

2025-12-08 03:32:22
Thailand loods lugaanvalle op Kambodja
Thailand het Maandagoggend teen dagbreek lugaanvalle langs sy betwiste grens met Kambodja geloods. Dit volg nadat albei lande mekaar daarvan beskuldig het dat hulle ’n skietstilstand geskend het wat einde Julie onderteken is.
Minstens een Thaise soldaat is dood en vier in die nuwe skermutselings gewond.
Kambodja se ministerie van verdediging sê die Thaise weermag loods op twee plekke aanvalle op sy magte, ná dae van uitlokkende optrede, en dat Kambodjaanse troepe nie daarop gereageer het nie. – Reuters
2025-12-08 04:18:33
Gesprekke met Amerika oor vredesplan nie maklik – Zelenski
Gesprekke met Amerikaanse verteenwoordigers oor ’n vredesplan vir Oekraïne is konstruktief, maar nie maklik nie, het pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne Sondag gesê.
Zelenski het Saterdag ’n oproep met Amerikaanse gesante gehad en sal na verwagting Maandag met Franse, Britse en Duitse leiers in Londen vergader. Verdere gesprekke word in Brussel beplan.
“Die Amerikaanse verteenwoordigers ken die basiese Oekraïense standpunte," sê Zelenski.
"Die gesprek was konstruktief, hoewel nie maklik nie." – Reuters
2025-12-08 04:27:59
Staatsgreeppoging in Benin gefnuik
Pres. Patrice Talon van Benin het Sondagaand gesê die regering en weermag het ’n staatsgreeppoging deur ’n groep soldate gefnuik en belowe om hulle te straf.
Talon se aankondiging kom sowat 12 uur nadat geweervuur vir die eerste keer in verskeie woonbuurte van die stad Cotonou weerklink het. Soldate het op staatstelevisie gesê hulle het Talon uit die mag verwyder.
Magte lojaal aan Talon “het stewig gestaan en ons posisies herower", sê hy.
2025-12-08 04:42:58
Netanyahu bespreek binnekort 2de fase van skietstilstand met Trump
Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het Sondag gesê die tweede fase van ’n Amerikaanse plan om die oorlog in die Gasa-strook te beëindig is naby.
Hy sê egter ook verskeie belangrike kwessies moet nog opgelos word, insluitend of ’n multinasionale veiligheidsmag ontplooi sal word.
Netanyahu sê hy sal aan die einde van die maand belangrike besprekings met pres. Donald Trump voer oor hoe om te verseker dat die tweede fase van die plan bereik word. – Reuters
2025-12-08 05:09:40
Owerhede in Nigerië verseker vrylating van ontvoerde kinders
Die owerhede in Nigerië het die vrylating van 100 ontvoerde kinders verseker wat verlede maand deur gewapende mans uit ’n skool ontvoer is, het ’n bron van die Verenigde Nasies en plaaslike media Sondag gesê.
Die lot van die ander 165 studente en personeellede bly egter onduidelik.
Laat in November is 315 studente en personeellede van die St. Mary’s-kosskool in die Niger-staat ontvoer. Sowat 50 het kort daarna ontsnap. – AFP
2025-12-08 05:28:05
5 dood toe motor by polisiekantoor in Mexiko ontplof
Minstens vyf mense is dood en drie beseer toe ’n motor naby ’n polisiekantoor in Mexiko ontplof het.
Die ontploffing het Saterdag kort voor 12:00 plaaslike tyd voor die polisiehoofkwartier in die kusstad Coahuayana in die geweldaddige provinsie Michoacán plaasgevind.
Drie van die slagoffers was polisiebeamptes, het die kantoor van Mexiko se prokureur-generaal Sondag gesê. – AFP
2025-12-08 05:40:22
Burgemeester op Kersparade in Guatemala doodgeskiet
Gewapende mans in Guatemala het die burgemeester van ’n klein dorpie doodgeskiet wat aan ’n Kersparade deelgeneem het, en een van sy lyfwagte gewond.
Nelson Marroquin (38) is Saterdag in die dorp Obero, 70 km oos van Guatemala-stad, geskiet, het die nasionale vereniging van munisipaliteite Sondag gesê.
Bernardo Arevalo, president van Guatemala, het die moord veroordeel en ’n ondersoek gelas.
Soos baie lande in Sentraal-Amerika, is Guatemala in die greep van ’n epidemie van bendegeweld. – AFP
2025-12-08 06:46:55
Dodetal in Indonesië nou 950 weens grondstortings, oorstromings
Amptenare het tekorte aan voedsel, skuiling en medisyne in dele van Indonesië aangemeld nadat die dodetal Maandag tot 950 gestyg het ná weke van swaar reën wat grondstortings en oorstromings veroorsaak het.
“Daar is ’n tekort aan alles, veral mediese personeel. Ons het ’n tekort aan dokters,” het Moezakir Manaf, goewerneur van die Aceh-provinsie, Sondag laataand aan verslaggewers gesê.
“Basiese noodsaaklikhede is ook belangrik. Dis nie net een of twee items nie.”
Benewens die 950 sterftes word 274 mense nog vermis.
Die dodetal in Sri-Lanka staan op 627. – AFP

’n Lugfoto Sondag wys die toneel van ’n grondstorting in die dorpie Condong in Bandoeng, Wes-Java-provinsie. Foto: AFP
2025-12-08 07:28:09
2 doodgeskiet in besette Wesoewer
Die Israeliese weermag het Sondag gesê sy magte het Saterdag twee mense in die besette Wesoewer doodgemaak.
Een van die oorledenes wou na bewering met ’n voertuig in Israeliese troepe by ’n kontrolepunt inploeg.
Die Palestynse Owerheid het gesê die oorledenes is ’n 55-jarige man en ’n tiener (17).
Die ouer man was ’n sanitasiewerker, het die Palestynse Rooi Halfmaan gesê.
Hy is in sy motor geskiet.
Die weermag het bygevoeg dat ’n tweede, “onbetrokke persoon” getref is, maar het geen verdere inligting verskaf nie. – AFP
2025-12-08 07:39:50
Frankryk beloof meer steun aan Nigerië teen toenemende geweld
Pres. Bola Tinubu van Nigerië het meer hulp van Frankryk versoek om wydverspreide geweld in die noorde van die land te beveg, het pres. Emmanuel Macron van Frankryk Sondag gesê.
Nigerië het oor die afgelope maand ’n toename in aanvalle in gebiede in die noorde ervaar, met onstabiliteit en massa-ontvoerings by skole en ’n kerk.
Macron het gesê hy het Sondag ’n telefoniese gesprek met Tinubu gehad, waar hy Frankryk se steun aan Nigerië herbevestig het terwyl die land worstel met verskeie veiligheidsuitdagings, “veral die bedreiging deur terroriste in die noorde”. – Reuters
2025-12-08 08:05:35
Waterlekkasie by Louvre beskadig honderde werke
’n Waterlekkasie laat in November het honderde werke in die Louvre-museum in Parys se Egiptiese departement beskadig, het die museum Sondag aan AFP gesê.
“Tussen 300 en 400 werke, Egiptologie-joernale en wetenskaplike dokumentasie” wat deur navorsers gebruik word, is geaffekteer.
Die beskadigde items dateer uit die laat 19de en vroeë 20ste eeu en is “uiters nuttig”, maar “geensins uniek” nie, het die museum gesê. – AFP
2025-12-08 08:40:21
Bejaarde Nederlander in dodesel in Indonesië word vrygelaat
’n Bejaarde Nederlander wat 17 jaar gelede in Indonesië ter dood veroordeel is weens dwelmsmokkelary, is Maandag uit ’n gevangenis in Djakarta vrygelaat vir repatriasie na Nederland, het ’n AFP-fotograaf gesien.
Siegfried Mets (74) het uit die Cipinang-gevangenis gestap en is na die Soekarno-Hatta- internasionale lughawe geneem, het ’n regeringsamptenaar bevestig.
Mets, wat in 2008 skuldig bevind is, sal later die dag huis toe vlieg, vergesel van sy mede-Nederlander Ali Tokman (65), wat ’n lewenslange vonnis vir ’n soortgelyke oortreding opgelê is. – AFP
2025-12-08 08:55:40
Kiersersopkoms in Hongkong laag weens woede oor brand
Hongkong se wetgewende verkiesing Sondag het ’n byna rekord-lae opkoms van 31,9% gehad nadat ’n groot brand woede teen sy China-gesteunde owerhede ontlok het.
Inwoners is woedend oor ’n brand by ’n groot woonstelkompleks wat die lewe van minstens 159 mense geëis het en byna twee dae geneem het om te blus nadat dit op 26 November uitgebreek het.
Die owerhede sê swak boumateriaal wat gebruik is in die opknapping van die kompleks is een van die redes vir die brand. – Reuters
2025-12-08 09:38:13
Beskermde struktuur om Tsjernobil kan nie meer bestraling blokkeer
Die Vernigde Nasies se kernwaghond sê dat die beskermende struktuur rondom die ontplofte reaktor by Tsjernobil in Oekraïne nie meer sy hooffunksie, naamlik om bestraling te blokkeer, kan verrig nie.
Dit volg ná ’n Russiese hommeltuigaanval vroeër vanjaar.
Inspekteurs van die kernwaghond het op 1 Desember ’n seldsame besoek aan Oekraïne afgelê om die status te beoordeel van belangrike elektriese substasies wat die land se drie kernkragaanlegte van krag voorsien.
As deel van die reis het die span ook di Nuwe Veilige Inperking (NSC)-struktuur van die Tsjernobil-terrein nagegaan.
Die NSC is ingestel om die vrystelling van radioaktiewe materiaal te stop ná die ontploffing van een van sy reaktors in 1986. – AFP
2025-12-08 09:55:41
Nog Iraniërs deur Amerika gedeporteer
Vyf en vyftig Iraniërs wat van Amerika gedeporteer is, sal in die komende dae na hul vaderland terugkeer, het Iran se ministerie van buitelandse sake Sondag gesê.
Dit is die tweede sodanige deportasie onder pres. Donald Trump se regering in pogings teen onwettige immigrasie.
Amptenare het in September gesê Amerika het ongeveer 400 Iraniërs geïdentifiseer wat gedeporteer gaan word. Net 120 is toe gedeporteer.
Die deportasies dui op ’n ongewone oomblik van koördinering tussen twee nasies wat in ’n stryd gewikkel is oor Iran se kernwapenprogram. – Reuters
2025-12-08 10:29:19
114, van wie 63 kinders, dood in aanval op hospitaal, kleuterskool, in Soedan
Die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie het Maandag gesê dat 114 mense, van wie 63 kinders, verlede Donderdag dood is in “sinnelose” aanvalle op ’n hospitaal en kleuterskool in Soedan. 35 mense is ook beseer.
“Herhaalde aanvalle in die staat Suid-Kordofan het ’n kleuterskool en die nabygeleë Kalogi- landelike hospitaal minstens drie keer getref,” het Tedros Adhanom Ghebreyesus gesê.
Hy het gepleit vir ’n skietstilstand. Die Soedanse weermag is in ’n burgeroorlog met die paramilitêre Blitsondersteuningsmag gewikkel. – AFP
2025-12-08 10:35:56
Grondgebied grootste kwessie oor vrede in Oekraïne
Die kwessie van grondgebied is steeds die “mees problematiese” in gesprekke oor die beëindiging van die oorlog in Oekraïne, het ’n amptenaar vertroud met die onderhandelinge Maandag aan AFP gesê.
“Pres. Wladimir Poetin wil nie ’n ooreenkoms sonder grondgebied aangaan nie. Dus soek hulle na enige opsies om te verseker dat Oekraïne grondgebied afstaan,” het die amptenaar, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, gesê.
“Die Amerikaners plaas druk, soos ‘vinniger, vinniger, vinniger’”, en Oekraïne “kan nie tot alles instem sonder om die besonderhede uit te werk nie”. – AFP
2025-12-08 10:48:55
Vermeende skieter by winkelsentrum in Noorweë vasgetrek
Die polisie in Noorweë het ’n verdagte in hegtenis geneem nadat hulle berigte ontvang het van geweervuur by Oslo se grootste winkelsentrum.
Die polisie sê in ’n verklaring geen gewondes is gevind nie en dit is veilig om die sentrum te heropen nadat dit vroeër ontruim is.
“Dit blyk dat daar slegs een oortreder was,” lui die verklaring.
Die verdagte het die polisie gebel voordat hy ’n enkele skoot in die plafon afgevuur het. – Reuters
2025-12-08 11:15:08
Zelenski vergader ook met leiers van Navo en EU
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne sal Maandag met die hoofde van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) en die Europese Unie (EU) vergader in die jongste diplomatieke poging om die oorlog met Rusland te beëindig.
Die Brusselse vergadering met Navo se Mark Rutte en die EU se Ursula von der Leyen sal plaasvind nadat Zelenski met die leiers van Brittanje, Frankryk en Duitsland in Londen vergader het.
Zelenski sal ook met Antonio Costa, president van die Europese Raad, vergader. – AFP

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne. Foto: Getty Images
2025-12-08 11:22:12
DRK ervaar sy grootste cholera-uitbreking in 25 jaar
Die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) ervaar sy ergste cholera-uitbreking in 25 jaar, wat sedert Januarie byna 2 000 lewens geëis het, sê Unicef, die Verenigde Nasies (VN) se kinderagentskap.
In een uitbreking is 'n kwart van die kinders in 'n weeshuis in Kinshasa dood, sê Unicef.
Cholera is 'n ernstige en potensieel dodelike diarree-siekte wat vinnig versprei wanneer riool en drinkwater nie voldoende behandel word nie.
Volgens John Agbor, woordvoerder van Unicef, moet Kongolese kinders nie so ernstig geraak word deur wat as 'n heeltemal voorkombare siekte beskou word nie. – Reuters
2025-12-08 11:30:02
Pynlike herinnering...

'n Siriese man neem 'n foto van 'n collage van mense wat in die Siriese oorlog dood is by 'n uitstalling in Damaskus ter herdenking van die val van die Basjar al-Assad-regime. Vandag is die eerste herdenking van rebellemagte se oorname van Damaskus en die omverwerping van die langdurige heerser. Foto: Getty Images
2025-12-08 12:16:58
EU verwerp Musk se 'mal stellings'
Die Europese Unie (EU) het Elon Musk se kritiek verwerp nadat sy platform, X, met €120 miljoen beboet is omdat dit die EU se digitale regulasies oortree het.
Paula Pinho, EU-woordvoerder, sê die organisasie beskou selfs Musk se “heeltemal mal stellings” as deel van vryheid van spraak.
Musk beskryf die EU as ’n “burokratiese monster” wat volgens hom afgeskaf moet word sodat individuele lande hul soewereiniteit kan terugkry. Hy het wel bygevoeg dat hy van Europa hou, maar nie van die huidige EU-stelsel nie.
Die boete volg op 'n ondersoek na die hantering van digitale regulasies deur X, onder Musk se leiding – 'n saak wat beskou word as 'n toets vir die EU se rol om groot tegnologiemaatskappye streng te reguleer en tot verantwoording te roep. – AFP
2025-12-08 12:26:51
Meta gaan EU-gebruikers laat kies oor deel van data
Die Amerikaanse tegnologiereus Meta het ingestem om aan Facebook- en Instagram-gebruikers in die Europese Unie (EU) ’n werklike keuse te bied oor persoonlike advertensies, soos vereis deur die EU se wetgewing oor digitale markte.
Volgens die Europese Kommissie sal Meta-gebruikers die opsie kry om óf in te stem dat al hul data gebruik word en daarmee saam volle persoonlike advertensies te sien, óf om minder data te deel en slegs beperkte persoonlike advertensies te kry.
Hierdie nuwe opsies gaan van Januarie af vir EU-gebruikers beskikbaar wees. Die Europese Kommissie het Meta in Junie gewaarsku oor moontlike daaglikse boetes nadat die maatskappy gesê het hy sal slegs beperkte veranderings maak om aan die nuwe wetgewing te voldoen.
Dit volg nadat Meta in April ’n boete van €200 miljoen opgelê is nadat die EU beslis het dat hy nie aan die wetgewing voldoen nie. – Reuters
2025-12-08 12:34:06
Deur ’n slagveld...

’n Man op krukke loop verby ’n verwoeste gebou waarop ’n muurskildery geverf is in die Maghazi-vlugtelingkamp buite Deir al-Balah in die Gasastrook. Foto: AFP
2025-12-08 13:04:43
Nigerië stuur oorlogsvliegtuie, troepe oor staatsgreeppoging in Benin
Nigerië het Maandag vegvliegtuie en grondmagte ontplooi om te help om orde te herstel ná ’n mislukte staatsgreeppoging in Benin. Die doel is om ’n politieke krisis te voorkom in ’n land wat onder djihadiste gebuk gaan en ’n belangrike handelsroete in Wes-Afrika is.
Dit is Nigerië se eerste militêre ingryping in die buiteland in byna 10 jaar. Volgens ontleders is Nigerië bekommerd dat ’n vyandige militêre regering aan die bewind kan kom wat tot groter onstabiliteit en die oorspoel van die geweld na Nigerië kan lei.
’n Groep soldate het probeer om Benin oor te neem, maar is deur die regering gestuit. – Reuters
2025-12-08 13:16:23
Boere in Griekeland bots met polisie oor subsidies
Onluste het Maandag naby Kreta se internasionale lughawens in Griekeland uitgebreek toe boere met die polisie gebots het oor vertraagde subsidies van die Europese Unie (EU).
Boere, gewapen met klippe en stokke, het die polisie se pad versper en polisievoertuie by die Chania-lughawe beskadig. Die polisie het traangas afgevuur, maar moes uiteindelik terugval toe boere ’n polisiewa omgekeer het. Geweld het ook by die Heraklion-lughawe uitgebreek toe boere ’n padblokkade probeer omseil het.
Boere versper sedert November hoofweë in Griekeland uit protes oor vertraagde steun, wat gestaak is terwyl die EU beweerde bedrog van oor die €30 miljoen ondersoek. – AFP

Boere betoog by die Heraklion- internasionale lughawe oor vertraagde subsidies van die Europese Unie (EU) nadat die polisie die hooftoegangspad in Heraklion, op die eiland Kreta, gesluit het. Foto: AFP
2025-12-08 13:26:05
Zelenski vergader met Europese leiers

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne arriveer by 10 Downing Street in Londen vir ’n vergadering met die leiers van Brittanje, Frankryk en Duitsland oor ’n vredesvoorstel vir die oorlog met Rusland. Foto: Reuters
2025-12-08 14:02:06
Nigerië ondersoek vermeende orgaan-oes-netwerk ná gruvonds
Polisie in Imo, ’n deelstaat in die suidooste van Nigerië, het ’n hotel en private lykshuis gesluit wat glo aan ’n vermeende ontvoerder behoort nadat tientalle ontbinde en verminkte lyke die naweek in ’n klopjag daar gevind is.
Dit het die vermoede van die onwettige oes van organe laat ontstaan.
Volgens die polisie is meer as 100 lyke in die hotel en lykshuis ontdek.
Die vermeende baasbrein is nog op vrye voet. – Reuters
2025-12-08 14:05:21
‘One Battle After Another’ kry 9 Golden Globe-benoemings
Die donker komedie One Battle After Another, met Leonardo DiCaprio in die hoofrol, het Maandag met nege benoemings boaan die lys van fliekbenoemings vir Hollywood se Golden Globe-eerbewyse gestaan.
Die Noorse familiedrama Sentimental Value het agt benoemings ontvang.
Akteurs wat benoem is, sluit in DiCaprio vir sy rol as ’n afgeleefde revolusionêr in One Battle After Another, Dwayne Johnson vir The Smashing Machine en Jessie Buckley vir Hamnet.
Die wenners word deur vermaakjoernaliste van oor die wêreld heen gekies en op ’n seremonie op 11 Januarie in Beverly Hills bekend gemaak. – Reuters
2025-12-08 14:07:16
Behulpsame olifante

Olifanthanteerders (mahouts) en hul olifante help Maandag om boomstompe in ’n rivierloop op te ruim ná vloede en oorstromings in Meureudu in Indonesië se Aceh-provinsie. Die dodetal weens die vloede ná weke van swaar reën het Maandag op 950 gestaan. Foto: AFP
2025-12-08 14:38:29
Japan waarsku oor 3 m hoë tsoenami ná aardbewing van 7,2
’n Tsoenami van tot 3 m hoog kan Japan se noordoostelike kus tref nadat ’n aardbewing met ’n voorlopige sterkte van 7,2 Maandag aan die kus plaasgevind het, het die Japanse Meteorologiese Agentskap gesê. – Reuters
2025-12-08 15:04:01
Verdagte in Brasiliaanse Matisse-diefstal geïdentifiseer
Die Brasiliaanse polisie het een verdagte geïdentifiseer ná die diefstal van agt Henri Matisse-afdrukke uit ’n biblioteek in Sao Paulo en het die verdagtes se wegkomvoertuig gevind, het owerhede Maandag aangekondig.
Twee gewapende mans het Sondag die kunswerke uit die Mario de Andrade-biblioteek gesteel, asook vyf werke deur die Brasiliaanse skilder Candido Portinari, nadat hulle ’n veiligheidswag en ’n bejaarde egpaar wat die biblioteek besoek het, aangehou het, het die polisie vroeër in ’n verklaring gesê. – AFP
2025-12-08 15:29:49
Sri Lanka verdubbel troepe vir vloedramphulp
Sri Lanka het die ontplooiing van soldate verdubbel in streke wat deur ’n golf van verwoesting getref is as gevolg van ’n sikloon wat 635 lewens geëis het.
Meer as 2 miljoen mense – byna 10% van die bevolking – is geraak deur die ramp wat deur die sikloon Ditwah veroorsaak is, die ergste dié eeu vir die eiland.
Die weermag het Maandag gesê 38 500 personeellede is ontplooi om hand by te sit om hulp- en opruimingsoperasies in vloedgeteisterde gebiede te versterk. Dit is byna dubbel die aanvanklike ontplooiing. – AFP
2025-12-08 15:45:48
‘Moet jou nie aan Larry steur nie’

Larry die kat stap Maandag verby terwyl Keir Starmer, Britse premier, pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne by 10 Downing Street groet, waar die E3-lede – Frankryk, Duitsland en Brittanje – in Londen oor Oekraïne vergader het. Foto: Reuters
2025-12-08 16:02:03
13 sterf in geweldgeteisterde Ecuador-tronk
13 gevangenes het die naweek in ’n tronk in Ecuador gesterf waar 44 mense die afgelope maand in geweld dood is, het owerhede Maandag gesê.
Die sterftes Sondag was in die tronk in die kusstad Machala in die suidweste van die land.
Die staatsgevangenisowerheid het in ’n verklaring gesê die polisie het die lyke gevind ná “die ontploffing van ’n ploftoestel” buite die tronk.
Luidens plaaslike mediaberigte was die sterftes as gevolg van versmoring.
Die ontploffing, sowat 100 m van die tronk af, is veroorsaak deur ’n hommeltuig wat gebruik is om tronkbewaarders te mislei, het die berigte gelui. – AFP
2025-12-08 16:06:09
Voormalige Ecuadoriaanse president moet teregstaan, gelas hof
’n Ecuadoriaanse hof het Maandag gelas dat die voormalige president Lenín Moreno tereg moet staan op aanklagte van omkopery wat verband hou met die bou van die land se grootste hidroëlektriese kragstasie.
Die saak, wat die eerste keer in Maart 2023 deur aanklaers aan die lig gebring is, verbind Moreno, lede van sy familie en plaaslike sowel as Chinese sakemedepligtiges aan omkoopgeld wat ontvang is vir die bou van die Coca Codo Sinclair-kragaanleg.
Dié aanleg het in 2016 begin funksioneer en het sedertdien tegniese probleme ondervind. – Reuters
2025-12-08 16:36:14
Onbevlekte aandag

Mense neem Maandag die Onbevlekte Ontvangenis-vieringsgebed in Rome, wat deur pous Leo bygewoon is, vanuit ’n venster waar. Foto: Reuters
2025-12-08 17:15:55
Drie Nederlandse partye vorm dalk saam nuwe regering
Drie Nederlandse partye gaan probeer om saam ’n regering te vorm, het Sybrand van Haersma Buma, onderhandelaar, Maandag gesê.
Die betrokke partye is D66, wat die onlangse verkiesing gewen het; die Christen-Demokrate (CDA); en die sakevriendelike VVD-party.
Buma sê hulle kan ’n kleiner regering vorm met net die drie partye of ’n groter regering as nog ’n party aansluit. As net drie partye saamwerk, het hulle 66 van die 150 setels en moet hulle ander partye se steun kry vir elke nuwe besluit. “Die volgende stap is om te kyk hoe ons meer steun kan kry.”
Meer partye kan dalk nog aansluit. – Reuters
2025-12-08 17:22:08
Yanks kry gratis toegang tot Amerikaanse parke op Trump se verjaardag
Amerikaners sal op pres. Donald Trump se verjaardag op 14 Junie, wanneer hy 80 jaar oud word, gratis toegang verkry tot nasionale parke, het sy administrasie aangekondig.
Dis deel van pogings om Trump se profiel te verhoog. Maar op twee ander nasionale dae – Martin Luther King Jr.-dag en die dag wat die einde van slawerny herdenk – sal toegang tot die parke nie gratis wees nie.
Volgens die Trump-administrasie is dié veranderinge, wat vanaf 1 Januarie geld, bedoel om Amerikaners eerste te stel. Kritici meen egter die nuwe reëls plaas die fokus op Trump, terwyl belangrike aspekte van die Amerikaanse geskiedenis, soos slawerny en burgerregte, weggelaat word. – AFP
2025-12-08 17:29:28
Onbevlekte ontvangs

Pous Leo XIV waai vir die skare vanaf die pousmobiel in die Via dei Condotti voor die viering van die Onbevlekte Ontvangenis-gebed naby die Piazza di Spagna in Rome, Italië.
Foto: Getty Images
2025-12-08 18:03:43
Kragtige aardbewing tref Japan, duisende moet vlug
’n Kragtige aardbewing van 7.5 het Noordoos-Japan Maandagaand geskud. Ongeveer 90 000 mense moes hul huise verlaat nadat tsoenami-waarskuwings uitgereik is.
Die Japanse weeragentskap sê ’n tsoenami van tot 3 m kan die kus tref nadat die aardbewing om 23:15 (plaaslike tyd) plaasgevind het. Waarskuwings is uitgereik vir Hokkaido, Aomori en Iwate.
Klein tsoenami’s is reeds by verskeie hawens opgemerk. Die aardbewing se episentrum was sowat 80 km van Aomori se kus, 54 km diep.
Treindienste is opgeskort. Geen probleme is by kernkragstasies aangemeld nie, hoewel honderde huishoudings aanvanklik sonder kragtoevoer was. Staatsamptenare het gewaarsku dat meer skokke kan volg. – Reuters
2025-12-08 18:11:52
Antieke Egiptiese plesierboot van 2 000 jaar oud by Alexandrië gevind
Argeoloë het Maandag aangekondig dat hulle 'n 2 000 jaar oue wrak van ’n antieke Egiptiese plesierboot aan die kus van Alexandrië ontdek het.
Duikers het die romp van die vaartuig, wat meer as 35 m lank en sowat 7 m breed is, naby die hawe van die eiland Antirhodos gevind, sê die Europese instituut vir onderwater-argeologie.
Griekse graffiti is op die vaartuig gevind wat “moontlik uit die eerste helfte van die eerste eeu n.C. dateer” en “dit ondersteun die idee dat die skip in Alexandrië gebou is”.
Die boot “het ’n luuks versierde kajuit en was uitsluitlik met roeispane aangedryf,” het die instituut bygevoeg. – AFP
2025-12-08 18:13:06
Wegkruipertjie...

Soldate van Oekraïne skuil teen ’n Russiese gevegshommeltuig in ’n gebou wat beskadig is deur ’n Russiese aanval in die frontliniedorp Kostiantiniwka in die Donetsk-streek in Oekraïne. Foto: Reuters
2025-12-08 19:03:28
Russiese soldate tronk toe oor moord op VSA-vrywilliger
Drie Russiese soldate is Maandag tot meer as 10 jaar tronkstraf gevonnis weens die marteling van en moord op Russell Bentley, ’n 63-jarige Amerikaanse burger wat as vrywilliger vir Rusland teen Oekraïne geveg het.
Bentley het in April verlede jaar naby die Russies-beheerde Donetsk-streek verdwyn. Ondersoekers het bevind dat die soldate hom gemartel en doodgeslaan het, en toe probeer het om die misdaad weg te steek deur sy lyk in ’n motor op te blaas.
’n Militêre hof in Donetsk het twee soldate tot 12 jaar en ’n derde tot 11 jaar gevangenisstraf gevonnis. – Reuters
2025-12-08 19:22:19
Europa se vredesplan nou na VSA; geen grond aan Rusland – Zelenski
Die samesprekings Maandag met leiers van Brittanje, Duitsland en Frankryk in Londen was produktief, die vredesvoorstelle word gefinaliseer en sal Dinsdag met Amerika gedeel word, het pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne gesê.
Volgens hom sluit die nuwe voorstelle oor hoe om die oorlog van bykans vier jaar te beëindig, 20 punte in, maar daar is steeds geen kompromie oor grondgebied nie.
"Stel ons die afstaan van grondgebied in die vooruitsig? Volgens Oekraïense wetgewing, ons grondwet en internasionale reg, het ons het geen wetlike reg om dit te doen nie. En ons het ook geen morele reg nie," het Zelenski op ’n aanlyn perskonferensie gesê. – Reuters, AFP
2025-12-08 19:24:13
Dit was eers ryslande

’n Lugfoto van verspoelde ryslande by Meureudu in Indonesië se Aceh-provinsie ná onlangse vloede en oorstromings. Die dodetal in Indonesië weens die vloede ná weke van swaar reën het Maandag op 950 gestaan. Foto: AFP
2025-12-08 20:02:19
2 Afgaanse tieners wat 15-jarige in Engeland verkrag, gevonnis
Twee Afgaanse tiener-asielsoekers, wat albei die afgelope jaar alleen in Brittanje aangekom het, is Maandag gevonnis weens die verkragting van ’n 15-jarige meisie in sentraal-Engeland.
Die seuns, albei 17 jaar oud, het die aanval in Mei in ’n park in Leamington Spa uitgevoer nadat hulle die meisie, wat toe baie dronk was, van haar vriende weggeneem het, het aanklaers aan ’n hof in Warwick gesê.
Die een is tot 10 jaar en agt maande in aanhouding gevonnis, terwyl die ander een tot nege jaar en 10 maande in aanhouding gevonnis is. – Reuters
2025-12-08 20:19:48
China moet druk op Rusland uitoefen oor Oekraïne – Duitsland
Johann Wadephul, Duitsland se minister van buitelandse sake, het Maandag met ’n besoek aan Beijing gesê hy het Chinese amptenare versoek om hul invloed te gebruik om die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te help beëindig.
"As daar een land ter wêreld is wat ’n sterk invloed op Rusland het, is dit China," het Wadephul gesê.
China, ’n belangrike Russiese handelsvennoot, het gesê hy handhaaf ’n neutrale standpunt oor die oorlog en weerhou hom daarvan om Rusland se inval te veroordeel. – AFP
2025-12-08 20:43:04
Nee, dis myne!

Twee goue apporteerhonde stoei Maandag om ’n stok in ’n modderpoel by ’n saamtrek in Buenos Aires, Argentinië, waar gepoog is om ’n wêreldrekord vir die grootste byeenkoms van dié honderas te op te stel. Foto: Reuters
2025-12-09 03:42:38
Katolieke Kerk in NY stem in tot bemiddeling oor seksuele misbruik
Die Rooms-Katolieke Kerk in New York en meer as 1 300 beskuldigers het Maandag aangekondig dat hulle tot bemiddeling ingestem het om eise van seksuele misbruik te skik. Soortgelyke sake teen die Katolieke Kerk in Amerika het tot miljarde dollars in uitbetalings gelei.
Met siviele litigasie teen die aartsbisdom van New York wat volgende jaar verhoor sal word, het die aartsbisdom ingestem om oor die volgende twee maande oor skikkings te onderhandel.
Dit bestaan uit sowat 300 van die 1 311 beskuldigers wie se eise van 1952 tot 2020 dateer, sê Jeff Anderson, prokureur. – Reuters
2025-12-09 04:01:27
Botsings tussen Thailand en Kambodja duur voort
Thailand het Dinsdag gesê hulle doen stappe om magte van Kambodja uit hul gebied te verdryf, terwyl hernude gevegte tussen die twee buurlande langs hul betwiste grens versprei.
Elke kant neem die ander kwalik vir die botsing wat volg nadat ’n skietstilstand einde Julie ná vyf dae van gevegte onderteken is.
Kambodja se ministerie van verdediging sê twee burgerlikes is oornag dood, wat die dodetal op ses te staan bring. Een Thaise soldaat is in die gevegte dood. – Reuters
2025-12-09 04:22:10
Tsoenami-waarskuwings opgehef ná aardbewing in Japan
Die owerhede in Japan het Dinsdag tsoenamiwaarskuwings opgehef ure nadat ’n kragtige aardbewing van 7,5 die noordoostelike streke getref het.
Minstens 30 mense is beseer en ongeveer 90 000 inwoners moes hul huis ontruim.
Die aardbewing het Maandag om 23:15 plaaslike tyd langs die noordoostelike kus plaasgevind. Geen aansienlike skade is aangemeld nie. – Reuters
2025-12-09 04:30:56
Lugdienste moet gesonder opsies vir kos bied, vra Trump-administrasie
Die Trump-administrasie wil hê lugdienste en lughawens moet reisigers gesonder opsies vir voedsel bied, asook oefentoerusting en gesinsvriendelike geriewe soos speelruimtes en verpleeggeriewe.
Sean Duffy, Amerikaanse minister van vervoer, het op ’n mediakonferensie gesê hy het die meerderheid van die uitvoerende hoofde van groot Amerikaanse lugdienste gebel en gevra wat hulle kan doen om die reiservaring te verbeter.
Duffy het verlede maand lugdienste aangespoor om gesonder voedselopsies op vliegtuie by te voeg en pretzels en kaloriebelaaide koekies te laat vaar. – Reuters
2025-12-09 05:01:52
Israel betree kantoor van VN in Oos-Jerusalem
Die owerhede in Israel het Maandag die Verenigde Nasies (VN) se kantoor vir die Palestynse vlugtelingagentskap in Oos-Jerusalem-kantoor binnegegaan en Israel se vlag gehys.
Volgens Israel is dit gedoen weens onbetaalde eiendomsbelasting, maar die VN het die voorval as ’n uitdaging van internasionale reg bestempel.
Die VN se Hulp- en Werkagentskap, wat deur Israel van vooroordeel beskuldig is, gebruik nie die gebou sedert die begin van vanjaar nie nadat Israel hom beveel het om al sy persele te verlaat en sy bedrywighede te staak. – Reuters
2025-12-09 05:06:46
Trump kritiseer EU se boete teen Musk se X
Pres. Donald Trump het Maandag ’n boete wat die Europese Unie (EU) se tegnologiereguleerders Elon Musk se sosialemediamaatskappy, X, opgelê het, ’n “nare een” genoem.
X is verlede week met €120 miljoen beboet weens die oortreding van aanlyn reëls oor inhoud.
“Europa gaan in ’n paar slegte rigtings,” het Trump aan verslaggewers gesê.
“Ek sien nie hoe hulle dit kan doen nie.”
Trump sê Musk het hom nie gebel om hulp met die kwessie te vra nie.
“Europa moet baie versigtig wees." – Reuters
2025-12-09 05:21:18
Uit die kloue van ontvoerders: 100 skoolkinders in Nigerië gered

Skoolkinders wat van St. Mary’s-skool ontvoer is, poseer Maandag vir ’n foto nadat hulle by die Niger-staatsregeringsgebou aangekom het ná hul redding in Minna, Nigerië. Die presiese besonderhede oor hul redding is nie openbaar gemaak nie. Maandag is berig die owerhede het die vrylating van 100 ontvoerde kinders verseker. Die lot van die ander 165 studente en personeellede bly egter onduidelik. Laat in November is 315 studente en personeellede van die St. Mary’s-kosskool in die Niger-staat ontvoer. Sowat 50 het kort daarna ontsnap. Foto: Reuters
2025-12-09 06:02:43
Voormalige persoonlike prokureur van Trump bedank ná onregmatige aanstelling
’n Voormalige persoonlike prokureur van pres. Donald Trump het Maandag as ’n hoof- federale aanklaer bedank, ’n week nadat ’n appèlhof beslis het sy is onregmatig aangestel.
Alina Habba (41) het haar bedanking as waarnemende Amerikaanse aanklaer vir die Distrik van New Jersey aangekondig.
“Ek het besluit om te bedank,” sê Habba.
“Maar moenie my inskiklikheid met oorgawe verwar nie. Hierdie besluit sal nie die departement van justisie verswak nie, en dit sal my nie verswak nie.” – AFP
2025-12-09 06:17:48
Militante vermoor 6 Pakistanse soldate
Ses soldate is dood toe militante ’n veiligheidskontrolepunt in die noordweste van Pakistan naby die Afgaanse grens bestorm het, het drie polisie- en veiligheidsbronne Dinsdag gesê.
Die aanval in die voormalige stamdistrik Koerram kom terwyl Pakistan en Afganistan sukkel om ’n brose skietstilstand te handhaaf nadat botsings in Oktober by die grens tientalle lewens geëis het.
Geen groep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar wat volgens bronne tussen Maandagaand en Dinsdagoggend plaasgevind het nie. – Reuters
2025-12-09 07:02:42
Litaue kondig noodtoestand af weens gesmokkelde ballonne
Litaue het Dinsdag ’n noodtoestand afgekondig weens bedreigings vir openbare veiligheid deur gesmokkelde ballonne wat uit Belarus kom, het die regering gesê.
Litaue beskuldig Belarus daarvan dat hulle smokkelaars toelaat om weerballonne te gebruik om onwettige goedere oor die grens te versend.
Belarus ontken die beskuldiging.
Die Vilnius-lughawe is herhaaldelik gedwing om bedrywighede te staak weens die ballonne.
Die duur van die noodmaatreëls was nie onmiddellik bekend nie. – Reuters
2025-12-09 07:34:16
Eienaars van nagklub waar 25 sterf, verlaat land ure daarna
Die eienaars van ’n nagklub in die deelstaat Goa in Indië het die land verlaat ure nadat ’n brand oor die afgelope naweek die lewe van 25 mense geëis het, het die polisie gesê.
Die meerderheid van die slagoffers van die brand was werknemers.
Die brand is waarskynlik veroorsaak deur “elektriese klappers”, het amptenare gesê.
Die meeste van die slagoffers het versmoor.
Die eienaars van die klub, die broers Saurabh en Gaurav Luthra, het “onmiddellik ná die voorval” ’n vlug na Phuket in Thailand gehaal, het die polisie Maandag laataand in ’n verklaring gesê. – AFP
2025-12-09 07:49:00
Moskou hoor nog niks oor gesprekke tussen VSA, Oekraïne
Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, het Maandag gesê Moskou het nog geen nuus ontvang oor die uitkoms van gesprekke in Florida oor ’n vredesplan vir Oekraïne nie.
“Op die oomblik weet ons nie wat die uitkoms van die gesprekke was nie,” het Peskof gesê.
Die gesprekke tussen die twee lande het tot die afgelope Saterdag geduur.
“Wanneer ons inligting ontvang, sal dit duidelik raak hoe ons volgende moet optree en watter koers ons moet inslaan.” – Reuters
2025-12-09 08:33:19
Organisasies plaas druk op Duitsland oor Afgaanse vlugtelinge
Meer as 250 menseregte-organisasies het Dinsdag hernude druk op die Duitse regering geplaas om 1 800 Afgaanse burgers wat in Pakistan gestrand is, na Duitsland te bring.
Die Afgane moet in die komende weke ’n ander heenkome vind om te verhoed dat hulle na Afganistan gedeporteer word en deur die Taliban vervolg word, het die groepe gesê.
Die Afgane is aanvaar ingevolge ’n program vir vlugtelinge wat deur die vorige Duitse regering ingestel is, maar hulle is in Pakistan sedert Friedrich Merz, bondskanselier van Duitsland, in Mei aan bewind gekom het en die program bevries het.
Bykans 350 mense het ingevolge die skema na Duitsland gereis. – AFP
2025-12-09 08:44:22
4 dood, 1 vermis wat op Kanariese eiland deur golf meegesleur is
Vier mense is oor die afgelope naweek op die Kanariese eiland Tenerife van Spanje dood en een persoon word vermis nadat ’n golf baaiers meegesleur het.
Twee van die slagoffers was van Roemenië en twee van Slowakye, het hul onderskeie regerings gesê.
Twee mans en ’n vrou is Sondag dood nadat hulle ’n gedeelte van die kuslyn besoek het wat vir die publiek gesluit was weens sterk deinings wat die eiland getref het.
Reddingswerkers kon ook daarin slaag om ’n vierde slagoffer wat ’n hartaanval gekry het, by te bring, maar sy is Maandag in ’n hospitaal oorlede. – AFP
2025-12-09 08:55:30
Man gevonnis wat vrou 7 jaar gelede in Australië vermoor
Rajwinder Singh (41), ’n oudverpleër van Indië, is Maandag in Australië skuldig bevind aan die moord op Toyah Cordingley (24).
Cordingley is minstens 26 keer gesteek toe sy in Oktober 2018 op ’n Sondagmiddag met haar hond gaan stap het.
Haar lyk is deur haar pa tussen sandduine gevind.
Singh het ’n dag later na Indië gevlug, waar hy vier jaar ’n voortvlugtige was.
Hy is nou tot lewenslange tronkstraf gevonnis en moet ’n minimum tydperk van 25 jaar agter tralies deurbring voordat hy vir parool in aanmerking kan kom. – BBC, ABC News
2025-12-09 09:13:55
Minstens 20 dood, verskeie vasgekeer in gebou-brand in Indonesië
Minstens 20 mense is Dinsdag dood toe ’n brand in ’n gebou van sewe verdiepings in Djakarta, Indonesië, uitgebreek het, berig die plaaslike uitsaaier Kompas TV.
Verskeie mense is steeds in die gebou vasgekeer.
Die brand is geblus terwyl pogings voortduur om die gebou te ontruim.
Die brand het omstreeks twaalfuur op die eerste verdieping uitgebreek en toe na die boonste verdiepings versprei, het ’n polisiebeampte gesê.
Die gebou is die kantoor van Terra Drone Indonesia, wat hommeltuie vir lugopname-bedrywighede verskaf aan kliënte van die mynbou- tot die landbousektore. – Reuters
2025-12-09 09:22:14
Oorskot van Thaise gyselaar gerepatrieer

