

2025-11-24 03:27:24
Oekraïne-oorlog: Gesprekke duur Maandag voort, aan raamwerk ‘geskaaf’
Amerika en Oekraïne sal na verwagting Maandag voortwerk aan ’n plan om die oorlog met Rusland te beëindig nadat hulle geskaaf het aan ’n vorige voorstel deur die Trump-administrasie wat deur Oekraïne as te simpatiek teenoor die Russe beskou is.
Die twee lande het in ’n gesamentlike verklaring ná samesprekings Sondag in Genève gesê hulle het ’n vredesraamwerk opgestel “wat bygewerk en aan geskaaf is”.
Die Withuis het in ’n afsonderlike verklaring gesê die Oekraïense afvaardiging sê die raamwerk “weerspieël hul nasionale belange”.
Oekraïne het nie sy eie verklaring uitgereik nie. – Reuters
2025-11-24 03:32:53
Maleisië wil ook sosiale media vir kinders jonger as 16 verbied
Maleisië wil kinders onder die ouderdom van 16 van volgende jaar af verbied om sosiale media te gebruik.
Die regering hersien meganismes om die ouderdomsperk van sosialemediagebruikers te verlaag, soos in Australië en ander lande gedoen is, het Fahmi Fadzil, minister van kommunikasie, Sondag gesê.
Fadzil het gesê die doel is om jongmense aanlyn te beskerm teen dinge soos kuberafknouery, finansiële swendelary en seksuele misbruik. – Reuters
2025-11-24 03:48:59
Minstens 6 dood in aanvalle in Oekraïne
Russiese magte het Sondag ’n “enorme” hommeltuigaanval op die stad Charkif in Noordoos-Oekraïne uitgevoer waarin vier mense dood is, het amptenare gesê.
Twaalf mense is beseer, onder wie twee kinders, het Oleg Sinjehoebof, goewerneur van die streek, op Telegram bekend gemaak.
Vyftien aanvalle is in ses gebiede in Charkif aangemeld.
Die owerheid van die Dnipropetrofsk-streek verder suid het gesê twee mense is dood in ’n aanval deur Rusland op die dorp Marhanets. – Reuters

’n Brandbestryder op die terrein van ’n Russiese hommeltuigaanval in Charkif, Oekraïne. Foto: Reuters
2025-11-24 04:16:15
Top-Hezbollah-vegter deur Israel doodgemaak
Haitham Ali Tabatabai, Hezbollah se top- militêre bevelvoerder, het Sondag omgekom in ’n aanval deur die Israeliese weermag aan die buitewyke van Beiroet, die Libanese hoofstad.
Die Israeliese weermag het sy dood aangekondig.
Hezbollah het dit later bevestig en Tabatabai geprys as “die groot djihadistiese bevelvoerder” wat “gewerk het om die Israeliese vyand te konfronteer tot die laaste oomblik van sy geseënde lewe”. – Reuters
2025-11-24 04:29:06
Aanbidders vrygelaat ná aanval op kerk in Nigerië
Die 38 mense wat Dinsdag tydens ’n kerkdiens in die staat Kwara in Nigerië ontvoer is, is Sondag vrygelaat, het die owerheid gesê.
Gewapende mans het Dinsdag die Christ Apostolic Church (CAC) aangeval, minstens twee mense doodgeskiet en 38 aanbidders, onder wie die pastoor, ontvoer voordat hulle die woud in gevlug het.
Hulle het 100 miljoen naira (nagenoeg R1,2 miljoen) losprys per gyselaar geëis. – Reuters
2025-11-24 05:00:38
Australiese Snapchatters moet ouderdom verifieer voor verbod wet word
Snapchat het begin om tieners in Australië te vra om hul ouderdom te verifieer.
Dit volg op omvattende wetgewing wat die regering aanvaar het wat kinders jonger as 16 vanaf 10 Desember verbied om sosiale media te gebruik.
Snapchat het in ’n verklaring gesê gebruikers kan hul ouderdom verifieer met behulp van ’n bankrekening of identifikasie wat deur die regering uitgereik is.
Gebruikers kan ook ’n selfie neem wat ’n derde party dan sal gebruik om ’n geskatte ouderdom te verskaf.
Platforms soos Facebook, Instagram en TikTok moet van 10 Desember af gebruikers jonger as 16 se profiele verwyder om boetes te vermy. – AFP
2025-11-24 05:16:28
17 minderjariges van Joodse sekte gered, sê Colombia
Die Colombiaanse immigrasiediens het Sondag op X gesê hy het 17 minderjarige seuns en meisies gered van lede van Lev Tahor, ’n ultra-Ortodokse Joodse sekte.
Lev Tahor, wat ’n vorm van Judaïsme beoefen, was die onderwerp van ondersoeke na die beweerde seksuele misbruik van kinders in verskeie lande.
“Internasionale waarskuwings is uitgereik oor misdade teen minderjariges wat met hierdie gemeenskap geassosieer word,” het die owerheid gesê. – AFP
2025-11-24 05:26:05
3 dood, 5 gewond in aanval op Pakistanse paramilitêre kompleks
Drie personeellede van die Pakistanse federale polisiemag (FC) is dood toe selfmoordbomaanvallers Maandag die paramilitêre mag se hoofkwartier in die stad Peshawar aangeval het, het die polisie gesê.
Minstens vyf mense is ook gewond. Een van die aanvallers is dood toe hy sy plofstof by die hek van die FC-kompleks laat ontplof het, terwyl nog twee deur die veiligheidsmagte doodgeskiet is toe hulle die kompleks wou binnedring, het die polisie gesê.
Islamitiese militante in die streek het die laaste paar weke aanvalle verskerp ná die dodelike botsings op die grens tussen Pakistan en Afganistan verlede maand. – AFP
2025-11-24 06:42:46
Aussie-wetgewers woedend toe verregse politikus boerka in parlement dra
’n Verregse Australiese politikus het Maandag woede ontketen nadat sy met ’n boerka in die land se parlement opgedaag het.
Ander wetgewers het haar optrede as “rassisties” en “disrespekvol” bestempel.
Pauline Hanson van die party One Nation, wat immigrasie teenstaan, wou ’n wetsontwerp in die senaat indien wat die volle bedekking van die gesig in Australië sal verbied.
Net minute nadat ander wetgewers haar gekeer het om die wetsontwerp in te dien, het sy teruggekeer met ’n swart boerka aan en gaan sit.
Haar mede-senatore het haar optrede met verontwaardiging begroet. – AFP
2025-11-24 06:54:52
Pous besoek Turkye, Libanon vandeesweek
Pous Leo XIV vertrek Donderdag op sy eerste oorsese reis na Turkye en Libanon om Christelike eenheid te bevorder en vredespogings aan te moedig te midde van toenemende spanning in die Midde-Ooste.
Die ses dae lange reis is die eerste groot internasionale toets vir die pous, wat in Mei tot hoof van die Katolieke Kerk verkies is.
In Turkye sal Leo die 1 700ste herdenking van die Konsilie van Nicea vier, waar die Geloofsbelydenis, ’n fundamentele deklarasie van die Christelike geloof, geskryf is. – AFP
2025-11-24 07:30:39
Hamas, Egiptiese amptenaar bespreek 2de fase van skietstilstand
’n Afvaardiging van senior Hamas-leiers het Sondag die tweede fase van die skietstilstand met die hoof van Egiptiese intelligensie bespreek.
Hamas het “sy verbintenis tot die implementering van die eerste fase van die skietstilstand herbevestig en die belangrikheid beklemtoon om ’n einde te maak aan Israeliese oortredings (van die skietstilstand)”.
Die tweede fase van die skietstilstand behels onder meer die ontwapening van Hamas, die vestiging van ’n oorgangsowerheid en die ontplooiing van ’n internasionale stabiliseringsmag. – AFP

’n Palestynse man dra Sondag ’n jong seun op sy skouers in die Al-Sjatee-vlugtelingkamp, wes van die stad Gasa in die Gasastrook. Foto: AFP
2025-11-24 07:55:46
Bolsonaro peuter weens ‘paranoia-hallusinasies’ met enkelmonitor
Jair Bolsonaro (70), voormalige president van Brasilië, het Sondag aan ’n regter gesê dat paranoia en hallusinasies wat deur medikasie veroorsaak is, daartoe gelei dat dat hy met ’n elektroniese enkelmonitor gepeuter het.
Volgens hofrekords het Bolsonaro enige voorneme om te ontsnap of die enkelmonitor te probeer verwyder, ontken.
Die polisie het Bolsonaro Saterdag in hegtenis geneem uit vrees dat hy sou vlug.
Hy was onder huisarres terwyl hy wag op finale appèlle teen sy tronkstraf van 27 jaar vir die beplanning van ’n staatsgreep. – Reuters

Jair Bolsonaro in die hooggeregshof in Brasilië op 9 Junie. Foto: Getty Images/Anadolu
2025-11-24 09:02:31
Beamptes vir BBP’s hertoegewys weens veiligheidskrisis in Nigerië
Bola Tinubu, president van Nigerië, het Sondag polisie-lyfwagte van baie belangrike persone (BBP) hertoegewys aan kernpolisiëringspligte en gelas dat tienduisende nuwe beamptes gewerf word weens ’n veiligheidskrisis.
Die president is onder druk nadat byna 400 mense, onder wie meer as 300 skoolkinders, die laaste ruk ontvoer is.
Luidens ’n verklaring deur die kantoor van Tinubu is daar “in baie dele van Nigerië nie voldoende polisiëring” nie. – AFP
2025-11-24 09:43:15
Oekraïne staan by perke op vredesplan
Oekraïne se belangrikste kwessies in die onderhandelinge oor die oorlog is die formele erkenning van besette gebiede, beperkings op sy verdedigingsmagte en sy toekomstige alliansies, het Roeslan Stefantsjoek, speaker van die land se parlement, gesê.
Hierdie standpunte is lank reeds deur Oekraïne gestel, maar is strydig met die voorstelle in ’n Amerikaanse vredesplan.
Maria Malmer Stenergard, Sweedse minister van buitelandse sake, het beklemtoon om blywende vrede te bewerkstellig kan grense nie met geweld verander word nie en kan daar nie beperkings op Oekraïne se weermag wees wat verdere aggressie moontlik maak nie. – Reuters

Oekraïense dienspligtiges vuur Sondag ’n selfaangedrewe houwitser na Russiese troepe af op die frontlinie in die dorp Pokrofsk in die Donetsk-streek, Oekraïne. Foto: Reuters
2025-11-24 10:38:37
Nog geen amptelike inligting oor vredesgesprekke, sê Kremlin
Die Kremlin het Maandag gesê dit het nog geen amptelike inligting ontvang oor die uitslag van die vredesgesprekke wat Sondag in Genève gehou is nie.
Amerika en Oekraïne het in ’n gesamentlike verklaring ná samesprekings gesê hulle het ’n vredesraamwerk opgestel “wat bygewerk en aan geskaaf is”.
Dmitri Peskof, woordvoerder van die Kremlin, het gesê dit sal nie besonderhede van enige konsepooreenkoms via die media bespreek nie.
Hy het ook gesê daar is nog geen planne vir ’n vergadering vandeesweek tussen Russiese en Amerikaanse onderhandelaars nie. – Reuters
2025-11-24 10:47:41
3 Israeliese generaals afgedank weens 7 Oktober-aanval
Die Israeliese weermag het die ontslag van drie generaals en dissiplinêre stappe teen verskeie ander senior offisiere aangekondig weens hul versuim om die aanval deur Hamas op 7 Oktober 2023 te voorkom.
Die aanval het die oorlog in die Gasastrook ontketen.
Die stap kom twee weke nadat Eyal Zamir, hoof van die weermag, ’n “sistemiese ondersoek” na die mislukkings wat tot die aanval gelei het, versoek het.
Die ontslag kom nadat al drie generaals reeds bedank het. – Reuters
2025-11-24 13:06:53
Reggae-legende Jimmy Cliff sterf
Jamaika se Jimmy Cliff, ’n ikoniese reggae-ster wat gehelp het om dié Karibiese eiland se musiek in ’n wêreldwye kulturele verskynsel te omskep, is oorlede, het sy vrou Maandag in ’n sosialemediaplasing gesê. Hy was 81.
“Dit is met diepe droefheid dat ek aankondig dat my man, Jimmy Cliff, oorlede is weens longontsteking,” het sy vrou, Latifa Chambers, op Instagram gesê en “familie, vriende, medekunstenaars en kollegas bedank wat sy reis met hom gedeel het”. – AFP

Jimmy Cliff tree in 2019 op in Brittanje. Foto: Getty Images
2025-11-24 13:15:04
Chinese humanoïede robot stap 3 dae vir wêreldrekord
’n Chinese robot het ’n Guinness-wêreldrekord opgestel nadat dit ’n drie dae lange staptog van 100 km voltooi het, die langste afstand wat tot nog toe deur ’n humanoïede masjien aangemeld is.
Die AgiBot A2 van 1,69 m lank het op 10 November uit die oostelike Chinese stad Suzhou vertrek en op snelweë en in stadstrate gestap voordat dit op 13 November by Shanghai se historiese Bund-gebied aangekom het, volgens Guinness. – AFP
2025-11-24 13:19:00
Zelenski loof ‘belangrike stappe’ in vredesgesprekke, maar …
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Maandag “belangrike stappe” geprys ná gesprekke met Amerika in Genève, Switserland, maar gesê meer werk is nodig om ’n einde aan die oorlog met Rusland te maak.
Oekraïense, Amerikaanse en Europese amptenare het Sondag in Switserland vergader nadat ’n Amerikaanse voorstel om Rusland se byna vier jaar lange inval te beëindig, wyd gekritiseer is as dat dit inskiklik teenoor Russiese eise sou wees.
Die lande het ná die gesprekke in ’n gesamentlike verklaring gesê die onderhandelinge was “konstruktief”. – AFP
2025-11-24 14:01:48
Swaar dra al aan die een kant

’n Viskarweier in Mogadisjoe, Somalië, dra Maandag visse vanaf ’n opelug-strandmark waar plaaslike vissers vroegoggend hul vangste aflaai. Foto: AFP
2025-11-24 14:10:22
Europa moet instem tot Oekraïne-vredesplan – Merz
Europa moet instem tot enige plan om die oorlog in Oekraïne te beëindig, het Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, Maandag gesê.
“Dit is vir ons belangrik dat daar geen vredesplan vir Oekraïne kan wees as ons nie ons instemming verleen oor kwessies wat Europese belange en Europese soewereiniteit raak nie,” het Merz gesê.
Hy het verder gesê nadat Amerika en Europa die naweek stappe vir vrede in Oekraïne bespreek het, moet “die volgende stap wees dat Rusland na die tafel moet kom”.
Hy het beklemtoon dat die gesprekke ’n “langdurige proses is” en bygevoeg dat hy nie dié week enige deurbrake verwag nie. – AFP
2025-11-24 14:13:50
Oekraïne-vredesplan het baie skaafwerk nodig – EU
EU-leiers het Maandag vordering verwelkom in die naweek se gesprekke wat daarop gemik is om die oorlog in Oekraïne te beëindig, maar gesê daar is steeds uitstaande kwessies wat opgelos moet word.
“Hoewel daar werk is om te doen, is daar nou ’n stewige basis om vorentoe te beweeg,” het Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, gesê.
António Costa, president van die Europese Raad, het op sy beurt gesê die Europese Unie (EU) sal aanhou om Oekraïne te ondersteun namate vredesonderhandelinge vorder.
“Die EU is daartoe verbind om pres. (Wolodimir) Zelenski van alle steun te voorsien – diplomatieke steun, militêre ondersteuning, ekonomiese ondersteuning,” het hy gesê. – AFP, Reuters
2025-11-24 15:02:00
Reik na die sterre

Mense kyk Maandag by die Baikonoer-lanseringsentrum in Kazakhstan hoe ’n Sojoes 2.1a-vuurpyl met die Sojoes MS-28-ruimtetuig op ’n lanseerplatform geplaas word voor die volgende bemande sending na die Internasionale Ruimtestasie. Foto: Reuters
2025-11-24 15:06:58
Europese teenvoorstel vir Oekraïne-vrede ‘werk nie’ vir Rusland
Die Kremlin het Maandag gesê ’n Europese teenvoorstel oor ’n Amerikaanse vredesplan vir Oekraïne is nie konstruktief nie en werk nie vir Rusland nie.
"Die Europese plan, met die eerste oogopslag … is heeltemal onkonstruktief en werk nie vir ons nie," het Joeri Oesjakof, pres. Wladimir Poetin se adviseur oor buitelandse beleid, aan verslaggewers in Moskou gesê.
Oekraïense, Amerikaanse en Europese amptenare het die naweek in Switserland vergader nadat ’n Amerikaanse vredesplan wyd gekritiseer is as dat dit inskiklik vir Russiese eise sou wees.
Oesjakof sê dat "nie almal nie, maar talle bepalings van die (Amerikaanse) plan redelik aanvaarbaar vir ons lyk", hoewel sommige egter meer gedetailleerde bespreking sal vereis. – Reuters
2025-11-24 15:07:52
Vulkaan in Ethiopië bars ná 12 000 jaar weer uit
’n Vulkaan in die noordooste van Ethiopië het vir die eerste keer in byna 12 000 jaar weer uitgebars en digte rookpluime tot 14 km hoog die lug in gestuur.
Die Hayli Gubbi-vulkaan, sowat 800 km noordoos van Addis Abeba naby die grens met Eritrea, was Sondag etlike ure lank aktief.
Die vulkaan is in die Skeurvallei geleë, ’n gebied van intense geologiese aktiwiteit waar twee tektoniese plate bymekaarkom.
Aswolke van die vulkaan het oor Jemen, Oman, Indië en Noord-Pakistan gedryf. – AFP
2025-11-24 16:05:01
Afskeid van ’n Hezbollah-leier

Rouklaers in Beiroet, Libanon, dra Maandag die kis van die Hezbollah-leier Haitham Ali Tabatabai en ander wat Sondag in ’n Israeliese aanval op Beiroet se suidelike voorstede dood is. Foto: AFP
2025-11-24 16:06:17
Bolsonaro bly in polisieaanhouding
Brasilië se hooggeregshof het Maandag gestem om oudpres. Jair Bolsonaro in polisieaanhouding te hou. Hy is in huisarres in afwagting op finale appèlaansoeke teen sy vonnis van 27 jaar tronkstraf nadat hy aan die beplanning van ’n staatsgreep in 2022 skuldig bevind is.
Bolsonaro (70) is Saterdag in hegtenis geneem nadat owerhede gesê het hy het ’n soldeerbout gebruik om aan sy enkelmonitor te peuter. Hy het Sondag aan ’n regter gesê paranoia en hallusinasies weens medikasie het hom aan die enkelmonitor laat peuter en dat hy nie enige bedoeling gehad het om te ontsnap of die enkelmonitor te probeer verwyder nie. – Reuters
2025-11-24 16:25:03
Taiwan se 'terugkeer' sleutel tot naoorlogse orde – China
Pres. Xi Jinping van China het Maandag in ’n telefoonoproep met pres. Donald Trump gesê Taiwan se "terugkeer na China" is ’n sleutelkomponent van die naoorlogse internasionale orde, berig die Chinese staatsnuusagentskap Xinhua.
’n Withuis-amptenaar het bevestig dat Trump en Xi telefonies gepraat het, maar geen besonderhede is gegee nie.
China beskou Taiwan as deel van sy grondgebied en sluit nie die gebruik van geweld uit om beheer daaroor te neem nie. Taiwan verwerp dit en sê slegs Taiwan se mense kan oor hul toekoms besluit. – Reuters
2025-11-24 17:02:00
Amper Kersfees in Bethlehem

Palestynse werkers gebruik Maandag hyskrane om ’n Kersboom aanmekaar te sit op die Manager-plein naby die Geboortekerk in Bethlehem in die Israelies besette Wesoewer. Foto: Reuters
2025-11-24 17:06:58
Pole ontbied Israel-ambassadeur oor Joodse kenteken
Die Poolse minister van buitelandse sake het Maandag die Israeliese ambassadeur ontbied oor ’n plasing op sosiale media deur Israel se Yad Vashem-museum ter herinnering aan die Joodse volksmoord wat lui dat Pole die eerste land was wat Jode verplig het om ’n kenteken te dra tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Die plasing Sondag met die herdenking van dié anti-Semitiese bevel in 1939, noem nie dat Pole destyds deur Nazi-Duitsland beset was nie, wat ’n woedende reaksie van die Poolse minister van buitelandse sake ontlok het. – AFP
2025-11-24 17:09:11
Saoedi-Arabië gaan glo meer drankwinkels oopmaak
Saoedi-Arabië beplan om twee nuwe drankwinkels oop te maak, insluitend een wat nie-Moslem, buitelandse personeellede by die staatsoliemaatskappy Aramco sal bedien, volgens bronne wat ingelig is oor die planne.
Die opening van ’n drankwinkel in die oostelike provinsie Dhahran en een vir diplomate in die hawestad Djedda sal ’n verdere mylpaal wees in pogings, gelei deur kroonprins Mohammed bin Salman, om die land meer oop te stel.
Die koninkryk, wat die geboorteplek van Islam is, het verlede jaar ’n drankwinkel in die hoofstad, Riaad, geopen wat nie-Moslem-diplomate bedien, die eerste sodanige winkel sedert ’n verbod 73 jaar gelede ingestel is. – Reuters
2025-11-24 18:02:10
Tragedie in Charkif

’n Meisie reageer nadat haar ma gesterf het in ’n Russiese hommeltuigaanval in Charkif, Oekraïne. Volgens die burgemeester is vier mense dood en 17 beseer in die aanval Sondagaand. Foto: Reuters
2025-11-24 18:06:51
Duitsland verhoor dalk 100-jarige vermeende Nazi-kampwag
Duitse aanklaers ondersoek ’n 100-jarige man wat daarvan verdink word dat hy as ’n Nazi-kampwag gedien en aan teregstellings deelgeneem het in die finale jare van die Tweede Wêreldoorlog.
Owerhede in Dortmund beweer die misdade het tussen Desember 1943 en September 1944 plaasgevind, het die staatsaanklaer Andreas Brendel Maandag aan AFP bevestig, na aanleiding van ’n berig in die koerant Bild.
Daar word beweer die man het in ’n krygsgevangenekamp in Hemer, Wes-Duitsland, gedien wat minstens 100 000 gevangenes, meestal uit die destydse Sowjetunie, gehuisves het. Duisende mense is in die kamp dood. – AFP
2025-11-24 18:08:56
Switserse Uitsaaikorporasie gaan 900 poste teen 2029 besnoei
Die Switserse Uitsaaikorporasie (SRG) het Maandag aangekondig dat hy sowat 900 poste oor die volgende drie jaar gaan besnoei in ’n poging om koste te verminder "te midde van ontwrigtings in die medialandskap".
Die regering het SRG, wat kanale in Switserland se vier nasionale tale bedryf, se begroting skerp teruggesnoei en die uitsaaier sê hy moet nou sy uitgawes teen 2029 met sowat $334 miljoen besnoei.
Dit beteken dat 900 van die sowat 7 000 voltydse poste in die slag gaan bly. – AFP
2025-11-24 19:03:02
Klou vir lewe en dood

’n Man klou Maandag aan ’n padteken in ’n oorstroomde straat in die Songkhla-provinsie, Thailand, nadat hy daarheen gespoel is terwyl hy kos gaan haal het. Dié provinsie is een van 10 in die suide van Thailand wat getref is deur dae lange intense reën en oorstromings, waarin minstens agt mense reeds omgekom het. Foto: Reuters
2025-11-24 19:05:00
Regter gooi sake teen twee Trump-kritici uit
’n Regter het Maandag strafsake teen James Comey, die voormalige FBI-direkteur, en Letitia James, prokureur-generaal van New York, uitgegooi omdat die aanklaer wat pres. Donald Trump met die hand uitgekies het om die sake aanhangig te maak, onregmatig aangestel is.
Trump het openlik gevra vir die vervolging van Comey en James terwyl hy druk op die departement van justisie geplaas het om op te tree teen hoëprofiel-figure wat hom kritiseer en ondersoeke na sy optrede gelei het.
Lindsey Halligan, ’n voormalige persoonlike prokureur van Trump, is in September aangewys as waarnemende aanklaer om albei ondersoeke oor te neem, ondanks geen vorige ervaring nie. – Reuters
2025-11-24 19:06:46
Demokratiese senator in Pentagon se visier oor video
Die Pentagon het Maandag gesê hy oorweeg ’n krygsraad teen Mark Kelly, ’n Demokratiese senator en voormalige ruimtevaarder, in verband met ’n video verlede week waarin soldate aangespoor is om te weier om onwettige bevele uit te voer.
In ’n verklaring op sosiale media het die Pentagon gedreig om Kelly, ’n afgetrede kaptein in die Amerikaanse vloot, terug te roep na aktiewe diens om voor ’n krygsraad te verskyn op aanklagte van wangedrag.
Dit is ’n buitengewone eskalasie in die Trump-administrasie se teenreaksie op die ses Demokrate met ’n militêre of intelligensiediens-agtergrond wat die video gemaak het.
Kelly het later Maandag op X gesê hy sal hom nie laat intimideer deur die Pentagon se dreigement nie. – AFP
2025-11-24 20:03:05
Eers die wyn, toe die trane ...

Ondersteuners van Robert Kyagulanyi, ook bekend as Bobi Wine, presidentskandidaat en opposisieleier van die National Unity Platform (NPU) in Uganda, vlug Maandag voor traangas wat deur polisiebeamptes afgevuur is om hulle uiteen te jaag ná Wine se verkiesingsaamtrek in die hoofstad, Kampala. Die verkiesing word op 15 Januarie 2026 gehou. Foto: AFP
2025-11-24 20:04:49
Tanzanië stel onafhanklikheidsvieringe af oor betogings
Tanzanië sal nie op 9 Desember onafhanklikheidsdagvieringe hou nie ná oproepe tot betogings oor die massamoorde tydens die onlangse betwiste verkiesings, het die land se eerste minister Maandag gesê.
Honderde betogers is deur veiligheidsmagte doodgeskiet nadat woede oor beweerde verkiesingsmanipulasie op 29 Oktober uitgebreek het.
Mwigulu Nchemba het aangekondig dat die onafhanklikheidsdagvieringe op 9 Desember – die datum wat deur opposisiepartye en ander vir nuwe betogings bepaal is – afgestel sal word. Die geld sal eerder aan die heropbou van infrastruktuur bestee word wat tydens die onluste beskadig is, het hy gesê. – AFP
2025-11-24 20:08:26
Spaanse goue muntstuk uit 1609 vir R60 m. opgeveil
’n Goue muntstuk van 339 gram wat in 1609 vir Spanje se koning Philip III geslaan is, het Maandag die waardevolste muntstuk in Europa geword toe dit vir $3,49 miljoen (sowat R60 miljoen) op ’n veiling in Switserland verkoop is.
Die Centen, of 100 escudos in ’n vorige Spaanse geldeenheid, is in die sentrale Spaanse stad Segovia uit goud geslaan wat teruggebring is deur Spaanse veroweraars wat na die Amerikas of "Nuwe Wêreld" gegaan het.
Die vorige Europese rekordprys was ’n 100 dukaat-muntstuk wat eens aan Ferdinand III van Habsburg behoort het en wat vir $2,42 miljoen verkoop is. – Reuters

Die Segovia Centen van 339 gram goud is in 1609 vir Spanje se koning Philip III uit goud geslaan wat teruggebring is deur Spaanse veroweraars wat na die Amerikas of "Nuwe Wêreld" gegaan het. Foto: Reuters
2025-11-25 03:44:00
9 kinders, 1 vrou dood toe Pakistan huis bombardeer
Minstens nege kinders en een vrou is dood nadat Pakistanse magte die huis van ’n plaaslike inwoner in die Chost-provinsie in Afganistan gebombardeer het, het ’n woordvoerder van die Taliban Dinsdag gesê.
Pakistan het ook klopjagte in die provinsies Koenar en Paktika uitgevoer waarin vier burgerlikes beseer is.
Die Pakistanse weermag en die ministerie van buitelandse sake kon nie buite sake-ure vir kommentaar bereik word nie.
Die klopjagte volg op twee selfmoordbomaanvalle Maandag waarin drie paramilitêre personeellede in Pesjawar in Pakistan omgekom het. – Reuters
2025-11-25 03:53:52
Taiwan se premier kap na Xi: Eiland ‘keer nié terug na China’
Tsjo Joeng-tai, premier van Taiwan, het Dinsdag gesê ’n “terugkeer” na China is nie vir die eiland se 23 miljoen mense ’n opsie nie.
Dit is in reaksie op stellings oor soewereiniteit wat pres. Xi Jinping van China teenoor pres. Donald Trump gemaak het.
Taiwan se demokraties verkose regering verwerp China se aansprake ten sterkste.
Tsjo het buite die parlement aan joernaliste benadruk dat Taiwan ’n soewereine, onafhanklike land is.
Xi het Maandag aan Trump gesê dat Taiwan se “terugkeer na China” aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog ’n kerndeel van China se visie vir die wêreldorde was. – Reuters
2025-11-25 04:05:15
Venezuela dreig lugdienste: Hervat vlugte of verloor klaring
Venezuela se lugvaartinstituut het Maandag aan internasionale lugdienste gesê hulle moet binne 48 uur vlugte na die land hervat, anders loop hulle die gevaar om hul klaring te verloor om daarheen te vlieg, het die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) gesê.
Verskeie internasionale lugdienste het die laaste paar dae hul vlugte vanuit Venezuela gekanselleer nadat die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie gewaarsku het oor ’n “potensieel gevaarlike situasie” wanneer hulle oor die land vlieg.
Venezuela se ministerie van inligting het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-11-25 04:29:17
Trump wil Moslem-Broederskap-faksies as buitelandse terroriste verklaar
Pres. Donald Trump het Maandag met die proses begin om sekere Moslem-Broederskap-groepe tot buitelandse terroriste-organisasies en spesiaal aangewese internasionale terroriste te verklaar.
Trump het ’n uitvoerende bevel onderteken wat Marco Rubio, minister van buitelandse sake, en Scott Bessent, minister van finansies, gelas om binne 45 dae ’n verslag in te dien oor of enige Moslem-Broederskap-faksies, soos in Libanon, Egipte en Jordanië, tot sodanig verklaar moet word.
Dit sal sanksies meebring teen een van die Arabiese wêreld se oudste en invloedrykste Islamitiese bewegings.
Die Broederskap is in die 1920’s in Egipte gestig as ’n Islamitiese politieke beweging om die verspreiding van sekulêre en nasionalistiese idees teen te werk.
Trump het in sy eerste termyn ’n soortgelyke poging aangewend. – Reuters
2025-11-25 04:40:26
Noord-Ierse dorp gaan straatnaam verander wat na Andrew genoem is
’n Noord-Ierse raad het Maandag eenparig ingestem om ’n straatnaam te hernoem wat na Brittanje se voormalige prins Andrew genoem is.
Dit volg op die besluit van koning Charles om sy jonger broer van sy titels te stroop sodat hy nie verdere skade aanrig aan die koninklike familie se reputasie weens sy bande met wyle Jeffrey Epstein, veroordeelde seksmisdadiger, nie.
Inwoners in ander dele van Brittanje het ook hul plaaslike rade versoek om strate wat Andrew se naam dra te hernoem.
Raadslede in die Mid- en Oos-Antrim-gebied van Noord-Ierland het eenparig besluit om die naam te verander van Prince Andrew Way in die dorp Carrickfergus en met plaaslike inwoners te konsulteer oor hoe om dit te hernoem. – Reuters
2025-11-25 04:51:06
Omstrede hulporganisasie in Gasastrook staak bedrywighede
Die omstrede Gaza Humanitarian Foundation (GHF), wat deur die VSA en Israel gesteun is om noodleniging in die Gasastrook te verskaf, het Maandag gesê hy staak sy bedrywighede.
Dit volg op maande van kritiek oor honderde Palestyne wat doodgeskiet is terwyl hulle GHF-sentrums probeer bereik het.
Die GHF het einde Mei kos begin versprei aan behoeftige Palestyne.
Die meeste van hul persele was egter in die suide van die Gasastrook, weg van ’n groot deel van die bevolking, wat hulle genoop het om ver daarheen te stap. Israeliese soldate het dan op hulle geskiet.
Die GHF het die Verenigde Nasies en gevestigde hulpagentskappe omseil om voedsel te versprei, wat Europese leiers ontstig het. – Reuters
2025-11-25 05:07:26
Trump het ‘baie goeie’ oproep met Xi, besoek China in April
Pres. Donald Trump van Amerika het gesê hy het Maandag ’n “baie goeie” telefoongesprek met pres. Xi Jinping van China gehad waarin die leiers die oorlog in Oekraïne, fentanielhandel en ’n ooreenkoms vir boere bespreek het.
“Ons het ’n goeie, en baie belangrike, ooreenkoms vir ons Wonderlike Boere gesluit en dit sal net beter word. Ons verhouding met China is uiters sterk!”
Trump het Xi se uitnodiging aanvaar om China in April te besoek en Xi sal die VSA later sal besoek. – Reuters
2025-11-25 05:15:39
Verregse Australiese senator geskors wat boerka in parlement dra
Australië se senaat het Dinsdag die verregse senator Pauline Hanson vir sewe dae geskors nadat sy ’n boerka in die parlement gedra het waardeur sy haar veldtog teen die dra van boerkas in die openbaar wou bevorder.
Hanson het Maandag die boerka in die hoërhuis gedra nadat sy toestemming geweier is om ’n wetsontwerp in te dien wat boerkas en ander gesigsbedekkings op openbare plekke verbied.
Haar optrede het vinnig beskuldigings van rassisme van Moslem-wetgewers ontlok. – Reuters
2025-11-25 05:45:28
1 vrou elke 10 minute deur iemand na aan haar vermoor, sê VN
Verlede jaar is een vrou elke 10 minute êrens in die wêreld deur iemand na aan haar vermoor.
Nagenoeg 50 000 vroue en meisies is in 2024 deur intieme maats of familielede vermoor, het die Verenigde Nasies gesê in ’n verslag wat uitgereik is om die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue te herdenk.
Die verslag lui dat 60% van vroue wat wêreldwyd vermoor is, deur maats of familielede soos pa’s, ooms, ma’s en broers vermoor is.
In vergelyking het 11% van mans wat vermoor is gesterf deurdat iemand na aan hulle hul lewe beëindig het. – AFP
2025-11-25 06:10:35
Lyk van een van laaste drie gyselaars in Gasastrook glo gevind
Die gewapende vleuel van die Palestynse militante groep Islamitiese Djihad (PIJ) het gesê die lyk van een van die laaste drie gyselaars wat in die Gasastrook aangehou is, is Maandag gevind.
“Vandag het ons die oorskot van een van die vyandelike gevangenes gevind in soekoperasies in gebiede wat deur die Sionistiese (Israeliese) leër in die sentrale Gasastrook beheer word,” het die al-Koeds-brigade in ’n verklaring gesê.
’n Anonieme bron in die PIJ het bevestig dat die oorskot dié is van een van die laaste drie gyselaars wat deur militante in die gebied aangehou is. – AFP
2025-11-25 07:12:37
Byna 35 m. kan voedselonsekerheid ervaar weens aanvalle in Nigerië
Hernieude djihadse aanvalle en onstabiliteit in Noord-Nigerië dryf hongersnood tot ongekende vlakke, het die Wêreldvoedselprogram (WFP) Dinsdag gesê.
Byna 35 miljoen mense in Noord-Nigerië sal “na verwagting gedurende Mei tot September 2026 ernstige voedselonsekerheid ervaar”, het die WFP gesê.
In die staat Borno, die episentrum van die 16 jaar lange djihadse opstand, sal ongeveer 15 000 mense “katastrofiese honger” of “toestande van hongersnood” ervaar.
Meer as 40 000 mense is in die konflik dood en ongeveer 2 miljoen mense is verplaas. – AFP
2025-11-25 07:31:26
6 mense in Kijif en 3 in Rusland in aanvalle dood
Minstens ses mense is oornag in aanvalle op Kijif, Oekraïne, dood terwyl drie mense in Rusland dood is.
Die verskerpte aanvalle kom nadat pres. Donald Trump Oekraïne aanvanklik tot 27 November gegee het om te reageer op sy vredesplan vir die oorlog.
Rusland se ministerie van verdediging het Dinsdag voor dagbreek gesê hy het 249 Oekraïense hommeltuie onderskep en vernietig. – AFP
2025-11-25 08:20:36
Taliban sal ‘gepas’ op Pakistanse aanvalle reageer
Die Taliban-regering in Afganistan het Dinsdag belowe om “gepas en op die regte tyd” op Pakistanse lugaanvalle te reageer.
“Die Islamitiese emiraat veroordeel hierdie oortreding en misdaad ten sterkste en herhaal dat die verdediging van sy lugruim, gebied en mense sy wettige reg is, en dat hy gepas en op die regte tyd sal reageer,” het Zabihoellah Moedjahid, Taliban-woordvoerder, gesê.
Vroeër is berig minstens nege kinders en een vrou is dood nadat Pakistanse magte ’n huis gebombardeer het en vier burgerlikes is beseer in klopjagte wat elders in Afganistan uitgevoer is. – Reuters
2025-11-25 08:36:11
Verslawing nie ’n keuse, sê Catherine
Catherine, prinses van Wallis, het ’n oproep gedoen vir die beëindiging van die “vrees, skaamte en oordeel” wat verslawing betref.
Catherine het die opmerkings in ’n toespraak gemaak ter herdenking aan Verslawingsbewustheidsweek.
Sy sê dat die samelewing “deernis” moet toon teenoor diegene wat afhanklik is van dwelms, alkohol of dobbelary, want dit is “nie ’n keuse nie... maar ’n komplekse geestesgesondheidstoestand”. – The Telegraph
2025-11-25 08:44:39
Nieu-Seeland wil wilde katte teen 2050 uitroei
Nieu-Seeland wil wilde katte teen 2050 uitroei, het die land se minister van bewaring aangekondig.
Meer besonderhede oor die planne sal in Maart 2026 bekend gemaak word.
Wilde katte word reeds in sommige gebiede gevang en van kant gemaak.
Daar is meer as 2,5 miljoen wilde katte in Nieu-Seeland se beboste gebiede en op eilande langs die kus.
Hulle kan tot een meer meter lank word, stert ingesluit, en tot 7 kg weeg. – The Guardian
2025-11-25 09:16:08
‘Gasastrook se voortbestaan bedreig’ weens oorlog
Die oorlog in die Gasastrook het die Palestynse gebied se ekonomie verwoes en bedreig die voortbestaan daarvan, het die Verenigde Nasies (VN) Dinsdag gewaarsku.
Die herbou van die Gasastrook sal meer as $70 miljard kos en kan etlike dekades duur, het die VN in ’n nuwe verslag gesê.
Die VN het gewaarsku dat oorlog en beperkings ’n “ongekende ineenstorting in die Palestynse ekonomie” ontketen het.
“Die militêre operasies het elke pilaar van oorlewing aansienlik ondermyn,” van voedsel tot skuiling tot gesondheidsorg, “en die Gasastrook in ’n mensgemaakte afgrond gedompel”. – AFP
2025-11-25 09:28:36
EU-lande moet gay-huwelike in ander lidstate erken, beslis hof
Die Hof van Justisie van die Europese Unie (EU) het Dinsdag beslis EU-lande moet ’n huwelik erken tussen EU-burgers van dieselfde geslag wat wettiglik in ’n ander lidstaat getrou het.
Die hof het gesê Pole was verkeerd deur nie ’n huwelik tussen twee Poolse burgers in Duitsland te erken nie op grond daarvan dat Poolse wetgewing nie huwelike tussen persone van dieselfde geslag toelaat nie.
“Die weiering om ’n huwelik tussen twee burgers van die EU te erken, is strydig met EU-wetgewing omdat dit die vryheid en die reg op respek vir private en gesinslewe skend,” het die hof gesê. – Reuters
2025-11-25 10:08:05

’n Woonstelgebou in Kijif, Oekraïne, wat in ’n Russiese hommeltuigaanval getref is, Dinsdag deur ’n gebreekte venster. Foto: Reuters
2025-11-25 10:22:50
Minstens 13 dood weens oorstromings in Thailand
Minstens 13 mense is teen Donderdag dood weens oorstromings in die suide van Thailand.
Die regering het Dinsdag ’n noodtoestand in die Songkhla-provinsie afgekondig, terwyl die meteorologiese departement meer reën en moontlike kitsvloede vandeesweek voorspel het.
Meer as 1 200 mense het sedert Donderdag hul huise verlaat. – AFP

