

2025-12-01 03:52:43
VSA-gesprekke fokus nie net op einde van Oekraïne-oorlog
Amerikaanse en Oekraïense amptenare het Sondag gesprekke oor ’n vredesooreenkoms met Rusland gevoer.
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het sy optimisme uitgespreek oor vordering hiermee ondanks uitdagings om die oorlog te beëindig. Die doel van dié gesprekke was om ’n pad te skep vir Oekraïne om soewerein en onafhanklik te bly.
Volgens Rubio is daar ’n gedeelde visie dat dit nie net daaroor gaan om die oorlog te beëindig nie.
“Dit gaan daaroor om Oekraïne se toekoms te verseker.” – Reuters
2025-12-01 04:08:42
Venezuela ondersoek Amerikaanse aanvalle op bote
Venezuela gaan ’n spesiale kommissie saamstel om dodelike Amerikaanse aanvalle te ondersoek op bote wat glo met dwelms smokkel.
Amerika voer maande lank aanvalle langs die Venezolaanse kus en die oostelike Stille Oseaan uit.
“Ons gaan ’n streng en diepgaande ondersoek uitvoer,” sê Jorge Rodriguez, president van die Nasionale Vergadering.
Trump het Saterdag gesê die lugruim bo en rondom Venezuela moet “in sy geheel as gesluit” beskou word, maar het geen verdere besonderhede gegee nie.
Die Venezolaanse regering noem sy kommentaar ’n “kolonialistiese bedreiging” van die land se soewereiniteit. – Reuters
2025-12-01 04:14:49
Zelenski bedank Von der Leyen vir steun
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Sondag gesê hy het gesprekke met Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, gevoer en haar vir haar steun aan Oekraïne in sy weerstand teen Rusland se inval bedank.
“Ursula gee noukeurig aandag aan die noodsaaklikheid daarvan om ons veerkragtigheid te versterk te midde van Rusland se voortdurende aanvalle op ons infrastruktuur en die energiesektor,” sê Zelenski. – Reuters
2025-12-01 04:35:39
Duisende bring hulde aan slagoffers van Hongkong-brand
Duisende mense het Sondag opgedaag om hulde aan die slagoffers van ’n brand te bring wat verlede week in Hongkong uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand by ’n hoë woonstelgebou word steeds ondersoek, te midde van openbare woede oor onder meer bewyse van onveilige boupraktyke.
Die polisie het Sondag gesê die bevestigde dodetal het tot 146 gestyg nadat vyf van die uitgebrande torings skoongemaak is. Sommige lyke is op trappe en dakke aangetref waar inwoners probeer vlug het.
Meer as 40 mense word steeds vermis. – Reuters

Mense lê Sondag blomme neer buite die Wang Fuk-behuisingskompleks in die Tai Po-distrik in Hongkong ter nagedagtenis aan die slagoffers. Foto: AFP
2025-12-01 04:51:42
Sri Lanka-sikloon se dodetal nou meer as 200
Die dodetal weens die sikloon Ditwah in Sri Lanka het tot 212 gestyg, het amptenare Sondag gesê. Minstens 2018 mense word egter steeds vermis.
Byna 'n miljoen mense word deur swaar reën en oorstromings geraak wat sedert Donderdag deur groot dele van die eilandstaat gespoel het en byna 200 000 mense in 1 275 skuilings gedwing het.
Meer as 24 000 polisie-, weermag- en lugmaglede probeer steeds gesinne bereik wat in oorstromings gestrand is. – Reuters
2025-12-01 05:04:29
4 in Australië vas oor 'Sataniese' kindermishandelingsvideo's
Die polisie in Australië het vier mans in Sydney in verband met “sataniese” materiaal van kindermishandeling aangekla wat aanlyn sirkuleer.
Die speurders was besig om ’n “internasionale sataniese sindikaat vir kindermishandelingsmateriaal te ondersoek toe hulle die verdagtes in Sydney geïdentifiseer het", sê die staatspolisie van Nieu-Suid-Wallis.
Die materiaal is versprei en gefasiliteer deur ’n webwerf wat internasionaal geadministreer is. Die polisie het nog nie vasgestel waar dit vandaan kom nie en het ook geen kinders in die video’s geïdentifiseer nie. – AFP
2025-12-01 05:12:00
4 jong mense by partytjie in Kalifornië doodgeskiet
Vier mense, onder wie drie kinders, is Saterdag dood en 11 mense gewond in ’n skietery by ’n verjaardagpartytjie in Kalifornië.
Die oorledenes was 8, 9, 14 en 21 jaar oud.
Die owerhede beskryf dit as ’n geteikende aanval waarby moontlik verskeie gewapende mans betrokke was.
Die skietery het Saterdagaand in ’n banketsaal in Stockton, ’n stad noordoos van San Francisco, plaasgevind waar tussen 100 en 150 mense vir die viering bymekaargekom het. – AFP
2025-12-01 05:18:54
Goeie kans op ooreenkoms tussen Rusland en Oekraïne, sê Trump
Pres. Donald Trump het Sondag gesê daar is ’n “goeie kans” op ’n ooreenkoms tussen Rusland en Oekraïne ná die jongste gesprekke in Florida.
Trump waarsku egter dat die korrupsieskandaal wat Oekraïne teister, nie help nie.
“Oekraïne het ’n paar moeilike probleempies,” het Trump aan verslaggewers gesê.
“Maar ek dink daar is ’n goeie kans dat ons ’n ooreenkoms kan bereik.” – AFP
2025-12-01 06:17:48
Roofbendes ontvoer 26 mense in 2 voorvalle in Nigerië
Gewapende mans het 26 mense, insluitend ’n pastoor en ’n bruid, in twee afsonderlike voorvalle in Nigerië ontvoer.
’n Rowerbende het die pastoor saam met 11 aanbidders Sondag ontvoer nadat hulle ’n afgeleë landelike kerk in Ejiba, in die Kogi-staat, bestorm het, sê die staat se kommissaris vir inligting.
’n Bruid en 10 van haar strooimeisies tel onder die 14 mense wat Saterdagnag uit die dorpie Chacho, in die staat Sokoto, ontvoer is. – AFP
2025-12-01 07:39:52
5 dood in Tadjikistan weens ‘aanvalle uit Afganistan’
Vyf mense is dood en nog vyf beseer in twee aanvalle wat die afgelope week vanuit die naburige Afganistan uitgevoer is, het die owerhede in Tadjikistan Maandag gesê.
Tadjikistan, ’n bergagtige voormalige Sowjet-republiek van ongeveer 11 miljoen mense met ’n sekulêre regering, het gespanne betrekkinge met die Taliban-owerhede in Afganistan.
Die owerhede in Tadjikistan, wat voorheen gewaarsku het oor dwelmsmokkelaars en onwettige goudmynwerkers wat langs die afgeleë grens werk, het verlede week gesê dat drie Chinese burgers dood is in ’n hommeltuigaanval wat vanuit Afganistan uitgevoer is. – Reuters
2025-12-01 07:51:08
Trump se gunstelingkandidaat effens voor in verkiesing in Honduras
’n Konserwatiewe kandidaat wat deur pres. Donald Trump gesteun word, is die voorloper in Sondag se presidentsverkiesing in Honduras, luidens kitsuitslae van die verkiesingskommissie.
Verkiesingsbeamptes het gesê Nasry Asfura het ’n klein voorsprong op Salvador Nasralla, nog ’n regse kandidaat, met minder as die helfte van die stemme wat getel is.
Albei was ver voor die regerende linkse party se kandidaat.
Die veldtog is oorheers deur Trump se dreigement om humanitêre hulp te staak as Asfura die verkiesing verloor. – AFP
2025-12-01 08:51:12
Week kan ‘deurslaggewend’ wees vir Oekraïne, Rusland
Dié week kan deurslaggewend wees in die poging om die oorlog in Oekraïne te beëindig, het Kaja Kallas, die Europese Unie (EU) se hoof van buitelandse beleid, Maandag gesê.
Amerikaanse verteenwoordigers sal na Moskou reis ná gesprekke met Oekraïne se onderhandelaars.
“Dit kan ’n deurslaggewende week vir diplomasie wees. Ons het gister gehoor dat die gesprekke in Amerika moeilik maar produktief was. Ons weet nog nie wat die resultate is nie, maar ek sal vandag met die minister van verdediging van Oekraïne sowel as die minister van buitelandse sake van Oekraïne praat,” het Kallas gesê. – AFP
2025-12-01 08:58:47
Dodetal nou meer as 1 000 weens oorstromings, grondstortings in Asië
Die dodetal weens oorstromings en grondstortings in dele van Asië het Maandag tot meer as 1 000 gestyg.
Afsonderlike weerstelsels het verlede week stortreën na die ganse eiland van Sri Lanka, groot dele van Sumatra in Indonesië, die suide van Thailand en die noorde van Maleisië gebring.
Minstens 520 mense is in Indonesië dood en meer as 500 word vermis.
Minstens 340 mense is in Sri Lanka dood en talle word vermis.
Minstens 176 mense is in die suide van Thailand dood. – AFP

Huise gedeeltelik onder water ná swaar reënval in Kolonnawa, Sri Lanka. Foto: Getty Images
2025-12-01 09:34:25
13 nou vas weens brand in Hongkong
Die polisie in Hongkong het reeds 13 mense in hegtenis geneem weens manslag in verband met ’n noodlottige brand by ’n woonstelkompleks verlede week waarin minstens 146 mense dood is.
Chan Tung, direkteur van misdaad en sekuriteit van die Hongkongse polisiemag, het gesê hulle het “onmiddellik ’n omvattende ondersoek na manslag begin” wat tot die inhegtenisnemings gelei het.
Amptenare het ook aangekondig dat sommige van die buite-nette wat op steierwerk in die buurt gebruik word, nie aan standaarde voldoen nie. – AFP
2025-12-01 09:44:20
Bekende Britse dramaturg sterf
Die Britse dramaturg Tom Stoppard (88), wat ’n Oscar en ’n Golden Globe vir die draaiboek vir Shakespeare In Love gewen het, is oorlede, het sy agent, United Agents, Saterdag gesê.
Hy was een van Brittanje se bekendste dramaturge. Stoppard se loopbaan het oor dekades floreer.
Hy het die verhoog, skerm en radio omarm en sy strewe ten toon gestel om enige onderwerp aan te pak. – Reuters
2025-12-01 09:48:51
Dodetal nou 151 weens brand in Hongkong
Die dodetal weens ’n dodelike brand in ’n woonstelkompleks in Hongkong verlede week het tot 151 gestyg.
Vroeër Maandag is berig 146 mense is oorlede en minstens 40 mense word vermis.
“Teen 16:00 vandag staan die bevestigde dodetal op 151. Ons kan nie die moontlikheid uitsluit dat hierdie getal verder gaan styg nie,” het Tsang Shuk-yin van die polisie se ongevalle-eenheid gesê. – AFP
2025-12-01 09:55:47
Leiers van Britse magte smeer glo oorlogsmisdade toe
Leiers van die Britse spesiale magte het moontlike oorlogsmisdade in Afganistan toegesmeer, het ’n voormalige hooggeplaaste offisier aan ’n openbare ondersoek gesê.
Die offisier beweer dat twee ouddirekteure van die spesiale magte en ander versuim het om op te tree rakende kommer dat eenhede onwettige moorde gepleeg het terwyl hulle meer as ’n dekade gelede in die land bedrywig was.
Die ondersoek word gedoen na aanleiding van beskuldigings oor die spesiale magte se optrede in Afganistan tussen 2010 en 2013, insluitend die moord op vroue en kinders. – AFP
2025-12-01 10:20:31
‘Rage bait’ Oxford se frase van die jaar
Wanneer jy woedend raak terwyl jy deur sosiale media blaai, is jy dalk ’n slagoffer van “rage bait”, wat deur Oxford University Press as sy woord of frase van die jaar aangewys is.
Die term verwys na manipulerende taktieke wat gebruik word om betrokkenheid aanlyn te dryf.
“Rage bait” het oor die afgelope 12 maande verdrievoudig, volgens Oxford University Press. – BBC
2025-12-01 10:30:48
3 dood, 8 gewond in aanval op Oekraïne
Drie mense is Maandag dood en minstens agt gewond in ’n Russiese missielaanval op die stad Dnipro in Oekraïne, het Vladislaf Gaiwanenko, waarnemende goewerneur van die Dnipropetrofsk-streek, gesê.
“Die reddingsoperasie is aan die gang, met skade voorlopig aan ’n vulstasie en ’n sakeonderneming. ’n Opname is in die gebied aan die gang, en die gevolge word vasgestel,” het Gaiwanenko op Telegram gesê. – Reuters
2025-12-01 10:41:20
Poetin, Witkoff vergader Dinsdag in Moskou
Pres. Wladimir Poetin van Rusland gaan Dinsdag gesprekke met Steve Witkoff, Amerikaanse gesant, in Moskou voer.
Dit volg nadat Amerikaanse en Oekraïense amptenare Sondag gesprekke oor ’n vredesooreenkoms in Florida gevoer het.
Poetin het verlede week sy standvastige voorwaardes vir Moskou se onttrekking uit Oekraïne herhaal. Dit sluit in die oorgawe van gebiede wat Moskou as sy eie opeis, andersins sal die Russiese weermag dit met geweld oorneem. – AFP
2025-12-01 11:20:18
Skud blad, my maat...

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk verwelkom pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne by die Elysee-paleis in Parys vir samesprekings. Frankryk en ander bondgenote van Oekraïne het weer hul steun aan Zelenski, wat onder druk verkeer om in te stem tot 'n Amerikaans geleide vredesooreenkoms, herhaal. Foto: Bloomberg via Getty Images
2025-12-01 11:30:04
Starmer steun finasiële waghond
Keir Starmer, Britse premier, het Maandag gesê hy ondersteun die fiskale waghond, Office for Budget Responsibility (OBR), ten volle, en meen dit is baie belangrik vir ekonomiese stabiliteit in Brittanje.
Die OBR is ’n onafhanklike instansie wat die land se openbare finansies, begrotings en ekonomiese groei monitor. Die verskaffing van betroubare finansiële data is noodsaaklik om wanbesteding te voorkom.
Riglyne en vooruitskattings van die OBR word dikwels gebruik om beleidsbesluite te rig. Starmer het vroeër sy kommer uitgespreek oor die OBR se tydsberekening in die aanpassing van vooruitskattings, wat markte en die openbare mening oor die ekonomie kan beïnvloed.
Hy het egter Maandag gesê onafhanklike rolspelers soos die OBR is belangrik om makro-ekonomiese stabiliteit te handhaaf. – Reuters
2025-12-01 12:00:20
Brittanje onttrek weens veiligheidsrisiko’s by gasprojek
Die Britse regering het Maandag aangekondig dat hy nie meer finansiële steun aan ’n gaspyplynprojek in Mosambiek sal gee nie. Die projek, onder leiding van die Franse maatskappy TotalEnergies, is gestaak nadat Islamitiese ekstremiste in Maart 2021 die aanleg naby die Tanzaniese grens aangeval het.
Die dodelike aanval het tot ongeveer 800 sterftes gelei. Volgens Peter Kyle, Britse sakeminister, is sulke besluite nooit maklik nie, maar hy glo dat verdere finansiering nie in Brittanje se belang is nie.
Die Britse regering sou tot $1,15 miljard aan die vloeibare-aardgasprojek bydra. Die projek is een van die grootste beleggings in die land en was veronderstel om uiters belangrik te wees vir Mosambiek se ekonomiese groei. – AFP
2025-12-01 12:10:24
Spaanse leier van neonazi-groep in hegtenis geneem
Die Spaanse polisie sê drie verdagtes van ’n neo-Nazi-groep genaamd “The Base” is in hegtenis geneem. Die verdagtes, onder wie die leier van die groep, is in aanhouding in Castellon naby Valencia.
Die polisie het ook vuurwapens, ammunisie, taktiese toerusting en neo-Nazi-materiaal by die verdagtes gevind. Die groep is deur die Europese Unie (EU) as ’n terreurorganisasie geïdentifiseer.
“The Base” is in 2018 deur Rinaldo Nazzaro in Amerika gestig en bepleit geweld om demokrasieë te ondermyn. Die leier van die Spaanse groep was glo in direkte kontak met Nazzaro.
Die verwikkelinge kom te midde van ’n styging in verregse sentiment onder jong mense in Spanje en ’n debat oor die land se outoritêre verlede. – Reuters
2025-12-01 12:19:04
Kyk so ’n kleinding!

Pous Leo XIV groet Maandag gelowiges gedurende sy besoek aan die graf van sint Charbel Machloef in Annaja, Libanon. Foto: Getty Images
2025-12-01 13:03:56
Netanyahu se hofsaak verdeel Israel
Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het Maandag vir die eerste keer in maande in die hof verskyn nadat hy die president van die land, Isaac Herzog, om kwytskelding gevra het in sy langdurige korrupsieverhoor.
Die versoek word deur sy bondgenoot, pres. Donald Trump van Amerika, ondersteun. Opposisiepartye is gekant teen die versoek en meen Netanyahu moet eers uit die politiek tree en skuld beken voordat ’n kwytskelding oorweeg word. Sommige sê hy moet eerder ’n verkiesing uitroep.
Netanyahu, wat sedert 2020 weens omkopery en bedrog in die hof verskyn, ontken steeds enige wangedrag. Betogers buite die hof eis dat hy tronk toe gestuur word.
Herzog gaan die saak noukeurig oorweeg, maar het benadruk dat daar nog nie voorheen ’n kwytskelding gedurende ’n hofverhoor in Israel was nie. Die saak verdeel tans die land en sy bevolking. – Reuters
2025-12-01 13:04:54
Franse burgemeester tronk toe weens afpersing met seksvideo
’n Franse hof het Maandag die burgemeester van Saint-Etienne, Gael Perdriau, tot vier jaar tronkstraf gevonnis omdat hy ’n politieke teenstander afgepers het met ’n seksvideo.
Die video, wat Perdriau glo laat opneem het, wys sy voormalige adjunk, Gilles Artigues, saam met ’n manlike sekswerker. Artigues, ’n bekende Rooms-Katoliek en teenstander van gay-huwelike, is glo hiermee gedreig sodat hy lojaal bly.
Die hof het Perdriau skuldig bevind aan afpersing, strafregtelike sameswering en die misbruik van openbare geld. Hy mag ook vir vyf jaar geen openbare amp beklee nie. Perdriau ontken skuld en wil appelleer. Artigues sê die uitspraak gee hom nou die kans om sy lewe weer op te bou. – AFP
2025-12-01 13:05:39
Soldate in die strate...

Israeliese soldate neem deel aan ’n operasie in Ramallah in die Israelies besette Wesoewer. Foto: Reuters
2025-12-01 14:00:43
Dodetal in vloede in Indonesië styg tot meer 600
Die dodetal in die verwoestende oorstromings en grondstortings in Indonesië het tot meer as 600 gestyg volgens ’n telling wat Maandag deur die nasionale rampagentskap gepubliseer is.
Verder word 468 mense steeds vermis, terwyl meer as 578 000 ander hul huise in drie provinsies op die westelike Indonesiese eiland Soematra moes ontruim. – AFP
2025-12-01 14:01:47
Sterftes weens landmyne hoogste in 4 jaar – verslag
Sterftes en beserings weens landmyne het in 2024 sy hoogste vlak in vier jaar bereik, veral as gevolg van konflikte in Sirië en Mianmar, het ’n nuwe verslag Maandag gewys.
Meer as 6 000 voorvalle is in 2024 aangeteken, insluitend 1 945 sterftes en 4 325 beserings, die hoogste jaarlikse totaal sedert 2020, luidens die Landmyn Monitor 2025-verslag.
Byna 90% van die slagoffers was burgerlikes, met bykans die helfte van hulle vroue en kinders.
Die hoogste aantal voorvalle in 2024 – meer as 2 000 – is in Mianmar aangeteken. – Reuters
2025-12-01 14:03:56
Bliksemstraal!

’n Vliegtuig styg op terwyl weerlig Maandag die horison oor Nice in die suide van Frankryk verlig. Foto: AFP
2025-12-01 15:03:24
‘Israel se beste belang voorop in Netanyahu-kwytskelding’
Isaac Herzog, Israel se president, het Maandag gesê hy sal net dink aan wat in Israel se “beste belang” is wanneer hy Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, se versoek vir kwytskelding oor korrupsie-aanklagte oorweeg.
Die kwessie “lok duidelik debat uit en is diep ontstellend vir baie mense in die land, oor verskillende gemeenskappe heen”, het Herzog in ’n verklaring gesê.
“Ek sal slegs die beste belang van die staat Israel en die Israeliese samelewing oorweeg,” het hy bygevoeg. – AFP
2025-12-01 15:08:37
Gewigsverliesmiddels kan stryd teen vetsug help – WGO
’n Reeks gewilde gewigsverlies- en diabetesmiddels kan help om die trajek te verander van die wêreldwye vetsugepidemie, wat meer as 1 miljard mense wêreldwyd raak, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Maandag gesê.
’n Nuwe generasie eetlusonderdrukkende middels, waaronder Ozempic en Mounjaro, het die laaste paar jaar in gewildheid toegeneem.
Meer as 3,7 miljoen mense het in 2022 gesterf aan siektes wat verband hou met oorgewig of vetsug, volgens WGO-syfers – meer as malaria, tuberkulose en MIV saam.
Die organisasie raam dat die aantal mense wat met vetsug leef, teen 2030 sal verdubbel tensy beslissende stappe gedoen word om dit te stuit. – AFP
2025-12-01 15:19:04
Onderwater-Kersvader

’n Duiker in ’n Kersvader-kostuum swem Maandag saam met ’n pikkewyn in die Sunshine-akwarium in Tokio. Foto: AFP
2025-12-01 16:01:07
Bottel van Charles en Di se trou-sjampanje kan R1,5 m. haal
Een van 12 bottels sjampanje van die troue van Charles en Diana kan vandeesmaand vir tussen R1,3 miljoen en R1,5 miljoen op ’n veiling in Denemarke verkoop word.
Die magnum-bottels 1961 Dom Perignon Vintage is geskep om die Britse koninklike troue in 1981 te gedenk.
"Daar is slegs 12 magnum-bottels en dit is een van hulle," het Thomas Rosendahl Andersen, wynkenner by die Bruun Rasmussen-veilinghuis, gesê.
Die veiling vind op 11 Desember in Kopenhagen plaas. – AFP
2025-12-01 16:07:19
Hof in Bangladesj vonnis Britse LP tot 2 jaar tronkstraf
’n Hof in Bangladesj het sjeik Rehana, suster van sjeik Hasina, gewese premier van Bangladesj, Maandag tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis weens korrupsie.
Tulip Siddiq, Rehana se dogter wat ’n Britse parlementslid is, is in dieselfde saak in absentia tot twee jaar tronkstraf gevonnis, het aanklaers gesê.
Hasina en 14 ander regeringsamptenare is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
’n Spesiale tribunaal in Dhaka het Hasina verlede maand in absentia die doodstraf opgelê weens misdade teen die mensdom nadat haar regering verlede jaar studentebetogings met dodelike geweld onderdruk het. – AFP
2025-12-01 16:10:03
Nog net twee gyselaars soek

Hamas-vegters en Egiptiese werkers, vergesel deur lede van die Rooi Kruis, gebruik Maandag ’n laaigraaf om te soek na die laaste twee oorblywende lyke van gyselaars – ’n Israeliese soldaat en ’n Thaise burger – onder die puin van die Jabalia-vlugtelingkamp in die noorde van die Gasastrook. Foto: AFP
2025-12-01 17:16:26
Nazi-rooftogte: Nuwe tribunaal wil geregtigheid bring
Duitsland het Maandag ’n nuwe tribunaal begin om ’n geskil oor kulturele besittings wat deur die Nazi’s geroof is, vinniger en doeltreffender op te los.
Die Duitse regering hoop dat hierdie stap die proses vir uitstaande eise sal vergemaklik. Die nuwe paneel, genaamd die Arbitrasieraad vir Gesteelde Goedere uit die Nazi-era, sal bindende besluite neem en kan self ’n saak aanpak, sonder dat die eienaar se toestemming nodig is – iets wat voorheen alles vertraag het.
Tussen Hitler se bewindsoorname in 1933 en die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 is honderdduisende kulturele items, meestal van Joodse eienaars, geroof. Die nuwe tribunaal bied hoop dat geregtigheid vir baie van hierdie slagoffers uiteindelik bereik kan word. – AFP
2025-12-01 17:28:30
Venezuela: Trump vergader met raadgewers
Pres. Donald Trump beplan om Maandag saam met sy belangrikste raadgewers Venezuela en ander onderwerpe te bespreek, sê twee ingeligte bronne.
Die vergadering in die Oval Office in Washington sluit onder andere Marco Rubio, minister van buitelandse sake, en Pete Hegseth, minister van oorlog, in. Die vergadering kom nadat Trump die druk op Venezuela verhoog het weens beweerde dwelmsmokkelary vanuit die land.
Trump het Saterdag gesê die lugsone oor en rondom Venezuela moet as “heeltemal gesluit” beskou word, sonder verdere verduideliking. Hierdie aankondiging het onsekerheid en kommer in Caracas laat posvat. – Reuters

Amerikaanse seesoldate werk met militêre vragte by die José Aponte de la Torre-lughawe in Ceiba, Puerto Rico. Foto: Getty Images
2025-12-01 17:34:03
Pouslike groet...

Pous Leo XIV groet ’n jubelende skare terwyl sy motorstoet deur Joenieh, noord van Beiroet, ry. Foto: AFP
2025-12-01 18:07:40
Netanyahu uitgenooi na Withuis
Pres. Donald Trump het Maandag die premier van Israel uitgenooi om "binnekort" die Withuis te besoek, het sy kantoor bevestig.
“Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het vanoggend telefonies met pres. Donald Trump gepraat,” lui ’n verklaring wat deur die Withuis uitgereik is. “Trump het Netanyahu uitgenooi vir ’n vergadering in die Withuis in die nabye toekoms.”
Volgens Netanyahu se kantoor het die twee leiers die belangrikheid en noodsaaklikheid van die ontwapening van Hamas en die demilitarisasie van die Gasastrook bespreek, asook die uitbreiding van vrede in die Midde-Ooste. – AFP
2025-12-01 18:18:52
Venezolaanse LP's debatteer Dinsdag ondersoek na VSA-aanvalle
Venezuela se Nasionale Vergadering het Maandag ’n buitengewone sitting opgeskort waarin ’n debat gevoer sou word oor die vorming van ’n kommissie om Amerika se dodelike aanvalle op bote aan sy kus te ondersoek.
Amerika teiken die bemanning van bote wat daarvan verdink word dat hulle dwelmsmokkelary langs Venezuela se kus en in die oostelike Stille Oseaan bedryf.
Die sitting sal nou Dinsdag plaasvind. Geen rede is vir die uitstel daarvan bekendgemaak nie.
Amerikaanse troepe het sedert September minstens 21 aanvalle op beweerde dwelmbote in die Karibiese Eilande en Stille Oseaan uitgevoer, waartydens 83 mense dood is. Bronne sê pres. Donald Trump beplan om met sy topraadgewers oor Venezuela te vergader. – Reuters
2025-12-01 19:10:20
Brasiliaanse tiener verskeur nadat hy in leeuhok klim
’n Brasiliaanse tiener is Sondag ten aanskoue van dieretuinbesoekers deur ’n leeuwyfie verskeur nadat hy oor ’n 6 m hoë muur en veiligheidsheinings geklim en teen ’n boom tot in die hok afgeklouter het, het owerhede gesê.
Volgens die munisipale regering van die kusstad João Pessoa het die jong man, wat deur die Brasiliaanse media as Gerson de Melo Machado (19) geïdentifiseer is, "doelbewus die leeuwyfie se hok ingegaan" in die Arruda Câmara-diere- en botaniese tuin. – AFP
2025-12-01 19:14:18
12 sterf toe grondverskuiwing bote in Peru-hawe begrawe
Minstens 12 mense, onder wie drie kinders, is dood toe ’n grondverskuiwing Maandag twee bote begrawe het wat by ’n rivierhawe in Sentraal-Peru vasgemeer was. Tientalle ander mense word vermis, het amptenare gesê.
Die grondverskuiwing het twee vaartuie in die hawe van Iparia in die Amasone-reënwoudstreek verswelg, luidens ’n polisieverslag wat deur die Andina-nuusagentskap aangehaal is. – AFP
2025-12-01 19:28:29
Ma se kind

Wefa die gorilla hou Maandag haar pasgeborene vas in hul buitelughok in die Bioparc-dieretuin in Fuengirola, Spanje. Die gorilla-pienkvoet is Saterdag gebore. Dit was die tweede gorilla-geboorte in Europa in 2025. Foto: AFP
2025-12-01 20:02:04
MRI wys Trump se kardiovaskulêre gesondheid is 'uitstekend'
’n Magnetiese resonansiebeelding (MRI) wys pres. Donald Trump se kardiovaskulêre gesondheid is "uitstekend", het sy dokter Maandag gesê.
Die MRI is uitgevoer tydens ’n onverwagte hospitaalbesoek in Oktober, wat bespiegeling oor Trump se gesondheid laat ontstaan het.
"Sy kardiovaskulêre stelsel is gesond. Sy abdominale beelding is ook perfek normaal. Al die groot organe lyk baie gesond," het dr. Sean Barbabella gesê in ’n memorandum wat deur die administrasie uitgereik is.
"Alles wat geëvalueer is, funksioneer binne normale perke, met geen akute of chroniese bekommernisse nie." – AFP
2025-12-01 20:14:45
Trump-administrasie ‘baie optimisties’ oor Oekraïne-vrede
Die Trump-administrasie is "baie optimisties" dat ’n ooreenkoms bereik kan word om die oorlog in Oekraïne te beëindig, het Karoline Leavitt, die Withuis-woordvoerder, Maandag gesê met verwysing na samesprekings met Oekraïense amptenare.
"Die administrasie is baie optimisties," het Leavitt gesê. "Net gister (Sondag) ... het hulle baie goeie samesprekings met die Oekraïeners in Florida gehad." – AFP
2025-12-01 20:16:10
Onder die feniks se vlerk

’n Palestynse kind sit Maandag voor die puin van ’n huis in die stad Al-Zawaida in die sentrale Gasastrook. Foto: AFP
2025-12-02 03:07:20
VSA-admiraal had magtiging vir 2de aanval op dwelmboot
Die Withuis het ’n Amerikaanse admiraal se besluit verdedig om veelvuldige aanvalle in September op ’n beweerde Venezolaanse dwelmboot uit te voer.
Volgens die Withuis het die admiraal magtiging van Pete Hegseth, minister van verdediging, gehad selfs terwyl kritici die wettigheid van ’n aanval op oorlewendes bevraagteken het.
Met ’n tweede aanval op die boot is beveel dat twee oorlewendes van die aanvanklike aanval doodgemaak word en dat daar voldoen word aan ’n bevel deur Hegseth dat almal doodgemaak moet word. – Reuters
2025-12-02 03:09:19
Nasionale Garde-lid wat geskiet is in ernstige toestand
Die oorlewende lid van die Amerikaanse Nasionale Garde wat Woensdag naby die Withuis geskiet is, het sy duim gelig vir mediese personeel toe hy gevra is of hy hulle kon hoor.
Andrew Wolfe (24) het ook sy tone beweeg, het Patrick Morrisey, goewerneur van Wes-Virginië, Maandag gesê. Wolfe is egter steeds in ’n ernstige toestand.
“Andrew veg steeds om sy lewe,” sê Morrisey.
Sarah Beckstrom (20), die ander lid wat geskiet is, is Donderdag oorlede. – Reuters
2025-12-02 03:10:52
Begrotingsbetogings in Bulgarye duur voort

’n Betoger stoot Maandagaand ’n brandende vullisdrom in Sofia, Bulgarye, in botsings met die polisie by ’n demonstrasie teen die voorgestelde finansiële raamwerk van die land se begroting. Duisende mense in Sofia en verskeie ander stede betoog teen die begrotingsplan vir 2026. Die land wil die euro-geldeenheid op 1 Januarie aanneem. Foto: Reuters
2025-12-02 04:04:34
Muskietsiektes in Kuba eis 33 in eilandepidemie
Kuba het Maandag die dood van 33 mense in ’n epidemie bevestig wat minstens 'n derde van die bevolking raak.
Carilda Peña, adjunkminister van gesondheid, sê die mense is dood aan siektes wat deur muskiete veroorsaak word: 12 aan knokkelkoors (ook bekend as dengue) en 21 aan chikungunya, die twee virusse wat wyd oor die eilandnasie versprei.
Minstens 21 van diegene wat dood is, was jonger as 18 jaar, sê Peña.
Die datums waarop die sterftes plaasgevind het, is nie bekend gemaak nie. – Reuters
2025-12-02 04:39:08
Dodetal weens Asiese vloede nou sowat 1 200
Die dodetal weens oorstromings en grondstortings in Sumatra, Indonesië, het Dinsdag tot 631 gestyg.
'n Miljoen mense hier is na skuilings gebring, sê die land se rampagentskap.
Regeringsagentskappe en hulpgroepe haas hulle om hulp by die geraaktes te kry, terwyl reddingswerkers na 472 mense soek wat steeds vermis word.
Dit bring die dodetal in vier lande in Asië weens oorstromings en grondstortings op ongeveer 1 200 te staan. Minstens 390 mense is in Sri Lanka dood en 352 vermis, terwyl 176 reeds in die suide van Thailand dood is. Twee mense is ook in Maleisië dood. – AFP

’n Man sit Sondag bo-op ’n motor in ’n oorstroomde gebied in Sumatra, Indonesië. Foto: Getty Images/China News Service/VCG
2025-12-02 05:14:08
RSF neem dorp in suide van Soedan oor
Soedan se paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) het Maandag gesê hy het volle beheer oor Babanoesa, ’n vervoeraansluitingsdorp in die suide van die land, oorgeneem.
Die RSF sê in ’n verklaring sy “bevryding” van Babanoesa in die Wes-Kordofan-provinsie het gekom terwyl hy ’n “verrassingsaanval” deur die Soedannese weermag afgeweer het.
Die Wes-Kordofan-provinsie is die jongste gevegsfront in die burgeroorlog tussen die RSF en die weermag in Soedan.
Die RSF het ook in Oktober beheer oor die stad al-Fasjer oorgeneem wat tot honderde sterftes gelei het. – Reuters
2025-12-02 05:34:09
Duitsland oorhandig Libiese 'oorlogsmisdadiger' aan IS
’n Libiese man wat daarvan verdink word dat hy oorlogsmisdade gepleeg het, is van Duitsland na Den Haag oorgeplaas en in die bewaring van die Internasionale Strafhof (IS) geplaas.
Chaled Mohamed Ali El Hisjri was glo lid van die Spesiale Afskrikkingsmag gedurende Libië se burgeroorlog. Hy word daarvan beskuldig dat hy ’n senior amptenaar by ’n berugte gevangenis was waar gevangenes gereeld gemartel en soms seksueel mishandel is.
Die verhoor sal na verwagting volgende jaar begin. – Reuters
2025-12-02 05:51:02
Trump maan Israel oor Sirië
Pres. Donald Trump het Maandag aan Israel gesê om nie Sirië en sy nuwe leierskap te destabiliseer nie.
Dit volg dae ná ’n dodelike operasie deur Israeliese magte waarin 13 mense dood is.
“Dit is baie belangrik dat Israel ’n sterk en opregte dialoog met Sirië voer en dat niks plaasvind wat met Sirië se evolusie tot ’n voorspoedige Staat sal inmeng nie,” sê Trump op sy Truth Social-platform. – AFP
2025-12-02 06:25:18
Japan en China in konfrontasie rondom betwiste eilande
Vaartuie van Japan en China was Dinsdag by ’n nuwe konfrontasie rondom betwiste eilande betrokke.
Japan se kuswag sê twee Chinese patrollieskepe het in die vroeë oggendure Japan se gebiedswaters rondom die Senkaku-eilande in die Oos-Chinese See binnegekom en ’n paar uur later vertrek.
Nadat die patrollieskepe na ’n Japannese vissersboot gevaar het, het ’n Japannese kuswagvaartuig geëis dat hy die waters verlaat.
Die Chinese kuswag sê ’n Japannese vissersvaartuig het “onwettig China se gebiedswaters binnegekom” en die kuswag het “die nodige stappe gedoen en waarskuwings gegee om hom weg te dryf”. – AFP
2025-12-02 06:41:11
2 tieners in Frankryk vas oor beoogde antisemitiese aanval
Twee tieners, insluitend ’n Russiese burger, is in Parys in hegtenis geneem weens 'n beweerde komplot van antisemitiese geweld.
Die Rus (16), wat vier jaar gelede saam met sy ma na Frankryk verhuis het, het ’n foto op WhatsApp gestuur van homself wat ’n mes vashou en aankondig dat hy “oor vyf dae Jode gaan doodmaak”, berig die koerant Le Parisien.
Hy was in kontak met die ander verdagte (ook 16) en het na bewering gedreig om ’n plek van godsdienstige aanbidding te teiken. – AFP
2025-12-02 06:54:39
Texas ondersoek Shein oor arbeidspraktyke, produkveiligheid
Ken Paxton, hoof van justisie van Texas, het Maandag gesê hy ondersoek die Chinese aanlyn kleinhandelaar Shein, om te bepaal of die maatskappy staatswetgewing oortree het wat verband hou met onetiese arbeidspraktyke en die verkoop van onveilige verbruikersprodukte.
Paxton het gesê sy ondersoek sal daarop fokus of Shein wette oortree het deur giftige of gevaarlike materiale te gebruik, of verbruikers mislei het oor die veiligheid van die produkte.
Die ondersoek sal ook Shein se data-insameling en privaatheidspraktyke ondersoek.
Shein het nie onmiddellik op versoeke om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-12-02 07:08:27
Trump-bondgenoot onwettig as hoofaanklaer aangestel, beslis hof
’n Federale appèlhof het Maandag beslis dat Alina Habba, ’n voormalige persoonlike prokureur van pres. Donald Trump, onwettig aangestel is.
Die appèlhof het ’n laerhof se uitspraak in Augustus gehandhaaf dat die Trump-administrasie ’n federale wet oor aanstellings geskend het deur Habba as waarnemende Amerikaanse hoofaanklaer in New Jersey aan te stel.
“Dit is duidelik dat die huidige administrasie gefrustreerd is oor sommige van die regskundige en politieke hindernisse om sy aanstellings deur te voer,” het regter D. Michael Fisher in die uitspraak geskryf. – Reuters
2025-12-02 07:41:30
Suid-Amerikaanse land aanvaar Nederland se verskoning oor Afrika-slawe
Verteenwoordigers van die afstammelinge van Afrika-slawe en inheemse volkere van die Suid-Amerikaanse land Suriname het Maandag formeel ’n verskoning van die besoekende koning Willem-Alexander van Nederland aanvaar vir wydverspreide slawerny gedurende die Nederlandse koloniale bewind.
Die monarg het die verskoning reeds in 2023 aangebied, maar dit is Maandag aanvaar.
“Ons aanvaar die verskoning en die versoek om vergifnis met die volle oortuiging dat die koning, met ’n skoon gewete, wil saamwerk in genesing en herstel,” het Wilgo Ommen, verteenwoordiger van die inheemse gemeenskappe, gesê. – AFP
2025-12-02 07:50:41
Nigerië staan asiel toe aan opposisieleier van Guinee-Bissau
Nigerië het asiel toegestaan aan Fernando Dias da Costa, Guinee-Bissau se opposisieleier, wat in verlede week se verkiesing met die land se afgesette staatshoof, Umaro Sissoco Embaló, meegeding het.
Die weermag het Woensdag beheer geneem oor die regering, ’n dag voordat die voorlopige uitslae van die nasionale verkiesing bekend gemaak sou word.
Da Costa het gesê hy het Woensdag van die hoofkwartier van sy veldtog gevlug toe gewapende mans gekom het om hom in hegtenis te neem.
Hy is by die Nigeriese ambassade in Guinee-Bissau. – AFP
2025-12-02 08:16:07
Man voor skare in Afganistan tereggestel
’n Man wat aan moord skuldig bevind is, is Dinsdag voor ’n skare in ’n sportstadion in die ooste van Afganistan tereggestel, het die land se hooggeregshof gesê.
Hy is tot “vergeldende straf” gevonnis weens die moord op ’n man nadat sy saak “met presisie en herhaaldelik ondersoek” is, het die hof gesê.
“Die families van die slagoffers is amnestie en vrede aangebied, maar hulle het geweier.”
Die owerhede het mense in amptelike kennisgewings wat Maandag wyd gedeel is, aangemoedig om die teregstelling by te woon. – AFP
2025-12-02 08:35:17
Trump beweer Honduras probeer verkiesingsuitslae ‘verander’
Pres. Donald Trump het kiesbeamptes in Honduras Maandag daarvan beskuldig dat hulle “probeer om” uitslae in die presidentsverkiesing “te verander”.
Dit volg op ’n gedeeltelike digitale telling van stemme wat getoon het dat die twee voorlopers, Nasry Asfura en Salvador Nasralla, in ’n tweestryd gewikkel is waarin sake gelykop is.
Die nasionale verkiesingsraad (CNE) het vir “geduld” gevra terwyl hy die uitslae met die hand tel.
Die veldtog is oorheers deur Trump se dreigement om humanitêre hulp te staak as Asfura die verkiesing verloor. – AFP
2025-12-02 09:24:37
Tienduisende woon pous se mis in Libanon by
Tienduisende mense het Dinsdagoggend by die waterfront in Beiroet, Libanon, bymekaargekom terwyl Pous Leo XIV daar mis gehou het.
Die pous het met sy aankoms vir die diens deur die jubelende skare in sy pousmobiel beweeg terwyl mense rose aangebied het.
Die pous het voor die diens gebid by die terrein van ’n katastrofiese ontploffing by die hawe in Beiroet op 4 Augustus 2020. Meer as 200 mense is in die ontploffing dood en meer as 6 500 beseer.
Die pous het met mense hand geskud, mense geseën en gepraat met oorlewendes en familielede van die slagoffers. – AFP

Inwoners Dinsdagoggend op ’n mis deur pous Leo in Beiroet, Libanon. Foto: AFP
2025-12-02 10:07:29
Pous doen beroep op Libanon om te verenig
Pous Leo XIV het ’n beroep op Libanon se diverse gemeenskappe gedoen om te verenig om die land se talle probleme te bowe te kom.
Sowat 150 000 mense woon ’n mis deur die pous in die waterfront in Beiroet by, volgens syfers van die Vatikaan.
Die pous het by die skare gepleit om weg te doen met etniese en politieke verdeeldheid, en om jare van konflik, politieke verlamming en ekonomiese ellende te pak.
“Ons moet saamstaan sodat hierdie land na sy glorie kan terugkeer.” – Reuters
2025-12-02 10:47:00
KI verbreed gapings tussen ontwikkelde, ontwikkelende lande, sê VN
Kunsmatige Intelligensie (KI) kan die gapings tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande verbreed, luidens ’n verslag wat Dinsdag deur die Verenigde Nasies (VN) uitgereik is.
Die verslag deur die VN se Ontwikkelingsprogram (VNOP) waarsku oor moontlike “groot ongelykheid” wat tussen lande ontstaan ten opsigte van ekonomiese prestasie, mense se vaardighede en regeringstelsels.
“Ons dink dat KI ’n nuwe era van toenemende ongelykheid tussen lande inlui, ná jare van samelopende ontwikkeling oor die afgelope 50 jaar,” het Philip Schellekens, hoofekonoom van die VNOP, gesê. – Reuters
2025-12-02 11:08:14
Witkoff, Kushner in Moskou om Oekraïne-oorlog te bespreek
Steve Witkoff, Amerikaanse gesant, en Jared Kushner, skoonseun van pres. Donald Trump, het Dinsdag na Moskou gereis om met pres. Wladimir Poetin te vergader om die oorlog in Oekraïne te bespreek.
Alhoewel Trump hom beywer om die dodelikste konflik in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog te beëindig, het vroeëre onderhandelings nog nie sukses opgelewer nie. Die vredesvoorstelle wek kommer by Oekraïne en Europa omdat dit glo belangrike Russiese eise insluit, soos beheer oor groot dele van Oekraïne en beperkinge op Oekraïne se weermag.
Alhoewel Europese lande teenvoorstelle gemaak het, meen Poetin die nuutste voorstelle kan as grondslag vir toekomstige ooreenkomste dien. Europese leiers waarsku egter dat te veel toegewings aan Rusland Europa se veiligheid bedreig. – Reuters
2025-12-02 11:15:56
China kap Starmer oor ‘beskuldigings’
China het Keir Starmer, Britse premier, Dinsdag daarvan beskuldig dat hy “ongegronde beskuldigings” maak, ’n dag nadat Starmer gewaarsku het dat China ’n nasionale veiligheidsbedreiging inhou.
Ten spyte van pogings deur die Britse regering om bande met die wêreld se tweede grootste ekonomie te herstel, bly verhoudings gespanne weens beskuldigings van spioenasie en spanning oor die lot van Hongkong, ’n voormalige Britse kolonie.
Starmer het in November 2024 die eerste Britse premier in meer as ses jaar geword wat met pres. Xi Jinping, Chinese leier, vergader. Starmer het egter Maandag gesê dat China “werklike nasionale veiligheidsbedreigings inhou” en dat die Britse regering sal voortgaan om menseregtekwessies met Beijing aan te pak. – AFP
2025-12-02 11:27:07
Perfek in gelid...

Soldate marsjeer gedurende ’n parade in Vientiane, Laos, as deel van die herdenking van 50 jaar van kommunistiese bewind. Vientiane is die administratiewe, ekonomiese en kulturele hoofstad van Laos, ’n Suidoos-Asiatiese nasie wat aan Thailand en Kambodja grens. Foto: AFP
2025-12-02 12:04:43
Duitsland se ekonomie ‘in groot moeilikheid’
Duitsland beleef sy ergste ekonomiese krisis sedert ná die Tweede Wêreldoorlog, het die Duitse Nywerheidsfederasie (BDI) Dinsdag gewaarsku.
Die president van die BDI, Peter Leibinger, sê die ekonomie is in groot moeilikheid, maar die regering van bondskanselier Friedrich Merz reageer nie vinnig genoeg nie.
Duitsland, Europa se grootste ekonomie, word deur ’n reeks uitdagings in die gesig gestaar: hoë energiepryse belas fabrieke, daar is ’n swak vraag na Duitse uitvoer, China word ’n sterk mededinger, en die VSA hef nuwe tariewe.
Die land was twee jaar in ’n resessie vasgevang en daar is verwag dat groei in 2025 baie laag sou wees. Merz, wat in Mei oorgeneem het, belowe om die ekonomie met groter staatsbesteding op verdediging en infrastruktuur weer te laat groei. – AFP
2025-12-02 12:10:51
Zelenski sê Genève-dokument is 'verfyn' ná vredesgesprekke
Amerikaanse en Oekraïense onderhandelaars het ’n raamwerk-vredesooreenkoms, wat in Genève ontwikkel is, gedurende hul onlangse gesprekke verfyn, sê pres. Wolodimir Zelenski.
Hy het bygevoeg dat Oekraïne sy Europese bondgenote meer by die proses wil betrek. Oekraïne is onder druk weens ’n Amerikaans gesteunde vredespoging wat daarop gemik is om Rusland se oorlog in Oekraïne te beëindig. Zelenski se regering probeer terugdruk nadat Amerika verlede maand ’n plan aangebied het wat baie van Rusland se hoofeise onderskryf.
Oekraïense en Amerikaanse amptenare het die Amerikaanse voorstelle meer as ’n week gelede in Genève bespreek en Sondag weer in die Amerikaanse deelstaat Florida vir nuwe gesprekke vergader. “Die werk was gegrond op die Genève-dokument, en daardie dokument is verfyn,” skryf Zelenski in ’n plasing op X. – Reuters
2025-12-02 12:18:32
Duitse polisie-eenheid gaan hommeltuie beveg

Lede van ’n nuwe federale polisie-eenheid teen vyandige hommeltuie word deur Alexander Dobrindt, Duitse minister van binnelandse sake, in Ahrensfelde in Duitsland bekend gestel. Foto: Reuters
2025-12-02 13:06:02
VN bekommerd oor massas vlugtende mense in Mosambiek
Die Verenigde Nasies (VN) het Dinsdag groot kommer uitgespreek oor die toename in burgerlikes wat vlug weens geweld in die noorde van Mosambiek.
Sowat 300 000 mense is die laaste paar maande uit hul huise verdryf, grotendeels weens ’n djihadistiese opstand in die Cabo Delgado-provinsie, waar al meer as 6 200 mense gesterf het. Die geweld het ook na die naburige Nampula-provinsie versprei.
Die VN se vlugtelingagentskap (UNHCR) sê bykans 100 000 mense het net in die afgelope twee weke die gebied verlaat.
In totaal het minstens 287 000 mense die afgelope drie maande gevlug, maar die agentskap glo nog baie meer is nie amptelik geregistreer nie.
“Ons skat dat minstens 300 000 mense sedert Julie vlugtelinge geword het,” het ’n VN-verteenwoordiger gesê. – AFP
2025-12-02 13:09:39
Dodetal in Indonesië styg verder
Rampbestuursowerhede in Indonesië het Dinsdag bevestig dat minstens 708 mense op die eiland Soematra omgekom het weens vloede en grondstortings. Reddingswerkers probeer intussen om infrastruktuur te herstel en noodhulp by afgesnyde gemeenskappe te kry.
Daar is vroeër berig dat 631 mense gesterf het. Oorstromings en grondstortings het groot skade aangerig, nie net in Indonesië nie, maar ook in Maleisië en Thailand.
Maande van gure weer, insluitend verskeie tifone wat lande soos die Filippyne en Viëtnam getref het, het die natuurrampe in Suidoos-Asië vererger. – Reuters
2025-12-02 13:18:23
Uitkykpunt...

’n Non kyk van ’n balkon af terwyl mense wag vir die aankoms van pous Leo XIV by die De la Croix-hospitaal in Djal el-Dib in Libanon. Foto: AP
2025-12-02 14:01:05
Rusland gebruik vredesgesprekke om sanksies te verslap – Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Rusland Dinsdag daarvan beskuldig dat hulle gesprekke met Amerika gebruik om Westerse sanksies te probeer verslap eerder as om vrede in Oekraïne na te streef.
Zelenski het op sosiale media gesê Rusland se “ware voornemens” is om “diplomatieke pogings as ’n dekmantel te gebruik om sanksies verslap te kry”.
Steve Witkoff, Amerikaanse spesiale gesant, en Jared Kushner, skoonseun van pres. Donald Trump, vergader Dinsdag met pres. Wladimir Poetin van Rusland om die oorlog in Oekraïne te bespreek. – Reuters
2025-12-02 14:08:26
Oudpresident van Honduras vrygelaat ná Trump hom kwytskeld
’n Oudpresident van Honduras wat skuldig bevind is aan die smokkel van 400 ton kokaïen na Amerika, is uit die tronk vrygelaat nadat pres. Donald Trump hom kwytgeskeld het, het sy vrou Dinsdag gesê.
Juan Orlando Hernandez is Maandag uit ’n tronk in Wes-Virginië vrygelaat en is “weer ’n vry man”, het sy vrou op sosiale media aangekondig.
Trump se omstrede kwytskelding het gekom terwyl hy opdrag gegee het om vermeende dwelmbote in die Karibiese See aan te val.
Trump ondersteun ook ’n kandidaat van Hernandez se party in Honduras se presidentsverkiesing. – AFP
2025-12-02 14:13:37
My vrou, my vrou …

’n Emosionele Abdul Ghani (57) soek Dinsdag na sy vrou, Marsoni, wat vermis is ná onlangse dodelike kitsvloede in Palembayan in die Wes-Sumatra-provinsie in Indonesië. Rampbestuursowerhede het Dinsdag bevestig minstens 708 mense het op die eiland Sumatra omgekom as gevolg van vloede en grondstortings. Foto: Reuters
2025-12-02 15:01:18
Zelenski 'wil einde aan oorlog hê, nie net verposing in gevegte'
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne wil ’n einde aan sy land se oorlog met Rusland hê en nie net ’n “verposing” in gevegte nie, het hy Dinsdag gesê.
“ ’n Waardige vrede is nodig. Om dit werklik te laat gebeur, moet almal aan die kant van vrede wees,” het hy op ’n mediakonferensie saam met Micheál Martin, premier van Ierland, in Dublin gesê.
Hy voeg by hy is bereid om weer met pres. Donald Trump te vergader, maar dit sal afhang van hoe suksesvol die gesprekke in Rusland is.
Steve Witkoff, Amerikaanse spesiale gesant vir die Midde-Ooste, en Jared Kushner, Trump se skoonseun, vergader Dinsdag met pres. Wladimir Poetin van Rusland om die oorlog in Oekraïne te bespreek. – AFP, Reuters
2025-12-02 15:32:20
As Europa oorlog met Rusland wil hê, is ons gereed, sê Poetin
Rusland wil nie ’n oorlog met Europese magte hê nie, maar as Europa wel ’n oorlog wil hê, is dié land nou gereed om te veg, het pres. Wladimir Poetin Dinsdag gesê.
Poetin sê Europese lande stel eise oor ’n moontlike vredesooreenkoms vir Oekraïne wat Rusland as absoluut onaanvaarbaar beskou.
Europese lande het nie ’n vreedsame agenda nie, hulle is aan die kant van oorlog, voeg hy by. – Reuters
2025-12-02 15:33:55
Onafhanklike komitee gaan oorsake van Hongkong-brand ondersoek
’n Onafhanklike komitee sal die oorsake van Hongkong se dodelikste brand in dekades ondersoek, het die leier van dié stad Dinsdag aangekondig.
Die brand het verlede week sewe torings van ’n behuisingskompleks in die noorde van die stad verswelg wat besig was om opgeknap te word.
Van die 156 mense wat in die brand dood is, is 29 nog nie geïdentifiseer nie, het die polisie Dinsdag aan verslaggewers gesê. Nog 30 mense word vermis.
Volgens die polisie is 15 mense betrokke by opknappingswerk aan die geboue in hegtenis geneem. – AFP

Polisiebeamptes dra ’n lyk uit die behuisingskompleks in die noorde van Hongkong wat deur ’n brand verswelg is. Foto: Reuters
2025-12-02 16:02:27
Sterftes tydens verkiesingsonrus in Tanzanië geregverdig en nodig, sê president
Die dood van honderde betogers in onlangse verkiesingsonrus was geregverdig en dit was nodig om die omverwerping van die regering te voorkom, het pres. Samia Suluhu Hassan van Tanzanië Dinsdag gesê.
Opposisie- en menseregtegroepe sê meer as 1 000 mense is doodgeskiet in drie dae van protes oor die presidentsverkiesing van 29 Oktober, wat hulle meen bekook is.
“Die mag wat gebruik is, was in ooreenstemming met die situasie op die grond . . . Moes ons net toegekyk het hoe die betogers, wat gereed was om die regering omver te werp, slaag?” wou Hassan in ’n toespraak in Dar es Salaam weet. – AFP
2025-12-02 16:26:07
Regbank in Iran versuim sy plig oor vroue se hoofbedekkings, kla LP's
Meer as die helfte van Irannese LP's beskuldig die regbank daarvan dat hy nie die wet oor die verpligte dra van hoofbedekkings (hidjabs) by vroue behoorlik afdwing nie, het staatsmedia Dinsdag berig.
Ingevolge wetgewing wat ná die Islamitiese Revolusie van 1979 ingestel is, word alle vroue in Iran verplig om hul hare heeltemal te bedek en beskeie, lospassende klere in die openbaar te dra.
Maar in groot stede, veral Teheran, gaan baie vroue nou uit sonder hidjabs, dikwels met gekleurde hare, jeans en tekkies. “Die regbank kan nie passief bly nie,” skryf 155 van Iran se 290 LP's in ’n brief aan die hoofregter. – AFP
2025-12-02 16:27:53
‘Hou vas!'

’n Vrou hou Dinsdag aan ’n man se arm vas terwyl hulle deur ’n oorstroomde straat in Chennai, Indië, waad ná swaar reën wat veroorsaak is deur die sikloon Ditwah. Foto: Reuters
2025-12-02 17:07:05
Pous looi anti-migrant-aktiviste
Pous Leo XIV het Dinsdag anti-migrant-aktiviste gekritiseer wat “vrees” vir Islam aanwakker en gesê samewerking tussen Christene en Moslems in Libanon moet ’n voorbeeld wees vir Europa en Amerika.
Aan die einde van sy besoek aan Turkye en Libanon het Leo gesê anti-Moslem-sentiment word “dikwels aangevuur deur mense wat teen immigrasie is en probeer om mense uit te hou wat van ’n ander land, godsdiens of ras is.”
Hy sê sy besoek aan Libanon was bedoel om te wys “dat dialoog en vriendskap tussen Moslems en Christene moontlik is”. – AFP
2025-12-02 17:16:27
Andrew kry waarskynlik g’n vergoeding ná hy uit koninklike woning gesit is
Andrew, wat sy titel as prins verloor het en in onguns geraak het weens sy bande met die seksmisdadiger Jeffrey Epstein, sal waarskynlik geen vergoeding ontvang nadat hy uit sy koninklike woning gesit is nie, het Britse amptenare Dinsdag bevestig.
Koning Charles III het in Oktober aangekondig dat Andrew al sy titels kwyt is en sy woning op die Windsor-landgoed, waar hy sedert 2003 gewoon het, moet ontruim.
Luidens sy huurkontrak kon Andrew tot £488 000 (sowat R11 miljoen) kry vir die vroeë beëindiging van sy 75-jaar-huur. Die Crown Estate, wat die koninklike besittings bestuur, sê egter die toestand van die huis beteken te veel herstelwerk is nodig en Andrew het nie reg op geld nie. – AFP
2025-12-02 17:23:34
Soektog tussen ruïnes

Hamas-lede soek na die oorskot van die oorblywende Israeliese gyselaars in die Djabalia-vlugtelingkamp in die noorde van die Gasastrook.
Foto: Bloomberg via Getty Images
2025-12-02 18:10:08
Duitse konserwatiewes steun pensioenhervorming
Konserwatiewe LP’s in Duitsland het met ’n groot meerderheid ’n omstrede pensioenhervormingspakket gesteun in ’n proefstemming, wat as aanloop na die finale parlementêre stemming gedien het.
Volgens mense wat die koukusvergadering bygewoon het, verminder dié uitslag die kans op verdere verdeeldheid in Friedrich Merz, bondskanselier, se koalisie met die Sosiaal-Demokrate. Dié twee partye beskik tans oor slegs ’n brose meerderheid van 12 setels in die parlement.
“Daar was sowat 10 teenstemme en vier onthoudings,” sê ’n deelnemer, wat aandui dat byna al die 208 konserwatiewe lede die hervorming ondersteun.
Sommige lede wat teen die voorstel gestem het, sê egter hulle beplan om in die parlementêre stemming Vrydag wel daarvoor te stem ondanks hul voorbehoude.
Die pensioenhervormingspakket beteken mense sal langer moet werk voor aftrede, met minder geleenthede vir vroeë aftrede en nuwe aansporings om ná pensioenouderdom te bly werk. – Reuters
2025-12-02 18:20:56
Zelenski bang VSA verloor belangstelling in vredesproses
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne is bang Amerika verloor belangstelling in die Oekraïense vredesproses en dis presies wat Rusland hoop sal gebeur, het hy Dinsdag gesê.
“Ja, ek is bang. As een van ons bondgenote moeg is, is ek bekommerd,” het Zelenski op ’n byeenkoms in Dublin, Ierland, gesê toe hy gevra is of hy bang is dat Amerika belangstelling in die vredesproses kan verloor.
“Dis Rusland se doel om Amerika se belangstelling in dié situasie te laat afneem,” voeg hy by. – Reuters
2025-12-02 18:34:01
Welkom in Ierland

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne word deur lede van 'n Ierse militêre wag in Dublin verwelkom. Foto: Getty Images
2025-12-02 19:01:52
Sabrina Carpenter kap Withuis oor gebruik van haar musiek
Die Amerikaanse popster Sabrina Carpenter het Dinsdag geëis dat die Withuis ophou om haar musiek te gebruik. Dit kom nadat die Trump-administrasie een van haar liedjies in ’n sosialemedia-video gebruik het wat wys hoe agente van die agentskap vir immigrasie en doeane-afdwinging (Ice) mense in hegtenis neem.
Die video, wat Maandag deur die Withuis gedeel is, bevat Carpenter se 2024-trefferliedjie "Juno".
"Hierdie video is boos en afstootlik," het Carpenter op X geskryf. "Moet my of my musiek nooit betrek om jul onmenslike agenda te bevoordeel nie." – Reuters
2025-12-02 19:05:32
Fabergé-eier vir rekordbedrag van meer as R500 m. verkoop
Fabergé se Winter-eier, wat algemeen beskou word as een van die mooiste skeppings van die legendariese juwelier, is Dinsdag vir ’n rekordprys van meer as R513 miljoen op ’n veiling verkoop, het die Christie's-veilinghuis gesê.
"Die verkoopprys het die vorige wêreld-veilingrekord vir ’n Fabergé-skepping vergruis," het Christie's in ’n verklaring gesê. Dit oortref die R200 miljoen wat vir die Rothschild-eier betaal is toe Christie's dit in 2007 verkoop het met gemak. – AFP

Fabergé se Winter-eier, wat Dinsdag vir ’n rekordbedrag van meer as R500 miljoen verkoop is. Foto: AFP
2025-12-02 19:59:57
VSA het 'net begin' met aanvalle op dwelmbote – Hegseth
Amerika het "net begin" om beweerde dwelmbote te teiken, het Pete Hegseth, Amerikaanse minister van verdediging, Dinsdag gesê te midde van toenemende kritiek oor aanvalle wat volgens kritici neerkom op buite-geregtelike teregstellings.
"Ons het net begin om dwelmbote aan te val en dwelm-terroriste na die bodem van die oseaan te stuur, want hulle het die Amerikaanse volk vergiftig," het Hegseth by ’n kabinetsvergadering gesê.
Op sy beurt het pres. Donald Trump gesê enige land wat onwettige dwelms na Amerika smokkel, kan aangeval word.
"Enigiemand wat dit doen en dit in ons land verkoop, is onderhewig aan ’n aanval," het Trump aan verslaggewers by die kabinetsvergadering gesê. – AFP, Reuters

Pres. Donald Trump en Pete Hegseth, minister van oorlog, Dinsdag by ’n kabinetsvergadering in die Withuis. Foto: Reuters
2025-12-02 20:09:44
Afgaanse man pleit onskuldig in Nasionale Garde-skietvoorval
Die Afgaanse man wat daarvan beskuldig word dat hy twee lede van die Nasionale Garde naby die Withuis geskiet het, van wie een dood is, het Dinsdag onskuldig gepleit op aanklagte van moord, het die Amerikaanse media berig.
Rahmanullah Lakanwal (29), wat in die voorval op 26 November gewond is, het deur middel van ’n videoskakel uit sy hospitaalbed gepleit, het The Washington Post en ander nuuskanale berig.
Luidens die klagstaat het Lakanwal glo “Allahu akbar!” (God is groot) geskreeu toe hy skote op Sarah Beckstrom (20) en Andrew Wolfe (24) afgevuur het. Beckstrom het ’n dag ná die voorval gesterf. – AFP, Reuters
2025-12-02 20:31:48
Hommeltuie

Inwoners staan Dinsdag op die balkon van hul woonstel in ’n gebou wat laat Maandagaand in ’n Russiese hommeltuigaanval in die stad Kramatorsk in die Donetsk-streek van Oekraïne beskadig is. Foto: Reuters
2025-12-03 03:32:08
Soektog na Malaysia Air Vlug MH370 binnekort hervat
Die soektog na die vermiste Malaysia Airlines se Vlug MH370 word op 30 Desember hervat, het Maleisië se ministerie van vervoer Woensdag gesê.
Vlug MH370, ’n Boeing 777, het 227 passasiers en 12 bemanningslede aan boord gehad toe dit in 2014 op pad van Kuala Lumpur na Beijing verdwyn het.
Die mees onlangse soektog in die suide van die Indiese Oseaan in April vanjaar is weens swak weerstoestande opgeskort. – Reuters
2025-12-03 04:21:32
VSA skort immigrasie uit 19 lande op
Die Trump-administrasie het Dinsdag gesê hulle het alle immigrasieaansoeke, insluitend die verwerking van groen kaarte en Amerikaanse burgerskap, deur immigrante uit 19 nie-Europese lande opgeskort.
Dit is weens kommer oor nasionale en openbare veiligheid.
Die opskorting geld vir mense uit 19 lande wat reeds in Junie aan ’n gedeeltelike reisverbod onderwerp is. Die lys van lande sluit in Afganistan, Somalië, Tsjad, die Republiek die Kongo, Ekwatoriaal-Guinee, Eritrea, Haïti, Iran en Jemen. – Reuters
2025-12-03 04:31:57
Nog geen kompromie oor oorlog in Oekraïne, sê Rusland
Rusland en Amerika het nie ’n kompromie bereik oor ’n moontlike vredesooreenkoms om die oorlog in Oekraïne te beëindig nie.
Dit volg ná ’n vyf uur lange vergadering tussen pres. Wladimir Poetin en topgesante van pres. Donald Trump in Moskou wat tot ná middernag geduur het.
Joeri Oesjakof, Poetin se topraadgewer oor buitelandse beleid, het ná die vergadering gesê: “Kompromieë is nog nie gevind nie. Daar is nog baie werk om te doen.” – Reuters
2025-12-03 05:16:00
Een van laaste 2 oorlede gyselaars aan Israel oorhandig
Hamas het Dinsdag die oorskot van een van die laaste twee oorlede gyselaars oorhandig wat nog in die Gasa-strook is, sê die Rooi Kruis.
Die twee oorblywende oorlede gyselaars is die Israeliese polisiebeampte Ran Gvili en die Thaise burger Sudthisak Rinthalak. Albei is ontvoer tydens Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023.
Die kantoor van Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, sê in ’n verklaring die Israeliese magte in die Gasa-strook sal die oorskot vir forensiese toetse na Israel stuur. – Reuters
2025-12-03 05:29:13
Dodetal styg tot 1 300 in Asië wyl hulp vertraag is
Reddingsbeamptes in Indonesië en Sri Lanka het Woensdag nog gesukkel om die oorlewendes van die dodelike oorstromings in afgeleë en afgesnyde streke te bereik. Die dodetal in die ramp wat vier lande getref het, oorskry reeds 1 300.
Daar is toenemende frustrasie onder oorlewendes in Indonesië oor die tempo van die reddingspogings en hulpverlening. Humanitêre groepe sê ook die omvang van die uitdaging is byna ongekend.
Die dodetal in Indonesië het Woensdag tot 753 gestyg en die getal vermistes het na 650 gestyg, terwyl die dodetal in Sri Lanka minstens 465 is. – AFP

Mense loop Dinsdag deur vloedwater in die dorp Toekka, Sentraal-Tapanoeli, Noord-Sumatra-provinsie, Indonesië. Foto: AFP
2025-12-03 05:39:15
Verbod op sosiale media in Australië gaan kinders minder veilig maak, sê YouTube
YouTube het Woensdag gesê Australië se naderende verbod op sosiale media vir kinders jonger as 16, gaan kinders minder veilig maak.
Australië sal vanaf 10 Desember gebruikers onder die ouderdom van 16 van ’n reeks sosialemediaplatforms, insluitend Facebook, Instagram, TikTok en YouTube, verbied.
“Hierdie wet sal nie sy belofte nakom om kinders veiliger aanlyn te maak nie en sal trouens Australiese kinders minder veilig op YouTube maak,” sê Rachel Lord, die maatskappy se bestuurder van openbare beleid.
“Ons het van ouers en opvoeders gehoor wat hierdie bekommernisse deel.” – AFP
2025-12-03 06:04:33
Haïti kondig verkiesing vir 2026 aan
Haïti se oorgangsowerhede het Dinsdag aangekondig dat die nasie sy eerste verkiesing in byna 'n dekade sal hou.
Die eerste ronde stemme van ’n algemene verkiesing sal in Augustus gehou word.
Haïti word lank reeds deur ’n politieke en veiligheidskrisis geteister en sedert vroeg 2024, toe Ariel Henry, destydse premier, deur gewapende bendes gedwing is om te bedank, het die situasie vererger. Die bendes beheer steeds ’n groot deel van die hoofstad, Port-au-Prince.
Haïti het sedert Oktober 2016 nog nie 'n verkiesing gehou nie.
Jovenel Moïse, Haïti se laaste verkose president, is in Julie 2021 vermoor. – AFP
2025-12-03 06:05:27
Somalië stink en inwoners onwelkom, sê Trump
Pres. Donald Trump het Dinsdag teen Somaliese immigrante uitgevaar en gesê hulle is nie welkom in Amerika nie.
Trump se opmerkings kom terwyl ’n skandaal in die deelstaat Minnesota ontvou waar aanklaers sê meer as $1 miljard het na maatskaplike dienste gegaan wat nie bestaan nie, hoofsaaklik deur vals fakture deur Somaliese Amerikaners.
In Somalië “het hulle niks nie, hulle hardloop net rond en maak mekaar dood”, het Trump op die kabinetsvergadering gesê.
“Hul land is om ’n rede nie goed nie. Dit stink en ons wil hulle nie in ons land hê nie." – AFP
2025-12-03 06:36:16
Airbus moet dalk honderde A320's inspekteer
Die Europese vliegtuigvervaardiger Airbus het Dinsdag gesê tot 628 van sy gewilde A320-vliegtuie wêreldwyd moet moontlik vir ’n “gehalteprobleem” met sy metaalplaat geïnspekteer word.
Die maatskappy sê die syfer verteenwoordig die “totale getal potensiële vliegtuie wat geraak word”, maar “dit beteken nie noodwendig dat ál hierdie vliegtuie geraak word nie”.
Die getal vliegtuie wat vir kontroles geoormerk is, daal “daagliks namate inspeksies vorder om die vliegtuie te identifiseer wat ’n spesifieke taak benodig”. – AFP
2025-12-03 07:14:54
Oorskot nie dié van gestorwe gyselaars, sê Israel
Israeliese forensiese dienste het bevind dat die oorskot wat Dinsdag deur Hamas oorhandig is, nie dié van die laaste twee gestorwe gyselaars in die Gasastrook is nie, het die kantoor van die premier gesê.
Vroeër is berig Hamas het Dinsdag die oorskot van een van die laaste twee gestorwe gyselaars oorhandig wat nog in die Gasastrook is, het die Rooi Kruis gesê.
Israeliese magte het die oorskot as ’n “vonds” beskryf.
Die twee oorblywende gestorwe gyselaars is die Israeliese polisiebeampte Ran Gvili en die Thaise burger Soedthisak Rinthalak. – Reuters
2025-12-03 07:44:42
Australië verdedig verbod op sosiale media vir kinders jonger as 16
Australië se naderende verbod op die gebruik van sosiale media deur kinders jonger as 16 sal hulle beskerm teen ’n aanlyn “vagevuur” wat geskep word deur algoritmes wat skadelike inhoud aan hulle stuur, het die regering Woensdag gesê.
Australië sal vanaf 10 Desember gebruikers onder die ouderdom van 16 toegang tot ’n reeks sosialemediaplatforms, insluitend Facebook, Instagram, TikTok en YouTube, verbied.
Wanneer dit in werking tree, sal dit die eerste sodanige wetgewing ter wêreld wees.
“Met een wet kan ons Generasie Alfa daarteen beskerm om weens roofsugtige algoritmes in die vagevuur ingesuig word,” het Anika Wells, minister van kommunikasie, gesê. – AFP
2025-12-03 07:50:52
Gasastrook: Dokters Sonder Grense pleit dat lande mediese gevalle inneem
’n Amptenaar van Dokters Sonder Grense het by lande gepleit om hul deure oop te maak vir tienduisende inwoners van die Gasastrook wat dringend om mediese redes die gebied moet verlaat.
Volgens Hani Isleem, wat die verskuiwing van mediese gevalle uit die Gasastrook koördineer, het honderde mense reeds gesterf terwyl hulle gewag het.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam dat meer as 8 000 pasiënte uit die gebied geneem is sedert die oorlog op 7 Oktober 2023 begin het.
Dit sê meer as 16 500 pasiënte benodig steeds behandeling buite die Gasastrook. – AFP
2025-12-03 08:24:16
Yoon doen beroep op landsburgers: ‘Staan saam vir vryheid’
Yoon Suk-yeol, afgedankte staatshoof van Suid-Korea, het Woensdag sy ondersteuners versoek om “saam te staan vir die land se vryheid”, presies ’n jaar nadat sy kortstondige afkondiging van krygswet die land in onrus gedompel het.
“Dit is nou tyd om weer op te staan ter verdediging van die Republiek van Korea se vryheid, die oppergesag van die reg en nasionale soewereiniteit ... Hierdie land behoort aan julle, die mense,” het Yoon, wat tans in die tronk is, in ’n verklaring deur sy prokureurs gesê. – AFP
2025-12-03 08:29:28
Dodetal weens oorstromings, grondstortings in Indonesië styg tot meer as 800
Die dodetal weens verwoestende oorstromings en grondstortings oor Indonesië se Soematra-eiland heen het tot meer as 800 mense gestyg, het die land se rampagentskap Woensdag gesê.
Vroeër is berig meer as 650 mense word vermis.
Die jongste opdatering plaas die dodetal op 804, met meer as 570 000 mense in drie provinsies wat dakloos gelaat is. – AFP
2025-12-03 08:42:04
Israel open binnekort belangrike kruising vir Palestyne
Israel het Woensdag gesê dit gaan die Rafah-kruising tussen die Gasastrook en Egipte oopmaak om inwoners in staat te stel om die Gasastrook “in die komende dae” te verlaat.
“In ooreenstemming met die skietstilstand sal die Rafah-kruising in die komende dae uitsluitlik oopgemaak word vir inwoners om die Gasastrook te verlaat,” het die Israeliese ministerie van verdediging, wat toesig hou oor burgerlike sake in die Palestynse gebiede, in ’n verklaring gesê. – AFP

Palestyne wat nie na hul huise kan terugkeer nie, Sondag in tydelike tente in die Nemsawi-begraafplaas in Chan Joenis, in die Gasastrook. Foto: Getty Images/Anadolu
2025-12-03 09:16:46
Taiwan dankbaar, China woedend oor Amerikaanse riglyne oor betrekkinge
Taiwan het sy dank uitgespreek en China was Woensdag woedend nadat pres. Donald Trump wetgewing onderteken het wat vereis dat die Amerikaanse departement van buitelandse sake gereeld sy riglyne moet hersien en opdateer oor Amerikaanse betrekkinge met Taiwan.
Amerika is Taiwan se belangrikste internasionale ondersteuner ten spyte van ’n gebrek aan formele diplomatieke betrekkinge.
China beskou Taiwan, wat Demokratiese regeer word, as sy grondgebied.
Lin Jian, woordvoerder van die Chinese ministerie van buitelandse sake, sê China is sterk gekant teen enige vorm van amptelike kontak tussen Amerika en “die Taiwan-streek van China”. – Reuters
2025-12-03 09:31:01
China vaar uit teen Brittanje oor bou van ambassade
China het Woensdag gesê hy is “sterk ontevrede” met Brittanje se jongste vertraging van ’n besluit oor of Beijing toegelaat sal word om ’n nuwe ambassade in Londen te bou.
Inwoners, menseregtegroepe en ander groepe het die ontwikkeling van die kompleks teengestaan uit vrees dat dit gebruik kan word vir spioenasie en die teistering van andersdenkendes.
Die besluit word al jare lank vertraag. Lin Jian, woordvoerder van China se ministerie van buitelandse sake, sê die vertraging is “heeltemal onredelik” en die redes daarvoor “heeltemal onhoudbaar”. – AFP
2025-12-03 09:45:18
Regeringsamptenaar, polisiebeamptes in Pakistan vermoor
’n Plaaslike regeringsamptenaar en vyf polisiebeamptes is dood in twee aanvalle in Pakistan naby sy grens met Afganistan, het amptenare Woensdag gesê.
Spanning tussen die twee lande bly hoog ná weke van eskalerende botsings by die grens ten spyte van ’n skietstilstand.
Drie polisiebeamptes is Woensdag dood en twee gewond ’n ontploffing in Paniala in die Khyber Pakhtunkhwa-provinsie.
In die eerste voorval het gewapende mans Dinsdag ’n plaaslike administrateur vermoor en sy motor aan die brand gesteek in die stad Bannu.
Twee polisiebeamptes is ook dood en drie is gewond. – AFP
2025-12-03 10:18:51
Siriese owerhede lê beslag op 1 250 landmyne ‘bestem vir Hezbollah’
Die owerhede in Sirië sê hulle het ’n man doodgemaak en vier ander in hegtenis geneem wat probeer het om honderde landmyne na Hezbollah in Libanon te smokkel.
Luidens ’n verklaring deur die ministerie van buitelandse sake het die voorval tydens ’n klopjag naby die hoofstad, Damaskus, plaasgevind.
Die owerhede het beslag gelê op “1 250 landmyne met ontstekers”.
Volgens die verklaring was dit “bedoel om na Hezbollah in Libanon gesmokkel te word”. – AFP
2025-12-03 10:24:49
Rusland sal ‘soveel keer as nodig vergader’ vir oplossing vir oorlog
Rusland is gereed om soveel keer as wat nodig is met Amerika te vergader om ’n oplossing vir die oorlog in Oekraïne te vind, het die Kremlin Woensdag gesê.
Dit volg nadat onderhandelinge tussen pres. Wladimir Poetin en Amerikaanse amptenare sonder ’n deurbraak geëindig het.
“Ons is dankbaar vir die pogings van pres. Donald Trump se administrasie en ons is steeds gereed om soveel keer as nodig te vergader om ’n vredesooreenkoms te bereik,” het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, gesê. – AFP
2025-12-03 10:41:16
Keniaanse wetgewers identifiseer ‘ontstellende wangedrag’ deur Britse troepe
’n Parlementêre ondersoek in Kenia het Britse soldate wat daar oefen beskuldig van ’n patroon van seksuele wangedrag en skade aan die omgewing.
Die bevindinge van die ondersoek beklemtoon toenemende frustrasies in Kenia oor die gedrag van soldate van die Britse Leëropleidingseenheid Kenia (BATUK), teen wie daar die laaste paar jaar ’n reeks beskuldigings gemaak word.
’n Woordvoerder van Brittanje se ministerie van verdediging sê dat hulle “die uitdagings wat ontstaan het met betrekking tot ons teenwoordigheid in Kenia” diep betreur.
Brittanje is bereid om nuwe bewerings in die verslag te ondersoek sodra bewyse gelewer word. – Reuters
2025-12-03 11:23:05
Dodetal styg in Hongkong-brand
Die dodetal in Hongkong se dodelikste brand in dekades het Woensdag tot 159 gestyg. Onder die slagoffers is ’n baba en ’n 97-jarige, het die polisie bevestig, terwyl hulle voortgaan om die oorskot van mense in die uitgebrande woonstelkompleks op te spoor.
Die tragedie het verlede Woensdag plaasgevind, met slegs een van die agt woonstelblokke by die Wang Fuk-woonkompleks wat nie deur die vlamme geraak is nie.
Inwoners van hierdie woonstelblok is vir ’n kort tyd toegelaat om hul besittings te gaan haal, terwyl honderde ander mense na tydelike behuising verskuif is. Van die 159 lyke is 140 reeds geïdentifiseer, onder wie 91 vroue en 49 mans. Altesaam 21 verdagtes is intussen vir manslag in hegtenis geneem in ’n ondersoek na die oorsaak van die brand. – Reuters
2025-12-03 11:32:33
Spioenasiesaak in Brittanje misluk weens ‘stelselgebreke’
’n Parlementêre ondersoek in Brittanje het bevind dat die saak teen twee Britte wat daarvan beskuldig is dat hulle vir China gespioeneer het, misluk het as gevolg van “sistemiese tekortkominge” en nie weens ’n regeringsameswering nie.
Christopher Cash en Christopher Berry, wat tussen 2021 en 2023 glo geheime aan Beijing gelek het, ontken enige oortreding. Die saak is in September laat vaar nadat die regering nie kon bewys dat China ’n nasionale veiligheidsbedreiging inhou nie.
Die parlementêre ondersoek het bevind dat die proses vol verwarring en swak kommunikasie tussen die regering en aanklaers was. Groot onsekerheid het ontstaan toe die regering se getuie, nasionale adjunkveiligheidsadviseur Matt Collins, geweier het om China as ’n bedreiging te verklaar. Dit het daartoe gelei dat die saak nie kon voortgaan nie. – AFP
2025-12-03 11:38:21
Nie mens nie...

’n Mensagtige robot word vertoon op ’n internasionale robotuitstalling in Tokio, Japan. Die uitstalling, een van die wêreld se grootste robotuitstallings, duur tot 6 Desember. Foto: Getty Images
2025-12-03 12:16:58
Kuba se kragnetwerk stort gedeeltelik ineen
Kuba se elektrisiteitsnetwerk het vroeg Woensdagoggend gedeeltelik ineengestort. Dit het inwoners van die hoofstad, Havana, en die westelike dele van Kuba sonder krag gelaat. Volgens die plaaslike media word vier van die land se westelikste provinsies, van Pinar del Rio tot Mayabeque, geraak.
Dit is nie heeltemal duidelik wat die kragonderbreking veroorsaak het nie. Die kragtoevoer deur Kuba se verouderde olie-aangedrewe kragstasies ondervind sedert verlede jaar ’n krisis namate olie-invoer uit Venezuela, Rusland en Mexiko afneem. Die kragnetwerk het sedertdien verskeie kere, gedeeltelik of geheel en al, ineengestort.
Kuba se regering blameer brandstoftekorte, vervalle infrastruktuur en skade weens die orkaan Melissa vir die kragonderbrekings. – Reuters
2025-12-03 12:25:42
China ondersoek fabriek wat sekspoppe vervaardig wat soos kinders lyk
’n Chinese fabriek wat na bewering sekspoppe vervaardig wat soos kinders lyk en dit op groot internet-inkopieplatforms verkoop, word amptelik ondersoek.
Die aanlyn nuusagentskap The Paper berig dat verskeie fabrieke in die suide van die Guangdong-provinsie sekspoppe vervaardig wat soos kinders lyk. Die poppe – insluitend sommige wat ontwerp is om “swanger” te lyk – word op Chinese e-handelsplatforms verkoop, berig die nuusagentskap.
’n Span ondersoekers het ’n fabriek wat na bewering die poppe vervaardig, beveel om “produksie onmiddellik op te skort”.
Openbare verontwaardiging het verlede maand uitgebreek nadat Franse owerhede die wêreldwye e-handelsreus Shein daarvan beskuldig het dat hy sekspoppe verkoop wat soos kinders lyk.
Shein het die verkope van sekspoppe op sy webwerwe verbied nadat Frankryk gedreig het om die maatskappy te verbied. – AFP
2025-12-03 12:32:45
Macron besoek China

’n Vliegtuig met pres. Emmanuel Macron van Frankryk aan boord land Woensdag by die Capital- internasionale lughawe in Beijing. Macron sal na verwagting met sy besoek druk op sy Chinese ampsgenoot, pres. Xi Jinping, plaas om te help om ’n skietstilstand in Oekraïne te verseker en handelsbetrekkinge bespreek. Foto: AFP
2025-12-03 13:01:50
Somaliërs reageer op Trump se beledigings
Somaliërs het Woensdag hewig gereageer op pres. Donald Trump se neerhalende uitsprake oor hulle en hul land. Trump het Dinsdag op ’n kabinetsvergadering Somaliërs as “gemors” beskryf en gesê “ons wil hulle nie in ons land hê nie”.
“Die wêreld moet reageer,” sê Abdisalan Omar, ’n Somaliese gemeenskapsleier. “Presidente wat só praat, kan nie Amerika of die wêreld dien nie.” Ander Somaliërs meen egter Trump het die waarheid beet. “Hy vertel die waarheid op ’n onaangename manier,” meen Samira Abdoellahi van Mogadisjoe.
Trump se retoriek teen Somaliërs volg ná verlede week se aanval op Nasionale Garde-troepe in Washington. Hamza Abdi Barre, Somaliese premier, het aangedui dit is beter om Trump se woorde te ignoreer. “Hy het al baie lande beledig.” – Reuters
2025-12-03 13:03:05
Duitse president begin eerste staatsbesoek aan Brittanje in 27 jaar
Frank-Walter Steinmeier, Duitse president, het Woensdag in Londen aangekom vir die eerste amptelike staatsbesoek deur ’n Duitse staatshoof in 27 jaar.
Die driedaagse besoek sluit ’n staatsbanket by die Windsor-kasteel en ’n toespraak voor die Britse parlement in. Steinmeier se besoek onderstreep die hernude bande tussen Berlyn en Londen ná jare van onmin ná Brexit, veral weens hul samewerking oor veiligheid en ondersteuning aan Oekraïne.
Steinmeier besoek Brittanje ná koning Charles III se besoek aan Duitsland in 2023. Hy vergader ook Woensdag met Keir Starmer, Britse premier, oor die oorlog in Oekraïne. Die besoek dui volgens Steinmeier se kantoor op ’n “nuwe era in betrekkinge” tussen die lande. – AFP

Pres. Frank-Walter Steinmeier van Duitsland en Brittanje se koning Charles III inspekteer ’n erewag tydens ’n seremoniële verwelkoming by die Windsor-kasteel in Windsor, Brittanje. Foto: AFP
2025-12-03 13:16:25
Kerskoors vat ook pos in Londen...

Keir Starmer, Britse premier, loop Woensdag verby ’n Kersboom buite Downingstraat 10 in Londen, Brittanje. Foto: Reuters
2025-12-03 14:01:42
Kroasië kla pa en seun aan oor 1,3 miljoen vervalste Covid-toetse
’n Voormalige Kroatiese parlementslid en sy seun is aangekla van die vervaardiging van meer as ’n miljoen vervalste Covid-19-toetse en die verkoop daarvan in verskeie Europese lande tydens die pandemie, het aanklaers Woensdag gesê.
Die twee mans, onderskeidelik 66 en 26 jaar oud, word daarvan beskuldig dat hulle die produksie van meer as 1,3 miljoen vervalste toetse by ’n fabriek in Istanboel tussen Augustus 2022 en Mei 2023 gereël het, het aanklaers in ’n verklaring gesê.
Die twee se maatskappy, wat ook egte Covid-19-toetse van China ingevoer het, het glo die vervalste toetse aan maatskappye en instansies in Kroasië, Oostenryk, Duitsland, Griekeland, Roemenië en Spanje verkoop. – AFP
2025-12-03 14:04:33
Meer as 200 000 asemhalingsiekte-gevalle in Dehli weens besoedeling
Nieu-Delhi het tussen 2022 en 2024 meer as 200 000 gevalle van akute asemhalingsiektes by ses staatsbeheerde hospitale aangeteken, wys regeringsyfers.
Nieu-Delhi met sy 30 miljoen inwoners word gereeld as een van die wêreld se mees besoedelde hoofstede gelys.
Indië se gesondheidsministerie het Dinsdag aan die parlement gesê lugbesoedeling is een van die snellerfaktore vir asemhalingsiektes.
Meer as 30 000 mense met asemhalingsiektes is oor ’n tydperk van drie jaar gehospitaliseer. – AFP

’n Man bid Woensdagoggend langs ’n pad in in Nieu-Delhi terwyl duiwe verbyvlieg. Foto: AFP
2025-12-03 15:01:43
EU wil Oekraïne finansier om só te help met vredesonderhandelinge
Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het Woensdag ’n plan voorgelê om Oekraïne met $105 miljard (byna R1 800 miljard) oor twee jaar te finansier om dié land toe te laat om “vredesonderhandelinge vanuit ’n posisie van mag te lei”.
“Vandag stel ons voor om tweederdes van Oekraïne se finansieringsbehoeftes vir die volgende twee jaar te dek,” het sy gesê.
Die lening sal óf deur Europese Unie-lenings gefinansier word óf deur gebruik te maak van Russiese bates wat in die blok bevries is, die opsie wat deur die Europese Kommissie verkies word, maar sterk teengestaan word deur België. – AFP
2025-12-03 15:08:56
Rusland in geen onderhandelingsmodus oor Oekraïne, meen Duitsland
Duitsland het Woensdag twyfel uitgespreek oor of Rusland ’n onderhandelde oplossing vir die Oekraïne-oorlog wil hê nadat pres. Donald Trump se gesante die Kremlin verlaat het sonder enige deurbraak oor ’n vredesooreenkoms.
“Ons verwelkom alle gesprekke wat daarop gemik is om Rusland se oorlog van aggressie in Oekraïne te beëindig. Ons sien egter tans geen tekens dat Rusland na onderhandelingsmodus oorgaan nie,” skryf die Duitse departement van buitelandse sake op X. – AFP
2025-12-03 15:22:19
Tekens van ’n ramp

’n Modderige pop lê Woensdag op die grond in ’n gebied wat deur dodelike grondstortings getref is ná swaar reën in Malalak in Indonesië se Wes-Sumatra-provinsie. Die dodetal van die oorstromings en grondstortings op die Sumatra-eiland staan op 804, met meer as 650 mense wat steeds vermis word, het die land se rampagentskap Woensdag gesê. Foto: Reuters
2025-12-03 16:02:59
Meeste in Australië, Japan en Indië meen Trump is sleg vir hul land
Die meeste Australiërs, Japanners en Indiërs glo dat pres. Donald Trump se tweede termyn sleg is vir hul land, wys ’n peiling wat Donderdag bekend gemaak is.
Die peiling wat in Augustus deur die Sentrum vir Amerikaanse Studies van die Universiteit van Sydney gedoen is, het bevind dat 56% van Australiërs, 54% van Indiërs en 59% van Japanners meen Trump se presidentskap is sleg vir hul land. – Reuters
2025-12-03 16:05:09
Washington-skietvoorval niks met Afganistan en sy mense te doen, sê Taliban
Die Nasionale Garde-skietvoorval in Washington waarvan ’n Afgaanse immigrant aangekla is, het niks met Afganistan se mense of sy regering te doen nie, het Amir Khan Moettaki, Afganistan se Taliban-minister van buitelandse sake, Woensdag gesê.
Moettaki se opmerkings is die eerste oor die voorval deur die Afgaanse Taliban-regering en kom ’n week nadat Rahmanullah Lakanwal na bewering een Nasionale Garde-lid doodgeskiet en ’n ander een ernstig gewond het. “Dis ’n individuele strafregtelike daad en die persoon wat daarvoor verantwoordelik is, is self deur die Amerikaners opgelei.” – Reuters
2025-12-03 16:07:06
Kersfees in Gasa

’n Palestynse meisie versier Donderdag ’n Kersboom by die Heilige Familie Rooms-Katolieke kerk in die stad Gasa. Foto: AFP
2025-12-03 17:06:31
Halfmiljoen nuwe satelliete kan dié navorsing bedreig, maan sterrekundiges
Die lig van tot 560 000 satelliete wat in die volgende dekade in wentelbane om die aarde kan bykom, sal na verwagting byna elke beeld besoedel wat deur ruimteteleskope geneem word, waarsku sterrekundiges van Nasa.
Baie van dié satelliete is deel van Elon Musk se Starlink-netwerk – wat reeds sowat 75% van nuwe satelliete uitmaak.
Die sterrekundiges sê weerspieëlings van al dié satelliete kan 96% van foto’s van ruimteteleskope soos Nasa se SPHEREx, ESA se Arrakihs en China se Xuntian beïnvloed, terwyl tot ’n derde van Hubble se beelde bederf kan word. Die ligbesoedeling maak dit ook veel moeiliker om belangrike ruimtevoorwerpe, soos asteroïede, te onderskei van satelliete.
Wetenskaplikes reken die enigste oplossing is om minder satelliete te lanseer, maar die mededinging om satelliet-internet, aangevuur deur rolspelers soos Musk, maak dit onwaarskynlik. – AFP

Elon Musk tydens die inhuldiging van pres. Donald Trump in Januarie. Baie satelliete is deel van Musk se Starlink-netwerk – wat reeds sowat 75% van nuwe satelliete uitmaak. Foto: AFP
2025-12-03 17:14:27
Bemanning vrygelaat ná Hoethi-aanval op vragskip
Die bemanning van die vragskip Eternity C, wat deur ’n Griekse maatskappy bedryf is totdat dit in Julie ná herhaalde aanvalle deur Jemen se Hoethi-rebelle in die Rooisee gesink het, is Woensdag vrygelaat.
Volgens die skip se operateur en maritieme veiligheidsbronne het bemanningslede die skip, wat onder ’n Liberiese vlag gevaar het, betyds verlaat voordat dit gesink het ná ’n aanval met 'n krygshommeltuig.
Van die bemanning is uit die see gered, maar ’n groep is wel later deur die Hoethi’s gevange geneem. Luidens berigte is hulle nou uiteindelik vrygelaat. – Reuters
2025-12-03 17:26:53
Kunstige kwessies

’n Besoeker kyk na ’n video-installasie by die Duitse kunstenaar Hito Steyerl se uitstalling Die eiland in Milaan, Italië. Die kunsuitstalling belig kwessies soos die huidige opkoms van outoritêre bewegings, aangevuur deur kunsmatige intelligensie, asook die klimaatkrisis en toenemende politieke druk op die wetenskap. Foto: Getty Images
2025-12-03 17:59:25
Duitse president ontvang koninklike verwelkoming in Brittanje
Pres. Frank-Walter Steinmeier van Duitsland is Woensdag met groot plegtigheid in Brittanje verwelkom vir sy historiese staatsbesoek – die eerste deur ’n Duitse staatshoof in 27 jaar.
Op die eerste dag van sy driedaagse besoek het Steinmeier saam met koning Charles III in ’n koets gery voordat hulle ’n Britse erewag geïnspekteer het by die Windsor-kasteel, wes van Londen. Steinmeier is later vereer met ’n kanonsaluut by die kasteel, waar hy middagete geniet het en na Duitse items uit die Koninklike Versameling gekyk het.
Later het Steinmeier met Keir Starmer, Britse premier, by Downingstraat vergader. – AFP

Pres. Frank-Walter Steinmeier van Duitsland ry in ’n koets tydens ’n seremoniële verwelkoming by die Windsor-kasteel in Windsor, Brittanje. Foto: AFP
2025-12-03 18:16:13
Klaas Vakie besoek Trump glo op kabinetsvergadering
Pres. Donald Trump (79), wat sy voorganger gereeld as “Slaperige Joe” Biden bespot, het self die aandag op sy gesondheid gevestig toe hy Dinsdag op ’n kabinetsvergadering gesien is met geslote oë – soms verskeie sekondes lank – terwyl kabinetslede sy leierskap prys.
Trump, wat in Junie 80 word, het egter gesê hy voel intellektueel skerper as ooit.
Die Withuis het Woensdag bespiegeling verwerp oor Trump se gesondheid. Dit volg op skeptisisme ná berigte dat Trump minder gereeld openbare optredes bywoon. Sy dokter hou egter vol sy kardiovaskulêre gesondheid is “uitstekend”. – AFP

Pres. Donald Trump dut so ’n bietjie op ’n kabinetsvergadering. Foto: AFP
2025-12-03 18:24:52
Immigrasieoptrede in New Orleans

’n Man word in New Orleans, in die deelstaat Louisiana, deur ’n lid van die Amerikaanse doeane- en grenspatrollie (CBP) in hegtenis geneem. Die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid het Woensdag bekend gemaak dat hy “Operasie Catahoula Crunch”, ’n federale immigrasie-afdwingingsoperasie gemik op die streek, van stapel gestuur het. Foto: AFP
2025-12-03 19:00:50
Rusland blokkeer speletjieplatform Roblox oor inhoud
Rusland het toegang tot die Amerikaanse aanlyn speletjieplatform Roblox geblokkeer en Roblox daarvan beskuldig dat hy ekstremistiese materiaal versprei en “LGBTQ-propaganda” bevorder, het die staatsmedia Woensdag berig.
In ’n verklaring het die Russiese mediareguleerder Roskomnadzor gesê Roblox is deurdrenk met “onvanpaste inhoud wat die geestelike en morele ontwikkeling van kinders negatief kan beïnvloed”.
“Kinders word aan seksuele teistering onderwerp, intieme foto’s word deur misleiding van hulle verkry en hulle word gedwing om verdorwe dade en geweld te pleeg,” het Roskomnadzor bygevoeg. – AFP
2025-12-03 19:15:17
Hezbollah móét ontwapen, sê Israel in gesprekke met Libanon
Die atmosfeer Woensdag tydens Israel en Libanon se eerste regstreekse samesprekings in dekades was “positief”, het die kantoor van Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, gesê.
“Daar is ooreengekom om idees te ontwikkel om potensiële ekonomiese samewerking tussen Israel en Libanon te bevorder,” het die kantoor in ’n verklaring gesê.
Israel het ook duidelik gemaak dat dit “noodsaaklik” is dat die militante Libanese groep Hezbollah hom moet ontwapen, ongeag enige vordering met ekonomiese samewerking. – AFP
2025-12-03 19:39:03
Alle grappies op ’n vuurstokkie

’n Deelnemer spoeg Woensdag vuur tydens ’n optog ter viering van Nasionale Narredag in San Salvador, El Salvador. Foto: Reuters
2025-12-03 20:09:50
KYK | Demokrate reik foto’s uit van Epstein se berugte eiland
Demokrate in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Woensdag foto’s en video’s uitgereik van die luukse eilandhuis waar die veroordeelde seksoortreder wyle Jeffrey Epstein na bewering minderjarige meisies tot seks met invloedryke mans gedwing het.
Die beelde van Epstein se voormalige Karibiese skuilplek werp min nuwe lig op die komplekse skandaal.
Die 14 kort video’s en foto’s wys Epstein se Little Saint James-eiland in die Amerikaanse Maagde-eilande: van ’n luukse villa, tuine wat tot by die see strek en ’n groot buiteswembad.
Op ’n swartbord in een vertrek is woorde soos "misleiding", "mag", "waarheid" en "politiek". Ander woorde is uitgeblok deur die Demokrate wat dit uitgereik het. – AFP





Van die ongedateerde foto’s van die kantoor van die prokureur-generaal van die Amerikaanse Maagde-eilande wat Woensdag uitgereik is van wyle Jeffrey Epstein se luukse huis op sy private Little St. James-eiland. Foto: Kantoor van die prokureur-generaal van die Amerikaanse Maagde-eilande/AFP
2025-12-04 03:44:27
Dokter gevonnis weens Matthew Perry se dood
’n Dokter in Kalifornië is Woensdag tot tronkstraf van twee en ’n half jaar gevonnis vir die onwettige verskaffing van ketamien aan die Friends-ster Matthew Perry.
Dr. Salvador Plasencia (44), wat ’n noodkliniek buite Los Angeles bestuur het, het in Julie skuld beken op vier aanklagte van die onwettige verspreiding van ketamien.
Perry (54) is op 28 Oktober 2023 deur sy inwonende assistent gevind, met sy gesig na onder en leweloos in die jacuzzi van sy huis in Los Angeles.
’n Lykskouingsverslag het bevind dat hy dood is aan die “akute gevolge van ketamien”, wat in kombinasie met ander faktore daartoe gelei het dat hy sy bewussyn verloor en verdrink het. – Reuters
2025-12-04 04:02:03
Poetin-gesprekke oor Oekraïne onduidelik, sê Trump
Die pad vorentoe vir vredesgesprekke in Oekraïne is onduidelik, het pres. Donald Trump Woensdag gesê.
Hy noem gesprekke tussen pres. Wladimir Poetin en Amerikaanse gesante “taamlik goed”.
Die Kremlin sê Poetin het sommige Amerikaanse voorstelle aanvaar en is bereid om aan te hou werk om ’n kompromis te vind.
Trump het aan verslaggewers gesê sy gesante se indruk van Poetin is dat “hy graag ’n ooreenkoms wil sluit”. Wat nou gebeur, is egter onduidelik, sê Trump.
’n Amptenaar van die Withuis sê Amerikaanse gesante en Oekraïense amptenare vergader Donderdag in Miami. – Reuters
2025-12-04 04:37:39
Vlug met 266 migrante land in Venezuela
’n Vliegtuig van Amerika met 266 Venezolaanse migrante aan boord het Woensdag in Venezuela geland.
Die vliegtuig is goedgekeur om in Maiquetia, naby Caracas, te land, het die ministerie van vervoer Dinsdag gesê.
Dit volg nadat bilaterale vlugte kortliks opgeskort is te midde van toenemende spanning tussen die twee lande. Venezuela het die afgelope naweek gesê Amerika se eensydige sluiting van die Venezolaanse lugruim het repatriasievlugte beëindig.
Die ministerie van vervoer het egter Dinsdag gesê hulle het ’n versoek deur Amerika ontvang om dit te hervat. – Reuters
2025-12-04 04:49:31
Lughawe in Litaue wéér gesluit weens ballonne in lugruim
Die Vilnius-lughawe in Litaue het Woensdag vir ’n tweede keer vlugte opgeskort weens beweerde ballonne in sy lugruim.
Litaue sê ballonne word deur smokkelaars gestuur wat sigarette van Belarus vervoer. Pres. Aleksander Loekasjenko van Belarus, ’n noue bondgenoot van pres. Wladimir Poetin, word kwalik geneem omdat hy dit nie hanteer nie.
Loekasjenko beskuldig die Weste daarvan dat hulle ’n hibriede oorlog teen Belarus en Rusland voer.
Die Vilnius-lughawe, sowat 30 km van Belarus, is sedert vroeg Oktober al meer as 10 keer gesluit weens soortgelyke voorvalle. – Reuters
2025-12-04 05:02:13
2de laaste dooie gyselaar was Thaise burger
Israel het Donderdag die oorskot van die gyselaar wat hy van Hamas ontvang het as die Thaise burger Sudthisak Rinthalak geïdentifiseer.
Die oorskot van die Israeli Ran Gvili, die laaste van die lewende en oorlede gyselaars wat terugbesorg is, is steeds in die Gasa-strook.
Hamas het ingestem om alle lewende en oorlede gyselaars wat in die Gasa-strook aangehou is, oor te gee as deel van ’n aanvanklike skietstilstandsooreenkoms. – Reuters
2025-12-04 05:33:07
Maduro bevestig ‘hartlike’ telefoonoproep met Trump
Pres. Nicolas Maduro van Venezuela het Woensdag bevestig dat hy 10 dae gelede ’n “hartlike” telefoonoproep met pres. Donald Trump gehad het te midde van ’n Amerikaanse militêre opbou in Latyns-Amerika.
“Ek kan sê dat die gesprek eerbiedig was en ek kan selfs sê dat dit hartlik was,” het Maduro aan staatstelevisie gesê.
Trump het die telefoongesprek bevestig sonder om enige besonderhede te verskaf.
“Ek sou nie sê dit het goed of sleg gegaan nie. Dit was ’n telefoonoproep.” – AFP
2025-12-04 05:50:32
5 dood in 'Israeliese aanval op Gasastrook'
Vyf mense, onder wie twee kinders, is in ’n Israeliese missielaanval op die Gasastrook dood, het die Gasastrook se burgerlike verdedigingsagentskap Woensdag gesê.
Die Israeliese weermag sê hulle het ’n “Hamas-terroris” in die suide van die Gasastrook aangeval in reaksie op ’n botsing met Palestynse militante in die gebied waarin vyf soldate gewond is. Die weermag sê soldate het in ’n operasie in Rafah verskeie militante teëgekom “wat uit ’n ondergrondse terroriste-infrastruktuur te voorskyn gekom het”. – AFP
2025-12-04 06:42:32
Franse ma kry 30 jaar tronkstraf vir bedwelming van 2 dogters
’n Hof in Frankryk het Woensdag ’n ma tot 30 jaar tronkstraf gevonnis omdat sy oormatige medikasie aan haar twee kinders gegee het.
Maylis Daubon (53) het haar dogters sedert 2018 tot in 'n onderdanige toestand bedwelm nadat sy 10 jaar tevore deur 'n venynige egskeiding is.
Daubon het beweer haar dogter Enea (18), wat met haar geestesgesondheid gesukkel het, het haarself in 2019 om die lewe gebring. Daubon het die nooddienste ontbied nadat Enea stuiptrekkings gekry het, maar sy was reeds breindood en is ’n paar dae later in die hospitaal oorlede. Die latere ondersoek het getoon dat sy 10 keer die aanbevole dosis van ’n middel ingekry het om hartklop of angs te verminder.
Toetse ’n paar jaar later het getoon dat Enea se jonger suster, Luan, ook buitengewoon hoë dosisse slaappille ingekry het. Sy is nie dood nie. – AFP
2025-12-04 06:49:51
Peru se presidentskandidate gaan koeëlvaste baadjies kry ná reeks aanvalle
Ná ’n reeks aanvalle op politici sal Peru se verkiesingsowerheid voor April se verkiesings koeëlvaste baadjies aan presidentskandidate verskaf.
Roberto Burneo, hoof-verkiesingsamptenaar, het die stap Dinsdag aangekondig en gesê hy vrees dat die verkiesing van 2026 gewelddadiger sal wees as die 2021-veldtog, toe sowat 50 gewelddadige voorvalle aangemeld is.
Hy het gesê verkiesingspersoneel sal ook die beskermende uitrustings kry. – Reuters
2025-12-04 07:20:58
VN eis dat Moskou Oekraïense kinders repatrieer
Amerika het hom Woensdag by 90 ander lande by die Verenigde Nasies (VN) geskaar om te eis dat Rusland “die onmiddellike, veilige en onvoorwaardelike terugkeer van alle Oekraïense kinders verseker wat met geweld verplaas of gedeporteer is”.
Rusland het lande versoek om die VN-resolusie, wat deur Oekraïne, Kanada en die Europese Unie opgestel is, teen te staan. Rusland het Oekraïne in Februarie 2022 binnegeval.
Oekraïne beskuldig Rusland daarvan dat hy tienduisende Oekraïense kinders na Rusland of Russies besette gebiede ontvoer het sonder die toestemming van familie of voogde.
Moskou het voorheen gesê dat hulle kwesbare kinders uit ’n oorlogsone beskerm. – Reuters
2025-12-04 07:49:55
6 van Suid-Korea jare lank in Noord-Korea aangehou
Die kantoor van pres. Lee Jae-myung van Suid-Korea het Donderdag bevestig dat ses van sy burgers al jare lank in Noord-Korea gevange gehou word.
Dit volg nadat hy op ’n inligtingsessie met buitelandse media klaarblyklik nie daarvan bewus was nie.
Lee se kantoor het later in ’n verklaring gesê dat ses burgers, insluitend Christelike sendelinge en Noord-Koreaanse oorlopers, sedert hul inhegtenisneming “tussen 2013 en 2016 op aanklagte van onder meer spioenasie” aangehou word. – AFP
2025-12-04 08:12:26
Aardbewing tref China
’n Aardbewing van 6,0 het Xinjiang, ’n streek in die noordweste van China wat ’n grens met Kirgisië deel, Donderdag getref, het China se aardbewingnetwerksentrum gesê.
Die aardbewing het om 15:44 plaaslike tyd digby die distrik Akqi naby die Kirgisië-Xinjiang-grens plaasgevind, met die episentrum op ’n diepte van 10 km. – Reuters
2025-12-04 08:25:24
Swak La Niña-weerstelsel verwag
’n Swak La Niña-weerstelsel kan wêreldwye weerpatrone gedurende die volgende drie maande beïnvloed, luidens ’n voorspelling van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie wat Donderdag gepubliseer is.
Alhoewel die La Niña-patroon die tydelike verlaging van temperature in die sentrale en oostelike Stille Oseaan behels, word daar steeds verwag dat baie streke warmer as normaal sal wees.
Dít sal die kans op vloede en droogtes verhoog, wat gewasse kan beïnvloed.
Daar is ’n 55%-waarskynlikheid dat ’n swak La Niña-weerstelsel van vandeesmaand tot Februarie volgende jaar kan heers. – Reuters
2025-12-04 08:46:52
Man in Nieu-Seeland sluk Fabergé-eier
’n Dief (32) van Nieu-Seeland is in hegtenis geneem nadat hy ’n diamantversierde groen Fabergé-eier in ’n luukse juwelierswinkel gegryp en ingesluk het.
Hy het die Fabergé-eier verlede week in ’n winkel in Auckland ingesluk, maar is in hegtenis geneem voordat hy kon vlug.
Die polisie het Woensdag gesê hulle het nog nie die Fabergé-eier, ter waarde van ongeveer $20 000, teruggevind nie, maar het ’n beampte toegewys om oor die man te waak terwyl hy wag dat die natuur sy gang gaan. – AFP
2025-12-04 09:27:39
Rusland gaan Donbas op een of ander manier oorneem, sê Poetin
Pres. Wladimir Poetin het in ’n onderhoud wat Donderdag gepubliseer is, gesê dat Rusland met geweld volle beheer oor Oekraïne se Donbas-streek sal neem tensy Oekraïne sy magte onttrek.
Poetin het in Februarie 2022 tienduisende troepe na Oekraïne gestuur ná agt jaar van gevegte tussen Russies gesteunde separatiste en Oekraïense troepe in die Donbas, wat bestaan uit die Donetsk- en Loehansk-streek.
“Óf ons bevry hierdie gebiede met wapengeweld óf Oekraïense troepe verlaat hierdie gebiede.”
Oekraïne weier om aan Rusland se eise te voldoen, en pres. Wolodimir Zelenski het gesê Moskou moenie beloon word vir ’n oorlog wat hulle begin het nie. – Reuters
2025-12-04 09:36:55
610 000 sterf in 2024 aan malaria
Sowat 610 000 mense is in 2024 aan malaria dood, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).
Die meeste sterftes was onder jong kinders in Afrika suid van die Sahara.
Daar was sowat 282 miljoen gevalle van malaria in 2024.
Gevalle in onder meer Ethiopië, Madagaskar en Jemen het veral skerp toegeneem.
Die WGO waarsku oor die risiko’s van toenemende weerstand teen medikasie, klimaatsverandering en besnoeiings aan fondse vir die bekamping van malaria. – Reuters
2025-12-04 10:27:58
Pakistan gaan tydelik humanitêre hulp na Afganistan toelaat
Pakistan sal tydelik humanitêre hulp van die Verenigde Nasies in Afganistan toelaat, het amptenare Donderdag gesê.
Dit is die eerste gedeeltelike grensopening sedert noodlottige skermutselings tussen die twee bure in Oktober uitgebreek het.
Die lande is in ’n toenemend bitter dispuut gewikkel sedert die Taliban in 2021 beheer in Kaboel oorgeneem het.
Pakistan beskuldig sy buurland daarvan dat hulle militante huisves wat aanvalle aan die grens loods. Afganistan ontken die bewerings.
Die heropening van die grens is in reaksie op formele versoeke deur VN-agentskappe. – AFP
2025-12-04 10:34:54
100 vas oor kinderpornografie in Pole
Die polisie in Pole het Donderdag aangekondig dat hulle 100 mans in hegtenis geneem het wat daarvan verdink word dat hulle kinderpornografie vervaardig, versprei of besit, as deel van ’n grootskaalse operasie teen hierdie soort kubermisdaad.
Die mans is tussen 18 en 75 jaar oud en twee is aangekla van die verkragting van minderjariges, terwyl een na bewering onder “die 10 mees aktiewe vervaardigers en verspreiders van pedofiel-inhoud in Pole” is, lui ’n verklaring.
Beamptes het beslag gelê op minstens 600 000 beelde of video's van kindermishandeling en bestialiteit.
2025-12-04 11:16:51
Hepatitis B-inenting vir babas: Groot beleidsverandering in VSA moontlik op pad
’n Groep gesondheidsraadgewers oorweeg Donderdag of hepatitis B-inentings vir die meeste Amerikaanse kinders uitgestel moet word – ’n stap wat ’n groot verandering in Amerika se inentingsbeleid onder Robert F. Kennedy jr., minister van gesondheid, teweeg kan bring.
Die advieskomitee van die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer (CDC) sal twee dae beraadslaag oor of ouers, in oorleg met gesondheidswerkers, kan kies om die hepatitis B-entstof onmiddellik by geboorte te laat toedien, of om te wag totdat babas minstens twee maande oud is, mits die moeder negatief toets of nog nie getoets is nie.
Verder sal die raadgewers ook besluit of ouers gesondheidswerkers moet raadpleeg oor of ’n bloedtoets oorweeg moet word voor die opvolginenting vir hepatitis B, en of mediese versekering die koste van so ’n toets moet dek. – Reuters
2025-12-04 11:20:50
Gepak en gedas...

Pres. Xi Jinping van China staan langs pres. Emmanuel Macron van Frankryk op ’n verwelkomingsplegtigheid by die Groot Volksaal in Beijing. Foto: AFP
2025-12-04 11:25:52
Vatikaan-komitee sê nee vir vrouediakens, maar vra vir verdere studie
’n Hoëvlak-kommissie van die Vatikaan het gestem teen die toelating van vroue as diakens en daarmee die Rooms-Katolieke Kerk se praktyk van uitsluitlik manlike geestelike leiers bevestig.
Luidens ’n verslag wat Donderdag aan pous Leo XIV oorhandig is, het die kommissie met ’n meerderheid van sewe teen een besluit dat historiese navorsing en teologiese ondersoek “die moontlikheid uitsluit” om vroue tans as diakens toe te laat.
Die kommissie beveel egter aan dat daar verdere studie oor die saak gedoen moet word, wat aandui dat die debat oor die rol van vroue in dié kerk voortduur. Diakens in die Katolieke Kerk is geestelike leiers wat onder priesters dien met verantwoordelikhede soos diens aan die gemeenskap en soms die leiding van gebede of doop. – Reuters
2025-12-04 12:07:06
Brittanje, Noorweë span saam om Russiese duikbote te stuit
Brittanje en Noorweë het Donderdag ’n nuwe verdedigingsverdrag aangekondig wat hul vlote sal verenig om Russiese duikbote in die Noord-Atlantiese Oseaan op te spoor.
Die ooreenkoms tussen dié Navo-bondgenote beoog om kritieke ondersee-infrastruktuur soos kabels en pypleidings teen moontlike Russiese bedreiging te beskerm.
Volgens Brittanje se ministerie van verdediging het die aantal Russiese skepe wat in Britse waters bespeur is oor die afgelope twee jaar met 30% gestyg.
Die plan behels dat die twee lande 13 Brits vervaardigde fregatte gesamentlik sal gebruik om Russiese vlootaktiwiteite tussen Groenland, Ysland en Brittanje te monitor.
Keir Starmer, Britse premier, en sy Noorweegse ampsgenoot, Jonas Gahr Store, beskryf dit as ’n strategiese stap om Europese veiligheid te verbeter te midde van toenemende spanning. – AFP
2025-12-04 12:08:29
Macron vra Xi om te help om ‘onvolhoubare’ globale handelswanbalanse reg te stel
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het op sy staatsbesoek aan China vir pres. Xi Jinping gevra om samewerking met Frankryk en die Europese Unie (EU) oor geopolitiek, handel en die omgewing te versterk.
Die EU hoop China kan help met ’n einde aan die oorlog in Oekraïne, terwyl Beijing op sy beurt ekonomiese voordele wil ontsluit nadat die VSA nuwe invoertariewe ingestel het.
Macron probeer terselfdertyd Frankryk se groot handelstekort met China verminder en werksgeleenthede by die huis beskerm sonder om China van stryk te bring.
China poog om handelswrywing met die EU oor sy gesubsidieerde elektriese voertuie te verminder en homself as ’n meer betroubare mark aan Amerika voor te hou.
“Die wanbalanse wat ons sien opstapel, hou die risiko in van ’n finansiële krisis en bedreig ons vermoë om gesamentlik te groei,” het Macron Donderdag in sy gesprek met Xi in die Groot Volksaal in Beijing gesê. – Reuters
2025-12-04 12:09:48
Op patrollie...

’n Lid van die Nasionale Garde patrolleer ’n treinstasie in Washington DC. Patrollies in die Amerikaanse hoofstad sal voortgaan kragtens ’n uitvoerende bevel van pres. Donald Trump. Foto: Getty Images
2025-12-04 13:03:43
Oekraïne dring aan op ware vrede, nie toegewings
Oekraïne eis ’n regverdige en blywende vrede met Rusland, nie bloot toegewings nie, het die minister van buitelandse sake, Andri Sibiha, Donderdag by die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OVSE) gesê.
Sibiha het gewaarsku dat Europa se geskiedenis wys toegewings aan aggressors – soos in München in 1938 – lei tot nuwe rampe, en het benadruk dat beginsels nie prysgegee mag word nie. Sibiha het Amerika bedank vir sy rol in die vredespogings, maar volgehou dat Oekraïne elke geleentheid sal benut om die oorlog te beëindig.
Die OVSE, wat lande soos Amerika, Kanada, Rusland en groot dele van Europa insluit, speel ’n sleutelrol, maar meningsverskille verhinder tans konsensus oor ’n nuwe begroting. Intussen het pres. Donald Trump gewaarsku dat die toekoms van vredesonderhandelinge onseker bly, ondanks onlangse gesprekke tussen Rusland en Amerikaanse verteenwoordigers. – Reuters
2025-12-04 13:04:38
Temperature in Midde-Ooste, Noord-Afrika styg 2 keer so vinnig as wêreldgemiddelde
Die Midde-Ooste en Noord-Afrika het in 2024 hul warmste jaar tot dusver aangeteken, met temperature wat teen twee keer die wêreldgemiddelde van die laaste dekades gestyg het, sê die Verenigde Nasies (VN) se weeragentskap in ’n verslag. Hittegolwe in die streek word langer en intenser, luidens die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) se eerste verslag wat op dié gebied fokus.
“Temperature styg teen twee keer die wêreldgemiddelde, met intense hittegolwe wat die samelewing tot die uiterste dryf,” sê Celeste Saulo, sekretaris-generaal van die WMO.
Droogtes in die streek, die tuiste van 15 van die wêreld se mees waterskaars lande, het meer gereeld en erger geword, met ’n neiging van meer en langer hittegolwe wat sedert 1981 in Noord-Afrika aangeteken is, lui die verslag. – Reuters
2025-12-04 13:06:00
’n Kus op die voorkop

’n Familielid soen ’n pas gewerfde soldaat van die Indiese weermag op ’n uitpasseringsparade in Srinagar, Indië. Foto: AFP
2025-12-04 14:03:23
Poetin ‘moreel verantwoordelik’ vir vergiftiging van Britse vrou
Pres. Wladimir Poetin van Rusland dra “morele verantwoordelikheid” vir die 2018-vergiftigingsdood van ’n Britse vrou ná ’n mislukte sluipmoordpoging op ’n voormalige Russiese dubbelagent in Engeland, het ’n Britse ondersoek Donderdag bevind.
Dawn Sturgess (44) is in Julie 2018 dood nadat sy aan die senuweegifstof Nowitsjok blootgestel is, vier maande nadat dit gebruik is teen die voormalige agent Sergei Skripal in ’n sluipmoordpoging wat luidens die ondersoekverslag deur Poetin gemagtig is. – AFP
2025-12-04 14:04:22
Brittanje roep Russiese ambassadeur in oor ‘vyandige aktiwiteite’
Brittanje het Donderdag gesê hy het die Russiese ambassadeur ingeroep om verantwoording te doen oor sy land se “voortgesette veldtog van vyandige aktiwiteite” nadat ’n ondersoek bevind het dat Rusland agter die 2018-vergiftigingsdood is van ’n Britse vrou ná ’n mislukte sluipmoordpoging op ’n voormalige Russiese dubbelagent in Engeland.
Brittanje het ook sanksies ingestel teen die Russiese militêre intelligensieagentskap, die GRU, het die ministerie van buitelandse sake gesê. – AFP
2025-12-04 14:33:31
Poetin kom in Indië aan vir gesprekke oor verdediging en handel
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het Donderdagmiddag in Indië aangekom vir ’n twee dag lange besoek wat gemik is op die verdieping van onder meer verdedigingsbande.
Narendra Modi, die Indiese premier wat onder groot Amerikaanse druk is om nie meer Russiese olie te koop nie, het Poetin persoonlik by die lughawe verwelkom.
Benewens verdediging sal handelsbande na verwagting ook aandag geniet terwyl Indië ’n diplomatieke balanseertoertjie probeer navigeer – die land maak staat op Russiese olie-invoer, maar probeer om nie pres. Donald Trump in voortgesette tariefonderhandelings te ontstel nie. – AFP

’n Kunstenaar in Amritsar, Indië, doen Donderdag finale afrondings aan ’n muurskildery van pres. Wladimir Poetin van Rusland langs ’n skildery van Indië se voormalige premiers en die huidige premier. Foto: AFP
2025-12-04 15:02:11
VSA kan Oekraïne dalk só verraai, meen Europese leiers
Europese leiers het vandeesweek in ’n telefoniese konferensie wantroue uitgespreek oor Amerika se pogings om ’n einde aan Rusland se oorlog in Oekraïne te beding, berig die Duitse nuustydskrif Der Spiegel.
Die tydskrif sê hy het skriftelike aantekeninge oor die konferensie bekom. Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, en pres. Emmanuel Macron van Frankryk het luidens die aantekeninge Maandag in ’n oproep met pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne en ander leiers twyfel uitgespreek oor of Amerikaanse onderhandelaars Oekraïne se belange in ag sal neem.
Volgens die tydskrif sê Macron “daar is ’n kans dat Amerika Oekraïne oor grondgebied sal verraai sonder duidelikheid oor veiligheidswaarborge”. – AFP
2025-12-04 15:26:18
Sowat 40 van Hamas doodgemaak wat in tonnels vasgekeer was, sê Israel
Sowat 40 Hamas-vegters is Donderdag doodgemaak wat in tonnels onder Rafah in die suide van die Gasastrook vasgekeer was in ’n gebied wat nou onder Israeliese beheer is, sê die Israeliese weermag.
Sowat 200 vegters is volgens Israeliese en Amerikaanse amptenare reeds maande lank in die tonnels vasgekeer, hoewel sommige sedertdien uitgekom en in botsings met Israeliese magte doodgemaak is of oorgegee het, berig Israeliese media.
Amerika en ander bemiddelaars het probeer om ’n ooreenkoms te bereik vir die Hamas-vegters om hul wapens neer te lê in ruil vir toegang tot ander dele van die enklave, maar dié gesprekke het in duie gestort. – Reuters
2025-12-04 15:31:46
Tot die redding

Reddingswerkers Donderdag op die toneel in Slowiansk, Oekraïne, waar Russiese magte ’n lugaanval op woonstelgeboue uitgevoer het. Foto: Reuters
2025-12-04 16:04:18
Groot handelsname betrek by ondersoek na uitbuiting van werkers
Gucci, Prada, Versace en Yves Saint Laurent is volgens Italiaanse aanklaers van die 13 luukse handelsname wat vermoedelik subkontrakteurs gebruik het wat migrante-werkers in Italië uitgebuit het.
Aanklaers het versoeke om inligting aan die handelsname gerig, maar hulle word nog nie formeel ondersoek nie. Die ondersoek kyk na onder meer oortredings van lone en werkure, veiligheidstandaarde en ongeskikte behuising vir personeel.
Vroeër is luukse handsakke, beursies en klere gevind in deursoekings van Italiaanse werkwinkels wat uitgebuite Chinese en Pakistanse werkers in diens gehad het. – AFP
2025-12-04 16:25:28
VSA hersien sy betrekkinge met Tanzanië weens ‘onderdrukking’
Amerika het Donderdag ’n hersiening van sy betrekkinge met Tanzanië aangekondig weens die onderdrukking van vryheid van spraak en godsdiens, asook ’n betwiste verkiesing wat deur dodelike geweld ontsier is.
Regtegroepe sê meer as 1 000 mense is doodgeskiet tydens drie dae van betogings oor die verkiesing op 29 Oktober wat die opposisie en buitelandse waarnemers as bekook beskryf.
Die Amerikaanse departement van buitelandse sake sê in ’n verklaring Tanzanië se onlangse optrede “wek ernstige kommer oor die rigting van ons bilaterale betrekkinge en die betroubaarheid van die Tanzaniese regering as ’n vennoot”. Die verklaring veroordeel ook “Tanzanië se voortgesette onderdrukking van godsdiensvryheid en vryheid van spraak, asook die teenwoordigheid van aanhoudende hindernisse vir Amerikaanse beleggings”. – AFP
2025-12-04 16:36:26
‘Skaaknat’

Jawokir Sindarof van Oesbekistan Donderdag in aksie teen Hans Niemann van Amerika in ’n vertoonwedstryd in The Silo-hotel in Kaapstad voor die eindronde van die Freestyle Chess Grand Slam Finals. Deelnemers moet hul skuiwe onder water doen terwyl hulle hul asem ophou. Foto: Reuters
2025-12-04 17:27:06
Bahamas stel swaarder strawwe voor teen mensesmokkelaars
Die Bahamas beplan om strenger strawwe vir mensesmokkelaars in te stel in ’n poging om misdaadbendes wat die eiland as 'n deurgangsroete na die VSA gebruik, te ontmoedig.
“Die Bahamas sal nie as springplank vir onwettige migrasie na die VSA dien nie,” sê Philip Davis, eerste minister van die Bahamas.
Nuwe wetgewing stel voor dat oortreders wat migrante se lewe in gevaar stel, ’n swanger migrant smokkel, of meer as 10 mense in ’n groep vervoer, met tot $300 000 beboet of 15 jaar tronkstraf opgelê kan word.
Die strawwe geld ook vir mense wat onwettige landings reël, met boetes van tot $100 000 of sewe jaar tronkstraf. Die VSA het nog nie op hierdie stap gereageer nie, maar beskou die Bahamas as sy “derde grens” en fokus sterk op onwettige immigrasie in dié gebied. – Reuters
2025-12-04 18:06:17
Navo verwag toename in hibridiese bedreigings
Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) moet gereed wees om op toenemende hibridiese bedreigings te reageer om die grondgebied van sy lidlande te beskerm, sê Alexus Grynkewich, Amerikaanse lugmag-generaal en Navo se opperbevelvoerder in Europa.
Hibridiese bedreigings verwys na sowel militêre as nie-militêre taktiek wat daarop gemik is om ’n teenstander se veiligheid te ondermyn. Dit sluit tipies kuberaanvalle, disinformasieveldtogte, die sabotasie van kerninfrastruktuur asook die gebruik van hommeltuie of gewapende groepe in.
“Hibridiese bedreigings is ’n werklikheid, en ek dink ons kan verwag dat dit meer gereeld sal voorkom,” sê Grynkewich. – Reuters
2025-12-04 18:12:45
Doodstraf weer ingestel in onstuimige Burkina Faso
Burkina Faso het die doodstraf heringestel nadat die militêre raad Donderdag ’n nuwe wetsontwerp aangekondig het wat ernstige misdade soos hoogverraad, terrorisme en spioenasie strafbaar met die dood maak.
Die doodstraf is in 2018 afgeskaf, maar die junta onder kapt. Ibrahim Traoré, wat in 2022 die bewind oorgeneem het, wil nou die land se strafregstelsel verander te midde van voortdurende onrus en djihadistiese geweld. Die wetsontwerp, wat ook die bevordering en beoefening van homoseksualiteit verbied, wag op goedkeuring van die oorgangsparlement.
Burkina Faso het in 1988 laas ’n teregstelling uitgevoer. Regsorganisasies wys daarop dat 14 lande in Afrika suid van die Sahara in 2024 die doodstraf opgelê het, maar slegs Somalië het teregstellings uitgevoer. – AFP
2025-12-04 18:24:32
The New York Times daag Pentagon voor hof oor streng mediabeleid
The New York Times het die Amerikaanse departement van verdediging en sy minister, Pete Hegseth, gedagvaar om die Pentagon te dwing om sy nuwe beperkende mediabeleid te laat vaar.
Die beleid, wat verlede maand ingestel is, vereis dat joernaliste moet erken dat hulle as sekuriteitsrisiko’s bestempel kan word en hul mediakaarte kan verloor as hulle na geklassifiseerde of sekere ongeklassifiseerde inligting vra.
Lede van minstens 30 nuusorganisasies, insluitend Fox News en Reuters, het hul mediakaarte prysgegee eerder as om die beleid te onderteken, aangesien dit mediavryheid en onafhanklike verslaggewing bedreig.
The New York Times voer aan dat die beleid die reg op vrye spraak skend en noodsaaklike militêre inligting van die publiek weerhou. Die hofsaak is die jongste in 'n reeks regsgedinge oor mediavryheid in die VSA. – Reuters
2025-12-04 19:00:33
Lande gaan aan Eurovison onttrek oor Israel se deelname
Die Eurovision-sangkompetisie – die wêreld se grootste musiekkompetisie wat regstreeks gebeeldsend word – word deur die onttrekking van talle lande in die gesig gestaar nadat die organiseerders Israel Donderdag toegelaat het om volgende jaar deel te neem.
Wye teenstand teen die oorlog in die Gasastrook het gelei tot talle eise om Israel uit die jaarlikse kompetisie te skop.
Kort nadat die organiseerders Israel se deelname aangekondig het, het die openbare uitsaaiers in Spanje, Ierland, Slowenië en Nederland – wat almal Israel se uitsluiting gesteun het – gesê dat hul lande nie volgende jaar sal deelneem nie. – AFP
2025-12-04 19:24:47
Trump, Rwanda- en DRK-leiers onderteken vredesooreenkoms
Pres. Donald Trump en die leiers van Rwanda en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) het Donderdag in Washington ’n vredesooreenkoms onderteken, ondanks voortgesette geweld.
“Ek dink dit gaan ’n wonderwerk wees… julle sal binnekort resultate sien,” het Trump aan verslaggewers gesê ná die ondertekening saam met press. Paul Kagame van Rwanda en Felix Tshisekedi van die DRK.
Trump hoop die ooreenkoms sal die weg baan vir Amerika om toegang te verkry tot kritieke minerale in die ooste van die DRK. – AFP

Pres. Donald Trump kort nadat ’n vredesooreenkoms Donderdag tussen die leiers van Rwanda en die DRK onderteken is. Foto: AFP
2025-12-04 19:31:45
Gedikteerde vrede sal Europa se veiligheid bedreig – Duitsland
’n Gedikteerde vrede in Oekraïne sal nie net rampspoedig vir Oekraïne wees nie, dit sal ook Europa se veiligheid bedreig, het Boris Pistorius, Duitse minister van verdediging, Donderdag gewaarsku.
In ’n toespraak aan die parlement het hy Europese lande aangemoedig om nie hul ondersteuning vir Oekraïne te laat verslap nie.
“ ’n Gedikteerde vrede sal rampspoedig wees vir Europa ... omdat ’n Oekraïne wat militêr of moontlik selfs aan die onderhandelingstafel verslaan word, Europa se veiligheid in gevaar sal stel,” het Pistorius gesê. – Reuters
2025-12-04 20:03:29
Welkom in Indië, my vriend

Pres. Wladimir Poetin van Rusland word Donderdag met sy aankoms op die Palam-lugmagbasis in Nieu-Delhi met ’n omhelsing verwelkom deur Narendra Modi, premier van Indië. Poetin se twee dae lange besoek aan Indië het Donderdag begin. Foto: Sputnik/AFP
2025-12-04 20:04:55
Ons moenie Oekraïne-gesprekke belemmer – Poetin
Amerikaans geleide samesprekings oor Oekraïne is “kompleks”, maar ons “moet betrokke raak” en nie die pogings belemmer nie, het pres. Wladimir Poetin gesê in ’n onderhoud wat Donderdag deur ’n Indiese uitsaaier gedeel is.
“Dit is ’n komplekse taak en ’n uitdagende sending wat pres. (Donald) Trump op homself geneem het,” het Poetin gesê in opmerkings wat deur India Today vertaal is.
“Om konsensus onder mededingende partye te bereik is geen maklike taak nie, maar pres. Trump, glo ek, probeer dit opreg doen,” het hy bygevoeg. “Ek dink ons moet by hierdie poging betrokke raak eerder as om dit te belemmer.” – AFP
2025-12-04 20:19:45
Amerikaner vas oor pypbomme by kongresgebou se bestorming
’n Man van die Amerikaanse deelstaat Virginië wat glo op die vooraand van die bestorming van die kongresgebou in Washington op 6 Januarie 2021 pypbomme naby die hoofkwartier van sowel die Demokratiese as die Republikeinse Party geplant het, is Donderdag in hegtenis geneem, het amptenare gesê.
Die inhegtenisneming van Brian Cole jr. (30) is die eerste deurbraak in die bykans vyf jaar oue saak, wat talle samesweringsteorieë in verregse geledere ontketen het.
Pam Bondi, minister van justisie, het geweier om te bespiegel oor of die beplande pypbomaanval polities gemotiveerd was en gesê die ondersoek duur voort.
Die pypbomme het nie ontplof nie. – AFP
2025-12-05 03:50:17
Laaste supermaan vir 2025

Een van Reuters se topfoto’s van die dag vir Donderdag. Die laaste supermaan van 2025, bekend as die Koue Maan, kom op in Panamastad, Panama. Foto: Reuters
2025-12-05 04:31:17
Swaar reën belemmer skoonmaakoperasie in Sri Lanka
Nog swaar reën het Sri Lanka Vrydag getref en ’n groot skoonmaakoperasie belemmer nadat ernstige oorstromings en grondstortings verlede week die lewe van byna 500 mense geëis het.
Owerhede het tot 132 mm reënval in die suide van Sri Lanka oor ’n tydperk van 15 uur, wat Donderdagaand geëindig het, aangemeld. Hoewel dit intens was, het die grootskaalse oorstromings wat sedert verlede week ervaar is, begin bedaar.
Benewens die sterftes word 341 mense nog vermis en is 170 000 mense steeds in skuilings. – AFP

Ontwortelde bome lê Donderdag langs beskadigde geboue ná ’n grondstorting in die Kandy-distrik, Sri Lanka. Foto: AFP
2025-12-05 04:46:21
Nog 4 dood in Amerikaanse aanval op dwelmboot
Vier mense is Donderdag dood in die ooste van die Stille Oseaan in ’n Amerikaanse aanval op ’n boot wat na bewering dwelms gesmokkel het.
Meer as 87 mense is reeds die laaste paar maande in sulke aanvalle dood.
Die jongste aanval was gemik op ’n “vaartuig in internasionale waters wat deur ’n geïdentifiseerde terroristeorganisasie bedryf word".
"Intelligensie het bevestig dat die vaartuig onwettige dwelmmiddels vervoer,” sê die Amerikaanse Suidelike Kommando op X.
’n Video is ingesluit wat ’n boot wys wat oor die water jaag voordat dit deur ’n ontploffing getref is. – AFP
2025-12-05 04:56:30
5 vermis toe migrante aan Italiaanse kus gered is
Vyf migrante, insluitend ’n minderjarige, is Woensdag vermis nadat hulle Tunisië na die Italiaanse eiland Lampedusa oorgesteek het, het die Verenigde Nasies se agentskap vir vlugtelinge (UNHCR) Donderdag gesê.
Meer as 45 mense is deur die Italiaanse kuswag gered. Onder diegene wat gered is, was 25 onbegeleide minderjariges. – AFP
2025-12-05 05:59:07
Weermag verander deuntjie ná staatsgreep in Guinee-Bissau
Guinee-Bissau se militêre owerhede het Donderdag sy magsoorname geregverdig deur aan te voer dat die land 'n “risiko van 'n etniese burgeroorlog” gehad het.
Nadat die junta die sittende pres. Umaro Sissoco Embalo op 26 November omvergewerp het, het die junta beweer dat dwelmbase saamgesweer het om chaos in die land te saai.
Donderdag het hulle egter aangevoer dat die onstabiele land ’n “ernstige” politieke situasie ná die stemmery het “wat in ’n burgeroorlog met etniese ondertone kan ontaard”. – AFP
2025-12-05 06:11:24
Hertzog loof besluit oor Israel se deelname aan Eurovision-sangkompetisie
Pres. Isaac Herzog van Israel het gesê sy land “verdien om op elke verhoog oor die wêreld heen verteenwoordig te word” ná Donderdag se aankondiging dat die land aan volgende jaar se Eurovision-sangkompetisie kan deelneem.
“Ek is bly dat Israel weer eens aan die Eurovision-sangkompetisie gaan deelneem, en ek hoop dat die kompetisie een sal bly wat kultuur, musiek en vriendskap tussen nasies bevorder...” lui ’n boodskap van Herzog op X.
“Dankie aan al ons vriende wat opgestaan het vir Israel se reg om by te dra en mee te ding.” – AFP
2025-12-05 06:40:12
Ouers in Nigerië desperaat vir nuus oor ontvoerde kinders
Die ouers van meer as 250 ontvoerde kinders in Nigerië is desperaat vir nuus en ontsteld oor die owerhede se reaksie.
Sunday Gbazali, wie se 14-jarige seun onder diegene was wat op 21 November in ’n afgeleë dorpie in Noord-Nigerië ontvoer is, sê: “Hulle (die polisie) sê net vir ons om geduldig te wees, dat hulle probeer om die kinders te red. Ons is nie gelukkig met wat gebeur nie.”
Altesaam 303 kinders en 12 skoolpersoneellede is deur gewapende mans by die St Mary’s Katolieke kosskool in Papiri ontvoer.
Vyftig leerlinge kon daarin slaag om binne ure te ontsnap. – Reuters
2025-12-05 07:14:04
Poetin bedank Modi vir steun oor Oekraïne
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het Vrydag aan Narendra Modi, premier van Indië, gesê dat hy dankbaar is vir die aandag wat Indië aan vredespogings met Oekraïne gee.
Rusland en Indië het ook militêre, ruimte-ontwikkeling, kunsmatige intelligensie en betrekkinge op ander gebiede bespreek, het Poetin gesê.
“Ons beplan om op al hierdie areas vorentoe te beweeg,” het hy bygevoeg. – Reuters
2025-12-05 07:33:24
5 hommeltuie waargeneem naby vlugroete van Zelenski
’n Ierse vlootskip het tot vyf hommeltuie waargeneem naby die vlugroete van pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne se vliegtuig toe hy Maandag vir ’n staatsbesoek in Ierland aangekom het.
Die waarneming het ’n groot veiligheidswaarskuwing meegebring te midde van vrese dat dit ’n poging was om met die vlugroete in te meng, het The Irish Times Donderdag berig.
Oekraïense media het Dmitro Litwin, ’n raadgewer van Zelenski, aangehaal wat sê dat Oekraïense amptenare bewus gemaak is van die hommeltuie, maar geen optrede is nodig geag nie. – Reuters
2025-12-05 07:39:27
2 dood weens oorstromings in Viëtnam
Swaar reën in Viëtnam het tot oorstromings gelei wat minstens twee mense se lewe geëis het en meer as 12 grondstortings veroorsaak het, het die staatsmedia Vrydag berig.
Volgens owerhede dra dit by tot die “mees ongewone” jaar van natuurrampe in die land se geskiedenis.
Suid-sentrale Viëtnam is geteister deur weke van swaar reën, wat honderdduisende huise laat oorstroom en noodlottige grondstortings in bergagtige streke veroorsaak het.
Stortbuie het Donderdag nog duisende huise in die Lam Dong-provinsie laat oorstroom. – AFP
2025-12-05 08:32:53
Amerika sluit groot hulpooreenkoms met Kenia
Amerika het Donderdag ’n gesondheidshulpooreenkoms van $2,5 miljard met Kenia onderteken.
Amptenare van pres. Donald Trump se administrasie het gesê die ooreenkoms sal die eerste in ’n reeks ooreenkomste met die regerings van ontwikkelende lande wees, wat gevra sal word om die geld te deel en met Washington saam te werk aan ander prioriteite.
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het die ooreenkoms in Washington onderteken met pres. William Ruto van Kenia.
Hy het Ruto geprys vir sy land se hulp in Haïti. Kenia het ’n veiligheidsmag gelei om Haïti te stabiliseer, wat deur jare lange geweld geteister word. – AFP
2025-12-05 09:21:05
Griekse parlement keur die aankoop van vuurpylstelsels van Israel goed
Griekse wetgewers het Donderdag laat die aankoop van 36 PULS-vuurpyl-artilleriestelsels van Israel ten bedrae van ongeveer €650 miljoen goedgekeur, het twee amptenare met kennis van die kwessie aan Reuters gesê.
Griekeland het gesê dat hy teen 2036 sowat €28 miljard sal spandeer om sy gewapende magte te moderniseer namate hy uit ’n skuldkrisis kom wat die land van 2009 tot 2018 in sy greep gehad het en probeer tred hou met sy historiese mededinger Turkye.
Reuters het verlede maand berig dat Griekeland in gesprek was met Israel oor die stelsels. – Reuters
2025-12-05 09:31:00
Kremlin sê vredesgesprekke vorder
Die Kremlin het Vrydag gesê dat Rusland en Amerika vordering maak in vredesgesprekke oor Oekraïne.
Pres. Wladimir Poetin het Dinsdagaand gesprekke met twee Amerikaanse gesante gevoer, waartydens die Kremlin gesê het dat hy sommige elemente van ’n vredesplan aanvaar, maar ander nie.
Joeri Oesjakof, Poetin se top-raadgewer oor buitelandse beleid, het Vrydag gesê: “Na my mening maak ons vordering oor die hoof-onderhandelinge waarby ons president betrokke is. Dit is bemoedigend en ons is gereed om voort te gaan met hierdie Amerikaanse span.” – Reuters
2025-12-05 09:42:54
Weermag verskerp hulppogings in Indonesië
Die weermag in Indonesië het sy noodlenigingspogings in drie provinsies op die eiland Sumatra verskerp wat deur dodelike vloede en grondstortings getref is.
Die weermag het minstens 10 draagbare brûe opgerig om te help met die verspreiding van voedsel en hulpvoorrade aan geïsoleerde inwoners.
Sommige van die paaie is steeds onbegaanbaar.
Die dodetal weens verlede week se sikloon en daaropvolgende ernstige oorstromings en grondstortings het Vrydagmiddag tot 867 gestyg.
Minstens 521 mense word vermis. – Reuters
2025-12-05 10:02:10
Verskeie platforms kortliks van lyn af weens Cloudfare-probleem
Verskeie aanlyn platforms, insluitend pres. Donald Trump se Truth Social-netwerk, was Vrydag kortliks van lyn af, met die Amerikaanse internetdiensmaatskappy Cloudflare wat erken het dat sy stelsels daarvoor verantwoordelik was.
’n Foutboodskap wat Cloudflare noem, is tot ongeveer 09:30 MGT aan mense vertoon wat Truth Social en ander webwerwe probeer besoek het.
“Ons is bewus van die probleem wat die beskikbaarheid van Cloudflare se netwerk beïnvloed,” het die maatskappy om 09:20 MGT gesê en bygevoeg dat die oorsaak “nie ’n aanval” was nie.
Baie X-gebruikers het vroeër die dag gekla oor probleme om toegang tot ander webwerwe te verkry. – AFP
2025-12-05 10:38:11
Duitsland benodig nie ‘advies van buite’
Johann Wadephul, Duitsland se minister van buitelandse sake, het Vrydag gesê die land het nie “advies van buite” nodig nie, nadat pres. Donald Trump se administrasie ’n nuwe strategiedokument vrygestel het wat bondgenote in Europa sterk kritiseer.
“Ek glo dat vrae oor vryheid van spraak of die organisasie van ons vrye samelewings nie (in die strategie) hoort nie, in elk geval ten minste nie as dit by Duitsland kom nie,” het Wadephul, gesê. – AFP
2025-12-05 10:50:25
8 lede van INSO in Burkina Faso vrygelaat
Agt lede van die Internasionale Veiligheidsorganisasie vir Nieregeringsorganisasies (INSO) is deur die owerhede in Burkina Faso vrygelaat nadat hulle in Oktober deur die militêre junta in hegtenis geneem is op verdenking van spioenasie.
“INSO verwelkom die veilige vrylating van ons kollegas en waardeer die ondersteuning wat dit moontlik gemaak het,” het die organisasie in ’n verklaring gesê.
Die organisasie sê hy bly “toegewy aan die ondersteuning van humanitêre organisasies om hulp veilig aan almal in nood te lewer”.
Die agt werkers sluit drie Europeërs in. – AFP
2025-12-05 11:23:11
Skole sluit toe storm Athene tref
Skole in Athene moes Vrydag hul deure sluit nadat ’n hewige storm die Griekse hoofstad en omliggende gebiede getref het. Verskeie paaie is oorstroom en vervoer is ontwrig.
Volgens Costas Tsigas van die brandweerunie is die westekant van Athene die ergste geraak met reënwater en puin wat paaie versper het.
Die hoofsnelweg na Korinthe is tydelik gesluit, terwyl die weermag se hulp ingeroep is om puin van die paaie te verwyder.
Die weerdiens in Athene het tussen Donderdag en Vrydag altesaam 245 mm reën is die westelike dele van die stad gemeet. – AFP
2025-12-05 11:31:38
Iran hou grond- en vlootoefeninge
Die vloot van Iran se Rewolusionêre Wag het Vrydag ballistiese en kruismissiele op gesimuleerde teikens in die Golf van Oman afgevuur tydens tweedaagse militêre oefeninge wat daarop gemik is om buitelandse bedreigings teen te werk.
Die oefening ter see volg ’n oefening deur die Rewolusionêre Wag in die noordwestelike provinsie van Oos-Azerbeidjan, berig Iran se staatsmedia.
Die grond- en vlootoefeninge volg op ’n 12 dae lange lugoorlog tussen Israel en Iran in Junie waartydens die VSA by Israel aangesluit het om Iran se kernfasiliteite aan te val. – Reuters
2025-12-05 11:38:39
Bladskud voor samesprekings...