Mense woon Dinsdag ’n seremonie by, by die Ben Gurion- internasionale lughawe in Lod, Israel, vir die repatriasie van die oorskot van 'n Thaise gyselaar Sudthisak Rinthalak.
Hy was ’n landbouwerker wat volgens die Gyselaarsfamilieforum op 7 Oktober 2023 naby Kibbutz Beeri deur Hamas vermoor is. Sy lyk is toe na die Gasastrook geneem. Hy was 43 jaar oud ten tyde van sy dood. Sy oorskot is verlede week deur Hamas via die Rooi Kruis oorhandig en is toe deur Israel geïdentifiseer. Foto: Reuters
2025-12-09 09:49:43
Litaue oordryf oor voorvalle met ballonne, sê Belarus
Pres. Alexander Loekasjenko van Belarus sê Litaue oordryf oor voorvalle met ballonne, maar dat hy nie ’n oorlog met sy buurland wil hê nie.
Vroeër is berig Litaue het Dinsdag ’n noodtoestand afgekondig weens bedreigings vir openbare veiligheid deur gesmokkelde ballonne wat uit Belarus kom.
Litaue beskuldig Belarus daarvan dat hy smokkelaars toelaat om weerballonne te gebruik om onwettige goedere oor die grens te versend.
Belarus ontken die beskuldiging. “Wil hulle regtig veg? Ons het nie oorlog nodig nie,” het Loekasjenko gesê. – Reuters
2025-12-09 10:15:34
IS vonnis Soedannese oorlogsmisdadiger tot 20 jaar tronkstraf
Die Internasionale Strafhof (IS) het Dinsdag ’n Soedannese milisieleier tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom wat twee dekades gelede in die land se burgeroorlog gepleeg is.
Die hof het Ali Muhammad Ali Abd-Al-Rahman (76), ook bekend as Ali Kushayb, in Oktober skuldig bevind op 27 aanklagte, insluitend moord, marteling en die reëling van verkragtings en ander gruweldade in die Darfoer-streek in 2003 en 2004.
Abd-Al-Rahman was ’n leiersfiguur in Soedan se berugte Djandjaweed-milisie. – AFP, Reuters

Ali Muhammad Ali Abd-Al-Rahman Dinsdag in ’n hofsaal van die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland. Foto: AFP/ANP/Peter de Jong
2025-12-09 10:33:21
Russiese militêre vragvliegtuig stort neer
’n Russiese militêre vragvliegtuig het Dinsdag ten tyde van ’n toetsvlug ná herstelwerk neergestort, het die ministerie van verdediging gesê.
Die staatsnuusagentskap Tass berig dat sewe mense aan boord was ten tyde van die ongeluk en dit is onbekend of hulle oorleef het.
Die Iwanowo-streek waar die vliegtuig neergestort het, is ongeveer 200 km oos van Moskou.
Die vliegtuig het in ’n onbewoonde gebied neergestort.
Spanne is ontplooi om die vliegtuig op te spoor. – AFP
2025-12-09 11:36:16
Merz: Europa moet minder afhanklik van VSA wees
Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, sê Europa moet minder afhanklik van Amerika word na aanleiding van Amerika se nuwe nasionale veiligheidstrategie. Merz het Dinsdag gedurende ’n besoek aan Rynland-Palts gesê Europese lande moet self verantwoordelikheid aanvaar vir die beskerming van demokrasie op die kontinent.
Merz se uitlatings kom te midde van groeiende besorgdheid oor geopolitieke afhanklikheid en onderstreep Europa se behoefte aan groter selfstandigheid in veiligheidsake. Europa het die laaste paar dekades sterk op Amerika gesteun vir sy veiligheid, veral deur alliansies soos die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie.
Die jongste verwikkelinge in geopolitiek, insluitend onsekerheid oor Amerikaanse betrokkenheid in Europa, het tot groter aandrang gelei dat Europese lande hul eie verdedigingsvermoë en samewerking versterk. – Reuters

Friedrich Merz Foto: Getty Images
2025-12-09 11:40:25
Trump wil nie stuur van Amerikaanse troepe na Venezuela uitsluit
Pres. Donald Trump weier om die moontlikheid uit te sluit om Amerikaanse troepe na Venezuela te stuur as deel van ’n poging om pres. Nicolas Maduro uit sy amp te verwyder, berig Politico. “Ek wil dit nie insluit of uitsluit nie. Ek praat nie daaroor nie,” het Trump gesê toe hy in ’n onderhoud met die nuuswebwerf oor die ontplooiing van grondtroepe gevra is.
Hy het aangedui dat hy nie oor militêre strategie wil praat nie. Sedert 2019 is daar groot politieke onrus in Venezuela, met baie lande – insluitend Amerika – wat die leierskap van Maduro bevraagteken.
Amerika het reeds druk op Maduro se regering geplaas deur sanksies en diplomatieke ondersteuning aan die opposisie. – Reuters
2025-12-09 11:44:51
Sper rampgebied af

’n Lid van die Indonesiese polisie bring Dinsdag ’n versperringslint aan om ’n seweverdiepinggebou in Djakarta af te sper waar minstens 20 mense in ’n brand dood is. Foto: AFP
2025-12-09 12:11:13
Zelenski pas vredesplan aan, fokus op internasionale waarborge
Pres. Wolodimir Zelenski, Oekraïense leier, is besig om gewysigde voorstelle voor te berei wat hy aan Amerika wil stuur in ’n poging om die oorlog met Rusland te beëindig. Ná gesprekke met Europese leiers en ’n vergadering met pous Leo XIV in Italië, het Zelenski gesê dat die oorspronklike Amerikaanse vredesplan van 28 punte tot 20 verminder is.
Die aanpassings volg op kritiek dat vroeëre voorstelle Rusland te veel bevoordeel het. Zelenski het intussen beklemtoon dat Oekraïne nie wettig of moreel grondgebied kan afstaan nie en dring aan op “robuuste sekuriteitswaarborge” van sy bondgenote.
Europese leiers het Maandag hul steun vir Oekraïne herbevestig en die belangrikheid van internasionale samewerking herhaal terwyl onderhandelinge voortgaan. – AFP
2025-12-09 12:16:40
Trump waarsku hofbesluit oor tariewe kan Amerikaanse veiligheid bedreig
Pres. Donald Trump het Dinsdag gewaarsku dat ’n moontlike hooggeregshof-uitspraak teen sy mag om tariewe toe te pas, nasionale sekuriteit bedreig. Sedert 5 November ondersoek die hof die wettigheid van Trump se omvattende tariefbeleid, hoewel geen datum vir ’n uitspraak vasgestel is nie.
Verskeie besighede en Demokraties geleide deelstate het ook klagte by die Amerikaanse hof vir internasionale handel ingedien en voer aan dat die tariewe ongrondwetlik is aangesien die mag om dit in te stel by die Amerikaanse kongres berus.
“Die grootste bedreiging in die geskiedenis vir Amerika se nasionale sekuriteit sou ’n negatiewe besluit oor tariewe deur die Amerikaanse hooggeregshof wees,” skryf Trump in ’n plasing op sosiale media. – AFP
2025-12-09 12:24:13
Sloping by Withuis duur voort

Die sloping van die oostelike vleuel van die Withuis in Washington DC duur voort. Pres. Donald Trump het beveel dat die 123 jaar oue oostelike vleuel en die Jacqueline Kennedy-tuin gesloop word om plek te maak vir ’n nuwe balsaal wat hy wil oprig. Foto: Getty Images
2025-12-09 13:06:59
Hamas: Israel se oortredings stuit volgende fase van skietstilstand
Hamas het Dinsdag aangedui dat die skietstilstand in die Gasastrook nie na ’n volgende fase kan vorder nie, solank Israel nie aan die bestaande ooreenkoms se vereistes voldoen nie.
Volgens Hossam Badran, ’n senior lid van Hamas se politieke buro, begaan Israel volgehoue oortredings van die ooreenkoms en versuim hy om sy verpligtinge na te kom.
“Die tweede fase kan nie begin terwyl die besettingsmag aanhou om die ooreenkoms te skend nie,” sê Badran. Die skietstilstand, wat op 10 Oktober in werking getree het, word as broos beskou.
Badran het verder beklemtoon dat Hamas bemiddelaars gevra het om meer druk op Israel uit te oefen, sodat die eerste fase van die ooreenkoms ten volle uitgevoer word. – AFP
2025-12-09 13:14:36
Tuiskoms . . .

Die Soyuz MS-27-ruimtekapsule land in ’n afgeleë gebied naby Zhezkazgan, Kazakstan, met die bemanning van die Internasionale Ruimtestasie, die ruimtevaarders Jonny Kim, Sergey Ryzhikov en Alexey Zubritskiy. Foto: Nasa via Reuters
2025-12-09 13:24:00
Sosiale media nou taboe vir Australiese tieners onder 16
Australië het Woensdag wêreldwyd die eerste land geword wat tieners onder 16 sosiale media verbied in ’n poging om hulle teen verslawende platforms soos Facebook, Instagram en TikTok te beskerm.
Die wet verbied gewilde platforms en stroomdienste om gebruikers jonger as 16 jaar toe te laat, met boetes van tot $33 miljoen weens oortredings. Volgens Anthony Albanese, Australiese premier, is die maatreël nodig om kinders teen “roofdier-algoritmes” en kuberafknouery te beskerm.
Duisende Australiese tieners sal vandag uitgesluit wees van hul gunsteling-apps, wat gemengde reaksies ontlok. Kritici voer aan dat jong mense waarskynlik maniere sal vind om die verbod te omseil, terwyl ander meen dit is nodig om jong mense se welstand te beskerm. Ander lande oorweeg nou soortgelyke stappe. – AFP
2025-12-09 14:02:05
2025 op koers om 2de warmste jaar tot nog toe te wees
2025 is op koers om die planeet se tweede warmste jaar tot nog toe te wees, gelyk met 2023, ná ’n historiese hoogtepunt in 2024, het die Europese aardverwarmingsmonitor Dinsdag gesê.
Globale temperature was tussen Januarie en November vanjaar gemiddeld 1,48 °C hoër as pre-nywerheidsvlakke, soortgelyk aan 2023, luidens die Copernicus-klimaatsveranderingdiens. – AFP
2025-12-09 14:03:08
Slowenië skaf kantoor vir beskerming van fluitjieblasers af
Die Slowaakse parlement het Dinsdag wetgewing aangeneem wat volgens kritici die beskerming van fluitjieblasers sal verswak.
Die parlement het die wet, wat die kantoor vir die beskerming van fluitjieblasers afskaf en dit vervang met ’n nuwe liggaam onder regeringsbeheer, met 78 stemme teenoor 57 aangeneem. – AFP
2025-12-09 14:04:09
Die wêreld se digs bevolkte

Woonstelgeboue in Macau, ’n spesiale administratiewe streek van China. Dié voormalige Portugese kolonie tot 1999 se bevolking van sowat 710 000 mense bly in sowat 33 vierkante kilometer, wat dit die wêreld se digs bevolkte streek maak. Foto: AFP
2025-12-09 15:01:47
Israel heropen grens met Jordanië vir humanitêre hulp
Israel gaan vir die eerste keer sedert laat September die grens tussen Jordanië en die besette Wesoewer heropen vir vragmotors met humanitêre hulpmiddels bestem vir die Gasastrook, het ’n Israeliese amptenaar Dinsdag gesê.
“Alle hulpvragmotors bestem vir die Gasastrook sal van Woensdag af onder begeleiding en sekuriteit mag deurgaan, ná deeglike veiligheidsinspeksie,” het die amptenaar gesê. – AFP
2025-12-09 15:03:45
VSA besorg oor gevegte langs Kambodja-Thailand-grens
Amerika is bekommerd oor voortgesette gevegte langs die grens tussen Kambodja en Thailand, het die departement van buitelandse sake Dinsdag gesê, terwyl vyandigheid tussen die twee lande vir ’n tweede dag voortduur.
“Ons dring aan op die onmiddellike staking van vyandigheid, die beskerming van burgerlikes, en dat al twee kante terugkeer na die maatreëls uiteengesit in die Kuala Lumpur-vredesooreenkoms van 26 Oktober,” het Marco Rubio, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, in ’n verklaring gesê. – Reuters
2025-12-09 15:06:05
Vat so!

Jeugdiges gooi Dinsdag klippe na ’n Israeliese weermagvoertuig tydens ’n operasie in die Al-Amari-vlugtelingkamp naby die stad Ramallah in die besette Wesoewer. Foto: AFP
2025-12-09 16:03:37
Israelse val weer Hezbollah-teikens in Libanon aan
Israel het Dinsdag ’n reeks aanvalle op die suide van Libanon, sowat 40 km noord van die grens met Israel, uitgevoer, het Libanese staatsmedia berig.
Die Israeliese weermag sê hulle het ’n Hezbollah-opleidingsentrum en ander teikens getref.
Israel hou ondanks ’n skietstilstand sedert November 2024, wat meer as ’n jaar van vyandelikhede tussen Israel en Hezbollah sou beëindig, vol met aanvalle op Libanon en het soldate in vyf gebiede in die suide van Libanon ontplooi. – AFP
2025-12-09 16:12:41
Hof magtig openbaarmaking van jurie-dokumente in Epstein-saak
’n Federale hof in New York het die Amerikaanse departement van justisie se versoek toegestaan om voorlopige jurie-dokumente in die saak rakende die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein se medewerker, Ghislaine Maxwell, wat in die tronk sit vir mensehandel, openbaar te maak.
Die hof het ’n onlangse wet wat deur die Amerikaanse kongres aanvaar is, aangehaal in sy goedkeuring van die versoek.
Die wetsontwerp om die dossier oor die ondersoek na Epstein openbaar te maak, is in November met ’n oorweldigende meerderheid aanvaar. – Reuters
2025-12-09 16:24:02
Welkom in Italië

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne word Dinsdag in Italië verwelkom deur dié land se premier, Giorgia Meloni, by die Chigi-paleis in Rome. Foto: Reuters
2025-12-09 17:12:03
Chinese ruimtestasie kry meer beskerming teen ruimterommel
Chinese ruimtevaarders het nuwe beskerming teen “ruimterommel” op die bemande Tiangong-ruimtestasie aangebring.
Dit volg nadat ’n klein stuk puin teen ’n groot spoed die venster van die Shenzhou-20-ruimtetuig, wat aan die stasie vasgemeer is, beskadig het. Die skade was so erg dat die bemanning se terugkeer aarde toe uitgestel is. Hulle moes met ’n ander vaartuig, die Shenzhou-21, huis toe gaan.
Twee lede van die Shenzhou-21 het Dinsdag ’n ruimtewandeling gedoen en die nuwe beskerming met Tiangong se robotarm geïnstalleer. Hulle het ook die beskadigde venster van Shenzhou-20 nagegaan. Dis ’n seldsame noodgeval vir China se vinnig groeiende ruimteprogram, wat wys hoe gevaarlik ruimterommel vir alle lande kan wees wat die ruimte verken. – Reuters
2025-12-09 17:22:16
Chinese, Russiese vegvliegtuie dring Suid-Korea se lugruim binne
Suid-Korea het Dinsdag vegvliegtuie ontplooi toe sewe Russiese en twee Chinese vegvliegtuie sy lugverdedigingsone binnegedring het.
Volgens die weermag het hulle die Suid-Koreaanse-lugverdediging-identifikasiesone omstreeks 10:00 plaaslike tyd binnegedring. Die vliegtuie het sowat ’n uur lank in en uit die sone beweeg voordat hulle weggevlieg het.
China het ná die voorval gesê die vliegtuie het deel uitgemaak van ’n geskeduleerde militêre oefening saam met Rusland oor die Oos-Chinese See en die westelike Stille Oseaan. Rusland het bevestig dat sy bomwerpers deur buitelandse vegvliegtuie gevolg is. Sulke voorvalle gebeur gereeld sedert 2019 nadat China en Rusland hul militêre betrekkinge versterk het. – AFP
2025-12-09 17:26:28
Skadu-vaarders

Kanovaarders vaar op die Yamunarivier tydens sonsondergang in Prayagraj, Indië. Foto: Getty Images
2025-12-09 17:46:32
Amy Winehouse se pa hof toe oor verkoop van haar rokke
Mitch Winehouse, pa van die ontslape sangeres Amy Winehouse, verdedig in die Britse hooggeregshof sy reg op die verkope van sy dogter se klere.
Twee van Amy se vriende, Naomi Parry en Catriona Gourlay, het tussen 2021 en 2023 sowat 150 items, insluitend bekende rokke, op veilings verkoop vir sowat £730 000 (byna R16,6 miljoen).
Mitch glo die geld moes aan hom of aan die Amy Winehouse-stigting geskenk word. Die vriende voer aan Amy was baie vrygewig en het van die items aan hulle gegee, selfs al was daar geen kontrakte nie. Die hofgeding sal tot Vrydag duur, met ’n uitspraak wat later verwag word. Amy is in 2011 op 27-jarige ouderdom aan alkoholvergiftiging dood. – AFP
2025-12-09 17:54:17
Ontploffings by lugmagbasis in Sirië ondersoek
Ontploffings is Dinsdag naby die Mezzeh-lugmagbasis in Damaskus, Sirië, gehoor, berig Al Ekhbariya TV.
Die Siriese staatsnuusagentskap het vroeër gesê ’n ondersoek is van stapel gestuur na die ontploffings.
In November is berig Amerika beplan om ’n militêre teenwoordigheid by die lugmagbasis te vestig as deel van ’n moontlike veiligheidsooreenkoms tussen Sirië en Israel. Die lugmagbasis is geleë by ’n sleutelpunt, wat dalk binnekort as ’n gedemilitariseerde sone kan dien. Sirië se departement van buitelandse sake het dié bewerings ontken en dit as “vals” afgemaak.
Amerika speel reeds lank ’n rol daarin om ’n oplossing te vind vir die spanning tussen Sirië en Israel, en streef na ’n ooreenkoms oor grondgebied. – Reuters
2025-12-09 18:03:15
Verbode skerm

Die skerm van ’n tiener se selfoon reflekteer in sy bril in Sydney, Australië. Dié land sal Woensdag die eerste land word wat tieners onder 16 jaar toegang tot sosiale media verbied. Foto: AFP
2025-12-09 19:02:47
Iain Douglas-Hamilton van Save the Elephants-faam sterf op 83
Die Skotse bewaringskundige Iain Douglas-Hamilton, ’n baanbreker in navorsing oor Afrika-olifante en hul beskerming, is Maandagaand in Nairobi, Kenia, in die ouderdom van 83 oorlede, het Save the Elephants, sy liefdadigheidsorganisasie, Dinsdag in ’n verklaring gesê.
Douglas-Hamilton, wat Save the Elephants in 1993 gestig het, was onder die eerste mense wat GPS-nasporing en lugopname-tegnieke bevorder het. Sy metodes word vandag as standaardpraktyk in wildbewaring beskou.
Hy en sy vrou het twee bekroonde boeke oor olifante gepubliseer en hy is met ’n Orde van die Britse Ryk (OBE) in 1992 en as ’n Kommandeur van die Britse Ryk (CBE) in 2015 vereer. – AFP
2025-12-09 19:13:37
200 000 in DRK vlug voor M23 dae ná Withuis-ooreenkoms
Sowat 200 000 mense het die afgelope dae uit hul huise in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) gevlug voor die M23-rebellegroep wat na ’n strategiese dorp opruk, het die Verenigde Nasies (VN) Dinsdag gesê.
Die rebelle word deur Rwanda gesteun.
Dit kom net enkele dae nadat pres. Donald Trump die leiers van Rwanda en die DRK in die Withuis ontvang het om ’n vredesverdrag te onderteken.
Die VN het in ’n verklaring gesê minstens 74 mense, meestal burgerlikes, is in gevegte dood en 83 gehospitaliseer. – Reuters
2025-12-09 19:15:35
’n Picasso vir net R2 000!

Pablo Picasso se waterverfskildery "Tête de femme" ("Vrou se kop") uit 1941, gewaardeer op bykans R20 miljoen, word Dinsdag by die Christie’s-veilinghuis in Parys, Frankryk, uitgestal. Die skildery kan gewen word met ’n lootjie van €100 (sowat R2 000) ten bate van navorsing oor Alzheimer se siekte. Altesaam 120 000 lootjies sal aanlyn verkoop word. Die skildery is ’n portret van Dora Maar, een van Picasso se muses. Foto: Reuters
2025-12-09 20:00:21
Zelenski 'gereed' vir verkiesing ná Trump se opmerkings
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Dinsdag gesê hy is "gereed" vir ’n verkiesing nadat pres. Donald Trump Oekraïne se demokrasie bevraagteken het omdat daar tydens die oorlog nie ’n verkiesing gehou is nie.
Zelenski het aan joernaliste gesê hy sal die parlement vra om die nodige wetgewing voor te berei om ’n verkiesing tydens krygswet moontlik te maak.
Hy het verder gesê indien stembusveiligheid in ’n tyd van oorlog gewaarborg kan word, kan die verkiesing binne die volgende 60 tot 90 dae gehou word. – AFP, Reuters
2025-12-09 20:01:56
Britse soldaat sterf in Oekraïne in 'tragiese ongeluk'
’n Britse soldaat is in ’n "tragiese ongeluk" in Oekraïne dood terwyl hy ’n wapentoets waargeneem het, weg van die frontlinie, het die Britse ministerie van verdediging Dinsdag gesê.
Volgens die ministerie is dit die eerste keer dat ’n Britse soldaat in Oekraïne dood is sedert Rusland se inval in Februarie 2022.
"Hy is in ’n tragiese ongeluk gewond terwyl hy Oekraïense magte waargeneem het wat ’n nuwe verdedigingswapen getoets het, weg van frontlinie,” het die ministerie gesê. – AFP
2025-12-09 20:35:35
Kort voor Kersfees in Gasa

’n Vrou help Dinsdag met voorbereidings en reëlings vir Kersvieringe in die Kerk van die Heilige Familie in die Zeitoen-woonbuurt in die stad Gasa. Dit is die enigste Rooms-Katolieke kerk in die Gasastrook. Foto: AFP
2025-12-10 03:46:41
Dag 3 van gevegte tussen Thailand en Kambodja
Gevegte tussen Thailand en Kambodja het Woensdag ’n derde dag betree.
Pres. Donald Trump het intussen gesê hy sal ’n telefoonoproep maak om die konflik stop te sit. Trump het ook in Julie ’n skietstilstand bemiddel om gevegte van vyf dae tussen die lande te beëindig.
Thailand se minister van buitelandse sake het Dinsdag in ’n onderhoud gesê hy sien geen potensiaal vir onderhandelinge in die grenskonflik nie en dat die situasie nie bevorderlik is vir bemiddeling deur ’n derde party nie.
’n Topraadgewer van Hoen Manet, Kambodja se premier, sê egter sy land is “gereed om te eniger tyd te praat”. – Reuters
2025-12-10 04:07:16
Bolsonaro vra oorplasing van tronk na hospitaal
Prokureurs vir Jair Bolsonaro (70), voormalige president van Brasilië, het Dinsdag versoek dat hy uit die tronk na ’n hospitaal oorgeplaas word vir “chirurgiese prosedures”, luidens ’n dokument wat Reuters onder oë gehad het.
Die prokureurs het ook hul versoek herbevestig dat Bolsonaro sy tronkstraf van 27 jaar onder “humanitêre huisarres” moet uitdien.
Bolsonaro is skuldig bevind aan die onsuksesvolle beplanning van ’n staatsgreep nadat hy die 2022-verkiesing verloor het. – Reuters
2025-12-10 04:22:58
1 dood ná skietery by universiteit in Kentucky
Minstens een persoon is dood en nog een in ’n kritieke toestand ná ’n skietery Dinsdag by die Universiteit van Kentucky.
Polisiebeamptes en ander wetstoepassers het die vermeende aanvaller in hegtenis geneem en die kampus beveilig kort ná berigte van ’n aktiewe skieter, sê die owerhede.
The New York Times het met verwysing na ’n universiteitswoordvoerder berig dat die verdagte nie ’n student was nie, maar albei slagoffers was studente. Die skietery het buite ’n koshuis plaasgevind. – Reuters
2025-12-10 05:04:06
12 dood in brand by woonstelgebou in China
Twaalf mense is dood nadat ’n brand in ’n residensiële gebou in die suide van China uitgebreek het.
Die staatsmedia het Woensdag berig dat die brand Dinsdag omstreeks 21:20 by 'n vierverdiepinggebou in Shantou, in die Guangdong-provinsie, uitgebreek het. Dit is teen omstreeks 22:00 geblus.
Dit kom nadat ’n groot brand verlede maand verskeie hoë woonstelgeboue in Hongkong, naburig aan Guangdong, verswelg het en 160 mense dood is. – AFP
2025-12-10 05:38:00
Trump-administrasie ondersoek moontlike sterftes weens Covid-inentings
Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie doen ’n omvattende ondersoek na sterftes wat moontlik met Covid-19-inentings verband hou.
Volgens Andrew Nixon, woordvoerder van Robert F. Kennedy jr., Amerikaanse minister van gesondheid, word die ondersoek deeglik oor verskeie onderdomsgroepe gedoen.
Sedert pres. Donald Trump se aanstelling van Kennedy jr., het die regering ’n groot hersiening van die beleid oor inentings van stapel gestuur, wat toenemende kommer onder die mediese gemeenskap ontketen. – AFP
2025-12-10 05:50:40
Bolsonaro se tronkstraf dalk van 27 tot 2 jaar verkort
Brasilië se laerhuis van die kongres het vroeg Woensdag ’n wetsontwerp goedgekeur wat die vonnis van 27 jaar tronkstraf van Jair Bolsonaro (70), voormalige president, drasties kan verminder.
Indien dit deur die senaat bekragtig word, kan die regse leier, wat sedert laat November agter tralies is, se vonnis tot net meer as twee jaar verminder word.
Vroeër is berig Bolsonaro is skuldig bevind aan die onsuksesvolle beplanning van ’n staatsgreep nadat hy die 2022-verkiesing verloor het. – AFP
2025-12-10 06:55:51
Venezolaanse opposisieleier gaan nie Nobel-vredesprys persoonlik ontvang
María Corina Machado (58), opposisieleier van Venezuela, sal nie die Nobel-vredesprys persoonlik in Woensdag se toekenningseremonie in Oslo ontvang nie, het die direkteur van die Noorse Nobel-instituut Woensdag gesê.
Machado sou die toekenning ontvang op ’n plegtigheid by die Oslo-stadsaal in die teenwoordigheid van koninklikes en leiers van Latyns-Amerika.
Haar dogter, Ana Corina Machado, sal die eerbewys namens haar ontvang.
Dit is onbekend waar Machado vir haar eie veiligheid skuil en die owerhede in haar tuisland het ’n reisverbod van 10 jaar teen haar ingestel. – Reuters, AFP

María Corina Machado Foto: AFP
2025-12-10 07:04:02
Meer eksterne bedreigings staar Denemarke in die gesig
Meer eksterne bedreigings staar Denemarke in die gesig as in baie jare te midde van toenemende geopolitieke konflikte en twyfel oor Amerika se toewyding aan Europa se veiligheid.
“Die wêreld se groot moondhede prioritiseer toenemend hul eie belange en gebruik geweld om hul doelwitte te bereik,” het Denemarke se militêre intelligensieagentskap (FE) Woensdag in sy jaarverslag gesê.
Die FE het Rusland en China onder die lande genoem wat uitdagings vir Denemarke inhou.
Moskou se oorlog teen Oekraïne dryf veral die verskerping van beveiliging, het die agentskap bygevoeg. – Reuters
2025-12-10 07:26:19
Meer as 500 000 vlug weens gevegte tussen Thailand, Kambodja
Meer as 500 000 mense in Kambodja en Thailand skuil in pagodas, skole en ander veilige plekke nadat hulle gevlug het weens hernieude gevegte op die grens tussen die twee buurlande.
Minstens 11 mense, insluitend Thaise soldate en Kambodjaanse burgerlikes, is in die jongste gevegte dood.
Meer as 400 000 burgerlikes het hul huise ontruim en is na skuilings in sewe provinsies oor Thailand geneem terwyl 101 229 mense in Kambodja na skuilings en familielede se huise in vyf provinsies gevlug het. – AFP

Pratoean Tsjoeawong, ’n boer van Thailand, sit Woensdag in ’n bunker naby ’n tempel in die Sa Kaeo-provinsie in Thailand te midde van gevegte tussen Thailand en Kambodja. Foto: AFP
2025-12-10 08:26:18
EU sluit klimaatooreenkoms om vrystellings teen 2040 met 90% te verminder
Die Europese Unie (EU) het Woensdag ooreengekom om ’n wetlik bindende klimaatteiken te stel om kweekhuisgasvrystellings teen 2040 met 90% te verminder.
Onderhandelaars van EU-lande en die Europese Parlement het die ooreenkoms Woensdag in die vroeë oggendure gesluit, het hulle in afsonderlike verklarings bevestig.
In die praktyk sal die teiken ’n vermindering van kweekhuisgasvrystellings van 85% van Europese nywerhede vereis en betaling aan ontwikkelende lande via koolstofkrediete om vrystellings namens Europa te verminder om die res te dek. – Reuters
2025-12-10 08:54:43
Omstrede wet in Mexiko kan moontlik tot tronkstraf vir verkoop van e-sigarette lei
Wetgewers in Mexiko het Dinsdag ten gunste van wetgewing gestem wat strawwe van tot agt jaar tronkstraf vir die verkoop van elektroniese sigarette sal meebring.
Ondersteuners voer aan dat die wet jong mense se gesondheid sal beskerm, en teenstanders voer aan dat die dubbelsinnigheid daarvan gebruikers van elektroniese sigarette aan strafregtelike vervolging kan blootstel.
Die stemming het gevolg op ’n vurige debat waartydens een van die wetgewers ’n elektroniese sigaret van die podium af geswaai het en die “verwarrende wet” veroordeel het wat “my in die tronk kan laat beland”.
Die wet sal nou deur die senaat oorweeg word. – AFP
2025-12-10 09:20:02
19 dood, 16 beseer toe 2 geboue in Marokko ineenstort
Minstens 19 mense is vroeg Woensdag dood en 16 beseer toe twee geboue in die noordooste van Marokko ineengestort het, het die staatsnuusagentskap gesê.
Plaaslike owerhede in die Fez-prefektuur het aangemeld dat twee aangrensende vierverdiepinggeboue oornag ineengestort het.
Agt gesinne het in die geboue gewoon. Soek-en-reddingsdienste is op die toneel ontplooi om na slagoffers te soek wat moontlik onder die puin vasgekeer is. – Reuters
2025-12-10 09:38:15
Ethiopië kondig verkiesings aan midde-in gewapende konflik
'n Parlementêre verkiesing sal op 1 Junie volgende jaar in Ethiopië gehou word, het die verkiesingskommissie van die land gesê, ten spyte daarvan dat die land steeds gewapende konflik ervaar.
Ethiopië, wat sowat 130 miljoen inwoners het, ervaar voortdurende gevegte in sy twee mees bevolkte streke, wat al miljoene mense verplaas het.
Abiy Ahmed, premier van Ethopië, sê “die regering het die kapasiteit en die wil wat nodig is om hierdie verkiesing te hou”, en dat die verkiesing die “bes georganiseerde” in Ethiopië se geskiedenis sal wees. – AFP
2025-12-10 09:53:09
Kremlin stem saam met Trump se jongste opmerkings oor Oekraïne
Die Kremlin sê pres. Donald Trump se jongste opmerkings oor Oekraïne stem ooreen met Rusland se siening.
Trump het gesê Moskou sal die oorlog wen en dat Kiëf grond sal moet prysgee.
“In baie opsigte, oor die onderwerp van Navo-lidmaatskap, gebiede en oor hoe Oekraïne grond verloor, is dit in ooreenstemming met ons begrip,” het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, gesê.
Trump het gesê Rusland het ’n sterker posisie met onderhandelinge om die oorlog te beëindig weens die grootte van die land en omdat Oekraïne nooit by Navo sal aansluit nie. – AFP
2025-12-10 10:02:03
Meghan stuur brief aan pa, kritiseer ‘Daily Mail’
’n Woordvoerder van Meghan Markle, prins Harry se vrou, sê sy het daarin geslaag om ’n brief aan haar vervreemde pa, wat in ’n hospitaal is, te stuur ten spyte daarvan dat Daily Mail “duidelike etiese grense” oorskry deur vanaf sy hospitaalbed te berig.
Thomas Markle is na vermeen word in ’n hospitaal in die Filippyne nadat een van sy bene geamputeer is.
Meghan het hom probeer kontak, maar die teenwoordigheid van ’n verslaggewer van Daily Mail het dit uiters moeilik gemaak, volgens die woordvoerder. – Reuters
2025-12-10 10:48:08
Aantal beseerdes styg weens aardbewing in Japan, sterker aardbewing moontlik
Die aantal mense wat beseer is in ’n aardbewing van 7,5 in Japan het Woensdag tot 51 gestyg, het die owerhede gesê.
Die aardbewing wat laat Maandagaand langs die kus van die noordelike streek Aomori voorgekom het, het onder meer geboue geskud, paaie beskadig, en tsoenami-golwe van tot 70 cm (28 duim) hoog veroorsaak.
Die Japanse Meteorologiese Agentskap het vroeg Dinsdag ’n seldsame spesiale waarskuwing gepubliseer waarin hulle gewaarsku het dat nog ’n aardbewing van soortgelyke of groter sterkte vir nog ’n week moontlik is. – AFP
2025-12-10 11:08:25
Nuwe reëls vir besoekers aan VSA: Sosialemedia-geskiedenis dalk nou vereis
Besoekers aan Amerika uit lande wat gewoonlik nie ’n visum nodig het nie, sal binnekort dalk ekstra inligting moet verskaf voordat hulle die land binnegaan.
Die Amerikaanse regering, onder leiding van pres. Donald Trump, stel voor dat alle buitelandse toeriste wat van visumvrye lande soos Brittanje, Frankryk, Australië en Japan kom, hul sosialemedia-geskiedenis van die afgelope vyf jaar aanmeld.
Hierdie nuwe vereiste sal deel vorm van die Electronic System for Travel Authorization (Esta)-aansoek. Benewens sosiale media, sal toeriste ook hul telefoonnommers van die afgelope vyf jaar, e-posadresse vir die afgelope 10 jaar, biometriese data en ander besonderhede van familie moet verskaf.
Die publiek het 60 dae om kommentaar op die voorstel te lewer. Die reëls is deel van breër pogings deur Trump om immigrasie na Amerika strenger te beheer. – AFP
2025-12-10 11:16:21
Libanon wil nie Iran besoek, stel gesprekke in neutrale land voor
Joessef Radji, Libanon se minister van buitelandse sake, sê dat hy ’n uitnodiging om Teheran te besoek van die hand gewys het. Hy het eerder voorgestel dat gesprekke met Iran in ’n wedersyds ooreengekome neutrale derde land gehou word. Radji het “huidige omstandighede” as rede vir sy besluit genoem, sonder verdere verduideliking.
Hy het beklemtoon dat dit nie ’n verwerping van dialoog met Iran beteken nie. Abbas Aragtsji, Radji se ampsgenoot in Iran, het hom verlede week uitgenooi om Iran te besoek om bilaterale betrekkinge te bespreek.
Libanon en Iran het ’n geskiedenis van komplekse diplomatieke verhoudings, wat sterk beïnvloed word deur streekspolitiek en sekuriteit in die Midde-Ooste. – Reuters
2025-12-10 11:21:20
Ramp in Marokko

Noodpersoneel dra die lyk van ’n slagoffer gedurende ’n reddingsoperasie nadat twee geboue in die Marokkaanse stad Fes ineengestort het. Foto: AFP
2025-12-10 11:27:03
Bondgenote van Oekraïne vergader Donderdag
Daar sal Donderdag nog ’n vergadering wees van die leiers van die sogenaamde “koalisie van die gewilliges” wat lande verteenwoordig wat bondgenote van Oekraïne is, sê die Franse presidensie.
Die vergadering sal via ’n videokonferensie plaasvind. Die koalisie van die gewilliges verwys na ’n groep lande wat vrywillig steun aan Oekraïne verleen, direk of indirek, te midde van die konflik met Rusland.
Die groep se hoofdoel is om militêre, humanitêre en diplomatieke steun aan Oekraïne te koördineer, hoewel daar nie altyd konsensus is tussen alle lede oor spesifieke aksies nie.
Videokonferensies maak vinnige en gereelde samewerking moontlik in reaksie op die dinamiese situasie in Oekraïne. – Reuters
2025-12-10 12:17:39
Burundi sluit grens met DRK ná opmars van M23-rebelle
Burundi het sy grens met die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) gesluit nadat M23-rebelle Uvira, ’n strategiese stad naby die Burundese hoofstad, Bujumbura, binnegedring het. Volgens Burundese veiligheidsbronne is die belangrikste grensposte by Gatumba en Vugizo Dinsdagmiddag gesluit en nou tot “militêre sones” verklaar.
Burundi se weermag steun die DRK in hul stryd teen die M23-groep, wat deur Rwanda ondersteun word. Betrekkinge tussen Burundi en Rwanda was jare gespanne, en die jongste gebeure illustreer hoe konflik in die oostelike dele van die DRK steeds buurlande raak.
Die grenssluiting beklemtoon Burundi se kommer oor veiligheid weens die naderende geweld en plaas verdere druk op diplomatieke betrekkinge in die streek. – AFP
2025-12-10 12:24:49
Skuif na regs verwag indien Kast Chili se nuwe president word
José Antonio Kast, ’n verregse kandidaat, word wyd as die gunsteling beskou om Sondag se presidentsverkiesing in Chili te wen te midde van kiesers se groeiende behoefte aan veiligheid. Kast, wat teen Jeannette Jara van die linkse regering se koalisie staan, versinnebeeld Chili se konserwatiefste leierskap sedert die Augusto Pinochet-diktatuur.
Kast het in 2016 sy eie Republikeinse Party gestig nadat hy van die tradisioneel konserwatiewe party geskei het. Hy beloof nou drastiese stappe teen misdaad en onwettige immigrasie, insluitend grenswalle en gespesialiseerde polisiedienste.
Tog sal sy mag beperk wees: Chili se parlement is verdeeld tussen verskillende partye, en enige groot hervorming sal onderhandeling verg. – Reuters
2025-12-10 12:27:52
Duitse vegvliegtuie na Pole gestuur weens lugruimskending

’n MIG-29-vegvliegtuig van die Poolse lugmag en ’n Duitse Luftwaffe Eurofighter-vegvliegtuig staan op die Malbork-lugmagbasis in Pole. Duitsland het vyf Eurofighters en 150 Bundeswehr-soldate ontplooi as deel van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie se reaksie op voortdurende skendings van die Poolse lugruim deur Russiese vliegtuie en hommeltuie. Foto: Getty Images
2025-12-10 12:58:33
Zelenski waarsku oor sterker bande tussen China, Rusland
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Woensdag gewaarsku dat China besig is om sy samewerking met Rusland te versterk, insluitend op militêre gebied. Dit volg ná ’n verslag van die hoof van Oekraïne se buitelandse intelligensiediens.
Zelenski skryf op X dat China aktiewe stappe doen om nouer saam met Rusland te werk, veral op militêre gebied. Hierdie verwikkeling wek kommer oor die moontlike impak op die oorlog tussen Oekraïne en Rusland en breër geopolitieke stabiliteit in Europa.
China en Rusland deel ’n strategiese belang om Westerse invloed, veral dié van die VSA en Europa, teë te werk. – Reuters
2025-12-10 13:05:40
Namens haar ma...

Ana Corina Sosa Machado, dogter van die Nobelprys vir Vrede-wenner María Corina Machado, aanvaar die toekenning namens haar ma (sigbaar op 'n foto) by die Nobelprys vir Vrede-toekenningseremonie by die Oslo-stadsaal in Oslo, Noorweë. 'n Dekade lange reisverbod is deur die Venezolaanse regering teen Machado ingestel weens haar teenkanting teen pres. Nicolás Maduro. Foto: Ole Berg-Rusten/NTB/via Reuters
2025-12-10 13:24:50
Nobelpryswenner Machado kritiseer 'staatsterrorisme' in Venezuela
María Corina Machado, opposisieleier in Venezuela, wat vanjaar se Nobelprys vir Vrede gewen het, het Woensdag die "staatsterrorisme" van die Venezolaanse regering veroordeel, terwyl haar dogter die prys in haar afwesigheid in Oslo, Noorweë, aanvaar het.
In 'n toespraak wat deur Machado se dogter gelewer is, het sy opgemerk dat 2 500 mense "ontvoer, verdwyn en gemartel" is onder die bewind van pres. Nicolás Maduro.
"Dit is misdade teen die mensdom, gedokumenteer deur die Verenigde Nasies. Staatsterrorisme, ontplooi om die wil van die mense te begrawe," het Ana Corina Sosa Machado, Machado se dogter, gesê. – AFP
2025-12-10 14:00:16
5 in hegtenis geneem weens kripto-moord in Spanje
Spaanse polisie het Woensdag gesê hulle het vyf mense in hegtenis geneem weens die ontvoering van en moord op ’n man om sy kriptogeld te steel. Nog vier is in Denemarke aangekla.
Die man en sy vriendin is in April in die suide van Spanje aangeval. Die man is in die been geskiet toe hy probeer ontsnap het, het die polisie in ’n verklaring gesê.
Die twee is toe “na ’n huis geneem waar hulle ure lank aangehou is terwyl die verdagtes probeer het om toegang tot hul elektroniese beursies te kry om kriptobates te steel”.
Die vrou is later vrygelaat en het die ontvoering aangemeld. Polisie het later haar vriend se lyk in ’n bebosde gebied in die Málaga-provinsie gevind. – AFP
2025-12-10 14:04:38
Nobelvredesprys-komitee sê Maduro moet ‘uittree’
Die voorsitter van die Nobelvredesprys-komitee het ’n beroep op Venezuela se pres. Nicolás Maduro gedoen om sy “verkiesingsnederlaag” in 2024 te aanvaar en te bedank.
Jorgen Watne Frydnes het die beroep gedoen in ’n toespraak op Woensdag se toekenningsgeleentheid ter ere van die land se opposisieleier, María Corina Machado.
“Mnr. Maduro, aanvaar die verkiesingsresultate en tree uit,” het Frydnes gesê. “Lê die grondslag vir ’n vreedsame oorgang na demokrasie. Want dit is die wil van die Venezolaanse mense,” het hy onder groot toejuiging gesê. – AFP
2025-12-10 14:07:54
Brood, nog brood

Kambodjane ontvang Woensdag voedselhulp in ’n tydelike kamp nadat hulle te midde van botsings langs die Kambodja-Thailand-grens uit hul huise gevlug het. Foto: AFP
2025-12-10 15:00:41
Regter keer Trump se Nasionale Garde-ontplooiing in LA
’n Federale regter het Woensdag pres. Donald Trump se ontplooiing van Nasionale Garde-troepe na Los Angeles geblokkeer en beveel dat hulle moet terugkeer na beheer van die staat se goewerneur.
Die regter van die Amerikaanse distrikshof het die Trump-administrasie se aanspraak verwerp dat onlangse betogings teen immigrasie-owerhede ’n rebellie verteenwoordig wat wettiglik die buitengewone stap regverdig om federale beheer van die staat se Nasionale Garde-eenhede oor te neem en hulle in die stad se strate te ontplooi. – Reuters
2025-12-10 15:03:39
Selfdegeslag-ysdanspare kan nou in Brittanje deelneem
Selfdegeslag-pare sal van volgende seisoen af toegelaat word om aan Britse ysdans-geleenthede deel te neem, waaronder by die nasionale kampioenskapsbyeenkoms, het British Ice Skating Woensdag aangekondig.
Selfdegeslag-pare kan egter nie verder as die nasionale vlak meeding nie, aangesien die internasionale ysskaatsunie se reëls bepaal dat paar- en dansspanne uit een man en een vrou moet bestaan. – Reuters
2025-12-10 15:12:29
Kersbome flonker in Maleisië

Mense wat inkopies doen, stap Woensdag verby versierde Kersbome in ’n winkelsentrum in Kuala Lumpur, Maleisië. Foto: AFP
2025-12-10 16:04:31
Oekraïne, VSA praat oor ná-oorlogse heropbou – Zelenski
Oekraïense amptenare sal Woensdag gesprekke met hul Amerikaanse ampsgenote voer oor kwessies oor sy land se ná-oorlogse heropbou en ekonomiese ontwikkeling, as deel van ’n breër plan vir vrede met Rusland, het pres. Wolodimir Zelenski Woensdag gesê. – Reuters
2025-12-10 16:06:49
Byna 200 kinders verwek van spermskenker met kanker-risiko
’n Anonieme Deense spermskenker wat ’n asimptomatiese draer is van ’n genetiese mutasie wat die risiko vir kanker verhoog, is gebruik om byna 200 kinders wêreldwyd te verwek, het Denemarke se openbare uitsaaier Woensdag onthul.
Die man se sperm is tussen 2006 en 2022 aan 67 klinieke in 14 lande verkoop. In Denemarke alleen is 99 kinders deur die skenker se sperm verwek.
Luidens die berig is minstens 197 kinders gebore voordat die Deense spermbank ’n ernstige genetiese abnormaliteit ontdek het. Die spermbank is glo in 2020 gewaarsku dat ’n kind verwek is en kanker by die kind gediagnoseer is wat ’n genetiese mutasie dra, maar gebruik van die man se sperm is eers 2023 verbied omdat vroeëre toetse nie die mutasie bespeur het nie. – AFP
2025-12-10 16:15:16
Vlerke geknip

Die snawel van ’n dooie ooievaar steek Woensdag deur ’n vullissak langs die Manzanares-rivier naby Madrid in Spanje. Sowat 400 ooievaars is vandeesweek dood langs die rivier aangetref, wat kommer laat ontstaan het dat ’n hoogs aansteeklike stam van voëlgriep moontlik besig is om te versprei. Foto: AFP
2025-12-10 17:12:03
Oermense het al 415 000 jaar gelede doelbewus vuur gemaak, wys vonds
Wetenskaplikes het die oudste bekende bewyse gevind dat oermense al doelbewus vuur kon maak.
Navorsers het by ’n ou kleigat naby die Engelse dorpie Barnham, Suffolk, ’n kampvuur ontdek wat deur Neanderdalmense sowat 415 000 jaar gelede gebruik is. Hulle het verhitte klei, verbrande vuurklipbyle en ysterkies, ’n mineraal waarmee vonke geslaan word om vuur te maak, gevind, wat toon die vuurplek is herhaaldelik gebruik.
Die ontdekking bewys dat oermense veel vroeër as wat voorheen geglo is al vuur kon maak. Die oudste vorige bewyse is in Frankryk ontdek en is sowat 50 000 jaar oud.
Volgens die navorsers het die vermoë om vuur te maak oermense toegelaat om hul kos te kook, warm te bly in kouer streke en snags om die vuur te sosialiseer. Dit het hulle ook gehelp om kos beter te verteer en groter groepe te voed. – Reuters
2025-12-10 17:22:55
Koninklike feestyd

Koning Charles III woon ’n Kersvoorbereidingsdiens in die Westminster-abdy in Londen by. Foto: Getty Images
2025-12-10 17:29:27
M23-inval is ‘middelvinger’ aan die VSA, sê Burundi
Edouard Bizimana, Burundi se minister van buitelandse sake, beskou die M23-rebelle se opmars in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) as ’n “middelvinger” aan Amerika – net dae ná ’n “vredesooreenkoms” in Amerika onder leiding van pres. Donald Trump.
Dié groep, wat deur Rwanda gesteun word, het Uvira ingeval kort nadat hulle reeds stede soos Goma en Bukavu ingeneem het.
“Dis ’n vernedering vir almal, veral vir pres. Trump,” sê Bizimana.
Hy eis dat sanksies teen Rwanda ingestel word en beweer pres. Paul Kagame se besoek aan Amerika is bloot toneelspel. Volgens hom is Rwandese troepe reeds voor die vredesberaad in ’n offensief teen Burundese en Kongolese magte betrokke.
Burundi beskryf Uvira se val as ’n direkte bedreiging vir sy grensveiligheid, met bewerings van bykomende Rwandese soldate en selfs bomme uit Rwanda. Intussen beskuldig Rwanda die DRK en Burundi daarvan dat hulle die vredesproses doelbewus ondermyn. – AFP
2025-12-10 17:58:44
Nog Epstein-hofstukke binnekort openbaar gemaak
’n Amerikaanse federale regter het Woensdag beveel dat hofrekords van die ondersoek na Jeffrey Epstein openbaar gemaak moet word.
Dié besluit van regter Richard Berman in New York spruit uit die geregtelike verrigtinge in Julie 2019 teen Epstein, wat van seksuele uitbuiting van minderjariges aangekla is. Sy verhoor het egter nooit plaasgevind nie omdat Epstein in Augustus 2019 homself in die tronk om die lewe gebring het.
Die hofrekords word normaalweg geheim gehou, maar pres. Donald Trump het onlangs ’n wet onderteken wat die regering dwing om alle ongeklassifiseerde Epstein-dokumente teen 19 Desember bekend te maak. New York en Florida het ook besluit om hofrekords oor Ghislaine Maxwell en die ondersoek na Epstein te ontsluit. Dis steeds onduidelik wanneer en hoe die dokumente openbaar gemaak gaan word en of dit nuwe inligting oor magtige betrokkenes gaan onthul. – AFP
2025-12-10 18:00:23
Verspoelde aarde

’n Lugfoto wys ’n persoon wat loop tussen bofbalvelde wat deur die Snoqualmie-rivier in Fall City, in Washington, Amerika, oorstroom is. Foto: Reuters
2025-12-10 18:05:46
Psilosibien in Tsjeggiese Republiek amptelik vir mediese gebruik goedgekeur
Die Tsjeggiese regering het Woensdag aangekondig dat psilosibien, die aktiewe bestanddeel in sogenaamde “towersampioene”, van 2026 af vir mediese doeleindes gebruik mag word.
Die wetgewing maak voorsiening dat psigiaters en terapeute die middel slegs mag voorskryf as ander medisyne nie werk nie. Psilosibien sal gebruik mag word vir kankerverwante depressie, ernstige depressie sonder psigotiese simptome en lewensgevaarlike geestestoestande.
Die minister van gesondheid, Vlastimil Valek, sê dit is ’n goeie stap vir pasiënte en vir die Tsjeggiese gesondheidstelsel.
Die besluit is in ooreenstemming met onlangse internasionale belangstelling in die terapeutiese waarde van psigedeliese middels vir depressie en verslawing. Tsjeggiese dokters mag reeds sedert 2015 dagga vir mediese doeleindes voorskryf. – AFP
2025-12-10 18:13:30
Voordat die skote te naby klap...

Lede van die polisie se ontruimingseenheid oorreed ’n inwoner van die frontliniedorp Dobropillia, Oekraïne, om haar huis te ontruim. Foto: Reuters
2025-12-10 19:03:26
Ysland word 5de land wat Eurovision boikot oor Israel
Ysland se staatsuitsaaier het Woensdag aangekondig dat hy volgende jaar se Eurovision-sangkompetisie sal boikot, en sodoende die vyfde land geword wat hom onttrek nadat Israel toestemming gekry het om deel te neem.
Spanje, Nederland, Ierland en Slowenië het almal verlede week hul onttrekking aan die wêreld se grootste regstreekse musiekkompetisie aangekondig. – AFP
2025-12-10 19:14:02
Fed verlaag rentekoerse vir 3de keer vanjaar
’n Verdeelde Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) het Woensdag rentekoerse vir die derde agtereenvolgende keer vanjaar verlaag.
Die verlaging met ’n kwart van ’n persentasiepunt bring die vernaamste uitleenkoers na ’n band van tussen 3,50% en 3,75%.
Die verdeeldheid binne die sentrale bank het verdiep, met drie Fed-lede wat anders gestem het – twee om rentekoerse onveranderd te hou en een wat ’n groter verlaging voorgestaan het. – AFP
2025-12-10 19:44:30
Bome net waar jy kyk

’n See van ontwortelde bome omring die Darul Mukhlisin Islamitiese kosskool en moskee ná die onlangse vloede in Aceh Tamiang in Noord-Sumatra, Indonesië. Foto: AFP
2025-12-10 20:05:07
VSA koop vliegtuigvloot om vir deportasies te gebruik
Die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid koop sy eie Boeing-vliegtuie aan vir gebruik in pres. Donald Trump se omstrede deportasieveldtogte, het ’n woordvoerder Woensdag bevestig.
“Hierdie vliegtuie sal Ice (die agentskap vir immigrasie en doeane-afdwinging) in staat stel om meer doeltreffend te werk,” het Tricia McLaughlin in ’n plasing op X gesê. “Die nuwe initiatief sal die Amerikaanse belastingbetaler $279 miljoen bespaar.”
Daar was meer as 1 700 deportasievlugte na tientalle lande sedert Trump sy amp in Januarie aanvaar het. – AFP
2025-12-10 20:25:36
VSA lê beslag op tenkskip aan kus van Venezuela, sê Trump
Amerika het op ’n “baie groot” olietenkskip aan die kus van Venezuela beslag gelê, het pres. Donald Trump Woensdag gesê. Die stap het die olieprys laat klim en sal waarskynlik spanning tussen die twee lande verder vererger.
Trump het vroeër ’n massiewe Amerikaanse militêre ontplooiing in die streek beveel, insluitend ’n vliegdekskip, vegvliegtuie en tienduisende troepe.
Amptenare het gesê die operasie is gelei deur die Amerikaanse kuswag. Die tenkskip se naam, onder watter vlag dit gevaar het, of presies waar die onderskepping plaasgevind het, is nie bekend nie. – AFP
2025-12-10 20:27:07
Pappa, bring die trekker

Griekse boere wat betoog oor die vertraagde uitbetaling van Europese Unie-subsidies, blokkeer Woensdag die nasionale hoofwegkruising naby die stad Larissa in Griekeland. Foto: Reuters
2025-12-11 03:52:03
Thailand-Kambodja-konflik betree dag 4
Gevegte tussen Thailand en Kambodja het Donderdag 'n vierde dag betree terwyl albei kante wag vir ’n beloofde telefoonoproep van pres. Donald Trump.
Woensdag het botsings op meer as 12 plekke langs die 817 km lange Thai-Kambodjaanse grens plaasgevind.
Trump het in Julie gevegte help stopsit met oproepe aan albei leiers waarin hy gedreig het om handelsgesprekke te staak tensy hulle die konflik beëindig.
Trump sê hy verwag om Donderdag met die lande se leiers te praat. – Reuters
2025-12-11 04:04:51
Tenkskip waarop Amerika beslag lê, dra vals vlag van Guiana
Guiana se maritieme owerheid het Woensdag gesê die supertenker Skipper, wat Venezolaanse olie vervoer en deur Amerika gekonfiskeer is, valslik Guiana se vlag gedra het.
“Die departement van maritieme administrasie het die verspreiding en onaanvaarbare tendens waargeneem van die ongemagtigde gebruik van die Guiana-vlag deur vaartuie wat nie in Guiana geregistreer is nie,” lui ’n verklaring.
Die owerheid, wat deur die Amerikaanse regering van die tenkskip se beslaglegging in kennis gestel is, sê hy beplan om op te tree teen die ongemagtigde gebruik van die land se vlag. – Reuters
2025-12-11 04:18:40
Amerikaanse huis van verteenwoordigers keur $901 miljard goed vir verdediging
Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Woensdag ’n massiewe verdedigingsbeleidswetsontwerp aanvaar wat ’n rekordbedrag van $901 miljard aan jaarlikse militêre besteding magtig.
Die wetsontwerp sal nou vir oorweging na die senaat gestuur word en sal na verwagting volgende week goedgekeur word.
Die $901 miljard aan verdedigingsbesteding is $8 miljard meer as pres. Donald Trump se versoek vroeër vanjaar. – Reuters
2025-12-11 04:45:14
Dodelike storms in SO-Asië versterk deur klimaatsverandering
Die dodelike storms wat laat in November verwoesting in Sri Lanka, Indonesië, Maleisië en Thailand gesaai het, is deur hoër seetemperature vererger.
Die tropiese sikloon Senyar het groot dele van Suidoos-Asië verwoes en byna 1 200 mense is dood.
’n Span navorsers van die World Weather Attribution-groep sê gedurende die ergste vyf dae van reënval was see-oppervlaktemperature in die Noord-Indiese Oseaan 0,2 °C hoër as die gemiddelde van 1991-2020. Dít het die storms met bykomende hitte en energie gelaai.
Sonder die styging van 1,3 °C in globale gemiddelde temperature sedert die pre-industriële era, sou die see-oppervlak in die gebied laat in November ongeveer 1 graad kouer gewees het. – Reuters

Inwoners probeer deur water beweeg in ’n woonbuurt in die Medankrio-distrik van die Noord-Sumatera-provinsie, Indonesië, op 27 November. Foto: Getty Images/Anadolu
2025-12-11 05:09:42
Machado maak 1ste openbare verskyning in 11 maande
María Corina Machado, wenner van vanjaar se Nobel-vredesprys en Venezolaanse opposisieleier, het Donderdag vroeg ondersteuners vanaf die balkon van haar hotel in Oslo gegroet. Dit is haar eerste openbare verskyning in 11 maande.
Machado het te laat in Noorweë aangekom om die toekenningsgeleentheid Woensdag by te woon. Ana Corina Sosa Machado, haar dogter, het die gesogte prys namens haar in ontvangs geneem.
Sedert sy moes wegkruip, was Machado se enigste openbare verskyning op 9 Januarie in Caracas, waar sy teen pres. Nicolás Maduro se inhuldiging vir sy derde termyn betoog het. – AFP

María Corina Machado vroeg Donderdagoggend op die balkon van die Grand Hotel in Oslo, Noorweë. Foto: AFP
2025-12-11 05:29:47
Shell gedagvaar weens tifoon in Filippyne in 2021
Oorlewendes van ’n dodelike tifoon in die Filippyne in 2021 het ’n regsgeding in Brittanje teen die Britse oliemaatskappy Shell aanhangig gemaak.
Die tifoon Rai het die suidelike en sentrale streke van die Filippyne in middel Desember 2021 getref, kraglyne en bome omgewerp en dodelike vloede veroorsaak wat meer as 400 mense dood en honderdduisende dakloos gelaat het.
Die regsgeding, wat deur die Britse regsfirma Hausfeld namens 103 oorlewendes aanhangig gemaak is, voer aan dat Shell se koolstofvrystellings bygedra het tot die klimaatkrisis, wat Filippynse gemeenskappe beïnvloed. – AFP
2025-12-11 05:49:10
Israel heropen Wesoewer-Jordanië-oorgang vir hulp na Gasastrook, sê amptenare
Israel het Woensdag die enigste grensoorgang wat dit tussen Jordanië en die besette Wesoewer beheer, heropen om vragmotors met humanitêre hulp toegang tot die Gasastrook te gee, het Israeliese en Palestynse amptenare aan AFP gesê.
Israel het die oorgang gesluit nadat ’n Jordaniese vragmotorbestuurder in September ’n Israeliese soldaat en ’n reserweoffisier by die grens doodgeskiet het.
Die oorgang, wat in die Jordaanvallei geleë is, is ’n paar dae later vir reisigers heropen, maar nie vir humanitêre hulp wat vir die Gasastrook bestem is nie. – AFP
2025-12-11 06:21:12
Venezuela kritiseer VSA se ‘blatante diefstal’ van tenkskip
Die regering van Venezuela het Amerika van “blatante diefstal” beskuldig nadat hulle op ’n goedgekeurde olietenkskip langs die kus van Venezuela beslag gelê het.
Die regering sê in ’n verklaring hy sal “sy soewereiniteit, natuurlike hulpbronne en nasionale waardigheid met absolute vasberadenheid verdedig” en dat hy die beslaglegging van die tenkskip voor internasionale liggame sal veroordeel.
Pres. Donald Trump het die beslaglegging van die skip vroeër Woensdag bevestig. – Reuters
2025-12-11 06:29:04
Massiewe staking 1ste keer in 12 jaar in Portugal verwag
Portugal berei Donderdag vir sy eerste algemene staking in 12 jaar voor. Wydverspreide ontwrigting word in openbare vervoer, skole, howe en hospitale verwag.
Werkers gaan teen ’n wetsontwerp betoog wat daarop gemik is om afdankingprosedures te vereenvoudig, die lengte van vastetermynkontrakte te verleng en die minimum dienste uit te brei wat tydens ’n staking vereis word.
Portugal is in Junie 2013 tydens ’n staking gedwing om openbare besteding te verminder in ruil vir internasionale hulp weens ’n skuldkrisis wat verskeie Europese lande geraak het. – AFP
2025-12-11 06:40:58
Amerika, Japan voer gesamentlike lugoefeninge uit ná oefeninge deur China, Rusland
Amerikaanse en Japanse militêre vliegtuie het Woensdag gesamentlike oefeninge gehou, het die Japannese stafhoofde Donderdag gesê.
Dis na aanleiding van gesamentlike Chinese en Russiese oefeninge in die lug en see rondom Japan en Suid-Korea.
“Deur hierdie oefening het ons die sterk vasberadenheid van Japan en Amerika bevestig om geen eensydige verandering van die status quo met geweld toe te laat nie, sowel as die gereedheid van die selfverdedigingsmagte en die Amerikaanse weermag,” het die gesamentlike stafhoofde gesê. – AFP, Reuters
2025-12-11 07:34:46
Trump stel ‘goue kaart’-immigrasievisums van $1 miljoen bekend
Pres. Donald Trump se administrasie het Woensdag amptelik sy “Trump Goue Kaart”-visumprogram bekend gestel.
Die webwerf Trumpcard.gov, laat belangstellende aansoekers toe om ’n tarief van $15 000 aan die departement van binnelandse veiligheid te betaal vir die vinnige verwerking van hul aansoeke om in Amerika te woon.
Nadat hulle ’n agtergrondtoets of keuringsproses geslaag het, moet aansoekers dan ’n “bydrae”, wat die webwerf ook ’n “geskenk” noem, van $1 miljoen maak om die visum te kry.
Dit is soortgelyk aan ’n groen kaart, wat hulle toelaat om in Amerika te woon en te werk. – Reuters
2025-12-11 07:47:16
Hamas, ander gewapende groepe pleeg misdade teen mensdom – Amnestie Internasionaal
Amnestie Internasionaal het Hamas en ander Palestynse gewapende groepe Donderdag vir die eerste keer van misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade beskuldig tydens en ná die aanval op Israel op 7 Oktober 2023.
Luidens ’n verslag deur die organisasie het die massamoord op burgerlikes op 7 Oktober neergekom op “die misdaad teen die mensdom van uitwissing”.
Hamas en ander Palestynse gewapende groepe in die Gasastrook het ook “voortgegaan om skendings en misdade te pleeg deur gyselaars aan te hou en te mishandel, en deur die lyke terug te hou" wat na die Gasastrook geneem is. – AFP
2025-12-11 08:24:54
Eerste klimaat-migrante van eilandnasie verhuis na Australië
Die eerste klimaat-migrante wat die afgeleë Stille Oseaan-eilandstaat Tuvalu verlaat het, het in Australië aangekom.
Meer as ’n derde van Tuvalu se bevolking van 11 000 het aansoek gedoen om ’n klimaat-visum om na Australië te migreer, kragtens ’n ooreenkoms wat twee jaar gelede tussen die twee lande gesluit is.
Die inname word beperk tot 280 visums per jaar.
Tuvalu, een van die lande wat die grootste risiko loop weens stygende seevlakke te wyte aan klimaatsverandering, is ’n groep laagliggende atolle wat oor die Stille Oseaan tussen Australië en Hawaii versprei is. – Reuters
2025-12-11 08:30:40
2 vermis ná ysterstruktuur op bouterrein in Suid-Korea ineenstort
Twee werkers word vermis en is vermoedelik begrawe onder puin op die bouterrein van ’n biblioteek in die stad Gwangju in Suid-Korea.
Dit volg nadat ’n ysterstruktuur Donderdag op die terrein ineengestort het, het brandweerbeamptes gesê.
Nog ’n werker is gered, maar het sy bewussyn verloor en is na ’n hospitaal vervoer.
Die ineenstorting het gebeur terwyl beton op die bouterrein gegooi is. – Reuters
2025-12-11 08:48:44
Machado sal terugkeer om ‘tirannie’ in Venezuela te beëindig
María Corina Machado, Nobel-vredespryswenner en Venezolaanse opposisieleier, het Donderdag gesê dat sy haar “bes” sal doen om na Venezuela terug te keer om die “tirannie” in die land te beëindig.
“Ek het gekom om die prys namens die Venezolaanse volk te ontvang en ek sal dit op die regte oomblik na Venezuela terugneem,” het sy aan verslaggewers gesê.
Machado wou nie sê wanneer sy sal terugkeer nie, maar het bygevoeg dat sy “baie gou hierdie tirannie wil beëindig en ’n vrye Venezuela wil hê”. – AFP
2025-12-11 09:33:54
Alle misverstande met Amerika oor Oekraïne is opgelos, sê Rusland
Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, het Donderdag gesê dat alle “misverstande en wankommunikasie” met Amerika oor Oekraïne opgelos is ná ’n vergadering vroeër vandeesmaand tussen pres. Wladimir Poetin en Amerikaanse gesante.
Die Kremlin het die vergadering as “konstruktief” beskryf, hoewel geen groot deurbrake bereik is om die oorlog teen Oekraïne te beëindig nie.
Lawrof het Donderdag gesê die gesprekke het die “wedersydse ooreenkomste” bevestig wat tussen Poetin en pres. Donald Trump op ’n beraad in Alaska in Augustus bereik is. – Reuters
2025-12-11 09:41:26
Immigrant dood, 13 gered toe boot tussen Kroasië, Bosnië omslaan
Een immigrant is Donderdag dood en 13 gered, onder wie ’n vermeende smokkelaar, nadat ’n boot op ’n rivier op die grens tussen Kroasië en Bosnië omgeslaan het.
Die polisie het in die vroeë oggendure ’n berig ontvang dat ’n boot op die Sava-rivier naby Slavonski Brod omgeslaan het en dat verskeie mense in die water was. Nooddienste is onmiddellik ontplooi.
Almal wat gered is ly aan hipotermie.
Kroasië is ’n belangrike deurgang vir onwettige migrante wat Europa probeer bereik via ’n roete deur die Balkan. – AFP
2025-12-11 09:45:59

Dienspligtiges van die 13de Operasionele Brigade, oftewel Chartija, van die Nasionale Wag van Oekraïne berei teikens voor met beelde van pres. Wladimir Poetin van Rusland se gesig daarop vir ’n skietoefening deur gevegsmissies in die Charkif-streek, Oekraïne. Foto: Reuters
2025-12-11 10:19:49
Minstens 30 dood in aanval op hospitaal in Mianmar
Minstens 30 mense is dood, onder wie pasiënte, nadat ’n lugaanval in Mianmar deur die land se regerende junta ’n groot hospitaal in die Rakhine-staat getref het, volgens ’n rebellegroep, ’n hulpwerker en ’n getuie.
Meer as 70 mense is beseer.
Die hospitaal is laat Woensdag getref deur bomme van ’n militêre vliegtuig.
’n Woordvoerder van die junta het nie op navrae om kommentaar gereageer nie.
Mianmar word deur konflik geteister sedert die weermag betogings onderdruk het teen ’n staatsgreep in 2021 wat die verkose regering omvergewerp het. – Reuters
2025-12-11 10:32:50
Oekraïne spreek territoriale toegewings in voorstel aan Trump aan
Friedrich Merz, bondskanselier van Duitsland, het Donderdag gesê dat pres. Donald Trump die vorige dag ’n voorstel ontvang het oor territoriale toegewings wat Oekraïne bereid is om te maak om die oorlog met Rusland te beëindig.
Merz het gesê die voorstel is gestuur nadat Europese leiers Woensdag telefonies met Trump gepraat het.
“Dit gaan hoofsaaklik oor die kwessie van territoriale toegewings.”
Merz het ook gesê hy verwag om die komende naweek gesprekke te voer met Amerikaanse amptenare oor ’n voorstel wat deur die Europese kant vir vrede voorgelê is. – Reuters
2025-12-11 11:23:58
Sikloon: VN vra hulp vir Sri Lanka
Die Verenigde Nasies (VN) het Donderdag ’n dringende beroep op internasionale skenkers gedoen om lewensbelangrike hulp aan Sri Lanka te verleen ná die verwoestende sikloon Ditwah wat die eiland aan die einde van verlede maand getref het.
Minstens 639 mense is dood en meer as 2 miljoen is geraak, wat ongeveer 10% van die bevolking is.
Ongeveer 200 mense word steeds vermis, en daar is grootskaalse skade aan huise, paaie en ander infrastruktuur. Pres. Anura Kumara Dissanayake het die ramp as die grootste uitdaging vir sy land beskryf, terwyl Sri Lanka steeds sukkel om van ’n ernstige ekonomiese krisis te herstel. Voortdurende reën verhoog die risiko van grondverskuiwings en verdere skade. – AFP
2025-12-11 11:29:38
Hospitale in Brittanje knak onder ‘supergriep’
Hospitale oor Brittanje heen beleef tans hul “ergste moontlike scenario” te midde van ’n skerp toename in sogenaamde supergriep-gevalle.
Die getal mense met griep wat die afgelope week in hospitale opgeneem is, het met 55% gestyg, met die openbare gesondheidsdiens wat bekend gemaak het dat gemiddeld 2 660 pasiënte per dag met griep opgeneem is.
Dit is die hoogste vlak nóg vir hierdie tyd van die jaar. Gesondheidsleiers maan siek mense om gesigmaskers op openbare vervoer te dra, terwyl sekere hospitale dit nou verpligtend maak vir alle besoekers en pasiënte. Die publiek word ook aangespoor om griepinentings te kry, aangesien die virus vinnig versprei. – Reuters
2025-12-11 11:36:12
Merz, Rutte vergader

Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, wuif vanaf ’n terras by sy kantoor in Berlyn voordat hy en Mark Rutte (regs), sekretaris-generaal van Navo, Europese sekuriteitskwessies en steun aan Oekraïne bespreek. Foto: Getty Images
2025-12-11 12:06:04
Oplossing gesoek vir Europa se vegvliegtuigprojek
Duitsland, Frankryk en Spanje probeer vandeesweek ’n deurbraak bewerkstellig in die ontwikkeling van ’n vegvliegtuigprogram – ’n reuseprojek ter waarde van tot €100 miljard wat as noodsaaklik vir die vasteland se verdediging beskou word.
Die gesamentlike poging kom te midde van politieke druk om die Future Combat Air System (FCAS) te red. Die FCAS, wat agt jaar gelede van stapel gestuur is, kan nie deurgevoer word nie weens bedryfswedywering.
Boris Pistorius, Duitse minister van verdediging, en sy Franse ampsgenoot, Catherine Vautrin, vergader Donderdag in Berlyn, met Spanje se Margarita Robles wat haar Vrydag by hulle aansluit. Die hoofgeskilpunt tussen die lande is hoe vervaardiging en tegnologie-ontwikkeling verdeel moet word. – Reuters
2025-12-11 12:11:49
Switserse jodel nou amptelik wêreldkultuurerfenis
Jodel, die unieke tradisionele sang van die Switserse Alpe, is Donderdag deur die Verenigde Nasies (VN) as deel van die wêreld se kultuurerfenis erken.
Unesco het jodel by sy Verteenwoordigende Lys van die Ontasbare Kultuurerfenis van die Mensdom gevoeg gedurende ’n vergadering in Nieu-Delhi. Volgens die Switserse regering is jodel “die land se bekendste sang”, diep gewortel in sy mense met ’n groot verskeidenheid style.
Al word daar ook in Oostenryk en Duitsland gejodel, het Switserland hierdie internasionale erkenning op sy eie nagestreef. Jodel word solo, in groepe of groot kore gesing. – AFP
2025-12-11 12:16:30
Skuiling in ’n tentkamp op ’n reënerige dag...

’n Ontheemde Palestynse kind loop op ’n reënerige dag in ’n tentkamp in Chan Joenis in die suide van die Gasastrook. Foto: Reuters
2025-12-11 13:01:40
Bangladesj sal in Februarie gaan stem
Die verkiesingskommissie van Bangladesj het Donderdag aangekondig dat die land op 12 Februarie ’n nuwe parlement gaan kies.
Dit is die eerste algemene verkiesing sedert verlede jaar se gewelddadige studentebetogings wat die vorige premier sjeik Hasina gedwing het om na Indië te vlug.
Sedertdien word die Moslemmeerderheidsland, met sy bevolking van 173 miljoen, bestuur deur ’n tussentydse regering onder leiding van Muhammad Yunus, ‘n Nobelpryswenner.
Alhoewel Yunus as ’n eenheidsfiguur beskou word, worstel hy tans met toenemende ontevredenheid oor stadige voortgang met hervormings sowel as nuwe betogings en politieke verdeeldheid. – Reuters
2025-12-11 13:04:54
Polisie sê meer as 600 items uit Britse museum gesteel
Meer as 600 items in 'n versameling wat die verbindings tussen Brittanje en lande in die voormalige Britse Ryk dokumenteer, is in September uit 'n Britse museum gesteel.
Die polisie van Avon en Somerset het 'n beroep gedoen vir inligting oor vier mans wat op 25 September op veiligheidskameras vasgevang is buite 'n gebou in die suidwestelike stad Bristol wat die versameling gehuisves het.
"Meer as 600 artefakte van verskillende beskrywings is deur die oortreders geneem," sê die polisie in 'n verklaring. Volgens die polisie is die items van "beduidende kulturele waarde". – AFP
2025-12-11 13:06:44
Kyk so ’n tamaai sneeuman!

Beeldhouers werk aan 'n reuse-sneeuman in Harbin in die Heilongjiang-provinsie in China. Die sneeuman, met 'n hoogte van meer as 20 m, word by die Sun Island-uitkykpunt opgerig. Foto: Getty Images
2025-12-11 14:08:29
Skeppers van KI ‘Time’ se Persone van die Jaar
Die Time-tydskrif het Donderdag die argitekte van kunsmatige intelligensie (KI) as sy Persone van die Jaar aangewys. Die eerbewys gee erkenning aan die mense wat KI ontwerp en bou en só die wêreld verander met tegnologie wat masjiene laat “dink”.
Volgens Sam Jacobs, Time se redakteur, het niemand die laaste paar jaar meer impak gehad as die ontwerpers van KI nie. Jacobs sê hulle beïndruk en ontstel die mensdom.
Volgens Jacobs verander hulle ook hoe mense vandag leef, terwyl hulle die grense verskuif van wat moontlik is. KI maak vinnig groot opgang en die pioniers van KI word nou internasionaal erken vir hul revolusie in tegnologie. – Reuters
2025-12-11 14:10:49
Verkiesingsbloedbad in Tanzanië: Oproepe vir optrede
Tanzanië se opposisieparty, Chadema, beweer meer as 2 000 mense is in ’n enkele week tydens verkiesingsgeweld dood, met meer as 5 000 wat gewond is.
Dit volg op die Oktober-verkiesing waarin pres. Samia Suluhu Hassan met 98% gewen het, hoewel daar bewerings van bedrog en hardhandige optrede teen kritici is. John Heche, Chadema se ondervoorsitter, sê die geweld is glo deur die staat self gepleeg en vra die internasionale gemeenskap om sanksies teen die oortreders in te stel.
Hy beskuldig die veiligheidsmagte van massamoord, marteling, ontvoerings en ander gruweldade. Die regering het nog nie self ’n dodetal bekend gemaak nie, terwyl die opposisie vroeër meer as 1 000 sterftes aangemeld het.
Intussen duur die onrus voort, met baie mense wat hul huise verlaat uit vrees vir geweld. – AFP
2025-12-11 14:30:21
Vasgemeer voor koms van sneeu

’n Lugfoto wys vissersbote wat vasgemeer is by die Jimiya-hawe in Xihai’an in Qingdao in die ooste van China se Shandong-provinsie. Sterk wind en sneeu word oor die volgende paar dae in die gebied verwag. Foto: Xinhua via AFP
2025-12-11 15:01:32
Disney-karakters nou beskikbaar vir KI-video’s
Walt Disney en OpenAI het Donderdag aangekondig dat hulle ’n driejaar-lisensie-ooreenkoms gesluit het wat aan aanhangers die kans gee om kort video’s te maak met gewilde Disney-karakters deur middel van kunsmatige intelligensie (KI).
Hierdie ooreenkoms is groot nuus, aangesien dit die eerste keer is dat so ’n groot vermaaklikheidsreus soos Disney sy bekende karakters soos Mickey Muis, Iron Man en selfs Star Wars-helde soos Darth Vader beskikbaar maak vir KI-inhoudskepping.
Onder die ooreenkoms gaan meer as 200 Disney-, Marvel-, Pixar- en Star Wars-karakters deur gebruikers op OpenAI se Sora-videoplatform en ChatGPT gebruik kan word. Disney belê boonop $1 miljard in OpenAI en kry die opsie om nog aandele te koop.
Die nuwe tegnologie gaan ook vir Disney+ gebruik word en werknemers kry toegang tot ChatGPT. OpenAI en Disney sê hulle sal sorg dat die KI-tegnologie veilig en verantwoordelik gebruik word. – AFP
2025-12-11 15:08:40
Nobelpryswenner praat met joernaliste oor vrede

Maria Corina Machado, wenner van vanjaar se Nobelprys vir Vrede en Venezolaanse opposisieleier, spreek joernaliste toe op 'n nuuskonferensie in Oslo, Denemarke. Foto: AFP
2025-12-11 15:17:47
Bulgaarse eerste minister tree uit ná betogings
Rosen Zjeljazkof, Bulgaarse eerste minister, het Donderdag sy regering se bedanking ingedien ná weke van massabetogings oor ekonomiese beleid en sy mislukking om korrupsie op te los.
Sy besluit is reg voor ’n beplande wantrouestem in die parlement aangekondig, minder as drie weke voordat die land hom by die eurosone aansluit.
Talle Bulgare het in die laaste tyd in Sofia en ander stede betoog om hul woede te toon oor die korrupsie en die regering se onvermoë om dit uit te roei.
Zjeljazkof het gesê die protes gaan oor waardes en die stryd teen arrogansie, nie politieke beleid nie. – Reuters

Rosen Zjelyazkof. Foto: Getty Images
2025-12-11 16:15:56
Navo sê gesamentlike plan om oorlog in Oekraïne te beëindig sal Poetin ‘toets’
Mark Rutte, sekretaris-generaal van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), sê dat as Amerika en Europea kan ooreenkom oor ’n plan om die oorlog in Oekraïne te beëindig, dit ’n “toets” sou wees of Rusland “werklik vrede wil hê”.
“Tot dusver het pres. Wladimir Poetin slegs die vredemaker gespeel wanneer dit hom pas, om tyd te koop om sy oorlog voort te sit,” het Rutte Donderdag in ’n toespraak in Berlyn gesê.
Pres. Donald Trump “wil nou die bloedvergieting beëindig” en is “die enigste een wat Poetin aan die onderhandelingstafel kan kry”, het Rutte gesê. “Dus, kom ons stel Poetin op die proef. Kom ons kyk of hy werklik vrede wil hê, of verkies dat die slagting voortduur.” – AFP
2025-12-11 16:20:22
Oekraïne stuur bygewerkte vredesplan aan VSA, sê Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Donderdag gesê dat sy land ’n bygewerkte weergawe van ’n vredesplan aan Amerika voorgelê het.
Afgesien van die 20-punt-plan, sal die vredesraamwerk veiligheidswaarborge en ’n ooreenkoms oor die heropbou van Oekraïne insluit, het hy bygevoeg.
Volgens Zelenski het die VSA die idee bespreek om ’n “vrye ekonomiese sone” te skep in dele van Oos-Oekraïne waar troepe sou onttrek, maar enige territoriale toegewings sal aan ’n referendum onderwerp moet word. – Reuters
2025-12-11 16:26:24
Gewillig uitgelewer aan flitsende kameras

Tia Billinger, ook bekend as ‘Bonnie Blue’, Britse skepper van volwasse aanlyn inhoud, poseer vir mediafotograwe by ’n immigrasiekantoor in Jimbaran op Indonesië se oord-eiland Bali nadat sy aangekla is van die oortreding van immigrasiewette en die vervaardiging van pornografiese aanlyn inhoud. Foto: AFP
2025-12-11 17:06:15
Ontplooiing van Nasionale Garde in VSA-stede beloop meer as $340 miljoen
Die ontplooiing van die Nasionale Garde in stede oor Amerika heen het al meer as $340 miljoen (sowat R5,7 miljard) gekos, sê sen. Tammy Duckworth van Illinois.
Pres. Donald Trump het die Nasionale Garde na stede soos Washington, Los Angeles, Chicago, Oregon en Memphis ontplooi. In sommige gevalle is die ontplooiings egter uitgestel weens regsgedinge.
Duckworth sê die ontplooiing sluit die koste uit van ander soldate wat by die grens met Mexiko gestasioneer is. Die reuse-uitgawe vestig die aandag op hoeveel aan die ontplooiing in stede bestee word, veral in stede wat deur die Demokratiese Party geregeer word. – Reuters
2025-12-11 17:26:10
Gesonde inspuiting

’n Bord wat griepinspuitings adverteer, word in ’n venster van ’n apteek in Londen vertoon te midde van ’n skerp toename in supergriep-gevalle in Brittanje. Foto: Reuters
2025-12-11 18:15:51
Meer Amerikaners vra werkloosheidshulp
Die getal Amerikaners wat nuwe aansoeke om werkloosheidsvoordele indien, het die afgelope week die grootste sprong in amper vier en ’n half jaar getoon. Die Amerikaanse departement van arbeid het Donderdag bekend gemaak dat daar meer aansoeke is as wat aanvanklik verwag is, wat die skerp daling van die vorige week omgekeer het.
Kenners meen dié toename in werkloosheidshulp beteken nie noodwendig dat die arbeidsmark in die VSA vinnig verswak nie, want hierdie tyd van die jaar is die syfers altyd baie wisselvallig. Die aanvang van die feestyd maak dit moeilik om die data akkuraat aan te pas weens seisoenale skommelinge.
Kenners kyk eerder na die gemiddelde syfer oor vier weke om te bepaal hoe dinge regtig daarna uitsien. Dié gemiddelde wys steeds die Amerikaanse arbeidsmark is stabiel. – Reuters
2025-12-11 18:21:58
VN waarsku teen verdere spanning oor Venezolaanse olie
Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het ’n oproep gedoen om selfbeheersing nadat die VSA op ’n groot olietenkskip naby die kus van Venezuela beslag gelê het. “Ons vra dat alle partye wegbly van optrede wat spanning kan verhoog en Venezuela en die streek kan destabiliseer,” sê Farhan Haq, Guterres se woordvoerder.
Amerika en Venezuela se betrekkinge is gespanne oor olieproduksie, sanksies en politieke krisisse. Venezuela het een van die wêreld se grootste oliereserwes, maar internasionale druk en Amerikaanse sanksies het die land se ekonomie ernstig geskaad.
Die VSA se beslaglegging op die olietenkskip kom te midde van internasionale pogings om ’n politieke oplossing vir Venezuela te vind. – AFP
2025-12-11 18:30:34
Reddingsopleiding by Boeddha-beeld

Brandbestryders voer ’n reddingsoefening uit teen die Ushiku Daibutsu, ’n enorme standbeeld van die Boeddha, in Ibaraki, Japan. Foto: Getty Images
2025-12-11 19:05:34
Olietenkskip sal na Amerikaanse hawe gebring word
'n Olietenkskip waarop deur Amerikaanse magte langs die kus van Venezuela beslag gelê is, sal na ’n hawe in die VSA gebring word en die regering beplan om die ruolie wat dit vervoer, te hou, sê Karoline Leavitt, Withuis-woordvoerder.
Amerika het die skip Woensdag in ’n dramatiese klopjag gekonfiskeer waartydens Amerikaanse magte uit ’n helikopter op die massiewe vaartuig gespring het.
Die skip is volgens die VSA deel van ’n netwerk wat met gesanksioneerde ruolie smokkel.
Pres. Donald Trump se administrasie plaas al maande lank druk op Venezuela met ’n groot militere opbou deur sy vloot in die streek, asook aanvalle op vermeende dwelmsmokkelbote waartydens sowat 90 mense dood is. – AFP
2025-12-11 19:06:55
’n Legio vrae...

Karoline Leavitt, Withuis-woordvoerder, reageer Donderdag met ’n glimlag toe sy met vrae gepeper word op ’n nuuskonferensie in die Withuis in Washington DC. Foto: Reuters
2025-12-11 19:08:10
FBI waarsku teen Antifa as grootste bedreiging in VSA
Die FBI het Donderdag ten tyde van ’n kongresverhoor gesê die selfgeproklameerde teenfascistiese beweging Antifa is tans die grootste plaaslike terreurbedreiging vir die VSA.
Michael Glasheen, bedryfshoof van die FBI se nasionale veiligheidstak, het Antifa “die mees onmiddellike gewelddadige bedreiging” genoem. Hy het egter gesukkel om besonderhede oor die beweging, sy lede of ligging te gee. Die beweging word ondersoek en die getal lede is “baie wisselvallig”, het hy gesê.
Antifa is ’n afkorting vir “anti-fascisties” en verwys na individue en groepe wat gekant is teen fascisme, rassisme en verregse ekstremisme.
Antifa het nie ’n sentrale leierskorps of lidmaatskap soos ’n gewone organisasie nie. Lede en ondersteuners werk eerder losweg saam en kom uit verskeie agtergronde. – Reuters
2025-12-12 03:39:59
Thaise premier praat later Vrydag met Trump oor konflik met Kambodja
Anoetin Tsjarnwirakoel, premier van Thailand, het Vrydag gesê hy sal later vandag met pres. Donald Trump praat, terwyl gevegte op die grens tussen Thailand en Kambodja vir ’n vyfde dag voortduur.
Anoetin het aan verslaggewers gesê die telefoonoproep met Trump sal omstreeks 21:20 plaaslike tyd plaasvind.
Trump is gretig om weer in te gryp om die gevegte te stop en ’n skietstilstand te red wat hy in Julie vanjaar bemiddel het. – Reuters
2025-12-12 03:47:58
Nog ’n aardbewing tref Japan
’n Aardbewing met ’n voorlopige sterkte van 6,7 het Vrydag die noordoostelike streek van Japan getref.
Dit het gelei tot ’n tsoenami-waarskuwing deur die Japannese Meteorologiese Agentskap vir golwe tot 1 meter hoog.
Die aardbewing het om 11:44 plaaslike tyd langs die kus van die Aomori-prefektuur getref nadat ’n groter aardbewing van 7,5 dieselfde streek laat Maandag geruk het.
Ná Maandag se aardbewing het die regering ’n spesiale waarskuwing aan inwoners uitgereik oor die verhoogde moontlikheid van nog ’n kragtige aardbewing binne ’n week. – Reuters
2025-12-12 04:04:34
Passasier probeer vliegtuigdeur ten tyde van vlug oopmaak
Die lugredery Cathay Pacific het Vrydag gesê dat ’n passasier op ’n vlug vanaf Boston na Hongkong probeer het om ’n vliegtuigdeur Woensdag ten tyde van die vlug oop te maak.
Die lugredery sê geen passasiers of bemanning is beseer nie en die vlug het vroeg Donderdag veilig geland.
Die voorval word nou deur die stad se polisie hanteer.
Hongkong se polisie het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-12-12 05:01:50
Suid-Koreaanse kripto-entrepreneur gevonnis vir bedrog op ‘epiese skaal’
Do Kwon, die Suid-Koreaanse kriptogeldeenheid-entrepreneur agter twee digitale geldeenhede wat in 2022 na raming tot verliese van $40 miljard gelei het, is Donderdag tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Die Amerikaanse distriksregter Paul A. Engelmayer het Kwon skerp gekritiseer omdat hy herhaaldelik vir beleggers gelieg het nadat hulle hom met hul lewensbesparings vertrou het.
“Dit was ’n bedrog op ’n epiese skaal. In die geskiedenis van federale vervolgings is daar min bedrogspulle wat soveel skade veroorsaak het soos u, mnr. Kwon,” het Engelmayer in die uitspraak gesê. – Reuters
2025-12-12 05:06:30
Amerika stuur dalk verteenwoordiger na Europa vir gesprekke oor Oekraïne
Pres. Donald Trump het Donderdag gesê Amerika sal ’n verteenwoordiger stuur om die naweek deel te neem aan gesprekke in Europa oor Oekraïne indien daar ’n goeie kans is vir vordering met ’n skietstilstand.
“Ons sal sien of ons die vergadering bywoon of nie,” het Trump gesê.
“Ons sal die vergadering Saterdag in Europa bywoon as ons dink daar is ’n goeie kans. En ons wil nie baie tyd mors as ons dink dit is negatief nie.” – Reuters
2025-12-12 05:19:04
Reddit dagvaar Australië oor verbod op sosiale media
Die aanlyn platform Reddit het Vrydag ’n regsgeding in Australië aanhangig gemaak om die land se verbod op sosiale media vir kinders onder 16 jaar oud ter syde gestel te kry.
Reddit beskryf die verbod, wat Woensdag in werking getree het, as ’n inbreuk op vrye politieke diskoers.
Die maatskappy voer aan dat die verbod ongeldig verklaar moet word.
Selfs al handhaaf die hof die verbod, behoort Reddit daarvan vrygestel te word aangesien hy nie aan die definisie van sosiale media voldoen nie, voer die regsgeding ook aan. – Reuters
2025-12-12 05:31:56
Hoof van S-Koreaanse eksamens bedank oor 'moeilike’ Engelstoets
Die hooforganiseerder van Suid-Korea se berugte uitmergelende universiteitstoelatingseksamens het bedank ná klagtes dat ’n Engelse toets wat hy opgestel het, net te moeilik was.
Dié eksamens is noodsaaklik vir toelating tot topuniversiteite en word wyd beskou as ’n roete na sosiale mobiliteit, ekonomiese sekuriteit en selfs ’n goeie huwelik.
Maar vanjaar het net meer as 3% van diegene wat die eksamen afgelê het, toppunte in die Engelstoets behaal.
Studente is slegs 70 minute gegee om 45 vrae te beantwoord. – AFP
2025-12-12 05:38:57
Jong-oen wil ‘bose’ uitroei, berispe lui amptenare
Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea, het belowe om die “bose” uit te roei en lui amptenare berispe terwyl hy sy troepe wat saam met Rusland teen Oekraïne veg, geprys het ter afsluiting van ’n belangrike vergadering van die land se topleiers.
Die regime se sentrale komitee het belangrike beleidskwessies op die driedaagse vergadering bespreek.
Kim het die vergadering Donderdag afgesluit en “die verkeerde ideologiese standpunt en onaktiewe en onverantwoordelike werkshouding” van sommige amptenare veroordeel, het staatsmedia berig. – AFP
2025-12-12 06:04:24
Ondersese muur van 7 000 jaar oud in Frankryk ontdek
Duikers het ’n muur van sowat 7 000 jaar oud onder die see naby die weste van Frankryk ontdek, het wetenskaplikes Donderdag gesê.
Dit is sowat 120 meter lank en is naby Ile de Sein in Bretagne gevind, saam met 12 kleiner mensgemaakte strukture uit dieselfde tydperk.
“Dit is ’n baie interessante ontdekking wat nuwe vooruitsigte vir onderwater-argeologie oopmaak en ons help om beter te verstaan hoe kussamelewings georganiseer is,” het Yvan Pailler, professor in argeologie aan die Universiteit van Wes-Bretagne, aan AFP gesê. – AFP
2025-12-12 06:17:46
Tsoenami-waarskuwing opgehef ná aardbewing
Japan het ’n tsoenami-waarskuwing opgehef wat uitgereik is nadat ’n aardbewing van 6,9 die land se noordoostelike streek Vrydag getref het, het die Japannese Meteorologiese Agentskap (JMA) gesê.
Vroeër is berig die JMA het die aardbewing se voorlopige sterkte op 6,7 geraam.
Japan is geleë bo-op vier groot tektoniese plate langs die westelike rand van die Stille Oseaan se “Ring van Vuur” en is een van die wêreld se mees seismies aktiewe lande.
Die argipel ervaar jaarliks ongeveer 1 500 skuddings. – Reuters, AFP
2025-12-12 06:52:27
Dodelike storms in Indonesië bedreig skaarsste groot aap in wêreld
Indonesië se onlangse dodelike oorstromings was ’n groot slag vir die oorlewing van die wêreld se skaarsste groot aap, die tapanuli-orangoetang, het wetenskaplikes Vrydag gewaarsku.
Die tapanuli is ongelooflik skaars, met minder as 800 oor in die natuur en is beperk tot ’n klein gebied in ’n deel van Sumatra, Indonesië.
Een dooie tapanuli-orangoetang is reeds in die streek gevind.
“Die verlies van selfs ’n enkele tapanuli-orangoetang is ’n verwoestende slag vir die oorlewing van die spesie,” het Panoet Hadisiswoio, stigter en voorsitter van die tapanuli-orangoetang-inligtingsentrum, in Indonesië, gesê. – AFP
2025-12-12 07:26:11
VSA stel nuwe sanksies in wat Venezuela teiken
Amerika het Donderdag nuwe sanksies teen Venezuela ingestel wat beperkings op drie familielede van pres. Nicolás Maduro se vrou plaas, sowel as op ses ruolietenkskepe en skeepvaartmaatskappye wat met hulle verbind word.
Pres. Donald Trump se administrasie plaas al maande lank druk op Venezuela met ’n groot militêre opbou deur sy vloot in die streek, asook aanvalle op vermeende dwelmsmokkelbote waarin bykans 90 mense dood is.
Die Amerikaanse departement van finansies het gesê die tenkskepe en maatskappye wat Venezolaanse olie vervoer, het “misleidende en onveilige skeepvaartpraktyke uitgevoer en verskaf steeds finansiële hulpbronne wat Maduro se korrupte narko-terroristeregime aanvuur”. – Reuters
2025-12-12 07:51:20
7 beseer toe puin van Oekraïense hommeltuig gebou in Rusland tref
Sewe mense is beseer toe die puin van ’n Oekraïense hommeltuig ’n woonstelblok noordwes van Moskou getref het, het Russiese owerhede Vrydag gesê.
Die voorval het ook ’n brand veroorsaak.
Die aanval het oornag in Twer, sowat 180 km van Moskou af, gebeur te midde van ’n verskerpte hommeltuigveldtog deur Oekraïne. – AFP
2025-12-12 08:32:08
Kirk se vermeende moordenaar 1ste keer persoonlik in hof
Tyler Robinson (22), die man wat daarvan beskuldig word dat hy die aktivis Charlie Kirk (31) vermoor het, het Donderdag sy eerste persoonlike hofverskyning gemaak.
Hy het voorheen per videoverbinding verskyn.
Die doel van die verhoor was vir die regter om argumente aan te hoor oor watter vlak van mediatoegang in die hoëprofielsaak toegelaat moet word.
Die uitspraak oor mediatoegang is vir 29 Desember geskeduleer.
Robinson word daarvan beskuldig dat hy ’n enkele skoot vanaf ’n dak afgevuur het wat Kirk in sy nek getref het op ’n openbare geleentheid op ’n universiteitskampus in Utah terwyl hy met studente debat gevoer het. – Reuters

Tyler Robinson, wat van die moord op Charlie Kirk beskuldig word, Donderdag in ’n distrikshof in Provo in Utah, VSA. Foto: Getty Images/Pool
2025-12-12 08:38:30
Oostenryk verbied kopdoeke vir meisies onder 14
Wetgewers in Oostenryk het Donderdag met ’n groot meerderheid ten gunste van ’n wet gestem wat kopdoeke in skole vir meisies onder die ouderdom van 14 verbied.
Volgens menseregtegroepe en kenners is die stap diskriminerend en dit kan verdeeldheid in die samelewing verdiep.
Die regering het die verbod vroeër vanjaar voorgestel en aangevoer dat dit daarop gemik is om meisies “teen onderdrukking” te beskerm.
In 2019 het die land ’n verbod op kopdoeke in laerskole ingestel, maar die konstitusionele hof het dit tersyde gestel. – AFP
2025-12-12 08:46:54
Thaise parlement ontbind
Anoetin Tsjarnwirakoel, premier van Thailand, het die parlement Vrydag ontbind, wat die weg baan vir ’n algemene verkiesing vroeg volgende jaar.
Dit kom te midde van dodelike grensbotsings met Kambodja.
Dit kom ook vroeër as verwag en net drie maande nadat Tsjarnwirakoel premier geword het toe sy voorganger weens ’n etiese oortreding uit die amp verwyder is.
“Aangesien die administrasie ’n minderheidsregering is en binnelandse politieke toestande veelvuldige uitdagings bied, kan die regering nie voortgaan om staatsake deurlopend, doeltreffend en met stabiliteit te behartig nie.” – AFP
2025-12-12 09:41:36
Israel voer reeks aanvalle op Libanon uit
’n Reeks Israeliese aanvalle het Vrydag die suide en ooste van Libanon getref, het die staatsmedia berig.
Aanvalle is op ongeveer 12 plekke aangemeld, insluitend tot ongeveer 30 km van die Israeliese grens.
Die Israeliese weermag sê dat sy magte ’n “opleidingskompleks" aangeval het wat deur Hezbollah se elite Radwan-mag gebruik word waar agente “skietoefeninge en bykomende opleiding oor die gebruik van verskillende soorte wapens ondergaan het”. – AFP
2025-12-12 09:54:12
Tienduisende moet ontruim weens vloede in VSA
Tienduisende mense is Donderdag in die weste van die VSA onder ontruimingsbevele geplaas, nadat dae van swaar reën riviere riviere hul walle laat oorstroom het.
Storms teister die staat Washington in Amerika en British Columbia oor die Kanadese grens al vir etlike dae.
Mense wat suid van Seattle en Tacoma woon, is aangesê om hul huise te verlaat, met lugfoto’s wat plaasgrond reeds onder water wys, en bevolkte gebiede daarrondom wat ook in gevaar is. – AFP

’n Waarskuwingsteken Donderdag ’n oorstroomde gebied by die Snohomish-rivier in Snohomish, Washington. Foto: Reuters
2025-12-12 10:01:04
Honderdduisende tente van ontheemdes kan oorstroom in Gasastrook
Honderdduisende ontheemde inwoners van die Gasastrook se tente kan oorstroom weens swaar reën.
Volgens die VN word materiaal vir skuilings en sandsakke nie toegelaat om die enklawe binne te gaan nie.
Honderde tente is Donderdag weens stortreën oorstroom en ’n babadogtertjie is weens blootstelling dood, het plaaslike gesondheidsamptenare gesê.
Byna 795 000 ontheemde mense loop ’n verhoogde risiko van potensieel gevaarlike oorstromings in laagliggende gebiede vol puin waar gesinne in onveilige skuilings woon, sê die VN.
Onvoldoende dreinering en afvalbestuur verhoog ook die risiko van siektes. – Reuters
2025-12-12 10:12:44
Brittanje stel sanksies in teen bevelvoerders van RSF in Soedan
Brittanje het Vrydag sanksies teen senior bevelvoerders van Soedan se paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) ingestel.
Abdul Rahim Hamdan Dagalo, RSF-adjunkleier, sowel as drie ander bevelvoerders wat daarvan verdink word dat hulle by massamoorde, sistemiese seksuele geweld en doelbewuste aanvalle op burgerlikes betrokke is, se bates kan nou bevries word en ’n reisverbod kan teen hulle ingestel word.
“Die gruweldade wat in Soedan plaasvind is so verskriklik dat dit die gewete van die wêreld raak,” het Yvette Cooper, Britse minister van buitelandse sake, gesê. – Reuters
2025-12-12 11:17:50
Duitse regering bekommerd oor toename in ‘hibriede oorlogvoering’ deur Rusland
Duitsland het Rusland se ambassadeur ontbied oor wat hy beskryf as ’n groot toename in dreigende hibriede aktiwiteite deur Rusland, insluitend die verspreiding van vals inligting, spioenasie, kuberaanvalle en gepoogde sabotasie.
“Die Russiese ambassadeur in Berlyn is ontbied en ons het dit duidelik gemaak dat ons Rusland se optrede baie fyn dophou en daarteen sal optree,” het ’n woordvoerder van Duitsland se departement van buitelandse sake Vrydag gesê.
“Hibriede aktiwiteite” is ’n term wat verwys na gekombineerde, indirekte aanvalle soos propaganda, kuberkraking, spioenasie en sabotasie eerder as direkte militêre optrede. – Reuters
2025-12-12 11:28:25
België: Polisie slaan groot slag teen kindermolestering
Die Belgiese owerhede sê vier mense word aangehou en “talle” ander is aangekla weens die besit en verspreiding van beeldmateriaal waarin kinders seksueel misbruik word ná ’n grootskaalse polisieoperasie in Brussel.
Meer as 50 ondersoeke is geopen nadat “die deel van internasionale inligting dit moontlik gemaak het om te bepaal dat verskeie mense in Brussel betrokke is by die aflaai van video’s en foto’s van die seksuele misbruik van kinders, sê aanklaers.
Sowat 28 sake het “positiewe resultate opgelewer” en ondersoeke is steeds aan die gang. Honderde rekenaars, hardeskywe, selfone en tablette is gekonfiskeer. – AFP
2025-12-12 11:34:14
Onderwater Kersvader