’n Lugfoto wat Dinsdag geneem is, wys voertuie wat op ’n verhewe pad geparkeer is om hulle uit vloedwater te hou in die Songkhla-provinsie in die suide van Thailand. Foto: AFP/Thai News Pix
2025-11-25 10:37:39
Aanvanklike weergawe van vredesplan verwelkom, sê Rusland
Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, het Dinsdag gesê dat ’n gewysigde vredesplan vir Oekraïne die “gees en letter” moet weerspieël van ’n ooreenkoms wat pres. Wladimir Poetin en pres. Donald Trump in Augustus tydens ’n beraad in Alaska bereik het.
Volgens Lawrof het Rusland ’n aanvanklike weergawe van ’n Amerikaanse vredesplan verwelkom en wag vir ’n gewysigde, tussentydse weergawe.
Hy sê dit sou ’n heel ander situasie vir Rusland wees as die gewysigde weergawe nie weerspieël wat Poetin en Trump bespreek het nie. – Reuters
2025-11-25 10:49:11
Albei kandidate sê hulle wen Guinee-Bissau se presidentsverkiesing
Fernando Dias, Guinee-Bissau se voorste opposisiekandidaat vir die presidentskap, én pres. Umaro Sissoco Embalo het Maandag ’n oorwinning verklaar voordat die amptelike uitslae bekend gemaak is.
Elk het meer as die helfte van Sondag se stemme ingeoes. Die bewerings dreig om spanning te verhoog in die staatsgreep-geneigde land in Wes-Afrika.
Die African Party for the Independence of Guinea and Cape Verde, wat die onafhanklikheidstryd teen Portugal gelei het, was vir die eerste ronde uitgesluit van die verkiesing en het Dias gesteun.
’n Tweede ronde sal plaasvind as geen kandidaat meer as 50% behaal nie. – Reuters
2025-11-25 11:19:37
Eerste uitbarsting van Ethiopiese vulkaan ontwrig Indiese vlugverkeer
Die Ethiopiese vulkaan Hayli Gubbi het Sondag vir die eerste keer in die geskiedenis uitgebars, wat aswolke tot 14 km die lug in gestuur het.
Die Indiese lugrederye Air India en Akasa Air het vlugte gekanselleer nadat aswolke bedrywighede ontwrig het.
Air India het Maandag en Dinsdag 11 vlugte geskrap en moes een vliegtuig as voorsorgmaatreël ondersoek nadat dit oor hierdie gebied gevlieg het. Akasa het sy vlugte na Midde-Oosters bestemmings soos Djedda, Koeweit en Abu Dhabi gekanselleer.
Die as het dele van Pakistan en die noorde van Indië bedek nadat dit ook oor Jemen en Oman beweeg het. Indië se meteorologiese departement verwag die aswolk sal teen 14:00 Greenwichtyd Dinsdag uit die Indiese lugruim wees. – Reuters
2025-11-25 11:39:29
Israel beskuldig Islamitiese Djihad van wapenstilstand-skending
Israel het Dinsdag gesê 'n vertraging deur die Palestynse militante groep die Islamitiese Djihad om die lyk van 'n gyselaar wat in die Gasastrook gevind is, te oorhandig, is 'n skending van die wapenstilstand.
Die Islamitiese Djihad se gewapende vleuel het gesê dié groep het Maandag die lyk in 'n soekoperasie in die sentrale Gasastrook opgespoor. Die groep en Hamas sê hulle sal die oorskot vanmiddag oorhandig.
'n Bron het bevestig die lyk is dié van een van die laaste drie gyselaars wat deur militante aangehou is.
Die kantoor van Benjamin Netanyahu, Israel se premier, sê die lyke van die oorlede gyselaars moet onmiddellik terugbesorg word. – AFP
2025-11-25 11:42:23
Frankryk wil Shein vir 3 maande laat skors oor sekspoppe
Die Franse regering sal Woensdag 'n regter in Parys vra om die Chinese aanlyn platform Shein vir drie maande te skors oor die verkoop van "kinderlike" sekspoppe en verbode wapens.
Shein het reeds sy markplein op 5 November gedeaktiveer, maar sy klerewebwerf bly aktief. Die regering gaan vra vir 'n algehele opskorting van die webwerf. Die regering dagvaar die die Dublin-gebaseerde Infinite Styles en ander groot internet-diensverskaffers.
Frankryk plaas ook druk op die Europese Kommissie om Shein weens onwettige produkte te ondersoek. – Reuters
2025-11-25 12:02:54
Farage ontken dat hy as tiener rassistiese aanmerkings gemaak het
Nigel Farage, leier van Brittanje se anti-immigrasieparty Reform UK, het gesê hy het "nooit direk iemand rassisties misbruik nie".
Dit volg op 'n berig in The Guardian waarin beweer word dat hy as tiener antisemitiese opmerkings op skool gemaak het.
Die koerant het verlede week berig dat meer as 'n dosyn oudleerlinge aan 'n skool in die suide van Londen Farage daarvan beskuldig het dat hy "antisemitiese taal gebruik, liedjies sing wat na gaskamers verwys en Nazi-saluutseremonies uitvoer". Ander het gesê hulle onthou nie rassistiese gedrag nie.
Die koerant het ook 'n onderwyser se brief uit 1981 aangehaal wat Farage beskryf as iemand wat "in die openbaar rassistiese en neofasistiese sienings verkondig het". Die party het die bewerings teenoor The Guardian ontken.
Farage se populistiese party het die voortou geneem in meningspeilings ondanks voortdurende rassisme-beskuldings. – Reuters
2025-11-25 12:19:14
Singapoer beveel Apple en Google om bedrog te stop
Singapoer se polisie het Apple en Google beveel om teen einde November bedrog wat staatsagentskappe namaak op boodskap-platforms te stop.
Die tegnologie-reuse moet rekeninge wat Singapoerse staatsentiteite namaak op iMessage en Google Messages blokkeer.
Albei maatskappye het aangedui hulle sal die bevel nakom, wat veranderinge aan onbekende afsender-profielvertonings vereis.
Bedrieërs het die "gov.sg"-boodskap-ID, wat bedoel is om wettige kommunikasie te verifieer, misbruik. Nie-nakoming kan boetes van tot een miljoen Singapoer-dollar tot gevolg hê. Soortgelyke stappe is teen Meta gedoen. – Reuters
2025-11-25 12:38:28
VSA trek visum in van Haïtiaanse amptenaar oor steun aan bendes
Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het sanksies teen 'n anonieme Haïtiaanse regeringsamptenaar aangekondig.
Hy word daarvan beskuldig dat hy bendes ondersteun en teenmisdaadpogings belemmer.
Die amptenaar se visum sal ingetrek word. Washington het die bendes Viv Ansanm en Gran Grif in Mei tot terroriste-organisasies verklaar.
Die VSA bly verbind tot Haïti se stabiliteit en verwag verkiesingsvordering. Die sakemanne Dmitri Vorbe en Pierre Reginald Boulos is ook vroeër in hegtenis geneem weens die beweerde ondersteuning van bendes.
Haïti loop deur onder chroniese bendegeweld en politieke onstabiliteit, wat in 2024 vererger het toe bendes die destydse premier Ariel Henry se bedanking afgedwing het. – AFP
2025-11-25 12:52:58
Komedieskrywer vrygespreek van transgender-teistering, skuldig aan foonskade
’n Hof in Londen het Dinsdag die Emmy-bekroonde komedieskrywer Graham Linehan van aanlyn teistering van die transgender-aktivis Sophia Brooks vrygespreek, maar hom skuldig bevind aan opsetlike saakbeskadiging van Brooks se selfoon.
Linehan, skepper van Father Ted, het opsetlik Brooks se selfoon uit hul hand geslaan. Dit het by ’n konferensie in Londen plaasgevind en is op video vasgevang.
Distriksregter Briony Clarke het beslis dat Linehan se gedrag nie “onderdrukkend en onaanvaarbaar was nie, maar bloot onaantreklik en irriterend”.
Clarke het ook tot die gevolgtrekking gekom dat Brooks nie “so ontsteld en verontrus was soos wat hulle hulself voorgestel het om te wees nie”.
Met die skuldigbevinding van Linehan aan opsetlike saakbeskadiging het die regter beslis Linehan was “kwaad en keelvol” en het nie “redelike krag” gebruik toe die foon van Brooks weggevat is nie.
Hy is ’n boete van £500 plus £650 in koste, en ’n statutêre kostebevel van £200 opgelê. Linehan is wyd bekend vir opspraakwekkende geslagskritiese sienings. – AFP
2025-11-25 13:23:31
Duitse Kersmarkte sukkel met stygende veiligheidskostes
Duitse Kersmarkte word deur stygende veiligheidskostes in die gesig gestaar ná onlangse aanvalle. ’n Federale opname het bevind dat veiligheidskostes vir geleenthede in drie jaar met 44% gestyg het.
Die Magdeburg-aanval verlede Desember, waar ’n verdagte deur nooduitgange gery het, het gemaak dat veiligheidsmaatreëls verskerp moet word.
Die BBC het berig ses mense is dood en meer as 300 is in dié voorval beseer.
Markte gebruik nou betonversperrings, kontrolepunte, kringtelevisiekameras en opgeleide veiligheidspersoneel.
Plaaslike owerhede wil federale subsidies hê omdat kleiner munisipaliteite met kostes sukkel. Sommige markte soos Berlyn se Gendarmenmarkt vra toegangsgeld van €2. Amptenare is bekommerd dat organiseerders kostes van besoekers gaan moet verhaal indien daar nie finansiering verskaf word nie. – Reuters
2025-11-25 13:30:49
Adieu, Parys

Yuan Zi, die 17-jarige reusepanda wat saam met sy maat, Huan Huan, meer as ’n dekade lank in die ZooParc de Beauval in Frankryk besoekers gelok het, kyk Dinsdag op die Parys-Charles de Gaulle-lughawe deur die glas van sy vervoerhok voordat hy op ’n vliegtuig gelaai word om na China terug te keer. Foto: Reuters
2025-11-25 13:32:28
Een eggenoot is genoeg, sê Vatikaan aan wêreld se Katolieke
Vir ’n gelukkige lewe vir Rooms-Katolieke is een eggenoot genoeg, het die Vatikaan Dinsdag gesê.
In ’n nuwe dekreet, goedgekeur deur pous Leo, het die Vatikaan se top-leerstellingskantoor aan die wêreld se 1,4 miljard Katolieke gesê hulle moet streef daarna om net een eggenoot te trou en nie veelvuldige seksuele verhoudings hê nie.
Die Vatikaan het die praktyk van veelwywery in Afrika, insluitend onder lede van die kerk, gekritiseer en gesê die kerk glo dat die huwelik ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is. Die dekreet moedig Katolieke aan om een eggenoot te vind en aan hulle toegewy te bly. – Reuters
2025-11-25 13:34:50
Oekraïne haastig met Zelenski-Trump-vergadering
Oekraïne wil hê pres. Wolodimir Zelenski en sy Amerikaanse ampsgenoot, pres. Donald Trump, moet vandeesweek nog vergader vir verdere onderhandelinge oor die beëindiging van die oorlog met Rusland, het ’n senior Oekraïense onderhandelaar Dinsdag gesê.
“Ons sien uit na die organisering van ’n besoek deur die president van Oekraïne aan Amerika so gou as moontlik in November,” het Roestem Oemerof, sekretaris van die Oekraïense veiligheidsraad, op Telegram gesê. – AFP
2025-11-25 14:04:51
‘Russiese aanval Poetin se terreur-reaksie op vredesplan’
Oekraïne het Dinsdag gesê ’n Russiese aanval oornag op die hoofstad, Kijif, waarin ses mense dood is, was Rusland se “terreur-reaksie” op diplomatieke pogings om ’n einde aan die oorlog te maak.
“(Pres. Wladimir) Poetin het sy terreur-reaksie gegee op Amerika en pres. (Donald) Trump se vredesvoorstelle – met ’n stortvloed missiele en hommeltuie teen Oekraïne,” het Andri Sibiha, Oekraïense minister van buitelandse sake, op sosiale media gesê. – AFP

Oekraïense reddingswerkers Dinsdag by ’n beskadigde woonstelgebou ná ’n Russiese missiel- en hommeltuigaanval oornag op Kijif waarin ses mense dood is. Foto: AFP
2025-11-25 14:06:45
Nog 2 mans, 2 vroue in hegtenis oor Louvre-diefstal
Franse owerhede het Dinsdag nog vier mense in hegtenis geneem in verband met verlede maand se skouspelagtige diefstal van juwele uit die Louvre-museum, het die Paryse aanklaerskantoor gesê.
Benewens twee mans (38 en 39 jaar oud) en twee vroue (31 en 40 jaar oud), almal uit die Parys-streek, wat Dinsdag in hegtenis geneem is, is vier ander verdagtes al in hegtenis geneem.
Die diewe het op 19 Oktober ’n hyskraan gebruik om op die Louvre se tweede verdieping te kom, ’n venster stukkend geslaan, uitstalkaste met hoekslypers oopgebreek, die juweliersware gegryp en gevlug.
Die diewe het in minder as sewe minute weggekom met juweliersware ter waarde van sowat $102 miljoen. Geen van die juwele is nog teruggevind nie. – AFP
2025-11-25 14:27:04
Rusland onderskep oornag 249 Oekraïense hommeltuie
Rusland se ministerie van verdediging het Dinsdag gesê hulle het byna 250 Oekraïense hommeltuie in oornagaanvalle onderskep.
“Oor die afgelope nag (Maandag tot Dinsdag) het lugverdedigingstelsels 249 Oekraïense hommeltuie onderskep en vernietig,” het die ministerie gesê. – AFP
2025-11-25 15:01:29
Sake by die tempel

’n Winkelier verkoop Dinsdag godsdienstige items naby die Ram-tempel in Ayodhya, Indië. Foto: AFP
2025-11-25 15:02:31
Djakarta verbied kat-, hond- en vlermuisvleis
Djakarta, hoofstad van Indonesië, het die verkoop en verbruik van hond-, kat- en vlermuisvleis verbied om die oordrag van hondsdolheid te voorkom, het die stad se goewerneur Dinsdag aangekondig.
Die regulasie bied ’n grasietydperk van ses maande voordat dit afgedwing word. Strawwe wat wissel van geskrewe waarskuwings tot die intrekking van sakelisensies kan oortreders in die gesig staar.
Indonesië is een van ’n handjievol lande wat die verkoop van honde- en katvleis toelaat, maar ’n veldtog teen die praktyk het veld gewen en van die land se stede het die afgelope paar jaar ’n plaaslike verbod op handel ingestel. – AFP
2025-11-25 15:19:42
‘Oekraïne steun wese van Amerikaanse vredesplan’
Oekraïne ondersteun die wese van ’n raamwerk vir vrede ná gesprekke met Amerika in Genève, Switserland, maar die lande se presidente moet nog sommige van die mees sensitiewe kwessies van die raamwerk verder bespreek, het ’n Oekraïense amptenaar Dinsdag gesê.
Intussen het die Withuis Dinsdag gesê Amerika het “enorme vordering” gemaak om ’n vredesooreenkoms te bereik, maar sommige sensitiewe besonderhede sal verdere onderhandelinge verg.
“Daar is ’n paar delikate maar nie onoorkomelike besonderhede nie wat uitgesorteer moet word, en dit sal verdere gesprekke tussen Oekraïne, Rusland en Amerika verg,” lui ’n plasing op X deur Karoline Leavitt, die Withuis-woordvoerder. – Reuters
2025-11-25 16:01:16
Die dag voor begenadiging

Waddle en Gobble, die Nasionale Dankseggingsdag-kalkoene, wag Dinsdag in hul hotelkamer in Washington DC, ’n dag voor die tradisionele begenadiging by die Withuis. Foto: Reuters
2025-11-25 16:04:00
FBI wil nou met Demokrate praat oor ‘opstokery’-video
Die FBI het onderhoude versoek met ses Demokratiese wetgewers wat verlede week in ’n video aan lede van die weermag gesê het hulle moet enige onwettige bevele verontagsaam, het ’n amptenaar van die departement van justisie Dinsdag gesê.
Die stap kom ’n dag nadat die Pentagon gedreig het om sen. Mark Kelly, een van die ses wetgewers, tot aktiewe diens terug te roep om moontlik militêre aanklagte in die gesig te staar oor wat Pete Hegseth, minister van verdediging, as ’n daad van “opstokery” in die media beskryf het.
Pres. Donald Trump het vroeër die ses as “verraaiers” uitgekryt. – Reuters
2025-11-25 16:19:14
10 vroue en kinders ontvoer in weste van Nigerië
Gewapende mans het 10 vroue en kinders uit ’n dorpie in Nigerië se westelike Kwara-staat ontvoer, het die polisie Dinsdag gesê.
Volgens die polisie is die aanvallers herders wat "lukraak geskiet het" in Maandagaand se aanval op die dorpie Isapa.
Dit is die jongste ontvoering wat die land skud en kom ’n week nadat gewapende mans twee mense vermoor en 35 kerkgangers ontvoer het in ’n aanval op ’n kerk in die dorpie Eruku, sowat 20 km van Isapa.
Verlede week het gewapende bendes ook meer as 300 kinders uit ’n Katolieke skool in Nigerië se noord-sentrale Niger-staat ontvoer, asook 25 skoolmeisies uit ’n ander skool. – AFP
2025-11-25 17:00:45
Dans teen geweld

Dansers van die Compagnia Nazionale Del Balletto tree Dinsdag op die Spaanse Trappe in Rome op in ’n opvoering om die Internasionale Dag vir die Uitskakeling van Geweld Teen Vroue te herdenk. Foto: AFP
2025-11-25 17:01:47
127 sterf in Israeliese aanvalle in Libanon sedert skietstilstand – VN
Minstens 127 burgerlikes is dood in aanvalle in Libanon deur die Israeliese weermag sedert ’n skietstilstand byna ’n jaar gelede, het die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekantoor Dinsdag gesê. Die menseregtekantoor vra om ’n ondersoek en dat die ooreenkoms nagekom word. – Reuters
2025-11-25 17:24:42
Oekraïne moenie 'voorwaardelik oorgee', waarsku Macron ná VSA-plan
Die Amerikaanse vredesplan vir die oorlog tussen Oekraïne en Rusland het elemente wat bespreek moet word, het pres. Emmanuel Macron van Frankryk Dinsdag gesê, maar gewaarsku teen enige “voorwaardelike oorgawe” deur Oekraïne.
“Ons wil vrede hê. Maar nie ’n vrede wat in wese ’n voorwaardelike oorgawe is, Oekraïne in ’n onmoontlike situasie plaas, Rusland alle vryheid gee om verder te gaan na ander Europese lande en almal se veiligheid in gevaar stel nie,” sê Macron in ’n onderhoud aan RTL-radio. – AFP
2025-11-25 18:03:02
Renoir-skildery van seun vir sowat R28 m. verkoop
’n Relatief onbekende skildery deur die Franse impressionis Pierre-Auguste Renoir, wat sy seun en sy oppasser uitbeeld, is Dinsdag vir $1,68 miljoen (sowat R28 miljoen) verkoop op ’n veiling in Parys.
Die werk, getiteld "L'enfant et ses jouets - Gabrielle et le fils de l'artiste, Jean" (“Kind met speelgoed – Gabrielle en die kunstenaar se seun, Jean") is omstreeks 1895 geskilder en deur Renoir aan Jeanne Baudot, sy enigste student en goeie vriendin, gegee. Dit was sedertdien in haar familie.
Die werk beeld die kunstenaar se seun, Jean, en sy oppasser, Gabrielle Renard, uit. Sy was een van Renoir se gunsteling-modelle en het vir byna 200 skilderye geposeer.
Jean het later ’n bekende filmregisseur geword. Hy is in 1979 oorlede. – Reuters

Dié skildery deur Pierre-Auguste Renoir, wat sy seun en sy oppasser uitbeeld, is Dinsdag vir $1,68 miljoen (sowat R28 miljoen) verkoop op ’n veiling in Parys. Foto: Reuters
2025-11-25 18:10:05
Brittanje gaan meer lugverdedigingsmissiele aan Oekraïne lewer
Keir Starmer, die Britse premier, het Dinsdag aan die begin van ’n virtuele vergadering met Franse en Duitse leiers gesê Brittanje sal in die komende weke meer lugverdedigingsmissiele aan Oekraïne lewer.
Starmer se aankondiging kom terwyl Oekraïne steun wys vir die raamwerk van ’n vredesplan, maar beklemtoon het dat sensitiewe kwessies nog opgelos moet word, verkieslik op ’n vergadering tussen pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne en pres. Donald Trump van die VSA. – Reuters
2025-11-25 18:25:11
Hof sê geen verdere appèlle, Bolsonaro moet 27 jaar sit
Brasilië se hooggeregshof het Dinsdag beslis oudpres. Jair Bolsonaro (70), wat in September skuldig bevind is aan ’n mislukte staatsgreeppoging, se skuldigbevinding is finaal. Geen verdere appèlle sal toegelaat word nie.
Dit baan die weg vir Bolsonaro om sy vonnis van 27 jaar te begin uitdien. – AFP
2025-11-25 18:59:27
Nou nog dit ook …