Pres. Wladimir Poetin van Rusland skud blad met Narendra Modi, premier van Indië, in Nieu-Delhi, Indië. Modi en Poetin het ’n bilaterale vergadering in Nieu-Delhi gehou, terwyl die twee leiers ekonomiese samewerking wil verdiep te midde van druk van pres. Donald Trump. Foto: Bloomberg via Getty Images
2025-12-05 12:04:43
Libanon vra VN se hulp om skietstilstand met Israel af te dwing
Pres. Joseph Aoen van Libanon het Vrydag ’n afvaardiging van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad versoek om druk op Israel uit te oefen om die skietstilstand, wat reeds sedert November 2024 van krag is, te respekteer, en om sy weermag se pogings te steun om Hezbollah te ontwapen.
Israel voer steeds aanvalle in Libanon uit ten spyte van die ooreenkoms.
Aoen het beklemtoon dat Libanon internasionale resolusies nakom en hoop die VN-afvaardiging sal help om die skietstilstand af te dwing.
Die Libanese regering het sy weermag in Augustus opdrag gegee om Hezbollah geheel en al te ontwapen, en verwag om die eerste fase teen die einde van die jaar te voltooi. Die VN-span besoek nou die grensgebied, teen die agtergrond van direkte gesprekke tussen Libanon en Israel. – AFP
2025-12-05 12:16:23
Armeense aartsbiskop gearresteer op dwelmverwante aanklagte
Aartsbiskop Arshak Khachatryan, ’n senior leier van die Armeense Kerk, is Vrydag in hegtenis geneem op aanklagte dat hy in 2018 dwelms op betogers geplant het.
Dié stap volg te midde van toenemende spanning tussen die regering van die Armeense premier, Nikol Pashinyan, en die Armeens-Apostoliese Kerk. Die regering en die kerk is onenig oor vredesonderhandelinge met Azerbeidjan, met sommige kerkleiers wat Pashinyan van toegeeflikheid beskuldig en sy bedanking eis.
Khachatryan is ’n sleutelbondgenoot van die kerk se hoof, Karekin II. Die kerk het die jongste inhegtenisneming as polities gemotiveerd veroordeel. Verskeie senior geestelikes is die afgelope jaar in hegtenis geneem in verband met ’n beweerde staatsgreeppoging. – Reuters
2025-12-05 12:21:09
Verskuilde talent...

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk speel tafeltennis by ’n ontmoeting met Chinese en Franse tafeltennisspelers en studente by die Sichuan Universiteit in Chengdu in die Sichuan-provinsie in China. Foto: AFP
2025-12-05 12:59:25
Netflix neem Warner Bros. oor in grootste samesmelting in vermaakbedryf
Netflix gaan Warner Bros. Discovery oorneem vir bykans $83 miljard (sowat R1 405 miljard), het dié twee Amerikaanse maatskappye Vrydag in ’n gesamentlike verklaring aangekondig.
Dié reuse-oorname gee Netflix toegang tot ’n omvattende rolprentversameling, asook die gesogte stromingsdiens HBO Max. Die vorigste grootste samesmelting in die vermaaklikheidsbedryf was toe Disney in 2019 Fox vir $71 miljard (sowat R1 202 miljard) aangeskaf het.
Warner Bros. Discovery is bekend om toprolprentreekse soos Harry Potter en Batman, asook gewilde TV-reekse en dokumentêre. HBO Max, deel van die groep, spog met bekroonde reekse soos Game of Thrones, Succession en The Last of Us.
Netflix is die wêreld se grootste bertaalde stromingsdiens met miljoene intekenare. Die oorname dui op toenemende konsolidasie in die bedryf namate maatskappye meeding om inhoud, markaandeel en intekenare. – AFP
2025-12-05 13:01:12
Sneeu in Seoel

Besoekers in tradisionele klere stap op die sneeubedekte gronde van die Gyeongbokgung-paleis in Seoel, hoofstad van Suid-Korea, ná die seisoen se eerste sneeuval. Foto: AFP
2025-12-05 13:29:11
Duitse pensioenwet kry genoeg stemme om deurgevoer te word
Duitsland se koalisieregering het Vrydag ’n meerderheid verseker om ’n omstrede pensioenwetsontwerp in die parlement deur te voer ten spyte van bedenkinge in die jeugfaksie van Friedrich Merz, bondskanselier, se konserwatiewes.
Dit was lank onduidelik of die koalisie, die konserwatiewe CDU/CSU-blok en die gematig linkse Sosiaal-Demokrate (SPD), wat oor ’n skrale regerende meerderheid beskik, genoeg stemme sou kon kry om die wetsontwerp deur te voer.
Die wetsontwerp sal die pensioene van ma’s uitbrei en verdienstelimiete verhoog vir diegene wat ná aftrede werk. Jonger konserwatiewes waarsku dat toekomstige geslagte vir dié koste sal moet vergoed. – Reuters
2025-12-05 13:59:17
Switserse regering kry steun vir ooreenkoms wat betrekkinge met EU versterk
Die Switserse regering het steun ontvang van ’n oorgrote meerderheid van groepe met wie hy gekonsulteer het oor ’n nuwe ooreenkoms wat betrekkinge met die Europese Unie (EU) versterk.
Die regerende Federale Raad sê goeie terugvoering is ontvang oor die voorstelle in die ooreenkoms waaroor verlede jaar onderhandel is.
Die ooreenkoms dek alles van krag tot staatsteun, vervoer en die vryheid van beweging. Switserland sê dis strategies noodsaaklik om stabiele en betroubare betrekkinge te hê in ’n tyd van geopolitieke spanning, wat deur die oorlog in Oekraïne en stygende ekonomiese proteksionisme gekenmerk word.
Sommige in dié neutrale land is wel skepties oor nouer betrekkinge met die EU. – AFP
2025-12-05 14:00:28
Super-verrassing

Bergklimmers wat soos superhelde aangetrek is, bring ’n verrassingsbesoek aan kinders wat teen kanker veg by ’n kinderhospitaal in Pristina, Kosovo. Foto: Reuters
2025-12-05 14:10:39
Duitsland, Brittanje staan sy aan sy, sê Duitse staatshoof
Pres. Frank-Walter Steinmeier van Duitsland het Vrydag ’n kranslegging in Coventry, ’n sentrale Engelse stad wat in die Tweede Wêreldoorlog swaar deur Duitsland gebombardeer is, bygewoon.
Die kranslegging het plaasgevind op die laaste dag van sy driedaagse staatsbesoek aan Brittanje. Vrydag se besoek aan Coventry volg op Steinmeier se toespraak in die Britse parlement Donderdag waar hy na Brittanje as “ ’n vriend” verwys het.
“Ons staan sy aan sy. Nie teen mekaar nie, maar saam – vir vryheid, demokrasie en die waardes wat Europa definieer,” het Steinmeier aan Britse wetgewers gesê. – AFP
2025-12-05 15:02:05
Meer as 1 000 vlugte in Indië gekanselleer ná strenger regulasies
Lugverkeer in Indië is Vrydag vir ’n vierde dag erg ontwrig nadat dié land se IndiGo-lugdiens meer as 1 000 vlugte gekanselleer het, wat alle vlugte vanaf Nieu-Delhi insluit.
Die regering is genoop om spesiale hulpmaatreëls in te stel om die situasie te verlig. Die chaos volg nadat nuwe, strenger regulasies deur die Indiese owerhede ingestel is om lugvaartveiligheid te verbeter. Dié reëls beperk vlieëniers se vliegtye en plaas bykomende beperkings op nagvlugte ten einde moegheid en veiligheidsrisiko’s te minimaliseer. IndiGo erken dat hy nie voldoende beplan het vir die nuwe regulasies, wat op 1 November in werking getree het, nie.
Die krisis raak duisende passasiers en het tot vertragings en ontwrigting oor die land heen gelei. Die owerhede werk aan oplossings om die situasie te stabiliseer en verdere ontwrigting te voorkom. – Reuters
2025-12-05 15:03:26
Maak die pad oop!

Lede van die Griekse onlustepolisie gebruik traangas om boere uiteen te jaag wat die pad na ’n lughawe met hul trekkers versper tydens ’n betoging teen verminderde en vertraagde betaling van Europese Unie-subsidies in Thessaloniki, Griekeland.
Foto: AFP
2025-12-05 15:11:46
Meta verryk gebruikerservaring met betroubare nuus
Die Amerikaanse tegnologiereus Meta het Vrydag aangekondig dat hy eersdaags inhoud van gesaghebbende nuusorganisasies in sy kunsmatige intelligensie (KI)-assistent, Meta AI, gaan integreer.
Dit sal gebruikers van Facebook, Instagram en WhatsApp van intydse nuus en bywerkings voorsien. Volgens Meta sal gebruikers toegang hê tot sowel die nuus as die vermaaklikheids- en leefstylberigte van onder meer CNN, Fox News, Le Monde, People en USA Today.
Die maatskappy sê die doel is om Meta AI meer responsief, akkuraat en gebalanseerd te maak deur uiteenlopende standpunte in te sluit en sal direkte skakels bied na bronwebwerwe vir verdere inligting.
Die nuwe funksie word bekend gestel te midde van groeiende mededinging tussen tegnologiereuse om hul KI-hulpmiddels te verbeter. Meta beplan om nuwe kenmerke bekend te stel namate die klem op regstreekse webinhoud toeneem. – AFP
2025-12-05 16:24:10
Lasbrief vir Poetin bly steeds van krag, sê aanklaers
Die lasbriewe vir die inhegtenisneming van pres. Wladimir Poetin en vyf ander Russe wat van oorlogsmisdade in Oekraïne beskuldig word, sal van krag bly, selfs al word ’n algemene amnestie tydens die Amerikaans geleide vredesgesprekke goedgekeur.
Adv. Mame Mandiaye Niang van Senegal, waarnemende hoofaanklaer, en adv. Nazhat Shameem Khan van Fidji, adjunkaanklaer, van die Internasionale Strafhof sê ’n resolusie van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad sal nodig wees om lasbriewe wat deur dié hof uitgereik is, op te skort.
’n Lasbrief vir Poetin en die ander vyf Russe se inhegtenisneming is uitgereik weens hul beweerde rolle in gruweldade in die oorlog, wat begin het met Rusland se inval in Oekraïne in 2022. – Reuters
2025-12-05 16:29:58
Koninklike beskerming

Lede van die emir van Minna se koninklike wag waak buite die Sentrale Moskee in Minna, Nigerië, tydens gebede. Foto: AFP
2025-12-05 16:38:00
Libanese het genoeg gely, is moeg vir oorlog, sê president
Libanon wil nie ’n oorlog met Israel hê nie, het pres. Joseph Aoun van dié land Vrydag aan ’n afvaardiging van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad gesê.
Dit volg kort nadat Libanese en Israeliese burgerlike verteenwoordigers ná dekades vir die eerste keer weer regstreeks in gesprek getree het om die brose skietstilstand te probeer versterk.
“Die Libanese mense het genoeg gely en daar is geen terugkeer na ’n militêre konfrontasie nie,” sê Aoun.
Hy vra die internasionale gemeenskap om sy weermag se pogings te steun om onwettige gewapende groepe te ontwapen en volgehou dat die besluit onherroeplik is omdat burgers “moeg is vir oorlog”. – AFP
2025-12-05 17:00:47
Trump fokus op sterker weermag om konflik met China te voorkom
Pres. Donald Trump se jongste Amerikaanse veiligheidstrategie beklemtoon die voorkoming van konflik met China oor Taiwan en die Suid-Chinese See deur middel van ’n sterker Amerikaanse en vennootskaplike militêre teenwoordigheid.
In die jongste strategie-dokument voer Trump aan dis ’n prioriteit om militêre oorwig te behou as afskrikmiddel teen moontlike Chinese optrede. China beskou die demokraties geleide Taiwan as sy eie en het nie die gebruik van mag uitgesluit nie, terwyl Amerika wel aan Taiwan verdedigingsmiddele voorsien.Die dokument beklemtoon ook die belang van Japan en Suid-Korea as bondgenote, wat meer moet bydra tot kollektiewe verdediging.
Die strategie poog om te voorkom dat China beheer oor Taiwan neem of die handelsroetes in die streek bedreig. Trump sien die versterking van die weermag en samewerking met bondgenote as die kern tot vrede en stabiliteit. – Reuters
2025-12-05 17:03:16
Miljoene stroom na Notre-Dame sedert herstel ná verwoestende brand
Die Notre-Dame-katedraal in Parys het meer as 11 miljoen besoekers gelok ‘n jaar nadat hy vir die publiek heropen is ná die brand in 2019 wat die katedraal verwoes het.
Die eeu oue katedraal is op 7 Desember 2024 heropen ná meer as vyf jaar se opknappingswerk, in die teenwoordigheid van staatshoofde soos pres. Emmanuel Macron en pres. Donald Trump.
Die Notre-Dame het “meer as 11 miljoen besoekers” verwelkom sedert die heropening, sowat 30% meer as voor die brand, het Sybille Bellamy-Brown, hoofbestuurder van besoekers by die katedraal, Vrydag gesê. – AFP
2025-12-05 17:05:38
Kersfees-golwe

’n Branderplankryer ry ’n golf naby ’n Kersboom wat op die Cardiff-strand in die stad Encinitas in Kalifornië, Amerika, opgerig is.
Foto: Reuters
2025-12-05 18:09:38
Rubio beskuldig EU van sensuur ná reuseboete vir X-platform
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Vrydag die Europese Unie (EU) gekritiseer nadat hy ’n boete van 120 miljoen euro aan Elon Musk se X (voorheen Twitter) opgelê het weens die oortreding van sy digitale regulasies.
“Die Europese Kommissie se boete is nie net ’n aanval op X nie, maar op alle Amerikaanse tegnologiemaatskappye en die Amerikaanse volk deur buitelandse regerings,” skryf Rubio op X.
Die EU het onlangs nuwe digitale regulasies ingestel wat streng voorskrifte aan groot tegnologiemaatskappye stel, oor onder meer aanlyn beskerming, privaatheid, en die hantering van haatspraak of waninligting. Musk se X is een van die eerste maatskappye wat ’n beduidende boete hiervoor ontvang het. – AFP
2025-12-05 18:10:46
DRK: Gevegte woed voort ondanks nuwe vredesooreenkoms
Hewige gevegte duur voort in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), ondanks ’n nuwe vredesooreenkoms wat Donderdag in Washington onder leiding van pres. Donald Trump onderteken is.
Pres. Felix Tshisekedi van die DRK en die Rwandese leier, pres. Paul Kagame, het hul verbintenis tot vrede en groter Westerse mynboubelange bevestig, maar op die grond duur die geweld voort. Die AFC/M23-rebelle, wat nie deel is van die ooreenkoms nie, kla dat regeringsmagte vier dorpe in Suid-Kivu gebombardeer het, met 23 sterfgevalle en talle beseerdes.
Duisende gesinne moes weens die geweld vlug. – Reuters
2025-12-05 18:12:15
Sy stem lig die dak...

Die Italiaanse tenoor Andrea Bocelli tree op tydens die amptelike loting van die Fifa-Wêreldbekersokkertoernooi in 2026 by die John F. Kennedy-sentrum vir die uitvoerende kunste in Washington, DC. Foto: Getty Images
2025-12-05 18:58:07
EU-lande pleit vir hibriede motors ná 2035
Ses lande in die Europese Unie (EU) het die Europese Kommissie gesamentlik in ’n brief versoek om die verkoop van hibriede en ander “groen” motors wat nie net op batterykrag loop nie, ná 2035 toe te laat.
In die brief, onderteken deur die eerste ministers van Bulgarye, Tsjeggië, Hongarye, Italië, Pole en Slowakye, vra hulle dat motors met innoverende en omgewingsvriendelike tegnologie steeds op die mark mag wees.
Die Europese Kommissie beplan om binnekort nuwe maatreëls voor te stel wat Europese motorvervaardigers sal ondersteun, insluitend die moontlike verligting op die beoogde verbod op binnebrandenjins vanaf 2035. Die nuwe voorstelle word op 10 Desember bekendgemaak. – Reuters
2025-12-05 18:59:08
Franse kernbasis tref maatreëls teen geheimsinnige hommeltuie
Vyf onbemande hommeltuie is Donderdagaand bo die hoogs beveiligde Franse basis op Île Longue, waar kernballistiese duikbote gestasioneer is, waargeneem.
Franse militêre magte is onmiddellik ontplooi om die hommeltuie te onderskep. Catherine Vautrin, Franse minister van verdediging, het die personeel se vinnige optrede geprys en benadruk dat sulke oorvlugte by militêre basisse streng verbode is.
’n Geregtelike ondersoek is van stapel gestuur om die voorval te ondersoek. Daar bestaan ’n vermoede dat die geheimsinnige hommeltuigvlugte, wat die afgelope paar maande by verskeie strategiese plekke in Europa plaasgevind het, deel kan wees van Russiese hibriede oorlogvoering.
Die presiese oorsprong van die hommeltuie bly egter nog onbekend. – AFP
2025-12-05 19:00:19
Voorbereiding vir ’n nuwe oorlog?

’n Soldaat klouter op teen ’n ligte amfibiese verkenningsvaartuig van die Amerikaanse vloot tydens militêre maneuvers in Arroyo, Puerto Rico. Foto: Reuters
2025-12-05 19:31:24
Oekraïne, VSA praat Vrydag in Miami oor voorstel vir vrede
Oekraïense onderhandelaars en Amerikaanse amptenare voer Vrydag in Miami, Florida, samesprekings oor die VSA se voorstel om Rusland se inval te beëindig.
Die Oekraïeners sou Donderdag met Steve Witkoff, pres. Donald Trump se spesiale gesant, en Jared Kushner, Trump se skoonseun, vergader het, hoewel amptenare nie bevestig het of die vergadering voortgegaan het nie.
" ’n Ander vergadering word vandag verwag," het Oleksandr Bevz, ’n raadgewer in die kantoor van pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne, gesê. – AFP
2025-12-05 19:37:37
Oekraïense hommeltuig tref wolkekrabber in Rusland
’n Oekraïense hommeltuig het Vrydag teen ’n wolkekrabber vasgevlieg wat regeringskantore huisves in Rusland se streng beheerde Tsjetsjeense Republiek. Die hommeltuig het volgens video’s op sosiale media ’n brand en skade veroorsaak wat oor verskeie verdiepings heen strek.
Ramzan Kadirof, streekshoof, het die aanval op Telegram bevestig en gesê niemand is beseer nie. Hy het bygevoeg: “Sulke dade is bloot pogings om die burgerlike bevolking te intimideer en die indruk van druk te skep.” – Reuters
2025-12-05 19:42:38
Donald se danspassie

Pres. Donald Trump dans nadat die uitslag van die loting vir die Fifa Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2026 by die Kennedy-sentrum in Washington DC aangekondig is. Foto: AFP