Duiker Faiz Mahamud voer visse in ’n Kersvader-uitrusting in ’n akwarium in Kuala Lumpur, Maleisië. Foto: AFP
2025-12-12 12:10:17
Koning Charles deel kankerstryd met publiek
Koning Charles III van Brittanje gaan Vrydag in ’n persoonlike televisietoespraak besonderhede oor sy stryd teen kanker en die vordering met sy behandeling deel, het die Buckingham-paleis aangekondig.
In die vooraf opgeneemde boodskap, wat op Channel 4 uitgesaai word as deel van die Stand Up to Cancer-veldtog, sal die Britse monarg sy eie herstelpad bespreek en beklemtoon hoe belangrik vroeë opsporing en gereelde kankersifting is.
Charles is in 2024 met ’n ongespesifiseerde vorm van kanker gediagnoseer, nadat dokters dit gedurende toetse vir ’n vergrote prostaat opgespoor het. Ná weke van afwesigheid het hy in April weer openbare pligte hervat en aan verskeie seremonies en internasionale besoeke deelgeneem.
Charles is ook sedertdien die nuwe beskermheer van Cancer Research UK. Sy openhartigheid, asook dié van sy skoondogter Kate, het volgens liefdadigheidsorganisasies moed aan ander kankerpasiënte gegee om hul uitdagings te deel. – Reuters

Koning Charles III Foto: Getty Images
2025-12-12 12:11:57
Hongersnood dreig: Voedselhulp vir Soedan verminder
Die Wêreldvoedselprogram (WFP) van die Verenigde Nasies (VN) het Vrydag bekend gemaak dat voedselhulp aan miljoene mense in Soedan vanaf Januarie drasties verminder sal word weens ’n ernstige tekort aan fondse. Die land word reeds sedert 2023 deur ’n verwoestende oorlog tussen die Soedannese leër en die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) geteister.
Dit het daartoe gelei dat die VN dit as die wêreld se ergste humanitêre krisis beskryf. Veral gemeenskappe in Darfoer ly onder hongersnood en wanvoeding weens die 18 maande lange beleg van Al-Fasjir deur die RSF.
Volgens Ross Smith, die WFP se direkteur van noodvoorbereiding en reaksie, sal voedselrantsoene vanaf Januarie tot 70% gesny word vir dié wat reeds honger ly, en tot 50% vir dié wat onder bedreiging is. “Teen April sal die krisis selfs erger word as finansiering opdroog,” het Smith gewaarsku. – Reuters
2025-12-12 12:12:59
Kersete...

’n Skilpad vreet gedurende Kersvieringe by die Hacienda Napoles-temapark, eens die private dieretuin van die oorlede dwelmbaas Pablo Escobar, in Doradal, Colombia. Foto: AFP
2025-12-12 12:57:48
Machado ‘vrees vir haar lewe’ gedurende geheime Nobel-reis
Die Venezolaanse opposisieleier Maria Corina Machado, wat vanjaar se Nobelprys vir Vrede gewen het, sê sy het vir haar lewe gevrees gedurende haar onlangse geheime reis van Venezuela na Noorweë om die eerbewys te ontvang.
“Daar was oomblikke waar ek gevoel het my lewe is werklik in gevaar, en dit was ook vir my ’n baie geestelike ervaring, want uiteindelik het ek gevoel ek is in God se hande en wat moet gebeur, sal gebeur,” het Machado Vrydag aan joernaliste in Oslo gesê.
Sy het geweier om besonderhede te gee oor hoe sy daarin geslaag het om Venezuela, waar sy sedert verlede jaar in die geheim woon, te verlaat. Sy wou diegene wat haar gehelp het, beskerm, na aanleiding van dramatiese berigte oor haar reis in die Amerikaanse media. – AFP
2025-12-12 13:00:12
Oekraïne wil teen 2027 deel wees van EU
Oekraïne beplan glo om teen 1 Januarie 2027 tot die Europese Unie (EU) toe te tree as deel van ’n vredesvoorstel wat tans bespreek word in die Amerikaans bemiddelde onderhandelinge om die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te beëindig.
Die voorstel word luidens ’n berig in die Financial Times deur Amerikaanse en Oekraïense amptenare met die steun van Brussel bespreek.
Die moontlikheid dat Oekraïne by die EU kan aansluit, is ’n groot stap in die geopolitieke dinamika van Europa.
Sedert Rusland in 2022 ’n grootskaalse inval in Oekraïne begin het, het die Oekraïense regering stelselmatig probeer om nader aan Westerse instansies soos die EU te beweeg.
So ’n lidmaatskap word gesien as ’n waarborg vir politieke en ekonomiese stabiliteit, asook verhoogde veiligheid vir Oekraïne teen verdere Russiese aggressie. – Reuters
2025-12-12 13:01:17
Danstalent . . .

Dansers oefen tydens ’n kleedrepetisie vir die balletvertoning ‘Difference Between’ in die New York City Center in New York, Amerika. Foto: Reuters
2025-12-12 14:04:44
Israel verbied selfone in laerskole
Israel gaan van Februarie 2026 af kinders verbied om selfone in laerskole te gebruik, het die ministerie van onderwys Vrydag aangekondig, en die toestelle se “negatiewe uitwerking” op kinders beklemtoon.
Met dié verbod sal Israel aansluit by ’n toenemende aantal lande wat probeer keer dat kinders toegang het tot hul selfone terwyl hulle in die skool is.
Volgens minister Yoav Kisch sal die implementering van die verbod opvoedkundige programme in die klaskamer insluit, asook gesprekke met ouers, om gebalanseerde selfoongewoontes te vestig.
Tot nou toe kon individuele skole besluit of hulle die gebruik van selfone verbied of nie. – AFP
2025-12-12 14:07:38
Roemenië se 1ste melaatsheidgevalle in 44 j. is masseuses
Roemenië het sy eerste gevalle van melaatsheid in 44 jaar bevestig by twee masseerterapeute van ’n spa in die noordwestelike stad Cluj.
Nog twee mense word getoets, en die twee bevestigde gevalle – albei Indonesiese burgers, onderskeidelik 21 en 25 jaar oud – word behandel, het die ministerie van gesondheid gesê.
Volgens die minister van gesondheid hoef kliënte by die spa nie bekommerd te wees nie, aangesien die siekte uitgebreide blootstelling vereis om oorgedra te word.
Een van die pasiënte het onlangs van Asië af teruggekeer, waar sy ’n maand saam met haar ma deurgebring het. Haar ma is in die hospitaal met dieselfde siekte.
Die spa is gesluit hangende ’n ondersoek, het gesondheidsamptenare gesê. – AFP
2025-12-12 14:23:04
Die aanloopbaan is darem kort!

’n Beechcraft Bonanza-vliegtuig op die Amador-kuspad in die baai van Panamastad nadat dit ’n noodlanding moes uitvoer. Geen sterftes is aangemeld nie, en die oorsaak van die noodlanding is nog onbekend. Foto: AFP
2025-12-12 15:04:26
Britse skrywer Joanna Trollope sterf op 82
Die topverkoperskrywer Joanna Trollope is in die ouderdom van 82 oorlede, het haar familie Vrydag gesê. Die oorsaak van haar dood is nie bekend nie.
Trollope het meer as 40 boeke geskryf, sommige onder die skuilnaam Caroline Harvey.
Haar werk, insluitend die romans Other People's Children, Daughters-in-Law en A Village Affair, het gefokus op die middelklas-gesinslewe en verhoudings, en het onderwerpe soos aanneming en huweliksprobleme aangespreek.
Trollope is vreedsaam oorlede by haar huis in Sentraal-Oxfordshire, het haar dogters, Antonia en Louise, gesê.
Koningin Elizabeth II het Trollope in 2019 vereer met ’n bevelvoerder van die Orde van die Britse Ryk (CBE)-eerbewys vir haar bydrae tot letterkunde. – AFP
2025-12-12 15:05:55
34 vas in Italië oor plundering van argeologiese terreine
Italiaanse owerhede het Vrydag gesê hulle het 34 mense in hegtenis geneem wat verdink word van die plundering van argeologiese terreine in Sisilië en Kalabrië.
Wetstoepassers het ook beslag gelê op sowat 10 000 argeologiese artefakte ter waarde van $20 miljoen, insluitend 7 000 munte wat uitgereik is deur verskeie Griekse stadstate wat in antieke tye op Sisilië bestaan het, en honderde klei- en terracotta-vase, bronsringe, borsspelde en pylpunte.
’n Geheime werkswinkel waarin vals antieke munte, en keramiek- en koperware vervaardig is, is ook gevind. – AFP
2025-12-12 15:07:14
‘Koop seblief my boek’

Nicolas Sarkozy (middel), Frankryk se voormalige president, waai vir ondersteuners terwyl hy Vrydag in die strate van Menton in Suidoos-Frankryk loop voor ’n geleentheid waar hy eksemplare van sy nuwe boek, Dagboek van ’n prisonier, geteken het. Foto: AFP
2025-12-12 16:03:18
Iran neem Nobel-vredespryswenner Mohammadi in hegtenis
Iranse veiligheidsmagte het die 2023 Nobel-vredespryswenner Narges Mohammadi Vrydag “gewelddadig” in hegtenis geneem by ’n gedenkgeleentheid, het haar ondersteuners gesê.
Mohammadi, wat in Desember 2024 tydelik uit die tronk vrygelaat is, is saam met verskeie ander aktiviste in hegtenis geneem, het haar stigting op X gesê.
Mohammadi se man, wat in Parys, Frankryk, woon, het op X gesê sy is in die oostelike stad Masjhad in hegtenis geneem. – AFP
2025-12-12 16:24:42
13 sterf ná swaar reën Gasastrook tref
Die Gasastrook se burgerlike beskermingsagentskap het Vrydag gesê minstens 13 mense is die afgelope 24 uur dood weens ’n winterstorm en vloede wat die gebied getref het.
Onder die wat gesterf het, tel drie kinders wat dood is weens blootstelling. Nog mense is dood toe mure en huise in aparte voorvalle ineengestort het.
Swaar reën en sterk winde het tente en tydelike skuilings oor die Gasastrook heen sedert Woensdagaand geteister en oorstroom, wat die lyding van inwoners vererger het.
Die Verenigde Nasies het vroeër gesê tot 795 000 ontheemde mense loop ’n verhoogde risiko van potensieel gevaarlike oorstromings in laagliggende gebiede vol puin waar gesinne in onveilige skuilings woon. – AFP

’n Seun in ’n tydelike kamp vir ontheemde Palestyne in die Zeitoen-woonbuurt van Gasastad kyk Vrydag by ’n tentvenster uit. Foto: AFP
2025-12-12 16:44:30
Uit die kloue van die see

Twee migrante wat deel was van ’n groep van sowat 60, Vrydag in Bugibba, Malta, nadat hulle na veiligheid gebring is toe hul boot naby die eiland omgeslaan het. Dit is nie bekend van watter land die migrante afkomstig is nie, maar hulle is vermoedelik Libiërs wat op pad was na Italië. Foto: Reuters
2025-12-12 17:17:22
Onderskepte olietenkskip van Venezuela na hawe in VSA geneem
Die olietenkskip wat die afgelope week naby Venezuela deur Amerikaanse magte onderskep is as deel van verhoogde druk op pres. Nicolás Maduro, is op pad na die hawe in Houston, Amerika.
Volgens kenners vervoer die skip swaar Merey-ruolie van Venezuela.
Die skip is te groot om die Houston-hawe binne te vaar en sal dus buite anker gooi om die olie na kleiner skepe oor te laai. Amerikaanse owerhede en Venezuela se staatsoliemaatskappy, PDVSA, het nog nie kommentaar gelewer oor die voorval nie, terwyl Guyana se maritieme gesag bevestig het dat die skip sy vlag valslik vertoon het. Die beslaglegging op die gesanksioneerde skip het spanning tussen Amerika en Venezuela verder laat oplaai.
Bronne waarsku dat Amerika nou gereed maak om nóg skepe wat Venezolaanse olie vervoer, te onderskep. – Reuters
2025-12-12 17:19:00
In perfekte gelid

Offisierkadette neem deel aan ’n parade by die Royal Military Academy in Sandhurst, suidwes van Londen. Die parade verteenwoordig die voltooiing van 44 weke se intensiewe opleiding vir die offisierkadette. Foto: AFP
2025-12-12 17:26:04
Boere woedend ná beeste van kant gemaak is om verspreiding van siekte te keer
Frankryk se veeartse het Vrydag ’n kudde beeste van kant gemaak wat vermoedelik aan die aansteeklike knopvelsiekte ly nadat die polisie woedende boere met traangas uiteengejaag het by Les Bordes-sur-Arize, naby die Spaanse grens.
Boere het bome afgekap en versperrings gebou om dit te keer, maar die owerhede sê die van kant maak van alle besmette vee is die enigste manier om die siekte, wat dodelik vir beeste kan wees, te stuit.
Slegs een bees was siek en is dood, terwyl die res van die kudde van kant gemaak is om die verspreiding van die siekte te voorkom. Boere beplan ’n landwye betoging oor die regering se hantering van die siekte. – AFP
2025-12-12 18:04:56
Rwanda veroorsaak onstabiliteit wat tot oorlog kan lei, maan VSA
Amerika het Rwanda Vrydag daarvan beskuldig dat hy onstabiliteit veroorsaak wat tot oorlog kan lei nadat ’n Rwanda-ondersteunde opmars van die M23-rebelle in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) dreig om pres. Donald Trump se pogings om vrede in die streek te bewerkstellig, te ontspoor.
“Rwanda stuur die streek in die rigting van groter onstabiliteit en oorlog,” het Mike Waltz, Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN), aan die VN se Veiligheidsraad gesê.
“Ons sal die hulpmiddels tot ons beskikking gebruik om dié wat vrede kelder, aanspreeklik te hou.”
Die rebelle se vordering bring die konflik op die drumpel van Burundi, wat al jare lank troepe in die ooste van die DRK het. Dit versterk ook vrese dat die geweld, wat reeds duisende mense se lewe geëis en honderdduisende sedert Januarie ontwortel het, in die streek sal uitbrei. – Reuters
2025-12-12 18:14:22
Thailand, Kambodja stem in om konflik te staak, sê Trump
Die premiers van Thailand en Kambodja het ingestem om gevegte te staak ná dae van dodelike botsings, het pres. Donald Trump Vrydag gesê nadat hy met albei leiers gepraat het.
“Hulle het ingestem om ALLE skietery vanaf vanaand te STAAK en terug te keer na die oorspronklike vredesooreenkoms wat ek, hulle, en die Groot Premier van Maleisië, Anwar Ibrahim, saam gesluit het,” skryf Trump op sy sosialemedia-platform, Truth Social, met verwysing na ’n ooreenkoms wat in Oktober gesluit is.
Thailand en Kambodja het ’n geskiedenis van gespanne betrekkinge, met gereelde konflikte op die grens, veral om gebiede soos die Preah Wihear-tempel. – AFP
2025-12-12 18:32:02
Verdagte 'vriende'

Demokratiese wetgewers het Vrydag ’n nuwe versameling foto’s uitgereik van die saaklêers van die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein wat foto’s van pres. Donald Trump insluit. Foto: Demokrate in die huis van verteenwoordigers se toesigkomitee via AFP
2025-12-12 19:02:07
Erdogan bepleit 'beperkte skietstilstand' by Poetin
Pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye het Vrydag in ’n gesprek met sy Russiese ampsgenoot, Wladimir Poetin, ’n "beperkte skietstilstand" in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne bepleit wat op hawens en energiegeriewe fokus.
Erdogan het op die kantlyn van ’n beraad in Turkmenistan aan die Russiese leier gesê pogings om die oorlog te beëindig is waardevol. Die inwerkingstelling van so ’n beperkte skietstilstand “kan voordelig wees", het sy kantoor gesê. – AFP
2025-12-12 19:11:06
Rusland vonnis regters en aanklaer oor Poetin-lasbrief
Rusland het Vrydag die topregters van die Internasionale Strafhof en sy hoofaanklaer in absentia tronkstraf opgelê nadat die hof ’n lasbrief vir pres. Wladimir Poetin se inhegtenisneming uitgereik het weens beweerde oorlogsmisdade in Oekraïne.
Poetin is in 2023 aangekla van die onwettige deportasie van kinders uit Russies-besette gebiede van Oekraïne, en die lasbrief is uitgereik.
Die Moskou-stadshof het bevind dat die aanklaer “onwettig Russiese burgers in Den Haag vervolg het” en dat die regters “ooglopend onwettige arrestasiebevele uitgereik het”.
Rusland is nie lid van die Internasionale Strafhof nie. – AFP
2025-12-12 19:15:37
Kersvader is óral

’n Reuse-opblaasfiguur van Kersvader word Vrydag gebruik om ’n Kersboomwinkel buite Frankfurt, Duitsland, te adverteer. Foto: Reuters
2025-12-12 20:01:36
Oekraïne: ‘Veiligheidswaarborge voor territoriale toegewings’
Europese lande en Oekraïne vra Amerika om veiligheidswaarborge te verskaf voordat enige onderhandelinge oor moontlike territoriale toegewings in die Russies besette ooste van Oekraïne kan plaasvind, het die Franse presidensie Vrydag gesê.
“Ons benodig veiligheidswaarborge … voordat enige skikking oor omstrede territoriale aangeleenthede aangegaan word,” het die presidensie gesê voor ’n vergadering Maandag in Berlyn, Duitsland, tussen pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne, Europese leiers en die hoofde van die Europese Unie en Navo. – AFP

Oekraïense artilleriste vuur Vrydag ’n howitzer af in die rigting van Russiese troepe naby die frontliniedorp Pokrowsk in die Donetsk-streek van Oekraïne. Foto: Reuters
2025-12-12 20:03:32
VSA hef sanksies op teen regter in Bolsonaro-saak
Amerika het sy sanksies teen regter Alexandre de Moraes van die Brasiliaanse hooggeregshof opgehef, lui ’n verklaring Vrydag van die Amerikaanse tesourie.
Amerika het sanksies teen Moraes opgelê nadat hy toesig gehou het oor die verhoor wat gelei het tot die skuldigbevinding van oudpres. Jair Bolsonaro weens ’n staatsgreeppoging.
Die Trump-administrasie het Moraes daarvan beskuldig dat hy howe gemanipuleer, arbitrêre aanhoudings voor ’n verhoor goedgekeur en vryheid van uitdrukking onderdruk het. – Reuters
2025-12-12 20:20:15
Koning Charles se kankerbehandeling in 2026 verminder
Koning Charles III het Vrydag gesê sy behandeling vir kanker kan in die volgende jaar verminder word.
’n Ongespesifiseerde vorm van kanker is in Februarie 2024 by Charles (77) gediagnoseer. Hy het die jongste aankondiging gemaak ten tyde van ’n televisietoespraak as deel van ’n nasionale kankerbewustheidsveldtog in Brittanje.
"Ek kan met julle die goeie nuus deel dat, danksy vroeë diagnose, doeltreffende ingryping en nakoming van dokters se voorskrifte, my eie skedule van kankerbehandeling in die nuwe jaar verminder kan word," het hy gesê.
Die Britse monarg het egter nie onthul vir watter soort kanker hy behandeling ontvang nie. – Reuters
2025-12-12 20:31:22
Glimlag mooi en sê ‘Kersfees’

’n Indonesiese Moslemvrou neem Vrydag ’n selfie op ’n roltrap by Kersversierings in die Pacific Place-inkopiesentrum in Jakarta, Indonesië. Foto: Reuters















