Internasionaal

Madagaskar: Weermag neem beheer ná afsetting van president

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Betoger in Antananarivo, Madagaskar, hou Dinsdag ’n plakkaat vas wat krities is teenoor die land se afgesette president, Andry Rajoelina, en Frankryk se president, Emmanuel Macron.
’n Betoger in Antananarivo, Madagaskar, hou Dinsdag ’n plakkaat vas wat krities is teenoor die land se afgesette president, Andry Rajoelina, en Frankryk se president, Emmanuel Macron. (Foto: AFP)

’n Elite-weermageenheid van Madagaskar het Dinsdag aangekondig dat hy beheer oor die eilandnasie in die Indiese Oseaan oorgeneem het nadat die nasionale vergadering gestem het om pres. Andry Rajoelina te verwyder.

Dit volg op weke lange betogings teen die regering.

Daar was vieringe in die strate van die hoofstad, Antananarivo, nadat die bevelvoerder van die Capsat-weermageenheid, wat oor die naweek by die betogers aangesluit het, aangekondig het dat Capsat nou in beheer is.

Die presidensie het dit egter veroordeel as ’n “duidelike poging tot ’n staatsgreep” en daarop aangedring dat Rajoelina (51), wat luidens berigte in die buiteland skuil, “volledig in sy amp aanbly”.

Rajoelina het laat Maandag geweier om aan die eise van ’n protesbeweging te voldoen.

Kol. Michael Randrianirina, bevelvoerder van Capsat, het ’n verklaring by die presidensiële paleis voorgelees waarin aangekondig word dat die grondwet opgeskort word en dat die eenheid ’n bestuurskomitee sal saamstel, bestaande uit lede van die weermag, die gendarmerie en die nasionale polisie.

Randrianirina het ook ’n oorgangstydperk van twee jaar aangekondig waarna ’n nuwe verkiesing glo gehou sal word.

“Die hervormingstydperk sal ’n maksimum van twee jaar duur. In hierdie tyd sal ’n referendum gehou word om ’n nuwe grondwet daar te stel, gevolg deur ’n verkiesing,” het Randrianirina gesê.

Madagaskar se hoogste hof het Randrianirina vroeër Dinsdag uitgenooi om as die land se nuwe president te dien. Die hof sê die besluit is geneem omdat Rajoelina nie meer in staat was om sy pligte uit te voer nie en die land verlaat het.

Volgens Madagaskar se grondwet moet die hoogste hof die president se afsetting bekragtig voordat dit in werking tree.

“Ons het die mag oorgeneem,” het Randrianirina agterna aan AFP bevestig.

Maar die presidensie het die militêre optrede as ’n “duidelike poging tot ’n staatsgreep” veroordeel, wat hulle nie aanvaar nie.

“Die teenwoordigheid van gewapende militêre magte voor die presidensiële paleis is ’n duidelike poging tot ’n staatsgreep,” lui die presidensie se verklaring ná die aankondiging van bewindsoorname.

“Die president van die republiek bly volledig in sy amp en verseker die handhawing van grondwetlike orde en nasionale stabiliteit.”

Die amper daaglikse protesoptogte, gelei deur ’n jeugbeweging genaamd Gen Z, is aangewakker deur woede oor krag- en watervoorsieningskwessies.

Die protesbeweging, wat op 25 September begin het, het gegroei tot ’n beweging teen die president en die heersende elite.

Die situasie het oor die naweek versleg toe Capsat – wat ’n groot rol in die 2009-staatsgreep gespeel het wat Rajoelina die eerste keer aan die bewind gebring het – by die betogers aangesluit het, gevolg deur die gendarmerie.

LP’s het voortgegaan met die stemming om Rajoelina weens pligsversuim te verwyder, ondanks ’n presidensiële dekreet wat die ontbinding van die nasionale vergadering gelas het.

Rajoelina se afsetting is goedgekeur met 130 stemme ten gunste daarvan, ver bo die tweederdemeerderheid wat deur die grondwet vereis word.

Ná berigte dat hy die land met die hulp van Frankryk verlaat het, het Rajoelina, wat Franse burgerskap het, laat Maandag in ’n nasionale toespraak gesê hy is op ’n “veilige plek om my lewe te beskerm”.

Hy het nie sy ligging bekend gemaak nie, maar sommige berigte het aangedui dat hy moontlik na Dubai gegaan het.

Rajoelina het benadruk dat hy nie sal bedank nie en gesê hy is “op ’n sending om oplossings vir die politieke krisis te vind” en sal nie toelaat dat die arm nasie “homself vernietig” nie.

Kol. Michael Randrianirina (middel) saam met ander lede van sy elite- militêre eenheid nadat hy Dinsdag ’n verklaring voor die presidensiële paleis voorgelees het waarin hy aangekondig het dat hulle die mag in Madagaskar oorneem.
Kol. Michael Randrianirina (middel) saam met ander lede van sy elite- militêre eenheid nadat hy Dinsdag ’n verklaring voor die presidensiële paleis voorgelees het waarin hy aangekondig het dat hulle die mag in Madagaskar oorneem. (Foto: AFP)
afp en reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM