2025-11-17 04:05:45
6 sterf in grondstorting weens swaar reën in Viëtnam
Minstens ses mense het in Sentraal-Viëtnam omgekom toe die bus waarin hulle gereis het Sondagaand in ’n grondstorting beland het.
Daar was 32 passasiers op die bus, het die aanlyn koerant VnExpress berig.
Nog 19 passasiers is beseer in die grondstorting, wat deur swaar reën veroorsaak is.
Reddingswerkers is besig om twee ander passasiers te probeer bevry wat steeds in die bus vasgekeer is. – Reuters
2025-11-17 04:18:36
Mede-Republikeine moet ja sê dat Epstein-lêers openbaar word – Trump
Pres. Donald Trump het Sondag sy mede-Republikeine in die Amerikaanse kongres versoek om te stem vir die openbaarmaking van lêers wat verband hou met wyle Jeffrey Epstein, geregistreerde seksoortreder.
“Dit moet beskikbaar gestel word, want ons het niks om weg te steek nie,” het Trump in ’n plasing op Truth Social gesê.
“En dis tyd om aan te beweeg van hierdie Demokratiese bedrieëry wat deur Radikale Linkse Kranksinniges gepleeg is om (die aandag) af te lei van die Groot Sukses van die Republikeinse Party, waaronder ons onlangse Oorwinning oor die Demokrate se Sluiting van die Regering.” – Reuters
2025-11-17 04:25:15
70 skole in Australië, Nieu-Seeland gesluit weens asbes in speelsand
Meer as 70 skole en voorskoolse instellings in Australië en Nieu-Seeland is Maandag gesluit nadat asbes gevind is in speelsand vir kinders wat in verskeie instellings gebruik is.
Verskeie kleurryke speelsandprodukte is herroep nadat spore van tremoliet en witasbes (chrisotiel) in laboratoriumtoetse bespeur is.
Die Australiese kommissie vir mededinging en verbruikers (ACCC) het Woensdag ’n nasionale herroeping uitgereik vir produkte wat deur Educational Colours verskaf is.
Verdere herroepings is toe Saterdag deur Kmart en Target uitgereik vir ’n sandkasteel-boustel wat uit 14 komponente bestaan, sowel as blou, groen en pienk towersand. – Reuters
2025-11-17 04:46:20
VSA praat dalk met Maduro oor dwelmsmokkelary
Amerika sal moontlik met Nicolás Maduro, president van Venezuela, vergader, het pres. Donald Trump Sondag gesê.
Venezuela ervaar toenemend druk van die Amerikaanse regering te midde ’n enorme Amerikaanse militêre opbou in die Karibiese Eilande.
Amerika voer dodelike aanvalle uit op bote van vermeende smokkelaars wat na bewering dwelms vervoer aan die kus van Venezuela in die oostelike Stille Oseaan.
“Ons kan dalk gesprekke met Maduro voer, en ons sal kyk wat die uitkoms daarvan is. Hulle wil graag praat.”
Trump beskuldig Maduro daarvan dat hy bande het met handelaars van onwettige dwelms. – Reuters

Pres. Nicolás Maduro van Venezuela Donderdag by ’n optog met jong lede van sy politieke party in Caracas, Venezuela. Foto: Reuters
2025-11-17 05:00:49
Nog 3 sterf in Amerikaanse aanval op ‘dwelmboot’ in Stille Oseaan
Drie mense is dood toe Amerika Saterdag nog ’n aanval uitgevoer het op ’n boot wat na bewering dwelms vervoer het in die ooste van die Stille Oseaan, het die regering Sondag gesê.
“Inligting het bevestig dat die vaartuig betrokke was by onwettige dwelmsmokkelary op ’n bekende dwelmsmokkelroete.”
Dit is die 21ste sodanige aanval tot dusver. Minstens 80 mense het reeds in die aanvalle omgekom, volgens statistieke van die Amerikaanse regering. – Reuters
2025-11-17 05:13:21
Britte hersien menseregtewette om migrante makliker te deporteer
Brittanje gaan sy benadering tot menseregtewette hersien om dit makliker te maak om migrante te deporteer wat die land onwettig binnekom.
Dit is deel van ’n groot hersiening van die asielbeleid wat Maandag uiteengesit sal word.
Shabana Mahmood, minister van binnelandse sake, sal uiteensit watter veranderinge sal geld in die interpretasie van howe van die Europese Konvensie oor Menseregte.
“Hierdie hervormings sal eindelose appèlle blokkeer, eise keer wat op die laaste minuut gemaak word, en strenger optrede (moontlik maak) om diegene te verwyder wat geen reg het om hier te wees nie,” het Keir Starmer, premier van Brittanje, in ’n verklaring gesê. – Reuters
2025-11-17 05:22:34
Epstein-lêers: Niks om weg te steek, sê speaker
Die naderende stemming oor die openbaarmaking van lêers wat verband hou met Jeffrey Epstein sal help om bewerings tot ’n einde te bring dat pres. Donald Trump enige verbintenis met dié veroordeelde sekspes se mishandeling van en verhandeling in minderjarige meisies gehad het, glo Mike Johnson, speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers.
“Epstein is (die Demokrate se) hele spelplan, so ons gaan daardie wapen uit hul hande neem,” het Johnson gesê.
“Kom ons kry dit net gedoen en beweeg dit aan. Daar is niks om weg te steek nie.” – Reuters
2025-11-17 05:32:23
3 dood, 10 gewond in Russiese aanvalle op Charkif, Oekraïne
Drie mense is oornag dood in Russiese aanvalle op ’n stad in die ooste van die Charkif-streek in Oekraïne.
Die Russiese weermag het twee missielaanvalle op die sentrum van Balaklija uitgevoer, het Witali Karabanof, ’n militêre amptenaar, op Telegram gesê.
Drie mense is volgens voorlopige inligting dood.
Tien mense is ook gewond. “Ongelukkig kom oproepe oor moontlike beserings steeds in,” het Karabanof gesê. – AFP
2025-11-17 05:47:21
VN stem oor mag om Gasastrook te stabiliseer
Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies stem Maandag oor ’n resolusie wat pres. Donald Trump se vredesplan vir die Gasastrook sal versterk, veral die ontplooiing van ’n internasionale mag.
Die konsep “onderskryf” die plan, wat aanvanklik ’n brose skietstilstand tussen Israel en Hamas op 10 Oktober moontlik gemaak het.
Die jongste weergawe van die teks, wat AFP onder oë gehad het, verleen magtiging dat ’n Internasionale Stabiliseringsmag (ISF) gestig word wat met Israel en Egipte en pas opgeleide Palestynse polisie sal saamwerk om grensgebiede te beveilig en die Gasastrook te demilitariseer. – AFP

’n Palestynse vlag word Sondag vertoon op ’n gebou oorkant Israeliese vlae by die ingang van die dorp As-Sawija, suid van Nabloes aan die besette Wesoewer. Foto: AFP
2025-11-17 06:10:58
Minstens 32 myners dood toe brug ineenstort in DRK
Minstens 32 mynwerkers is dood toe ’n brug by ’n kobaltmyn in die suidooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) ineengestort het.
Die brug het Saterdag in ’n oorstroomde gebied by die myn in die provinsie Lualaba ineengestort, het Roy Kaumba Mayonde, provinsiale minister van binnelandse sake, gesê.
’n Soektog na meer oorledenes is van stapel gestuur.
Die DRK vervaardig meer as 70% van die wêreldvoorraad van kobalt, wat noodsaaklik is vir batterye wat in elektriese motors, skootrekenaars en selfone gebruik word. – AFP
2025-11-17 06:16:33
Tom Cruise kry eindelik ere-Oscar

Tom Cruise, Amerikaanse akteur en rolprentvervaardiger, poseer met sy ere-Oscar op die verhoog by die 16de Goewerneurs-toekenningsgeleentheid in die Ray Dolby-balsaal by Ovation Hollywood in Los Angeles. Cruise is al vier keer vir die gesogte prys benoem, maar het nog nie voorheen gewen nie. Foto: AFP
2025-11-17 06:36:48
Chinese paartjies met geskenkbewyse aangemoedig om te trou
’n Stad in die ooste van China gaan geskenkkoepons uitreik vir paartjies wat hul huwelik tussen 28 Oktober en 31 Desember registreer.
Huwelike in China het verlede jaar met 20% gedaal, die grootste daling tot nog toe.
Die tendens waarin al hoe minder mense belangstel om te trou en met ’n gesin te begin, word toegeskryf aan die hoë koste van kinderversorging en onderwys.
Pasgetroudes in die stad Ningbo kan agt verbruikskoepons ter waarde van 1 000 joean (sowat R2 410) ontvang wat onder meer aan fotografie, huwelikseremonies en hotelverblyf bestee kan word. – Reuters
2025-11-17 07:05:34
Man vas weens motorbomontploffing in Delhi
Die federale anti-terreuragentskap in Indië het ’n inwoner van Kasjmir in hegtenis geneem wat daarvan beskuldig word dat hy saamgesweer het met die bestuurder van ’n motor wat verlede Maandag in Delhi ontplof het.
Agt mense is dood en minstens 20 gewond.
Die motor wat in die aanval gebruik is, is in die verdagte, Amir Rashid Ali, se naam geregistreer, het die owerhede gesê.
Ali het na bewering na Delhi gekom om die aankoop van die motor te fasiliteer.
Die Kasjmir-streek is sedert 1947 tussen Pakistan en Indië verdeel. – Reuters

Motors wat vernietig is in ’n motorbomontploffing verlede Maandag in Delhi, Indië. Foto: Getty Images/Hindustan Times
2025-11-17 07:17:24
18 dood in grondstortings in Indonesië
Grondstortings wat verlede week in twee streke in die sentrale deel van die Java-provinsie in Indonesië plaasgevind het, het tot die dood van minstens 18 mense gelei, het die owerhede Maandag gesê. Soek-en-reddingspogings duur voort.
Die grondstortings is deur swaar reën veroorsaak.
Die een grondstorting in die stad Cilacap het verlede week ongeveer ’n dosyn huise in die dorpie Cibeunying begrawe.
Sestien mense is hier dood en sewe word vermis.
Twee mense is dood en 27 word vermis in ’n afsonderlike voorval wat Saterdag in die streek plaasgevind het. – Reuters

Soek-en-reddingsdienste soek Saterdag na slagoffers op die terrein van ’n grondstorting wat die dorpie Cibeunying in die stad Cilacap in die sentrale deel van die Java-provinsie twee dae tevore getref het. Foto: Reuters
2025-11-17 07:31:25
China en Japan se premiers nie van plan om op G20 in SA te vergader
Li Qiang, premier van China, het geen planne om met Sanae Takaitsji, premier van Japan, te vergader gedurende die G20-beraad in Suid-Afrika nie.
Takaitsji se kommentaar oor Taiwan het die politieke fondament van betrekkinge ernstig beskadig en Japan moet sy “verkeerde” opmerkings terugtrek, het Mao Ning, woordvoerder van die Chinese ministerie van buitelandse sake, Maandag gesê.
Takaitsji het vroeër vandeesmaand aan die parlement gesê dat ’n aanval op Taiwan deur China tot ’n militêre reaksie van Japan kan lei.
Taiwan word demokraties beheer, maar China beskou dit as sy grondgebied. – Reuters
2025-11-17 07:45:33
Iran begin met wolkbestuiwing te midde van erge droogte
Die owerhede in Iran het wolkbestuiwingsoperasies van stapel gestuur terwyl die land sy ergste droogte in dekades ervaar, het die staatsmedia berig.
Dit behels die bespuiting van deeltjies soos silwerjodied en sout in wolke vanaf vliegtuie om reën te veroorsaak.
Video’s wat Sondag deur die plaaslike media uitgesaai is, het swaar reën en selfs oorstromings in verskeie streke getoon, maar dit was nie duidelik of dit met die proses verband hou nie.
Iran het verlede jaar aangekondig dat hy sy eie tegnologie vir die praktyk ontwikkel het. – AFP
2025-11-17 08:20:47

’n Jong Masai-kameelperd staan Sondag in ’n vervoerkrat met sy oë bedek met ’n kombers terwyl veldwagters van Kenia Wildlewedienste (KWS) probeer om die krat op ’n voertuig te laai. Dit is ’n oefening om groot herbivore van die Kedong-plaas te verskuif weens onder meer grondverdeling wat die migrasieroetes van wildlewe in Naivasha in die Nakuru-provinsie in Kenia ontwrig het. Foto: AFP
2025-11-17 08:52:01
Oudpremier van Bangladesj doodstraf opgelê
’n Hof in Bangladesj het sjeik Hasina (78), voormalige premier, Maandag skuldig bevind aan misdade teen die mensdom en die doodstraf opgelê.
Hasina het hofbevele verontagsaam dat sy vanaf Indië moet terugkeer om haar verhoor by te woon oor of sy ’n dodelike onderdrukking gelas het teen ’n opstand wat haar in Augustus 2024 omvergewerp het.
Ongeveer 1 400 mense is in die betogings dood. – AFP

’n Muurskildery van sjeik Hasina Wazed wat deur betogers gevandaliseer is in Dhaka, Bangladesj, op 6 Augustus 2024. Foto: Reuters
2025-11-17 09:32:08
Uitspraak ‘bevooroordeeld, polities gemotiveerd’ – Hasina
Sjeik Hasina, voormalige premier van Bangladesj en ’n voortvlugtige, het Maandag haar skuldigbevinding aan misdade teen die mensdom “bevooroordeeld en polities gemotiveerd” genoem.
“Die uitsprake teen my is gemaak deur ’n gemanipuleerde tribunaal wat ingestel en voorgesit is deur ’n onverkose regering sonder ’n demokratiese mandaat,” sê Hasina in ’n verklaring wat uitgereik is van haar skuilplek in Indië.
“Hulle is bevooroordeeld en polities gemotiveerd.” – AFP

Betogers vertoon die vlag van Bangladesj terwyl hulle sjeik Hasina, toe premier, se paleis in Dhaka op 5 Augustus 2024 bestorm. Betogings het in Julie verlede jaar uitgebreek oor kwotas vir poste in die staatsdiens. Dit het afgeneem nadat die hooggeregshof ingestem het om die meeste kwotas te skrap. Die onrus het egter oorgegaan in wyer oproepe vir Hasina, wat 15 jaar aan die bewind was, om te bedank. Foto: AFP
2025-11-17 10:14:37
Brittanje dreig met visumverbod teen 3 Afrikalande
Die Britse regering dreig met ’n visumverbod op drie Afrikalande.
Vroeër is berig Brittanje gaan sy benadering tot menseregtewette hersien om dit makliker te maak om immigrante te deporteer wat die land onwettig binnekom.
Dit is deel van ’n groot hersiening van sy asielbeleid.
Brittanje sê dit gaan ophou om visums toe te staan aan burgers van Angola, Namibië en die Demokratiese Republiek die Kongo as hierdie lande nie hul “misdadigers en onwettige immigrante” terug aanvaar nie, sê die ministerie van binnelandse sake in ’n verklaring. – AFP
2025-11-17 10:33:38
Adjunkhoof vermoor, leerlinge ontvoer by skool in Nigerië
Die adjunkhoof van ’n staatskosskool in die Kebbi-streek in Nigerië is Maandag omstreeks 01:00 doodgeskiet en ’n onbekende aantal meisiesleerlinge is ontvoer toe die skool deur gewapende mans aangeval is.
Hassan Yakubu Makuku, adjunkhoof, is doodgeskiet terwyl hy die aanvallers probeer afweer het en ’n veiligheidswag het beserings opgedoen, het ’n onderwyser op voorwaarde van anonimiteit weens veiligheidsredes aan Reuters gesê.
Die gewapende mans het met die ontvoerde studente na die naburige Zamfara gevlug, het die onderwyser gesê. – Reuters
2025-11-17 10:46:31
Russiese weermag werksaam in 6 Afrikalande
Die Russiese weermag is in ses Afrikalande bedrywig, het staatstelevisie berig.
Dit is ’n ongewone erkenning van die omvang van Moskou se amptelike militêre teenwoordigheid op die vasteland. Behalwe vir Mali dui die verslag nie aan in watter ander lande Rusland bedrywig is nie.
Daar is voorheen verneem dat Russiese troepe of militêre instrukteurs in Burkina Faso, Niger, Ekwatoriaal-Guinee, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Libië ontplooi is. – AFP
2025-11-17 11:12:51
Pole heropen grensposte met Belarus
Pole het Maandag twee grensposte met Belarus heropen nadat dit ′n geruime tyd gesluit was weens spanning met Belarus se regering, wat betrekkinge met Rusland het. Volgens die grensowerhede is die grensposte by Koeznica Bialostocka en Bobrowniki weer in gebruik.
’n Woordvoerder van die Poolse grenspolisie sê die regering het na inwoners en ondernemings in die streek geluister, veral vragmotorbestuurders en sakelui, wat ekonomiese nadele ondervind het toe die grens gesluit was weens die toestroming van migrante.
Volgens die grenspolisie is die oostelike grens van Pole “nou beter beskerm as ooit vantevore”. – AFP
2025-11-17 11:18:47
VSA-appèlhof oorweeg sake oor Tylenol, outisme
’n Amerikaanse appèlhof gaan Maandag betoë aanhoor van gesinne wat hul hofsake oor Tylenol wil hervat. Hulle beweer die pynmiddel lei tot outisme by kinders en verwys na ’n nuuskonferensie waar die Trump-administrasie dié moontlike verband bespreek het.
Meer as 500 gesinne eis skadevergoeding van Kenvue, die vervaardiger van Tylenol, maar ’n laer hof het die sake vroeër vanjaar van die hand gewys omdat die kenners wat deur die gesinne se advokate aangewys is, se metodes bevraagteken is. Wetenskaplikes sê daar is geen bewyse dat Tylenol of asetaminofeen outisme veroorsaak nie.
Kenvue hou ook voet by stuk dat die produk veilig is en meen die beslissing van die laer hof is korrek. Die gesinne glo egter die kenners se getuienis is nie regverdig oorweeg nie. – Reuters
2025-11-17 11:25:32
Frankryk gee Oekraïne ‘hupstoot met vegvliegtuie’

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (regs) en pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne onderteken 'n ooreenkoms by die Villacoublay-lugmagbasis in Vélizy-Villacoublay naby Parys om Oekraïne se lugverdediging met onder meer 100 vegvliegtuie te versterk in sy oorlog teen Rusland. Foto: AFP
2025-11-17 12:02:13
Russiese aanval veroorsaak paniek naby Roemeense grens
Roemeense owerhede het Maandag begin om inwoners van die dorp Plauru, naby die Oekraïense grens, uit die gebied te verwyder nadat ’n Russiese hommeltuigaanval in die suide van Oekraïne tot ’n brand gelei het op ’n skip met vloeibare petroleumgas. Sedert Rusland se inval in Oekraïne in 2022 teiken Russiese magte hawens in die Donau-streek.
Ná die jongste aanval het die skip, weens sy nabyheid aan Roemenië en gevaarlike vrag, die owerhede genoop om Plauru as voorsorgmaatreël te ontruim. Inwoners het waarskuwings op hul selfone ontvang oor moontlike vallende voorwerpe.
Pad- en seeverkeer is ook gestop uit vrees vir ’n ontploffing. Volgens die Roemeense departement van verdediging was daar geen onwettige lugruimskendings deur Rusland gedurende die aanval nie. – AFP
2025-11-17 12:08:41
Brittanje verskerp asielstelsel met radikale hersiening
Die Britse regering gaan Maandag ingrypende veranderinge aan sy asielstelsel aankondig, insluitend die drastiese vermindering van die beskerming vir vlugtelinge en 'n visumverbod vir lande wat weier om onwettige immigrante terug te neem.
Shabana Mahmood, Britse minister van binnelandse sake, sal die maatreëls aankondig, wat geskoei is op Denemarke se streng asielstelsel. Vlugtelingstatus sal tydelik word en elke 30 maande hersien word.
Vlugtelinge sal gedwing word om na hul vaderland terug te keer sodra dié as veilig beskou word. Hulle sal ook 20 jaar moet wag, in plaas van die huidige vyf, voordat hulle vir permanente verblyfreg kan aansoek doen.
Die planne is gekritiseer deur liefdadigheidsorganisasies en wetgewers, wat sê dit kan lei tot die ontworteling van vlugtelinge wat hulle in Brittanje gevestig het. – AFP
2025-11-17 12:09:42
Kremlin hoop vir nuwe Poetin-Trump beraad
Die Kremlin het Maandag die hoop uitgespreek dat ’n nuwe beraad tussen pres. Wladimir Poetin en pres. Donald Trump kan plaasvind sodra al die nodige voorbereidings getref is.
Die twee leiers het laas in Augustus in Alaska oor die oorlog in Oekraïne vergader. ’n Beraad in Boedapest is egter verlede maand deur Trump gekanselleer omdat die tydsberekening glo nie reg was nie.
Volgens Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, weet albei lande so ’n gesprek verg deeglike beplanning. Trump het met die kansellasie sy frustrasie uitgespreek dat vergaderings met Poetin nie tot vordering lei nie.
Hy het ook op 22 Oktober vir die eerste keer in sy tweede termyn nuwe Oekraïne-verwante sanksies teen Rusland ingestel. Die Republikeine in Amerika werk glo aan nog sanksies teen lande wat sake met Rusland doen, iets wat Moskou as negatief beskou. – Reuters

Pres. Donald Trump stap na sy amptelike helikopter, Marine One, vanaf die suidelike grasperk van die Withuis in Washington. Foto: Getty Images
2025-11-17 12:59:14
Duitse wapens weer beskikbaar vir Israel, met voorwaardes
Die Duitse regering het Maandag aangekondig dat wapenverkope aan Israel, wat vroeër opgeskort is, hervat sal word mits die huidige skietstilstand en grootskaalse humanitêre hulp gehandhaaf word.
Duitsland, die naasgrootste verskaffer van wapens aan Israel ná die VSA, het in Augustus sekere wapenuitvoere na Israel opgeskort weens groeiende druk oor die oorlog in die Gasastrook. Die opskorting het slegs wapens en toerusting geraak wat moontlik in die Gasastrook gebruik kon word. Volgens ’n regeringswoordvoerder is die skietstilstand tussen Israel en Hamas die grondslag vir die besluit en humanitêre hulp moet voortgesit word.
Duitsland sal uitvoer weer van geval tot geval evalueer en verwikkelinge monitor. Die Duitse regering bly verbind tot ’n tweestaat-oplossing en hulp vir die heropbou van die Gasastrook. Israel het intussen Duitsland se besluit verwelkom en ander lande aangemoedig om sy voorbeeld te volg. – Reuters
2025-11-17 13:00:20
Vat so, ou grote!

Die soemostoeiers Maegasjira Tamawasji en Sekiwake Oho neem deel aan die November Groot Soemo-toernooi by die Foekoeoka-konferensiesentrum in die stad Foekoeoka in Kioesjoe, Japan. Foto: AFP
2025-11-17 13:12:34
Zelenski sê Franse ooreenkoms sal Oekraïense verdediging versterk
Pres. Wolodimir Zelenski het Maandag gesê sy land se ooreenkoms met Frankryk om 100 Rafale-vegvliegtuie en agt SAMP/T-lugverdedigingstelsels te ontvang, sal sy verdediging teen Rusland se inval aansienlik versterk.
Zelenski het op ’n nuuskonferensie in Parys bygevoeg dat Oekraïne moontlik in die toekoms saam met Frankryk die Rafale-vliegtuie kan vervaardig.
Hy hoop om verder met pres. Emmanuel Macron van Frankryk te gesels oor maniere om diplomasie te versnel om die oorlog te beëindig.
Die Rafale is ’n moderne Franse vegvliegtuig wat beskou word as een van die mees gevorderde vegvliegtuie in die wêreld en kan ’n wye reeks sendings uitvoer, insluitend luggevegte, grondondersteuning en die insameling van intelligensie. Die SAMP/T is ’n gesofistikeerde lugverdedigingstelsel wat ontwikkel is deur die Franse en Italiaanse weermagte. – Reuters
2025-11-17 14:01:12
Bangladesj eis dat Indië veroordeelde oudpremier uitlewer
Bangladesj het Maandag geëis dat Indië die afgesette voormalige premier, sjeik Hasina Wazed (78), uitlewer, ure nadat sy en Asadoezzaman Chan Kamal, die voormalige minister van binnelandse sake, in absentia ter dood veroordeel is vir misdade teen die mensdom.
Hasina se outokratiese bewind is deur Indië gesteun, en sy het ná haar omverwerping in Augustus 2024 na Indië gevlug.
Bangladesj het Indië gewaarsku dat “om asiel aan hierdie veroordeeldes te verleen ... uiters onvriendelik en ’n belediging vir geregtigheid” sou wees. – AFP

Mense in Dhaka, Bangladesj, hardloop Maandag verby ’n skokgranaat wat deur die polisie afgevuur is om betogers uiteen te dryf kort voordat sjeik Hasina Wazed (78), voormalige premier, skuldig bevind is aan misdade teen die mensdom en in absentia die doodstraf opgelê is. Foto: Reuters
2025-11-17 14:26:35
Nigeriëse sokkerafrigter blameer ‘voedoe’ vir nederlaag
Nigerië se sokkerafrigter het die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) daarvan beskuldig dat hulle “voedoe” beoefen nadat sy span se hoop om vir die 2026-Wêreldbeker-sokkertoernooi te kwalifiseer, beëindig is in ’n strafdoelstryd.
Die DRK en Nigerië was Sondag 1-1 gelykop ná ekstra tyd in ’n kwalifiserende wedstryd en die DRK het uiteindelik ná ’n strafdoelstryd met 4-3 gewen.
In sy opmerkings ná die wedstryd het Eric Chelle, Nigerië se afrigter, gesê ’n lid van die DRK-span het “voedoe gedoen, elke keer, elke keer, elke keer”. – AFP
2025-11-17 14:45:35
Dalk vir oulaas ’n lafenis

’n Soematraanse olifant word Maandag deur ’n versorger met water natgespuit by die Bandoeng-dieretuin in Wes-Java, wat deur die stad beveel is om vir drie maande te sluit as gevolg van interne bestuursprobleme. Foto: AFP
2025-11-17 14:59:39
3 dood weens dodelike Marburg-virus in Ethiopië
Drie mense is dood aan die dodelike Marburg-virus in Ethiopië, het die land se ministerie van gesondheid Maandag gesê, minder as ’n week nadat ’n uitbreking verklaar is.
Die Marburg-virus, soos ebola, veroorsaak ernstige bloeding, koors, braking en diarree, en word oorgedra deur kontak met liggaamsvloeistowwe. Dit het 'n sterftesyfer van tussen 25% en 80%.
Die uitbreking – die eerste ooit in Ethiopië – is in die stad Jinka bevestig, sowat 430 km suidwes van die hoofstad, Addis Abeba.
Die ministerie het op Facebook gesê dat "17 vermoedelike gevalle getoets is, en 3 sterftes is bevestig as veroorsaak deur die virus." – AFP
2025-11-17 15:28:16
Trump begenadig weer 6 Januarie 2021-betoger
Pres. Donald Trump het vir die tweede keer ’n lid van ’n regse groep wat betrokke was by die bestorming van die Amerikaanse kongresgebou op 6 Januarie 2021, begenadig.
Dan Wilson, 'n lid van die regse groep Oath Keepers, is reeds met Trump se inhuldiging op 20 Januarie vanjaar saam met meer as 1 500 ander betogers begenadig.
Maar Wilson se aparte skuldigbevinding aan die onwettige besit van vuurwapens in sy huis in Kentucky, is nie deur dié presidensiële begenadiging gedek nie.
Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis en sou in 2028 vrygelaat word. – AFP
2025-11-17 15:44:02
Sê net nee vir dwelms

’n Gewapende lid van die Taliban se veiligheidspersoneel staan Maandag wag by voormalige dwelmverslaafdes wat wag op hul vrylating ná hul rehabilitasie by ’n sentrum in Kandahar, Afganistan. Foto: AFP
2025-11-17 16:05:39
45 pelgrims dood in Saoedi-busongeluk
Die Indiese polisie het Maandag gesê ’n busongeluk oornag in Saoedi-Arabië het die lewe van 45 Moslem-pelgrims geëis.
"Die tragiese busongeluk waarby Indiese pelgrims in Saoedi-Arabië betrokke is, is diep ontstellend," het V.C. Sajjanar, polisiekommissaris van die stad Hyderabad, waar baie van die Indiese burgers vermoedelik vandaan kom, aan verslaggewers gesê.
"Volgens voorlopige inligting was daar 46 mense op die bus ten tyde van die voorval en ongelukkig het net een persoon oorleef." – AFP
2025-11-17 16:26:34
BBC 'vasbeslote' om Trump-lastereis teen te staan
Die BBC sal ’n lastereis beveg wat pres. Donald Trump dreig om teen die uitsaaier in te stel, het Samir Shah, voorsitter, Maandag aan personeel gesê.
Dit kom nadat Trump gesê het hy wil tot $5 miljard in skadevergoeding van die Britse uitsaaier eis nadat ’n BBC-program ’n Trump-toespraak misleidend geredigeer het.
"Ek wil baie duidelik met julle wees – ons standpunt het nie verander nie," het Shah in 'n boodskap aan personeel gesê.
"Daar is geen grondslag vir ’n lastereis nie en ons is vasbeslote om dit teen te staan." – AFP
2025-11-17 16:43:11
‘Julle mag nie hier bly nie!’

’n Lid van die Israeliese grenspolisie en ’n betoger wissel Maandag woorde terwyl Tzur Misgavi, ’n ongemagtigde Israeliese setlaarbuitepos in die besette Wesoewer, deur Israelse veiligheidsmagte afgebreek word. Foto: Reuters
2025-11-17 17:05:41
Ongemagtigde nedersetting gesloop ná geweld in Wesoewer
Die Israeliese veiligheidsmagte het Maandag ’n ongemagtigde nedersetting bekend as Tzur Misgavi in die besette Wesoewer ontruim en gesloop ná verskeie ernstige voorvalle van geweld.
’n Groot polisiemag is ontplooi om 25 families uit die Gush Etzion-omgewing suid van Bethlehem te verwyder.
Die Israeliese regering sê die operasie was wetlik geregverdig ná toenemende aanvalle deur setlaars op Palestyne en selfs Israeliese soldate. Skietvoorvalle en ander onrus het ná die uitbreek van die oorlog in die Gasastrook in Oktober 2023 in die Wesoewer toegeneem.
Die Verenigde Nasies beskryf Oktober 2025 as die gewelddadigste maand vir setlaar-verwante geweld sedert 2006.
Eyal Zamir, Israel se militêre hoof, het onlangs beloof om hierdie geweld te stop, terwyl Bezalel Smotrich, Israel se verregse minister van finansies en 'n voorstander van die uitbreiding van nedersettings, beveel het dat Tzur Misgavi gesloop word omdat die grond reeds vir 'n konstruksieprojek geoormerk is.
Volgens Palestynse bronne is meer as 1 000 Palestyne sedert Oktober in die Wesoewer dood. – AFP
2025-11-17 17:06:54
Op sy kop...

Die verkeerskegel wat sedert die 1980's gereeld deur lawwe verbygangers op die standbeeld van die Hertog van Wellington in Glasgow, Skotland, geplaas word, het nou 'n nuwe gedaante aangeneem. Die straatkunstenaar 'Rebel Bear' neem op sosiale media krediet vir die jongste toevoeging op die standbeeld - 'n duif wat koerant lees met 'n miniuatuur kegel op sy kop. Foto: Getty Images
2025-11-17 17:15:18
Nuwe navorsing wys impak van minder Westerse hulp
Meer as 22 miljoen mense, baie van hulle kinders, kan teen 2030 sterf as gevolg van hulpvermindering deur die VSA en Europese lande, sê navorsers.
Die nuwe bevindinge is 'n opdatering van navorsing vroeër vanjaar wat bevind het dat pres. Donald Trump van die VSA se omvattende vermindering van hulp, waaronder die ontmanteling van die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID), tot 14 miljoen bykomende sterftes kan lei.
Die nuwe navorsing neem die vermindering in alle amptelike ontwikkelingshulp in ag, aangesien Brittanje, Frankryk en Duitsland ook hul hulp aan die ontwikkelende wêreld sny. "Dit is die eerste keer in die afgelope 30 jaar dat Frankryk, Duitsland, Brittanje en die VSA hul hulp gelyktydig verminder," sê Gonzalo Fanjul, navorser en beleids- en ontwikkelingsdirekteur by die Instituut vir Globale Gesondheid (ISGlobal) in Barcelona, Spanje.
– AFP
2025-11-17 18:00:02
McCartney, Bush en ander in KI-stryd
Die popikoon Paul McCartney gaan volgende maand ’n stil snit uitreik as deel van ’n “stil album” uit protes teen beplande wysigings aan Britse kopieregwetgewing.
Ander bekende kunstenaars soos Hans Zimmer en Kate Bush neem ook deel aan die projek om te waarsku teen die gevare wat kunsmatige intelligensie (KI) vir musici inhou. Die album, getiteld “Is This What We Want”, bevat’n twee minute en 45 sekondes lange opname deur McCartney van stilte in ’n leë ateljee.
Meer as 1 000 kunstenaars neem deel aan die projek wat beklemtoon dat die nuwe wetswysigings dit vir KI-ondernemings moontlik maak om op geskeppende werk te “oefen” sonder toestemming of vergoeding van die oorspronklike kunstenaars. – AFP

Paul McCartney gaan ’n stil snit uitreik uit protes teen beplande wysigings aan Britse kopieregwetgewing.
Foto: Getty Images
2025-11-17 18:11:19
België koop hommeltuie om invalle teen te werk
België gaan eersdaags hommeltuie aankoop om hom teen onwettige hommeltuie in sy lugruim te beskerm. Dié besluit volg op ’n reeks voorvalle waar die lugruim oor Belgiese lughawens, militêre basisse en selfs ’n kernkragstasie deur vreemde hommeltuie ontwrig is, sê Theo Francken, Belgiese minister van verdediging.
Hoewel Belgiese amptenare meen die voorvalle het die kenmerke van Russiese inmenging, erken hulle daar is geen regstreekse bewys daarvoor nie. Rusland ontken enige betrokkenheid.
Die aankoop van die hommeltuie wat vyandelike hommeltuie kan opspoor en uitskakel, spruit uit ’n ooreenkoms wat Francken in Riga, die hoofstad van Letland, onderteken het.
Die aankoop vorm deel van ’n pakket van 50 miljoen euro, met planne om uiteindelik 500 miljoen euro in gevorderde radar- en blokkeerstelsels te belê om België se sekuriteit te versterk. – Reuters
2025-11-17 18:17:59
Sononder in Mumbai

Mense bewonder 'n sonsondergang op 'n strand in Mumbai, Indië. Foto: Getty Images
2025-11-17 19:01:46
VSA betaal Eswatini $5,1 m. om gedeporteerdes te aanvaar
Eswatini het Maandag die eerste keer bevestig dat hy meer as $5 miljoen van Amerika ontvang het om tientalle gedeporteerdes uit dié land te aanvaar.
Eswatini het reeds 15 mans aanvaar sedert pres. Donald Trump se administrasie grotendeels geheime ooreenkomste met minstens vyf Afrikalande daaroor aangegaan het.
Toe hy in die parlement oor die reëling uitgevra is, het Neal Rijkenberg, minister van finansies, bevestig die regering het $5,1 miljoen ontvang.
Hy het bygevoeg dat die ministerie gedurende die proses in die donker gehou is. Dit was nie onmiddellik duidelik wie van Eswatini die ooreenkoms met Amerika onderteken het nie. – AFP
2025-11-17 19:27:48
Jordanië 'n tree nader om mans vir diensplig op te roep
Jordanië se parlement het Maandag ’n wet aanvaar wat diensplig vir mans vanaf vroeg volgende jaar herinstel, meer as 30 jaar nadat verpligte militêre diens beëindig is.
Die herinstelling van diensplig is in Augustus aangekondig om "jong mans voor te berei om gereed te wees om die land te dien en te verdedig".
Die wet sal nou deur die senaat bekragtig word en dan vir die koning se goedkeuring gestuur word.
Jordanië het diensplig in 1991 beëindig, drie jaar voordat hy in 1994 ’n vredesverdrag met Israel onderteken het. – AFP
2025-11-17 19:43:40
‘Old Court Road’

Die Grammy-bekroonde musikant Lil Nas X, wie se regte naam Montero Hill is, Maandag saam met sy prokureurs Christy O'Connor en Drew Findling buite ’n hof in Los Angeles nadat hy vlugtig verskyn het op vier aanklagte, onder meer beweerde aanranding en verset teen polisiebeamptes. Die aanklagte spruit uit ’n voorval in Augustus toe Hill glo byna kaal in die strate van Los Angeles geloop het. Foto: Reuters
2025-11-17 20:00:32
Netanyahu veroordeel geweld deur 'ekstremiste' in Wesoewer
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het die geweld van ’n "handjievol ekstremiste" onder Israeliese setlaars in die besette Wesoewer ná botsings en aanvalle Maandag veroordeel.
"Ek beskou die gewelddadige oproer en die poging van ’n handjievol ekstremiste om eie reg te gebruik in 'n baie ernstige lig," het Netanyahu gesê. Hy het die oortreders beskryf as " ’n groep wat nie Israeliese setlaars in die Palestynse gebied verteenwoordig nie".
Huise en voertuie is Maandagaand in ’n Palestynse dorp in die Wesoewer aan die brand gesteek en gevandaliseer nadat betogers vroeër met veiligheidsmagte slaags geraak het wat besig was om ’n ongemagtigde setlaarsbuitepos in dieselfde gebied af te breek. – AFP

Israeliese veiligheidsmagte bots Maandag met jeugdiges op grondverskuiwingstoerusting terwyl hulle ’n ongemagtigde setlaarsbuitepos in die besette Wesoewer ontruim en sloop. Foto: AFP
2025-11-17 20:25:54
Bridget Jones kry ná 25 jaar haar eie standbeeld in Londen
Met haar eie standbeeld op Londen se Leicester Square het Bridget Jones haar aangesluit by die geledere van Mary Poppins, Harry Potter en ander geliefde rolprentkarakters.
Die Oscar-wenner Renée Zellweger, wat die titelkarakter in al vier Bridget Jones-flieks vertolk het, het Maandag die onthulling van die standbeeld bygewoon, wat 25 jaar vier sedert die eerste fliek, Bridget Jones's Diary, in 2001 in fliekteaters vertoon is.
Bridget Jones: The Edge of Reason en Bridget Jones's Baby het in onderskeidelik 2004 en 2016 gevolg, en Bridget Jones: Mad About the Boy is in Februarie vanjaar uitgereik. – Reuters

Die aktrise Renée Zellweger woon in Januarie vanjaar die wêreldpremière van die rolprent Bridget Jones: Mad About the Boy op Leicester Square in Londen by. Foto: Reuters
2025-11-18 03:36:21
Japan waarsku sy burgers in China te midde van rusie oor Taiwan
Japan het sy burgers in China gewaarsku om veiligheidsmaatreëls te verskerp en oorvol plekke te vermy te te midde van ’n verergerende dispuut tussen China en Japan oor Taiwan.
Minoroe Kihara, ’n regeringsamptenaar, sê die jongste kennisgewing is ’n hernude beroep om veiligheidsmaatreëls toe te pas, aangesien die stemming teenoor Japan wat in die Chinese media weerspieël word, versleg het.
Sanae Takaitsji, premier van Japan, het die ernstigste diplomatieke krisis tussen die twee Oos-Asiatiese lande in jare ontketen toe sy vandeesmaand aan Japanse wetgewers gesê het dat ’n Chinese aanval op Taiwan wat Japan se oorlewing bedreig, ’n militêre reaksie tot gevolg kan hê. – Reuters

Sanae Takaichi, premier van Japan. Foto: Getty Images/Kyodo News
2025-11-18 03:46:16
Huis van verteenwoordigers stem Dinsdag oor Epstein-lêers
Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers sal Dinsdag stem oor die openbaarmaking van lêers oor die ondersoek na die veroordeelde seksoortreder wyle Jeffrey Epstein.
Dit is hoogs waarskynlik dat die huis van verteenwoordigers ten gunste van die openbaarmaking daarvan sal stem nadat pres. Donald Trump dit Sondag van sy mede-Republikeine versoek het.
“Dit moet beskikbaar gestel word, want ons het niks om weg te steek nie,” het Trump gesê.
Die Republikeine het ’n meerderheid in die huis van verteenwoordigers. – Reuters
2025-11-18 04:04:49
Wêreld moet meer doen om aardverwarming te stuit, raas pous Leo
Pous Leo het Maandag regerings wêreldwyd gekritiseer omdat hulle tot dusver nie daarin geslaag het om aardverwarming te vertraag nie.
Die pous se boodskap weerspieël toenemende kommer weens ’n gebrek aan internasionale samewerking om koolstof-emissies te verlaag sedert die Parys-ooreenkoms, reeds ’n dekade gelede.
Lande is tans in die tweede week van onderhandelinge op die COP30-klimaatberaad van die Verenigde Nasies in Brasilië.
“Die skepping roep uit deur middel van vloede, droogtes, storms en genadelose hitte,” het die pous gesê in ’n video wat by ’n geleentheid op die beraad gespeel het. – Reuters
2025-11-18 04:29:12
VN keur resolusie goed wat internasionale mag in Gasastrook insluit
Die Verenigde Nasies se veiligheidsraad het Maandag ten gunste ’n resolusie gestem wat pres. Donald Trump se vredesplan vir die Gasastrook versterk.
Die plan sluit in die ontplooiing van ’n internasionale stabiliseringsmag (ISF) en die vorming van ’n vredesraad (BoP) en noem vir die eerste keer die moontlikheid van ’n toekomstige Palestynse staat – iets wat Israel steeds teenstaan.
Hamas, wat deur die resolusie van enige rol in die regering van die Gasastrook uitgesluit word, het gesê die resolusie voldoen nie aan die Palestyne se “politieke en humanitêre eise en regte” nie. – AFP
2025-11-18 04:43:48
Venezolaanse dokter 30 jaar tronk toe nadat sy regering kritiseer
’n Hof in Venezuela het ’n dokter tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy die regering van pres. Nicolás Maduro in ’n stemboodskap op WhatsApp gekritiseer het, het menseregtegroepe Maandag gesê.
Marggie Orozco (65) is die maksimum vonnis opgelê vir “verraad, aanhitsing tot haat en sameswering” nadat gemeenskapsleiers wat die boodskap as dislojaal beskou haar aangegee het.
Nóg die inhoud van die boodskap nóg die beoogde ontvanger daarvan is bekend gemaak. – AFP
2025-11-18 05:11:49
11 vas nadat gesin in Istanbul sterf
Elf mense is in hegtenis geneem in verband met die dood van vier lede van dieselfde gesin in Istanbul, Turkye, het die staatsbeheerde nuusagentskap Anadolu Maandag berig.
’n Turks-Duitse vrou, haar man en hul twee kinders van Duitsland wat met vakansie was, het Woensdag siek geword nadat hulle verskeie gewilde straatkosgeregte geëet het.
Die twee kinders is Donderdag dood en die ma ’n dag later. Die pa is Maandag dood.
’n Ondersoek het aanvanklik op moontlike voedselvergiftiging gefokus. Bewyse het sedertdien na vore gekom dat die gesin moontlik aan plaagdoders blootgestel is in die hotel waar hulle tuisgegaan het. – AFP
2025-11-18 05:39:21
Louvre-galery gesluit weens strukturele swakhede in gebou
Die Louvre-museum in Parys het een van sy galerye as ’n voorsorgmaatreël gesluit nadat ’n oudit strukturele swakhede in sommige van die balke in die gebou aan die lig gebring het.
Die Campana-galery, wat nege kamers huisves wat aan antieke Griekse keramiek toegewy is, sal gesluit wees terwyl ondersoeke gedoen word, luidens ’n verklaring.
Die aankondiging hou nie verband met die onlangse rooftog in dié Franse museum nie, maar is opnuut onwelkome nuus vir ’n instelling wat reeds hewig onder kritiek deurgeloop het weens onvoldoende veiligheidsmaatreëls. – AFP
2025-11-18 05:53:52
China stel Japannese rolprentvertonings uit
Die vertonings van minstens twee Japannese rolprente sal in China uitgestel word, het staatsmedia berig.
Vroeër is berig Sanae Takaitsji, premier van Japan, het ’n diplomatieke krisis ontketen toe sy vandeesmaand aan Japanse wetgewers gesê het dat ’n Chinese aanval op Taiwan wat Japan se oorlewing bedreig, ’n militêre reaksie tot gevolg kan hê.
China beskou Taiwan as deel van sy gebied en het gedreig om dwang te gebruik om die demokratiese eiland onder sy beheer te bring. – AFP
2025-11-18 06:19:02
N-Korea frons oor S-Korea en VSA se ooreenkoms oor kern-duikbote
Noord-Korea het ’n ooreenkoms tussen Suid-Korea en Amerika om kernaangedrewe duikbote te bou veroordeel en sê die ooreenkoms sal ’n “kern-domino-effek” veroorsaak.
Pres. Lee Jae Myung van Suid-Korea het verlede week die finalisering van ’n veiligheids- en handelsooreenkoms met die VSA aangekondig, wat planne insluit om voort te gaan met die ontwikkeling van kernaangedrewe vaartuie.
Staatsmedia berig Noord-Korea sê dat die program ’n “gevaarlike poging tot konfrontasie” is. – AFP
2025-11-18 06:41:00
Suid-Soedan se Kiir stel gewese visepresident weer aan
Pres. Salva Kiir van Suid-Soedan het James Wani Igga, sy voormalige visepresident, heraangestel in dieselfde posisie, het die staatsuitsaaier berig.
Kiir het vroeër, sonder om redes te verskaf, ’n bondgenoot afgedank wat wyd as ’n potensiële opvolger beskou is. Daar is bespiegelinge oor ’n interne magstryd en bewerings van die misbruik van regeringsgeld.
Nadat Kiir die laaste paar jaar herhaaldelik senior amptenare afgedank, weer aangestel en soms weer afgedank het, neem vrese toe dat ’n burgeroorlog opnuut kan uitbreek.
Igga het as visepresident gedien van 2013 totdat hy in Februarie vanjaar afgedank is. – Reuters
2025-11-18 07:11:22

’n Persoon wat herwinbare materiaal vir ’n inkomste versamel, werk Dinsdagoggend te midde van rookmis en lugbesoedeling in Karatsji, Pakistan. Foto: Reuters
2025-11-18 07:31:14
China beloof om buitelanders te beskerm
China het Dinsdag beloof om die “veiligheid” van buitelanders in die land te beskerm nadat Japan sy burgers in China gewaarsku het om versigtig te wees.
Toe sy oor die waarskuwing gevra is, het Mao Ning, woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake, gesê die “Chinese regering het nog altyd en sal steeds die veiligheid van buitelandse burgers in China beskerm in ooreenstemming met die wet”. – AFP
2025-11-18 07:39:19
Merz, Macron doen beroep om groter Europese digitale ‘soewereiniteit’
Friedrich Merz, bondskanselier van Duitsland, en Emmanuel Macron, president van Frankryk, sal Dinsdag kragte saamsnoer om druk uit te oefen vir groter Europese digitale “soewereiniteit” en minder afhanklikheid van Amerikaanse kunsmatige-intelligensie (KI)-maatskappye.
Die leiers sal die besluit neem op ’n spitsberaad in Berlyn, wat ook bygewoon sal word deur uitvoerende hoofde van topmaatskappye in die streek.
Met KI wat ’n toenemend belangrike rol in baie sektore gaan speel, reageer Europese leiers op toenemende oproepe dat die vasteland groter beheer oor sy eie digitale bestemming moet neem. – AFP
2025-11-18 08:23:24
Voormalige premier van Thailand gelas om $542 m. in belasting te betaal
Die hooggeregshof in Thailand het Thaksin Sjinawatra, voormalige premier, gelas om meer as $542 miljoen in belasting te betaal uit verkope van aandele in 2006.
Thaksin het in 2006 aandele van Shin Corp, ’n telekommunikasiemaatskappy wat hy gestig het, aan die maatskappy Temasek in Singapoer verkoop.
Dit het kommer gewek oor ’n belangebotsing, sowel as bewerings van belastingontduiking.
Hy het destyds gesê die transaksie was in ooreenstemming met die reëls.
Dit het egter betogings ontketen wat uiteindelik daartoe gelei het dat die weermag hom later daardie jaar omvergewerp en die mag oorgeneem het. – Reuters
2025-11-18 08:30:23
Netanyahu se kantoor prys Trump se vredesplan vir Gasastrook
Die kantoor van Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het Dinsdag pres. Donald Trump se vredesplan vir die Gasastrook geprys nadat dit deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad onderskryf is.
“Ons glo dat pres. Trump se plan tot vrede en voorspoed sal lei, want dit dring aan op volle demilitarisering, ontwapening en die deradikalisering van die Gasastrook.
“Dit sal lei tot verdere integrasie van Israel en sy bure, getrou aan pres. Trump se visie...” – AFP
2025-11-18 09:25:49
Roemeense dorpenaars kan terugkeer huis toe ná aanval op Oekraïne
Sowat 200 Roemeense dorpenaars wat hul huise moes verlaat ná ’n Russiese hommeltuigaanval oor die Donau in naburige Oekraïne, kan hul terugkeer huis toe begin, het die owerhede Dinsdag gesê.
Die verwydering van die inwoners van twee dorpe was die eerste tot nog toe in Roemenië weens die oorlog in Oekraïne.
Dit het gekom nadat die aanval, wat oornag Sondag tot Maandag geduur het, ’n skip wat vloeibare petroleumgas vervoer laat vlamvat het. – AFP
2025-11-18 09:54:13
President van Filippyne gebruik dwelms, beweer suster
Die kantoor van Ferdinand Marcos jr., president van die Filippyne, het Dinsdag bewerings deur sy vervreemde suster verwerp dat hy dwelms gebruik.
Sen. Imee Marcos het Maandag op ’n saamtrek teen korrupsie gesê dat haar broer sedert hul jeugjare met dwelmgebruik sukkel en dat dit tot vandag toe voortduur. Sy het geen bewyse gelewer nie.
Marcos se kantoor het daarop gewys dat hy in 2021 negatief vir dwelms getoets is tydens sy verkiesingsveldtog. – Reuters
2025-11-18 10:25:18
Voormalige uitvoerende hoof vas weens wanbetaling van lening van $138 m.
Die owerhede van Indonesië het Dinsdag gesê hulle het ’n Chinese eiendomsbestuurder in hegtenis geneem wat gesoek word weens die wanbetaling van ’n korporatiewe lening van $138 miljoen.
Die 58-jarige man, wat slegs as WZ geïdentifiseer is, is Donderdag op die eiland Batam in hegtenis geneem nadat die owerhede ’n versoek van die Chinese ambassade in Djakarta ontvang het.
Die man was ’n voormalige uitvoerende hoof en direkteur van ’n Chinese eiendomsmaatskappy. – AFP
2025-11-18 10:49:03
Maatskappy wat water in Gasastrook verskaf, staak bedrywighede
’n Maatskappy wat ontsoutingsaanlegte in die Gasastrook bedryf en byna die helfte van die enklawe se bevolking bedien, het sy bedrywighede gestaak nadat een van sy personeellede deur Hamas in hegtenis geneem is.
Youssef Yassin, ’n direksielid van die Abdul Salam Yassin-maatskappy, sê die stap sal meer as 1 miljoen mense raak wat water van die maatskappy ontvang.
Meer as 70 vragmotors wat waterhouers oor die enklawe heen vervoer, het ook bedrywighede gestaak.
“Ek weet dit is katastrofies, maar die beskerming van ons werknemers is ’n heilige saak,” het Yassin aan Reuters gesê. – Reuters

’n Vrou dra Maandag ’n bottel water in Chan Joenis in die Gasastrook. Foto: Getty Images/Anadolu
2025-11-18 11:23:59
Trump noem stemmery oor Epstein-lêers 'n ‘Demokraat-foefie’
Pres. Donald Trump beskryf die stemming oor die bekendmaking van die lêers deur die departement van justisie oor die oorlede veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein as “ ’n Demokraat-foefie”.
Die Republikeins-beheerde Amerikaanse huis van verteenwoordigers sal na verwagting Dinsdag stem om die bekendstelling van die Epstein-lêers af te dwing. Trump het ook vroeër gesê hy het geen verbintenis met Epstein se misdade nie.
Dit is so te sê 'n uitgemaakte saak dat die stemming Dinsdag sal slaag. Indien dit gebeur, sal 'n resolusie wat die bekendstelling van alle ongeklassifiseerde inligting oor Epstein vereis, vir oorweging aan die senaat gestuur word. – Reuters
2025-11-18 11:33:05
Singapoer lê beslag op rekordgetal renosterhorings
Singapoer het meer as $870 000 se onwettige renosterhorings en dieroorskot gekonfiskeer wat in lugvrag op pad na Laos versteek is. Volgens die owerhede in Singapoer is dit die grootste besending in sy soort wat ontdek is.
Singapoer se nasionale parkeraad en SATS, 'n lugvraghanteerder, sê in 'n gesamentlike verklaring dat die items 10 dae gelede gevind is.
"Dit is die grootste beslaglegging op renosterhorings in Singapoer tot nog toe," lui 'n verklaring. Die 20 renosterhorings is afkomstig van witrenosters in Suid-Afrika. Die owerhede ondersoek die oorsprong van die ander dieroorskot. – AFP
2025-11-18 11:42:48
Nigeriese soldate moet 'dag en nag' soek na ontvoerde skoolmeisies
Nigeriese soldate is beveel om “dag en nag” te soek na die 25 skoolmeisies wat in die noordwestelike deel van die land deur djihadiste en misdaadbendes ontvoer is.
Die aanval Maandag op 'n hoërskool in die deelstaat Kebbi is die jongste in 'n reeks ontvoerings van skoolkinders in Nigerië. Die onderhoof van die Government Girls Comprehensive Secondary School in die dorp Maga is ten tyde van die aanval vermoor.
"Julle moet dag en nag soek. Ons moet hierdie kinders vind," het genl.maj. Waidi Shaibu, weermaghoof, Maandag gesê aan troepe wat in Kebbi ontplooi is. – Reuters
2025-11-18 12:04:53
8 vasgetrek oor komplot om Brusselse aanklaer te vermoor
Belgiese owerhede het Dinsdag aangekondig dat agt persone in hegtenis geneem is weens ’n moontlike komplot om Julien Moinil, die hoofaanklaer van Brussel, te vermoor. Die arrestasies volg op die deursoek van 18 persele, hoofsaaklik in die Brusselse omgewing.
Die Belgiese staatsaanklaer het bevestig dat die polisie in Julie 2025 in kennis gestel is van die komplot. Die hoofverdagtes het glo bande met georganiseerde dwelmhandel en sommige van hulle is moontlik lede van die Albanese mafia.
Brussel beleef die laaste paar jaar ’n toename in geweld weens dwelmbendes, met die owerhede wat meen meer as 100 van Europa se gevaarlikste misdaadsindikate is in België bedrywig. – Reuters
2025-11-18 12:06:11
Al hoe meer migrante stroom Engeland binne

'n Lugfoto wys bote en motorboot-enjins wat deur migrante gebruik is om die Engelse Kanaal oor te steek. Dit word op 'n perseel van die departement van binnelandse sake in Dover, Engeland, geberg. Foto: Getty Images
2025-11-18 12:19:50
Spanje wil Oekraïne help met ‘aansienlike’ hulppakket
Spanje het belowe om 'n "aansienlike" hulppakket aan Oekraïne beskikbaar te stel terwyl pres. Wolodimir Zelenski Dinsdag Madrid besoek. Die doel van die pakket is om Oekraïne se lugverdediging teen Rusland se inval te versterk.
Zelenski, wat later Dinsdag met Pedro Sánchez, Spaanse premier, vergader, het reeds radar en hommeltuig-spesialiste met Margarita Robles, Spaanse minister van verdediging, bespreek.
Zelenski se besoek aan Spanje kom te midde van 'n toename in Russiese hommeltuig- en missielaanvalle in Oekraïne die laaste paar weke. – Reuters
2025-11-18 13:11:03
2 Oekraïners pleeg glo vir Russe sabotasie in Pole
Twee Oekraïners wat vir Rusland werk, is as verdagtes geïdentifiseer in twee voorvalle van sabotasie in Pole, het Donald Tusk, Poolse premier, Dinsdag in ’n toespraak in die parlement gesê.
Die verdagtes “werk al lank vir Russiese dienste”, het Tusk gesê, met verwysing na inligting van aanklaers en ondersoekers.
Tusk het bygevoeg dat owerhede bewus is van die verdagtes se identiteit, maar dat dit nie openbaar gemaak sal word nie hangende verdere ondersoek.
Die sabotasie, wat tussen Saterdag en Maandag plaasgevind het, het ’n spoorlyn beskadig wat help om Oekraïne van water te voorsien. – AFP
2025-11-18 13:17:28
Duitsland eis dat Serwië kies tussen EU en Rusland
Johann Wadephul, Duitse minister van buitelandse sake, het Dinsdag Serwië se regering, wat noue bande met Rusland het, aangespoor om te kies tussen aansluiting by die Europese Unie (EU) of om eerder ’n pad van “gemengde seine” te volg.
Wadephul het aan die media gesê dat dié Balkan-nasie moet besluit of hy homself “by Europese standpunte in buitelandse en veiligheidsbeleid sal aansluit”.
“Of gemengde seine stuur wat onversoenbaar is met die fundamentele waardes van die EU,” het Wadephul gesê.
Serwië bly een van die min lande wat nie sanksies teen Rusland opgelê het ná sy inval in Oekraïne in 2022 nie. – AFP
2025-11-18 13:23:40
Vliegvertoning in Dubai

Vlieëniers van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se lugmag lewer ’n vliegvertoning by die Al-Maktoem- internasionale lughawe tydens ’n lugskou in Dubai. Foto: AFP
2025-11-18 13:57:19
Macron vra dringende optrede ná moord in Marseille
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Dinsdag sy kabinet versoek om die stryd teen dwelmmisdaad te verskerp ná die onlangse moord op Mehdi Kessaci (20), broer van die bekende aktivis teen dwelms Amine Kessaci, in Marseille.
Dié stad is al geruime tyd ’n brandpunt van dwelmoorloë, met reeds 14 sterftes vanjaar wat daaraan toegeskryf kan word.
Ná ’n spoedvergadering by die Élysée-paleis het Laurent Nuñez, Frankryk se minister van binnelandse sake, gesê Macron beskou die moord as ’n keerpunt en dring aan op strenger maatreëls, insluitend die beskerming van informante, verbeterde onderskepping van dwelms by hawens en lughawens, en nouer samewerking met oorsese wetstoepassers. – AFP
2025-11-18 13:59:46
Ierse minister bedank, aanvaar pos by Wêreldbank
Paschal Donohoe het Dinsdag as Ierland se minister van finansies en president van die Eurogroep bedank om 'n senior pos by die Wêreldbank te aanvaar, ’n verrassende stap wat die koalisieregering sonder een van sy mees ervare lede laat.
Donohoe het byna ’n dekade lank een van die twee hoofbegrotingsposte beklee en het in 2017 die eerste keer minister van finansies geword.
Hy is in Januarie ná ’n verkiesing in Ierland heraangestel in die rol en in Julie vir die derde keer herkies as voorsitter van die groep ministers van finansies van die eurosone, in ’n termyn wat twee en ’n half jaar sou geduur het.
Donohoe sal later vandeesmaand by die Wêreldbank as een van sy besturende direkteure aansluit. – Reuters
2025-11-18 14:00:49
‘Verskoon tog my Spaans’

Pres. Wolodimir Zelenski (links) van Oekraïne en Spanje se koning Felipe ontmoet by die Zarzuela-paleis in Madrid in Spanje. Foto: Reuters
2025-11-18 15:02:18
MI5 reik spioenasiewaarskuwing aan Britse LP’s uit
MI5, Brittanje se binnelandse intelligensie-agentskap, het ’n "spioenasiewaarskuwing" uitgereik en LP’s gewaarsku dat China probeer om parlementslede te werf deur spioene wat hulle as werwingsagente voordoen, het die veiligheidminister, Dan Jarvis, Dinsdag gesê.
"Vroeër vandag het MI5 ’n spioenasiewaarskuwing aan die parlement en parlementêre personeel uitgereik om hulle te waarsku oor die voortdurende aanslag op ons demokratiese instellings deur Chinese rolspelers," het Jarvis in ’n verklaring aan die Britse laerhuis gesê. – AFP
2025-11-18 15:26:51
1 dood, 3 gewond in voertuig- en mesaanval in Wesoewer
Een persoon is Dinsdag dood en drie gewond in ’n aanval met ’n voertuig en mes in die besette Wesoewer, het die Israeliese nooddienste gesê.
Paramedici en ’n mediese span van die weermag "het die dood van ’n 30-jarige man aan ’n steekwond bevestig en drie beseerdes na twee Jerusalem-hospitale geneem", het Magen David Adom (MADA), die Israeliese ekwivalent van die Rooi Kruis, in ’n verklaring gesê.
In ’n aparte verklaring het die weermag gesê dat soldate "twee terroriste op die toneel uitgeskakel het" en dat "plofbare stowwe in hul voertuig gevind is." – AFP
2025-11-18 15:40:38
Watertaxi

’n Inwoner van die Kohoto-landgoed in Naivasha, Kenia, gebruik Dinsdag ’n stootstok om sy selfgemaakte vlot oor ’n oorstroomde toegangsweg na sy woonplek te stuur. Swaar reën in Kenia het veroorsaak dat die water van die Naivashameer, 100 km noordwes van die hoofstad, Nairobi, nabygeleë huise oorstroom het. Foto: AFP
2025-11-18 16:02:22
Kremlin beskuldig Pole van 'Russofobie' ná spoorwegsabotasie
Die Kremlin het Pole Dinsdag daarvan beskuldig dat hy hom aan Russofobie skuldig maak nadat die land die skuld vir ’n ontploffing op ’n spoorlyn op twee Oekraïense burgers gepak het wat, volgens hulle, deur Russiese intelligensie gewerf is.
Die ontploffing was op 'n belangrike spoorlyn wat help om Oekraïne van water te voorsien.
"Rusland word beskuldig van alle manifestasies van die oorlog wat aan die gang is," het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, aan Russiese staatstelevisie gesê. "En Russofobie floreer natuurlik daar (in Pole)." – Reuters
2025-11-18 16:27:08
Engeland verbied eersdaags afveelappies oor verstoppings
Engeland gaan afveelappies wat plastiek bevat, ’n groot oorsaak van besoedeling en rioolpypverstoppings, verbied.
Die Britse regering het hierdie maatreëls Dinsdag aangekondig om riviere, mere en strande te beskerm.
Die natuur sal skoner wees danksy die maatreëls wat vroeg in 2027 van krag sal word, lui ’n verklaring van die omgewingsministerie.
Die organisasie UK Water Industry Research het bevind dat hierdie klamlappies tot 94% van rioolverstoppings bydra, wat jaarliks sowat $260 miljoen kos om te herstel. – AFP
2025-11-18 16:44:34
Trump verwelkom Saoedi-kroonprins by Withuis
Die Saoedi-kroonprins Mohammed bin Salman, Saoedi-Arabië se premier en de facto-heerser, is Dinsdag met groot fanfare en ’n verbyvlug by die Withuis verwelkom op sy eerste besoek aan Amerika sedert die moord op die joernalis Jamal Khashoggi in 2018.
Pres. Donald Trump het die kroonprins met sy aankoms gegroet, omring deur hoë Amerikaanse en Saoedi-amptenare, terwyl ’n groep vegvliegtuie in formasie oorgevlieg het. – AFP

