Internasionaal

Huis van Windsor in waaksaal ná Groot K

Koning Charles III en koningin Camilla verlaat die London Clinic, waar die monarg kankerbehandeling gekry het.
Koning Charles III en koningin Camilla verlaat die London Clinic, waar die monarg kankerbehandeling gekry het.

Toe die ontslape koningin Elizabeth in 1992 gesê het die afgelope jaar is nie een waarop sy met onverdunde plesier sal terugkyk nie, het sy die Latyns vir 'n verskriklike jaar gebruik: annus horribilis.

Min mense kon nie met haar simpatiseer nie.

Haar opvolger, prins Charles, en sy jonger broer, prins Andrew, se huwelike was op die rotse en 'n vernietigende brand het 'n groot deel van haar geliefde Windsor-kasteel in puin gelê.

Toe was Andrew se reputasie nog ongeskonde; die dae van rieme en rieme voorbladberigte oor sy omstrede vriendskap met die veroordeelde seksoortreder-miljoenêr Jeffrey Epstein, aanklagte van verkragting deur Virginia Giuffre en sy klaaglike onderhoud met die BBC se ondersoekende program Panorama nog hersenskimme.

Kort voor Elizabeth se platinumjubileumvierings in 2022 is Andrew se koninklike loopbaan die doodskoot gegee.

Catherine, prinses van Wallis, het die trofee aan Carlos Alcaraz oorhandig nadat hy as oorwinnaar uit die stryd getree het op Wimbledon.           Foto's: GETTY
Catherine, prinses van Wallis, het die trofee aan Carlos Alcaraz oorhandig nadat hy as oorwinnaar uit die stryd getree het op Wimbledon. Foto's: GETTY

Hy is van al sy militêre eretitels, verpligtings as koninklike beskermheer en later ook die eretitel "sy koninklike hoogheid" gestroop.

Vir Charles moes vanjaar, sy tweede op die troon, voortgebou het op 'n triomfantelike eerste jaar, maar toe trek die noodlot hom 'n lelike streep.

Die "Groot K" het nie net aan sy voordeur kom klop nie, maar ook aan dié van sy geliefde skoondogter, Catherine. Die diagnoses het tydelik die krete van anti-monargiste gedemp, maar Charles het hom tydens sy Australiese besoek vasgeloop teen 'n parlementslid wat teen die monargie uitgevaar het.

Die ongemaklike vrae van oudkolonies en eise vir geldelike vergoeding klink al hoe luider op, maar Charles het nie die politieke mag om iets daaromtrent te doen nie. Die koninklike ore kan oproepe om geldelike vergoeding weens kolonialisme en slawerny aanhoor, maar die koning kan bloot sy "diepe spyt" daaroor uitspreek.

Charles is veel toegank­liker as enige van sy voorgangers. Hy is meer spontaan as sy ma, maak praatjies met toeriste in Londen en knoop geselsies aan met fietsryers op Balmoral.

In teenstelling met sy pa se meer moderne openhartigheid oor sy kankerdiagnose is William en sy gesin se privaatheid vir die troonopvolger ononderhandelbaar.

Selfs toe die wêreld se grootste nuusagentskappe op Moedersdag William se foto van sy gesin onttrek het weens fotomanipulasie, het hy net fermer op sy lip gebyt. Catherine het eindelik verskoning gevra vir haar ooglopende redigerings­foute. Toe sy 'n paar weke later met 'n bleek gesig in 'n videoboodskap bekend maak sy het kanker, was die Moedersdagflater vergete.

'n Kerngroep senior koninklikes met koningin Camilla en prinses Anne aan die stuur het die leemte probeer vul wat Catherine en Charles gelaat het.

Die werkesel Anne, geliefd vanweë haar aweregse humorsin, het egter ook teenspoed ondervind. Sy het in die hospitaal beland met harsingskudding nadat 'n perd haar geskop het.

Al die siektes en afwesighede het gewys die Britse monargie is net so kwesbaar soos sy Skandinawiese en Europese ampsgenote.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, vroeër vanjaar tydens 'n besoek aan die Nigeriese hoofstad, Abuja.
Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, vroeër vanjaar tydens 'n besoek aan die Nigeriese hoofstad, Abuja.

Sprake dat die verloopte "goue seun" Harry die koningshuis sou kom help tydens­ die kankerskokke, is blitsig in die kiem gesmoor. Sy en Meghan se persoonlike aanvalle op die Huis van Wind­sor het opgehou, maar hul kommersiële bedrywighede kry al hoe meer die wind van voor. Ook lóóp die bespiegeling oor die welstand van hul huwelik oor die internet.

Harry kon nie vanjaar die vredespyp met sy familie rook nie. Nie eens sy pa se kankerdiagnose kon Harry en sy gesin 'n uitnodiging na die koninklike Kersfees verseker nie.

Charles het nie tydens sy kankerbehandeling uit die openbare oog verdwyn nie. Hy het sy ma se woorde, dat 'n monarg gesien moet word om aan geglo te word, gestand gedoen.

Catherine, daarenteen, het soos 'n groot speld verdwyn. William ook. Toe Catherine ná maande se afwesigheid aantree vir die manseindstryd op Wimbledon, het die skare haar toegejuig en sy bedeesd trane uit haar oë gevee.

Camilla, wat 'n sleutelrol gespeel het om die koninklike wa te midde van al die terugslae deur te drif te trek, se gesondheid het haar ook gepootjie. Longontsteking het gekeer dat sy die belangrike plegtigheid vir Wapenstilstanddag kon bywoon, en vir die eers­te keer was die koninklikes dun ge­saai­ op die balkonne van waar die krans­leg­gings dopgehou word. Cathe­rine was die mees senior koninklike op die balkon, met die dierbare Sophie, hertogin van Edinburg, aan haar sy.

Met al die siektes was dit asof die Britse monargie grootliks vanjaar in 'n waaksaal was. Die vraag is of die monargie genoegsaam sal herstel vir die toekom?

Charles se koningskap is allermins 'n waarnemerskoningskap. As hy die stokkie laat val, is die Huis van Windsor tot niet.

Prins William ontmoet Megan Taplin, bestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, tydens sy besoek aan Kaapstad vir die Earthshot-omgewingspryse.
Prins William ontmoet Megan Taplin, bestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, tydens sy besoek aan Kaapstad vir die Earthshot-omgewingspryse.

William het met sy Kaapse draai darem 'n vars bries laat waai. Duidelik ontspanne en ongewoon openhartig oor die "pynlike" jaar wat hy agter die rug het, het hy geblom oor sy passie-projek, die Earth­shot-omgewingspryse.

Hy word ook toenemend meer as staatsman ingespan, soos om na die heropening van die Notre Dame-katedraal te reis en die aangewese Amerikaanse president, Donald Trump, te ontmoet.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM