amerikaanse amptenare opdrag gee om die maand se voedselhulpvoordele vir 42 miljoen lae-inkomste Amerikaners tydens die voortslepende regeringsluiting ten volle te verskaf. – Reuters
2025-11-10 15:00:44
Man wat glo 6 doodmaak, 300 beseer, in Duitse hof

Taleb Djawad al-Abdoelmohsen, ’n 51-jarige psigiater van Saoedi-Arabië, word Maandag die hofsaal in Magdeburg, Oos-Duitsland, ingelei. Abdoelmohsen word daarvan beskuldig dat hy op 20 Desember 2024 met ’n voertuig deur ’n Kersmark in die stad gejaag en die dood van ’n negejarige seun en vyf vroue tussen die ouderdomme van 45 en 75 veroorsaak het en meer as 300 mense beseer het. Hy staan tereg op ses aanklagte van moord en 338 aanklagte van poging tot moord. Volgens staatsaanklaers is Abdoelmohsen ’n sterk kritikus van Islam en ’n aanhanger van verregse sienings en radikale samesweringsteorieë. Foto: AFP
2025-11-10 15:16:03
8 dood in ontploffing naby Rooi Fort in Nieu-Delhi
Minstens agt mense is dood in ’n ontploffing by die bekende Rooi Fort in ’n digbevolkte deel van die Indiese hoofstad, Nieu-Delhi, sê die stad se polisie.
Die ontploffing het in ’n motor naby die Rooi Fort plaasgevind. Die presiese oorsaak van die ontploffing is nog nie bekend nie en word ondersoek, sê die polisie.
Minstens 11 mense is beseer, het TV-kanale berig. Minstens ses ander voertuie het aan die brand geraak, het Nieu-Delhi se adjunk-brandweerhoof gesê.
Die Rooi Fort, in Indië bekend as die Lal Qila, is ’n 17de eeuse fort uit die Moghul-era in die ou deel van die stad en word regdeur die jaar deur toeriste besoek. – Reuters

Veiligheidspersoneel Maandag by uitgebrande voertuie ná die ontploffing by die bekende Rooi Fort in die ou deel van Nieu-Delhi, Indië. Foto: AFP
2025-11-10 15:37:12
Kanada verloor sy maselsvrye-status ná 30 jaar
Kanada het sy maselsvrye-status verloor ná byna 30 jaar as gevolg van sy mislukking om ’n jaarlange uitbreking van die siekte te stuit, het die land se openbare gesondheidsagentskap Maandag gesê.
Kanada het die afgelope jaar meer as 5 000 maselsgevalle in nege van sy 10 provinsies gehad, en een in 'n noordelike gebied.
Gesondheidskenners sê dalende inentingsyfers in dele van die land is ’n voorteken van meer siektes wat deur entstowwe voorkom kan word, wat nou weer voorkom in ’n bevolking wat sedert die Covid-19-pandemie toenemend skepties en wantrouig oor entstowwe is. – Reuters
2025-11-10 16:01:42
Heilige woorde

Afgaanse kinders lees Maandag uit die Koran by ’n madrassa, of Islamitiese skool, in die Fayzabad-distrik van die Badakhshan-provinsie. Foto: AFP
2025-11-10 16:16:41
Lugverkeerbeamptes moet NOU! terugkeer werk toe, eis Trump
Pres. Donald Trump het Maandag geëis dat alle lugverkeerbeheerders terugkeer werk toe – ondanks die feit dat hulle nie gedurende die voortslepende regeringsluiting betaal word nie – en het dié wat dit nie doen nie met strafmaatreëls gedreig.
"Alle lugverkeerskontroleurs moet NOU!!! terugkeer werk toe! Enigiemand wat dit nie doen nie, sal wesentlik ‘gepenaliseer' word," skryf Trump op sy Truth Social-platform.
Volgens FlightAware is meer as 1 550 vlugte Maandag gekanselleer en 1 200 vertraag nadat 2 950 vlugte Sondag gekanselleer is en byna 10 800 vertraag is in die ergste dag vir vlugonderbrekings sedert die regeringsluiting op 1 Oktober begin het. – AFP
2025-11-10 16:42:56
Trump dreig BBC met $1 mjd.-regsgeding oor toespraak
Pres. Donald Trump het die BBC met ’n regsgeding van $1 miljard gedreig oor die redigering van ’n toespraak wat hy net voor die bestorming van die Amerikaanse kongresgebou in 2021 gegee het.
'n Bron naby aan Trump se regspan het Maandag, op voorwaarde van anonimiteit, ’n Fox News-verslag bevestig wat lui dat Trump se brief die Britse uitsaaier tot Vrydag gee om die Panorama-dokumentêr terug te trek en om verskoning te vra.
Samir Shah, voorsitter van die BBC, het vroeër Maandag amptelik vir die redigering van die toespraak om verskoning gevra.
Dié voorval het tot die bedanking van Tim Davie as hoof van die BBC en Deborah Turness as die nuushoof gelei. – AFP
2025-11-10 17:14:32
Duitsland vereer Amerikaanse veterane van Tweede Wêreldoorlog

Lt.kol. Enoch O. Woodhouse (98), kol. Frank A. Athanason (97) en weerman Gideon Kantor (96), Amerikaanse veterane van die Tweede Wêreldoorlog, woon ’n kransleggingseremonie in Berlyn, Duitsland, by vir soldate wat in buitelandse ontplooiings gesneuwel het. Foto: Getty Images
2025-11-10 17:21:30
5 tronk toe weens kindermisbruik-webwerf
Vyf mans is Maandag in Duitsland tot tronkstraf van vyf en half jaar tot tien en half jaar gevonnis nadat hulle ’n donkerweb-platform bestuur het waarop honderdduisende gebruikers video’s en foto’s van kindermisbruik versprei het.
Die hof in Mönchengladbach het beveel dat een van die mans ná sy vonnis in voorkomende aanhouding geplaas word weens die risiko van herhaling. Die platform, "Alice in Wonderland", is in September 2024 gesluit ná landswye polisieklopjagte.
Die mans was tussen Maart 2019 en September 2024 aktief as moderators en administrateurs, en het kinder- en jeugpornografie versprei. Die webwerf het ook ontmoetings vir kindermolestering gefasiliteer en was een van die langslopende platforms van sy soort. – AFP
2025-11-10 17:26:36
Sarkozy vasbeslote om onskuld te bewys in appèlhof
Oudpres. Nicolas Sarkozy van Frankryk het Maandag belowe dat die waarheid sal seëvier nadat hy vrygelaat is uit die tronk terwyl hy wag op sy appèlverhoor.
“Die wet is toegepas. Ek sal nou voorberei op 'n appèl. My energie is nou volledig daarop gefokus om my onskuld te bewys,” het Sarkozy op X geskryf. “Die waarheid sal seëvier.”
Sarkozy, wat van 2007 tot 2012 as president van Frankryk gedien het, word by verskeie regsake betrek. Die huidige saak hou verband met bewerings dat hy onwettige fondse van Libië ontvang het vir sy 2007-verkiesingsveldtog. – AFP
2025-11-10 17:36:28
Netanyahu, Jared Kushner bespreek fase 2 van skietstilstand
Die Amerikaanse bemiddelaar Jared Kushner het Maandag in Jerusalem met Benjamin Netanyahu, premier van Israel, vergader oor die volgende fase van die wankelrige skietstilstand in die Gasastrook.
Netanyahu het tydens sy vergadering met Kushner, die skoonseun van pres. Donald Trump, benadruk dat Israel enige ooreenkoms in die Gasastrook én Libanon “met 'n ysterhand” sal opdwing.
Fase twee van die ooreenkoms behels die ontwapening van Hamas, die demilitarisering van die Gasastrook en die uitsluiting van Hamas uit die streek se toekoms.
Israel het aangedui lande soos Egipte en Katar mag deel wees van ’n internasionale stabiliseringsmag, maar Netanyahu is gekant teen deelname deur Turkye. – AFP
2025-11-10 18:08:57
Amerikaanse hooggeregshof verwerp poging teen gay-huwelike
Die Amerikaanse hooggeregshof het Maandag ’n saak van Kim Davis, ’n voormalige regeringsamptenaar van die deelstaat Kentucky, van die hand gewys waarin sy die 2015-beslissing wat selfdegeslag-huwelike landwyd wettig gemaak het, wou laat omkeer.
Davis is destyds aangekla nadat sy geweier het om ’n huwelikslisensie aan ’n gay paartjie uit te reik.
Sy is beveel om meer as $360 000 in skadevergoeding en regskoste te betaal. Sy het aangevoer haar reg op godsdiensvryheid beskerm haar teen aanspreeklikheid, maar laer howe — en nou die hooggeregshof — het beslis dat regeringsamptenare nie hul magte kan gebruik om ander se grondwetlike regte te skend nie.
Die 2015-uitspraak, Obergefell t. Hodges, bepaal dat alle state selfdegeslag-huwelike moet toelaat. – Reuters
2025-11-10 18:22:45
Duitsland verhoog Oekraïne-hulp vir 2026
Duitsland beplan om sy finansiële hulp aan Oekraïne in die 2026-begroting tot €11,5 miljard te verhoog. Die nuwe syfer is aansienlik meer as die €8,5 miljard wat aanvanklik begroot is.
Duitsland is die grootste Europese verskaffer van militêre bystand aan Oekraïne en het reeds sowat €40 miljard sedert Rusland se inval in 2022 aan die land geskenk.
Hierdie verhoging in steun beklemtoon Duitsland se deurlopende verbintenis om Oekraïne van hulp te voorsien te midde van die voortgesette konflik. Die bykomende geld sal waarskynlik vir wapentuig, herstelwerk en humanitêre hulp aangewend word . – Reuters
2025-11-10 19:00:32
‘Ons ysterhand wag op húlle’

Benjamin Netanyahu, premier van Israel, spreek Maandag die Israeliese parlement toe. Netanyahu het onder meer gesê Israel sal sy skietstilstand-ooreenkomste in Libanon en die Gasastrook sterk opdwing. Hy het gewaarsku "wie ook al probeer om ons skade aan te doen, ons sal hulle skade aandoen".
"Ons is vasberade om met ’n ysterhand die skietstilstand-ooreenkomste op te dwing waar hulle bestaan teenoor dié wat ons vernietiging soek, en julle kan sien wat elke dag in Libanon gebeur," het Netanyahu gesê. Foto: Reuters
2025-11-10 19:21:13
Ligte … kamera … aksie in die Vatikaan
Sowat 30 Hollywood-sterre sal die naweek vir pous Leo ontmoet, insluitend die akteurs Cate Blanchett, Chris Pine, Adam Scott, Alison Brie en Viggo Mortensen, het die Vatikaan Maandag aangekondig.
Ook deel van ’n spesiale oudiënsie by die Vatikaan sal die Oscar-bekroonde regisseurs Spike Lee, George Miller en Gus Van Sant wees.
Die pous wil "die moontlikhede verken wat artistieke kreatiwiteit bied vir die missie van die Kerk en die bevordering van menslike waardes", het die Vatikaan in ’n verklaring gesê.
Volgens die Vatikaan is die pous se gunsteling-films It’s a Wonderful Life (1946), The Sound of Music (1965), Ordinary People (1980) en Life Is Beautiful (1997). – Reuters
2025-11-10 19:40:01
Meer as 400 in Nepal in hegtenis geneem oor onluste
Die polisie in Nepal het 423 mense in hegtenis geneem wat beskuldig word van misdade wat wissel van moord tot vandalisme tydens landwye betogings in September wat tot die val van die regering gelei het. Dit is luidens polisiestatistieke wat Maandag bekend gemaak is.
Die jeuggeleide betogings het op 8 September uitgebreek ná ’n regeringsverbod op sosiale media.
Minstens 76 mense is dood in twee dae van geweld, lui die nuwe polisiestatistieke, onder wie 63 betogers, 10 ontsnapte gevangenes en drie polisiebeamptes. – AFP
2025-11-10 20:03:57
Verkiesings laat my sommer slaap

’n Vrou hou Maandag ’n kind vas terwyl mense in ’n ry staan om te stem by ’n skool in Giza, Egipte, tydens die eerste ronde van Egipte se parlementêre verkiesings. Foto: Reuters
2025-11-10 20:16:59
Seun van Colombiese president van korrupsie aangekla
Nicolas Petro (39), die seun van pres. Gustavo Petro, is Maandag aangekla op ses aanklagte wat verband hou met korrupsie tydens sy tyd as wetgewer, onder meer geldverduistering, onwettige verryking en geldwassery.
Die aanklagte hou verband met ’n kontrak wat daarop gemik was om bejaardes en kinders met gestremdhede te help. Aanklaers beweer die fondse is elders gekanaliseer.
Die aanvanklike klag het van sy eksvrou gekom, wat hom ná ’n buite-egtelike verhouding aangegee het. – AFP
2025-11-10 20:32:50
Ghaddafi se seun kry ná 10 jaar borgtog in Libanon
Libanon het Hannibal Ghaddafi, seun van die afgesette Libiese leier Moeammar Ghaddafi, Maandag op borgtog vrygelaat ná bykans 10 jaar in die tronk, het sy prokureur aan AFP gesê.
"Ons is weg, hy is vry," het Laurent Bayon gesê kort nadat Ghaddafi se borgtog van $900 000 dollar betaal is.
Ghaddafi is daarvan beskuldig dat hy inligting weerhou oor die verdwyning van die Libanese Sjia-geestelike Moessa Sadr in 1978 in Libië, maar hy is nooit verhoor nie. – AFP
2025-11-11 03:49:56
8 dood, getal beseerdes styg tot 20 ná motor in Indië ontplof
Die getal beseerdes nadat ’n motor Maandag in die stad Delhi, Indië, ontplof het, het tot 20 gestyg.
Vroeër is berig agt mense is in die ontploffing dood.
Groot treinstasies oor Indië heen is op ’n hoë gereedheidsgrondslag geplaas, het die owerhede gesê.
Die ontploffing het net voor 19:00 plaaslike tyd plaasgevind.
Minstens ses voertuie het weens die ontploffing aan die brand geslaan.
Plaaslike media berig Dinsdag die polisie ondersoek die voorval ingevolge ’n streng wet wat gebruik word om "terrorisme" te bestry. – Reuters

Sekuriteitspersoneel en 'n lid van die forensiese span Dinsdag op die toneel. Foto: Reuters
2025-11-11 04:14:04
Trump loof Siriese president, sê hy sal alles doen om land suksesvol te maak
Pres. Donald Trump het Maandag belowe om alles in sy vermoë te doen om Sirië suksesvol te maak ná baanbrekende gesprekke met pres. Ahmed al-Sharaa van Sirië.
Sharaa se besoek het ’n verstommende jaar in Sirië afgesluit. Hy het die omverwerping van oudpres. Basjar al-Assad gelei en sedertdien die wêreld deurreis om homself as 'n gematigde leier uit te beeld.
Hy wil sy land verenig en dekades van internasionale isolasie beëindig.
Trump het Al-Sharaa as 'n "sterk leier" geprys en vertroue in hom uitgespreek. "Ons sal alles in ons vermoë doen om Sirië suksesvol te maak." – Reuters

Pres. Donald Trump met pres. Ahmed al-Sharaa van Sirië Maandag in die Withuis in Washington DC. Foto: Getty Images/Anadolu
2025-11-11 04:33:18
Amerika een tree nader aan einde van staatsluiting
Die Amerikaanse senaat het Maandag ’n maatreël goedgekeur wat die langste staatsluiting in die geskiedenis van die land kan beëindig.
Senatore het Sondag in ’n prosedurele stemming ’n wetsontwerp voorgelê.
Die wetsontwerp is gewysig om die staat tot 30 Januarie te finansier en sal ’n pakket insluit vir drie jaar se begrotingswetsontwerpe.
Die pakket moet nou deur die huis van verteenwoordigers goedgekeur word en aan pres. Donald Trump gestuur word vir sy ondertekening. – Reuters
2025-11-11 04:43:17
Britse pro-Palestynse kommentator glo binnekort uit Amerikaanse aanhouding vrygelaat
Sami Hamdi, ’n Britse pro-Palestynse kommentator wat deur Amerikaanse immigrasie-owerhede aangehou word, sal na verwagting vrygelaat word, het sy familie Maandag gesê.
Amerikaanse amptenare van binnelandse veiligheid het Hamdi op 26 Oktober in hegtenis geneem, sy visum herroep en gesê hy sal gedeporteer word eerder as om toegelaat te word om sy praattoer in Amerika te voltooi.
Tricia McLaughlin, woordvoerder van die departement van binnelandse veiligheid, het gesê “diegene wat terrorisme ondersteun en Amerikaanse nasionale veiligheid ondermyn, sal nie toegelaat word om te werk of hierdie land te besoek nie”. – Reuters
2025-11-11 04:57:23
Mike Johnson wil Woensdag stem om staatsluiting te beëindig
Mike Johnson, speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, het Maandag gesê hy wil hê verteenwoordigers moet reeds Woensdag oor ’n ooreenkoms stem om die voortdurende federale staatsluiting te beëindig.
Johnson het reeds die huis van verteenwoordigers in kennis gestel dat alle wetgewers na Washington DC moet terugkeer.
“Ek dink ons sal dit goedgekeur kry en dit na die president se lessenaar kry,” het Johnson gesê. – Reuters
2025-11-11 05:13:17
Vrou wat weermag prys, in openbaar in Mali vermoor
’n Vrou van Mali wat gereeld video’s op TikTok geplaas het waarin sy die weermag prys, is deur gewapende mans ontvoer en op ’n openbare plein vermoor.
Mariam Cisse, wat byna 100 000 volgelinge op TikTok gehad het, is Donderdag in die dorp Tonka ontvoer en later deur haar ontvoerders doodgeskiet, het die staatstelevisienetwerk ORTM gesê.
Die gebied word betwis tussen Mali se weermag en ’n opstandige groep bekend as Jama’at Nusrat al-Islam wal-Muslimin.
Die gebeure is bevestig deur twee plaaslike bronne wat gevra het om anoniem te bly weens vrese vir hul veiligheid. – Reuters
2025-11-11 05:34:32
Dodetal styg tot 18 in Filippyne, reddingswerkers begin tifoon-opruiming
Reddingswerkers het Dinsdag met behulp van graafmasjiene en kettingsae die Filippyne begin uitgrawe uit die verwoesting van die tifoon Fung-wong.
Dit kom terwyl die vloedwater in honderde dorpe gedaal en die storm se dodetal tot 18 gestyg het.
Fung-wong, wat 1,4 miljoen mense ontheem het, het verswak tot ’n hewige tropiese storm.
Dit was die tweede groot tifoon wat die Filippyne in dae getref het nadat die tifoon Kalmaegi verlede week tot die dood van minstens 232 mense gelei het. – AFP