Pres. Donald Trump en kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië Dinsdag buite die Withuis. Foto: AFP
2025-11-18 17:10:40
Merz maak Brasiliane die josie in met minagtende opmerkings oor Belém
Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, het ’n golf van verontwaardiging in Brasilië ontketen nadat hy minagtend oor Belém, gasheerstad van die COP30-klimaatberaad, gepraat het. Merz het by sy terugkeer verklaar dat geen joernalis wat hom vergesel het, daar sou wou bly nie en het bygevoeg dat almal verlig is om weer in Duitsland te wees.
Sy opmerkings is wyd as arrogant en bevooroordeeld bestempel. Volgens Igor Normando, burgemeester van Belém, staan Merz se houding in skerp kontras met die respek wat gewone Duitsers aan die stad betoon.
Merz het later sy spyt uitgespreek dat hy nie meer tyd daar kon deurbring om die natuurskoon van die streek te waardeer nie en het die aanbieding van die beraad geloof. – AFP

Friedrich Merz Foto: Getty Images
2025-11-18 17:13:55
Agt tronkstraf opgelê nadat sewe migrante sterf toe boot omslaan
’n Franse hof het Dinsdag agt mans tot tussen drie en 15 jaar tronkstraf gevonnis weens die dood van sewe mense toe ’n migranteboot in 2023 in die Engelse Kanaal omgeslaan het.
Twee 45-jarige Irakse Koerde, geïdentifiseer as die leiers van die smokkelaarsnetwerk, het die swaarste vonnisse ontvang – 12 en 15 jaar – weens die dood van sewe Afgane wat probeer het om Brittanje te bereik. – AFP

Migrante uit Noord-Afrika wat probeer het om die Middellandse See oor te steek, Dinsdag op hul rubberbootjie nadat die Griekse Kuswag hulle aan die suidkus van die eiland Kreta onderskep het. Foto: AFP
2025-11-18 17:22:22
Kroonprins met prag en praal begroet tydens sy besoek aan Amerika
Pres. Donald Trump het Dinsdag kroonprins Mohammed bin Salman by die Withuis onthaal, met die Saoedi-Arabiese de facto-heerser wat poog om sy globale beeld verder te rehabiliteer ná die moord op die Amerikaanse joernalis Jamal Khashoggi in 2018.
Die kroonprins is tydens sy eerste besoek aan die Withuis in meer as sewe jaar begroet met ’n oordadige vertoon van prag en praal, kompleet met ’n militêre erewag, ’n kanonsaluut en ’n oorvlieg deur Amerikaanse vegvliegtuie.
Gesprekke tussen die twee leiers behels onder meer veiligheidsbetrekkinge, burgerlike samewerking en multimiljarddollar-saketransaksies met Saoedi-Arabië. – Reuters
2025-11-18 18:26:46
Kroonprins sê Khashoggi-moord was ‘groot fout’
Die Saoedi-kroonprins, Mohammed bin Salman, het Dinsdag gesê die moord op die Washington Post-rubriekskrywer Jamal Khashoggi in 2018 was 'n "groot fout" toe hy met pres. Donald Trump by die Withuis vergader het.
Trump het Khashoggi as "uiters omstrede" beskryf en bygevoeg: "Baie mense het nie van daardie heer gehou van wie jy praat nie, of jy nou van hom hou of nie, dinge het gebeur, maar hy (die prins) het niks daarvan geweet nie."
"Dit is pynlik en dit is 'n groot fout, en ons doen ons bes dat dit nie weer gebeur nie,” het die kroonprins gesê. – AFP
2025-11-18 18:30:14
Trump onthaal Saoedi-kroonprins

Pres. Donald Trump ontvang die Saoedi-kroonprins, Mohammed bin Salman, tydens sy amptelike besoek by die Withuis in Washington. Foto: Getty Images
2025-11-18 19:00:40
Rusland sal nie deelneem aan samesprekings in Istanbul
Die Kremlin het Dinsdag gesê Russiese verteenwoordigers sal nié vandeesweek deelneem aan samesprekings in Turkye oor die oorlog in Oekraïne nie.
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het vroeër aangedui hy sal Woensdag in Istanbul wees in ’n poging om onderhandelinge met Rusland te laat herleef om die oorlog te beëindig.
Volgens bronne sal Steve Witkoff, die Amerikaanse spesiale gesant, ook aan die samesprekings deelneem.
Dmitri Peskof, woordvoerder van die Kremlin, het aan verslaggewers gesê pres. Wladimir Poetin van Rusland is oop vir gesprekvoering met Amerika en Turkye oor die uitkoms van die samesprekings in Istanbul. – AFP
2025-11-18 19:29:54
Trump verdedig Saoedi-prins oor moord op Khashoggi
Pres. Donald Trump het die Saoedi-kroonprins, Mohammed bin Salman, Dinsdag in verband met die grusame moord deur Saoedi-agente op die Amerikaans gebaseerde joernalis Jamal Khashoggi verdedig en die prins se menseregterekord geprys.
Khashoggi, ’n rubriekskrywer vir The Washington Post en kritikus van Saoedi-Arabië, was "uiters omstrede", het Trump gesê terwyl hy die kroonprins in die Withuis verwelkom het.
"Baie mense was nie lief vir daardie heer van wie jy praat nie. Of jy hom nou liefgehad het of nie, dinge het gebeur, maar hy (die prins) het niks daarvan geweet nie," het Trump aan verslaggewers gesê.
Khashoggi is in 2018 in die Saoedi-konsulaat in Istanbul, Turkye, vermoor. – AFP
2025-11-18 19:48:34
VSA-wetgewers stem om Epstein-lêers openbaar te maak
Die Republikeins beheerde Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Dinsdagaand ten gunste van ’n wetsontwerp gestem om die lêers oor die ondersoek na die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein openbaar te maak.
Die goedkeuring van die Epstein Files Transparency Act dwing die openbaarmaking af van nie-geklassifiseerde dokumente oor die ondersoek na Epstein se bedrywighede en sy dood in aanhouding in 2019, wat as selfmoord verklaar is.
Dit sal nou vir oorweging aan die senaat gestuur word. – AFP

Donald Trump (die toekomstige Amerikaanse president), sy vriendin (en toekomstige vrou), Melania Knauss, Jeffrey Epstein en Ghislaine Maxwell poseer in 2000 vir ’n foto in die Mar-a-Lago-klub in Palm Beach, Florida. Foto: Getty Images
2025-11-18 20:04:53
Meta het nie ’n sosialemedia-monopolie, beslis regter
’n Amerikaanse regter het Dinsdag die Federale Handelskommissie (FTC) se saak teen Meta van die hand gewys en beslis dat die tegnologiereus nie ’n sosialemedia-monopolie besit nie.
Die uitspraak is ’n beduidende oorwinning vir Meta ná ’n vyf jaar lange regstryd. Die FTC het die saak in Desember 2020 aanhangig gemaak en aangevoer die maatskappy het onwettig sy monopolie gehandhaaf deur Instagram in 2012 en WhatsApp in 2014 te verkry om mededingende bedreigings uit te skakel. – AFP
2025-11-18 20:19:57
Sneeustorm in Patagonië eis minstens 5 toeriste
Reddingswerkers het Dinsdag laat nog gesoek na ’n groep toeriste wat in ’n kragtige sneeustorm in Chili se Torres del Paine Nasionale Park in die suidelike Patagonië-streek verdwaal het.
Minstens vyf mense is dood, onder wie twee Mexikane, twee Duitsers en een Brit, het die owerhede gesê. Die gure weer bemoeilik pogings om diegene wat nog vermis word, op te spoor. Dit is nie bekend hoeveel mense vermis word nie.
Die toeriste het naby die reservaat se Los Perros-kamp verdwaal. Dié gebied is slegs bereikbaar deur ’n vier tot vyf uur lange staptog vanaf die naaste toeganklike punt per voertuig.
Die gebied is deur ’n sneeustorm getref met wind van meer as 193 km/h. – Reuters
2025-11-18 20:32:02
11 sterf in Israeliese aanval op Palestynse kamp in Libanon
Libanon het Dinsdag gesê minstens 11 mense is dood in ’n Israeliese aanval op ’n Palestynse vlugtelingkamp by die suidelike stad Sidon.
Op sy beurt het Israel gesê hy het ’n Hamas-kompleks aangeval wat volgens hom deur die militante groep vir opleiding gebruik is.
In ’n kort verklaring het die Israeliese weermag gesê hy het opgetree teen “Hamas se vestiging in Libanon”. – AFP, Reuters
2025-11-19 03:19:34
Tiener wat van moskee-aanval verdink word, was ‘eensaam’
’n Indonesiese tiener (17) wat daarvan verdink word dat hy ’n bomaanval by sy skool se moskee in Djakarta uitgevoer het, het in sy dagboek geskryf dat hy geïsoleerd voel.
Hy het ook inspirasie geput het uit ’n Telegram-groep wat wit heerssugtige aanvalle verheerlik, volgens nuwe besonderhede wat die polisie bekom het.
Die ontploffings vroeg in November het aanbidders getref terwyl hulle vir Vrydaggebede tougestaan het.
Altesaam 96 mense is beseer.
“Hy wou deur lede van die aanlyn gemeenskap erken word ... omdat hy eensaam voel,” het die polisie gesê. – Reuters
2025-11-19 03:28:54
Brand in Japan versprei na meer as 170 geboue
’n Brand het oornag na meer as 170 geboue in die suide van Japan versprei en is steeds nie heeltemal geblus nie, het die nasionale brandweeragentskap Woensdag gesê.
Ongeveer 175 inwoners van die Saganoseki-distrik van die stad Oita het na ’n noodskuiling gevlug nadat die brand Dinsdag omstreeks 17:40 plaaslike tyd uitgebreek het.
Een persoon word steeds vermis. Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.
Plaaslike media het berig dat die vlamme ook na nabygeleë beboste hellings versprei het. – Reuters

Rook styg Woensdag op vanaf die terrein waar ’n massiewe brand deur meer as 170 geboue gebrand het, soos gesien vanuit ’n helikopter, in die stad Oita, Japan. Foto: Kyodo via Reuters
2025-11-19 03:46:25
Ultraverwerkte kosse is wêreldwyd gesondheidsbedreiging – kenners
Ultraverwerkte voedsel is ’n groot openbare gesondheidsbedreiging wat dringend aangepak moet word, luidens ’n reeks nuwe artikels deur 43 kenners wêreldwyd in die mediese joernaal Lancet.
Die wetenskaplikes, onder wie die Brasiliaanse professor wat die term sowat 15 jaar gelede saam met kollegas geskep het, voer aan dat ultraverwerkte voedsel wêreldwyd al hoe meer algemeen voorkom en verbind word met ’n dieet van ’n swakker gehalte en etlike gesondheidskwessies, van vetsug tot kanker.
“Dit gaan oor die bewyse wat ons vandag het oor ultraverwerkte voedsel en menslike gesondheid,” het prof. Carlos Monteiro, verbonde aan die Universiteit van São Paulo, gesê.
“Wat ons nou weet, regverdig wêreldwye openbare optrede.” – Reuters
2025-11-19 04:19:36
WGO voorspel werksmag gaan met kwart krimp
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) voorspel sy werksmag sal teen die middel van volgende jaar met byna ’n kwart, of meer as 2 000 poste, verminder.
Pres. Donald Trump se administrasie, die WGO se topdonateur, het in Januarie aan die organisasie onttrek, wat die WGO genoop het om sy werk af te skaal en sy bestuurspan met die helfte te verminder.
Die WGO voorspel dat sy werksmag teen Junie 2026 met 2 371 poste sal krimp vanaf 9 401 in Januarie 2025 weens afdankings, aftrede en vertrekke. – Reuters
2025-11-19 04:39:38
40% jong Britte steun op KI vir raad, geselskap
Sowat 40% van jongmense in Brittanje wend hulle tot kunsmatige intelligensie (KI) vir raad, ondersteuning of geselskap, maar baie van hulle smag na bande met regte mense in die werklike lewe, toon navorsing.
Byna 20% uit die 40% het gesê hulle wend hulle tot KI omdat dit makliker is as om met ’n medemens te praat, terwyl een uit 10 sê dat hulle niemand anders het om mee te praat nie.
Slegs 6% wat met kletsbotte praat, vertrou hulle meer as ’n regte mens.
Die jaarlikse verslag word sedert 2022 in opdrag van ’n jeugliefdadigheidsorganisasie gedoen.
Ongeveer 5 000 mense tussen 11 en 18 jaar oud was deel van die studie. – AFP
2025-11-19 04:54:26
4 lank tronk toe ná moordkomplot teen Brasilië se president
Die hooggeregshof in Brasilië het Dinsdag drie elite-soldate en ’n polisiebeampte tot lang tronkstraf gevonnis weens ’n komplot om pres. Luiz Inácio Lula da Silva te vermoor nadat hy die verkiesings in 2022 gewen het.
Die mans is vonnisse van 21 tot 24 jaar opgelê nadat hulle skuldig bevind is aan deelname aan ’n komplot wat bedoel was om Jair Bolsonaro, voormalige weermagkaptein, aan die bewind te hou nadat hy teen Lula verloor het.
Bolsonaro (70) is in September tot 27 jaar tronkstraf gevonnis omdat hy die komplot gelei het. – AFP
2025-11-19 05:49:40
Chinese premier besoek Zambië
Zambië sal vir die eerste keer in 28 jaar gasheer wees vir ’n Chinese premier namate die land uit ’n finansiële krisis te voorskyn kom.
China is gretig om toegang tot die land se kommoditeite te verkry en ’n groter mark vir sy uitvoerders te ontwikkel.
China is Zambië se grootste amptelike krediteur met $5,7 miljard wat verskuldig is.
China het gesê hy wil onder meer wys hoe Afrika-nasies met hul hulp van finansiële krisisse kan herstel.
Premier Li Qiang se aankoms Woensdag in Lusaka is deel van ’n poging om China se teenwoordigheid in die land te verdiep. – Reuters
2025-11-19 06:01:18
36 beseer in Russiese hommeltuigaanvalle in Oekraïne
Minstens 36 mense is oornag beseer toe Russiese hommeltuigaanvalle woongeboue in die stad Charkif in Oekraïne geteiken het.
Tientalle mense het uit hul wonings gevlug, het streeksamptenare gesê.
Volgens voorlopige inligting het Russiese magte net ná middernag 19 hommeltuigaanvalle op drie distrikte in Charkif uitgevoer.
Dit is die derde sodanige aanvalle op die streek binne drie dae.
Charkif is ongeveer 30 km vanaf die Russiese grens. – Reuters, AFP

’n Brandbestryder spuit Woensdag in Charkif, Oekraïne, water op vlamme naby ’n woonstelgebou wat deur ’n Russiese hommeltuigaanval getref is. Foto: Reuters
2025-11-19 06:12:53
346 vasgetrek by internet-bedrogsentrum in Mianmar
Mianmar se weermag het Woensdag gesê hy het 346 buitelanders in ’n klopjag by ’n internet-bedrogsentrum langs die Thaise grens in hegtenis geneem.
Daar is ook beslag gelê op byna 10 000 selfone.
Internet-bedrogsentrums het in Mianmar se grensstreke toegeneem en huisves bedrieërs wat internetgebruikers teiken met opsit-webwerwe en sake-ondernemings.
Die onwettige bedryf verdien jaarliks tienmiljarde dollar. – AFP
2025-11-19 06:57:44
Kiwi’s verbied voorskrifte van puberteitsblokkeerders vir trans jeug
Nieu-Seeland gaan nuwe voorskrifte vir jong transgender mense verbied van middels wat puberteit verhinder.
Die stap kom te midde van toenemende debat wêreldwyd oor hoeveel adolessente van geboortegeslag wil verander.
Die besluit het voortgespruit uit ’n bevinding van die ministerie van gesondheid oor ’n gebrek aan “hoëgehalte-bewyse wat toon wat die voordele of risiko’s is” wat die middels vir mense inhou.
Die verbod tree vanaf 19 Desember in werking. – Reuters
2025-11-19 07:41:44
‘Geen mark vir Japannese seekos’ in China weens premier se kommentaar oor Taiwan
Selfs al sou Japannese seekosprodukte na China uitgevoer word, sou daar “geen mark” daarvoor wees nie, het China se ministerie van buitelandse sake Woensdag gesê.
Die ministerie het verwys na die “woede” van Chinese burgers weens onlangse kommentaar van Sanae Takaitsji, premier van Japan.
Spanning het toegeneem nadat Takaitsji vandeesmaand in die parlement gesê het dat ’n Chinese aanval op Taiwan wat Japan se oorlewing bedreig, ’n militêre reaksie tot gevolg kan hê.
China het vroeër die dag vir Japan gesê dat hy alle invoer van Japannese seekos sal verbied.
“Gegewe die huidige situasie sou daar geen mark vir Japannese seekos hier wees nie,” het die Chinese ministerie gesê. – Reuters
2025-11-19 07:57:07
9 oornag in aanvalle in Oekraïne dood
Minstens nege mense is oornag dood in Russiese aanvalle op die stad Ternopil in die weste van Oekraïne.
Vroeër is berig 36 mense is oornag in die stad Charkif weens aanvalle dood.
Die aanvalle in Ternopil het ’n woonstelgebou van nege verdiepings getref. Tientalle mense is ook beseer. – AFP
2025-11-19 08:21:43
Bezos gaan leiersrol by KI-maatskappy inneem
Jeff Bezos, stigter van Amazon, gaan ’n operasionele leiersrol inneem by ’n nuwe kunsmatige-intelligensie (KI)-maatskappy, met $6,2 miljard in finansiering, volgens mediaberigte.
Die maatskappy, genaamd Project Prometheus, sal fokus op die benutting van KI in ingenieurswese en vervaardiging in sektore soos rekenaars, lugvaart en motors.
Bezos sal as mede-bedryfshoof dien saam met Vik Bajaj, ’n prominente navorser in Silicon Valley. – AFP
2025-11-19 08:38:59
Portret behaal meer as $236 miljoen op veiling
’n Portret deur die Oostenrykse kunstenaar Gustav Klimt is Dinsdag in New York op veiling vir $236,4 miljoen verkoop.
Dit is die tweede duurste kunswerk wat tot dusver op ’n veiling verkoop is.
Ses bieërs het 20 minute lank geveg oor die Portret of Elisabeth Lederer, wat Klimt tussen 1914 en 1916 geskilder het.
Die duurste skildery wat tot dusver op veiling verkoop is, bly die Salvator Mundi, wat aan Leonardo da Vinci toegeskryf is, wat in 2017 vir $450 miljoen gekoop is. – AFP

Die ‘Portret of Elisabeth Lederer’ deur die skilder Gustav Klimt in Sotheby’s se hoofkantoor in Manhattan, New York, op 7 November. Foto: Reuters
2025-11-19 09:24:11
2 dood in Israeliese aanval op suide van Libanon
Die Israeliese weermag het Woensdag gesê dit het twee Hezbollah-lede die vorige dag in aanvalle in die suide van Libanon doodgemaak.
Israel voer herhaalde aanvalle hier uit ondanks ’n skietstilstand tussen die land en Hezbollah.
Dit kom ’n dag nadat minstens 13 mense dood is in ’n Israeliese aanval op ’n Palestynse vlugtelingkamp in die stad Sidon.
Israel het Dinsdag gesê dit het ’n Hamas-kompleks aangeval wat volgens hom deur die militante groep vir opleiding gebruik is. – AFP
2025-11-19 09:32:55
Poetin, president van Togo vergader in Rusland
Pres. Wladimir Poetin van Rusland sal Woensdag met pres. Faure Gnassingbé van Togo in Rusland vergader.
Gnassingbé, wie se familie Togo sedert 1967 regeer, is deur Poetin genooi om Rusland te besoek, sê Togo in ’n verklaring.
“Die vergadering sal fokus op die versterking van bilaterale samewerking, veral op die gebied van diplomasie, die ekonomie, handel, landbou, energie, opleiding en voedselsekerheid.” – Reuters
2025-11-19 10:03:07
Pole gaan laaste Russiese konsulaat sluit
Die Kremlin het Woensdag Warskou se besluit betreur om Rusland se laaste konsulaat te sluit.
Radoslaw Sikorski, Poolse minister van buitelandse sake, het gesê hy gaan toestemming vir die bedryf van die konsulaat terugtrek in reaksie op ’n ontploffing op ’n spoorlyn wat Pole op Russiese intelligensie blameer.
“Betrekkinge met Pole het versleg,” sê Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder.
Volgens Peskof wil Pole “alle konsulêre en diplomatieke betrekkinge tot niet maak”.
“Dit is jammer. Dit het niks met gesonde verstand te doen nie.” – Reuters
2025-11-19 10:32:21
Minstens 2 dood, aanbidders ontvoer in aanval op kerk in Nigerië
Gewapende mans het ’n kerk in Nigerië aangeval, minstens twee mense vermoor en die pastoor en sommige aanbidders ontvoer, het die polisie en getuies Woensdag gesê.
Die aanval het Dinsdag omstreeks 18:00 in die dorp Eruku in die sentrale deel van Nigerië plaasgevind.
Dit kom dae nadat 25 meisies uit ’n kosskool ontvoer en die adjunkhoof van die skool doodgeskiet is. – Reuters
2025-11-19 10:51:54
Verhoor begin ná nagklubbrand waarin 63 sterf, meer as 200 beseer is
’n Verhoor oor een van Europa se dodelikste nagklubbrande het Woensdag in Noord-Masedonië begin.
Die brand het op 16 Maart vanjaar tydens ’n hip-hop-konsert in die dorp Kocani uitgebreek.
Dit het tot ’n stormloop in die oorvol nagklub gelei en 63 mense is dood. Meer as 200 mense is beseer.
Onder die 35 beskuldigdes is voormalige ministers, voormalige burgemeesters, gebou-inspekteurs en sekerheidsbeamptes van die nagklub. – AFP
2025-11-19 11:11:13
Vulkaanuitbarsting op Semeru in Indonesië
Die Semeru-vulkaan in Indonesië het Woensdag uitgebars, waarna die land se vulkanologiese agentskap die waarskuwingsvlak vir Java se hoogste piek tot die maksimum verhoog het.
Volgens die agentskap het die vulkaan aswolke tot 5,6 km die lug ingestuur. Inwoners is aangeraai om weens die gevaar minstens 2,5 km van die vulkaan af weg te bly. Semeru, wat meer as 3 600 m bo seevlak is, is een van Indonesië se byna 130 aktiewe vulkane.
Indonesië is geleë langs die sogenaamde “Pasifiese Ring van Vuur” – ’n gebied met intense seismiese aktiwiteit waar verskeie aardkorsplate mekaar ontmoet en talle aardbewings en vulkaanuitbarstings voorkom. – Reuters
2025-11-19 11:18:10
Plan om Gasastrook te 'stabiliseer': EU gaan 3 000 polisielede oplei
Die Europese Unie (EU) beplan om tot 3 000 Palestynse polisiebeamptes in die Gasastrook op te lei, soortgelyk aan sy huidige inisiatief aan die Wesoewer.
Volgens ’n EU-amptenaar is daar ’n dringende behoefte aan ’n sterk polisiemag om stabiliteit in die Gasastrook te verseker, veral indien die huidige skietstilstand met Israel standhou.
Dié verklaring volg nadat die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad Maandag ’n Amerikaanse resolusie goedgekeur het wat die vredesplan vir die streek ondersteun.
Die plan maak voorsiening vir die vestiging van ’n internasionale mag wat sal saamwerk met Israel, Egipte en Palestynse polisiebeamptes om die grensgebiede te beveilig en die Gasastrook verder te ontwapen. – AFP
2025-11-19 11:24:57
Karre word wrakke in Israeliese aanval...

