Die Verenigde Nasies (VN) eis dat Sirië se interim regering al die skuldiges verantwoordbaar hou ná dae lange dodelike gevegte in die suidelike stad Sweida waarin honderde mense na raming gesterf het.
"Die bloedvergieting en geweld moet ophou en die beskerming van alle mense moet eerste prioriteit wees," sê Volker Türk, die VN se hoof van menseregte.
Hy versoek 'n onmiddellike, onafhanklike en deursigtige ondersoek na al die oortredings sodat die skuldiges gestraf kan word.
Türk se reaksie volg nadat Siriese soldate hulle Donderdag op bevel van die land se Islamities geleide regering uit die Droese-gebied in Sweida onttrek het ná dae van gevegte wat na bewering byna 600 lewens geëis het. Gevegte tussen die Droese, Soenni-Bedoeïene, die weermag en sy bondgenote woed sedert Sondag in die streek.
Israel het ook tydens die geweld lugaanvalle op staatsmagte in Sweida uitgevoer en selfs teikens in en om Damaskus getref.

Israel waarsku dat die aanvalle sou voortgaan totdat die soldate hulle onttrek.
Die VN sê daar is betroubare berigte van grootskaalse menseregteskendings, wat teregstellings, moorde, ontvoerings, huisrooftogte en die vernietiging van eiendom insluit.
Onder die betrokke partye is lede van die veiligheidsmagte, aanhangers van die oorgangsowerheid, asook die Droese- en die Bedoeïengroep.
Die geweld het tot massiewe ontheemding gelei.
Die VN het spesifiek 'n voorval op 15 Julie uitgelig waar minstens 13 mense op 'n familiesaamtrek deur gewapende mans afgemaai is. Ses mans is op dieselfde dag in twee afsonderlike voorvalle vermoor.
"Veiligheidsmagte behoort veiligheid te bring, nie vrees en geweld aan te hits nie," sê Türk.
Hy sê die interim regering moet nou wys dat menseregte, geregtigheid en gelyke beskerming op almal van toepassing is.
