Inwoners staan Maandag op die dak van hul oorstroomde huis in Ilagan-stad in die provinsie Isabela in die Filippyne. Foto: AFP
2025-11-11 05:50:18
Man vas weens moord op presidentskandidaat in 1994
Die owerhede in Mexiko het ’n voormalige intelligensie-agent in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hy betrokke was by die sluipmoord in 1994 op Luis Donaldo Colosio, ’n presidentskandidaat.
Colosio was die gunsteling om die verkiesing daardie jaar te wen.
Hy is op 23 Maart 1994 op ’n saamtrek in die stad Tijuana doodgeskiet. Bronne het aan AFP gesê Jorge Antonio Sanchez Ortega is Saterdag in Tijuana in hegtenis geneem.
Colosio se sluipmoord word beskou as ’n deurslaggewende oomblik in die Mexikaanse politieke geskiedenis. – AFP
2025-11-11 06:41:07
China beveel verwydering van apps vir gay-gemeenskap
Amptenare in China het die verwydering van twee gewilde maatsoek-apps vir die gay-gemeenskap uit selfoon app-winkels in die land beveel, het Apple Dinsdag aan AFP gesê.
Chinese sosialemediagebruikers het die naweek daarop gewys dat die volledige weergawes van die apps Blued en Finka uit die Apple- en Android-winkels verdwyn het.
Huwelike van dieselfde geslag is nie wettig in China nie en diskriminasie bly wydverspreid.
Aktiviste sê pogings om LGBTQ-uitdrukking te onderdruk, het die laaste paar jaar uitgebrei, veral onder pres. Xi Jinping. – AFP
2025-11-11 06:53:17
Geen moontlikheid van vrye verkiesing in Mianmar, sê VN-hoë
Daar is geen moontlikheid dat Mianmar volgende maand ’n vrye en regverdige algemene verkiesing kan hou nie, het Volker Türk, menseregtehoof van die VN, Maandag aan AFP gesê.
Dit is gegewe dat die land in wanorde is terwyl hewige bomaanvalle plaasvind en menseregteskendings hoogty vier.
Mianmar se weermag het die mag in 2021 oorgeneem in ’n staatsgreep wat 'n burgeroorlog ontketen het.
Die junta beskryf die verkiesing as ’n geleentheid vir versoening en ’n pad na vrede.
Waarnemers verwerp die verkiesing as ’n plan om voortgesette militêre bewind te verbloem.
"Die situasie in Mianmar kry ongelukkig nie genoeg media-aandag nie en mense ly," het Türk gesê. – AFP
2025-11-11 07:38:46
Staalstrukture in Suid-Korea gesloop om vasgekeerde werkers te bereik
’n Span in Suid-Korea het Dinsdag twee staalstrukture met plofstof gesloop in ’n poging om twee werkers te bereik wat vermoedelik dood is en twee ander wat vermis word.
Die werkers was onder nege mense wat aan die massiewe staalstruktuur by ’n kragstasie in die stad Ulsan gewerk het om die struktuur te verswak en voor te berei vir sloping toe dit vyf dae gelede ineengestort het.
Twee werkers is vinnig gered, maar sewe ander was vasgekeer.
Die lyke van drie werkers is sedertdien verwyder. – Reuters
2025-11-11 07:51:02
4 opposisieleiers in Tanzanië vrygelaat
Die polisie in Tanzanië het vier senior opposisieleiers vrygelaat wat in hegtenis geneem is vir hul beweerde rol in die dodelike betogings teen verlede maand se algemene verkiesing.
Die betogings het Tanzanië in sy grootste politieke krisis in dekades gedompel.
Die opposisieparty Chadema en sommige menseregte-aktiviste sê meer as 1 000 mense is deur veiligheidsmagte doodgemaak.
Die regering van pres. Samia Suluhu Hassan, wat tot wenner van die verkiesing verklaar is, sê dat die syfers oordrewe is, maar het nie sy eie dodetal verskaf nie. – Reuters
2025-11-11 08:38:08
Israeliese soldaat ná meer as dekade ter ruste gelê

Mense staan Dinsdag langs die strate terwyl die begrafnisstoet van Hadar Goldin die begraafplaas in Kfar Saba, Israel, nader. Voorheen is berig Israel het Sondag die oorskot van Goldin, ’n Israeliese soldaat wat meer as ’n dekade gelede in die Gasastrook omgekom het, ontvang. Hy is in 2014 gedurende ’n lokval in die Gasastrook in die oorlog tussen Israel en Hamas dood. Foto: Reuters
2025-11-11 08:56:03
Minstens 8 beseer in ontploffing in Pakistan
Minstens agt mense is Dinsdag in ’n ontploffing buite ’n hofgebou in Islamabad, die hoofstad van Pakistan, beseer.
Van die beseerdes is in ’n kritieke toestand, sê ’n polisiewoordvoerder.
“Ons ondersoek watter soort ontploffing dit was. Dit is nog nie duidelik nie. Ons sal meer besonderhede kan verskaf nadat ons ’n verslag van ons forensiese span ontvang het,” sê die woordvoerder.
Die ontploffing het naby die ingang van die distrikshof plaasgevind, wat gewoonlik vol litigante is. – Reuters
2025-11-11 09:42:57
Trump vra hersienning van siviele saak rakende E. Jean Carroll
Pres. Donald Trump het Maandag die Amerikaanse hooggeregshof versoek om die siviele saak rakende die tydskrifrubriekskrywer E. Jean Carroll te hersien.
Trump beweer dat die regter, wat toesig gehou het oor die verhoor, talle foute gemaak het deur die jurie toe te laat om getuienis aan te hoor van twee vroue wat beweer het dat Trump hulle jare gelede seksueel aangerand het.
’n Jurie het in Maart 2023 bevind dat Trump Carroll in 1996 in ’n afdelingswinkel in Manhattan seksueel aangerand het.
Trump is beveel om $2 miljoen te betaal weens seksuele aanranding en nog $3 miljoen weens die belastering van Carroll. – CNN
2025-11-11 09:54:28
Pakistan-ontploffing: Minstens 12 dood, 27 beseer
Minstens 12 mense is dood en 27 gewond in ’n selfmoordbomaanval buite distrikshofgeboue in ’n woonbuurt in die Pakistanse hoofstad, Islamabad.
Die aanval het om 12:39 (plaaslike tyd) gebeur, het Mohsin Naqvi, minister van binnelandse sake, aan verslaggewers op die toneel gesê. – AFP
2025-11-11 10:39:27
Bulgarye het maand se brandstofvoorraad
Bulgarye het nog ’n maand se brandstofvoorraad oor terwyl hy voorberei op die begin van Amerikaanse sanksies teen Russiese maatskappye.
Amerika en Brittanje het verlede maand sanksies aangekondig teen Loekoil en Rosneft, Rusland se twee grootste oliemaatskappye, weens Rusland se oorlog in Oekraïne.
Die Amerikaanse sanksies, wat op 21 November begin, het kommer laat ontstaan oor brandstofvoorrade voor die winter in Bulgarye, waar Loekoil die Boergas-aanleg bedryf.
Die aanleg is ’n belangrike deel van die maatskappy se buitelandse sakeryk en honderde vulstasies. – Reuters
2025-11-11 10:55:36
7 ploftoestelle op terrein waar 96 in Indonesië beseer is
Die polisie in Indonesië het verlede week tot sewe tuisgemaakte ploftoestelle gevind op die terrein van ’n bomaanval by ’n moskee in die stad Djakarta.
Vier daarvan het ontplof, het die polisie Dinsdag gesê.
Die ontploffings tydens Vrydaggebede verlede week het 96 mense beseer gelaat, met drie van hulle in ’n ernstige toestand. ’n Afstandbeheerder is gebruik om die bomme te laat ontplof.
Die polisie het verlede week gesê die verdagte is ’n 17-jarige student. – Reuters
2025-11-11 11:27:52
Man vas weens doodsdreigemente teen Duitse politici
Die Duitse polisie het ’n Pools-Duitse burger in hegtenis geneem wat glo op ’n webwerf kriptogeldeenheid-skenkings gevra het om prominente politici te vermoor.
Aanklaers sê die verdagte, slegs bekend as Martin S. in ooreenstemming met Duitse privaatheidswetgewing, sou huurmoordenaars met die skenkings betaal om die “doodsvonnisse” te voltrek.
Die Duitse nuustydskrif Der Spiegel berig dat die voormalige bondskanseliers Angela Merkel en Olaf Scholz, sowel as voormalige federale ministers op die moordlys is wat op die webblad verskyn.
Die verdagte, wat laat Maandagaand in die westelike stad Dortmund in hegtenis geneem is, word aangekla van ernstige misdade teen die staat. – Reuters
2025-11-11 11:36:13
Duitse musiekliggaam wen kopieregsaak teen OpenAI
OpenAI het kopieregwetgewing in Duitsland oortree deur die lirieke van liedjies te gebruik om sy kunsmatige-intelligensie (KI)-modelle op te lei, het ’n hof in München Dinsdag beslis.
“Die memorisering in die taalmodelle sowel as die reproduksie van die liedjielirieke in die kletsbot se uitsette is oortredings van kopieregwetgewing,” het die hof beslis in ’n saak wat deur die Duitse musiekliggaam GEMA aanhangig gemaak is.
GEMA verteenwoordig meer as 100 000 komponiste, liedjieskrywers en vervaardigers in Duitsland. GEMA het in November 2024 ’n regsgeding aanhangig gemaak waarin OpenAI daarvan beskuldig word dat hy die lirieke van liedjies reproduseer sonder om lisensies te koop of die skeppers daarvoor te betaal.
Die groep het beweer dat OpenAI sy repertoire “sistematies” gebruik het om KI-modelle op te lei. – AFP
2025-11-11 11:41:58
Skud eers die vere reg...

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk woon Dinsdag ’n seremonie by die Arc de Triomphe in Parys by as deel van die viering van die 107de herdenking van die wapenstilstand op 11 November 1918, wat die Eerste Wêreldoorlog beëindig het. Foto: AFP
2025-11-11 11:50:48
Slowakye pos spoorweg-hoës ná ongelukke
Die Slowaakse regering het Dinsdag drie senior amptenare van die land se nasionale spoorwegmaatskappy (ZSR) gepos ná twee treinbotsings binne 'n maand waarin talle mense beseer is.
Die jongste voorval het Sondag gebeur toe ’n trein in Wes-Slowakye teen ’n stilstaande trein vasgery het. Volgens voorlopige ondersoeke het een van die treine ’n rooi lig verontagsaam wat tot die ongeluk gelei het.
Twintig mense is beseer toe twee treine op 13 Oktober in Oos-Slowakye gebots het. Albei voorvalle word steeds ondersoek.
Robert Fico, premier van Slowakye, het die afdanking van die ZSR se bestuur aangekondig. Die vervoerministerie het intussen bevestig dat ’n nuwe uitvoerende hoof, voorsitter en twee raadslede as tussentydse bestuurders aangestel is. – AFP
2025-11-11 12:20:10
Antieke goud glo uit Sirië se nasionale museum gesteel
Diewe het glo verskeie antieke goudstawe uit Sirië se nasionale museum in Damaskus gesteel. Volgens bronne het die diefstal oor die naweek gebeur.
Ses items is glo gesteel uit die sogenaamde “klassieke vleuel”, een van die museum se belangrikste afdelings waar artefakte uit die Hellenistiese, Romeinse en Bisantynse eras bewaar word.
Hulle het die items as goudstawe beskryf, sonder om hul ouderdom of herkoms te spesifiseer.
’n Bestuurder by die museum wou nie Dinsdag kommentaar lewer nie en het slegs gesê dat die instelling “om veiligheidsredes gesluit is en volgende week weer sal oopmaak”.
Siriese owerhede wou ook nie die inbraak amptelik bevestig nie. – AFP
2025-11-11 12:27:03
Britse distriksraad verloor hofstryd om asielsoekers uit hotel te sit
’n Britse plaaslike owerheid het Dinsdag sy hofaansoek verloor om asielsoekers uit die Bell-hotel in Epping te laat verwyder, nadat ’n inwoner van die hotel aan seksuele aanranding skuldig bevind is. Die voorval het maande lange anti-immigrasie-betogings tot gevolg gehad.
Die Epping Forest-distriksraad het by die hoë hof in Londen ’n interdik probeer kry omdat die hotel nie beplanningstoestemming het om asielsoekers te huisves nie. Die Britse regering het die aansoek teengestaan en aangevoer dat die verwydering van die asielsoekers die regering se wetlike verpligting om verblyf te bied, ernstig sou benadeel.
Regter Tim Mould het bevind die huidige gebruik oortree wel beplanningswette, maar het geweier om ’n interdik toe te staan weens die dringende behoefte aan tydelike akkommodasie vir die asielsoekers. – Reuters
2025-11-11 12:34:27
‘Kritieke hulp nie in Gasastrook toegelaat’ – Unicef
Die Verenigde Nasies se kinderfonds, Unicef, sê noodsaaklike items soos spuitnaalde vir kinders se inentings en bottels vir babaformule mag nie in die Gasastrook ingaan nie. Israel hou dié items terug, wat dit moeilik maak om vir kinders te sorg.
Sonder genoeg spuitnaalde en yskaste kan Unicef nie al die kinders in die Gasastrook teen siektes soos polio, masels en longontsteking inent nie. Israel meen sommige van die items is “dubbeldoel-items” wat vir oorlog sowel as gewone gebruik kan wees, en keur daarom nie alles goed nie.
Unicef sê hy het reeds meer as 2 400 kinders ingeënt, maar het baie meer voorraad nodig om sy werk voort te sit. Duisende kinders ly aan wanvoeding en kan nie die nodige hulp kry nie. – Reuters
2025-11-11 12:42:40
Skotte vereer gestorwe soldate

’n Oudsoldaat neem deel aan ’n herdenkingsgeleentheid vir gestorwe Skotse soldate by die Scott-monument in Edinburg, Skotland, op Wapenstilstanddag, 11 November, die datum waarop die Eerste Wêreldoorlog in 1918 tot ’n einde gekom het. Foto: Getty Images
2025-11-11 13:06:16
Turkse militêre vragvliegtuig stort neer op grens tussen Georgië, Azerbeidjan
'n Turkse militêre vragvliegtuig het op die grens tussen Georgië en Azerbeidjan neergestort, sê die Turkse departement van verdediging.
“Die C-130- militêre vragvliegtuig, wat in Azerbeidjan opgestyg het om huiswaarts te keer, het op die grens tussen Georgië en Azerbeidjan neergestort,” sê die departement in ‘n plasing op X.
Soek-en-reddingswerkers is dadelik na die ongelukstoneel ontplooi. Dit is nie bekend hoeveel mense aan boord van die vragvliegtuig was nie. – AFP
2025-11-11 13:14:09
Russiese magte beset Oekraïense stad Pokrofsk
Rusland sê sy soldate het Dinsdag dieper in die oostelike Oekraïense stede Pokrofsk en Koepjansk ingedring.
’n Video op sosiale media wys hoe Russiese soldate Pokrofsk op motorfietse en selfs op die dakke van gehawende motors en paneelwaens binnery.
Rusland sê die besetting van Pokrofsk, wat deur die Russiese media “die poort na Donetsk” genoem word, sal sy magte ’n ideale platform bied om na die twee grootste oorblywende Oekraïens beheerde stede in die Donetsk-streek, Kramatorsk en Slowiansk, op te ruk.
Rusland dreig Pokrofsk al meer as ’n jaar lank dat hy ’n knyptangbeweging sal gebruik om dit te omsingel en toevoerlinies sal afsny.
Rusland het eerder hierdie taktiek gebruik as die dodelike frontaanvalle wat in die verowering van die stad Bachmoet in 2023 gebruik is. – Reuters
2025-11-11 13:18:16
Ierse president ingehuldig

Pres. Catherine Connolly van Ierland sing die volkslied ná haar inhuldiging as president by die Dublin-kasteel in Dublin, Ierland. Foto: Reuters
2025-11-11 13:25:12
Pakistanse Taliban sit agter selfmoordbomaanval in Islamabad
Die Pakistanse Taliban- militante groep het Dinsdag verantwoordelikheid aanvaar vir ’n selfmoordbomaanval in die hoofstad, Islamabad, waarin 12 mense gesterf het. Die groep sê in ’n verklaring dat hy regslui met die aanval wou teiken.
“Ons vegter het die regterlike kommissie in Islamabad aangeval. Regters, prokureurs en amptenare wat uitsprake onder Pakistan se on-Islamitiese wette uitgevoer het, is geteiken,” lui ’n verklaring.
Die groep dreig om meer sulke aanvalle uit te voer totdat Islamitiese sjaria-wetgewing in die land met sy Moslem-meerderheid ingestel word. – AFP
2025-11-11 14:01:57
Ons sal julle altyd onthou

Brittanje se Catherine, prinses van Wallis, woon Dinsdag die jaarlikse Wapenstilstand-herdenkingsdiens by die Nasionale Gedenk-arboretum in Staffordshire, Engeland, by. Foto: Reuters
2025-11-11 14:14:44
Stadig oor die klippe: Slowakye stel sypaadjie-spoedgrens in
Die Slowaakse parlement het ’n voorstel goedgekeur om ’n maksimum spoedgrens vir alle sypaadjie-gebruikers – van voetgangers tot fietsryers, skaatsers, bromponie- en e-bromponie-ryers – in te stel.
Sypaadjie-gebruikers wat die ooreengekome 6 km/h-spoedgrens oorskry, kan met tot R2 000 beboet word, hoewel dit nog nie duidelik is hoe dit gepolisieer gaan word wanneer dit op 1 Januarie volgende jaar in werking tree nie.
Verlede jaar het 67 voetgangers en 22 fiets- of bromponieryers in ongelukke gesterf, volgens polisiestatistieke, maar die polisie hou nie afsonderlik boek van sypaadjie-ongelukke nie. – AFP
2025-11-11 14:33:23
Aanklaers vra 2 400 jaar tronkstraf vir Istanbul se burgemeester
Turkse aanklaers het Ekrem Imamoglu, Istanbul se burgemeester en skerp kritikus van pres. Recep Tayyip Erdogan, Dinsdag van 142 misdrywe aangekla, wat hom tot 2 430 jaar lank agter tralies kan laat beland.
Die klagstaat van by die 4 000 bladsye beskuldig die gewilde opposisie-burgemeester, wat op 19 Maart in hegtenis geneem is, van misdrywe soos die bestuur van ’n misdadige organisasie, omkopery, verduistering, geldwassery, afpersing en tenderbedrog. – AFP
2025-11-11 15:01:37
Byt vas, hulp is op pad

Filippynse reddingswerkers dra Dinsdag ’n opblaasboot terwyl hulle voorberei om inwoners in ’n dorp noord van Manila na veiligheid te bring aangesien vloedwater weens swaar reën veroorsaak deur die tifoon Fung-wong steeds huise oorstroom. Die dodetal as gevolg van die tifoon staan op 18, terwyl sowat 1,4 miljoen mense die gebied moes ontruim. Foto: AFP
2025-11-11 15:15:42
Venezuela ontplooi militêre magte teen VSA se teenwoordigheid
Venezuela het Dinsdag ’n “massiewe” landwye militêre ontplooiing van land-, see-, lug-, rivier- en missielmagte sowel as burgermagte aangekondig om Amerika se vlootteenwoordigheid aan sy kus teen te staan.
Amerika voer ’n militêre veldtog in die Karibiese gebied en oostelike Stille Oseaan wat hy sê gemik is op die bekamping van dwelmhandel.
Maar dit het vrese in Venezuela laat ontstaan dat die afsetting van pres. Nicolas Maduro die uiteindelike Amerikaanse oogmerk is.
Amerika het sedert September aanvalle op minstens 20 vaartuie in internasionale waters uitgevoer, wat minstens 76 lewens geëis het.
Intussen het Rusland Amerika se aanvalle op bote van Venezuela – ’n bondgenoot van Rusland – as onwettig en "onaanvaarbaar" veroordeel. – AFP
2025-11-11 15:39:40
Amerikaanse vliegdekskip na Karibiese gebied ontplooi
Die Gerald Ford-vliegdekskip-aanvalsgroep is na die Karibiese gebied ontplooi, het twee Amerikaanse amptenare Dinsdag aan Reuters gesê.
Dit is ’n dramatiese eskalasie in die Amerikaanse militêre opbou in die Karibiese gebied, wat spanning met Venezuela verhoog het.
Die aanvalsgroep sal hom aansluit by die agt Amerikaanse oorlogskepe, ’n kernduikboot en F-35-vegvliegtuie wat reeds in die streek is. – Reuters
2025-11-11 16:04:09
Weggeruk deur ontploffing