’n Noodhulpwerker loop tussen die wrakke van twee motors op soek na slagoffers ná ’n Israeliese aanval op die Ain al-Hilweh-vlugtelingkamp naby Sidon in die suide van Libanon. Minstens 13 mense is in die aanval dood. Hamas ontken dat daar militêre installasies in die kamp is. Foto: AFP
2025-11-19 12:00:35
19 dood in Russiese aanvalle op Oekraïne
Neëntien mense is dood en 66 gewond nadat Rusland oornag grootskaalse missiel- en hommeltuigaanvalle op Oekraïne geloods het.
Die weste van die land is getref, waaronder ’n woonstelblok in Ternopil waarvan die boonste verdiepings verwoes is. Ooggetuies beskryf ’n toringblok wat in vlamme gehul is, met dik swart rook wat bo die stad uitborrel. Die aanvalle het ook energie- en vervoerinfrastruktuur beskadig, wat grootskaalse kragonderbrekings in die bitter koue veroorsaak het.
Oekraïense amptenare het Woensdag bevestig dat Rusland meer as 470 hommeltuie en 48 missiele in die jongste aanvalle gelanseer het. –Reuters
2025-11-19 12:01:43
Nuwe beeldmateriaal van komeet bekend gestel
Die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa is gereed om Woensdag nuwe beeldmateriaal bekend te stel van die interstellêre voorwerp genaamd 3I/ATLAS, wat volgens sommige wetenskaplikes dalk nie ’n gewone komeet is nie.
3I/ATLAS is in Julie vir die eerste keer in Chili deur die ATLAS-teleskoopstelsel waargeneem en word sedertdien fyn dopgehou deur wetenskaplikes.
Alhoewel Nasa beklemtoon dat 3I/ATLAS nie ’n gevaar vir die Aarde inhou nie, het sekere navorsers bespiegel dat die voorwerp dalk nie natuurlik is nie, maar ’n produk van buitenaardse intelligensie. Die teorie word egter deur die meeste kenners afgewys.
Volgens Nasa sal 3I/ATLAS nie nader as sowat 275 miljoen km van die Aarde af kom nie. – Reuters
2025-11-19 12:16:08
Rook en as is al wat oorbly...

Rook hang in ’n gebou in Oita in die Saganoseki-distrik in Japan nadat ’n verwoestende brand oornag die gebied verswelg het. Minstens 170 huise en geboue is in die vlamme verwoes. Foto: Getty Images
2025-11-19 13:03:03
Jellie-lekkers lei tot tronkstraf vir oudskoonheidskoningin
’n Hof in Viëtnam het Woensdag die voormalige skoonheidskoningin Nguyen Thúc Thùy Tiên tot twee jaar tronkstraf gevonnis omdat sy jellie-lekkergoed bedrieglik as veselryk op sosiale media bemark het.
Volgens die regter het Tiên kliënte mislei deur te beweer die lekkers bevat groot hoeveelhede vesel, terwyl laboratoriumtoetse ’n lae inhoud van slegs 0,935% blootgelê het. Saam met die ander smaakmakers Pham Quang Linh en Hang Du Muc het sy die produk, Kera Supergreens Gummies, as ’n gesonde alternatief verkoop, met die belofte dat elke jellie-lekker die ekwivalent van ’n bord groente bevat.
’n Ondersoek het egter bevind dat die lekkergoed sowat 30% sorbitol, ’n kunsmatige versoeter met ’n lakseermiddel-effek, en ander onbekende bymiddels bevat.
Meer as 129 000 pakkies is aan meer as 56 000 kliënte verkoop, wat aan die groep meer as $473 000 se wins besorg het. Tiên het beroemdheid verwerf toe sy die titel van Miss Grand International in 2021 in Bangkok gewen het. – AFP
2025-11-19 13:04:43
Epstein: Oudminister bedank uit OpenAI
Larry Summers, voormalige Amerikaanse minister van finansies en oudpresident van Harvard Universiteit, het Woensdag aangekondig dat hy uit die direksie van die navorsingsmaatskappy OpenAI bedank.
Sy bedanking volg nadat die Amerikaanse kongres dokumente uitgereik het wat ’n noue verbintenis tussen Summers en die oorlede veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein aan die lig gebring het.
Summers het Maandag in ’n verklaring gesê hy sal ook van alle ander openbare rolle terugtree. Volgens hom is die besluit geneem om “vertroue te herbou en verhoudings met die mense naaste aan my te herstel”. – Reuters
2025-11-19 13:09:06
Polisieparade wys gereedheid vir G20

Polisiebeamptes salueer op ’n geïntegreerde wetstoepassingsparade in Johannesburg wat deel vorm van die voorbereiding vir die G20-leiersberaad. Foto: Reuters
2025-11-19 14:03:33
S-Koreaanse veerboot met 267 mense loop op rotse
Twee vlootvaartuie is Woensdag ontplooi nadat ’n Suid-Koreaanse passasiersveerboot met 267 passasiers en bemanning aan boord vroeër die dag aan die suidwestelike punt van die Koreaanse skiereiland op die rotse geloop het.
Sover bekend, is daar net twee ligte beserings aangemeld, is al die passasiers veilig en het die veerboot nog nie begin lek nie.
Die veerboot van 26 000 ton was op pad van die Jeju-eiland na Mokpo toe dit ’n rotsagtige eiland naby Jindo getref het. – Reuters
2025-11-19 14:26:30
1 uit 3 vroue ervaar huishoudelike of seksuele geweld – WGO
Byna ’n derde van alle vroue het al huishoudelike of seksuele geweld ervaar, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Woensdag gesê.
“Geweld teen vroue is een van die mensdom se oudste en mees wydverspreide onregte, maar is steeds een waaraan die minste gedoen word,” het Tedros Adhanom Ghebreyesus, die WGO-hoof, gesê.
Luidens ’n nuwe WGO-verslag het 840 miljoen vroue wêreldwyd al ’n vorm van huishoudelike of seksuele geweld ervaar.
In die afgelope jaar alleen het 316 miljoen vroue – 11% van dié ouer as 15 – fisieke of seksuele geweld deur ’n lewensmaat ervaar, lui die verslag. – AFP
2025-11-19 14:41:58
Wat nog oor is

Palestyne loop Woensdag verby die puin van verwoeste geboue in die stad Gasa. Foto: Reuters
2025-11-19 15:05:57
Dodetal in Russiese aanval op Oekraïene styg tot 25
Die dodetal in ’n Russiese missiel- en hommeltuigaanval op die westelike Oekraïense stad Ternopil het tot 25 gestyg, onder wie drie kinders, het die ministerie van binnelandse sake Woensdag gesê.
"25 mense, onder wie drie kinders, is dood as gevolg van die Russiese bombardering van die stad. Nog 73 mense, onder wie 15 kinders, is gewond," het die ministerie op sosiale media gesê.
Dit is een van een die dodelikste aanvalle in die weste van die land sedert Rusland die land in Februarie 2022 binnegval het. – AFP
2025-11-19 15:29:15
Kremlin wil niks sê oor ‘geheime vredesplan’ vir Oekraïne
Die Kremlin het Woensdag geweier om kommentaar te lewer oor ’n mediaberig dat Amerika en Rusland in die geheim aan ’n vredesplan vir Oekraïne werk.
"In hierdie geval is daar niks nuuts wat ons u kan meedeel nie," het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, aan joernaliste gesê in reaksie op ’n vraag oor die berig deur die Amerikaanse webwerf Axios. – AFP
2025-11-19 15:48:33
Koninklike wuif

Prins Albert II van Monaco, sy vrou, prinses Charlene, en hul tweeling, Jacques en Gabriella, wuif Woensdag vanaf ’n balkon van die paleis tydens ’n seremonie ter viering van Monaco se nasionale dag, ook bekend as “Die soewereine prins se dag”. Foto: AFP
2025-11-19 16:06:34
Pole ontplooi 10 000 soldate om infrastruktuur te beskerm
Pole gaan 10 000 soldate ontplooi om kritieke infrastruktuur soos spoorlyne te help beskerm, het die land se minister van verdediging Woensdag gesê ná verlede naweek se ontploffing op ’n spoorlyn.
Pole het Dinsdag die skuld vir dié ontploffing op twee Oekraïense burgers geplaas wat, volgens hulle, deur Russiese intelligensie gewerf is.
Die ontploffing was op ’n belangrike spoorlyn wat help om Oekraïne van water te voorsien. – Reuters
2025-11-19 16:27:16
Harvard ondersoek geaffilieerdes met Epstein-bande
Die Harvard-Universiteit gaan ’n ondersoek na geaffilieerdes begin wat in die Jeffrey Epstein-dokumente genoem word wat onlangs deur die Amerikaanse kongres vrygestel is.
’n Woordvoerder van Harvard het dit Woensdag bekend gemaak nadat die dokumente ’n noue verhouding tussen sy voormalige president, Larry Summers, en Epstein aan die lig gebring het.
"Die universiteit doen ’n hersiening van inligting oor individue by Harvard wat in die nuut vrygestelde Jeffrey Epstein-dokumente genoem word om te evalueer watter stappe regverdig sal wees." – Reuters
2025-11-19 16:43:07
Vlammehel in Libanon

Vlamme en rook borrel die lug in ná ’n Israeliese lugaanval op ’n huis in Tair Filsay in die suide van Libanon. Die Israeliese weermag het Woensdag aanvalle op twee dorpe in Suid-Libanon geloods en gesê hulle teiken die militante groep Hezbollah, ondanks ’n byna jaar lange skietstilstand. Dié aanvalle kom ’n dag nadat 13 mense dood is in ’n Israeliese aanval op ’n Palestynse vlugtelingkamp, ook in die suide van Libanon. Foto: AFP
2025-11-19 17:05:10
VSA stel glo voor dat Oekraïne grondgebied afstaan
Amerika het pres. Wolodimir Zelenski glo gevra om ’n raamwerk vir die beëindiging van die oorlog met Rusland te aanvaar. Hierdie raamwerk, wat deur Amerika opgestel is, vereis dat Oekraïne grondgebied afstaan en van sy wapentuig prysgee.
Volgens die twee ingeligte bronne, wat anoniem wil bly, sluit die voorstelle ook in dat Oekraïne sy gewapende magte moet verklein.
Sedert Rusland Oekraïne in Februarie 2022 ingeval het, was Amerika een van Oekraïne se grootste finansiële en militêre ondersteuners. – Reuters
2025-11-19 17:12:36
Israel val Hamas-teikens oor Gasastrook heen aan ná ‘skietstilstand geskend is’
Die Israeliese weermag het Woensdagaand bevestig hy het aanvalle op Hamas-teikens oor die Gasastrook heen uitgevoer nadat Hamas-vegters op ’n gebied in die suide losgebrand het waar Israeliese troepe ontplooi is.
Luidens ’n verklaring van die weermag is dié optrede deur Hamas ’n “skending van die skietstilstandooreenkoms”, maar niemand van die Israeliese weermag is beseer nie. Die weermag het in reaksie begin om beweerde Hamas-teikens oor die Gasastrook heen te bombardeer.
Die burgerlike verdedigingsagentskap in die Gasastrook het bevestig dat minstens 11 mense in die jongste aanvalle dood is – ses in die stad Gasa in die noorde en vyf in die suidelike Chan Joenis-distrik. – AFP
2025-11-19 17:21:47
Oorlogpraatjies

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne stap saam met pres. Tayyip Erdogan van Turkye na ’n podium vir ’n gesamentlike mediakonferensie in Ankara. Die Turkse hoofstad is die vierde stad wat Zelenski in slegs ’n paar dae besoek. Hy het ook na Athene, Griekeland, die Franse hoofstad, Parys, en Madrid, Spanje, gereis. Foto: Reuters
2025-11-19 18:07:09
Nuwe konflik kook oor in Midde-Ooste
Die Israeliese weermag het Hezbollah Woensdag daarvan beskuldig dat dié groep die voorwaardes van die skietstilstand skend deur sy teenwoordigheid in Suid-Libanon, naby Israel se noordelike grens, te probeer herstel.
Volgens die weermag is Hezbollah besig om sy magte en infrastruktuur in die dorp Beit Lif te versterk, in stryd met die bestaande ooreenkomste tussen Israel en Libanon.
Die weermag beweer dat dosyne terreur-infrastruktuur, waaronder wapenopslagplekke en bevelsentrums, selfs binne burgerlike huise geïdentifiseer is.
Intussen het geweld ook in die Gasastrook uitgebreek nadat die Israeliese weermag aanvalle op vermeende Hamas-teikens in die hele gebied van stapel gestuur het.
Die burgerlike verdedigingsagentskap in die Gasastrook het die dodetal van Israeliese aanvalle Woensdag tot 22 verhoog: 12 mense is in die noorde by die stad Gasa dood en nog 10 in die suide naby Chan Joenis. – AFP
2025-11-19 18:09:33
Melania Trump en Usha Vance besoek soldate

Melania Trump, Amerikaanse presidentsvrou (regs), en Usha Vance, eggenote van die visepresident, kom Woensdag in die Amerikaanse deelstaat Noord-Carolina aan, waar hulle soldate en hul families besoek.
Foto: Getty Images
2025-11-19 18:40:57
Brittanje steun Trump se strewe na vrede in Oekraïne
Brittanje sê hy deel pres. Donald Trump van die VSA se doelwit om die oorlog in Oekraïne te beëindig, en het Rusland aangemoedig om sy magte uit die land te onttrek.
Dit kom ná berigte dat die VSA druk op Oekraïne plaas om ’n vredesraamwerk te aanvaar wat deur die VSA voorgestel is.
Die konsep behels dat Oekraïne sekere grondgebied sowel as ’n deel van sy wapentuig moet prysgee. “Rusland kan die oorlog môre beëindig deur sy troepe te onttrek en sy onwettige inval te staak,” het ’n woordvoerder van Brittanje se ministerie van buitelandse sake gesê.
Hy het voorts gemeld dat Londen “pres. Trump se voorneme steun om hierdie wrede oorlog te beëindig”. – Reuters
2025-11-19 19:01:43
Epstein-dossier binne 30 dae openbaar gemaak
Die Amerikaanse departement van justisie sal die dossier van sy ondersoek na die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein binne 30 dae openbaar maak, het Pam Bondi, minister van justisie, Woensdag gesê.
Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Dinsdagaand ten gunste van ’n wetsontwerp gestem om die dossier openbaar te maak.
Dit kan meer lig werp op die bedrywighede van Epstein, wat met Trump en ander noemenswaardige figure gesosialiseer het voor sy veroordeling in 2008 op aanklagte dat hy minderjarige meisies vir prostitusie gewerf het. – Reuters
2025-11-19 19:19:45
Skaars Nazi-Enigma-masjien vir R9,6 m. verkoop
’n Uiters seldsame, werkende Nazi-Enigma-enkripsiemasjien is vir meer as R9,6 miljoen in Parys verkoop – dubbel die verwagte prys, het die veilinghuis Christie’s Woensdag gesê.
Enigma-masjiene is deur die Duitse weermag gebruik vir gesofistikeerde gekodeerde kommunikasie tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Die Enigma M4 wat in Parys verkoop is, was ’n nuwer, selfs meer gesofistikeerde weergawe wat in 1941 deur adml. Karl Dönitz, hoof van die Duitse vloot, vir kommunikasie met sy duikbootvloot bestel is. – AFP
2025-11-19 19:35:59
Rusland hou kaarte dig oor moontlike Oekraïne-vredesplan
Die Kremlin het Woensdag gesê kontak met Amerika duur voort, maar daar is geen nuwe ontwikkelinge om aan te kondig oor ’n moontlike vredesplan om die konflik in Oekraïne te beëindig nie.
Ná berigte dat Amerika ’n vredesplan opgestel het wat voorstel dat Oekraïne onder meer grondgebied afstaan, van sy wapentuig prysgee en sy weermag verklein, het Dmitri Peskof, ’n Kremlin-woordvoerder, aan verslaggewers gesê daar is niks nuuts om aan te kondig sedert die beraad in Augustus tussen press. Wladimir Poetin en Donald Trump nie. – Reuters
2025-11-19 19:45:21
En waar’s jou horing?

Dié jong witrenosterkalfie is vroeg in November in die Bioparc in Valencia, Spanje, gebore as deel van die Europese program vir bedreigde spesies. Die program poog om die oorlewing van hierdie bedreigde diere, wat inheems aan Suider-Afrika is, te help verseker. Die foto is Woensdag geneem. Foto: AFP
2025-11-19 20:06:01
Farage ontken rassistiese opmerkings as skoolseun
Nigel Farage, regse Britse parlementslid en leier van die party Reform UK, ontken bewerings dat hy rassistiese en antisemitiese opmerkings gemaak het terwyl hy op skool was, het sy woordvoerder Woensdag gesê.
Die koerant The Guardian het Dinsdag berig Farage sou die opmerkings gemaak het as leerling aan die elite Dulwich College in Suid-Londen in die 1970’s.
Volgens die koerant is die berig gegrond op bewerings deur tientalle van Farage se voormalige medeleerlinge.
Meningspeilings dui daarop dat Farage moontlik die volgende Britse premier kan word. – AFP
2025-11-19 20:35:22
Frankryk bekyk Grok se ‘ontkenning van Joodse volksmoord’
Franse owerhede het hul ondersoek na Elon Musk se sosialemediaplatform, X, uitgebrei om “opmerkings wat die Joodse volksmoord ontken” wat deur sy KI-kletsbot Grok gegenereer is, in te sluit, het die Paryse aanklaerskantoor Woensdag gesê.
’n Inskrywing Maandag deur Grok op X in Frans het gelui die gaskamers in die Nazi-konsentrasiekamp Auschwitz-Birkenau is “ontwerp vir ontsmetting met Zyklon B teen tifus, met ventilasiestelsels wat vir hierdie doel geskik is, eerder as vir massa-teregstellings”.
Die plasing was Woensdag om 20:00 (SA tyd) steeds op X en is reeds ’n miljoen keer gelees. – AFP
2025-11-19 20:36:53
‘En jy ken seker vir Elon…?’

Kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië, Elon Musk en pres. Donald Trump gesels Woensdag op die Amerika-Saoedi-beleggingsforum in Washington DC, terwyl amptenare toekyk. Foto: Reuters
2025-11-20 03:56:33
170 bergklimmers gestrand toe vulkaan op Java uitbars
Die owerhede in Indonesië het meer as 900 mense verwyder en is Donderdag besig om die veilige terugkeer van 170 klimmers te bewerkstellig wat ná die uitbarsting van die Semeru-vulkaan gestrand was.
Die waarskuwingsvlak is op sy hoogste gehandhaaf nadat Semeru op die eiland Java Woensdag 10 keer uitgebars het.
Die klimmers was gestrand op ’n kampeerterrein langs die meer aan die voet van die vulkaan, maar word nou in veiligheid gebring.
“Alle klimmers met hul gidse is veilig. Die situasie is onder beheer,” het ’n amptenaar van ’n nasionale park gesê. – Reuters

’n Man kyk Donderdag na ’n piroklastiese vloei tydens die uitbarsting van die Semeru-vulkaan op die eiland Java. Foto: AFP
2025-11-20 04:01:45
Trump, Mamdani vergader Vrydag in Withuis
Pres. Donald Trump het gesê hy sal Vrydag met Zohran Mamdani, verkose burgemeester van die New York, in die Withuis vergader.
Mamdani en Trump het mekaar gekritiseer, met Trump wat Andrew Cuomo, Mamdani se teenstander, in die verkiesing van die burgemeester gesteun het.
Mamdani het kritiek uitgespreek oor die Trump-administrasie se beleide, waaronder die onderdrukking van immigrasie en steun van Amerika aan Israel in die oorlog in die Gasastrook.
Mamdani het vroeër vandeesweek aan verslaggewers gesê dat sy span die Withuis gekontak het om ’n vergadering te reël. – Reuters
2025-11-20 04:12:04
Trump onderteken wetgewing oor Epstein-lêers
Pres. Donald Trump het Woensdag wetgewing onderteken wat die departement van justisie gelas om dokumente oor die langdurige ondersoek na wyle Jeffrey Epstein, veroordeelde seksoortreder, beskikbaar te stel.
Vroeër is berig die departement sal die dossier van sy ondersoek na Epstein binne 30 dae openbaar maak, het Pam Bondi, minister van justisie, gesê. – Reuters
2025-11-20 04:31:30
25 dood toe Israel Hamas-teikens in Gasastrook aanval
Minstens 25 Palestyne is Woensdag dood in vier lugaanvalle deur Israel in ’n deel van die Gasastrook wat onder Hamas se beheer is, het die gesondheidsowerheid gesê.
Vroeër is berig die Israeliese weermag het gesê sy magte het Hamas-teikens oor die Gasastrook heen aangeval.
Volgens Israel het die weermag aangeval nadat lede van Hamas op Israeliese soldate geskiet het, wat ’n skending van hul skietstilstand is. – Reuters
2025-11-20 04:43:29
Siriër verloor Duitse burgerskap weens steun vir Hamas
Alexander Dobrindt, Duitsland se minister van binnelandse sake, het Woensdag Berlyn se besluit gesteun om ’n man sy burgerskap te ontneem omdat hy Hamas ondersteun.
Dobrindt het gesê genaturaliseerde burgers moet hul nasionaliteit verbeur wanneer bevind word dat hulle nie Duitse waardes handhaaf nie.
Die Siriese man het as ’n jong kind na Berlyn verhuis. – Reuters
2025-11-20 05:14:47
WGO wil meer as 40 000 kinders in Gasastrook inent
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wil probeer om meer as 40 000 kinders teen verskeie siektes in die Gasastrook in te ent.
Dit kom te midde ’n brose skietstilstand tussen Hamas en Israel.
Die WGO en sy vennote het reeds meer as 10 000 kinders onder die ouderdom van drie ingeënt in die eerste agt dae van ’n aanvanklike fase van die veldtog wat op 9 November van stapel gestuur is.
Die eerste fase van die program is tot Saterdag verleng en die hoop is om kinders teen masels, pampoentjies, Duitse masels, witseerkeel, klem-in-die-kaak, kinkhoes, hepatitis B, tuberkulose, polio, die rotavirus en longontsteking te beskerm. – AFP
2025-11-20 05:40:52
16 sterf in oorstromings in Viëtnam
Reddingswerkers het gestrande mense van die dakke van huise onder water gered terwyl wydverspreide oorstromings weens onophoudelike reën Sentraal-Viëtnam teister.
Die owerheid het Donderdag gesê 16 mense is sedert die afgelope naweek dood en vyf word vermis.
Suid-Sentraal-Viëtnam loop reeds sedert laat Oktober deur in die gure weer en geskiedkundige plekke en gewilde kusvakansiebestemmings word gedurig oorstroom.
Meer as 43 000 huise is onder water en verskeie hoofpaaie is weens grondstortings versper. – AFP

’n Oorstroomde pad Donderdag in die kusprovinsie Khanh Hoa, Viëtnam. Foto: AFP
2025-11-20 05:48:24
Tiener 15 jaar tronk toe weens IS-aanvalplan op verkiesingsdag in Amerika
’n Afgaanse tiener is Woensdag tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op ’n aanklag dat hy ’n aanval op verkiesingsdag verlede jaar in Amerika namens die Islamitiese Staat beplan het.
Abdullah Haji Zada (19) het in April skuld beken op aanklagte van pogings om vuurwapens en ammunisie te koop om ’n federale misdaad van terrorisme uit te voer.
Zada en Nasir Ahmad Tawhedi (28), ’n medepligtige, is in Oktober 2024 in die deelstaat Oklahoma in hegtenis geneem. Tawhedi het ook skuld beken.
’n Datum vir sy vonnisoplegging is nog nie vasgestel nie.
Die verkiesings het op 5 November 2024 plaasgevind. – AFP
2025-11-20 06:06:56
Trump sal daaraan ‘werk’ om oorlog in Soedan te beëindig
Pres. Donald Trump het Woensdag gesê hy sal daaraan begin “werk” om die oorlog in Soedan te beëindig.
Mohammed bin Salman, kroonprins van Saoedi-Arabië, het Trump gevra om te help om die konflik op te los. Trump het tot dusver skaars kommentaar gelewer oor die konflik tussen Soedan se weermag en die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF).
Tienduisende mense is dood en byna 12 miljoen ontheem sedert die konflik in April 2023 uitgebreek het.
Ongeag dat die konflik nie op Trump se radar is nie, het die Amerikaanse regering die laaste paar maande pogings verskerp om ’n skietstilstand te finaliseer. – AFP
2025-11-20 06:40:03
23 militante in Pakistan doodgemaak
Die veiligheidsmagte in Pakistan het 23 militante in twee geteikende operasies naby die grens met Afganistan grens doodgemaak, het die weermag Donderdag in ’n verklaring gesê.
Dit volg een week nadat 12 mense in ’n selfmoordbomaanval in Islamabad dood is.
Die militante het tot die Pakistanse Taliban of sy geaffilieerde groepe behoort, het die weermag gesê.
Die weermag het Pakistan se aartsvyand Indië daarvan beskuldig dat hy die groepe steun. – AFP
2025-11-20 07:06:20
42 beseer toe treine in Tsjeggië bots
Altesaam 42 mense is beseer toe ’n sneltrein Donderdag in die suide van Tsjeggië teen ’n passasierstrein gebots het, het reddingswerkers gesê.
Die ongeluk het naby die stad Ceske Budejovice, ongeveer 150 km suid van Praag, plaasgevind.
Altesaam 40 mense het matige beserings opgedoen en twee mense is ernstig beseer.
Die ongeluk word ondersoek. – AFP
2025-11-20 07:32:28
Eksemplare van Sarah Ferguson se nuwe kinderboek glo onttrek, vernietig
Duisende eksemplare van Sarah Ferguson se nuwe kinderboek is na bewering onttrek of word vernietig weens haar bande met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein.
Die boek sou op 9 Oktober gepubliseer word, maar is tot 20 November uitgestel.
Dit is nou van publikasieskedules verwyder en bronne beweer gedrukte eksemplare word vir herwinning gestuur.
Die uitgewer het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.
Die Daily Mail het in September e-posse van 2011 gepubliseer waarin Ferguson Epstein privaat as haar “opperste vriend” beskryf. – The Guardian

Sarah Ferguson Foto: Getty Images/WPA Pool
2025-11-20 08:23:12
Europa, Oekraïne ‘moet betrokke wees by vredesplan’
Kaja Kallas, hoof van buitelandse beleid by die Europese Unie, sê dat Oekraïne en Europa betrokke moet wees by enige vredesplan vir Oekraïne.
Dit kom terwyl Amerika ’n nuwe voorstel bevorder wat blykbaar Rusland se eise herhaal.
“Ons moet verstaan dat daar in hierdie oorlog een aggressor en een slagoffer is. Ons het dus nog nie van enige toegewings aan die Russiese kant gehoor nie,” het Kallas Donderdag aan verslaggewers gesê. – AFP
2025-11-20 08:28:57

’n Beseerde man van die stad al-Fasjir sit Donderdag op die grond in Al-Dabba, Soedan, omring deur sy kinders, terwyl ontheemde vroue in ’n ry staan en wag vir hul beurt om hulp te ontvang by ’n kamp vir ontheemde mense. Foto: Reuters
2025-11-20 08:58:01
22 steeds vermis ná aanval in Oekraïne
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne, het Donderdag gesê dat 22 mense steeds vermis word in die stad Ternopil.
Dit kom een dag nadat 26 mense, onder wie drie kinders, in ’n Russiese aanval hier dood is.
Volgens Zelenski het reddingswerkers heelnag gewerk en soek-en-reddingsoperasies duur voort.
Meer as 200 werkers is ontplooi. – AFP

Sagte speelgoed lê Donderdag op die terrein van ’n woonstelgebou in die stad Ternopil, Oekraïne, wat die vorige dag deur ’n Russiese missiel getref is. Foto: Reuters
2025-11-20 09:39:49
Voormalige burgemeester kry lewenslank weens mensehandel
’n Hof in die Filippyne het ’n voormalige burgemeester tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is aan mensehandel.
Alice Guo het as ’n Filippynse burger vir burgemeester in die dorp Bamban gestaan, maar is later deur wetstoepassing as die Chinese burger Guo Hua Ping geïdentifiseer.
Sy het egter volgehou dat sy ’n gebore Filippyn is.
Die Filippynse senaat het verlede jaar ’n ondersoek na Guo van stapel gestuur nadat ’n klopjag op ’n bedrog-sentrum uitgevoer is. Die grond waarop die gebou was, is gedeeltelik deur Guo besit.
Honderde werkers wat die slagoffers van mensehandel was, is in die sentrum gevind. – Reuters
2025-11-20 09:54:39
4 dood in nuwe aanval op Gasastrook
Vier mense is Donderdag vroeg in lugaanvalle in die Gasastrook dood.
Die Nasser-hospitaal in Chan Joenis het die sterftes bevestig. Dit kom terwyl Israel en Hamas mekaar daarvan beskuldig dat hulle die skietstilstand oortree het.
Die sogenaamde geel lyn baken ’n grens in die Gasastrook af en Israeliese troepe het na posisies oos daarvan onttrek as deel van die skietstilstand.
“Ons is bewus van ’n aanval oos van die lyn waarin terreurinfrastruktuur geteiken is,” het die Israeliese weermag gesê.
Die aanvalle kom ’n dag nadat 27 mense in die Gasastrook dood is. – AFP
2025-11-20 10:23:34
Aanvalle in Gasastrook bedreig skietstilstand – Katar
Katar, ’n sleutelbemiddelaar tussen Hamas en Israel, het Donderdag die nuwe Israeliese lugaanvalle op die Gasastrook veroordeel.
Katar “veroordeel die brutale aanvalle deur die Israeliese besetting in die Gasastrook ... en beskou dit as ’n gevaarlike eskalasie wat dreig om die skietstilstand te ondermyn”, het sy ministerie van buitelandse sake gesê. – AFP

Rouklaers op die begrafnis van Palestyne wat Donderdagoggend vroeg in Chan Joenis in die Gasastrook dood is. Foto: Reuters
2025-11-20 10:34:04
Sirië veroordeel Netanyahu se besoek aan troepe in ooste van land
Sirië het Benjamin Netanyahu, premier van Israel, se besoek Woensdag aan Israeliese soldate in die suide van die land veroordeel.
Israel het sy militêre teenwoordigheid in die suide van Sirië uitgebrei nadat Basjar al-Assad, oudleier van Sirië, verlede Desember omvergewerp is.
Israel het ook posisies oos van ’n buffersone beset wat die Israelies-besette Golanhoogland van die Siriese gebied skei.
Sirië sê Netanyahu se besoek is ’n “gevaarlike skending van Siriese soewereiniteit en eenheid”.
Daar was geen onmiddellike kommentaar van die Israeliese regering nie. – Reuters
2025-11-20 10:59:05
Oekraïne ontvang 1 000 lyke van gesneuweldes
Oekraïne het die lyke van 1 000 mense van Rusland ontvang wat, volgens Rusland, gesneuwelde dienspligtiges is, het die owerhede gesê.
Die regering sal die nodige ondersoeke doen om die oorledenes te identifiseer.
Kijif en Moskou het duisende lyke van soldate uitgeruil.
Oekraïne het Rusland voorheen daarvan beskuldig dat dit lyke op ’n wanordelike wyse repatrieer en dat hy selfs lyke van Russiese soldate na Oekraïne stuur.
Moskou ontken die bewerings. – AFP
2025-11-20 11:16:48
Vrees vir bendes lei tot sluiting van skole in Nigerië
Nigeriese owerhede het skole in vyf distrikte in die sentrale Kwara-provinsie gesluit uit vrees dat die instellings deur gewapende bendes geteiken kan word nadat ’n kerk vroeër die week aangeval is.
Nigerië ervaar ’n toename in aanvalle deur gewapende groepe, insluitend die ontvoering van 25 skoolmeisies Maandag in die noordwestelike Kebbi-provinsie. Die voorvalle het die land se veiligheidskwessies in die kollig geplaas en pres. Bola Tinubu genoop om sy buitelandse besoeke vir eers uit te stel.
“Die regering van Kwara is daartoe verbind om die aktiwiteite van ontvoerders wat kinders as menslike skilde wil gebruik, te stuit,” het Lawal Olohungbebe, die provinsiale onderwyskommissaris, Donderdag in ’n verklaring gesê.
Hy het bygevoeg dat die skole eers weer sal open sodra die sekuriteitsdienste dit as veilig beskou om normale bedrywighede te hervat. – Reuters
2025-11-20 11:24:31
VN-kernwaghond vra vir volle samewerking van Iran
Die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) het Donderdag ’n resolusie aanvaar waarin Iran versoek word om toegang tot en inligting oor sy kernprogram te verskaf.
Die resolusie “beklemtoon dat Iran ten volle en sonder uitstel aan sy wetlike verpligtinge ingevolge die resolusies van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad moet voldoen”.
Die resolusie vereis ook dat Iran volledige en spoedige samewerking aan die IAEA moet gee, insluitend die verskaffing van inligting en toegang soos deur die agentskap versoek. Die resolusie is aanvaar met 19 stemme ten gunste, drie daarteen en 12 wat nie gestem het nie. – AFP
2025-11-20 11:34:26
Brand woed voort in stad in Japan

’n Helikopter van Japan se selfverdedigingsmag spuit water in ’n poging om ’n reusebrand in ’n woonbuurt in die suidwestelike stad Oita te blus. Die brand het Dinsdagaand uitgebreek en meer as 170 geboue beskadig. Foto: Kyodo News via Getty Images
2025-11-20 12:10:04
Human Rights Watch kap Israel ná massaverdrywing van Palestyne
Human Rights Watch (HRW) het Israel Donderdag skerp veroordeel nadat tienduisende Palestyne vroeër vanjaar uit drie vlugtelingkampe aan die Wesoewer verdryf is.
Die menseregtegroep beskryf Israel se optrede as oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. Hy eis onmiddellike internasionale optrede sodat Israeliese amptenare vir hul dade verantwoordelik gehou word en dat verdere oortredings voorkom word.
Luidens ’n verslag van 105 bladsye is ongeveer 32 000 inwoners van die Jenin-, Toelkarm- en Noer Sjams-kampe in Januarie en Februarie deur Israeliese magte ontheem. Honderde huise is ook gesloop.
"Selfs 10 maande ná hul verplasing is géén gesin toegelaat om terug te keer nie," sê Melina Ansari, ’n navorser van HRW.
Die Israeliese weermag sê die infrastruktuur moes weens veiligheidsredes vernietig word, maar geen datum vir die inwoners se terugkeer is voorsien nie. – Reuters
2025-11-20 12:21:50
Nuwe pil bring hoop vir gewigsverlies
’n Nuwe daaglikse gewigsverliespil, orforglipron, toon volgens kenners belowende resultate in vergelyking met bestaande inspuitbare middels in ’n studie wat Donderdag in die mediese joernaal The Lancet gepubliseer is.
Die pil, wat deur die Amerikaanse farmaseutiese reus Eli Lilly ontwikkel is, het aan meer as 1 500 volwassenes met vetsug en tipe 2-diabetes in 10 lande bewys dat dit ongeveer 10% van liggaamsgewig oor 18 maande kan laat verdwyn – dubbel soveel as die placebo-groep.
Die sogenaamde GLP-1-agoniste soos Ozempic en Mounjaro was tot dusver net as inspuitings beskikbaar, ten duurste en met logistieke probleme. Orforglipron bied nou ’n goedkoper, makliker opsie aan die publiek.
Alhoewel newe-effekte soos naarheid en hardlywigheid opgemerk is, kan die pil reeds teen 2026 beskikbaar wees. – AFP
2025-11-20 12:23:26
Tussen ryslande...

'n Boer loop langs 'n besproeiingskanaal tussen ryslande in Lhoknga in die Aceh-provinsie in Indonesië. Foto: AFP
2025-11-20 12:58:58
Russiese aanval laat 400 000 Oekraïners sonder krag
Meer as 400 000 Oekraïense huishoudings sit sonder elektrisiteit ná ’n grootskaalse Russiese aanval op Oekraïne se westelike streke, sê regeringsamptenare. Die jongste aanval het die elektrisiteitsopwekking by kernkragsentrales aansienlik geknou, aangesien skade aan kraglyne en transformators die fasiliteite gedwing het om produksie te verminder.
Russiese aanvalle die afgelope paar maande op Oekraïense infrastruktuur het toegeneem. Duisende huishoudings word gereeld in donkerte gedompel.
Oekraïne is afhanklik van sy drie kernkragsentrales, wat meer as die helfte van die land se elektrisiteit verskaf, maar die bombardemente bedreig dié belangrike energiebron. – Reuters
2025-11-20 13:06:29
Iran-gesant sê nuwe VN-resolusie sal ‘negatiewe impak’ hê
Iran se gesant by die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) sê dat ’n nuwe resolusie wat deur die Verenigde Nasies (VN) se kernwaghond aanvaar is, “ ’n negatiewe uitwerking” op samewerking rakende die land se kernprogram sal hê.
“Hierdie resolusie gaan niks bydra tot die huidige situasie nie, dit is nie nuttig nie; trouens, dit is teenproduktief,” sê Reza Nadjafi nadat ’n resolusie aanvaar is wat Iran versoek om toegang en inligting oor sy kernfasiliteite te verskaf.
“Iran het reeds begin om met die agentskap saam te werk, ten spyte van ons uitdagings, en toegang tot alle onbeskadigde instellings verleen. Dié resolusie gaan beslis ’n negatiewe invloed hê op die samewerking wat reeds tussen Iran en die agentskap aan die gang is,” sê hy. – AFP
2025-11-20 13:08:08
Bootvaart deur digte mis

Digte mis hang vroegoggend weens lugbesoedeling oor die Yamuna-rivier in Nieu-Delhi, Indië, terwyl mense in ’n boot vaar. Foto: Reuters
2025-11-20 14:02:15
‘Teheran moet skuif weens oorbevolking, waterkrisis’
Pres. Masoed Pezesjkian van Iran het Donderdag gesê die land se hoofstad, Teheran, moet elders verskuif word as gevolg van oorbevolking en ’n groeiende waterkrisis.
Pezesjkian het al voorheen die idee geopper om Teheran te verskuif, veral met reënval in die hoofstad vanjaar op sy laagste vlak in ’n eeu.
“Die werklikheid is dat ons geen keuse het nie. Dit (die verskuiwing) is ’n noodsaaklikheid. Ons kan nie dié streek oorlaai met meer mense en konstruksie nie,” het hy volgens die amptelike IRNA-nuusagentskap gesê.
“Ons kan ontwikkel, maar ons kan nie die waterprobleem oplos nie.” – AFP
2025-11-20 14:27:22
Reuse-web met 111 000 spinnekoppe in grot gevind
Wetenskaplikes het ’n reuse-spinnekopweb in ’n grot op die grens tussen Griekeland en Albanië ontdek met sowat 111 000 spinnekoppe daarin.
Die web beslaan sowat 106 m² luidens ’n studie wat in die vaktydskrif Subterranean Biology gepubliseer is.
Die web bevat sowat 69 000 gewone huisspinnekoppe (Tegenaria domestica) en meer as 42 000 dwerfwewers (Linyphiidae), luidens die studie.
Navorsers van universiteite en natuurhistoriese museums in Albanië, Roemenië, België, Duitsland en Italië het die ontdekking beskryf as “die eerste gedokumenteerde geval van koloniale webvorming” van twee spesies wat normaalweg nie saam gesien word nie. – AFP
2025-11-20 14:49:26
Kyk hoe kyk hy vir my!

Pres. Luiz Inácio Lula da Silva van Brasilië kyk deur ’n kameralens voor ’n mediakonferensie by die COP30-klimaatberaad in Belém, Brasilië. Foto: Reuters
2025-11-20 15:01:38
Dodetal in Viëtnam-vloede styg tot 41
Die dodetal weens verwoestende oorstromings in Viëtnam het tot minstens 41 gestyg, met nog nege mense wat vermis word, het die omgewingsministerie Donderdag gesê ná dae van swaar reën.
Die dodetal het vroeër Donderdag op 16 gestaan.
Sedert Sondag moes byna 62 000 mense hul huise in die land se suid-sentrale streke ontruim nadat stortreën wydverspreide vloede en grondverskuiwings veroorsaak het, wat onder meer snelweë versper en 1 miljoen kliënte sonder elektrisiteit gelaat het, het die ministerie in ’n verklaring gesê. – AFP
2025-11-20 15:29:36
Nog 4 in hegtenis weens Delhi- motorbomontploffing
Indië se teen-terreuragentskap het Donderdag gesê dit het nog vier mense, insluitend drie dokters, in hegtenis geneem in verband met die dodelike motorbomontploffing in Delhi op 10 November.
Tien mense is in die ontploffing buite die historiese Rooi Fort dood en 32 beseer.
Die vier “hoofverdagtes” is geïdentifiseer as drie mans, insluitend twee dokters van Indiese Kasjmir en ’n dokter van die noordelike stad Lucknow, het die nasionale ondersoekagentskap (NIA) gesê.
Die NIA het Sondag en Maandag drie mans van Jammu en Kasjmir in hegtenis geneem, Indië se enigste Moslem-meerderheidsgebied. – Reuters
2025-11-20 15:39:23
Heil genl. Francisco Franco!

’n Man gee Donderdag die Fascistiese saluut om sy respek aan die oorlede Spaanse diktator genl. Francisco Franco te betoon by sy graf in die Mingorrubio-begraafplaas in El Pardo, noord van Madrid. Franco is op 20 November 1975 op 82-jarige ouderdom oorlede nadat hy Spanje byna 40 jaar lank met ’n ystervuis regeer het. Foto: AFP
2025-11-20 16:02:16
Trump sinspeel op doodstraf vir Demokrate wat militêre verset aanmoedig
Pres. Donald Trump het Donderdag die moontlikheid geopper van die doodstraf vir ses Demokratiese wetgewers wat die weermag aangemoedig het om “onwettige bevele” van die administrasie te verontagsaam, en het hulle van “oproerstokery” beskuldig en hulle verraaiers genoem.
“Dit is regtig sleg en gevaarlik vir ons land. Hul woorde kan nie toegelaat word om te bly staan nie. OPROERSTOKENDE GEDRAG VAN VERAAIERS!!! SLUIT HULLE TOE???” het Trump op sy Truth Social-platform geskryf.
Hy het toe in ’n latere plasing bygevoeg: "OPROERSTOKENDE GEDRAG, strafbaar met die DOOD!” – AFP
2025-11-20 16:34:00
Oekraïne gereed om te ‘werk’ aan Amerikaanse vredesplan
Oekraïne het Donderdag gesê hulle het ’n Amerikaanse “konsepplan” ontvang met voorstelle vir die beëindiging van die oorlog met Rusland en hulle is bereid om met Amerika oor die inhoud daarvan saam te werk.
Die kantoor van pres. Wolodimir Zelenski het gesê Oekraïne is gereed “om konstruktief saam met die Amerikaanse kant te werk” en sal “aan die plan se punte werk om ’n waardige einde aan die oorlog te verseker”.
Sonder om uit te wei oor enige van die voorstelle in die plan – wat na bewering grootliks gegrond is op Rusland se eise – het sy kantoor gesê dat Zelenski verwag om “in die komende dae” met pres. Donald Trump te praat.
Vroeër is berig die vredesplan behels onder meer dat Oekraïne grondgebied afstaan, van sy wapentuig prysgee en sy weermag verklein. – AFP, Reuters
2025-11-20 16:39:41
Sweef soos ’n … vlugduif

’n Deelnemer aan ’n duiwewedvlug en sy wedvlugduiwe Donderdag in Surabaya in die provinsie Oos-Java in Indonesië. Foto: AFP
2025-11-20 17:17:32
Vroeër Covid-19-inperking kon 23 000 lewens in Engeland red, wys studie
Sowat 23 000 sterftes kon in Engeland voorkom gewees het as die eerste staat van inperking weens die Covid-19-pandemie vroeër ingestel is, het ’n openbare ondersoek Donderdag bevind.
Die verslag, wat gepubliseer is ná die onafhanklike ondersoek na Engeland se hantering van die Covid-19-pandemie, kritiseer die regering se “gebrek aan dringendheid” en sê die eerste inperking moes reeds ’n week voor 23 Maart 2020 ingestel gewees het.
Die doel van die inperking was om die verspreiding van die koronavirus SARS-CoV-2 te vertraag, hospitale te beskerm en lewens te red. Baie gesondheidskenners en openbare figure het reeds vroeër gewaarsku teen die gevaar van uitstel, maar die regering het verskeie dae lank gewag voordat hy opgetree het. – AFP
2025-11-20 17:19:17
Aanvalsposisie

’n Israeliese soldaat maak gereed om sy posisie in te neem tydens ’n aanval in die Palestynse stad Nabloes in die noorde van die Wesoewer. Foto: AFP
2025-11-20 17:24:59
Brand breek uit op COP30-klimaatberaad in Brasilië
’n Brand het Donderdag by ’n paviljoen op die terrein van die Verenigde Nasies (VN) se COP30-klimaatberaad in Belém, Brasilië, uitgebreek wat paniek onder afgevaardigdes veroorsaak het. Volgens ooggetuies het mense na die uitgange gehardloop.
Noodspanne het vinnig by die toneel opgedaag om die vlamme te probeer blus terwyl rook die gange gevul het.
Afgevaardigdes van verskeie lande, wetenskaplikes, aktiviste en joernaliste kom jaarliks op dié beraad byeen om oor maatreëls en ooreenkomste vir die bekamping van klimaatsverandering te onderhandel. – AFP
2025-11-20 18:03:43
Vaarwel Dick...

’n Foto van die voormalige Amerikaanse visepresident Dick Cheney word vertoon op ’n groot skerm tydens sy begrafnisdiens in die nasionale katedraal in Washington DC. Cheney, wat as die 46ste visepresident onder pres. George W. Bush en as die 17de minister van verdediging gedien het, is in die ouderdom van 84 aan komplikasies weens longontsteking en vaskulêre siekte dood. Foto: Getty Images
2025-11-20 18:05:53
Vlamme onder beheer by klimaatberaad
Dele van die lokaal vir die COP30-klimaatkonferensie in die Brasiliaanse stad Belém is Donderdag ontruim ná berigte van ’n brand.
Celso Sabino, Brasilië se minister van toerisme, het aan joernaliste by die lokaal gesê die vlamme is onder beheer en dat niemand beseer is nie.
Volgens veiligheidspersoneel het die brand ontstaan in die gedeelte van die lokaal waar lande en organisasies hul openbare stalletjies, bekend as paviljoene, opgestel het.
Afgevaardigdes, waarnemers en joernaliste het hul besittings gegryp en na die uitgange gehardloop terwyl die polisie ’n versperring gevorm het om toegang tot die gebied te verhoed. ’n Sirene het op die agtergrond geloei. – Reuters
2025-11-20 18:21:59
Bulgarye herwin 3 000 gesteelde kulturele artefakte
Die Bulgaarse owerhede het 35 mense in hegtenis geneem en beslag gelê op antieke artefakte ter waarde van meer as 100 miljoen euro in 'n polisie-operasie wat met die ondersteuning van Europol uitgevoer is.
Ongeveer 3 000 gesteelde voorwerpe, waarvan sommige uit 2000 v.C. dateer, is herwin. Dit sluit in Grieks-Romeinse en Thraciese oudhede, maskers, militêre toerusting, juweliersware en vase. Die Bulgaarse nasionale geskiedenismuseum gaan die artefakte tydelik stoor.
Die deurbraak volg op 'n klopjag op 'n huis in 2020 waartydens die polisie beslag gelê het op kulturele artefakte met "onskatbare historiese en geldwaarde”. Europol glo die smokkelaars het onwettige opgrawings in Bulgarye en die naburige Balkanlande gefinansier.
131 deursoekings is hoofsaaklik in Bulgarye uitgevoer maar ook in Frankryk, Albanië, Duitsland en Griekeland. – AFP
2025-11-20 19:01:53
Florida voer vannag 17de teregstelling vanjaar uit
’n Man wat skuldig bevind is aan die verkragting en moord van sy voormalige winkelbestuurder in 1988, sal Vrydagoggend vroeg in Florida deur 'n dodelike inspuiting tereggestel word.
Richard Randolph (63) is in 1989 ter dood veroordeel weens die moord op Minnie McCollum. Volgens hofstukke het Randolph die 62-jarige McCollum verkrag en vermoor nadat sy hom betrap het terwyl hy probeer het om in die kluis in die winkel in te breek.
Die 16 teregstellings tot nou vanjaar in Florida is meer as in enige ander Amerikaanse deelstaat. Daar was vyf elk in Alabama en Texas. Daar was tot dusver 43 teregstellings in Amerika vanjaar. – AFP
2025-11-20 19:25:57
Vriendelike bure

Militêre personeel by ’n Amerikaanse gepantserde voertuig aan die ander kant van die grensmuur in Santa Teresa, Nieu-Mexiko, op die grens tussen Amerika en Mexiko, soos gesien vanaf Ciudad Juárez, Mexiko. Foto: Reuters
2025-11-20 19:44:13
Vredesplan 'goed' vir Rusland én Oekraïne – Withuis
’n Amerikaanse vredesplan, gesteun deur pres. Donald Trump, wat met Rusland en Oekraïne onderhandel word, is "goed" vir albei kante, het die Withuis Donderdag gesê en besorgdhede verwerp dat dit baie van Rusland se eise weerspieël.
"Ons glo dat dit vir albei kante aanvaarbaar behoort te wees," het Karoline Leavitt, woordvoerder van die Withuis, ten tyde van ’n inligtingsessie gesê.
Vroeër is berig die vredesplan behels onder meer dat Oekraïne grondgebied afstaan, van sy wapentuig prysgee en sy weermag verklein.
Marco Rubio, minister van buitelandse sake, en die spesiale gesant Steve Witkoff het die afgelope week met verteenwoordigers van Oekraïne vergader om die vredesplan te bespreek, het Leavitt gesê. – AFP, Reuters
2025-11-20 20:02:12
Bevryde Gasa-gyselaar sê hy is seksueel aangerand
Guy Gilboa-Dalal (24), ’n Israeliese gyselaar wat verlede maand ná meer as twee jaar in aanhouding vrygelaat is, beweer in ’n televisie-onderhoud hy is seksueel aangerand terwyl hy in Hamas-aanhouding in die Gasastrook was.
Hy is die eerste man wat in die openbaar erken dat hy as gyselaar seksueel aangerand is.
In ’n uittreksel van die onderhoud met ’n Israeliese televisiestasie, wat Vrydag uitgesaai word, vertel Gilboa-Dalal nadat hy toegelaat is om te stort, het die man wat hom aangehou het, geweier dat hy aantrek en hom begin betas.
"Ek het vir hom gesê: 'Jy maak seker 'n grap? Dit is verbode in Islam.' Hy het ’n geweer teen my kop en ’n mes teen my keel gehou en vir my gesê as ek vir iemand sê, sal hy my doodmaak," vertel Gilboa-Dalal.
Toe hy gevra is of dit ’n geïsoleerde voorval was, het Gilboa-Dalal gesê nee, maar hy wou nie daaroor uitwei nie. – AFP
2025-11-20 20:31:08
Nou gaan die poppe dans

’n Danseres wag Donderdag om op die verhoog te gaan tydens die Boedapest Ballet Grand Prix in die Nasionale Dansteater in Boedapest, Hongarye. Die Grand Prix bied jong dansers die geleentheid om mee te ding en blootstelling te kry in die internasionale danswêreld. Foto: Reuters
2025-11-21 03:52:36
Italië lê beslag op 42 ton tamatiepuree
Die grenspolisie van Italië het Donderdag gesê hy het op meer as 42 ton tamatiepuree beslag gelê waarop valslik aangedui word dat dit in Italië gemaak is.
Die tamatiepuree het die land via Bulgarye binnegekom, maar dit is nie duidelik of dit van Bulgarye of van ’n ander land afkomstig is nie.
As een van die wêreld se voorste vervaardigers van tamatiesous, was Italië in die verlede betrokke by omstredenheid oor die verkeerde etikettering van tamatiepasta wat uit China ingevoer is. – Reuters
2025-11-21 04:03:29
Trump, Vance nie na Dick Cheney se begrafnis genooi
Pres. Donald Trump en visepresident JD Vance is nie na Donderdag se begrafnisdiens van Dick Cheney, voormalige visepresident, genooi nie, volgens ’n amptenaar van die Withuis.
Die gaste het voormalige presidente Joe Biden en George W. Bush ingesluit, sowel as voormalige visepresidente Kamala Harris en Mike Pence.
Cheney het Trump se vals bewerings oor die oorwinning in die presidentsverkiesing in 2020 en die aanval op die Kongresgebou deur Trump se ondersteuners gekritiseer.
“In ons nasie se 248-jarige geskiedenis was daar nog nooit ’n individu wat ’n groter bedreiging vir ons republiek inhou as Donald Trump nie,” het Cheney gesê. – Reuters
2025-11-21 04:46:07
China waarsku burgers oor werk in SAR
China se ambassade in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) het gewaarsku dat sy burgers die risiko loop om “mynslawe” te word in die land se goudhandel.
Dit kom terwyl Chinese werkers na Afrika suid van die Sahara kyk namate werksgeleenthede in China opdroog.
Chinese burgers is deur gewapende groepe en selfs hul vermeende sakevennote vermoor of ontvoer, terwyl ander met groot bedrae geld bedrieg en gedeporteer is vir onwettige mynbou, het die ambassade Donderdag in ’n verklaring gesê. – Reuters
2025-11-21 04:55:47
Dodetal styg tot 30 weens grondstortings in Indonesië
Die dodetal weens grondstortings in twee streke van Sentraal-Java, Indonesië, het tot 30 gestyg terwyl reddingspogings voortduur.
Sowat 21 mense word steeds vermis nadat grondstortings wat deur stortreën veroorsaak is, die stad Cilacap verlede week en die Banjarnegara-streek oor die afgelope naweek getref het.
Minstens 700 reddingswerkers, insluitend polisie en militêre personeel, soek steeds na die vermistes en gebruik graafmasjiene om die soektog te bespoedig, het die owerhede gesê. – Reuters
2025-11-21 05:09:09
Vrou kry 20 jaar tronkstraf weens moord op 3 toeriste in Mexiko
’n Hof in Mexiko het ’n vrou tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir haar betrokkenheid by die moorde op twee Australiese branderplankryers en ’n Amerikaner in April 2024 in die staat Baja California.
Die slagoffers was die Australiese broers Jake (30) en Callum Robinson (33), en Jack Carter Rhoad (30), ’n Amerikaanse burger.
Die drie het in ’n afgeleë strandgebied gekamp toe hulle vermoor is.
Ary Gisell Silva (23) het gedurende die verhoor erken sy het die roof van die toeriste se besittings aangehits en daaraan deelgeneem, wat tot hul moorde gelei het. – AFP
2025-11-21 05:21:43
Rekordbedrag behaal vir skildery deur vrouekunstenaar
’n Selfportret deur die legendariese Mexikaanse kunstenaar Frida Kahlo is Donderdag in New York vir $54,66 miljoen verkoop.
Dit is ’n rekordprys vir ’n skildery deur ’n vrou, het Sotheby’s gesê.
Die verkoop van Kahlo se kunswerk uit 1940, getiteld El sueno (la cama), wat vertaal word as “Die droom (Die bed)”, breek die vorige rekord in hierdie kategorie deur die Amerikaanse kunstenaar Georgia O’Keeffe.
O’Keeffe se skildery uit 1932 is in 2014 vir $44,4 miljoen verkoop. – AFP

‘El Sueno’ deur Frida Kahlo in New York op 8 November. Foto: AFP
2025-11-21 05:53:08
Aardbewing tref Bangladesj
’n Aardbewing van 5,5 het Bangladesj Vrydag getref, het die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) gesê.
Die aardbewing het om 10:38 plaaslike tyd naby die stad Narsingdi, ongeveer 33 km van die hoofstad, Dhaka, plaasgevind.
Daar was geen onmiddellike berigte oor ongevalle nie, maar die USGS se Pager-stelsel, wat voorlopige assesserings oor die impak van aardbewings verskaf, het die potensiaal vir “beduidende ongevalle” en skade beraam.
Volgens die Duitse Navorsingsentrum vir Geowetenskappe was die aardbewing 5,7. – AFP
2025-11-21 06:11:05
Mej. Mexiko as Mej. Heelal gekroon
Fatima Bosch, Mej. Mexiko, is Vrydag as Mej. Heelal in Thailand gekroon.
Deelnemers van die Ivoorkus, die Filippyne, Thailand en Venezuela het ook die eindronde gehaal.
Bosch het vroeër vandeesmaand uit ’n byeenkoms gestap waar sy deur die Thaise organiseerder Nawat Itsaragrisil gekritiseer is.
Twee beoordelaars het dae voor die kompetisie bedank, en een beskuldig die organiseerders daarvan dat hulle die keuringsproses gemanipuleer het. – AFP

Mededeelnemers vier Vrydag die kroning van Mej. Mexiko as Mej. Heelal in Bankok, Thailand. Foto: Reuters
2025-11-21 07:29:41
3 dood weens aardbewing in Bangladesj
Minstens drie mense is dood toe ’n aardbewing Bangladesj Vrydag getref het.
Vroeër is berig die aardbewing van 5.5 het om 10:38 plaaslike tyd naby die stad Narsingdi, ongeveer 33 km van die hoofstad, Dhaka, plaasgevind.
Die aardbewing het vrees veroorsaak, met talle in die Moslem-meerderheidsland, met ’n bevolking van 170 miljoen, wat op hul afdag tuis was.
AFP-verslaggewers in Dhaka het inwoners in die strate sien huil terwyl ander geskok gelyk het. – AFP
2025-11-21 07:52:56
Owerhede in Japan wil wêreld se grootste kernkrag-aanleg heropen
Die plaaslike owerhede in Japan het Vrydag die heropening van die wêreld se grootste kernkrag-aanleg goedgekeur.
Die land se kernreguleerder moet egter nog die finale toestemming gee.
Die Kasjiwazaki-Kariwa-aanleg is gesluit toe Japan die gebruik van kernkrag ingrypend verminder het nadat ’n tsoenami in Maart 2011 die Foekoesjima-kernkragaanleg beskadig en drie van die aanleg se kernreaktors ineengestort het. – AFP
2025-11-21 08:21:04
Oekraïne, Rusland moet kwessies in vredesplan dringend bespreek, sê Duitse minister
Johann Wadephul, Duitse minister van buitelandse sake, sê hy sien ’n Amerikaanse vredesplan om die oorlog in Oekraïne te beëindig, as ’n lys van kwessies wat dringend tussen Oekraïne en Rusland bespreek moet word.
Hy beklemtoon egter dit is nie ’n finale plan nie.
“Die Duitse posisie is die Europese posisie en dit beteken dat ons Oekraïne steun. Ons wil verseker dat Oekraïne hierdie punte vanuit ’n sterk posisie kan bespreek,” sê Wadephul. – Reuters
2025-11-21 08:46:06
Onbekende aantal leerlinge by skool in Nigerië ontvoer
’n Onbekende aantal leerlinge is uit ’n Katolieke skool in Sentraal-Nigerië ontvoer.
Dit is die tweede soortgelyke voorval in minder as een week.
“Die regering van die deelstaat Niger het met diepe hartseer die ontstellende nuus ontvang van die ontvoering van leerlinge van die St. Mary’s School in die plaaslike regeringsgebied van Agwara,” het Abubakar Usman, die sekretaris van die deelstaatregering, gesê.
“Die presiese getal ontvoerde leerlinge moet nog bevestig word omdat veiligheidsagentskappe steeds die situasie beoordeel.” – AFP
2025-11-21 09:38:23
Gewapende mans eis losprys vir vrylating van aanbidders
Gewapende mans het Dinsdag 38 aanbidders uit ’n kerk in die stad Kwara, Nigerië, ontvoer en eis ’n losprys van ongeveer $69 000 per aanbidder, het ’n amptenaar van die kerk Vrydag gesê.
Vroeër vandeesweek is berig minstens twee mense is tydens die aanval vermoor en ’n aantal aanbidders, onder wie die pastoor, ontvoer. – Reuters
2025-11-21 09:45:46
‘Beslissende oomblik,’ sê Orban oor vredesplan vir Oekraïne
Viktor Orban, premier van Hongarye, sê dat die komende weke deurslaggewend sal wees vir ’n Amerikaanse vredesplan vir die oorlog in Oekraïne.
“Hierdie vredesplan sluit voorstelle in waaroor die Russe en die Amerikaners reeds voorlopige besprekings gevoer het,” het Orban gesê.
“Ek dink hier kom ’n beslissende oomblik. Die volgende twee of drie weke sal deurslaggewend wees.”
Die plan, bestaande uit 28 punte, vra vir groot toegewings deur Oekraïne, insluitend die prysgee van grond aan Rusland en die vermindering van sy weermag. – AFP
2025-11-21 09:53:15
Dodetal styg tot minstens 5 weens aardbewing in Bangladesj
Die dodetal weens ’n aardbewing in Bangladesj het tot minstens vyf gestyg. Ongeveer 100 mense is beseer.
Skuddings is gevoel in oostelike deelstate in Indië wat aan Bangladesj grens. Daar was geen onmiddellike berigte van groot skade daar nie, het die owerhede gesê.
Vroeër is berig die aardbewing het om 10:38 plaaslike tyd naby die stad Narsingdi, ongeveer 33 km van die hoofstad, Dhaka, plaasgevind.
Die Amerikaanse Geologiese Opname het gesê die aardbewing was 5,5 en volgens die Duitse Navorsingsentrum vir Geowetenskappe was dit 5,7. – Reuters
2025-11-21 10:15:44
Wyle Black Panther-akteur kry Hollywood-ster