Mense in ’n kombi ry Dinsdag deur vloedwater in ’n tydelike kamp wat ontheemde Palestyne huisves ná swaar reën in die stad Gasa. Foto: AFP
2025-11-25 19:01:46
Geen Russiese bereidwilligheid vir skietstilstand – Macron
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Dinsdag gewaarsku “daar is duidelik geen Russiese bereidwilligheid” om ’n skietstilstand-ooreenkoms met Oekraïne te bereik nie. Hy het versoek dat daar voortgegaan word met "volgehoue druk" op Rusland om te onderhandel.
Macron het ná ’n videokonferensie met Oekraïne se Europese bondgenote, asook Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, gesê Rusland het ook nie ’n "bereidwilligheid getoon om die aangepaste Amerikaanse vredesplan te bespreek" nie.
Macron het verder ’n beroep gedoen vir ’n "sterk Oekraïense weermag" sonder "beperkings" om ’n verdere Russiese aanval af te weer. – AFP

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk. Foto: AFP
2025-11-25 19:15:46
24 ontvoerde Nigeriese skoolmeisies vrygelaat
Die 24 meisies wat verlede week uit ’n regeringskoshuis in die noordweste van Nigerië ontvoer is, is vrygelaat, het die staatsgoewerneur Dinsdag gesê.
Die meisies is op 17 November ontvoer toe gewapende mans hul skool in die Kebbi-deelstaat binnegestorm het kort nadat ’n militêre patrollie die perseel verlaat het.
Die aanval het ’n vlaag nabootsing-ontvoerings in die Kwara- en Niger-deelstaat veroorsaak, het owerhede gesê.
Pres. Bola Tinubu van Nigerië het Dinsdag die meisies se vrylating verwelkom en ’n beroep gedoen op veiligheidsmagte om pogings te verskerp om ander meisies wat steeds aangehou word, te bevry.
Verlede week het gewapende bendes ook meer as 300 kinders uit ’n Katolieke skool in die Niger-deelstaat ontvoer. – Reuters
2025-11-25 20:00:25
Skilde teen vroue

Die Turkse onlustepolisie staan Dinsdag agter hul skilde in afwagting van ’n optog van vroueregtegroepe na die Taksim-plein in Istanbul as deel van ’n protes teen geslagsgeweld op die Internasionale Dag vir die Uitskakeling van Geweld Teen Vroue. Foto: AFP
2025-11-25 20:01:50
Trump sê sy gesant sal met Poetin in Moskou vergader
Pres. Donald Trump het Dinsdag gesê hy stuur sy spesiale gesant Steve Witkoff om met pres. Wladimir Poetin in Moskou te vergader om ’n paar oorblywende verskille uit te klaar rakende ’n ooreenkoms om die oorlog in Oekraïne te beëindig.
"Met die hoop om hierdie Vredesplan af te handel, het ek my Spesiale Gesant Steve Witkoff opdrag gegee om met President Poetin in Moskou te vergader," het Trump op sy Truth Social-platform geskryf en gesê daar is "slegs ’n paar oorblywende punte van meningsverskil".
Hy het ook die hoop uitgespreek om "binnekort" met Poetin en pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne te vergader, "maar NET wanneer die ooreenkoms om hierdie Oorlog te beëindig FINAAL is of in sy finale stadiums is", het Trump bygevoeg. – AFP
2025-11-25 20:24:30
Meer as 300 ondersteuners aangehou, sê opposisie in Uganda
Veiligheidsmagte in Uganda het al meer as 300 ondersteuners en amptenare van die opposisieparty van die presidentskandidaat Bobi Wine in hegtenis geneem sedert sy veldtog verlede maand begin het, het die party se woordvoerder Dinsdag gesê.
Wine daag pres. Yoweri Museveni (81) vir die tweede keer uit nadat hy in 2021 in die vorige presidentsverkiesing verloor het.
Museveni se regering het die grondwet twee keer gewysig om ouderdoms- en termynbeperkings te verwyder, wat hom in staat gestel het om sedert 1986 aan die bewind te bly. – Reuters
2025-11-25 20:25:43
Vuur en vlam

Palestynse kinders maak Dinsdag hul hande by ’n vuur warm op ’n reënerige dag in Chan Joenis in die suide van die Gasastrook. Foto: Reuters
2025-11-26 03:44:14
China sal buitelandse inmenging in Taiwan ‘vermorsel’
China het Woensdag gewaarsku dat hy enige buitelandse pogings om in Taiwan in te meng, sal “vermorsel”.
Dit volg op Japan se aankondiging dat hy beplan om missiele op ’n eiland naby Taiwan te ontplooi.
Taiwan het ’n demokratiese regering, maar China beskou dit as sy grondgebied.
“Ons wil, kan en sal beslis ons nasionale soewereiniteit en territoriale integriteit verdedig,” het Peng Qingen, ’n woordvoerder van China se kantoor vir Taiwannese sake, gesê.
“Japan se ontplooiing van aanvalswapens in gebiede aangrensend aan China se Taiwan-streek is uiters gevaarlik, skep doelbewus spanning in die streek en ontlok militêre konfrontasie.” – Reuters
2025-11-26 03:58:03
Twee bergklimmers se lyke op berg in Nieu-Seeland gevind
Die lyke van twee klimmers, onder wie ’n Amerikaner, is gevind nadat hulle hulle doodgeval het in ’n poging om die kruin van Nieu-Seeland se hoogste berg te bereik, het die polisie Woensdag gesê.
Die berg Cook, of Aorak, is 3 724 meter hoog.
Die mans was deel van ’n groep van vier, bestaande uit twee Nieu-Seelandse gidse en twee kliënte.
Hulle het Maandag laat van ’n rif afgeval toe hulle die berg uitgeklim het. – Reuters
2025-11-26 04:23:56
Japan se premier is ‘slim, sterk, goeie leier’, sê Trump
Pres. Donald Trump het Dinsdag gesê hy het ’n “goeie gesprek” met Sanae Takaitsji, premier van Japan, gehad en die vertroue uitgespreek dat sy ’n goeie leier sal wees.
“Ons het ’n goeie verhouding,” het Trump aan verslaggewers aan boord van Air Force One gesê. “Sy is baie slim, baie sterk, en sy gaan ’n goeie leier wees.”
Takaitsji het verlede maand premier geword.
Takaitsji het Dinsdag gesê Trump het vir haar gesê sy kan hom enige tyd bel. – Reuters
2025-11-26 04:37:02
Amerika wil Venezolaanse regering omverwerp, beweer Kuba
Kuba het Amerika Dinsdag daarvan beskuldig dat hy ’n gewelddadige omverwerping van die Venezolaanse regering nastreef en het die toenemende teenwoordigheid van Amerikaanse militêre magte in die streek ’n “oordrewe en aggressiewe” bedreiging genoem.
Bruno Rodríguez, minister van buitelandse sake van Kuba, het in ’n verklaring gesê Amerika se omverwerping van die Venezolaanse regering sal uiters gevaarlik en onverantwoordelik wees.
Dit sal ook ’n skending van internasionale reg en die Verenigde Nasies se handves wees, sê Rodriguez. – Reuters
2025-11-26 04:44:09
Israel ontvang oorskot van gyselaar
Israel het Dinsdag via die Rooi Kruis die oorskot ontvang van ’n gyselaar wat in die Gasastrook was.
Die lyke van die laaste twee gyselaars in die Gasastrook moet nog opgespoor word.
Die kantoor van die Israeliese premier het nie die naam van die oorledene genoem nie en sê die oorskot sal aan die nasionale sentrum vir forensiese geneeskunde oorhandig word vir identifikasie. – Reuters
2025-11-26 04:57:34
8 dood, 58 beseer weens stortreën in Indonesië
Minstens agt mense is dood en 58 beseer weens vloede en grondstortings nadat stortreën die eiland Soematra in Indonesië getref het, het ’n amptenaar Woensdag gesê.
Ekstreme weer teister Noord-Soematra al etlike dae lank en dele van die Tapanoeli Selatan-distrik is sedert Maandag oorstroom, volgens die nasionale rampagentskap, BNPB.
Altesaam 2 851 inwoners moes Tapanuli Selatan verlaat. – AFP
2025-11-26 05:11:43
HP gaan werksmag verminder en fokus na KI verskuif
HP, die vervaardiger van rekenaars en drukkers, het Dinsdag ’n omvattende herstruktureringsplan aangekondig wat sy werksmag wêreldwyd met sowat 10% sal verklein namate die maatskappy oorskakel na kunsmatige intelligensie (KI) om doeltreffendheid te verhoog.
Luidens sy jongste verdiensteverslag verwag die tegnologiereus om sy personeel wêreldwyd met tussen 4 000 en 6 000 werknemers te verminder om te fokus op die gebruik van KI om innovasie en kliënte-tevredenheid te verhoog. – AFP
2025-11-26 05:24:15
Italië verklaar opsetlike vrouemoord tot spesifieke misdaad
Wetgewers in Italië het Dinsdag eenparig ’n wetsontwerp gesteun wat die opsetlike moord op vroue of meisies tot ’n spesifieke misdaad verklaar wat met lewenslange gevangenisstraf strafbaar is.
Italiaanse wetgewing het voorheen slegs voorsiening gemaak vir verswarende omstandighede in gevalle waar die moordenaar getroud met of verwant aan die slagoffer was.
Die nuwe artikel magtig lewenslange gevangenisstraf vir dade wat bedoel is om die dood van ’n vrou te veroorsaak weens onder meer “diskriminasie, haat of geweld”. – AFP
2025-11-26 06:05:34
Israel begin nuwe operasie in besette Wesoewer
Die Israeliese weermag het Woensdag ’n nuwe “teen-terrorisme”-operasie in die noorde van die besette Wesoewer aangekondig.
Die weermag en die interne veiligheidsdiens het in ’n gesamentlike verklaring gesê hulle het “begin werk as deel van ’n breë teen-terrorisme-operasie in die gebied Samaria”, wat die Israeliese Bybelse term vir ’n deel van die Wesoewer is.
Die weermag sê die operasie is nuut en is nie deel van sy teen-terrorisme-operasie wat in Januarie 2024 van stapel gestuur is nie, wat hoofsaaklik op Palestynse vlugtelingkampe gemik is. – AFP
2025-11-26 06:12:11
3 in Frankryk vas wat na bewering vir Rusland spioeneer
Die Franse owerheid het drie mense in hegtenis geneem wat verdink word van spioenasie vir Rusland en die bevordering van oorlogspropaganda, het aanklaers Dinsdag gesê.
Die inhegtenisnemings kom te midde van vrese oor Russiese inmenging oor Europa heen, met Westerse lande wat die vinger wys na Rusland se spioenasiedienste.
Een van die aangehoudenes, ’n Russiese man (40), is in September op beeldmateriaal gesien waar hy pro-Russiese plakkate op die Arc de Triomphe in Parys opsit. – AFP
2025-11-26 07:05:12
Dodetal styg tot 33 weens oorstromings in Thailand
Die dodetal weens dae van wydverspreide oorstromings in die suide van Thailand het Woensdag tot 33 gestyg, het die regering gesê.
Die slagoffers is in sewe provinsies dood weens onder meer verdrinking en elektriese skokke.
Die regering beplan om helikopters te ontplooi om pasiënte wat in ’n kritieke toestand is, uit ’n hospitaal in die suide na veiligheid te neem.
Een persoon is ook in Maleisië in oorstromings dood en vroeër is berig minstens agt mense is in Indonesië dood. – AFP, Reuters

Kinders swem Dinsdag in ’n oorstroomde straat in die distrik Hat Jai, Thailand. Foto: Reuters
2025-11-26 07:14:40
2 tieners (15) vra Australiese hof om verbod op sosiale media te keer
’n Grondwetlike saak teen Australië se verbod op sosiale media op kinders jonger as 16 is by die land se hoogste hof ingedien.
’n Veldtoggroep genaamd die Digital Freedom Project het Woensdag gesê dat hy verrigtinge in die land se hooggeregshof van stapel gestuur het in ’n poging om die wet te keer.
Twee 15-jariges, Noah Jones en Macy Neyland, is die klaers in die saak.
Die verbod op platforms soos YouTube, TikTok, Snapchat, Instagram en Facebook tree op 10 Desember in werking en sal die eerste wetgewing van dié aard in die wêreld wees. – AFP
2025-11-26 07:37:05
Amerikaanse plan vir skietstilstand in Soedan ‘nie aanvaar’
Amerika het ’n voorstel vir ’n skietstilstand vir Soedan voorgelê, maar nie een van die kante het dit formeel aanvaar nie, het Massad Boulos, Amerikaanse gesant, Dinsdag gesê.
Boulos sê hoewel daar geen besware teen die inhoud van die voorgestelde plan was nie, het die Soedannese weermag toe “voorwaardes” gestel wat hy as onmoontlik beskryf het om te bereik.
Die weermag se teenstander in die oorlog, die paramilitêre Blitsondersteuningsmag, het Maandag eensydig ’n staking van vyandelikhede verklaar in ooreenstemming met Amerika se wense.
Maar die weermag het Dinsdag gesê hy het ’n aanval op ’n basis in Babanoesa in die staat Wes-Kordofan afgeweer. – Reuters
2025-11-26 08:16:29
Beeste in Libië afgelaai wat maand op see gestrand was
Byna 3 000 beeste van Uruguay wat op see gestrand was nadat die vaartuig waarop hulle vervoer is in Turkye verbied is, is in Libië afgelaai, het Uruguay se regering gesê.
Die lot van die diere wat aan boord van die Spiridon II vasgekeer was, het ’n opskudding onder dierewelsynsgroepe veroorsaak.
Die owerhede in Turkye het die skip verlede maand toegang tot die hawe in die stad Bandirma geweier, met verwysing na teenstrydighede met die diere se gesondheidsertifikate.
Die beeste was een maand gestrand en altesaam twee maande op see. – AFP
2025-11-26 08:34:03
Israel identifiseer oorskot as dié van gyselaar (48)
Israel het Woensdag aangekondig ’n lyk wat Dinsdag deur militante in die Gasastrook via die Rooi Kruis oorhandig is, is dié van die gyselaar Dror Or (48).
Or is op 7 Oktober 2023 gedurende Hamas se aanval op Israel dood.
Hy is in die Beeri-kibboets in sy huis dood en sy lyk is na die Gasastrook geneem.
Or was die hoofsjef en kaasmaker by die kibboets se melkery.
Die oorskot van die twee laaste oorlede gyselaars is nog in die Gasastrook. – AFP
2025-11-26 08:44:54
19 beseer, groot skade weens aanval op Oekraïne
Minstens 19 mense is beseer in ’n Russiese hommeltuig-aanval laat Dinsdag op die stad Zaporizjzjia, Oekraïne.
Iwan Fedorof, streeksgoewerneur, het op Telegram gesê die aanval het winkels vernietig en 31 woonstelblokke en 20 private huise beskadig.
’n Reddingsoperasie is tans aan die gang op 12 plekke, het Fedorof gesê. “Die maksimum aantal eenhede van die staatsnooddienste, nasionale polisie en ons mediese spanne is ontplooi.” – Reuters

Brandbestryders en polisiebeamptes Dinsdagaand op die toneel van ’n beskadigde woonstelgebou in Zaporizjzjia, Oekraïne. Foto: Reuters
2025-11-26 09:01:39
Lasbrief vir mede-eienaar van Mej. Heelal-kompetisie
’n Siviele hof in Thailand het Dinsdag ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die mede-eienaar van die Mej. Heelal-kompetisie uitgereik weens beweerde bedrog van $930 000.
Anne Jakapong Jakrajoetatip se maatskappy die JKN Global Group is die mede-eienaar van die kompetisie.
’n Plastiese chirurg beskuldig Jakrajoetatip daarvan dat sy bedrog gepleeg en inligting verberg het toe sy hom in 2023 oorreed het om in die JKN Global Group te belê. – AFP
2025-11-26 09:43:22
Vredesplan nog nie tussen Rusland, Oekraïne bespreek
Joeri Oesjakof, senior raadgewer oor buitelandse beleid van pres. Wladimir Poetin, het Woensdag gesê die nuutste Amerikaanse vredesplan vir Oekraïne vereis “ernstige ontleding” deur Moskou.
Hy het ook gesê die plan is nie tussen Amerikaanse en Russiese amptenare op ’n vergadering vandeesweek in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) bespreek nie.
Verteenwoordigers van Rusland se intelligensiedienste was in die VAE om hul Oekraïense ampsgenote te ontmoet en “baie sensitiewe kwessies”, insluitend die uitruiling van gevangenes, te bespreek.
“Die vredesplan is nog nie in diepte met enigiemand bespreek nie.” – Reuters
2025-11-26 10:10:29
4 dood, verskeie mense vasgekeer weens brand in Hongkong
Vier mense is dood nadat ’n brand Woensdag verskeie hoë torings van ’n residensiële kompleks in die Tai Po-distrik in die noorde van Hongkong verswelg het.
Verskeie mense is steeds vasgekeer in die brandende torings, het die openbare uitsaaier RTHK berig, met verwysing na die polisie.
Een van die oorledenes is ’n brandbestryder.
Twee mense is in ’n kritieke toestand en een persoon se toestand is stabiel.
Sommige brandweerpersoneel is ook beseer terwyl hulle probeer het om die vlamme te blus wat deur die torings van 31 verdiepings beweeg het. – Reuters, AFP

’n Man huil Woensdag terwyl een van die torings in ’n residensiële kompleks in die Tai Po-distrik, in die noorde van Hongkong, brand. Foto: Reuters
2025-11-26 10:33:17
Hamas ontvang lyke van 15 gevangenes
Hamas se ministerie van gesondheid in die Gasastrook sê Israel het Woensdag die lyke van 15 Palestynse gevangenes terugbesorg ingevolge die ooreenkoms van ’n skietstilstand.
Die Rooi Kruis het die lyke oorhandig.
Dit kom nadat Israel Dinsdag die lyk van Dror Or, ’n gyselaar in die Gasastrook, ontvang het. – AFP
2025-11-26 10:52:29
‘Kampvegter vir babas’ wat aanval by aborsiekliniek uitvoer, sterf
Robert Dear (67), ’n selfverklaarde “kampvegter vir babas” wat aangekla is van die moord op drie mense en poging tot moord op nege ander by ’n aborsiekliniek in Colorado, Amerika, is in die tronk oorlede.
Dear, wat herhaaldelik geestelik ongeskik verklaar is om verhoor te word, is Saterdag oorlede, luidens inligting wat Dinsdag deur die federale buro vir gevangenisse gepubliseer is.
Hy was in aanhouding sedert die dag van die aanval op 27 November 2015. – Reuters
2025-11-26 11:50:05
Mianmar-junta verwelkom einde van VSA-beskerming vir burgers
Die militêre junta in Mianmar het die Trump-administrasie geloof vir die beëindiging van die “tydelike beskermde status” wat 4 000 Mianmese van deportasie uit die VSA beskerm het.
Washington sê Mianmar het “wesenlike stappe vir politieke stabiliteit” gedoen, soos die komende verkiesing.
Kritici beskryf die beplande verkiesing as ’n bespotting aangesien die krygswet en diensplig voortduur. Die VN waarsku dat hy toenemend berigte ontvang dat “ernstige internasionale misdade” voor die verkiesing op 28 Desember kan plaasvind.
Zaw Min Toen, die junta se woordvoerder, het Woensdag gesê Mianmese moet terugkeer na hul geboorteland om in die verkiesing te stem. Ongeveer 90 000 mense is dood sedert die staatsgreep in 2021, wat ’n verwoestende burgeroorlog veroorsaak het. – Reuters
2025-11-26 11:55:48
Brittanje se fiskale ruimte verhoog tot £22 miljard
Rachel Reeves, Brittanje se minister van finansies, sal oor vyf jaar byna £22 miljard in fiskale ruimte skep, volgens die beraming van ’n begrotingswaghond wat Woensdag voor haar begroting gepubliseer is.
Die kantoor vir begrotingsverantwoordelikheid se vooruitskatting het toegeneem van £9,9 miljard in Maart.
Reeves sal Woensdag na verwagting belastingverhogings van etlike miljarde pond aankondig in ’n begroting wat haar geloofwaardigheid by effektebeleggers en linksgesinde wetgewers wat verhoogde welsynsbesteding eis, sal toets. – Reuters
2025-11-26 12:04:14
Franse hof stel Shein-verhoor uit, EU eis inligting oor verbode items
Die verhoor oor Frankryk se versoek dat die Chinese platform Shein vir drie maande geskors word weens die verkoop van “kinderlike” sekspoppe en verbode wapens is tot 5 Desember uitgestel.
Terselfdertyd vereis die Europese Kommissie dat Shein gedetailleerde inligting oor die betrokke goedere op sy webwerf verskaf nadat die maatskappy deur die Franse regering afgekeur is.
Die Franse regering vra vir ’n algehele skorsing van die webwerf, wat die druk op die Chinese e-handelsreus verhoog. – Reuters
2025-11-26 12:13:27
EU vra minimum ouderdom van 16 op sosiale media
Die Europese Parlement het Woensdag 'n resolusie goedgekeur wat vra vir 'n minimum ouderdom van 16 op sosialemediaplatforms.
Die konsepwetgewing vra vir 'n ouderdomsbeperking op digitale platforms wat toegang sal verbied tensy ouers of voogde toestemming gee.
Dit vra ook vir 'n digitale ouderdomsbeperking van 13 sodat kinders nie toegang tot sosialemediaplatforms kan verkry nie en 'n ouderdomsbeperking van 13 vir video-deeldienste en KI-metgeselle. Die resolusie is nie regsbindend nie. – Reuters
2025-11-26 12:41:28
13 dood in reuse-woonstelbrand in Hongkong
Minstens 13 mense is dood nadat 'n reusebrand Woensdag verskeie woonstelgeboue in Hong Kong verswelg het, het 'n regeringsamptenaar gesê.
Die brandweer het altesaam 28 mense behandel.
Nege mense is op die toneel dood verklaar terwyl nog vier mense later aan hul wonde beswyk het, het Chou Wing-yin van die brandweer gesê. – AFP
2025-11-26 12:45:12
Turkse joernalis kry vier jaar tronkstraf weens Erdogan-'bedreiging'
'n Turkse hof het Woensdag 'n bekende politieke joernalis en kommentator Fatih Altayli tot vier jaar en twee maande tronkstraf gevonnis weens die "bedreiging" van pres. Recep Tayyip Erdogan, volgens die burgerregteorganisasie MSLA.
Altayli is in Junie gearresteer nadat hy 'n peiling bespreek het wat toon dat 70% van Turkse burgers teen Erdogan as president gekant is.
Die MLSA het die tronkstraf Woensdag op sosiale media aangekondig. - AFP
2025-11-26 13:05:06
Pasiënte met helikopters uit vloedgeteisterde Thaise stad gered
Thaise owerhede het Woensdag pasiënte per helikopter uit die vloedgeteisterde stad Hat Yai in die suide van die land na veiligheid geneem terwyl kritieke voorrade, insluitend suurstoftenks, na die stad gestuur is waar die dodetal in die streek se ergste vloede in jare tot 33 gestyg het.
Groot gebiede is onder water nadat rekord-reënval van 630 mm oor drie dae uitgesak en 2,7 miljoen mense oor nege provinsies geraak het.
Die weermag het 200 bote, 20 helikopters en die vliegdekskip Chakri Naruebet vir hulpoperasies ontplooi.
Hat Yai het Vrydag 335 mm reën gehad, die hoogste reënsyfer op een dag in 300 jaar.
Vloede het ook Maleisië en Indonesië swaar getref. Hospitale het pasiënte deur kniediep water na veiligheid geneem terwyl desperate inwoners op sosiale media pleidooie vir redding gestuur het. – Reuters
2025-11-26 13:35:02
Supermark se produkte ook in die water

Mense stap Woensdag in die stad Hat Yai in Thailand se suidelike Songkhla-provinsie deur vloedwaters terwyl hulle omring is van drywende produkte van ’n supermark. Wydverspreide oorstromings in die suide van Thailand het duisende mense geraak en ontheem gelaat en minstens 33 lewens geëis. Foto: AFP
2025-11-26 13:47:36
Rusland verwelkom ‘aspekte’ van nuwe VSA-vredesplan
Rusland het die jongste Amerikaanse plan om die Oekraïne-oorlog te beëindig gesien en beskou sommige aspekte daarvan as positief, maar ander aspekte vereis bespreking, het die Kremlin Woensdag gesê.
In opmerkings aan ’n verslaggewer van die Russiese staatstelevisiediens het Joeri Oesjakof, pres. Wladimir Poetin se adviseur oor buitelandse beleid, gesê “sommige aspekte kan positief beskou word, maar baie vereis spesiale besprekings deur kundiges”. – AFP
2025-11-26 14:02:00
Man wat in Liverpool-ondersteuners inploeg, pleit skuldig
’n Britse man wat meer as 130 mense beseer het toe hy met sy motor in ’n skare Liverpool-sokkerondersteuners ingeploeg het tydens die klub se Premierliga-oorwinningsparade in Mei vanjaar, het Woensdag skuldig gepleit op 31 aanklagte, insluitend nege van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Paul Doyle (53) het in die beskuldigdebank in ’n hof in Liverpool gehuil toe hy sy pleit na skuldig verander het op die eerste dag van wat sy verhoor sou wees. Hy het in September onskuldig gepleit.
Doyle sal volgende maand gevonnis word. – Reuters
2025-11-26 14:09:55
Sarkozy se 2de skuldigbevinding oor finansiering gehandhaaf
Frankryk se hoogste hof het Woensdag die voormalige president Nicolas Sarkozy se skuldigbevinding aan onwettige veldtogfinansiering gehandhaaf.
Dit kom nadat hy onlangs vir byna ’n maand in ’n ander saak tronk toe gestuur is.
Sarkozy (70) het teen sy skuldigbevinding aan onwettige veldtogfinansiering vir sy mislukte 2012-herverkiesingsveldtog appèl aangeteken.
Hy is ’n jaar tronkstraf opgelê. Ses maande van die vonnis is opgeskort en kan deur alternatiewe maniere, soos die dra van ’n elektroniese opsporingstoestel, uitgedien word sonder dat hy tronk toe hoef te gaan. – Reuters
2025-11-26 14:37:29
Britse boere trek(ker) saam

Britse boere hou Woensdag ’n saamtrek in hul trekkers op Trafalgar Square in Londen. Hulle het ’n beroep op Rachel Reeves, Britse minister van finansies, gedoen om erfbelasting op familieplase af te skaf. Reeves het Woensdag haar begrotingsverklaring aan die Britse parlement voorgelê. Foto: Reuters
2025-11-26 15:03:16
‘Onnodig’ dat Europa by vredesgesprekke betrokke raak – Kremlin
Die Kremlin het Woensdag na Europa gekap vir hul betrokkenheid by pogings om die oorlog in Oekraïne te beëindig.
“Die Europeërs se inmenging in al hierdie sake is, soos ek dit sien, heeltemal onnodig,” het Joeri Oesjakof, pres. Wladimir Poetin se adviseur oor buitelandse beleid, aan die Russiese staatstelevisiediens gesê.
Oekraïne en sy Europese bondgenote is toenemend bekommerd dat Amerika en Rusland besluite neem oor vredesplanne sonder om Oekraïne en sy Europese bondgenote daarin te ken. – AFP
2025-11-26 15:34:34
Offisiere neem ‘totale beheer oor Guinee-Bissau’
Militêre offisiere in Guinee-Bissau het Woensdag aangekondig dat hulle “totale beheer” oor die land oorneem, die verkiesingsproses opskort en die land se grense sluit.
Dit kom drie dae ná die Wes-Afrikaland se wetgewende en presidentsverkiesing.
Twee van die sterkste presidentskandidate het op ’n oorwinning aanspraak gemaak.
Vroeër Woensdag is skote naby die presidensiële paleis gehoor, terwyl mans in militêre uniforms beheer oor die hoofpad na die gebou oorgeneem het.
Die offisiere het die aankondiging gemaak deur ’n verklaring by die leërhoofkwartier in die hoofstad, Bissau, voor te lees. – AFP

Brig.genl. Denis N’Canha (middel) lees Woensdag ’n verklaring voor by die leërhoofkwartier in die hoofstad, Bissau. Foto: AFP
2025-11-26 15:39:29
Israeliese weermag begin nuwe operasie in Wesoewer
Israel se weermag het Woensdag ’n nuwe operasie teen gewapende Palestynse groepe in die besette Wesoewer van stapel gestuur, waar talle dorpe glo binnegeval is.
Die Israeliese weermag en binnelandse veiligheidsdiens het in ’n kort gesamentlike verklaring gesê dat hulle ’n “breë teenterreur-operasie” in die noorde van die Palestynse gebied begin het.
Luidens die verklaring sal hulle “nie toelaat dat terreur wortel skiet in die gebied nie, en proaktief optree om dit te verhoed”. – AFP
2025-11-26 16:03:22
Op ’n waterbed

Hospitaalpersoneel in Kangar, Maleisië, stoot Woensdag ’n pasiënt op ’n bed deur vloedwater nadat swaar reën oorstromings veroorsaak het in die land se noordelike state wat aan Thailand grens. Foto: Reuters
2025-11-26 16:04:30
‘Geen kalmte in Libanon sonder veiligheid vir Israel’
Israel Katz, Israel se minister van verdediging, het Woensdag gewaarsku dat daar “geen kalmte” in Libanon sal heers as Israel se veiligheid nie gewaarborg word nie.
Die waarskuwing kom te midde van Israeliese magte wat hul operasies in Libanon verskerp, ondanks ’n jaar oue skietstilstand met Hezbollah.
“Ons sal geen bedreigings teen die inwoners van die noorde toelaat nie, en optrede sal voortduur en selfs verskerp word,” het Katz aan die Israeliese parlement gesê.
“Daar sal geen kalmte in Beiroet, en geen orde en stabiliteit in Libanon heers nie, totdat die veiligheid van Israel gewaarborg is,” het hy gesê, en belowe om Hezbollah te ontwapen. – AFP
2025-11-26 16:37:27
EU-hoof beloof steun aan Oekraïne tot vrede heers
Ursula von der Leyen, hoof van die Europese Kommissie, het Woensdag belowe Europa sal Oekraïne bly ondersteun en druk op Rusland volhou totdat daar ’n “regverdige en blywende vrede” is.
Sy het ook na die hersiene Amerikaanse vredesplan verwys as ’n “beginpunt” om die oorlog te beëindig.
“Ek wil van die begin af duidelik wees: Europa sal aan Oekraïne se kant bly en Oekraïne met elke tree op die pad ondersteun,” het Von der Leyen aan EU-wetgewers gesê. – AFP
2025-11-26 17:03:25
Verweefdheid

’n Afgaanse vrou vleg Woensdag ’n rietmandjie in haar huis in die Zebak-distrik in die Badaksjan-provinsie. Foto: AFP
2025-11-26 17:04:30
Bolsonaro-tronkstraf: Brasilië het wêreld les in demokrasie geleer, sê Lula
Brasilië het die wêreld ’n les in demokrasie geleer, het pres. Luiz Inácio Lula da Silva Woensdag gesê nadat oudpres. Jair Bolsonaro, sy voorganger, tronk toe gestuur is weens ’n mislukte staatsgreeppoging.
“Gister (Dinsdag) het dié land die wêreld ’n les in demokrasie geleer.
“Sonder enige ophef het die Brasiliaanse regstelsel sy mag gewys en is nie deur eksterne bedreigings geïntimideer nie,” het Lula gesê met verwysing na strafmaatreëls wat deur pres. Donald Trump teen Brasilië ingestel is weens die verhoor van sy bondgenoot. – AFP
2025-11-26 17:30:41
President van Guinee-Bissau bevestig hy is ontsetel
“Ek is ontsetel,” het pres. Umaro Sissoco Embaló van Guinee-Bissau Woensdag in ’n onderhoud met die TV-stasie France 24 gesê en bevestig dat hy uit sy amp onthef is.
Dit kom nadat militêre offisiere vroeër Woensdag aangekondig het dat hulle “totale beheer” oor die land neem, die verkiesingsproses opskort en die land se grense sluit.
Embaló is in hegtenis geneem en word aangehou by die hoofkwartier van die algemene staf, waar hy “goed behandel” word, het ’n militêre bron Woensdag aan AFP gesê. Hy word glo saam met die stafhoof en die minister van binnelandse sake aangehou. – AFP, Reuters
2025-11-26 18:02:44
36 sterf, 279 nog soek ná brand in behuisingskompleks in Hongkong
’n Reusebrand wat Woensdag ’n behuisingskompleks in die Tai Po-distrik in die noorde van Hongkong verswelg het, het minstens 36 mense se lewe geëis, sê John Lee, stadsleier.
279 mense word steeds vermis.
“Tot nou toe het die brand die lewe van 36 mense geëis en 279 mense word vermis. 29 mense is steeds in die hospitaal, van wie sewe in ’n kritieke toestand is,” het Lee op ’n mediakonferensie gesê. – AFP

Inwoners, toegedraai in komberse, kyk hoe vlamme bamboessteierwerk om hul behuisingskompleks in die Tai Po-distrik in die noorde van Hongkong verteer. Foto: Reuters
2025-11-26 18:04:43
Aanklagte oor verkiesing-inmenging teen Trump teruggetrek
’n Regter het Woensdag ingestem om aanklagte teen pres. Donald Trump en ’n groep bondgenote weens beweerde pogings om sy presidentsverkiesingsnederlaag in Georgia in 2020 om te keer, terug te trek.
Peter Skandalakis, aanklaer, het gevra dat die 39 aanklagte, van onder meer afpersing, teen Trump en ’n groep bondgenote teruggetrek word en gesê verdere vervolging sal “onproduktief” wees.
“Ek erken dat, in ag genome die diepe politieke verdeeldheid in ons land, dié besluit nie universeel gewild sal wees nie,” het Skandalakis bygevoeg. – Reuters
2025-11-26 19:04:09
Istanbul-avonstond

Die son sak Woensdag oor die Süleymaniye-moskee in Istanbul, Turkye. Foto: Reuters
2025-11-26 19:07:13
Peru se gewese president 14 jaar tronk toe weens korrupsie
’n Peruaanse hof het oudpres. Martín Vizcarra Woensdag tot 14 jaar tronkstraf gevonnis weens die aanvaarding van omkoopgeld terwyl hy as streeksgoewerneur gedien het.
Vizcarra is daaraan skuldig bevind dat hy $640 000 in omkoopgeld van konstruksiemaatskappye ontvang het terwyl hy tussen 2011 en 2014 goewerneur van die suidelike Moquegua-streek was. – AFP
2025-11-26 19:09:35
Portugal vra vir einde aan geweld in Guinee-Bissau
Portugal het Woensdag gevra vir ’n einde aan enige vorm van geweld in Guinee-Bissau en versoek dat die verkiesingsproses hervat word nadat ’n groep leëroffisiere vroeër die dag verklaar het dat hulle die mag oorgeneem het.
Die magsoorname was ’n dag voor die beplande aankondiging van die uitslae van ’n hoogs omstrede presidentsverkiesing.
Tussen 1974, toe die land onafhanklikheid van Portugal verkry het, en 2020, toe die nou-onthefde pres. Umaro Sissoco Embaló sy amp aanvaar het, was daar minstens nege staatsgrepe en staatsgreeppogings in Guinee-Bissau. – Reuters
2025-11-26 20:15:45
Twee lede van Nasionale Garde naby Withuis geskiet
Twee lede van die Nasionale Garde is Woensdag in Washington geskiet, het Kristi Noem, Amerikaanse minister van binnelandse veiligheid, in ’n plasing op X gesê, maar geen verdere inligting gegee nie.
Die polisie in Washington het afsonderlik gesê daar was Woensdag ’n skietery ’n blok van die Withuis af en dat ’n verdagte in hegtenis geneem is.
Die toestand van die twee wat geskiet is, is nie bekend nie.
Pres. Donald Trump, wat in Florida is, is oor die voorval ingelig, het die Withuis gesê. – Reuters
2025-11-26 20:48:24
Twee lede van nasionale wag ‘kritiek gewond’ – Trump
Pres. Donald Trump het Woensdag gesê die twee lede van die nasionale wag wat naby die Withuis geskiet is, is “kritiek gewond” en dat die skieter ook ernstig beseer is.
“Die dier wat die twee lede van die nasionale wag geskiet het, albei kritiek gewond en nou in twee aparte hospitale, is ook ernstig beseer, maar sal nietemin ’n baie hoë prys betaal,” het Trump in ’n plasing op Truth Social geskryf. – Reuters
2025-11-26 20:59:20
Twee lede van Nasionale Garde sterf ná Washington-skietvoorval
Patrick Morrisey, goewerneur van Wes-Virginië, het Woensdagaand gesê die twee lede van die Nasionale Garde wat vroeër die dag naby die Withuis geskiet is, het aan hul wonde beswyk.
“Hierdie dapper Wes-Virginiërs het hul lewe verloor in diens van hul land,” het Morrisey op X gesê.
Pres. Donald Trump het vroeër Woensdag gesê die “dier” wat die twee lede geskiet het, is ook ernstig beseer. – Reuters
2025-11-27 03:38:51
44 reeds dood weens brand in Hongkong, 300 vermis
Die dodetal weens ’n groot brand wat sedert Woensdag in ’n woonstelkompleks in Hongkong woed, het tot 44 gestyg.
Nagenoeg 300 mense word ook vermis.
Brandbestryders het deurnag gesukkel om inwoners te bereik wat moontlik op die boonste verdiepings van die Wang Fuk Court-behuisingskompleks vasgekeer is weens intense hitte en digte rook.
Die kompleks in die Tai Po-distrik het 2 000 woonstelle in agt blokke wat meer as 4 600 mense huisves. – Reuters
2025-11-27 03:49:45
Iran se wagkorps onderskryf terrorisme, sê Australië
Australië het Iran se Islamitiese Revolusionêre Wagkorps as ’n onderskrywer van terrorisme gelys.
Penny Wong, Australiese minister van buitelandse sake, het Donderdag gesê die besluit volg op grond van ’n evaluering van inligting dat die wagkorps aanvalle op Australië se Joodse gemeenskap georkestreer het.
Australië het Iran in Augustus daarvan beskuldig dat hy verantwoordelik was vir twee anti-Semitiese voorvalle van brandstigting in die stede Sydney en Melbourne en het die Iranse ambassadeur Dinsdag sewe dae gegee om die land te verlaat. – Reuters
2025-11-27 04:01:27
Bekyk Afgaanse immigrante, sê Trump nadat 2 van Nasionale Garde sterf
Pres. Donald Trump het Woensdag sy regering versoek om Afgaanse immigrante te herondersoek wat Amerika binnegekom het terwyl oudpres. Joe Biden aan die bewind was.
Die president het die voorval waarin twee lede van die Nasionale Garde in Washington Woensdag doodgeskiet is, ’n “terreurdaad” genoem en gesê die verdagte het Amerika in 2021 vanuit Afganistan binnegekom.
“Hierdie gruwelike aanval was ’n daad van haat en terreur,” het Trump gesê. – Reuters
2025-11-27 04:10:54
11 dood toe trein spoorwegwerkers in China tref
Elf mense is Donderdag dood en twee beseer in ’n treinongeluk in die provinsie Yunnan in Suid-China, het amptenare by die Kunming-spoorwegstasie gesê.
Die voorval het plaasgevind toe die trein ’n groep spoorwegwerkers op die kromming van die treinspoor getref het terwyl die seismiese toerusting van die trein getoets is. – Reuters
2025-11-27 04:15:44
Ramaphosa kap terug nadat Trump SA ‘beledig’ oor G20
Suid-Afrika is ’n soewereine demokrasie en sal nie beledigings van enige land aanvaar nie.
Dit was die boodskap van pres. Cyril Ramaphosa ná ’n leiersverklaring deur Donald Trump, die Amerikaanse president, waarin hy Suid-Afrika se rol in die G20 bevraagteken het.
Trump het ook gesê Suid-Afrika is nie welkom op volgende jaar se beraad in Miami nie.
2025-11-27 04:33:20
Bulgare betoog oor begroting

Betogers buite die parlement in Sofia, Bulgarye, probeer Woensdag ’n polisievoertuig omgooi tydens ’n betoging wat deur Bulgaarse opposisiepartye en -organisasies georganiseer is. Die betoging volg op ontevredenheid oor die voorgestelde finansiële raamwerk van die land se begroting. Foto: Reuters
2025-11-27 04:48:02
Vrou dood, man kritiek ná haai-aanval in Australië
’n Vrou is Donderdag dood en ’n man is ernstig beseer in ’n haai-aanval naby ’n gewilde branderplankry-bestemming aan die ooskus van Australië.
Nooddienste is Donderdagoggend ontbied na ’n strand ongeveer 350 km noord van Sydney ná berigte dat twee mense deur ’n haai gebyt is, het die owerheid gesê.
Die vrou is op die toneel dood. Die man is in ’n kritieke toestand per helikopter na die hospitaal geneem.
Albei slagoffers is vermoedelik in die 20.
Die strand is gesluit terwyl die owerheid probeer vasstel watter haaispesie betrokke was. – Reuters
2025-11-27 05:53:59
Dodetal styg weens vloede, grondstortings in Indonesië
Die dodetal weens vloede en grondstortings op die eiland Soematra in Indonesië het tot minstens 19 mense gestyg, het ’n reddingsamptenaar Donderdag gesê.
Ekstreme weer teister Noord-Soematra die laaste paar dae en het oorstromings en grondstortings in verskeie distrikte oor die provinsie heen veroorsaak.
Minstens 24 mense word in ses distrikte vermis.
Paaie na die betrokke gebiede is afgesny, sowel as telekommunikasie- en elektrisiteitsdienste. – AFP
2025-11-27 06:18:19
Suid-Korea loods vierde suksesvolle ruimtepyl
Suid-Korea het Donderdag sy vierde ruimtevuurpyl, Nuri, suksesvol gelanseer en meer as 12 satelliete in ’n wentelbaan geplaas, het die ministerie van wetenskap bekendgemaak.
Dit is die land se eerste lansering wat gesamentlik met ’n private maatskappy uitgevoer is.
Suid-Korea het die Nuri-vuurpylprogram in 2021 begin, maar in die jongste lansering het die plaaslike maatskappy Hanwha Aerospace die vervaardiging en montering van die vuurpyl gelei met behulp van tegnologie wat van die regering oorgedra is. – Reuters
2025-11-27 06:23:39
Aardbewing tref eiland by Soematra
’n Aardbewing van 6,6 het Donderdag ’n eiland langs die kus van Soematra in die weste van Indonesië getref, volgens die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS).
Die aardbewing het die eiland Simeulue om 11:56 plaaslike tyd getref.
Die Indiese Oseaan-tsoenami-waarskuwingsentrum het gesê dat “daar geen bedreiging” is van ’n potensiële tsoenami wat deur die aardbewing veroorsaak kan word nie.
Indonesië se agentskap vir meteorologie, klimatologie en geofisika sê die aardbewing was 6,3. – AFP
2025-11-27 06:56:26
Lasbrief vir ander mede-eienaar van Mej. Heelal-organisasie
Mexiko ondersoek die president van die Mej. Heelal-organisasie in verband met beweerde dwelm- en wapenhandel, asook die beweerde diefstal van brandstof, het die kantoor van die prokureur-generaal Woensdag gesê.
Die kantoor het 13 lasbriewe vir inhegtenisneming as deel van die ondersoek uitgereik, sonder om individue te identifiseer.
Plaaslike media het berig dat ’n lasbrief uitgereik is vir Raul Rocha, ’n Mexikaanse burger wat die helfte van die Mej. Heelal-organisasie besit.
Dit kom nadat ’n siviele hof in Thailand ook Dinsdag ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Anne Jakapong Jakrajoetatip, mede-eienaar van die Mej. Heelal-kompetisie, uitgereik het weens beweerde bedrog van $930 000. – Reuters
2025-11-27 07:26:02
Dodetal styg tot 55 in Hongkong-brand
Die dodetal weens ’n groot brand wat deur ’n behuisingskompleks in Hongkong woed, het tot 55 gestyg, het die stad se brandweer Donderdagmiddag plaaslike tyd gesê.
Brandweerbeamptes sê dat 51 mense op die toneel dood is, terwyl vier mense in die hospitaal gesterf het.
Brande in vier van die agt woonstelblokke in die kompleks is geblus en drie brande is onder beheer. – AFP

Dik rook borrel uit die boonste verdiepings van ’n woonstelgebou by die Wang Fuk Court-behuisingskompleks in Hongkong. Foto: Reuters
2025-11-27 07:44:35
31 dood weens oostromings, grondstortings in Sri Lanka
Minstens 31 mense is vandeesweek weens oorstromings en grondstortings in Sri Lanka dood.
Altesaam 14 mense word ook vermis.
Die meerderheid van die sterftes het in die sentrale distrik Badulla plaasgevind, waar 16 mense lewend begrawe is toe berghellings oornag teen hul huise ingestort het, het die Rampbestuursentrum gesê.
Byna 400 huise is ook beskadig.
Sri Lanka is tans in die moesonseisoen. – AFP
2025-11-27 08:11:51
Afgaanse verdagte het glo saam met Amerikaanse troepe gedien
Die man wat daarvan verdink word dat hy twee lede van die Nasionale Garde Woensdag naby die Withuis doodgeskiet het, is ’n Afgaanse burger wat saam met Amerikaanse troepe in Afganistan gedien het, volgens Amerikaanse mediaberigte.
Die media het die man as Rahmanullah Lakanwal (29) geïdentifiseer.
Hy is in September 2021 na Amerika nadat hy 10 jaar in die Afgaanse weermag gedien het en Amerika se spesiale magte ondersteun het. – AFP
2025-11-27 08:24:20
China waarsku Japan weer oor Taiwan
China se ministerie van verdediging het Donderdag gesê Japan sal ’n “pynlike prys” betaal as hulle die lyn oor Taiwan oorskry.
“Die Volksbevrydingsleër het kragtige vermoëns en betroubare middele om enige invallende vyand mee te verslaan,” sê Jiang Bin, woordvoerder van die Chinese ministerie van buitelandse sake.
“As die Japannese kant dit waag om die lyn selfs ’n halwe tree oor te steek, sal hy onvermydelik ’n pynlike prys betaal.” – AFP
2025-11-27 09:10:48
Pienk olifante gedenk Thaise koning se ma
Elf pienk geverfde olifante het Donderdag in 'n optog deur Bangkok geloop en saam buite die Groot Paleis in ’n huldeblyk aan wyle Sirikit (93), ma van die huidige koning, Maha Wadjiralongkorn, gebuig.
Sy is verlede maand oorlede. Sirikit lê in staatsie vir ’n jaar lange begrafnisseremonie.
Laithongrian Meepan, eienaar van die Royal Elephant Kraal Village in die Ajoetthaja-provinsie, het die geleentheid gereël.
Dit is deur Sirikit se liefde vir olifante geïnspireer. – AFP

Mense ry op geverfde olifante terwyl hulle marsjeer om hulde te bring aan Thailand se oorlede voormalige koningin Sirikit in Bangkok, Thailand. Foto: AFP
2025-11-27 09:42:56
Rusland sluit Poolse konsulaat
Rusland het Donderdag Pole se ambassadeur ontbied en aangekondig dat hulle Warskou se konsulaat in die stad Irkoetsk in Siberië sluit.
Dit volg nadat Pole toestemming vir Rusland se konsulaat in Gdansk vanaf 23 Desember sal onttrek weens die sabotasie van ’n treinspoor waarvoor Pole Rusland kwalik neem. Moskou ontken steeds verantwoordelikheid vir sabotasie en noem dit “Russofobie”.
Moskou se ministerie van buitelandse sake sê die sluiting van sy konsulaat is ’n “vyandige en ongeregverdigde stap” en sê Pole se missie in Irkoetsk moet teen einde Desember sluit. – AFP, Reuters
2025-11-27 09:48:01
8 kry lewenslank vir sabotasie van Krim-brug
’n Hof in Rusland het Donderdag agt mense tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens ontploffings in 2022 wat die Krim-brug gedeeltelik vernietig het.
Vyf mense is dood toe die Kertsj-pad- en spoorbrug op 8 Oktober 2022 deur ’n vragmotorbomontploffing getref is, agt maande nadat Moskou sy volskaalse offensief op Oekraïne van stapel gestuur het.
Oekraïne het later verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar en gesê dit was daarop gemik om Moskou se logistiek te belemmer. – AFP
2025-11-27 10:30:53
Pous land in Turkye in 1ste reis buite Italië
Pous Leo het Donderdag in Turkye aangekom op sy eerste reis buite Italië as leier van die Katolieke Kerk.
Hy sal na verwagting ’n beroep doen om vrede in die Midde-Ooste en eenheid onder verdeelde Christelike kerke aanmoedig.
Leo, die eerste Amerikaanse pous, het Turkye, ’n Moslem-meerderheidsland, as sy eerste oorsese bestemming gekies. – Reuters

Pous Leo Donderdag met sy aankoms op die Esenboga-lughawe in Ankara, Turkye. Foto: AFP
2025-11-27 10:48:57
Strate van Bissau byna verlate ná staatsgreep deur weermag
Donderdag was die strate van Bissau, die hoofstad van Guinee-Bissau, byna verlate met die aankondiging van die verkiesingsuitslae wat gedwarsboom is deur die weermag wat die mag oorgeneem het.
Pres. Umaro Sissoco Embalo is Woensdag in hegtenis geneem en die land se grense is gesluit.
Soldate het Donderdag die gebied rondom die presidensiële paleis in Bissau gepatrolleer en ’n paar mense het langs die hoofpad geloop wat na die paleis lei, waar swaar geweervuur die vorige dag weerklink het. – AFP
2025-11-27 11:35:04
Nord Stream-beskuldigde Donderdag aan Duitsland uitgelewer
’n Oekraïense man wat vermoedelik in 2022 die sabotasie van die Nord Stream-gaspypleiding gekoördineer het, sal Donderdag deur Italië aan Duitsland uitgelewer word nadat die hoogste hof in Italië dié versoek toegestaan het.
Serhii K. ontken steeds sy betrokkenheid by die ontploffing in die Baltiese See wat Russiese gasversending na Europa onderbreek het.
Duitse owerhede voer aan hy het ploftoestelle naby Denemarke se Bornholm-eiland geplaas.
Hy word onder meer aangekla van sameswering om ’n ontploffing te veroorsaak sowel as die vernietiging van belangrike infrastruktuur. Die verdagte word sedert Augustus in Rimini in Italië aangehou en het pogings om hom aan Duitsland uit te lewer teengestaan. – Reuters
2025-11-27 11:51:23
Versekeraar se aandele val ná Hongkong-brand
Die versekeraar China Taiping Insurance Holdings se aandele het Donderdag met ongeveer 8% gedaal weens kommer oor finansiële blootstelling van meer as $200 miljoen ná die verwoestende brand Woensdag by ’n woonstelkompleks in Hongkong.
Volgens die jongste sterftesyfer is minstens 65 mense in die brand dood en 70 beseer.
Dié versekeraar dek die woonstelkompleks en opknappingsprojek. Potensiële aanspreeklikheid van tot $257 miljoen vir eiendomskade asook bykomende kontrakteursdekking staar hom in die gesig.
Die brand by die woonstelkompleks van 2 000 eenhede is moontlik veroorsaak deur “ernstige nalatige” konstruksiepraktyke.
Die polisieondersoek na die voorval duur voort. – Reuters
2025-11-27 12:18:23
Japan ontken bewering dat Trump sy premier gewaarsku het oor Taiwan
Japan het Donderdag ’n verslag wat in die Wall Street Journal (WSJ) gepubliseer is wat lui dat Sanae Takaitsji, Japan se premier, deur pres. Donald Trump aangeraai is om China nie oor Taiwan se soewereiniteit uit te daag nie, ontken.
Die onmin tussen China en Japan volg nadat Takaitsji voorgestel het dat Japan op ’n militêre wyse sal ingryp om Taiwan te verdedig.
Volgens Beijing het pres. Xi Jinping Maandag sy bekommernisse oor Taiwan met Trump bespreek. Dit is glo genoem dat hereniging “integraal” is tot die internasionale naoorlogse-orde.
Die WSJ het berig Trump het Takaitsji gebel en selfbeheersing aanbeveel.
Minoroe Kihara, woordvoerder vir die Japanse regering, het egter dié weergawe ontken.
China eis dat Takaitsji se kommentaar teruggetrek word. – AFP
2025-11-27 12:36:11
VK se netto migrasie daal met tweederdes
Die langtermyn- netto migrasie in Brittanje het sedert Junie van 649 000 tot 204 000 gedaal.
Dié drastiese daling volg op strenger regeringsbeleid soos die verbod op internasionale studente wat afhanklikes na die Verenigde Koninkryk (VK) wil saambring en hoër salarisdrempels vir geskoolde werkervisums.
Immigrasie deur nie-EU burgers vir werk het met 61% gedaal, terwyl studie-verwante immigrasie met 25% gedaal het.
Ten spyte van onlangse dalings toon peilings kiesers beskou immigrasie steeds as die land se hoofkwessie, met die Reform UK-party wat voorloop in meningspeilings. – Reuters
2025-11-27 12:42:26
Frankryk stel nuwe militêre diens bekend
Frankryk sal van volgende jaar af ’n vrywillige militêre diens bekend stel wat oor 10 maande sal strek, volgens wat pres. Emmanuel Macron Donderdag aangekondig het met verwysing na toenemende Russiese bedreigings.
Vrywilligers tussen die ouderdom van 18 en 19 sal slegs op nasionale grondgebied dien, maar tydens groot krisisse kan diens egter, met parlementêre goedkeuring, verpligtend word.
Die program sal begin met 3 000 vrywilligers en sal teen 2030 uitbrei tot 10 000. Daar word verwag dat die program teen 2035 tot 50 000 vrywilligers sal uitbrei.
Frankryk het sowat drie dekades gelede diensplig afgeskaf.
Dié inisiatief volg voorbeelde van Europese bondgenote, soos Noorweë, wat deur dieselfde veiligheidsbedreigings in die gesig gestaar word, het Macron gesê. – AFP
2025-11-27 12:58:46
Weermag stel generaal as president aan ná staatsgreep in G-Bissau
Guinee-Bissau se weermag het Donderdag genl. Horta Nta Na Man as oorgangspresident aangestel nadat hulle pres. Umaro Sissoco Embaló in ’n staatsgreep ná 'n betwiste verkiesingsuitslag uit die kussings gelig het.
Die Afrika-Unie het die magsoorname veroordeel en die onmiddellike vrylating van alle aangehoude amptenare geëis.
Die Wes-Afrikaland, ’n berugte kokaïen-smokkelsentrum, het sedert onafhanklikwording in 1974 nou reeds nege staatsgrepe beleef. – Reuters
2025-11-27 13:02:04
Dodetal styg tot 61 in Thaise vloede wyl sikloon in Indonesië 61 eis
Reddingspanne in Thailand het hommeltuie en helikopters ontplooi nadat die dodetal in die oorstromings tot 55 gestyg het.
Byna 3 miljoen mense word geraak in die ergste vloede in jare in die suide van Thailand, met vliegdekskepe en konvooie wat hulp aan gestrande inwoners bied.
Terselfdertyd het die dodetal in die sikloon in Indonesië tot 61 gestyg. Indonesië se Sumatra-eiland ervaar modderstortings en vloede en gemeenskappe is van mekaar afgesny.
Waarskuwings is intussen uitgereik oor ’n tropiese storm in sewe van Maleisië se deelstate.
Weerkundiges skryf dié toestande toe aan die interaksie tussen die tifoon Koto en die sikloon Senyar en sê aardverwarming versterk die storms. – Reuters
2025-11-27 13:30:31
Water net waar jy kyk

’n Huis omring deur vloedwater in Kangar in die noordelike Maleisiese deelstaat Perlis. Die dae lange swaar reën en vloede raak duisende mense in die gebied. Foto: AFP
2025-11-27 14:02:04
Dodetal in Hongkong-brand styg tot 65 – regering
Die Hongkong-regering het Donderdag gesê die dodetal in die brand wat ’n woonstelkompleks in die stad verswelg het, het tot 65 gestyg. Meer as 250 mense word steeds vermis.
" ... die brand het 65 lewens geëis en 70 mense beseer gelaat", het ’n regeringswoordvoerder aan AFP gesê, en bygevoeg dat 10 brandbestryders beseer is sedert die brand Woensdag uitgebreek het. – AFP
2025-11-27 14:05:32
Raamwerk kan grondslag vorm vir vredesooreenkoms – Poetin
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het Donderdag gesê die raamwerk van ’n konsep-vredesplan wat deur Amerika en Oekraïne bespreek is, kan die grondslag vorm vir toekomstige ooreenkomste om die konflik in Oekraïne te beëindig.
Hy het gesê die raamwerk neem Rusland se posisie in ag, maar dat sommige punte nog bespreek moet word.
Poetin het ook gesê sodra Oekraïense troepe terugtrek uit gebiede waarop Rusland aanspraak maak, sal die gevegte ophou, maar indien hulle dit nie doen nie, sal Russiese magte hul doelwitte met geweld bereik.
Hy het bygevoeg dat Rusland gereed is om strategiese stabiliteit met Amerika te bespreek, insluitend kwessies rakende kerntoetse. – Reuters
2025-11-27 14:31:35
Konflikte stel toekoms van mensdom in gevaar – pous
Pous Leo het Donderdag die baie konflikte oor die wêreld heen betreur en gewaarsku dat ’n Derde Wêreldoorlog “stukkie vir stukkie” geveg word en die toekoms van die mensdom in gevaar is.
Leo het Donderdag in Turkye aangekom op sy eerste reis buite Italië as leier van die Katolieke Kerk. In sy eerste toespraak in die buiteland het hy gesê die wêreld word gedestabiliseer deur “ambisies en besluite wat geregtigheid en vrede vertrap”.
Hy het verder gesê die wêreld ervaar “ ’n verhoogde vlak van konflik… aangevuur deur heersende strategieë van ekonomiese en militêre mag”.
“Ons mag op geen manier hieraan toegee nie. Die toekoms van die mensdom is op die spel,” het hy gesê. – Reuters
2025-11-27 15:00:40
Dís hoe Saffas vlieg!

Die Marksmen-kunsvliegspan van Suid-Afrika tree Donderdag op by Aero Asia 2025 in Zhuhai in China se Guangdong-provinsie. Aero Asia 2025 is ’n internasionale lugvaart-en-ruimtevaartuitstalling wat tussen 27 en 30 November gehou word. Foto: AFP
2025-11-27 15:02:32
Washington-skietery as terreurdaad ondersoek – FBI-hoof
Amerika hanteer Woensdag se skietvoorval waarin twee Nasionale Garde-lede deur ’n 29-jarige Afgaanse migrant naby die Withuis geskiet is, as ’n terreurondersoek, het Kash Patel, direkteur van die FBI, Donderdag gesê.
“Dit is ’n voortgesette ondersoek na terreur,” het Patel op ’n nuuskonferensie gesê, ’n dag ná die skietery met ’n rewolwer waarin die twee lede kritiek gewond is. – AFP
2025-11-27 15:03:39
Navo-lidmaatskap vir Oekraïne onaanvaarbaar – Rusland
Navo se pogings om Oekraïne in sy struktuur betrek, hou ’n bedreiging vir Rusland in – en Oekraïense lidmaatskap van die militêre alliansie sal vir Rusland onaanvaarbaar wees, het Maria Zacharowa, woordvoerder van die Russiese ministerie van buitelandse sake, Donderdag gesê. – Reuters
2025-11-27 15:36:03
Dodetal in Hongkong-brand staan nou op 75
Die Hongkong-regering het Donderdag gesê die dodetal in die brand wat ’n woonstelkompleks in die stad verswelg het, het teen omstreeks 16:00 (SA tyd) tot 75 gestyg. Meer as 250 mense word steeds vermis.
Volgens ’n regeringswoordvoerder het die stad se nooddienste 76 beseerdes behandel, onder wie 11 brandbestryders. Teen omstreeks 14:00 (SA tyd) is die dodetal as 65 gegee. – AFP
2025-11-27 16:02:08
… 5… 4 … 3 … 2 … 1

’n Sojoes MS-28-ruimtetuig bo-op ’n vuurpyl vertrek Donderdag op ’n sending na die Internasionale Ruimtestasie vanaf die Baikonoer-lanseerbasis in Kazakstan, met twee Russiese en een Amerikaanse ruimtevaarder aan boord. Die ruimtetuig het later Donderdag suksesvol aan die ruimtestasie vasgemeer, het die Russiese ruimteagentskap, Roskosmos, gesê. Foto: Reuters
2025-11-27 16:09:00
Israel loods nog aanvalle teen Hezbollah in Libanon
Die Israeliese weermag sê hulle het Donderdag nog ’n reeks aanvalle teen Hezbollah in Suid-Libanon uitgevoer, ondanks die skietstilstand wat Donderdag presies ’n jaar gelede met die militante groep gesluit is.
Volgens die weermag het hulle “Hezbollah-terreurinfrastruktuur in verskeie gebiede in Suid-Libanon aangeval en vernietig” en “talle Hezbollah-wapenopslagplekke getref”. – AFP
2025-11-27 16:11:40
Nigerië verklaar noodtoestand oor vlaag ontvoerings
Gewapende mans het Donderdag minstens 10 mense in die noorde van Nigerië ontvoer, het die polisie gesê, ’n dag nadat die land noodmaatreëls aangekondig het om massa-ontvoerings te bekamp.
Pres. Bola Tinubu het Woensdag ’n "nasionele veiligheidsnoodtoestand" verklaar ná ’n rits massa-ontvoerings waarin honderde mense, meestal skoolkinders, binne ’n week ontvoer is.
Aanvallers het binne dae 24 Moslem-skoolmeisies, 38 aanbidders, meer as 300 skoolkinders en onderwysers van ’n Katolieke skool, 13 jong vroue en meisies wat naby ’n plaas gestap het, en nóg 10 vroue en kinders ontvoer.
Tientalle ontvoerdes is gered en ander het ontsnap, maar 265 van die kinders en hul onderwysers wat van die Katolieke kosskool ontvoer is, word steeds vermis. – AFP
2025-11-27 17:01:27
Seisoenale kuns

‘Die vier seisoene’ deur die Italiaanse kunstenaar Giuseppe Arcimboldo word Donderdag voor ’n kunsveiling vertoon by die veilingshuis Christie’s in Londen. Foto: AFP
2025-11-27 17:02:47
Bekyk geskenke van sakeleiers aan Trump, vra Switserse parlementslede
Twee Switserse parlementslede het aanklaers gevra om te ondersoek of geskenke deur Switserse sakeleiers aan pres. Donald Trump – waaronder ’n Rolex-horlosie en ’n goudstaaf – Switserland se teenkorrupsie-wette oortree het.
Switserland het vandeesmaand ’n raamwerkooreenkoms met Amerika gesluit om ’n tarief van 39% op Switserse goedere tot 15% te verlaag. Die ooreenkoms is bereik 10 dae nadat die afvaardiging van Switserse sakeleiers Trump in die Oval Office besoek en die geskenke aan hom gegee het.
’n Bron naby aan die afvaardiging sê hulle het aan die wette van albei lande voldoen. – Reuters
2025-11-27 17:04:57
Konstruksiebase in Hongkong in arres ná brand tot sowat 83 mense se dood lei
Die polisie in Hongkong het Donderdag die base van ’n konstruksiemaatskappy in hegtenis geneem weens die stad se ergste brand in byna 80 jaar wat teen omstreeks 18:00 (Suid-Afrikaanse tyd) reeds tot die dood van 83 mense gelei het.
Die polisie het twee direkteure en ’n ingenieurskonsultant van die maatskappy wat instandhouding op die woonstelgeboue gedoen het, in hegtenis geneem omdat hulle van manslag verdink word omdat hulle glo onveilige materiaal gebruik het. – Reuters
2025-11-27 18:00:44
Kyk, ma, dis Bluey!

Mense neem Donderdag foto’s van ’n Bluey-ballon tydens Macy’s se jaarlikse Dankseggingsdag-parade in New York. Foto: Reuters
2025-11-27 18:05:50
Sweed tronk toe oor hy Eurovision-kompetisie wou aanval
’n Hof in Luxemburg het Donderdag ’n verregse Sweed twee jaar tronkstraf opgelê weens die beplanning van verskeie “terreuraanvalle”, onder meer teen die Eurovision-sangkompetisie.
Alexander H. was ’n minderjarige toe hy in Februarie 2020 by sy huis in Luxemburg in hegtenis geneem is terwyl hy voorbereidings getref het vir die Eurovision-aanval, het aanklaers gesê.
Toerusting om bomme te vervaardig is in die kelder van die huis gevind, asook boodskappe wat daarop dui dat hy verskeie aanvalle beplan het. – AFP
2025-11-27 18:12:31
Nog ’n man in hegtenis oor sinagoge-aanval in Manchester
’n Man is Donderdag by die Manchester-lughawe in Noordwes-Engeland in hegtenis geneem in verband met verlede maand se sinagoge-aanval in Manchester waarin twee mense dood is.
Die 31-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die pleeg, voorbereiding en aanhitsing van terreurdade, het die Manchester-polisie gesê.
Altesaam sewe mense is nou reeds in verband met die aanval op die Heaton Park Hebrew Congregation-sinagoge op 2 Oktober in hegtenis geneem. – AFP
2025-11-27 19:02:26
Kersfees in die kasteel

’n Lid van die Britse koninklike personeel verstel Donderdag versierings aan ’n Kersboom in die Windsor-kasteel. Foto: Reuters
2025-11-27 19:05:13
Trump-administrasie ‘nie samewerking met Iran waardig’
Die ajatolla Ali Chamenei, Iran se opperleier, het Donderdag gesê die Trump-administrasie is nie kontak of samewerking met sy land waardig nie.
“ ’n Regering soos hierdie (Amerika) is nie waardig om genader of mee saamgewerk te word deur ’n regering soos dié van die Islamitiese Republiek nie,” het Chamenei in ’n televisietoespraak gesê. Hy het gerugte dat Iran boodskappe aan Amerika gestuur het, as ’n “infame leuen” verwerp. – AFP
2025-11-27 19:07:02
Guinee-Bissau: President ‘reël staatsgreep’ – opposisieleier
Die opposisiekandidaat Fernando Dias het Donderdag aan AFP gesê hy het Guinee-Bissau se presidentsverkiesing gewen en beweer dat die uittredende staatshoof ’n staatsgreep gereël het om hom (Fernando) te keer om die amp te beklee.
Militêre offisiere het die bewind van pres. Umaro Sissoco Embaló Woensdag omvergewerp en die proses om die uitslag van Sondag se presidentsverkiesing bekend te maak, tot stilstand laat knars.
Dias het per telefoon aan AFP gesê dat hy op ’n veilige plek is. – AFP
2025-11-27 20:01:47
Militêre begraafplaas

’n Lugfoto van ’n “begraafplaas” van tenks en pantservoertuie buite die noordelike Siriese stad Idlib. Rebellemagte het dié toerusting gekonfiskeer tydens die val van die regime van die voormalige Siriese president Basjar al-Assad. Foto: AFP
2025-11-27 20:03:05
Israel bekyk summiere teregstelling van 2 Palestyne
Israel se weermag en polisie het Donderdag gesê hulle ondersoek ’n voorval in Jenin in die besette Wesoewer waarin twee Palestyne doodgeskiet is nadat hulle hulle aan Israeliese magte oorgegee het.
Beeldmateriaal wat op Israeliese televisiestasies uitgesaai is, wys hoe Israeliese soldate die twee mans skiet nadat hulle hul hande in oorgawe lig.
Die Palestynse Owerheid het Israeliese magte daarvan beskuldig dat hulle opsetlik ’n “oorlogsmisdaad” gepleeg het ná wat hy die “wreedaardige” summiere teregstelling van die twee mans genoem het. – AFP
2025-11-27 20:23:51
Nog ’n oud-staatshoof van Peru tronk toe gestuur
’n Peruaanse hof het Donderdag die linkse oudpres. Pedro Castillo tot 11 jaar tronkstraf gevonnis. Hy is skuldig bevind aan rebellie en sameswering teen die staat nadat hy einde 2022 vergeefs probeer het om die kongres te ontbind en breë magte aan homself toe te eien.
Castillo se skuldigbevinding kom ’n dag nadat nog ’n gewese president, Martín Vizcarra, tot 14 jaar tronkstraf gevonnis is nadat hy skuldig bevind is aan die aanvaarding van omkoopgeld jare voordat hy die amp beklee het. – Reuters
2025-11-28 03:42:57
Dodetal nou 94 in Hongkong, 100de steeds vermis
Die brandweerdienste in Hongkong sê hulle verwag om soek-en-reddingsoperasies Vrydag af te handel ná ’n brand wat minstens 94 lewens geëis het.
Brandbestryders het die brand, wat die Wang Fuk Court-behuisingskompleks in die distrik van Tai Po vernietig het, meestal onder beheer gebring.
Brandweerspanne het Vrydagoggend voortgegaan om by die kompleks, wat steeds smeul, te werk.
Tot 279 mense is teen Donderdag in die vroeë oggendure steeds nie opgespoor nie, maar daardie syfer is meer as 24 uur laas opdateer. – Reuters

Die verbrande geboue van die Wang Fuk Court-behuisingskompleks Vrydag in Tai Po, Hongkong. Foto: Reuters
2025-11-28 03:50:57
Trump-administrasie bestel ‘baie meer’ bomwerpers wat in aanvalle op Iran gebruik is
Pres. Donald Trump het Donderdag aan Amerikaanse militêre dienslede gesê sy administrasie het “baie meer” B-2 Spirit Stealth-bomwerpers wat deur die maatskappy Northrop Grumman vervaardig word, bestel.
Die vliegtuie is vroeër vandeesjaar in Amerikaanse aanvalle op Iran se kernaanlegte gebruik.
“Daardie pragtige B-2-bomwerpers het die potensiële kernvoorraad van Iran totaal uitgewis,” het Trump gesê.
“Ons het net baie meer van hulle bestel en die rede waarom ons dit gedoen het, is omdat hulle totaal ongelooflik was, totaal onsigbaar.” – Reuters
2025-11-28 04:05:38
VSA hersien asiel, groen kaarte aan immigrante van 19 lande
Pres. Donald Trump het opdrag gegee vir ’n uitgebreide hersiening van asiel wat onder Joe Biden, voormalige president, se administrasie goedgekeur is en groen kaarte wat aan burgers van 19 lande uitgereik is.
Regeringsamptenare sê die Afgaanse immigrant wat daarvan verdink word dat hy twee lede van die Nasionale Garde Woensdag in Washington DC geskiet het, het Amerika in 2021 onder ’n hervestigingsprogram binnegekom.
Die Amerikaanse Burgerskap-en-immigrasiedienste het ure ná die skietery die onmiddellike en onbepaalde opskorting van alle immigrasieversoeke rakende Afgaanse burgers aangekondig. – Reuters
2025-11-28 04:16:45
Nederland koop radars vir bespeuring van hommeltuie ná ontwrigtings
Nederland het 100 vroeëwaarskuwing-radars gekoop om te help met die bespeuring van naderende hommeltuie, het die ministerie van verdediging Donderdag gesê.
Die stelsels kan hommeltuie van voëls en ander bewegende voorwerpe onderskei.
Dit volg ná waarnemings van hommeltuie vroeër vandeesmaand naby ’n lughawe en lugmagbasis in die suide van die land.
Die ministerie het nie kommentaar gelewer toe hy gevra is waar die hommeltuie vandaan kom nie.
Hommeltuie het oor die laaste paar maande beduidende ontwrigting oor Europa heen veroorsaak.
Sommige Europese amptenare het die voorvalle toegeskryf aan “hibriede oorlogvoering” deur Rusland. Rusland ontken die bewerings. – Reuters
2025-11-28 04:38:00
Dodetal styg weens vloede, grondstortings in Indonesië
Die dodetal weens vloede en grondstortings vandeesweek op die Sumatra-eiland, Indonesië, het tot minstens 84 gestyg, het reddingsamptenare Vrydag gesê.
Minstens 95 mense is beseer en tientalle mense word vermis.
Indonesië en sy buurlande Maleisië en Thailand is die laaste paar dae deur swaar reën getref wat tientalle sterftes oor die streek heen veroorsaak het. – AFP

Reddingswerkers hou Vrydag ’n tou vas in ’n poging om inwoners in Padang in Wes-Sumatra, Indonesië, te red. Foto: AFP
2025-11-28 05:02:17
Man wat pous John skiet uit dorp begelei voor pous Leo se besoek
’n Man wat pous John Paul II in 1981 geskiet het, is Donderdag uit die Turkse dorp Iznik begelei voor pous Leo se besoek daar, het die Turkse media berig.
Pous John is ernstig beseer toe Mehmet Ali Agca van Turkye in Mei 1981 verskeie skote op hom op die St. Petrusplein in die Vatikaan afgevuur het.
Hy het aan Turkse media gesê hy hoop om Leo “vir twee of drie minute” te ontmoet, maar is verwyder voor die pous se aankoms.
Hy is tot lewenslange tronkstraf vir die poging tot moord op pous John in Italië gevonnis, wat hy in Turkye uitgedien het.
Hy is in Januarie 2010 ná 29 jaar in die tronk vrygelaat. – AFP
2025-11-28 05:22:22
Jordanië vra Rusland om op te hou om sy burgers vir oorlog in Oekraïne te werf
Jordanië het Rusland gevra om op te hou om sy burgers vir sy gewapende magte te werf nadat twee lede gesterf het terwyl hulle vir Moskou geveg het.
Die ministerie van buitelandse sake van Jordanië het die werwing ’n “skending van Jordaniese en internasionale reg” genoem.
Die ministerie het ook ’n beroep op Jordaniërs gedoen “om enige pogings om hulle vir die Russiese weermag te werf, aan te meld”. – AFP
2025-11-28 05:47:30
Weermag in Sri Lanka ontplooi weens oorstromings, grondstortings
Die owerhede in Sri Lanka het Vrydag die weermag ontplooi vir verligting en reddingsoperasies namate die dodetal weens oorstromings en grondstortings tot 56 gestyg het. Altesaam 21 mense word vermis.
Helikopters, vlootbote en gepantserde voertuie word gebruik om gestrande dorpenaars in verskeie dele van die land te verwyder, het die Rampbestuursentrum (DMC) gesê, terwyl swaar reën voortduur.
Die hele eiland ervaar swaar reënval, met sommige streke wat 360 mm oor die afgelope 24 uur ervaar het, het die DMC gesê. – Reuters
2025-11-28 06:11:13
Aardbewing tref Iran, geen ongevalle aangemeld
’n Aardbewing het die sentrale dele van Iran vroeg Vrydagoggend getref, het Iran se staatstelevisie berig.
Daar was geen onmiddellike berigte van ongevalle of skade weens die aardbewing nie, wat die stad Behabad in die Jazd-provinsie getref het.
Iran is op groot seismiese breuke geleë en ervaar ongeveer een aardbewing per dag. – Reuters
2025-11-28 06:55:18
België waarsku oor EU-plan om Russiese bates vir lening aan Oekraïne te gebruik
Bart de Wever, premier van België, sê die Europese Unie (EU) se plan om bevriesde Russiese staatsbates te gebruik om Oekraïne te finansier, kan die kanse op ’n potensiële vredesooreenkoms in gevaar stel.
“Om haastig voort te gaan met die voorgestelde skema sal bykomende skade tot gevolg hê...” het De Wever gesê in ’n brief aan Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie. Reuters het die brief gesien.
EU-leiers het verlede maand probeer om op ’n plan ooreen te kom om bevriesde Russiese bates in Europa as ’n lening vir Oekraïne te gebruik. België, waar baie van die fondse gehou word, het teen die plan gestem. – Reuters
2025-11-28 07:45:18
Dodetal nou 128 weens brand in Hongkong
Die dodetal weens ’n massiewe brand Woensdag by ’n woonstelkompleks in Hongkong het tot 128 gestyg.
Vroeër is berig brandweerdienste het gesê hulle verwag om soek-en-reddingsoperasies Vrydag af te handel.
Brandbestryders het die brand, wat die Wang Fuk Court-behuisingskompleks in die distrik Tai Po vernietig het, meestal onder beheer gebring. – AFP, Reuters

’n Vrou huil Donderdag naby die Wang Fuk Court-behuisingskompleks in die distrik Tai Po in Hongkong. Foto: Getty Images
2025-11-28 07:51:09
Tunisië veroordeel EU-resolusie oor menseregte
Pres. Kais Saied van Tunisië het Vrydag ’n resolusie van die Europese parlement oor menseregte, wat vir die vrylating van sy kritici vra, as “flagrante inmenging” veroordeel.
Die resolusie, waaroor die dag tevore met ’n oorweldigende meerderheid gestem is, het gevra vir die vrylating van Sonia Dahmani, ’n prokureur en gewilde kritikus van Saied, wat Donderdag uit die tronk vrygelaat is, maar onder geregtelike toesig bly.
“Die Europese parlement (resolusie) is ’n flagrante inmenging by ons sake,” het Saied in ’n video-verklaring gesê.
“Hulle kan lesse by ons leer oor regte en vryhede.” – AFP
2025-11-28 08:00:55

’n Soedannese vlugteling van Darfoer dra haar kind in die Iridimi-vlugtelingkamp, noordwes van Iriba, in die Wadi Fira-provinsie in die oostelike dele van Tsjaad. Tienduisende mense is dood en 12 miljoen ontheem sedert ’n burgeroorlog in April 2023 tussen die weermag en die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) uitgebreek het. Foto: Reuters
2025-11-28 08:38:02
Dodetal nou 145 weens oorstromings in Thailand
Die dodetal weens oorstromings in die suide van Thailand het Vrydag tot 145 gestyg, het ’n regeringswoordvoerder gesê.
Die sterftes het in agt provinsies voorgekom.
Meer as 3,5 miljoen mense is geraak.
Groot dele van Indonesië, Maleisië en Thailand ervaar reeds ’n week lank stortreën wat lei het tot oorstromings en grondstortings. – Reuters
2025-11-28 08:49:45
Tientalle politici in Tunisië gevonnis
Tientalle Tunisiese politieke figure is op appèl tot 45 jaar gevangenisstraf gevonnis weens sameswering teen die staat, het die plaaslike media Vrydag berig.
Die verhoor is deur menseregtegroepe as polities gemotiveerd veroordeel.
Die vonnisse wissel van vyf tot 45 jaar.
Byna 40 beskuldigdes, van wie baie kritici is van Kais Saied, president van Tunisië, is in April tot 66 jaar gevonnis weens “sameswering teen staatsveiligheid” en “lidmaatskap aan ’n terroristegroep”. – AFP
2025-11-28 09:32:13
Hongkong-brand begin glo op laer verdiepings; alarms werk nie
’n Brand wat Woensdag in ’n woonstelkompleks in Hongkong uitgebreek het, het op die laer verdiepings van een van die torings begin, het die brandweerdiens in dié stad Vrydag gesê.
Skuimrubberborde en bamboes-steierwerk het tot die verspreiding van die brand bygedra.
Andy Yeung, hoof van die brandweerdiens, het vroeër gesê hulle het ontdek dat alarmstelsels in al agt blokke “nie gefunksioneer het nie”.
“Ons sal stappe doen teen die kontrakteurs wat verantwoordelik is,” het Yeung gesê.
Die dodetal staan op 128, nagenoeg 200 mense word vermis en 89 lyke is nog nie geïdentifiseer nie. – AFP
2025-11-28 09:43:28
Sirië veroordeel Israel se ‘oorlogsmisdaad’ waarin 13 omkom
Sirië het Vrydag ’n Israeliese militêre operasie in die suide van die land veroordeel waarin 13 mense glo oornag omgekom het.
“Sirië veroordeel (...) die misdadige aggressie” van die Israeliese weermag in die dorpie Beit Jinn,” het die ministerie van buitelandse sake gesê, en sulke dade is daarop gemik om “konflik in die streek te laat ontsteek”.
“Dit is ’n oorlogsmisdaad.”
Die Israeliese weermag het gesê sy soldate het onder skoot van militante groepe gekom.
Die weermag het die operasie beskryf as deel van roetine-operasies in die gebied oor die laaste paar maande. – AFP, Reuters
2025-11-28 10:21:53
Menslike wasmasjien nou in Japan beskikbaar
’n Menslike wasmasjien is nou in Japan te koop.
Gebruikers lê in die balie, maak die deksel toe en word dan skoongemaak soos klere in ’n wasmasjien, maar sonder die draaiery, en terwyl musiek speel.
’n Prototipe van die toestel, genaamd die menslike wasser van die toekoms, het lang rye gelok op 'n ekspo wat in Oktober in Osaka gehou is. – AFP
2025-11-28 10:47:16
Pelicot soek uitgewer vir ‘sy kant van die verkragting-storie’
Dominique Pelicot, die Franse man wat skuldig bevind is aan die organisering van die verkragting van sy destydse vrou, Gisèle Pelicot, deur minstens 50 vreemdelinge, soek ’n uitgewer vir geskrifte wat hy agter tralies geskryf het.
Dominique Pelicot is 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy erken het dat hy haar bedwelm het en vreemdelinge genooi het om haar in die verloop van byna ’n dekade lank te verkrag en misbruik in ’n saak wat die wêreld geskud het.
Hy wil nou sy weergawe van gebeure deel, het sy prokureur, Béatrice Zavarro, gesê.
“Hy wil gelees word... om sy kant van die storie te vertel.” – AFP