Nabye familielede van Pankaj Sahni, wat Maandag saam met sewe ander mense in 'n motorbom-ontploffing naby die historiese Rooi Fort in die ou deel van Nieu-Delhi, Indië, dood is, word deur vriende onderskraag nadat Sahni se lyk Dinsdag na hul huis gebring is voor sy begrafnis. Foto: Reuters
2025-11-11 16:11:27
‘Rusland sal kernwapentoetse hervat as ander kernmoondhede dit doen’
Rusland sal kernwapentoetse uitvoer as enige ander kernmoondheid dit doen, het Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, Dinsdag gesê.
Hy het ook gesê Rusland is gereed om Amerika se kommer te bespreek oor wat Amerika beskryf as “verdagte ondergrondse aktiwiteite” in Rusland.
“Ons is gereed om die vermoedens te bespreek wat deur ons Amerikaanse kollegas geopper is oor die moontlikheid dat ons dalk in die geheim iets diep onder die grond doen,” het Lawrof aan die staatsmedia gesê, en bygevoeg dat Moskou die bewerings verwerp. – AFP, Reuters
2025-11-11 16:37:22
Hezbollah probeer herbou, smokkel wapens uit Sirië in, sê Israel
Die Israeliese weermag het Hezbollah Dinsdag daarvan beskuldig dat die groep probeer om hul gevegsvermoë in suidelike Libanon te herbou tot op die punt waar dit Israel se veiligheid bedreig en verlede jaar se skietstilstandooreenkoms ongedaan kan maak.
Volgens die Israeliese weermag is Hezbollah suid van die Litani-rivier aktief, in stryd met die skietstilstandooreenkoms, en probeer hulle ook om wapens vanaf Sirië en deur ander roetes na Libanon te smokkel.
Hezbollah sê hulle is steeds verbind tot die skietstilstandooreenkoms. Libanon het op sy beurt gesê Israel oortree die ooreenkoms deur onder meer posisies in suidelike Libanon te beset, sowel as om lug- en grondaanvalle in Libanese gebied uit te voer. – Reuters
2025-11-11 17:16:17
Minstens 20 sterf toe Turkse vragvliegtuig neerstort
Minstens 20 mense is dood toe ’n Turkse C-130- militêre vragvliegtuig Dinsdag in Georgië neergestort het nadat dit in Azerbeidjan opgestyg het.
Aanvanklike beeldmateriaal van die ongelukstoneel naby die Azerbeidjanse grens wys stukke gedraaide metaal wat oor ’n grasagtige heuwel verstrooi lê terwyl dele van die vliegtuig se romp brand met swart rook wat in die lug opstyg.
Die Turkse departement van verdediging sê 20 Turkse personeellede was aan boord van die vliegtuig, onder wie die vlugbemanning, maar het geen bykomende besonderhede verskaf oor moontlike passasiers van ander nasionaliteite nie. – Reuters
2025-11-11 17:25:49
Libië moet dié aanhoudingsentrums sluit, eis lande op VN-vergadering
Libië is Dinsdag op ’n Verenigde Nasies (VN)-vergadering versoek om sy aanhoudingsentrums te sluit waar migrante en vlugtelinge volgens menseregtegroepe gemartel, mishandel en soms doodgemaak word.
Verskeie lande, waaronder Brittanje, Spanje en Noorweë, het op die vergadering in Genève, Switserland, kommer uitgespreek oor die behandeling van migrante in Libië, ’n belangrike deurgangsroete vir Afrikane wat van konflik en armoede na Europa vlug. Sommige van hulle word deur smokkelaars in pakhuise aangehou waar hulle aan geweld en afpersing onderwerp word, het ’n Nederlandse hofsaak bevind.
Tormod Endresen, Noorse ambassadeur, het op die vergadering gevra om die beskerming van kwesbare migrante en die afskaffing van aanhoudingsentrums. – Reuters
2025-11-11 17:32:05
Dié vier lande moet hulp kry met hervestiging van asielsoekers, sê EU
Italië, Spanje, Griekeland en Ciprus moet hulp ontvang met die hervestiging van minstens 30 000 asielsoekers om die druk van onreëlmatige migrasie te verlig, sê die Europese Unie (EU).
Dié aankondiging van die EU se uitvoerende gesag sal nou gespanne onderhandelinge in die EU aan die gang sit, aangesien lande toenemend versigtig is om vrywillig mense in te neem.
Die EU het in 2024 ’n omvattende hersiening van sy migrasiebeleid aangeneem, wat binnekort in werking tree. ’n Kernelement is ’n nuwe “solidariteitstelsel”, wat daarop gemik is om die las op lande in die Middellandse See te verlig. Lande sal vereis word om óf ’n deel van die asielsoekers van dié frontlinie-lande in te neem óf aan hulle finansiële steun te bied. – AFP
2025-11-11 17:37:43
Vir die veterane

Pres. Donald Trump praat by ’n plegtigheid om oorlogsveterane van die Eerste Wêreldoorlog te herdenk by die Arlington- nasionale begraafplaas in Arlington, Virginië. Foto: AFP
2025-11-11 17:59:53
Lyke ná verkiesingsgeweld in Tanzanië weggesteek, sê VN
Die Verenigde Nasies (VN) se kantoor vir menseregte sê honderde mense is dood tydens massabetogings ná die Tanzaniese verkiesing in Oktober, en dat veiligheidspersoneel lyke van strate en hospitale verwyder het om dit weg te steek. Dit volg op berigte dat veiligheidsmagte probeer het om bewyse te verdoesel deur die lyke na onbekende plekke te neem.
Die Tanzaniese regering hou vol die opposisie oordryf die getalle van die dooies, maar weier om self die ware dodetal te gee. Die hoofopposisieparty, Chadema, beweer meer as 1 000 mense is dood, terwyl die VN se syfer “honderde” noem.
300 mense is intussen aangekla in verband met die massabetogings, onder wie senior opposisieleiers. Menseregtegroepe en waarnemers meen die verkiesing was nie vry of regverdig nie. – Reuters
2025-11-11 18:03:33
Macron waarsku oor anneksasie in Wesoewer
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Dinsdag gewaarsku dat enige Israeliese planne vir anneksasie in die Wesoewer 'n “rooi lyn” is en 'n Europese reaksie sal ontlok.
“Planne vir gedeeltelike of totale anneksasie, hetsy wettig of de facto, vorm ’n rooi lyn waarop ons sterk saam met ons Europese vennote sal reageer,” het Macron gesê nadat hy die Palestynse president, Mahmoed Abbas, in Parys ontmoet het.
“Die geweld van die setlaars en die versnelling van nedersettingsprojekte bereik nuwe hoogtes, bedreig die stabiliteit van die Wesoewer en skend die internasionale reg,” het Macron bygevoeg. – AFP
2025-11-11 18:13:38
Venezuela gereed om ‘guerrilla-weerstand’ teen VSA te bied
Venezuela ontplooi wapens, onder meer dekades oue Russies vervaardigde toerusting, en beplan om ’n guerrilla-styl weerstand te bied in die geval van ’n Amerikaanse lug- of grondaanval, sê bronne met kennis van die pogings.
Die benadering is ’n stilswyende erkenning van die Suid-Amerikaanse land se tekort aan personeel en toerusting.
Pres. Donald Trump het die moontlikheid van grondoperasies in Venezuela voorgestel en gesê “die land gaan volgende wees” ná verskeie aanvalle op beweerde dwelmsmokkelvaartuie in die Karibiese Eilande. Hy het later ontken dat hy aanvalle binne Venezuela oorweeg. – Reuters
2025-11-11 18:23:56
’n Blik hemelwaarts

Pous Leo XIV lei ’n mis vir die 125ste herdenking van die inwyding van die Kerk van Sant’Anselmo op die Aventine-heuwel in Rome. Foto: AFP
2025-11-11 19:02:58
Franse, Palestyne gaan saamwerk aan Palestynse grondwet
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Dinsdag gesê ’n gesamentlike Frans-Palestynse komitee sal geskep word om te werk aan die opstel van ’n Palestynse grondwet.
“Ons het besluit om ’n gesamentlike komitee vir die konsolidasie van die staat Palestina te stig,” het Macron gesê ná ’n vergadering met Mahmoed Abbas, president van die Palestynse Owerheid, en bygevoeg dat dit “sal bydra tot die opstel van ’n nuwe grondwet”. – AFP

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk verwelkom Dinsdag Mahmoed Abbas, president van die Palestynse Owerheid, by die presidensiële paleis in Parys. Foto: AFP
2025-11-11 19:31:49
Gemaskerde setlaars beseer 4 Palestyne in Wesoewer
Gemaskerde Israeliese setlaars het Dinsdag klippe gegooi na melklorries, landbougrond en Bedoeïen-strukture aan die brand gesteek en vier Palestyne beseer in die besette Wesoewer, het Israel se weermag en ’n Palestynse amptenaar gesê.
Volgens die weermag was tientalle gemaskerde setlaars by die aanvalle in Beit Lid en Deir Sjaraf betrokke. Vier Palestyne is vir beserings behandel. Veiligheidsmagte het die konfrontasie opgebreek.
Van die Palestyne is met stokke en klippe geslaan. Volgens die Israeliese polisie is vier Israeliese verdagtes in hegtenis geneem en hulle word vir ondervraging aangehou. – Reuters
2025-11-11 20:07:14
Dis die blond, dis die blou …

Die Mellon Blue, ’n vleklose peervormige blou diamant van 9,51 karaat wat vroeër aan die Amerikaanse kunsversamelaar Bunny Mellon behoort het, is Dinsdag vir sowat R435 miljoen op ’n Christie’s-veiling in Genève, Switserland, verkoop. Foto: AFP
2025-11-11 20:21:23
Vraag na lugversorging kan teen 2050 verdriedubbel, waarsku VN
Die wêreldwye vraag na lugversorging kan teen 2050 meer as verdriedubbel, het die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (Unep) Dinsdag gewaarsku, en gevra vir meer volhoubare verkoelingsoplossings.
Volgens Unep kan die vraag toeneem vanweë bevolking- en welvaartsgroei oor die wêreld heen, tesame met meer ekstreme hitte.
Die vinnigste groei word in Afrika en Suid-Asië verwag.
Die toenemende vraag na meer besoedelende en ondoeltreffende verkoelingstelsels sal die huidige verkoelingsverwante kweekhuisgasvrystellings meer as verdubbel, het Unep gesê. – AFP
2025-11-11 20:31:29
Veterane aan ’t gesels

Koning Charles van Brittanje gesels Dinsdag met ’n militêre veteraan op ’n onthaal vir veterane wat in die Tweede Wêreldoorlog in die Stille Oseaan gedien het. Die veterane en hul families het die onthaal in die Windsor-kasteel ter ere van die 80ste herdenking van VJ-dag (die oorwinning oor Japan) bygewoon. Foto: AFP
2025-11-12 03:44:15
Betogers eis grondregte by COP30-beraad, bots met wagte
Tientalle betogers, onder wie lede van die inheemse gemeenskap, het Dinsdag by ’n lokaal van die COP30-klimaatberaad in Brasilië opgeruk en met veiligheidswagte by die ingang gebots.
Die betogers het toegang geëis tot die VN-kompleks, waar duisende afgevaardigdes van talle lande vanjaar se VN-beraad in die stad Belém bywoon.
Sommige betogers het vlae met slagspreuke geswaai om grondregte te eis en om die reënwoude in die Amzone te bewaar.
“Ons kan nie geld eet nie,” het Gilmar, ’n leier van die inheemse Tupinambá-gemeenskap wat slegs ’n voornaam gebruik, gesê.
“Ons wil hê ons daar moet geen landbou-ondernemings, olie-ontginning, onwettige mynwerkers en onwettige houtkappers op ons grond wees nie.” – Reuters

Betogers by die ingang van die VN-kompleks waar die COP30-klimaatberaad aangebied word, in die stad Belém, Brasilië. Foto: Reuters
2025-11-12 03:55:34
Frankryk besorg oor Amerikaanse weermag se operasies in Karibiese Eilande
Frankryk is bekommerd oor operasies van die Amerikaanse weermag in die Karibiese Eilande omdat dit ’n skending van internasionale reg is.
Die Amerikaanse weermag het tot dusver minstens 19 aanvalle uitgevoer op bote waarop na bewering dwelms gesmokkel word in die streek van die Karibiese Eilande en langs die Stille Oseaan-kus van Latyns-Amerika.
Minstens 76 mense is in die aanvalle dood.
Jean-Noel Barrot, Franse minister van buitelandse sake, het Dinsdag gesê Frankryk het ’n teenwoordigheid in hierdie streek vanweë sy oorsese gebiedsdele waarin meer as een miljoen van sy landgenote woon.
“Hulle kan dus geraak word deur die onstabiliteit wat deur enige eskalasie veroorsaak word en ons wil dit natuurlik vermy.” – Reuters
2025-11-12 04:35:28
Panama lê beslag op 12 ton kokaïen
Die owerheid in Panama het Dinsdag aangekondig dat beslag gelê is op ’n groot besending kokaïen wat per veerboot in die Stille Oseaan op pad na die VSA was.
Julio Villarreal, ’n aanklaer, het gesê daar is Maandag in ’n operasie op ongeveer 12 ton kokaïen beslag gelê.
Altesaam 10 mense is in hegtenis geneem.
Panama is ’n deurgangspunt vir kokaïen vanuit Suid-Amerika, hoofsaaklik Colombië, wat bestem is vir Amerika, die wêreld se grootste verbruiker. – AFP

’n Gewapende offisier staan Dinsdag in Panama voor 12 ton kokaïen wat in honderde pakkies verdeel is. Foto: AFP
2025-11-12 05:07:08
Australië, Indonesië kondig nie veiligheidsverdrag aan
Australië en Indonesië het ’n ooreenkoms aangegaan oor ’n nuwe veiligheidsverdrag tussen die twee lande ingevolge waarvan hulle mekaar sal raadpleeg indien enige van die lande bedreig word.
Anthony Albanese, premier van Australië, het die aankondiging Woensdag op ’n gesamentlike mediakonferensie in Sydney met Prabowo Subianto, die president van Indonesië, gedoen. Albanese sê die verdrag is ’n belangrike uitbreiding van vorige veiligheidsooreenkomste en sluit ook gereelde dialoog tussen leiers oor veiligheid in.
“Indien een of albei lande se veiligheid bedreig word, (sal ons mekaar) raadpleeg en oorweeg watter maatreëls individueel of gesamentlik geneem kan word om daardie bedreigings te hanteer.” – Reuters
2025-11-12 05:23:13
9 uit 10 huishoudings sukkel finansieel in Afganistan
Afganistan se ekonomiese herstel vorder stadig terwyl nege uit 10 huishoudings genoop word om maaltye oor te slaan, besittings te verkoop of skuld aan te gaan om te oorleef.
Die Verenigde Nasies het Woensdag gewaarsku dat die oorweldigende terugkeer van Afgane wat uit ander lande gedeporteer word, die land se ergste krisis vererger sedert die Taliban weer aan die bewind gekom het.
Luidens ’n verslag van die VN is meer as 4,5 miljoen Afgane sedert 2023 uit die buiteland gedwing om terug te keer.
Boonop het aardbewings, vloede en droogte 8 000 huise vernietig en openbare dienste “bo hul perke belas”. – Reuters
2025-11-12 05:55:32
Xi bearbei Spanje om albei nasies se invloed te versterk
Pres. Xi Jinping van China het Woensdag aan koning Felipe VI van Spanje gesê dat die wêreld se naasgrootste ekonomie met die Spanjaarde wil saamwerk om al twee nasies se internasionale invloed te versterk.
Die twee staatshoofde het in Beijing vergader voor ’n ondertekeningsplegtigheid.
Felipe is die eerste Spaanse monarg in 18 jaar wat ’n staatsbesoek aan China aflê.
Spanje lei die Europese Unie in die hofmakery met China en probeer sy diplomatieke voetspoor oor die Asië-Stille Oseaan-streek uitbrei. – Reuters

Xi Jinping, president van China, ontvang Woensdag vir koning Felipe VI van Spanje by ’n verwelkomingsplegtigheid by die Groot Volksaal in Beijing. Foto: AFP/Pool
2025-11-12 06:32:28
Thailand eis verskoning van Kambodja oor landmyne
Thailand eis ’n verskoning van Kambodja, wat hom daarvan beskuldig dat hy nuwe landmyne geplant het wat Thaise soldate beseer het.
Dit kom ’n dag nadat Thailand ’n skietstilstand gestaak het wat deur pres. Donald Trump bemiddel is.
Kambodja ontken die beskuldiging oor nuwe landmyne, waaronder een wat Maandag ontplof het.
’n Thaise soldaat is vermink tydens ’n patrollie langs die betwiste grens tussen die twee lande.
Dit het spanning weer aangewakker ná ’n vyf dae lange konflik in Julie. – Reuters
2025-11-12 06:41:54
Oekraïne skors sy minister van justisie
Oekraïne het German Galushchenko, minister van justisie, geskors te midde ’n ondersoek na korrupsie in die energiesektor.
Galushchenko, wat voorheen as minister van energie gedien het, was die onderwerp van ondersoeke, het sy ministerie Dinsdag gesê.
Die ministerie het nie aangedui of dit verband hou met die korrupsiesaak rakende energie wat deur die nasionale anti-korrupsieburo (Nabu) ondersoek is nie.
Galushchenko se stem is opgeneem in ’n gesprek met sommige van die verdagtes in die saak, volgens ’n bron vertroud met die saak. – Reuters
2025-11-12 06:59:48
Aussie-hof handhaaf besluit oor nuwe Russiese ambassade
Australië se hooggeregshof het Rusland Woensdag verhinder om ’n nuwe ambassadegebou in die land se hoofstad, Canberra, op te rig.
Rusland het ’n huurkontrak gehad vir ’n stuk grond wat ongeveer 300 meter van die parlementsgebou in Canberra is.
Rusland was van plan om ’n nuwe ambassade daar te vestig om ’n ouer gebou elders te vervang.
Maar in 2023 het die Australiese regering ’n wet ingestel om die huurkontrak te kanselleer op gronde van nasionale veiligheid ingevolge ’n wetsontwerp. – AFP
2025-11-12 07:31:42
Dodetal styg weens motorontploffing in Indië
Die dodetal weens ’n motorontploffing Maandagaand in Delhi, Indië, het tot 12 gestyg.
Meer as 30 mense is ook beseer.
Die polisie moet nog presiese besonderhede verskaf oor die oorsaak van die ontploffing naby die historiese Rooi Fort, wat een van Indië se bekendste bakens is. – AFP
2025-11-12 07:45:16
Brug in China stort gedeeltelik ineen
’n Brug wat onlangs in die Sichuan-provinsie in China geopen het, het Dinsdag gedeeltelik ineengestort.
Die brug van 758 m lank is langs ’n nasionale hoofweg wat die land met Tibet verbind.
Daar was geen berigte van slagoffers nie.
Die polisie het die Hongqi-brug Maandagmiddag vir alle verkeer gesluit nadat krake in nabygeleë hange en paaie verskyn het, en grondverskuiwings opgemerk is.
Toestande aan die berg se kant het versleg wat grondverskuiwings veroorsaak het, wat tot die ineenstorting gelei het. – Reuters
https://www.youtube.com/watch?v=0zBf0lQZxGg
2025-11-12 07:55:45
Hy sal nie Starmer vir pos uitdaag, sê minister te midde van bespiegeling
Wes Streeting, Britse minister van gesondheid, het Woensdag gesê dat hy nie vir Keir Starmer, Britse premier, om sy pos sal uitdaag nie.
Dit volg nadat mediaberigte bondgenote van Starmer aangehaal het wat gesê het hulle vrees ’n potensiële staatsgreep.
Verskeie Britse publikasies het Woensdag berig Starmer sal enige uitdaging teen sy leierskap beveg indien hy ’n bedreiging vir sy pos ervaar, wat moontlik ná die begroting op 26 November kan plaasvind.
“Die premier veg nie vanoggend om sy pos nie,” het Streeting aan LBC-radio gesê. – Reuters

Keir Starmer, premier van Brittanje. Foto: Getty Images/WPA Pool
2025-11-12 08:33:16
Israel heropen belangrike grenspos vir hulp na Gasastrook
Israel het Woensdag die Zikim-grenspos in die noorde van die Gasastrook heropen om vragmotors met humanitêre hulp in die gebied toe te laat.
Hulpagentskappe van die Verenigde Nasies (VN) het gevra vir die heropening van die grenspos sodat meer hulp na die verwoeste noordelike deel van die gebied kan vloei, veral ná verlede maand se skietstilstand tussen Israel en Hamas.
Die VN sê dat die grenspos op 12 September gesluit is en geen hulpgroepe kon sedertdien voorrade invoer nie. – Reuters
2025-11-12 08:42:34
Kazakstan se laerhuis aanvaar wet teen ‘LGBTQ-propaganda’
Die laerhuis van Kazakstan se parlement het Woensdag ’n wet aanvaar wat “LGBTQ-propaganda” aanlyn of in die media verbied.
Oortreders kan boetes opgelê word en gereelde oortreders kan tot 10 dae gevangenisstraf gevonnis word.
Die wetgewing is soortgelyk aan wette wat aanvaar is in ander lande, insluitend Rusland, Georgië en Hongarye.
Die wetgewing sal nou na die senaat gestuur word, waar dit waarskynlik goedgekeur sal word.
Kassim-Djomart Tokajef, president van Kazakstan, het in onlangse maande herhaaldelik die noodsaaklikheid beklemtoon om “tradisionele waardes” te handhaaf. – Reuters
2025-11-12 09:31:33
Rusland wil vredesonderhandelings met Oekraïne hervat
Rusland is gereed om vredesonderhandelinge met Oekraïne in die stad Istanbul in Turkye te hervat.
Die twee kante het sedert 23 Julie nog nie weer gepraat nie.
Die Russiese staatsnuusagentskap TASS het Aleksei Polisjtsjoek, ’n amptenaar van die ministerie van buitelandse sake, aangehaal wat sê Turkse amptenare moedig die gesprekke aan.
“Die Russiese span is gereed. Dit hang nou van Oekraïne af.” – Reuters
2025-11-12 09:42:34
42 immigrante vermoedelik dood nadat rubberboot aan Libiese kus omslaan
Die Verenigde Nasies (VN) sê 42 immigrante word vermis en is vermoedelik dood nadat ’n rubberboot aan die kus van Libië omgeslaan het.
Slegs sewe mense is gered nadat hulle ses dae lank gedryf het.
“Tragies blyk dit dat 42 individue vermis word. Hulle is vermoedelik dood. Dit sluit 29 mense van Soedan, agt van Somalië, drie van Kameroen en twee van Nigerië in,” het die VN Woensdag gesê.
Die sewe oorlewendes bestaan uit vier mense van Soedan, twee Nigeriërs en ’n persoon van Kameroen. – AFP
2025-11-12 09:55:37
Verhoor van voormalige Kongolese rebelleleier begin in Frankryk
Die verhoor van Roger Lumbala (67), voormalige Kongolese rebelleleier, het Woensdag in Frankryk begin weens gruweldade wat dekades gelede in die Demokratiese Republiek die Kongo gepleeg is.
Lumbala word aangekla van medepligtigheid aan misdade teen die mensdom weens sy rol tydens die Tweede Kongolese Burgeroorlog van 1998 tot 2003, waarby meer as ses Afrikalande in die wêreld se dodelikste konflik sedert die Tweede Wêreldoorlog betrek is.
Lumbala word sedert hy in Desember 2020 aangekeer is in Parys aangehou. – AFP
2025-11-12 10:07:57
Aardbewing tref Siprus
’n Aardbewing met ’n voorlopige sterkte van 5,2 het dele van Siprus Woensdag getref.
Die skudding is om 11:32 (plaaslike tyd) aangeteken en geen onmiddellike skade is aangerig nie.
Plasings deur die Europees-Mediterreense Seismologiese Sentrum dui daarop dat dit ook in Libanon gevoel is. Siprus is in ’n seismies aktiewe streek, maar aardbewings veroorsaak selde skade. – AFP
2025-11-12 10:35:03
Dodetal styg tot 32, tientalle nog vermis nadat boot met immigrante omslaan
Die dodetal nadat ’n boot met immigrante Saterdag aan die Thai-Maleisiese kus gesink het, het Woensdag tot minstens 32 gestyg.
Amptenare sê hulle het nie moed opgegee om oorlewendes te vind op die vyfde dag van die soektog nie.
Veertien mense is tot dusver gered sedert die boot verlede week naby die eiland Taroetao by Thailand omgeslaan het terwyl dit op pad was na Maleisië.
Amptenare sê daar was ongeveer 70 onwettige immigrante op die boot, van wie die meerderheid van die Rohingja-minderheidsgroep in Mianmar is. – AFP

’n Maleisiese reddingswerker voorsien Dinsdag kos aan Iman Sjorif van die Rohingja-minderheidsgroep van Mianmar in Langkawi, Maleisië. Foto: AFP
2025-11-12 11:16:23
VN-agentskappe waarsku oor hongersnood in verskeie lande
Twee agentskappe van die Verenigde Nasies (VN) het Woensdag gewaarsku dat miljoene mense die risiko loop om te sterf weens hongersnood.
Volgens die Wêreldvoedselprogram en die Voedsel- en Landbou-organisasie moet voedseltekorte in Soedan en die Gasastrook dringend aandag kry.
Die agentskappe noem Haïti, Mali, Suid-Soedan en Jemen as lande wat in die gesig gestaar word deur "'n dreigende risiko van katastrofiese honger", wat hongersnood beteken.
Voedseltekorte in ses ander lande, Afganistan, die Demokratiese Republiek die Kongo, Mianmar, Nigerië, Somalië en Sirië, word deur die agentskappe as "baie kommerwekkend" beskou. – Reuters
2025-11-12 11:28:35
Amerikaanse wetgewers kan Woensdag besluit oor staatsluiting
Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers gaan Woensdag na verwagting stem oor 'n bestedingswetsontwerp om die ses weke lange dooiepunt op te los wat Amerika se langste staatsluiting kan beëindig.
Die huisreëlskomitee, wat wetsontwerpe hersien voordat dit aan die huis van verteenwoordigers voorgelê word, het vroeg Woensdag op sy webwerf aangekondig dat hy die wetsontwerp met agt stemme teenoor vier goedgekeur het.
Dit baan die weg vir die Republikeins beheerde huis om oor die voorgestelde bestedingspakket te debatteer en te stem wanneer die verteenwoordigers Woensdag vergader. – AFP
2025-11-12 11:38:33
Trump vra dat Netanyahu vrygeskeld word
Isaac Herzog, die Israeliese president, het 'n brief van pres. Donald Trump ontvang waarin hy vra dat Benjamin Netanyahu, die Israeliese premier, vrygeskeld word. 'n Langdurige korrupsieverhoor staar Netanyahu in die gesig.
"Terwyl ek die onafhanklikheid van die Israeliese regstelsel en die vereistes daarvan absoluut respekteer, glo ek dat hierdie 'saak' teen Bibi (Netanyahu), wat lank saam met my geveg het, insluitend teen die baie taai teenstander van Israel, Iran, 'n politieke en ongeregverdigde vervolging is," skryf Trump in die brief, wat deur Herzog se kantoor bekend gemaak is.
Herzog se kantoor sê enigiemand wat 'n presidensiële kwytskelding wil hê, moet 'n formele versoek indien wat met die gevestigde prosedures strook. – Reuters

Pres. Donald Trump het Woensdag gevra dat Benjamin Netanyahu, die Israeliese premier, vrygeskeld word. Foto: Getty Images
2025-11-12 12:24:59
Konflik breek weer uit tussen Kambodja, Thailand
Een mens is Woensdag in Kambodja dood te midde van 'n opvlamming in die konflik met Thailand. Die buurlande beskuldig mekaar van die skending van 'n Amerikaans geleide skietstilstand.
Volgens Kambodja het Thaise soldate op mense naby 'n betwiste grensdorp losgebrand. Een mens is dood en drie ander gewond. Thailand se departement van buitelandse sake sê dat hy 'n verskoning van Kambodja eis nadat 'n Thaise soldaat Maandag vermink is deur 'n landmyn op die grensgebied tussen die twee lande.
Thailand het Dinsdag gesê dat hy die skietstilstand opskort wat hy verlede maand in die teenwoordigheid van pres. Donald Trump met Kambodja onderteken het. – Reuters
2025-11-12 12:32:18
Irakkese premier behaal glo verkiesingsoorwinning
Bronne sê Mohammed Sjia al-Soedani, die Irakkese premier, wat hom vir 'n tweede termyn verkiesbaar gestel het, het 'n groot oorwinning in die algemene verkiesing behaal.
Irakkese het Dinsdag hul kruisies getrek in 'n algemene verkiesing in 'n streek wat onlangs nog onder oorloë gebuk gegaan het.
Die volgende premier moet verantwoording doen aan Irakkese wat werk, beter infrastruktuur en verbeterde onderwys- en gesondheidstelsels eis in 'n land wat deur korrupsie en wanbestuur geteister word. – AFP
2025-11-12 12:41:18
Sirië ondersoek diefstal by nasionale museum
Siriese owerhede het die nasionale museum in Damaskus tydelik gesluit en 'n ondersoek van stapel gestuur nadat diewe die naweek verskeie artefakte gesteel het.
Diewe het by die sogenaamde klassieke vleuel van die museum, wat artefakte huisves wat uit die antieke tyd dateer, ingebreek. " ’n Amptelike ondersoek het begin en die museum sal tydelik gesluit bly totdat die insameling van bewyse voltooi is," sê ‘n regeringsamptenaar.
" 'n Inventaris van al die argeologiese items word tans opgestel om uit te vind wat gesteel is.” – AFP
2025-11-12 12:47:23
Bome met truie...

'n Student neem foto's van bome wat toegedraai is in kleurvolle truie by die Universiteit van Internasionale Betrekkinge in Beijing, China. Foto: Getty Images
2025-11-12 13:02:55
Vatikaan verwerp Jesus-verskynings in Franse dorpie
Die Vatikaan het Woensdag benadruk dat beweerde verskynings van Jesus in Dozulé, ’n dorpie in Noord-Frankryk, nie deur Katolieke gelowiges as eg beskou moet word nie. Volgens ’n vrou het Jesus glo 49 keer aan haar verskyn in die 1970’s. Sy is glo beveel om ’n groot kruis op ’n heuwel te bou.
Die Vatikaan se leerowerheid het egter onder leiding van Pous Leo XIV beslis dat dié verskynings nie bonatuurlik is nie. Katolieke glo dat figure soos Jesus en Maria soms in bonatuurlike vorm verskyn, maar die Vatikaan hou by ’n streng ondersoekproses.
Bewerings destyds dat die wêreld voor 2000 sou eindig, is ook as vals afgemaak.
Die Vatikaan het voorts beklemtoon dat die kruis in elke hart leef wat oop is vir vergifnis – nie in staal of beton nie. – Reuters
2025-11-12 13:07:55
China verwelkom Spaanse koning

Lede van ’n Chinese erewag marsjeer op ’n verwelkomingsplegtigheid vir Spanje se koning Felipe VI by die Groot Volksaal in Beijing. Foto: AFP
2025-11-12 13:12:27
Vlugopnemer van Turkse vliegtuig gevind ná dodelike ongeluk
Die vlugopnemer van die Turkse militêre vliegtuig wat in Georgië neergestort het en 20 mense se lewe geëis het, is gevind, maar nog nie ontleed nie, het regeringsamptenare Woensdag gesê. Hulle het gewaarsku teen vinnige afleidings oor die oorsaak van die ongeluk.
Volgens die Turkse owerhede het die vragvliegtuig op pad huis toe vanaf Azerbeidjan neergestort. 19 lyke is tot dusver gevind. Reddingspanne soek steeds na die laaste slagoffer.
Die vliegtuig het Dinsdagmiddag van die Ganja-lughawe in Wes-Azerbeidjan opgestyg en kort ná die oorsteek van die grens in Oos-Georgië neergestort. – AFP
2025-11-12 13:24:50
Streng maatreëls ná nuwe voëlgriep-uitbreking in Tsjeggië
Die Tsjeggiese regering het Woensdag aangekondig dat hy meer as 70 000 stuks pluimvee van kant gaan maak nadat voëlgriep by nog twee kommersiële plase bespeur is.
Die optrede het in die suidelike dorpie Valdikov begin, waar 18 000 eendjies en 2 500 volwasse eende van kant gemaak is. Donderdag word dit voortgesit by ’n plaas in Lanskroun, waar 40 000 henne en 13 000 hane besmet is.
Streng higiënemaatreëls is oor ’n radius van 10 km ingestel, insluitend ’n beperking op die beweging van pluimvee en voëls, ’n telling van alle kuddes en ’n verbod op massa-geleenthede soos voëlskoue.
Sover vanjaar is voëlgriep reeds op drie kommersiële plase, 17 kleiner plase en onder wilde voëls op agt plekke bespeur. In 2024 is meer as 250 000 voëls in Tsjeggië van kant gemaak. – AFP
2025-11-12 14:00:14
Weste, hier kom ons

Chinese motors Woensdag in ’n hawe in Nanjing, in China se oostelike Jiangsu-provinsie, voor dit per skip uitgevoer word. Foto: AFP
2025-11-12 14:07:59
Epstein beweer glo in e-posse Trump was bewus van sy optrede
Amerikaanse Demokrate het Woensdag private e-posse openbaar gemaak waarin die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein beweer pres. Donald Trump het meer geweet van sy seksmisdade as wat hy erken – en dat Trump “ure by my huis deurgebring het” saam met een van sy slagoffers.
Trump het enige betrokkenheid of kennis van sy voormalige vriend Epstein se seksmisdade ontken. Epstein het in 2019 sy eie lewe in ’n tronksel geneem terwyl hy verhoorafwagtend was.
Volgens die Demokrate laat die e-posse “ernstige vrae ontstaan oor Donald Trump en sy kennis van Epstein se gruwelike misdade”. – AFP
2025-11-12 14:34:15
Minstens 37 sterf in busongeluk in suide van Peru
Minstens 37 mense is dood en tientalle beseer nadat ’n bus Woensdag vroegoggend in die Arequipa-streek van Suid-Peru op die Panamericana Sur-hoofweg in ’n kloof afgestort het, het plaaslike owerhede Woensdag gesê.
Die bus het ’n bakkie getref voordat dit in die kloof afgestort het, het die streek se gesondheidshoof in ’n televisie-onderhoud gesê.
Volgens die streeksregering word 26 mense vir beserings behandel, van wie drie in ’n ernstige toestand is. – Reuters
2025-11-12 15:01:23
Lewensgevaarlike herwinning

’n Palestynse seun versamel Woensdag plastiek om te herwin naby ’n onontplofte missiel op ’n vullishoop by die Firas-mark in die stad Gasa. Foto: AFP
2025-11-12 15:08:18
Mense kan nie meer tussen KI- en regte musiek onderskei
Dit het amper onmoontlik geword vir mense om die verskil tussen musiek te hoor wat deur kunsmatige intelligensie (KI) geskep is en musiek wat deur mense geskep is, volgens ’n opname wat Woensdag uitgereik is.
Die meningspeilingsfirma Ipsos het 9 000 mense gevra om na twee snitte van KI-gegenereerde musiek en een mensgeskepte liedjie te luister in ’n opname uitgevoer vir die stromingsplatform Deezer.
"Uit die groep kon 97% nie onderskei tussen musiek wat geheel en al deur KI geskep is teenoor mensgeskepte musiek nie," sê Deezer. – AFP
2025-11-12 15:35:51
6 sterf in stormloop by weermagwerwing in Ghana
Minstens ses mense is Woensdagoggend vroeg doodgetrap nadat ’n skare werksoekers deur die hekke van die El-Wak-sportstadion gestroom het ten tyde van ’n militêre werwingsgeleentheid in die Ghanese hoofstad, Akkra.
Volgens die weermag is minstens 22 ander mense ook in die stormloop voor die geskeduleerde keuringsproses beseer, van wie vyf in ’n kritieke toestand is. – AFP
2025-11-12 16:02:50
Indië sê Delhi-ontploffing was terreur
Indië het Woensdag gesê ’n motorontploffing naby Delhi wat vroeër die week minstens 12 lewens geëis en 30 mense beseer het, was ’n "terreurvoorval".
"Die land het ’n gruwelike terreurvoorval beleef, gepleeg deur antinasionale magte," lui ’n kabinetsverklaring, wat Maandag se ontploffing in Indië se bekende Rooi Fort vir die eerste keer formeel as ’n terreurvoorval bestempel.
Vroeër het drie bronne vertroud met die ondersoek gesê die polisie kyk na ’n verband tussen die ontploffing en die inhegtenisneming van sewe mans ure voor die ontploffing. Die groep mans van die Kasjmir-streek is met wapens en bomvervaardigingsmateriaal aangekeer. – AFP

Narendra Modi, Indië se premier, besoek Woensdag een van die minstens 30 slagoffers in die Lok Nayak-hospitaal. Foto: Indiese Persinligtingsburo (PIB)/AFP
2025-11-12 16:36:48
Epstein-e-pos uitgereik om Trump te beswadder – Withuis
Die Withuis het die Demokrate in die huis van verteenwoordigers daarvan beskuldig dat hulle Woensdag e-posse van die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein uitgereik het om pres. Donald Trump te beswadder.
"Die Demokrate het selektief e-posse aan die liberale media uitgelek om 'n vals narratief te skep om pres. Trump te beswadder," sê Karoline Leavitt, Withuis-woordvoerder.
Die Demokrate het private e-posse openbaar gemaak waarin Epstein beweer Trump het meer van sy seksmisdade geweet as wat hy erken het – en dat Trump "ure" by sy huis deurgebring het saam met een van sy slagoffers. – Reuters

Die toekomstige Amerikaanse president Donald Trump (heel links), sy vriendin (en toekomstige vrou), Melania Knauss, Jeffrey Epstein (tweede van regs) en Ghislaine Maxwell (heel regs) poseer in 2000 saam vir ’n foto by die Mar-a-Lago-landgoed in Palm Beach, Florida. Foto: Davidoff Studios/Getty Images
2025-11-12 17:13:05
1,23 miljoen mense sterf aan TB in 2024, sê WGO
Tuberkulose (TB) is steeds een van die wêreld se dodelikste aansteeklike siektes en het verlede jaar na raming 1,23 miljoen mense se lewe geëis, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).
Sterftes weens TB was 3% laer as in 2023, terwyl gevalle met byna 2% gedaal het, sê die WGO in sy jaarlikse oorsig. In 2024 is TB na raming by 10,7 miljoen mense wêreldwyd gediagnoseer: by 5,8 miljoen mans, 3,7 miljoen vroue en 1,2 miljoen kinders.
TB is ’n voorkombare en geneeslike siekte wat veroorsaak word deur bakterieë wat meestal die longe aantas. Dit versprei deur die lug wanneer mense met TB hoes, nies of spoeg. – AFP
2025-11-12 17:23:55
VSA stel sanksies in teen militante groep in Mianmar weens bedrog
Amerika het Woensdag finansiële sanksies teen ’n militante groep in Mianmar ingestel weens sy ondersteuning van ’n kuberbedrogspul wat Amerikaners geteiken het.
Honderdduisende mense is die laaste paar jaar deur misdaadsindikate oor Suidoos-Asië heen gedwing om in bedrogsentrums te werk, waarvan baie in die oorloggeteisterde Mianmar geleë is.
Die jongste Amerikaanse sanksies teiken die Democratic Karen Benevolent Army en vier van sy leiers, asook entiteite en ’n individu wat met Chinese georganiseerde misdaad verbind word, sê die Amerikaanse tesourie. – Reuters
2025-11-12 17:30:59
Storm 1ste keer op ander ster opgemerk wat planete se atmosfeer kan vernietig
Sterrekundiges het vir die eerste keer ’n groot storm op ’n ander ster as die son opgemerk. Die uitbarsting was so erg dat dit die atmosfeer van nabygeleë planete sou kon vernietig.
Sulke storms op die son het soms helder ligstrale tot gevolg wat sigbaar is van die aarde, soos vandeesweek gesien is in Amerika en Nieu-Seeland. Dis wel nog nooit tevore op ’n ander ster gesien nie.
Wetenskaplikes het radiodata van Europese teleskope gebruik en die storm op ’n rooidwergster sowat 133 ligjaar van die aarde opgemerk. Die storm was 10 000 keer sterker as ’n storm op die son. Dit beteken dat baie planete naby rooidwergsterre waarskynlik nie lewe kan ondersteun nie omdat hul atmosfeer deur sulke storms vernietig kan word. – AFP
2025-11-12 17:35:53
Klimaat-betoging

Hoofman Raoni, Brasiliaanse inheemse leier en omgewingsbewuste, hou ’n plakkaat vas wat lui: “Klimaatnood”, op die COP30-klimaatberaad in Belém, Brasilië. Foto: AFP
2025-11-12 18:11:20
Oorloë sal in toekoms in ruimte begin: Macron
Moderne konflikte word reeds in die ruimte gevoer en die volgende oorloë sal daar begin, het pres. Emmanuel Macron Woensdag gesê terwyl hy Frankryk se toekomstige ruimtestrategie uiteengesit het.
“Die oorlog van vandag word reeds in die ruimte gevoer, en die oorlog van môre sal in die ruimte begin,” het Macron op ’n besoek aan Toulouse, Frankryk se ruimte- en lugvaartsentrum, gesê.
“Laat ons gereed wees: Dit sal ’n voorvereiste wees vir die sukses van militêre operasies op land, in die lug en ter see.” – AFP
2025-11-12 18:19:03
Ierse mediareguleerder open ondersoek na Musk se X
Ierland se mediareguleerder het Woensdag met ’n ondersoek begin na die sosialemediaplatform X weens kommer dat gebruikers nie kans kry om teen besluite oor inhoudmoderering te appeleer nie en dat die interne klagteproses moeilik toeganklik is.
Dit is die eerste keer dat die reguleerder so 'n ondersoek van stapel stuur as deel van sy toesighouersrol oor platforms in Ierland ingevolge die Europese Unie se wet op digitale dienste (DSA).
Die ondersoek kyk of X, wat aan Elon Musk behoort, die wet nakom. Indien ’n platform die DSA oortree, kan ’n boete van tot 6% van die jaarlikse omset opgelê word.
X het ’n beduidende basis in Ierland, wat dien as sy Europese hoofkwartier en die databeheerder vir gebruikers buite die VSA huisves. – Reuters
2025-11-12 18:31:19
VSA verdedig militêre aanvalle op dwelmhandelaars
Die Amerikaanse departement van justisie het Woensdag die land se militêre aanvalle op vermeende dwelmhandelaars verdedig en kritiek dat dit op teregstellings neerkom, verwerp.
“Die aanvalle is uitgevoer ingevolges die wette van gewapende konflik en is dus regmatig,” sê die departement. Amerikaanse soldate wat aan die aanvalle deelneem, sal nie vervolg word nie want hulle is wetlik verplig om bevele uit te voer, sê die departement.
Die Verenigde Nasies (VN) het Maandag die VSA gevra om die regmatigheid van die aanvalle te ondersoek, aangesien daar sterk tekens is dat dit as buite-geregtelike teregstellings beskou kan word. – AFP
2025-11-12 19:01:36
Die ballerina en die koningin

Brittanje se koningin Camilla, beskermvrou van die Engelse Nasionale Ballet, en die ballerina Sangeun Lee Woensdag by ’n onthaal in die Buckingham-paleis vir personeel, dansers en ondersteuners om die balletgeselskap se 75ste bestaansjaar te vier. Foto: Reuters
2025-11-12 19:15:57
Epstein-e-pos: Trump het ‘niks verkeerds gedoen’ – Withuis
Pres. Donald Trump het “niks verkeerds gedoen” in sy doen en late met Jeffrey Epstein nie, het die Withuis Woensdag gesê. Dit kom nadat Demokrate e-posse uitgereik het wat daarop dui dat die president bewus was van die ontslape Epstein se seksuele mishandeling van minderjariges en dat Trump ure saam met een slagoffer deurgebring het.
“Jeffrey Epstein was ’n lid by Mar-a-Lago totdat pres. Trump hom uitgeskop het omdat Jeffrey Epstein ’n pedofiel en ’n onaangename vent was,” het Karoline Leavitt, die Withuis-woordvoerder, aan verslaggewers gesê.
“Hierdie e-posse bewys absoluut niks nie, behalwe die feit dat pres. Trump niks verkeerd gedoen het nie.” – AFP

’n E-pos van die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein wat na pres. Donald Trump verwys. Die e-posse is Woensdag deur Demokrate in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers uitgereik. Foto: Reuters
2025-11-12 19:32:46
Duitsland vang nóg ’n vermeende lid van ‘Hamas-sel’
Duitse aanklaers het Woensdag gesê die polisie het nog ’n vermeende lid van ’n Hamas-sel in hegtenis geneem wat glo aanvalle op Israeliese of Joodse instellings beplan het.
Die Libanees gebore man is laat Dinsdag in hegtenis geneem toe hy Duitsland vanaf die Tsjeggiese Republiek binnegekom het.
Aanklaers beweer dat hy in Augustus ’n “outomatiese geweer, agt Glock-pistole en meer as 600 patrone in Duitsland aangeskaf” en aan ’n ander verdagte, Wael F., gegee het.
Wael F. is een van drie mans wat verlede maand in Berlyn in hegtenis geneem is op vermoede dat hy vuurwapens en ammunisie vir die aanvalle verkry het. – AFP
2025-11-12 19:41:42
Trump kap Demokrate wat ‘aandag wil aflei’ met Epstein
Pres. Donald Trump het die Demokrate gekritiseer vir die uitreiking van e-posse Woensdag oor sy beweerde bande met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein en gesê hulle probeer die aandag aflei van hul eie swak prestasies.
“Die Demokrate probeer weer die Jeffrey Epstein-klug oprakel omdat hulle enigiets sal doen om die aandag af te lei van hoe swak hulle gevaar het met die regeringsluiting en soveel ander onderwerpe,” het Trump op sy Truth Social-platform gesê. – AFP
2025-11-12 20:02:29
‘Ons man het gewen!’

Uitbundige ondersteuners van Mohammed Sjia al-Soedani, huidige premier van Irak, swaai landsvlae in Bagdad voor ’n skerm met sy gesig op ná die aankondiging van voorlopige verkiesingsuitslae. Al-Soedani het later Woensdag in ’n toespraak aan die Irakse volk gesê sy koalisie het die land se algemene verkiesing gewen. Foto: AFP
2025-11-12 20:09:33
Trump wil $2 000 aan elke Amerikaner gee uit tariefinkomste
Pres. Donald Trump is verbind daartoe om Amerikaners $2 000 elk te gee uit geld wat in die staatskoffers beland het vanweë sy tariewe, het die Withuis Woensdag gesê.
Karoline Leavitt, die Withuis-woordvoerder, het aan verslaggewers gesê Trump se personeel kyk na hoe hulle die plan kan uitvoer. – Reuters
2025-11-12 20:34:22
Meer as 200 Keniane veg vir Rusland in Oekraïne
Kenia het Woensdag gesê meer as 200 van sy burgers veg vir Rusland in die oorlog in Oekraïne en dat werwingsagentskappe steeds aktief besig is om meer Keniane te lok.
Oekraïne het verlede week gesê meer as 1 400 burgers van sowat 30 Afrikalande veg saam met Russiese magte in Oekraïne en sommige van hulle is deur misleiding gewerf.
Kenia se ministerie van buitelandse sake het in ’n verklaring gesê rekrute is na bewering tot $18 000 beloof vir visums en hul reis- en verblyfkoste. – Reuters
2025-11-13 03:24:57
Boeing moet slagoffer se familie $28 miljoen betaal
’n Jurie in die federale hof in Chicago het Boeing Woensdag gelas om meer as $28 miljoen te betaal aan die familie van ’n slagoffer in die ongeluk in 2019 van ’n 737 MAX-straler in Ethiopië.
Die uitspraak, wat aan die familie van Shikha Garg toegeken is, is die eerste in tientalle regsgedinge wat aanhangig gemaak is in die nasleep van daardie ongeluk en nóg 'n ongeluk in Indonesië in 2018.
Altesaam 346 mense het omgekom.
Garg se familie sal $35,85 miljoen ontvang – die volle bedrag ingevolge die uitspraak plus 26% rente. Boeing gaan nie appèl aanteken nie. – Reuters
2025-11-13 03:38:25
Amerikaanse regeringsluiting beëindig ná 43 dae
Pres. Donald Trump het Woensdagnag (Donderdag omstreeks 05:25 Suid-Afrikaanse tyd) wetgewing onderteken wat die langste regeringsluiting tot nog toe in die Amerikaanse geskiedenis beëindig.
Die huis van verteenwoordigers het die tersaaklike wetgewing ongeveer twee uur tevore goedgekeur nadat die senaat die wetsontwerp vroeër vandeesweek die groen lig gegee het.
Trump se ondertekening beteken federale werkers sal van Donderdag af na hul werkplek kan terugkeer, hoewel dit nie duidelik is hoe vinnig regeringsdienste en -bedrywighede ten volle sal hervat nie. – Reuters

Pres. Donald Trump glimlag nadat hy die wetsontwerp onderteken het. Foto: Reuters
2025-11-13 03:55:09
Frankryk herdenk 2015-aanvalle deur IS waarin 130 dood is
Frankryk onthou Donderdag die 130 slagoffers wat omgekom het op die dag toe die Islamitiese Staat (IS) in Parys in 2015 aanvalle op verskeie plekke gedoen het.
Verskeie geleenthede sal op die 10de herdenking van dié tragiese dag gehou word.
Die aanvalle was die dodelikste op Franse bodem sedert die Tweede Wêreldoorlog en het noodveiligheidsmaatreëls tot gevolg gehad, waarvan baie nou in wetgewing vervat is.
Die aanvalle het begin met selfmoordbomontploffings buite die sportstadion Stade de France, waarna gewapende mans op vyf ander plekke in Sentraal-Parys losgebrand het. Dit sluit in kafees, restaurante en die Bataclan-konsertsaal. – Reuters

Die Eiffeltoring is Donderdagaand verlig met die blou, wit en rooi van die Franse vlag ten tyde van die 10de herdenking van die aanvalle. Foto: Reuters
2025-11-13 04:27:00
Twak, sê AU-voorsitter oor Trump se bewerings oor Christen-moorde in Nigerië
Daar is geen volksmoord in Noord-Nigerië nie, het Mahmoud Ali Youssouf, voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie, Woensdag gesê.
Youssouf het beskuldigings deur pres. Donald Trump verwerp dat “baie groot getalle” Christene in Nigerië vermoor word.
“Dink twee keer voordat jy (...) sulke stellings maak. Die eerste slagoffers van Boko Haram is Moslems, nie Christene nie,” het Youssouf aan verslaggewers by die Verenigde Nasies in die stad New York gesê.
Die ekstremistiese Islamitiese gewapende groep Boko Haram terroriseer ook die noordooste van Nigerië in ’n opstand wat die afgelope 15 jaar tot die dood van tienduisende mense gelei het.
Menseregtekundiges sê die meeste slagoffers van Boko Haram is Moslems. – Reuters
2025-11-13 04:48:36
Rubio doen beroep dat RSF in Soedan nie wapens kry
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Woensdag internasionale optrede versoek om te verhinder dat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) in Soedan toegang tot wapens het.
“Wat daar gebeur, is afgryslik.”
Rubio blameer die RSF, wat sedert April 2023 in ’n oorlog met die weermag gewikkel is en onlangs die stad El-Fasjer oorgeneem het.
Die RSF het ook gesê hy steun ’n Amerikaanse voorstel vir ’n skietstilstand.
“Ek dink die fundamentele probleem wat ons het, is dat die RSF tot dinge instem en dit dan nooit deurvoer nie,” het Rubio gesê.
“Ek dink iets moet gedoen word om te keer dat die RSF wapens en ondersteuning kry.” – AFP
2025-11-13 04:55:57
Weghol-vragmotor beseer 20 by mark in Suid-Korea
Twintig mense is beseer toe ’n ligte vragmotor Donderdag in ’n mark in Suid-Korea ingeploeg het en onbeheersd 150 meter ver gery het.
Die voorval het plaasgevind by ’n mark in Bucheon, ongeveer 20 km wes van die hoofstad, Seoel.
Die bestuurder is nie in ’n kritieke toestand nie en was nie onder die invloed van alkohol toe die polisie hom getoets het nie, het ’n polisiebeampte gesê.
Die polisie sal die voertuig aan ondersoekbeamptes oorhandig om die oorsaak van die ongeluk vas te stel. –Reuters
2025-11-13 05:20:52
Suid-Korea laat alles stilstaan vir toelatingseksamens
Vlugte word tydelik gestaak, die aandelemark sal een uur later begin verhandel en ouers stroom na tempels om te bid vir Suid-Koreaanse leerlinge wat die kollege-toelatingseksamen aflê.
Die eksamen, plaaslik bekend as die “Suneung”, is noodsaaklik vir toelating tot topuniversiteite en word wyd beskou as ’n poort na sosiale toeganklikheid, ekonomiese sekuriteit en selfs ’n goeie huwelik.
Met soveel op die spel waag die Suid-Koreaanse regering geen kanse nie.
Openbare kantore het ook hul werkers aangesê om een uur later te begin om verkeer op die paaie te vermy. – AFP

Leerlinge wag Donderdag dat die jaarlikse kollege-toelatingseksamens begin in ’n eksamenlokaal in die stad Seoel, Suid-Korea. Foto: Reuters
2025-11-13 06:22:07
Polisie kan nou bere in Japan skiet wat mense aanval
Die polisie in Japan kan vanaf Donderdag vuurwapens gebruik om bere te skiet nadat streng wapenwette hersien is om die owerheid te help om ’n vlaag noodlottige aanvalle te bestry.
Die aanvalle het ook die Amerikaanse ambassade in Tokio genoop om ’n “wildlewewaarskuwing” uit te reik.
Altesaam 13 mense het sedert April oor die land heen gesterf in aanvalle deur bere.
Voorvalle word byna daagliks aangemeld van bere wat huise binnedring, naby skole rondloop en in supermarkte amok maak. – AFP
2025-11-13 06:40:08
Suid-Soedan se president dank visepresident en ander af
Pres. Salva Kiir van Suid-Soedan het Benjamin Bol Mel Woensdag as visepresident en adjunkleier van die regerende party afgedank.
Kiir het ook die goewerneur van die sentrale bank en die hoof van die inkomste-owerheid afgedank.
Geen redes is vir die afdankings verskaf nie.
Die afdankings is gedoen terwyl daar vrae is oor Kiir se opvolging en vrese dat ’n burgeroorlog opnuut kan uitbreek.
Suid-Soedan, die wêreld se jongste land, het in 2011 sy onafhanklikheid van Soedan bekom, maar ’n burgeroorlog het vinnig gevolg waarin 400 000 mense na raming dood is tussen 2013 en 2018. – Reuters
2025-11-13 07:41:13
2 dood, 18 beseer toe ‘weghol’-vragmotor deur mark in Suid-Korea ploeg
Twee mense is aan ’n hartaanval dood en 18 beseer toe ’n ligte vragmotor Donderdag in ’n mark in Suid-Korea ingeploeg het en 150 m ver langs ’n gang met stalletjies gery het.
Vroeër is berig die voorval het plaasgevind by ’n mark in Bucheon, ongeveer 20 km wes van die hoofstad, Seoel.
Die vragmotor het blykbaar 28 m agteruit gery voordat dit in die rigting van die buitelugmark versnel het, het ’n amptenaar gesê.
Die bestuurder het ’n skielike toename in versnelling vir die voorval blameer.
Toetse het bevind die bestuurder, wat in sy 60’s is, was nie onder die invloed van alkohol nie. – Reuters
2025-11-13 07:53:52
China soek 2 Taiwannese wat ‘separatistiese sienings aanhits’
Die polisie in China het Donderdag ’n kennisgewing uitgereik en ’n beloning van $35 000 aangebied vir twee Taiwannese smaakmakers op sosiale media wat hulle van “separatisme” beskuldig.
Taiwan sê dit is ’n poging deur China om vrees onder sy burgers te skep.
Taiwan is demokraties, maar China beskou dit as sy grondgebied.
Chinese wetgewing is nie van toepassing in Taiwan nie, wat sy eie regstelsel het.
Volgens China is die twee smaakmakers reeds lank betrokke by die plasing en “aanhitsing van separatistiese sienings”. – Reuters
2025-11-13 08:38:50
Australiese staat onderteken land se 1ste verdrag met inheemse volke
Die staat Victoria in Australië het Donderdag die land se eerste verdrag met inheemse volke onderteken.
Die verdrag, wat op 12 Desember in werking tree, bied ’n formele verskoning aan Australië se inheemse gemeenskap en stig ’n permanente verteenwoordigende liggaam om advies aan die Victoriaanse regering te gee.
“Wanneer mense ’n werklike sê het oor die dinge wat hul lewe, gesondheidsorg, behuising, onderwys en die uitleef van hul kultuur beïnvloed, word hul uitkomste verbeter en word ons staat regverdiger,” het Jacinta Allan, premier van Victoria, gesê. – Reuters
2025-11-13 09:01:07
Voorbehoedmiddels van miljoene dollar bestem vir arm lande onbruikbaar
Voorbehoedmiddels van miljoene dollar wat deur die VSA gekoop is en in België gehou is op pad na armer lande, kan nie meer gebruik word nie, sê die owerhede in België.
Die voorbehoedmiddels is deur die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAid) onder Joe Biden, voormalige Amerikaanse president, aangekoop vir vroue in sommige van die wêreld se armste lande, veral in Afrika suid van die Sahara.
Die agentskap is tot niet gemaak nadat pres. Donald Trump na die Withuis teruggekeer en geëis het dat die voorrade vernietig word.
Twintig van die 24 vragmotors vol pille, inspuitings en ander middels vir voorbehoeding is nie behoorlik gestoor nie en kan nie meer gebruik word nie. – AFP
2025-11-13 09:45:53
Nuwe middel teen malaria kan weerstandigheid die hoof bied
’n Nuwe middel teen malaria wat deur die maatskappy Novartis ontwikkel is, is net so effektief soos bestaande behandelings.
Die nuwe middel kan help om toenemende weerstandigheid teen middels die hoof te bied, het die maatskappy Woensdag gesê met die bekendstelling van die finale stadium van die proefresultate.
Die middel is ontwikkel saam met Medicines for Malaria Venture, ’n organisasie sonder winsbejag.
Dit was meer as 97% effektief in die behandeling van malaria onder 1 688 volwassenes en kinders op 34 plekke in 12 Afrikalande in ’n derde fase van die proefneming. – Reuters
2025-11-13 10:04:02
DoJ stel regsmening op wat militêre personeel weens aanvalle op ‘dwelmbote’ beskerm
Die departement van justisie (DoJ) het ’n geklassifiseerde regsmening opgestel wat dit duidelik maak dat Amerikaanse militêre personeel wat betrokke is by aanvalle teen bote wat na bewering dwelms smokkel, immuun is teen vervolging.
Dit is volgens drie bronne wat met Reuters gepraat het.
Die Amerikaanse weermag het sedert vroeg September minstens 19 aanvalle in die Karibiese Eilande en langs die kus van die Stille Oseaan by Latyns-Amerika uitgevoer. Minstens 76 mense is dood.
Regsmenings om troepe te beskerm wat bevele gehoorsaam, is nie ongewoon nie. – Reuters
2025-11-13 10:16:12
Kremlin herhaal bereidwilligheid vir politieke, diplomatieke oplossing vir oorlog
Die Kremlin sê Oekraïne sal die “een of ander tyd” met Rusland moet onderhandel.
Rusland beskuldig Oekraïne daarvan dat dit weier om aan vredesgesprekke deel te neem.
Oekraïne sê Rusland se voorwaardes om die oorlog te beëindig is onaanvaarbaar en gelykstaande aan ’n versoek dat hulle moet oorgee.
Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, het aan verslaggewers gesê Rusland bly oop bly vir ’n politieke en diplomatieke skikking en wil vrede hê. As dit nie gebeur nie, sal Rusland voortgaan om sy eie veiligheid te beskerm. – Reuters
2025-11-13 10:33:34
Kardashian se Skims nou $5 mjd. werd
Kim Kardashian, realiteitster en entrepreneur, sê Skims, die vormklere-handelsmerk waarvan sy die medestigter is, word nou op $5 miljard gewaardeer nadat $225 miljoen se nuwe finansiering ingesamel is.
Die maatskappy beplan om die geld van beleggers, insluitend die bekende beleggingsbank Goldman Sachs, te gebruik om meer winkels oop te maak en wêreldwyd uit te brei.
Die handelsmerk is in 2019 gestig. – BBC