’n Portret van wyle Amerikaanse akteur Chadwick Boseman en ’n paar skoene is Donderdag langs sy ster op die Hollywood Walk of Fame geplaas. Sy ster is in ’n postume seremonie in Los Angeles, Kalifornië, bekend gestel. Boseman was bekend vir sy rol as die superheld Black Panther. Boseman is op 29 Augustus 2020 in die ouderdom van 43 oorlede ná ’n vier jaar lange private stryd teen kolonkanker. Foto: AFP
2025-11-21 10:25:16
2 oornag in besette Wesoewer doodgeskiet
Israeliese magte het oornag twee Palestynse tieners (16 en 18) doodgeskiet in ’n aanval op ’n dorp naby Ramallah in die besette Wesoewer, het inwoners gesê.
Die ministerie van gesondheid in die Palestynse Owerheid, wat beperkte selfregering in die Wesoewer uitoefen, het die sterftes bevestig.
Die Palestynse Wafa-nuusagentskap berig dat Israeliese magte die dorp Kafr Aqab bestorm het, magte in die strate en bo-op die dorp se geboue ontplooi het voordat hulle losgebrand het.
Die Israeliese weermag het navrae na die grenspolisie verwys.
Die grenspolisie het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-11-21 10:39:37
Nuwe voorstel op laaste dag van COP30-klimaatberaad onthul
Brasilië, gasheer van die Verenigde Nasies se COP30-klimaatberaad, het Vrydag ’n nuwe konsepooreenkoms onthul wat nie ’n padkaart vir die uitfasering van fossielbrandstowwe insluit nie.
Ongeveer 30 lande het Donderdag aan die Brasiliaanse presidentskap geskryf en gewaarsku dat hulle nie ’n finale ooreenkoms op die beraad kan aanvaar wat nie ’n plan insluit om weg te beweeg van fossielbrandstowwe nie.
Vandag (Vrydag) is die laaste dag van die beraad. – AFP
2025-11-21 11:07:32
Zelenski gaan Europese bondgenote bel oor vredesplan
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne gaan Vrydag sy belangrikste Europese bondgenote kontak om ’n Amerikaanse plan te bespreek om die oorlog met Rusland te beëindig.
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk, Keir Starmer, Britse premier, en die Duitse bondskanselier, Friedrich Merz, sal hulle by Zelenski aansluit vir die oproep.
Europa en Oekraïne probeer vinnig reageer nadat Amerika vir Oekraïne ’n plan gestuur het om die oorlog te beëindig, wat glo baie van Rusland se maksimum eise ondersteun. Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne het in Februarie 2022 begin ná Rusland se grootskaalse inval. – AFP
2025-11-21 11:14:20
Poetin besoek soldate

’n Foto van ’n skermgreep wat deur die Russiese presidensiële mediakantoor vrygestel is, wys pres. Wladimir Poetin op 'n besoek aan Russiese soldate in 'n onbekende gebied in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne.
Foto: Russiese presidensiële mediakantoor via AFP
2025-11-21 11:24:02
Trump-amptenare berei voor vir moontlike skommeling
Die Withuis berei voor vir moontlike veranderinge in die regering nadat pres. Donald Trump die eenjaar-mylpaal van sy tweede termyn ná sy terugkeer as staatshoof bereik het.
Dit kan moontlik sy andersins stabiele span ontwrig, het CNN Vrydag berig en verskeie persone met kennis daaroor aangehaal.
Wanneer ’n nuwe Amerikaanse president 'n jaar in die amp is, is dit algemeen dat daar oorweeg word om sekere ministers te vervang of in ander portefeuljes aan te stel.
Die tendens word dikwels beskou as ’n manier om nuwe energie, lojaliteit of vaardighede na die administrasie te bring. – Reuters
2025-11-21 11:38:58
Starmer in SA vir G20

Detail van Brittanje en Suid-Afrika se landsvlae is sigbaar op die baadjie van Keir Starmer, Britse premier, op ’n vergadering in Johannesburg voor die aanvang van die G20-leiersberaad Saterdag. Foto: Getty Images
2025-11-21 12:03:03
Indiese vegvliegtuig stort neer by Dubai-lugskou, vlieënier dood
Die vlieënier van 'n Indiese Tejas-vegvliegtuig het Vrydag gesterf toe hy tydens ’n vliegvertoning by die Dubai-lugskou neergestort het.
Die vliegtuig het ’n lae rol uitgevoer toe dit sowat 1,6 km van die vertoningsterrein neergestort en in vlamme uitgebars het.
Ooggetuies vertel dat die vliegtuig skielik spoed verloor het voordat dit verongeluk het. Dubai se staatsbeheerde mediakantoor het die voorval later op X bevestig en hul meegevoel aan die gesin van die vlieënier oorgedra.
Video’s wat op sosiale media versprei is, wys duidelik hoe die gevegsvliegtuig teen ’n geweldige spoed die grond tref en in ’n reuse vlammebal verander terwyl omstanders in skok toekyk. ’n Ondersoek is van stapel gestuur om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. – AFP
2025-11-21 12:14:14
VSA se vredesvoorstel laat spanning oplaai
Rustem Umerov, Oekraïne se veiligheidshoof, het Vrydag ontken dat hy ’n Amerikaanse vredesplan, wat die meeste van Rusland se eise steun, aanvaar het.
Die plan, wat Washington aan Kijif voorgelê het, vereis dat Oekraïne grondgebied prysgee, sy weermag verklein en sy aanspraak op Navo-lidmaatskap laat vaar.
Europese leiers, wat nie oor die plan geraadpleeg is nie, het intussen beplan om saam daarop te reageer.
Amerika beweer Umerov het die dokument help wysig, maar Umerov sê hy het niks goedgekeur nie. Pres. Wolodimir Zelenski het die plan ontvang, maar nie kommentaar gelewer oor die besonderhede nie.
Hy egter wel beklemtoon dat Oekraïne gereed is vir “konstruktiewe en eerlike” samesprekings. Die Kremlin het geen amptelike voorlegging ontvang nie. – Reuters
2025-11-21 12:22:24
Tragedie ná missielaanval

Grafgrawers werk tydens die begrafnis van slagoffers van ’n Russiese missielaanval op ’n woonstelgebou in Ternopil, Oekraïne. Die aanval was deel van die voortgesette konflik tussen Rusland en Oekraïne. Foto: Reuters
2025-11-21 13:04:48
VSA stel glo ultimatum aan Oekraïne oor vredesplan
Oekraïne ervaar tans groter druk van die VSA as ooit tevore om die raamwerk van ’n Amerikaans bemiddelde vredesooreenkoms met Rusland te aanvaar.
Dié keer sluit die druk selfs dreigemente in om die verskaffing van intelligensie en wapens te staak, sê twee bronne met direkte kennis van die onderhandelinge.
’n Bron, wat anoniem wil bly, sê die VSA wil hê Oekraïne moet teen volgende Donderdag die raamwerkooreenkoms onderteken.
Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne woed sedert Februarie 2022. Amerika het sedertdien as een van Oekraïne se belangrikste bondgenote na vore getree, met uitgebreide militêre, logistieke en finansiële steun. – Reuters
2025-11-21 13:12:42
Verkragtingsdwelms nou as wapens beskou in Duitsland
Duitsland beplan om die gebruik van verkragtingsdwelms by wetsoortredings voortaan as die gebruik van ’n wapen te hanteer. Dit vorm deel van nuwe maatreëls om die slagoffers van huishoudelike geweld en seksuele aanranding beter te beskerm, sê Alexander Dobrindt, minister van binnelandse sake.
“Ons klasifiseer verkragtingsdwelms nou as wapens. Dit beteken strenger vervolging en duidelike gevolge,” sê hy. In 2024 was byna 54 000 vroue en meisies slagoffers van seksuele misdrywe in Duitsland –’n styging van 2,1%.
Die regering het ’n konsepwet goedgekeur vir elektroniese enkelbande om oortreders te monitor en ’n nuwe app waarmee slagoffers mishandeling diskreet kan dokumenteer. “Vroue moet oral vry en veilig kan beweeg,” sê Dobrindt. – Reuters
2025-11-21 13:21:14
Soektog na die stoflike...

Gemaskerde gewapende lede van die Palestynse Islamitiese Djihad-beweging soek na die oorskot van gyselaars in Noeseirat in die Gasastrook. Foto: AFP
2025-11-21 14:06:46
Europese LP 10 jaar tronk toe oor Russiese omkoopgeld
Nathan Gill, ’n voormalige lid van die Europese parlement en Walliese leier van die Reform UK-party, is Vrydag deur ’n Britse hof tot 10 jaar en ses maande tronkstraf gevonnis oor die lewering van pro-Rusland toesprake in die Europese parlement in ruil vir geld.
Gill het in September skuldig gepleit op aanklagte dat hy omkoopgeld ter waarde van duisende euro’s van ’n pro-Russiese politikus in Oekraïne aanvaar het en die lewering van geskrewe verklarings en televisie-optredes op sy versoek. – AFP
2025-11-21 14:27:15
Huishoudelike geweld in Duitsland op rekordvlak
Huishoudelike geweld in Duitsland het in 2024 tot ’n rekordvlak gestyg, volgens syfers wat Vrydag deur die land se federale polisiediens vrygestel is.
Die oorgrote meerderheid van die slagoffers was vroue en meisies, wat 70,4% van die 265 942 mense uitmaak wat die polisie amptelik as slagoffers geregistreer het.
Die verdagtes in huishoudelike geweld was in 75,6% van gevalle mans en in 24,4% van die gevalle vroue. Altesaam 286 mense – 95 mans en 191 vroue – is in dié jaar in voorvalle van huishoudelike geweld dood. – AFP
2025-11-21 14:45:14
Op die rotse...

’n Hommeltuigfoto van ’n verlate bootjie wat deur migrante gebruik is om die Spaanse eiland Mallorca te bereik, op die Es Caragol-strand in die suide van dié Baleariese eiland. Foto: Reuters
2025-11-21 15:00:07
Kremlin aan Zelenski: Onderhandel of verloor nog grondgebied
Die Kremlin het pres. Wolodimir Zelenski Vrydag gewaarsku om “nou" onderhandelinge te voer of meer grondgebied te verloor, nadat Amerika ’n vredesvoorstel aan Oekraïne gestuur het wat baie toegewings op Rusland se voorwaardes maak.
“Die doeltreffende werk van die Russiese gewapende magte behoort Zelenski te oortuig dit is beter om nou eerder as later te onderhandel,” het Dmitri Peskof, die Kremlin-woordvoerder, gesê.
“Die beweegruimte vir vrye besluitneming word meer beperk vir hom namate grondgebied verlore gaan in offensiewe deur die Russiese weermag,” het Peskof bygevoeg. – AFP
2025-11-21 15:30:06
Oekraïne kan Amerika as vennoot verloor – Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski het Vrydag gesê hy sal Oekraïne nie “verraai” nie en sal ander voorstelle maak om ’n Amerikaanse plan te wysig om die oorlog met Rusland te beëindig, met die huidige plan wat wyd gesien word as toegewings aan allerlei Russiese voorwaardes.
“Ek sal argumente aanbied, ek sal oortuig, ek sal alternatiewe voorstel,” het Zelenski in ’n toespraak aan die nasie gesê.
Hy het toegegee sy land loop in dié proses die risiko om die steun van ’n sleutelvennoot, Amerika, te verloor.
“Oekraïne kan voor ’n baie moeilike keuse te staan kom: óf die verlies van waardigheid, óf die risiko om ’n sleutelvennoot te verloor,” het Zelenski gesê.
Met verwysing na Oekraïne se reaksie op die Russiese inval in Februarie 2022, het hy gesê: “Ons het Oekraïne nie toe verraai nie, en ons sal dit ook nou nie doen nie.” – AFP
2025-11-21 15:43:38
Werp lig op die spyskaart

’n Vrou gebruik Vrydag die flitslig van haar selfoon om ’n spyskaart in ’n restaurant te bekyk tydens ’n kragonderbreking in Kijif, Oekraïne. Foto: AFP
2025-11-21 16:01:03
Oekraïne-vredesplan ‘moet territoriale integriteit respekteer’ – VN-hoof
Enige vredesplan vir Oekraïne moet Verenigde Nasies (VN)-resolusies gehoorsaam wat die land se “territoriale integriteit” handhaaf, het António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, Vrydag gesê.
“Ons praat van iets wat in die media is en nog nie formeel deur Amerika of enige ander entiteit voorgelê is nie,” het Guterres in ’n nuuskonferensie in Johannesburg voor die G20-beraad gesê.
“Vir ons moet ’n vredesoplossing vir Oekraïne … ook voldoen aan die resolusies van die Algemene Vergadering wat duidelik aandui dat die territoriale integriteit van Oekraïne gerespekteer moet word," het hy gesê. – AFP
2025-11-21 16:35:21
Oekraïne moet vredesplan teen Donderdag aanvaar – Trump
Pres. Donald Trump het Vrydag in ’n radio-onderhoud gesê hy dink Donderdag is ’n gepaste sperdatum vir Oekraïne om ’n Amerikaans gesteunde vredesvoorstel te aanvaar om Rusland se oorlogvoering in die land te beëindig.
“Ek het al baie sperdatums gehad, maar as dinge goed werk, is jy geneig om die sperdatums uit te stel. Maar ons dink Donderdag is ’n gepaste tyd,” het Trump aan The Brian Kilmeade Show op Fox News Radio gesê.
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het vroeër Vrydag gesê hy sal ander voorstelle bied om die plan te wysig, en toegegee sy land loop in dié proses die risiko om die steun van Amerika, ’n sleutelvennoot, te verloor. – Reuters, AFP
2025-11-21 16:44:55
Dans met die blou rok

Mykhailo Bokii en Olivia King ding mee in die 50ste Britse Nasionale Danskampioenskapsbyeenkoms in Blackpool, Noordwes-Engeland. Daar is meer as 2 000 inskrywings ontvang van mense wat meeding om die 23 kampioenskapstitels by die vierdaagse byeenkoms. Foto: AFP
2025-11-21 17:08:20
Moenie KI gebruik vir jou huiswerk, sê pous aan jonges
Kunsmatige intelligensie (KI) kan bruikbaar wees vir leerdoeleindes, maar moenie dit vir jou huiswerk gebruik nie.
So het pous Leo XIV aan sowat 15 000 Amerikaanse jong mense gesê in ’n vraag-en-antwoord-sessie Vrydag.
In ’n regstreekse videoverbinding tussen die Vatikaan en ’n nasionale Rooms-Katolieke jeugkonferensie in Indianapolis in die Amerikaanse deelstaat Indiana het Leo gesê KI is besig om “een van die bepalende verskynsels van ons tyd te word”. Hy het jong mense aangemoedig om die tegnologie verantwoordelik te gebruik om hulself te help groei, “maar moenie dit vra om jul huiswerk vir julle te doen nie”.
Leo, eerste Amerikaanse pous, het sowat 40 minute lank met die jeug gesels in die eerste sessie van dié aard. Hy het vrae oor die Rooms-Katolieke geloof beantwoord en ook raad gegee oor hoe om vriende te maak by die skool. – Reuters

Pous Leo XIV Foto: AP
2025-11-21 17:14:17
Zelenski praat met Navo oor ‘diplomatieke opsies om oorlog te beëindig’
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Vrydag gesê hy het met Mark Rutte, sekretaris-generaal van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), gesels oor die “beskikbare diplomatieke opsies” om sy land se oorlog met Rusland te beëindig.
“Ons het die beskikbare diplomatieke opsies en die plan bespreek wat deur die Amerikaanse kant voorgestel is,” skryf hy op X.
“Ons is gereed om vinnig en konstruktief te werk om te sorg dat dit slaag. Ons koördineer ons volgende gesamentlike stappe.”
Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne woed al sedert Februarie 2022 en het internasionale krisisse, ongekende menslike lyding en wêreldwye ekonomiese impak veroorsaak. – Reuters
2025-11-21 17:23:26
Ligvoets eenparig

Dansers van die Birmingham Royal Ballet repeteer sir Peter Wright se produksie van ‘Die Neutekraker’ in Birmingham, Engeland. Foto: Getty Images
2025-11-21 18:01:48
Nege sterf, honderde beseer in aardbewing in Bangladesj
Nege mense is dood en meer as 300 beseer in ’n kragtige aardbewing Vrydag buite Dhaka, Bangladesj se hoofstad.
Die aardbewing met ’n sterkte van 5.5 het volgens die Amerikaanse geologiese diens naby die stad Narsingdi, sowat 33 km van Dhaka, plaasgevind.
Die aardbewing het paniek en chaos veroorsaak. Minstens 14 geboue is beskadig en ’n brand het by ’n kragstasie uitgebreek wat later onder beheer gebring is. – AFP
2025-11-21 18:05:27
VSA se plan kan grondslag vorm vir vrede met Oekraïne, sê Poetin
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het Vrydag gesê ’n Amerikaanse plan “kan die grondslag lê” vir ’n vredesooreenkoms met Oekraïne en vir die eerste keer bevestig dat Rusland ’n afskrif van Amerika se plan ontvang het.
“Ek glo dit kan dien as basis vir ’n finale vredesooreenkoms,” sê hy, met verwysing na Amerika se 28-punt-plan wat baie van Rusland se belangrikste eise insluit en reeds kommer in Oekraïne en Europa laat ontstaan het.
Poetin het egter gedreig om verdere grondgebied te beset indien Oekraïne die voorstel sou verwerp. Hy sê die onlangse verowering van die Oekraïense stad Kupiansk “sal onvermydelik in ander kerngebiede van die front hervat word”. – AFP

Russiese soldate wat betrokke is by die land se oorlog in Oekraïne, neem deel aan ’n parade op Oorwinningsdag, ter viering van die 80ste herdenking van die oorwinning oor Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog, in Mei vanjaar in Moskou, Rusland. Foto: Reuters
2025-11-21 18:15:53
Oekraïne moet self oor sy toekoms kan besluit, sê Europese Kommissie
Ursula von der Leyen, voorsitter van die Europese Kommissie, het Vrydag beklemtoon dat Oekraïne ’n wesenlike rol moet speel in die bepaling van sy eie toekoms en aangekondig dat Europese leiers Saterdag oor ’n Amerikaanse vredesplan gaan beraadslaag.
“Ons is duidelik daaroor dat daar niks oor Oekraïne sonder Oekraïne moet gebeur nie,” het sy ná gesprekke met pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne op X gesê.
Sy voeg by dat Europese leiers weer Saterdag op die kantlyn van die G20-beraad en daarna, op die vergadering tussen die Europese en die Afrika-Unie in Angola volgende week, verder sal vergader. Verskeie Europese leiers is die naweek op die G20-beraad in Johannesburg. – AFP
2025-11-21 19:05:03
Sneeuspore

’n Motor ry Vrydag verby sneeubedekte motors in ’n parkeerterrein in Rzeszów, Pole. Foto: Reuters
2025-11-21 19:24:22
Israel maak 5 'terroriste' in suide van Gasastrook dood
Die Israeliese weermag het gesê hy het Vrydag vyf Palestynse “terroriste” in die suide van die Gasastrook doodgemaak in ’n gebied onder sy beheer.
Die voorval het plaasgevind aan Israel se kant van die sogenaamde Geel Lyn, die skeidslyn tot waaragter Israeliese magte teruggetrek het as deel van die skietstilstand-ooreenkoms.
Volgens die weermag is “vyf terroriste geïdentifiseer wat uit ondergrondse terroriste-infrastruktuur in die ooste van Rafah” verskyn en ’n “onmiddellike bedreiging” vir Israeliese magte ingehou het.
“Vervolgens het die lugmag die terroriste uitgewis,” lui die verklaring. – AFP
2025-11-21 19:50:09
Vegemite sy reg as Australiër, sê moordenaar
’n Veroordeelde Australiese moordenaar sleep die deelstaat Victoria hof toe oor sy reg om Vegemite, die Australiese weergawe van Marmite, op sy roosterbrood in die tronk te smeer.
Andre McKechnie voer aan die eet van Vegemite is deel van “sy kultuur as ’n Australiër”.
Dié smeer bevat gis en tronke in Victoria verbied dit uit vrees dat dit gebruik kan word om onwettige alkohol te brou. Gevangenes smeer ook Vegemite op smokkelgoedere om snuffelhonde te mislei. – AFP
2025-11-21 20:00:53
Ruiters van die windjie

Libiese ruiters in ’n “fantasia”, ’n tradisionele vertoon van ruiterkuns, Vrydag in die kusstad Zliten. Foto: AFP
2025-11-21 20:11:09
Sarkozy gaan boek publiseer oor sy 3 weke in tronk
Oudpres. Nicolas Sarkozy van Frankryk gaan volgende maand ’n boek publiseer oor sy ervaring van drie weke in die tronk, het hy Vrydag aangekondig, minder as twee weke ná sy vrylating.
Sarkozy (70) het verlede maand die eerste president in die moderne Franse geskiedenis geword wat tronk toe gaan ná sy skuldigbevinding aan die onwettige verkryging van geld vir sy verkiesingsveldtog in 2007, glo van die destydse Libiese leier Moeammar Ghaddafi.
Die boek, getiteld Dagboek van ’n gevangene (Le journal d'un prisonnier in Frans), word op 10 Desember uitgereik. Dit is 216 bladsye lank en sal teen sowat R400 verkoop word. – AFP
2025-11-21 20:22:48
Bolsonaro se prokureurs vra 27 jaar lange huisarres
Prokureurs van oudpres. Jair Bolsonaro van Brasilië het Vrydag ’n aansoek ingedien dat hy weens swak gesondheid toegelaat word om sy tronkstraf van 27 jaar weens die beplanning van ’n staatsgreep onder huisarres uit te dien.
"Deur die huisarres wat tans deur die aansoeker uitgedien word, te verander, sal ernstige gevolge hê en ’n gevaar vir sy lewe inhou," lui die aansoek in die hooggeregshof.
Bolsonaro se "gesondheid is reeds erg verswak", lui die aansoek. – AFP
2025-11-21 20:23:48
Vonke spat in Italië

’n Betoger skiet Vrydag vuurwerk na die polisie in Bologna, Italië, tydens ’n betoging teen die besoekende Israeliese basketbalspan Maccabi Tel Aviv, wat teen Virtus Bologna sou speel. Foto: Reuters