Gisèle Pelicot Foto: AFP
2025-11-28 11:11:49
Vloede, grondverskuiwings in Sumatra eis 174
Die sterftesyfer weens verwoestende vloede en grondverskuiwings op Indonesië se Sumatra-eiland het van 94 tot 174 gestyg, het die land se ramp-agentskap Vrydag aangekondig. Tientalle mense is steeds vermis nadat die natuurramp die streek getref het. – Reuters
2025-11-28 11:54:43
Roemeense verdedigingsminister bedank ná leuen oor kwalifikasies
Die Roemeense verdedigingsminister, Ionuţ Mosteanu, het Vrydag bedank nadat hy erken het dat hy op sy CV oor sy kwalifikasies gelieg het.
Die Libertatea-dagblad het inligting oor sy vervalste graadsertifikaat en universiteitsbesonderhede blootgelê.
Mosteanu sê hy wil nie hê dat besprekings oor persoonlike foute Roemenië se kernbelangrike nasionale veiligheidsmissie teen Russiese bedreigings beïnvloed nie.
Roemenië deel 'n 650 km lange grens met Oekraïne en ervaar herhaalde Russiese hommeltuig-invalle.
Ilie Bolojan, die premier, het Radu Miruta, minister van die ekonomie, as tussentydse verdedigingsminister aangestel.
Die Save Romania Union-party, waartoe beide Mosteanu en Miruta behoort en wat deel is van die regerende koalisie, sal 'n nuwe minister van verdediging benoem. – Reuters
2025-11-28 12:01:10
Poetin besoek Indië vir strategiese vennootskap besprekings
Pres. Wladimir Poetin van Rusland sal Indië op 4 en 5 Desember besoek om 'n "voordelige strategiese vennootskap" met Narendra Modi, Indiese premer, te bespreek, het die Kremlin aangekondig.
Indië is 'n groot aankoper van Russiese olie en wapens, ondanks die aankoop van $30 miljard se Amerikaanse wapens die afgelope dekade.
Rajesh Kumar Singh, minister van verdediging, het Indië se "strategiese outonomie" beklemtoon terwyl verskaffers gediversifiseer word.
Poetin se laaste besoek aan Indië was in Desember 2021, voordat die oorlog in Oekraïne begin het.
Pres. Donald Trump het onlangs druk op Modi uitgeoefen om Indië se aankoop van Russiese olie te staak.
Indië se invoer van Russiese olie het in November 'n driejaarlaagtepunt bereik.
Intussen het Poetin Vrydag aan Viktor Orban, Hongarye se premier, gesê dat hy steeds Boedapest as 'n plek vir gesprekke met Trump sou verwelkom.
Poetin en Trump het in Oktober ooreengekom om in die Hongaarse hoofstad te vergader, maar Trump het daarna die vergadering gekanselleer en gesê hy wou nie hê dit moet 'n "mors van tyd" wees nie.
Poetin en Orban het Vrydag in Moskou vergader om ru-olie en gastoevoer vir Hongarye en die vredespogings vir die Oekraïne-oorlog te bespreek. – Reuters
2025-11-28 12:21:05
Frankryk keer een van 2 gevangenes aan wat uit tronk ontsnap het
Die Franse owerhede het Vrydag een van twee gevangenes aangekeer wat uit 'n tronk in Dijon ontsnap nadat hulle Donderdag vroegoggend deur hul tronksel se tralies gesaag het.
Die een 32-jarige verhoorafwagtende word van gesinsgeweld aangekla, terwyl die tweede verhoorafwagtende (19), wat steeds op vrye voet is, van poging tot moord aangekla is.
Laurent Nunez, minister van binnelandse sake, het die polisie gelukgewens met die arrestasie van een van die gevangenes. Die tronk, wat in 1853 gebou is, huisves 311 gevangenes in ruimtes wat ontwerp is om slegs 180 mense te hou.
Dit plaas die kolllig op die krisis met oorbevolking in Franse tronke. – AFP
2025-11-28 12:33:35
Parys se Louvre-museum verhoog pryse vir internasionale toeriste om opknappings te finansier
Die Louvre-museum in Parys gaan vanaf 14 Januarie die toegangsfooi vir internasionale toeriste met 45% verhoog tot €32. Dit is opknappings aan die museum te help befonds.
Dit volg nadat daar in Oktober juweliersware ter waarde van $102 miljoen uit die museum geroof is, wat die veiligheidstekortkominge van die museum blootgelê het.
Die museum, wat die meeste in die wêreld besoek word, sal 100 eksterne kameras teen 2026 installeer.
Byna 9 miljoen mense het die museum verlede jaar besoek, van wie 'n driekwart buitelandse toeriste was.
Die verhoging in die toegangsfooi behoort 15 tot 20 miljoen euro bykomend jaarliks te genereer. Ander historiese Franse terreine sal ook hul toegangspryse verhoog. – Reuters
2025-11-28 12:51:42
Korrupsie-ondersoek tref Zelenski se regterhand
Oekraïne se teenkorrupsie-owerhede het Vrydag pres. Wolodimir Zelenski se kantoorhoof, Andrij Jermak, se huis deurgesoek te midde van ’n energiesektor-korrupsieskandaal van $100 miljoen.
Opposisiepartye eis dat Jermak, wat as Oekraïne se tweede magtigste persoon en top- VSA-onderhandelaar beskou word, moet bedank.
Die klopjag dreig om Oekraïne se onderhandelingsposisie te verswak namate Rusland militêr vorder.
Jermak het ten volle saamgewerk met ondersoekbeamptes en gesê prokureurs was teenwoordig tydens die deursoekings.
Volgens peilings vertrou tweederdes van Oekraïeners hom nie, maar hy bly Zelenski se belangrikste bondgenoot gedurende die oorlog. – AFP
2025-11-28 13:17:17
Vloede in Suidoos-Asië eis meer as 300 lewens
Meer as 300 mense is dood in die verwoestende vloede in Suidoos-Asië wat Indonesië, Thailand en Maleisië getref het, het owerhede Vrydag gesê.
Die oorstromings is weens swaar moesonreëns en tropiese storms.
Indonesië se Soematra-eiland het 174 sterftes aangemeld met byna 80 mense wat nog vermis word. Thailand het 145 sterfgevalle bevestig, met lykshuise wat hulle kapasiteit oorskry en verkoelde vraghouers benodig. Maleisië het twee sterftes aangeteken.
Owerhede sukkel om geïsoleerde gebiede te bereik waar nog slagoffers moontlik gevind kan word.
Verder waarsku kundiges dat klimaatsverandering uiterste weersomstandighede vererger. – AFP
2025-11-28 13:26:20
‘Derdewêreldlande’ se migrante in Trump se visier
Pres. Donald Trump sê dat hy migrasie van alle “Derdewêreldlande” “permanent gaan opskort” ná die aanval op lede van die Nasionale Garde naby die Withuis.
Een van die soldate, Sarah Beckstrom (20), het weens haar beserings beswyk, terwyl die ander soldaat, Andrew Wolfe (24), nog om sy lewe veg.
Rahmanullah Lakanwal (29), die beweerde aanvaller, is ’n Afgaanse immigrant wat deur oudpres. Joe Biden se 2021-hervestigingsprogram die land ingekom het.
Trump beplan om federale voordele vir alle nieburgers te beëindig, migrante wat "vreedsaamheid in die land” bedreig van hul burgerskap te ontneem en om “omgekeerde migrasie” te bevorder. – Reuters
2025-11-28 13:40:53
As die reën net wil ophou...

Mense loop Vrydag deur water op ’n oorstroomde pad ná swaar reën in Kaduwela, aan die buitewyke van Colombo, Sri-Lanka. Die land het Vrydag die weermag ontplooi om te help met hulp-en-reddingsoperasies nadat die dodetal in vloede en oorstromings oor die eiland tot 56 gestyg het, met nog 21 mense wat vermis word. Foto: AFP
2025-11-28 14:01:22
Nóg 8 in Hongkong in hegtenis oor dodelike brand
Hongkong se teenkorrupsie-waghond het Vrydag gesê agt mense is in hegtenis geneem in verband met die dodelike brand by ’n woonstelkompleks wat minstens 128 mense se lewe geëis het.
Sowat 200 mense word steeds vermis. Dit is die wêreld se dodelikste gebouebrand sedert 1980.
Die groep van sewe mans en een vrou sluit in “ingenieurskonsultante, steierkonstruksie-kontrakteurs en ’n tussenganger”, het die onafhanklike kommissie teen korrupsie gesê.
Donderdag is twee direkteure van ’n konstruksiemaatskappy wat opknappingswerk aan die woonstelgeboue gedoen het, in hegtenis geneem. – AFP

Polisielinte sper Vrydag by die Wang Fuk Court-woonstelkompleks in Hongkong af waar ’n dodelike brand minstens 128 lewens geëis het. Foto: Reuters
2025-11-28 14:18:50
Pous Leo veroordeel geweld in die naam van godsdiens
Pous Leo het Vrydag geweld in die naam van godsdiens veroordeel by ’n historiese geleentheid in Turkye met Christelike leiers uit die Midde-Ooste.
Hy het senior geestelikes van lande soos Turkye, Egipte, Sirië en Israel op sy eerste oorsese besoek as leier van die Rooms-Katolieke Kerk aangespoor om eeue van intense verdeeldheid te oorbrug en dit as ’n skande beskryf dat die wêreld se 2,6 miljard Christene nie meer verenig is nie.
“Ons moet die gebruik van godsdiens vir die regverdiging van oorlog, geweld, of enige vorm van fundamentalisme of fanatisme verwerp,” het Leo gesê. “Die weë om te volg is dié van broederlike ontmoeting, dialoog en samewerking.” – Reuters

Pous Leo (links) en patriarg Bartholomeus I van Konstantinopel nadat hulle Vrydag ’n ekumeniese gebedsdiens bygewoon het by die Bisantynse basilika van Sint Neofitos by die Iznik-meer in Turkye. Leo is op ’n vierdag-lange besoek aan Turkye. Foto: AFP
2025-11-28 15:01:37
Ons is lief vir vlieg

Die Marksmen-kunsvliegspan van Suid-Afrika tree Vrydag op by Aero Asia 2025 in Zhuhai, China. Aero Asia 2025 is ’n internasionale lugvaart-en-ruimtevaartuitstalling wat van 27 tot 30 November gehou word. Foto: AFP
2025-11-28 15:03:38
Israel sê nog 9 militante dood in Hamas-tonnels
Die Israeliese weermag het Vrydag gesê dit het die lyke van nog nege Palestynse militante gevind wat onlangs dood is in sy pogings om die tonnelnetwerk in die suidelike Gasastrook buite werking te stel.
In operasies in die ooste van Rafah het soldate “nog nege terroriste gevind wat uitgewis is in die ondergrondse terreur-infrastruktuur”, het die weermag in ’n verklaring gesê. “Tot nou is meer as 30 terroriste uitgewis wat probeer ontsnap het.”
Bronne het Donderdag aan AFP gesê onderhandelinge is aan die gang oor die lot van tientalle Hamas-stryders wat in die tonnels vasgekeer is onder gebiede wat onder Israeliese militêre beheer is. – AFP
2025-11-28 15:07:36
Macron bepleit wetgewing oor vals inligting op internet
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Vrydag gevra vir wysigings aan Franse wetgewing wat sal toelaat dat “vals inligting” aanlyn dringend geblokkeer word.
Macron en sy vrou, Brigitte Macron, word al lank geteiken deur valse aanlyn bewerings dat sy as ’n man gebore is.
Die Franse regering het die publiek ook herhaaldelik gewaarsku oor Russiese disinformasieveldtogte in Europa wat in intensiteit toegeneem het sedert Rusland Oekraïne in 2022 binnegeval het.
Macron het gesê hy het die regering gevra vir voorstelle om regsprosedures in te stel teen “vals inligting” of “inligting wat skadelik is” vir iemand se waardigheid wat op sosiale media versprei word. – AFP
2025-11-28 15:59:55
Amfibiese tog

’n Motoris ry Vrydag op ’n pad omring deur vloedwater in Kangar in die noorde van Maleisië se Perlis-deelstaat. Foto: AFP
2025-11-28 16:12:30
Zelenski se stafhoof, hoofonderhandelaar bedank ná klopjag
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne se invloedryke stafhoof, ’n noue bondgenoot van die president wat aan die hoof van Oekraïne se onderhandelingspan gestaan het, het Vrydag bedank, ure nadat ondersoekers sy huis deurgesoek het as deel van ’n groter korrupsie-ondersoek.
“Die kantoor van die president sal herorganiseer word. Die hoof van die kantoor, Andri Jermak, het sy bedanking ingedien,” het Zelenski in ’n videotoespraak aan die nasie gesê, en bygevoeg dat hy Saterdag sal konsulteer oor ’n moontlike plaasvervanger.
Volgens Zelenski het Jermak gesê hy gee sy volle samewerking aan die ondersoekers. – AFP, Reuters
2025-11-28 16:21:33
Frankryk kla 4de vermeende lid van Louvre-bende aan
Frankryk het Vrydag die vierde vermeende lid van ’n bende aangekla wat in hegtenis geneem is weens verlede maand se juweeldiefstal by die Louvre-musuem in Parys, het aanklaers gesê.
Op 19 Oktober het die bende die wêreld se mees besoekte kunsmuseum helder oordag besteel en binne net sewe minute juwele ter waarde van ’n geskatte $102 miljoen gebuit. Niks van die juwele is nog teruggevind nie.
Aanklaers het die vierde verdagte beskryf as ’n 39-jarige man van Parys met ses vorige veroordelings, onder meer weens die ontvangs van gesteelde goedere. – AFP
2025-11-28 17:02:37
Een van die gelukkiges

’n Man dra Vrydag ’n gassilinder deur water ná kitsvloede in Meureudu in Indonesië se Aceh-provinsie. Dae van oorstromings oor Suidoos-Asië heen het die lewe van meer as 300 mense in Indonesië, Thailand en Maleisië geëis. Foto: AFP
2025-11-28 17:03:49
Oekraïne, VSA vergader ‘binnekort’ oor vredesvoorstelle – Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Vrydag gesê samesprekings tussen Oekraïense en Amerikaanse amptenare oor voorstelle om die oorlog met Rusland te beëindig sal “binnekort” plaasvind.
In ’n video-toespraak aan die nasie het Zelenski gesê senior Oekraïense amptenare wat die weermag, ministerie van buitelandse sake en intelligensiedienste verteenwoordig, sal deelneem aan die samesprekings oor hoe om die konflik te beëindig. – Reuters
2025-11-28 17:04:50
Rusland dreig met algehele verbod op WhatsApp
Rusland se staatskommunikasie-waghond, Roskomnadzor, het Vrydag gesê hy sal voortgaan om die WhatsApp-boodskapdiens te beperk en dit heeltemal blokkeer indien dit nie aan Russiese wetgewing voldoen nie, het die staatsbeheerde Tass-nuusagentskap berig.
In Augustus het Rusland begin om sekere oproepe op sowel WhatsApp as Telegram te beperk en die buitelandse platforms daarvan beskuldig dat hulle weier om inligting met wetstoepassers te deel in gevalle van bedrog en terreur. – Reuters
2025-11-28 18:02:00
Welkom in Libanon, pous Leo

’n Man plaas Vrydag ’n bord langs ’n snelweg in Zoek Mosbeh in die buitewyke van Beiroet ter voorbereiding van pous Leo XIV se besoek aan Libanon. Die pous kom Saterdag in Beiroet aan. Foto: AFP
2025-11-28 18:05:39
AU skors Guinee-Bissau ná staatsgreep
Die Afrika-Unie (AU) het Guinee-Bissau geskors ná vandeesweek se staatsgreep in die Wes-Afrikaanse land, het die hoof van die AU-kommissie Vrydag aan AFP gesê.
Die AU het besluit "om Guinee-Bissau met onmiddellike ingang van sy liggame te skors", het Mahamoud Ali Youssouf gesê. – AFP
2025-11-28 18:14:08
Rusland verbied Human Rights Watch
Rusland het Vrydag Human Rights Watch (HRW) by sy lys van "ongewenste" organisasies gevoeg. Geen rede vir die besluit is gegee nie.
Sedert Rusland se inval in Oekraïne in Februarie 2022 het die land tientalle groepe verbied wat krities is oor die Kremlin se beleid of Rusland se optrede in die oorlog.
HRW, wat oortredings deur weermagte en regerings wêreldwyd ondersoek en daaroor verslag doen, het herhaaldelik die oorlog veroordeel en die Russiese weermag daarvan beskuldig dat hy ’n "reeks oortredings" gepleeg het.
Ander organisasies wat as ongewens in Rusland verklaar is, sluit in die World Wildlife Fund, Greenpeace en die Elton John vigs-stigting. – AFP
2025-11-28 19:02:00
Gegroet, makker

Oekraïense soldate dra Vrydag in ’n begrafnisseremonie in Kijif die kis van ’n makker wat onlangs in gevegte teen Russiese magte gesneuwel het. Foto: Reuters
2025-11-28 19:04:37
Nuwe oorlog teen Israel is moontlik, sê Hezbollah-leier
Die hoof van die militante Libanese groep Hezbollah het Vrydag gesê hy behou die reg voor om te reageer op Israel se sluipmoord op sy top- militêre bevelvoerder in Beiroet op 23 November.
Naim Qassem het die dood van Haitham Ali Tabtabai "flagrante aggressie en ’n afskuwelike misdaad" genoem en gesê die groep sal "die tydsberekening" vir enige vergelding vir Tabtabai se dood bepaal.
Hy het verder gesê die moontlikheid van ’n oorlog met Israel bestaan, maar so ook die moontlikheid van geen oorlog nie. Hy het bygevoeg Libanon moet ’n plan voorberei om Israel te konfronteer. – Reuters
2025-11-28 19:09:47
Airbus herroep A320-vliegtuie oor vlugbeheerstelsels
Airbus het Vrydag aangekondig hy het beveel dat ’n onmiddellike wysiging aan die sagteware van ’n "beduidende aantal" van sy topverkoper-A320-passasiersvliegtuie aangebring moet word.
Volgens bronne in die lugvaartbedryf kan dié stap sowat 6 000 vliegtuie, of meer as die helfte van die wêreldwye vloot van A320’s, raak.
Airbus het in ’n verklaring gesê ’n onlangse voorval met ’n A320 het onthul dat intense sonstraling data kan beskadig wat noodsaaklik is vir die funksionering van vlugbeheerstelsels.
"Airbus erken dat hierdie aanbevelings operasionele ontwrigting vir passasiers en kliënte sal veroorsaak," het die maatskappy gesê. – Reuters
2025-11-28 20:01:33
Kersfeesgees begin posvat

Mense besoek Vrydag die bekende Nürnberger Christkindlesmarkt in Nuremberg, Duitsland, een van die wêreld se oudste Kersmarkte. Foto: Reuters
2025-11-28 20:10:43
Oekraïne in greep van diep politieke krisis – Kremlin
Die bedanking van pres. Woldimir Zelenski se stafhoof en hoofonderhandelaar het Oekraïne in ’n diep politieke krisis gedompel, het Dmitri Peskof, die Kremlin-woordvoerder, Vrydag gesê.
"In Kijif vind gebeure plaas wat ’n diep politieke krisis weerspieël, aangebring deur korrupsie-skandale," het Peskof volgens die Tass-nuusagentskap aan joernaliste gesê. "Ek dink nie iemand hoef tans ’n antwoord te bied op die vraag oor wat dit uiteindelik sal meebring nie."
Andrij Jermak, ’n noue bondgenoot van Zelenski wat aan die hoof van Oekraïne se onderhandelingspan gestaan het, het Vrydag bedank, ure nadat teenkorrupsie-agente sy huis deurgesoek het in verband met ’n beweerde bedrogskema in die energiesektor. – Reuters
2025-11-28 20:32:00
Trump verklaar al Biden se outopen-dokumente ongeldig
Alle dokumente wat met behulp van ’n outopen onder oudpres. Joe Biden onderteken is, is ongeldig, het pres. Donald Trump Vrydag verklaar.
"Enige dokument geteken deur Sleepy Joe Biden met die Outopen, wat ongeveer 92% daarvan was, word hiermee ongeldig verklaar en het geen verdere krag of effek nie," het Trump op sosiale media gesê.
"Ek kanselleer hiermee alle Uitvoerende Bevele en enigiets anders wat nie direk deur Korrupte Joe Biden self geteken is nie, omdat die mense wat die Outopen bedryf het, dit onwettig gedoen het." – AFP
2025-11-28 20:33:18
Die (Kers)lig in hul lewe

’n Man en kind poseer Vrydag vir ’n foto by Kersliggies in Medellín, Colombia. Dié stad se Kersliggies bestaan uit 8 miljoen gloeilampe, 600 km se ligbuise en 25 000 figure. Foto: AFP