Kim Kardashian in Skims-klere op ’n geleentheid in New York op 24 September vanjaar. Foto: Getty Images/Skims
2025-11-13 10:51:01
‘Afgaanse burgers agter 2 bomaanvalle in Pakistan’
Afgaanse burgers het vandeesweek twee selfmoordbomaanvalle in Pakistan uitgevoer, het ’n regeringsamptenaar Donderdag in die parlement gesê.
Daar was geen onmiddellike reaksie van Afganistan nie.
’n Man het homself Dinsdag naby ’n polisiepatrollie buite ’n hof in die hoofstad, Islamabad, opgeblaas. Twaalf mense is dood en 27 beseer.
Nog ’n aanvaller het Maandag met ’n voertuig vol plofstof in ’n heining van ’n militêre skool in die distrik Waziristan ingeploeg. Drie mense is dood. – Reuters
2025-11-13 11:14:11
EU ondersoek Google
Die Europese Unie (EU) het Donderdag ’n nuwe ondersoek na Google van stapel gestuur oor vermoedens dat die Amerikaanse tegnologiereus nuusagentskappe in soekresultate beïnvloed.
Die Europese Kommissie sê Google degradeer media-uitgewers se webwerwe en inhoud in soekresultate wanneer hulle inhoud van kommersiële vennote insluit, soos geborgde redaksionele stukke. “Ons is bekommerd dat Google se beleid nie toelaat dat nuusuitgewers op ’n billike, redelike en nie-diskriminerende wyse in hul soekresultate behandel word nie,” sê Teresa Ribera, EU-mededingingshoof.
“Ons sal ondersoek instel om te verseker dat nuusuitgewers nie belangrike inkomste verloor in ’n moeilike tyd vir die bedryf nie,” sê sy. – AFP
2025-11-13 11:20:04
Duitsers vind wilde vorm van poliovirus
Duitse owerhede het Donderdag die noordelike stad Hamburg geïdentifiseer as die plek waar ’n rioolmonster gevind is wat die wilde vorm van die poliovirus bevat.
’n Taakmag is intussen op die been gebring om nog monsters van die virus te neem. Die land se hoof- openbare gesondheidsliggaam, die Robert Koch-instituut, of RKI, sê ’n afvalwatertoets was positief vir die wilde poliovirus.
Dit is ’n terugslag vir pogings om die wêreld van die dodelike siekte te bevry.
Dit is meer as 30 jaar gelede dat die laaste gevalle van wilde poliovirusinfeksies by mense in Duitsland aangemeld is. – Reuters
2025-11-13 11:32:06
Merz dring daarop aan dat Zelenski korrupsie vasvat
Duitsland verwag dat Oekraïne veel meer sal doen om korrupsie te beveg, sê Friedrich Merz, Duitse bondskanselier.
Die Oekraïense regering moet "anti-korrupsiemaatreëls en verdere hervormings bevorder, veral op die gebied van die oppergesag van die reg", het Merz in 'n telefoonoproep met pres. Wolodimir Zelenski gesê.
Zelenski moes Woensdag sy ministers van energie en justisie afdank oor 'n reuse-geldwasseryskema in die energiesektor. Duitsland is "bekommerd" oor die huidige skandaal, veral omdat "dit 'n sektor is wat beduidende steun van Duitsland ontvang”, het Stefan Kornelius, Merz se woordvoerder, Donderdag aan joernaliste gesê. – AFP

Friedrich Merz (regs), Duitse bondskanselier, en pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne staan sy aan sy by 'n vorige ontmoeting in Mei vanjaar in Berlyn, Duitsland.
Foto: Getty Images
2025-11-13 12:07:05
Navorsers: Hitler se ongemak met vroue dalk geneties
Navorsing toon nou dat Adolf Hitler waarskynlik aan Kallmann-sindroom gely het, ’n seldsame genetiese siekte wat tot ’n klein geslagsorgaan kan lei.
Hierdie bevinding volg ná DNS-toetse op bloed wat gekry is op materiaal waarop Hitler homself in 1945 geskiet het. Die navorsing wys ook dat Hitler nie Joodse voorouers gehad het nie en verwerp mites oor sy afkoms.
Volgens kenners in ’n nuwe dokumentêr, Hitler’s DNA: Blueprint of a Dictator, kan Kallmann-sindroom moontlik verduidelik waarom die Nazi-diktator ongemaklik met vroue was en dalk nooit intieme verhoudings gehad het nie.
Die toetse toon verder dat Hitler ’n baie hoë genetiese risiko vir outisme, skisofrenie en bipolêre versteuring gehad het. Kenners benadruk egter dat geen siekte sy gruwelike besluite of beleid kan regverdig nie. Meer as 50 miljoen mense is in die Tweede Wêreldoorlog dood. – AFP

Adolf Hitler, destydse bondskanselier van Duitsland, word in 1933 deur ’n skare in Neurenberg, Duitsland, verwelkom. Foto: Hulton-argiewe via Getty Images
2025-11-13 12:22:53
Charles vier verjaarsdag met besoek aan Wallis
Brittanje se koning Charles sal Vrydag sy 77ste verjaardag vier met ’n reis na Wallis, waar hy kan terugdink aan ’n jaar van persoonlike suksesse wat dikwels oorskadu is deur familievetes, die skandaal van sy jonger broer Andrew en sy eie stryd teen kanker.
Volgens Robert Hardman, koninklike biograaf, het die monarg die afgelope jaar uitgeblink in sy behendige hantering van pres. Donald Trump se besoek aan Brittanje en sy simboliese vereniging van die Kerk van Engeland en die Rooms-Katolieke Kerk.
Maar soos altyd werp interne familiekwessies – soos Charles se vervreemding van prins Harry, sy jongste seun, en Andrew, sy jonger broer, weens sy bande met die oorlede veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein – ’n skaduwee oor die suksesse, sê Hardman. – Reuters
2025-11-13 12:24:34
Navo hou herfsoefening in Roemenië

Twee Puma-helikopters neem deel aan 'n militêre opleidingsoefening deur die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie in Cincu, Roemenië. Die oefening het meer as 5 000 troepe van 10 geallieerde nasies betrek. Foto: Bloomberg via Getty Images
2025-11-13 12:32:21
Hamas, Islamitiese Djihad sê hulle sal gyselaar se oorskot oorhandig
Die gewapende vleuels van die Palestynse militante groepe Hamas en die Islamitiese Djihad het Donderdag gesê hulle gaan die oorskot van 'n Israeliese gyselaar om 20:00 plaaslike tyd (18:00 Greenwich-tyd) oorhandig.
Die Islamitiese Djihad sê die oorskot is in die suidelike stad Chan Joenis in die Gasastrook gevind. Ingevolge die skietstilstand in Oktober het Hamas reeds 20 gyselaars wat in die Gasastrook aangehou is, vrygelaat in ruil vir byna 2 000 Palestynse gevangenes en oorlogtydse gevangenes wat deur Israel aangehou is.
Die ooreenkoms maak ook voorsiening vir die terugbesorging van die oorskot van 28 gyselaars in ruil vir die oorskot van 360 militante. – Reuters
2025-11-13 13:08:15
Soedan: RSF beweeg ooswaarts in nuwe eskalasie van oorlog
Die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) in Soedan het sy fokus ooswaarts verskuif nadat dit verlede maand sy greep oor Darfoer gekonsolideer het, geweld weer aangevuur en hommeltuigaanvalle oor die land se olieproduserende suidelike gebiede van stapel gestuur het.
Hommeltuigaanvalle en nuwe ontplooiings van soldate en wapens deur die RSF sowel as die Soedanse weermag dui daarop dat albei kante nou hul pogings op Kordofan fokus, ’n streek wat uit drie state bestaan en wat dien as ’n buffer tussen die RSF se westelike vestings in Darfoer en die state in die ooste wat deur die weermag beheer word.
Die RSF het verlede week ’n skietstilstandvoorstel van die VSA aanvaar ná internasionale verontwaardiging oor gerugte dat dit groot groepe burgerlikes doodgemaak het toe dit El Fasjer, die weermag se laaste beduidende vesting in Darfoer, oorgeneem het. – Reuters
2025-11-13 13:19:59
Musici vra vir optrede teen Britse kaartjieverkopers
Musieksterre het kragte saamgesnoer om die Britse regering te versoek om ’n manifesbelofte na te kom om aanhangers te beskerm teen handelaars wat die pryse van kaartjies vir hul konserte opjaag.
Coldplay, Dua Lipa, Radiohead, Sam Fender en Iron Maiden is onder tientalle kunstenaars wat hul name by ’n gesamentlike verklaring gevoeg het waarin hulle vra dat ’n nuwe wet, wat herverkooppryse beperk, dringend ingestel word.
Die musieksterre sê sulke wetgewing is nodig omdat sommige handelaars hul aanhangers uitbuit deur kaartjies vir hul vertonings teen hemelhoë pryse te verkoop. – AFP

Dua Lipa tree op ten tyde van haar 'Radical Optimism'-toer by die Wembley-stadion in Junie in Londen, Engeland.
Foto: Getty Images
2025-11-13 13:29:26
Macron sê ‘pyn duur voort’ dekade ná aanvalle in Parys
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk sê “die pyn duur voort” terwyl Frankryk die 10de herdenking hou van die 2015-aanvalle waartydens 130 mense in en om Parys dood is.
“Die pyn duur voort. In solidariteit, vir die lewens wat verloor is, die gewondes, die families en geliefdes – Frankryk onthou,” het Macron Donderdag in ’n plasing op X geskryf.
Frankryk is op 13 November 2015 deur ’n reeks gekoördineerde terreuraanvalle getref. Gewapende aanvallers en selfmoordbomaanvallers het verskeie plekke in Parys geteiken, insluitend ’n stadion, restaurante en ’n konsertsaal in een van die dodelikste aanvalle op Europese bodem sedert die Tweede Wêreldoorlog. – AFP
2025-11-13 13:37:18
Franse herdenk terreuraanvalle in Parys

Anne Hidalgo, burgemeester van Parys, en pres. Emmanuel Macron bring hulde aan slagoffers in Parys met die herdenking van die terreuraanvalle ’n dekade gelede op 13 November 2015 waarin 130 burgerlikes dood is. Foto: Reuters
2025-11-13 14:00:57
Tweederdes van vroue in Britse weermag geteister
Tweederdes van vroue in die Britse weermag het aangemeld dat hulle in die afgelope jaar seksuele teistering ervaar het, volgens ’n opname wat Donderdag uitgereik is.
Die regering het gesê hierdie bevindinge is “heeltemal onaanvaarbaar”.
Brittanje se eerste weermagwye opname het bevind dat 67% van vroulike personeel algemene teistergedrag ervaar het, soos onbehoorlike grappies of opmerkings, terwyl 21% geteikende gedrag ervaar het, insluitend ongewenste aanraking of seksuele toenadering.
Onder mans het 32% algemene teistergedrag ervaar, en 6% geteikende voorvalle. – Reuters
2025-11-13 14:25:42
Duitsland gaan militêre diens voorlopig nog vrywillig hou
Duitsland se koalisieregering het ’n nuwe model vir vrywillige militêre diens goedgekeur, het politici Donderdag gesê ná weke se gestry oor of daar ’n verpligte komponent moet wees.
Volgens die plan sal alle 18-jarige mans van volgende jaar af ’n vraelys moet invul oor of hulle bereid is om te dien, en ’n fisieke toets vir die weermag moet ondergaan.
Niemand sal egter gedwing word om by die Bundeswehr aan te sluit nie, het Boris Pistorius, minister van verdediging, gesê.
Hy het eerder gepleit vir ’n veldtog om militêre diens aanlokliker te maak om meer mans en vroue te werf. – AFP
2025-11-13 14:46:22
Goed vir die siel

’n Man beoefen Donderdag tai chi in ’n park in Beijing, China. Foto: AFP
2025-11-13 15:01:42
Pakistan ontplooi weermag om Sri Lanka se krieketspelers te beskerm
Pakistan het sy weermag en paramilitêre magte ontplooi om Sri Lanka se krieketspan te beskerm ná ’n dodelike selfmoordbomaanval in Islamabad vroeër die week, het die minister van binnelandse sake Donderdag gesê.
Die Sri Lankaanse Krieketraad het Woensdag gesê verskeie spelers het versoek om huis toe te keer ná die bomaanval. Die Sri Lankaanse president het gister persoonlik met die span gepraat en hulle aangemoedig om aan te bly.
Die krieketstadion en die hotel waar die Sri Lankaanse span tuisgaan, is albei minder as 10 km van die plek waar die bomaanval plaasgevind het. – Reuters
2025-11-13 15:28:24
Bejaarde egpaar sterf in Portugal toe vloedwater hulle in huis vaskeer
’n Bejaarde egpaar van in hul 80’s is Donderdagoggend dood aangetref nadat swaar reën oornag hul huis oorstroom het in ’n gebied suid van Lissabon wat deur die storm Claudia geraak is, het Portugese reddingswerkers gesê.
Die Portugese media het berig dat die egpaar blykbaar nie vinnig genoeg kon padgee om te voorkom dat hulle deur die vinnig stygende watervlak vasgekeer word nie.
Die storm Claudia bring sedert Woensdag swaar reën en sterk wind in Portugal en die eiland Madeira, wat gepaardgaan met oorstromings, ontwortelde bome en tot 20 000 huise en ander elektrisiteitsgebruikers wat Donderdag sonder krag was. – AFP
2025-11-13 15:52:38
Niemand gaan met ons sukkel nie

Iraniërs besoek vandeesweek ’n uitstalling in Teheran van die land se missiel- en hommeltuigvermoëns. Foto: AFP
2025-11-13 16:06:26
Lyk van nog ’n Israeliese gyslaar vanaand oorhandig
Die gewapende vleuels van Hamas en die Islamitiese Djihad het Donderdag gesê hulle sal 20:00 (SA tyd) die lyk van ’n Israeliese gyselaar oorhandig, hoewel Israel gesê het hulle het geen amptelike kennisgewing daaroor ontvang nie.
Die Islamitiese Djihad, bondgenote van Hamas wat ook gyselaars geneem het in die aanval op 7 Oktober, het gesê die lyk is in Chan Joenis gevind.
Kragtens ’n Oktober-wapenstilstandooreenkoms moet Hamas die oorskot van 28 gyselaars oorhandig. Tot Donderdag is die oorskot van 24 al terugbesorg. – Reuters
2025-11-13 16:28:27
Afrika ervaar ergste cholera-uitbreking in 25 jaar
Afrika word deur die ergste cholera-uitbreking in 25 jaar in die gesig gestaar, het die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) Donderdag gesê, en dit toegeskryf aan brose waterstelsels en konflik.
Die Afrika-CDC sê sowat 300 000 gevalle van cholera en vermeende gevalle van cholera is aangeteken, asook meer as 7 000 sterftes.
Dis ’n toename van meer as 30% in die totale gevalle wat verlede jaar aangeteken is. – Reuters
2025-11-13 16:41:12
Mexikaanse onnies staak oor geld

’n Man skop Donderdag ’n traangashouer ten tyde van ’n onderwyserbetoging by die veiligheidsheining van die Nasionale Paleis in Mexikostad. Onderwysers het Donderdag met ’n staking van 48 uur begin om ’n salarisverhoging te eis. – Foto: AFP
2025-11-13 17:17:43
Oekraïne onder loep oor staatsbedrog, IMF eis hervormings
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gaan binnekort ’n span na Oekraïne stuur om dié land se finansiële behoeftes en ’n moontlike nuwe leningspakket te bespreek, het Julie Kozack, IMF-woordvoerder, Donderdag gesê.
Hierteenoor het Julia Swiridenko, premier van Oekraïne, aangekondig dat alle staatsbeheerde maatskappye geoudit sal word ná bewerings van ’n korrupsieskandaal van $100 miljoen (sowat R1,7 miljard), wat daartoe gelei het dat twee ministers geskors is.
Oekraïne voer tans gesprekke met die IMF oor ’n nuwe vierjaar-leningsooreenkoms om die bestaande $15,5 miljard-program (sowat R263,7 miljard), waarvan $10,6 miljard (sowat R180,3 miljard) reeds ontvang is, te vervang. Die IMF benadruk volgehoue pogings teen korrupsie is ’n voorwaarde vir verdere hulp. – Reuters
2025-11-13 17:26:32
Italië wil sy migrante-plan met Albanië weer instel wat howe vroeër gekeer het
Giorgia Meloni, premier van Italië, het Donderdag belowe om ’n plan weer in te stel om migrante in Albanië aan te hou, ’n inisiatief van haar konserwatiewe regering wat voorheen deur regters gekeer is.
Italië en Albanië het in 2023 ’n protokol onderteken om migrante wat ter see gevind word, na Albanië te neem en hul asielversoeke daar te keur, in die eerste sodanige ooreenkoms tussen ’n Europese Unie (EU)-land en een van buite die blok.
Die plan het byna onmiddellik tot stilstand gekom nadat Italiaanse howe gelas het dat migrante na Italië teruggestuur moet word, met verwysing na probleme met EU-wetgewing. – Reuters
2025-11-13 17:33:05
‘En aan dié kant is...’

’n Toergids lei toeriste deur die Amerikaanse kongresgebou in Washington ’n dag nadat die Amerikaanse regering heropen het ná die langste sluiting tot nog toe. Foto: AFP
2025-11-13 18:00:33
VSA: Vetsug, kinders met spesiale behoeftes rede om visum te weier
Die VSA sal vetsug of kinders met spesiale behoeftes as redes oorweeg om immigrante visums te weier. Dit is die jongste stappe deur pres. Donald Trump se administrasie om buitelanders weg te wys.
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het vroeër vandeesmaand aan ambassades gesê dat hulle toestande soos vetsug in ag moet neem wanneer langtermynvisums uitgereik word. Volgens Rubio is dit op grond daarvan dat vetsug “duur langtermynversorging kan vereis”.
Rubio het ook ambassades gevra om te bepaal of enige afhanklikes “gestremdhede, chroniese mediese toestande of ander spesiale behoeftes het en sorg benodig” in die mate dat die visumaansoeker nie kan werk nie. – AFP
2025-11-13 18:13:20
Voormalige Poolse minister gesoek op 26 aanklagte
Poolse aanklaers het Donderdag die inhegtenisneming van Zbigniew Ziobro, voormalige minister van justisie, versoek op 26 aanklagte, waaronder die onregmatige aanwending van geld wat bedoel was vir slagoffers van misdaad.
Hy het glo onder meer die geld gebruik om spioenasie-sagteware aan te koop. Ziobro, tans in Hongarye, was van 2015 tot 2023 minister in die Poolse regering. Hy is bekend om sy omstrede regshervormings wat tot botsings met die Europese Unie (EU) gelei het.
Hy kan tot 25 jaar tronkstraf opgelê word weens onder meer magsmisbruik en die lei van ’n misdaadorganisasie, bewerings wat hy as “polities gedrewe” verwerp. – AFP
2025-11-13 18:14:56
Dis g’n speelding, hy is dodelik...

’n Soldaat van die Duitse weermag beheer ’n hommeltuig tydens ’n oefening in Ahlen, Duitsland. Foto: Reuters
2025-11-13 19:04:56
Belgiese hof bevind djihadis skuldig aan volksmoord
’n Hof in Brussel het Donderdag ’n Belgiese djihadis wat vermoedelik in ’n lugaanval in 2016 omgekom het, skuldig bevind aan volksmoord teen die Yazidi-minderheid in Irak en Sirië.
Sammy Djedou, ’n vegter van die terreurgroep Isis, is volgens die Amerikaanse departement van verdediging in Raqa, Sirië, dood.
Die Belgiese owerhede het nooit ’n amptelike bevestiging van sy dood ontvang nie en het besluit om hom by verstek te vervolg. Dit was die land se eerste verhoor met betrekking tot misdade teen die Yazidi's. – AFP
2025-11-13 19:29:42
Voëlgriep wis 53 000 olifantrobwyfies by Antartika uit
Die wêreld se grootste robspesie is kritiek uitgedun deur voëlgriep, wat die helfte van alle broeiwyfies op die Suid-Georgië-eiland naby Antarktika uitgewis het, het wetenskaplikes Donderdag gewaarsku.
Volgens die laaste telling in 1995 was Suid-Georgië die tuiste van 54% van alle suidelike olifantrobbe. Nadat voëlgriep Suid-Georgië in 2023 bereik het, het die aantal wyfies met 47% afgeneem, wat ’n verlies van sowat 53 000 robbe beteken, volgens die wetenskaplikes. – AFP
2025-11-13 19:49:31
Die oggendstond het goud in die mond

’n Vliegtuig Donderdag met sonsopkoms oor Buenos Aires, Argentinië. Foto: AFP
2025-11-14 03:58:46
Trump-administrasie keur moontlike militêre verkope aan Taiwan goed
Amerika het die moontlike verkoop van vegvliegtuig-onderdele van $330 miljoen aan Taiwan goedgekeur, het die Pentagon Donderdag laat gesê.
Dit is die eerste sodanige potensiële transaksie sedert pres. Donald Trump in Januarie die amp ingeneem het.
China dring daarop aan dat Taiwan, wat demokraties regeer word, sy grondgebied is en het nie die gebruik van geweld om beheer van die eiland te neem, uitgesluit nie.
“Die voorgestelde verkope sal die ontvanger se vermoë verbeter om huidige en toekomstige bedreigings die hoof te bied...” het die Pentagon gesê. – Reuters
2025-11-14 04:11:11
11 beseer in Russiese aanvalle op Kijif
Russiese magte het Vrydag vroegoggend ’n massiewe hommeltuig- en missielaanval op Kijif geloods, wat woongeboue getref het en ontploffings en brande in distrikte oor die Oekraïense hoofstad heen veroorsaak het.
Elf mense is beseer, sê Vitali Klitschko, burgemeester van Kijif.
Vier van die beseerdes word in die hospitaal behandel, insluitend ’n swanger vrou en een persoon wat in ’n baie ernstige toestand is.
Amptenare sê vallende puin en brande het hoë woonstelgeboue, ’n skool, ’n mediese inrigting en administratiewe geboue beskadig. – Reuters
2025-11-14 04:23:21
Amerikaanse Katolieke biskoppe veroordeel Trump se immigrasiebeleid
Amerika se Konferensie van Katolieke Biskoppe het ’n seldsame veroordeling van pres. Donald Trump se onderdrukking van immigrasie uitgereik en gepleit vir “betekenisvolle immigrasiehervorming”.
“Ons is bekommerd oor dreigemente teen huise van aanbidding en die spesiale aard van hospitale en skole,” het die biskoppe in ’n buitengewone boodskap gesê.
Dit is die eerste sodanige boodskap in 12 jaar.
Die departement van binnelandse veiligheid, wat toesig hou oor immigrasie, het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters

’n Vrou staan met Amerikaanse en Mexikaanse vlae tydens ’n betoging op 22 Oktober 2025 in New York-stad teen die inhegtenisnemings van migrante. Foto: Getty Images
2025-11-14 04:56:32
Israel ontvang oorskot van gyselaar, nog 3 oor in Gasastrook
Israel het die oorskot van die gyselaar Meny Godard (73) ontvang.
Hamas het die oorskot aan die Rooi Kruis in die Gasastrook oorhandig, het die kantoor van die premier Donderdag gesê.
Godard het op ’n kibboets naby die Gasastrook gewoon en is tydens Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023 dood.
Sy lyk is na die Gasastrook geneem.
Hy is op 8 Desember 2023 amptelik dood verklaar.
Die oorskot van nog drie gyselaars is steeds in die Gasastrook. – Reuters
2025-11-14 05:14:42
2 dood, 21 vermis ná grondstorting in Indonesië
Twee mense is dood en minstens 21 word vermis ná ’n grondverskuiwing in Indonesië.
Die grondstorting het Donderdagaand drie dorpe in die distrik Cilacap in Sentraal-Java getref en huise begrawe en beskadig.
Altesaam 23 mense is teen Vrydagoggend gered, sê Abdul Muhari, woordvoerder van die nasionale rampagentskap.
’n Soek- en-reddingsoperasie is van stapel gestuur om die vermiste slagoffers te vind. – AFP
2025-11-14 05:29:13
Israeliese soldate maak 2 ‘terroriste’ dood in besette Wesoewer
Israeliese soldate het twee 15-jariges in die besette Wesoewer doodgemaak, het die Palestynse Owerheid Donderdag gesê.
Die Israeliese weermag (IDF) sê sy soldate het “twee terroriste geëlimineer wat op pad was om ’n terreuraanval uit te voer”.
Die IDF het geen verdere besonderhede verskaf nie.
Setlaar-geweld het in die laaste paar weke oor die Wesoewer heen toegeneem, wat internasionale veroordeling en selfs seldsame kritiek van binne die Israeliese weermag en regering ontlok het. – AFP
2025-11-14 05:40:28
Turkse vlieënier dood toe vliegtuig in Kroasië neerstort
’n Vlieënier is dood toe ’n Turkse brandbestrydingsvliegtuig Donderdag in Kroasië neergestort het, het Turkye se minister van bosbou gesê.
Die ongeluk het plaasgevind toe twee Turkse brandbestrydingsvliegtuie wou terugkeer huis toe, maar kontak met lugverkeerbeheer verloor het.
Die een vliegtuig het daarin geslaag om by ’n lughawe in Kroasië te land.
Die wrak van die ander vliegtuig is naby die dorp Senj in Kroasië gevind.
Die ongeluk kom twee dae nadat 20 mense dood is toe ’n Turkse militêre vliegtuig neergestort het. – AFP
2025-11-14 05:56:07
Byna tyd vir vreemde dinge

Die Amerikaanse akteur Noah Schnapp en die Britse aktrise Millie Bobby Brown Donderdagaand by ’n spesiale vertoning van die gewilde Netflix-reeks Stranger Things by die Leicester-plein in Sentraal-Londen, Engeland. Die vyfde en finale seisoen sal vanaf 27 November op Netflix in Suid-Afrika beskikbaar wees en sal in drie dele uitgereik word. Foto: AFP
2025-11-14 06:39:05
Nog 4 dood in Amerikaanse aanvalle op bote wat glo dwelms smokkel
Amerika het Maandag sy 20ste aanval uitgevoer op ’n boot wat na bewering deur dwelmsmokkelaars gebruik is, het ’n Pentagon-amptenaar Donderdag gesê.
"Die aanval het in die Karibiese Eilande plaasgevind en vier narko-terroriste is dood. Niemand het oorleef nie."
Pres. Donald Trump se administrasie voer ’n militêre veldtog in die Karibiese See en in die ooste van die Stille Oseaan, en die land se vloot en lugmag is ontplooi in ’n operasie teen dwelmsmokkelary.
Minstens 79 mense is dood sedert die operasie in September begin het. – Reuters
2025-11-14 06:56:17
Kanada stuit ‘potensieel dodelike bedreiging’ deur Iran
Kanada se binnelandse spioenasie-agentskap het vanjaar potensieel dodelike bedreigings deur Iran teen mense wat dit as vyande beskou, gestuit.
Dan Rogers, direkteur van die Kanadese veiligheidsintelligensiediens, se kommentaar was die eerste bevestiging dat die agentskap ingegryp het om kritici van Iran wat in Kanada gesetel is, teen Iran te beskerm.
Hulle moes egter oor die afgelope jaar optrede van Irannese intelligensiedienste en hul gevolmagtigdes teenwerk wat individue geteiken het wat hulle as bedreigings vir hul regime beskou, volgens Rogers. – Reuters
2025-11-14 07:38:34
4 dood in Russiese aanvalle op Oekraïne
Vier mense is dood in ’n reeks Russiese aanvalle oornag op Oekraïne, het pres. Wolodimir Zelenski Vrydag gesê.
“Ongeveer 430 hommeltuie en 18 missiele is gebruik.”
Zelenski het Rusland beskuldig van ’n “doelbewuste berekende aanval wat daarop gemik was om die maksimum skade aan mense en burgerlike infrastruktuur te veroorsaak”.
Vroeër is berig 11 mense is beseer toe Russiese magte Vrydag vroegoggend aanvalle op Kijif geloods het. – AFP

Rook styg Vrydag uit ’n beskadigde woongebou in Kijif, Oekraïne. Foto: AFP
2025-11-14 07:47:45
5 Chinese toeriste in ongeluk in Bali dood
Minstens vyf Chinese toeriste is Vrydag dood op die Indonesiese oord-eiland Bali nadat hul minibus in ’n vlak kloof beland het.
Agt Chinese burgers het ook geringe beserings opgedoen.
Volgens Widwan Sutadi, ’n polisiehoof, kon die bestuurder nie die voertuig beheer nie.
Hy het dit na links geswaai om teen ’n boom vas te ry in ’n poging om ’n botsing met ’n ander voertuig te vermy. “Maar die minibus is afgeslinger en het in die vlak kloof beland,” het hy gesê. – Reuters
2025-11-14 08:36:22
Spesiale sitting van VN oor situasie in Soedannese stad
’n Spesiale sitting oor die situasie in die stad al-Fasjir, Soedan, het Vrydag by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad in Genève begin.
Dit is na aanleiding van ernstige kommer oor massamoorde nadat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) die stad op 26 Oktober oorgeneem het. Lidlande van die raad sal ’n konsepresolusie oorweeg wat die VN versoek om ’n feitesending na die onlangse oortredings aan te stel.
Die oortredings is na bewering deur die RSF en sy bondgenote in al-Fasjir gepleeg. – Reuters
2025-11-14 09:13:40
Situasie in Soedannese stad ‘skandvlek’ op wêreld
Die Verenigde Nasies (VN) sê die bloedvergieting in die stad El-Fasjer in Soedan is ’n “skandvlek” op die wêreld, wat nie daarin geslaag het om dit te stop nie.
Tienduisende mense is dood in die burgeroorlog tussen die weermag en die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF). Byna 12 miljoen mense is ook ontheem.
Die geweld het oor die laaste paar weke drasties toegeneem, toe die RSF die stad op 26 Oktober oorgeneem het.
“Ons het herhaaldelik gewaarsku oor die beleg waaronder mense gedwing is om dierevoer en grondboontjiedoppe te eet,” het Volker Türk, menseregtehoof van die VN, gesê. – AFP
2025-11-14 10:13:26
20 000 troepe van Indonesië opgelei om in Gasastrook te help met gesondheid, bouwerk
Indonesië het tot 20 000 troepe opgelei om gesondheids- en konstruksieverwante take te verrig tydens ’n beplande vredesoperasie in die Gasastrook, het die minister van verdediging Vrydag gesê.
Indonesië is een van die lande waarmee Amerika planne bespreek het vir ’n multinasionale stabiliseringsmag in die Gasastrook.
Ingevolge die konsep sou die mag gemagtig wees om “alle nodige maatreëls te gebruik” om onder meer die Gasastrook te demilitariseer, sy grense te beveilig en burgerlikes te beskerm. – Reuters
2025-11-14 10:25:16
3 gesinslede dood nadat hulle straatkos in Turkye eet
Twee kinders en hul ma is dood nadat hulle straatkos by ’n gewilde toeristeattraksie in Istanbul, Turkye, geëet het, sê amptenare.
Die pa veg om sy lewe in ’n hospitaal.
Die gesin het na verneem word Woensdag siek geword nadat hulle verskeie gewilde straatkosgeregte by ’n restaurant geëet het.
Hulle is hospitaal toe geneem, waar die kinders, onderskeidelik drie en ses jaar oud, dood is.
Die ma en pa is in die hoësorgeenheid behandel, waar die ma dood is. – AFP
2025-11-14 10:56:31
2de broer van Franse teen-dwelmaktivis vermoor
’n Gewapende man op ’n motorfiets het Donderdagmiddag die jongste broer (20) van Amine Kessaci (22), ’n prominente teen-dwelmaktivis in die stad Marseille in Suid-Frankryk, doodgeskiet.
Die moord is ’n moontlike waarskuwing oor die aktivis se veldtog, het ’n aanklaer Vrydag gesê.
Marseille sukkel om dwelmmisdaad te beveg.
Kessaci het ’n aktivis en lid van die Groen-party geword nadat hy ’n ouer broer in 'n vete tussen dwelmsmokkelaars in 2020 verloor het. Sy verkoolde lyk is in ’n motor gevind. – AFP
2025-11-14 11:13:15
Amerika gaan voort met omstrede teen-dwelmoperasies
Ten spyte van wêreldwye kritiek en oproepe tot ondersoek, wys alles daarop dat die VSA nie vinnig sy omstrede aanvalle op vermeende dwelmsmouse in die Karibiese See gaan staak nie.
Die Amerikaanse regering hou vol dat dié optredes binne internasionale reg val, al het die Verenigde Nasies (VN) se menseregthoof, Volker Türk, gewaarsku dat daar “sterk getuienis” is dat dit teregstellings kan wees.
Sedert September is minstens 79 mense dood in 20 sulke operasies. Die Pentagon het Donderdag 'n nuwe fase van sy sogenaamde “Operation Southern Spear” aangekondig.
Die VSA se volgehoue teenwoordigheid in die streek, en die aankoms van 'n vliegdekskip aan die kus van Latyns-Amerika, onderstreep sy vaste voorneme om dwelmhandelaars onverbiddelik te bly teiken – ondanks toenemende spanning met lande soos Venezuela en groeiende internasionale kommer. – AFP
2025-11-14 11:25:44
Rusland sê Noord-Koreaanse soldate speel sleutelrol in ontmyning van Koersk
Noord-Koreaanse soldate wat Rusland gehelp het om 'n groot Oekraïense inval in die westelike Koersk-streek af te weer, speel nou 'n belangrike rol in die skoonmaak van die gebied van myne, sê die Russiese departement van verdediging.Ingevolge 'n wedersydse verdedigingspakt tussen die twee lande het Noord-Korea verlede jaar sowat 14 000 soldate gestuur om saam met Rusland in Koersk te veg.
Meer as 6 000 van die Noord-Koreaanse soldate het op die slagveld gesterf, volgens Suid-Koreaanse, Oekraïense en Westerse bronne. Oekraïense magte het in Augustus 2024 oor die grens gebars en maande lank aansienlike stukke grondgebied behou.
Pres. Wladimir Poetin het in April gesê dat Rusland uiteindelik daarin kon slaag om hulle uit te dryf met die hulp van die Noord-Koreaanse soldate. – Reuters
2025-11-14 12:05:17
Ivoorkus beveilig grens soos wat vlugtelinge toeneem
Die Ivoorkus het aangekondig dat hy die sekuriteit langs sy noordelike grens verskerp weens ’n ongewone toestroming van vlugtelinge uit die noorde.
Hierdie toestroming word toegeskryf aan aanvalle deur gewapende groepe op burgerlikes in die suide van Mali, waar ’n jihadistiese opstand woed.
Die Ivoorkus se nasionale veiligheidsraad het ná ’n vergadering sy weermag opdrag gegee om die sekuriteit in die streek op te skerp.
Die owerhede werk ook daaraan om vlugtelinge te registreer. Mali, ’n land sonder seegrense, word toenemend geteister deur jihadiste wat aan Al-Kaïda verbonde is. Hierdie groepe het brandstoftekorte in die hoofstad veroorsaak en skole gedwing om tydelik te sluit.
Die Jama’at Nusrat al-Islam wal-Muslimin (JNIM)-groep word beskryf as een van die groepe wat sy invloed tot naby die Ivoorkus uitbrei. – Reuters
2025-11-14 12:13:34
Skrywer wat begenadig is, bly tot minstens volgende week in Berlyn
Die Frans-Algeriese skrywer Boualem Sansal (81) sal vermoedelik tot minstens vroeg volgende week in Berlyn aanbly, het ’n bron naby die saak Vrydag aan AFP bevestig. Sansal het Woensdag vanaf Frankryk in Duitsland aangekom vir mediese sorg nadat Algerië sy voortydige vrylating op humanitêre gronde toegestaan het.
Die bron beskryf hom as “eufories” oor sy kwytskelding en sê dit gaan goed met hom onder die omstandighede. Sansal is in Maart tot vyf jaar tronkstraf gevonnis weens uitsprake wat volgens Algerië sy territoriale integriteit ondermyn het.
Hy ly aan prostaatkanker en is onmiddellik ná sy aankoms na Berlyn se militêre hospitaal geneem. Hoewel Franse media berig het dat hy dalk reeds Vrydag of Saterdag na Frankryk sou kon reis, het die bron in Berlyn dit ontken en gesê hy bly waarskynlik tot volgende week in die hospitaal vir verdere toetse.
Sansal is ’n bekroonde skrywer en 'n uitgesproke kritikus van Islamiste en die Algeriese regering. – AFP
2025-11-14 12:19:54
In verwondering...

'n Aanhanger neem 'n selfie saam met die Amerikaanse akteur George Clooney voor 'n hoflikheidsbesoek aan die Filippynse president, Ferdinand "Bongbong" Marcos jr., in die Malacanang-paleis in Manila. Foto: AFP
2025-11-14 12:27:43
Herrie bars los tussen China, Japan oor Taiwan-uitsprake
China het Japan se ambassadeur ontbied nadat die Japanse premier, Sanae Takaichi, gewaarsku het dat aanvalle op Taiwan “die oorlewing van Japan” kan bedreig en ’n militêre reaksie kan ontlok. China sê Takaichi se stellings is “foutief” en eis dat sy dit terugtrek.
China het ook gewaarsku dat inmenging by Taiwan tot ’n “harde teenreaksie” sal lei. Kort daarna het Japan China se ambassadeur ontbied nadat China se konsul-generaal in Osaka in ’n aanlyn plasing gesê het dat Takaichi se “vuil nek” afgekap moet word.
Japan het dié stelling as “uiters onbehoorlik” veroordeel en geëis dat China moet optree, terwyl Takaichi volhou haar beleid teenoor Taiwan bly onveranderd.
Die Japanse regering het intussen die belang van vrede en stabiliteit in die Straat van Taiwan vir beide Japan en die internasionale gemeenskap benadruk. China sê egter hy sal nie Takaichi se uitsprake duld nie. – Reuters
2025-11-14 13:04:32
Hibriede bedreigings ‘kan nie as nuwe normaal aanvaar word’ – EU se Kallas
Die Europese Unie (EU) sal voortgaan om sy verdediging teen sogenaamde “hibriede bedreigings” te versterk, het Kaja Kallas, die EU se buitelandse beleidshoof, Vrydag in Berlyn gesê.
Kallas het die verklaring ná ’n beraad met die verdedigingsministers van Duitsland, Frankryk, Italië, Brittanje en Pole gemaak. Volgens Kallas kan die EU nie sulke bedreigings as “die nuwe normaal” aanvaar nie. Hibriede bedreigings sluit metodes soos kuberaanvalle, vals inligting en ekonomiese druk in, en word dikwels met moderne internasionale konflikte geassosieer.
Om vinniger te kan reageer, wil die Europese Kommissie nou die lidlande se vervoermiddele konsolideer en permitprosesse vereenvoudig sodat troepe en toerusting vinniger oor grense kan beweeg. – Reuters
2025-11-14 13:15:17
Tanzaniese president kondig ondersoek aan na sterftes
Pres. Samia Suluhu Hassan van Tanzanië het Vrydag aangekondig dat ’n kommissie van ondersoek die sterftes wat tydens die onlangse verkiesing voorgekom het, sal ondersoek.
“Ek is diep bedroef oor die gebeure. Ek betuig my meegevoel aan al die families wat geliefdes verloor het,” het sy in haar intreerede aan die parlement gesê nadat sy met 98% van die stemme in ’n betwiste verkiesing op 29 Oktober verkies is.
Honderde betogers en ander mense is dood en ’n onbekende aantal is beseer of aangehou.
“Die regering het die stap geneem om ’n kommissie ondersoek saam te stel om te ondersoek wat gebeur het,” het sy gesê. – AFP
2025-11-14 13:23:25
Britse man pleit skuldig aan terreurplan naby Windsor
’n 20-jarige Brit, Ilyas Akhtar, het Vrydag in Londen se Old Bailey-hof skuld beken aan die beplanning van ’n terreuraanval, die versameling van wapens en komponente vir ’n bom, en brandstigting by ’n kerk in Slough, naby Windsor.
Akhtar het erken dat hy ’n Al-Kaïda-handleiding verkry, messe en lemmetjies gekoop, en ondersoek ingestel het na wapens, gifstowwe en selfgemaakte plofstof. Hy het ook verkenning gedoen by Windsor se Victoria-barakke, die basis van die wagte wat verantwoordelik is vir die beskerming van koninklike paleise.
Hy word aangekla van die voorbereiding van terreurdade, die besit van inligting nuttig vir terreur, brandstigting en die vervaardiging van ’n bom. Akhtar sal in aanhouding bly tot sy verhoor in Oktober volgende jaar. – Reuters
2025-11-14 13:32:35
Slagoffers van Turkse vliegongeluk ter ruste gelê

Turkse soldate in Ankara, Turkye, dra die kiste van hul makkers wat in ’n vliegtuigongeluk gesterf het. ’n Turkse militêre C-130-vragvliegtuig het op 11 November naby die grens tussen Azerbeidjan en Georgië neergestort. Al 20 militêre personeel aan boord het omgekom. Foto: Getty Images
2025-11-14 14:01:24
VN-Mensregteraad wil vergrype in Soedan ondersoek
Die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad het Vrydag aan ondersoekers opdrag gegee om alle persone agter die beweerde gruweldade in die Soedanse stad El-Fasjer te identifiseer en om te verseker dat geregtigheid geskied.
Die raad het ’n resolusie aangeneem wat die VN se onafhanklike feitevindingsending oor Soedan beveel om dringend oortredings van internasionale reg in dié westelike stad te ondersoek, en dit aangemoedig om “waar moontlik” vermeende betrokkenes te identifiseer om te verseker dat hulle “verantwoordbaar gehou word”. – AFP
2025-11-14 14:25:42
Aussie in Singapoer aangekla ná hy Ariana Grande glo bestorm
Singapoerse owerhede het Vrydag ’n Australiese man aangekla nadat hy Ariana Grande glo by die Asiese première van die fliek Wicked: For Good bestorm het.
Johnson Wen (26) het luidens berigte oor ’n versperring gespring en sy arm om ’n geskokte Grande gesit voordat hy op en af gespring en vir die skare gewaai het.
Cynthia Erivo, Grande se medester, het tussenbeide getree voordat veiligheidswagte oorgeneem het.
Wen is Vrydag daarvan aangekla dat hy ’n “openbare oorlas was”. Hy het aangedui hy sal skuld beken. Indien skuldig word Wen deur ’n boete van $1 500 of drie maande tronkstraf, of albei, in die gesig gestaar. – AFP
2025-11-14 14:41:57
Jou mense maak moeilikheid ...

André Corrêa do Lago, president van die COP30-klimaatberaad, hou Vrydag ’n peuter van die Brasiliaanse inheemse Munduruku-stam vas terwyl lede van die Ipereg Ayu-beweging van inheemse stamme die toegang na die lokaal van die beraad in Belem, Brasilië, blokkeer. Die groep eis ’n vergadering met die Brasiliaanse president. Foto: AFP
2025-11-14 15:04:23
Dokters in Engeland begin staak oor geld en poste
Duisende dokters in Engeland het Vrydag met ’n vyfdae-staking begin oor betaling en opleidingsposte. Dit is die 13de staking deur medici sedert Maart 2023.
Wes Streeting, Britse minister van gesondheid, het die staking deur inwonende dokters (voorheen junior dokters genoem) veroordeel en die doktersunie British Medical Association (BMA) daarvan beskuldig dat hulle “konfrontasie bo sorg” kies.
Die BMA eis ’n salarisverhoging van 26% vir inwonende dokters, asook meer opleidingsposte. – AFP
2025-11-14 15:30:36
Pakistan arresteer 4 van Afganistan-groep oor bomaanval
Pakistan het Vrydag gesê hy het vier lede van ’n sel in hegtenis geneem weens die selfmoordbomaanval Dinsdag in Islamabad wat volgens die regering vanuit Afganistan gelei is.
’n Faksie van die Pakistanse Taliban, bekend as die Tehrik-e-Taliban Pakistan (TTP), het verantwoordelikheid aanvaar vir die bomaanval buite hofgeboue waarin 12 mense gesterf het en tientalle gewond is.
Die aangekeerdes is volgens die regering aan die TTP verbonde. – AFP
2025-11-14 15:41:35
‘Talle’ mense sterf in busongeluk in Stockholm
“Talle” mense is dood of beseer nadat ’n bus Vrydag teen ’n bushalte in Sentraal-Stockholm gebots het, het die Sweedse polisie gesê.
Dit is volgens die polisie te vroeg is om te sê wat die oorsaak van die voorval was.
Vyf mense is deur die voorval geraak, het ’n woordvoerder van Stockholm se reddingsdienste gesê. Dis nog nie bekend hoeveel van die vyf het gesterf nie. – Reuters
2025-11-14 15:48:31
Die swembad by die moskee

Kinders speel Vrydag in die water oor ’n oorstroomde pad naby die Tha-It-moskee aan die oewer van die Khao Phraja-rivier aan die buitewyke van Bangkok, Thailand, wat sy walle oorstroom het ná verhoogde afvoer van die Khao Phraja-dam. Foto: Reuters
2025-11-14 16:05:48
Demokrate bevorder ’n ‘Epstein-klug’ – Trump
Pres. Donald Trump het Vrydag beweer dat die druk om besonderhede van Jeffrey Epstein se beweerde seksmisbruik-netwerk te publiseer ’n “klug” is wat deur Demokratiese teenstanders bevorder word.
“Die Demokrate doen alles in hul kwynende mag om die Epstein-klug te bevorder,” het die Republikein op sy Truth Social-platform gesê, en bygevoeg dat Republikeine wat by die poging aansluit om publikasie van die sogenaamde Epstein-lêers te eis “sag en dwaas” is. – AFP
2025-11-14 16:27:06
Trump vra amptelike ondersoek na Epstein-bande met Bill Clinton
Pres. Donald Trump het Vrydag gesê hy vra die departement van justisie om Jeffrey Epstein se beweerde bande met talle prominente Demokratiese figure, onder wie oudpres. Bill Clinton, te ondersoek.
Trump het gesê hy vra ’n ondersoek na “Jeffrey Epstein se betrokkenheid en verhouding met Bill Clinton, Larry Summers (voormalige minister van finansies), Reid Hoffman (stigter van LinkedIn en Demokratiese donateur), J.P. Morgan (bankier), en baie ander mense en instellings”.
Die Republikeinse president se aankondiging op sosiale media kom te midde van toenemende vrae oor sy eie verhouding met sy voormalige vriend en veroordeelde seksmisdadiger Epstein. – AFP
2025-11-14 16:42:15
Hiep-hiep hoera vir die koning!

Koning Charles III van Brittanje skerts Vrydag terwyl hy op ’n trein in Suid-Wallis ry as deel van die amptelike opening van die Suid-Wallis-metro-depot in Taff’s Well. Die boodskap bo sy kop is ’n gelukwensingsboodskap in Wallies vir die koning, wat Vrydag sy 77ste verjaardag gevier het. Foto: AFP
2025-11-14 17:10:33
Oekraïne wil lugverdediging met nuwe hommeltuie versterk
Oekraïne het begin met die massavervaardiging van sy nuwe plaaslik ontwikkelde onderskeppingshommeltuie om sy lugverdediging te versterk, sê die Oekraïense departement van verdediging.
Terwyl die oorlog met Rusland die vierjaar-merk nader, word Oekraïense stede en dorpe ver van die frontlinie byna daagliks deur honderde Russiese hommeltuie aangeval. In die jongste aanval op Oekraïne is 430 hommeltuie gebruik, sê Oekraïense amptenare.
Drie vervaardigers het reeds met die vervaardiging van die hommeltuie begin en nog 11 ander berei voor om vervaardigingslyne op te rig. Die hommeltuie se hoofdoel sal wees om vyandige hommeltuie te onderskep voordat dit teikens bereik. – Reuters
2025-11-14 17:19:59
Talle sterf, erg beseer toe bus in mense by bushalte in Swede vasry
Verskeie mense is Vrydagmiddag in die middestad van Stockholm in Swede dood en ander ernstig beseer toe ’n bus in ’n ry mense by ’n bushalte vasgery het.
Volgens die polisie het die ongeluk in spitstyd plaasgevind en het die nooddienste vinnig gereageer om die vasgekeerde mense te help. Gesondheidsowerhede het bevestig dat twee ernstig beseerde mense na ’n hospitaal gebring is. Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend en die polisie het die busbestuurder in hegtenis geneem.
Ulf Kristersson, premier van Swede, het intussen sy meegevoel op X uitgespreek en gesê sy gedagtes is by die slagoffers en hul familie. Ooggetuies beskryf die toneel as chaos, met mense wat geskree en probeer help het. – AFP
2025-11-14 17:26:04
Ongelukstoneel

’n Onbekende aantal mense is dood en ander is beseer toe ’n bus Vrydag in spitstyd in mense by ’n bushalte in Stockholm, Swede, vasgery het. Foto: AFP
2025-11-14 18:04:38
Chinese man in Londen gevonnis ná reeks gruweldade teen vroue
’n Chinese burger, beskryf as een van Londen se mees berugte seksuele oortreders, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuld beken het op ’n reeks aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en voyeurisme.
Chao Xu (33) het sy universiteits- en professionele netwerke gebruik om vroue te teiken, hul vertroue te wen en dan dwelms aan hulle te gegee voordat hy hulle aangeval het. Die polisie glo daar is moontlik honderde slagoffers in Engeland en China, aangesien geheime kameras en duisende foto’s en video’s op Xu se toestelle gevind is.
Sy misdade het aan die lig gekom toe hy ’n slagoffer by sy huis aangeval en sy die polisie ontbied het. Xu het by die hof in Woolwich skuld beken op die aanklagte. Hy moet minstens 14 jaar van sy lewenslange vonnis uitdien. – Reuters
2025-11-14 18:06:41
Tientalle beeste op skip dood nadat Turkye toegang weier
Minstens 58 beeste is op ’n vragskip dood wat voor die Turkse kus vasgemeer is omdat die owerhede toegang geweier het, sê die Dierewelsynstigting (AWF).
Die groep sê hofdokumente het “kommerwekkende” toestande aan die lig gebring wat vererger het op die Spiridon II, wat sowat 2 900 beeste van Uruguay af gebring het.58 diere is tydens die vaart vanaf Uruguay dood. 40 van die diere het ook geboorte gegee. Die AWF sê dis waarskynlik dat die meeste van die pasgeborenes dood is terwyl hulle in ’n oorvol omheining aangehou is.
Die skip is sedert 21 Oktober naby die westelike hawe van Bandirma nadat hy Uruguay op 19 September verlaat het. Turkse owerhede sê die diere se gesondheidsertifikate bevat teenstrydighede. – AFP
2025-11-14 18:07:32
Epstein se e-posboodskappe onthul netwerk van magtige mense
Die jongste e-posboodskappe van die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein illustreer die buitengewone omvang van sy band met magtige mense, wat wissel van ’n oudraadgewer van pres. Donald Trump tot Brittanje se voormalige prins Andrew.
Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers sal na verwagting volgende week stem om die bekendmaking van bewyse wat wetstoepassers oor die jare heen oor Epstein versamel het, af te dwing – wat die identiteit van mense insluit wat daarvan verdink word dat hulle aan sy beweerde sekshandelnetwerk deelgeneem het.
Die mense wat in die e-posboodskappe genoem word, is onder andere Trump, oudpres. Bill Clinton, Andrew, wat gestroop is van sy titel as prins, Steve Bannon, Trump se destydse raadgewer, Larry Summers, voormalige Amerikaanse minister van finansies, en Kathryn Ruemmler, voormalige raadgewer van oudpres. Barack Obama. – AFP
2025-11-14 18:12:21
Kanonskoot vir koning

Engelse troepe vuur ’n kanon af in Londen om die 77ste verjaardag van koning Charles III te vier. Foto: Getty Images
2025-11-14 19:02:07
Franse kat onder huisarres oor hy buurman steur
’n Franse kat is onder huisarres geplaas nadat ’n buurman gekla het dat hy aanhoudend in sy tuin inspring.
Katliefhebbers is bekommerd dat die hofbevel, wat die gemmerkat genaamd Remi verbied om na buite te gaan, ’n gevaarlike presedent kan skep.
Remi se eienaar, Dominique Valdes, wat in Agde aan die Franse suidkus woon, sê Remi se rondlopery het haar reeds meer as R40 000 in boetes en skadevergoeding aan haar buurman gekos "omdat my kat na bewering verhinder dat hy sy tuin geniet".
Frankryk se dierebeskermingsvereniging vrees dat die uitspraak kan beteken "katte sal aan leibande gehou moet word" om te verhoed dat hulle ronddwaal. – AFP
2025-11-14 19:27:11
Man tronk toe oor diefstal van Banksy-kunswerk
’n Man is Vrydag tot 13 maande tronkstraf gevonnis weens die diefstal van die Britse kunstenaar Banksy se bekende werk "Girl with Balloon" uit ’n galery in Londen.
Larry Fraser (49) is tronk toe gestuur nadat hy skuldig gepleit het op aanklag van inbraak.
Die getekende beperkte-uitgawe-afdruk was die enigste een wat uit die uitstalling van 13 Banksy-werke gesteel is. Die kunswerk is op $355 200 (sowat R6 miljoen) gewaardeer.
Fraser is dae ná die inbraak in September 2024 in hegtenis geneem en die kunswerk is kort daarna teruggevind. – AFP

’n Afdruk van die kunstenaar Banksy se 'Girl with Balloon'. Foto: AFP
2025-11-14 19:46:18
En daar was lig

Hierdie skermgreep van ’n video op sosiale media wys die noorderlig, ook genoem aurora borealis, vandeesweek oor Sturgis, Suid-Dakota, Amerika. Foto: Reuters
2025-11-14 20:01:33
'Tinder Swindler' Simon Leviev in Georgië vrygelaat
Die Israeliese bedrieër Simon Leviev, wat bekend geword het vanweë die Netflix-dokumentêr The Tinder Swindler, is in Georgië vrygelaat ná twee maande in aanhouding terwyl daar op sy uitlewering na Duitsland gewag is, het sy prokureur Vrydag gesê.
Leviev (35), wie se regte naam Shimon Yehuda Hayut is, het berugtheid verwerf met ’n reeks romanse-swendelarye en finansiële misdade.
Hy is op 15 September in Georgië in hegtenis geneem op ’n sogenaamde rooi waarskuwing van Interpol, wat deur Duitsland versoek is.
Leviev is "sonder enige voorwaardes" vrygelaat nadat Duitsland sy uitleweringsversoek teruggetrek het, het sy prokureur gesê. Dit is nie bekend hoekom dit teruggetrek is nie. – AFP
2025-11-14 20:17:41
3 sterf toe Stockholm-bus in mense by bushalte vasry
Drie mense is dood en nog drie beseer toe ’n dubbeldekkerbus Vrydag in spitstyd in ’n ry mense by ’n bushalte vasgery het, het die polisie gesê.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Die polisie het vroeër gesê die busbestuurder is in hegtenis geneem en dat aanklagte van manslag ondersoek word. – AFP
2025-11-14 20:28:03
Nie in ons naam nie

Michael Woolf, predikant van die Lake Street Church of Evanston, was Vrydag een van die 21 mense wat in hegtenis geneem is toe geloofsleiers buite ’n federale immigrasiesentrum naby Chicago, Illinois, in Amerika betoog het. Foto: Reuters















