

2025-12-15 03:25:28
Dodetal styg weens aanval op Bondi-strand, 40 in hospitaal
Die getal slagoffers wat omgekom het nadat gewapende mans Sondag op mense losgebrand het tydens ’n Joodse vakansieviering op Bondi-strand in Sydney, Australië, het Maandag op 15 gestaan.
Australiese owerhede beskryf die aanval as ’n geteikende antisemitiese aanval.
Intussen het die polisie Maandag gesê die aanvallers is ’n pa (50) en seun (24). Die pa is op die toneel doodgeskiet en die seun is in ’n kritieke toestand in die hospitaal.
Die totale dodetal is dus 16. Veertig mense is steeds in die hospitaal, onder wie twee polisiebeamptes.
Die slagoffers was tussen 10 en 87 jaar oud. – Reuters

Lede van die plaaslike Joodse gemeenskap omhels mekaar by die Bondi-paviljoen op Bondi-strand in Sydney, Australië. Foto: AFP
2025-12-15 03:34:24
Bekende Hollywood-akteur, regisseur en vrou straks vermoor
Die Hollywood-akteur en regisseur Rob Reiner (78) en sy vrou, Michele Singer (68), is Sondag in hul huis in Brentwood dood aangetref.
Die polisie het ’n moorddossier aangelê.
Wetstoepassers is Sondagmiddag na die egpaar se huis ontbied.
New York Post berig volgens bronne het Reiner en Singer steekwonde opgedoen.
Reiner het in die 1970’s ’n rol in die televisiekomedie-treffer All in the Family vertolk en verskeie bekende rolprente geregisseer, insluitend When Harry Met Sally en Stand by Me. – Reuters, New York Post

Rob Reiner Foto: Getty Images/FilmMagic
2025-12-15 03:48:28
Persoon van belang aangehou weens skietery by Brown-Universiteit
’n Man is Sondag in ’n hotel in Rhode Island in hegtenis geneem en word aangehou as ’n “persoon van belang” in die skietery by die Brown-Universiteit in dié Amerikaanse deelstaat waarin twee studente dood en nege gewond is, het die owerhede gesê.
’n Gewapende man het Saterdag omstreeks 16:00 plaaslike tyd losgebrand in ’n klaskamer in ’n gebou waar eksamens geskryf is.
Dit het gebeur in die Barus and Holley-gebou, die tuiste van die skool vir ingenieurswese en die fisika-afdeling. – Reuters
2025-12-15 04:19:19
16 hoërskoolleerlinge, busbestuurder in ongeluk in Colombia dood
Minstens 16 hoërskoolleerlinge wat die einde van hul skoolloopbane gevier het en ’n bestuurder is Sondag dood toe die bus waarin hulle gereis het in ’n kloof in noordwes-Colombia afgestort het.
Die groep leerlinge, wat tussen 16 en 18 jaar oud was, was op pad terug vanaf ’n Karibiese strand aan Colombia se kus.
Die bus het 40 meter ver geval.
Minstens 20 mense is beseer.
Amptenare probeer steeds bepaal hoeveel van die slagoffers minderjarig was. – AFP

Foto’s van leerlinge word teen die rugleunings van skoolbanke vertoon tydens ’n waak vir slagoffers. Foto: Reuters
2025-12-15 04:32:43
21 dood, 32 beseer weens oorstromings in Marokko
Minstens 21 mense is Sondag in Marokko se Atlantiese kusprovinsie Safi dood in oorstromings wat deur stortreën veroorsaak is, het die owerhede Maandag gesê.
Minstens 32 mense is ook beseer.
Een uur se swaar reën was genoeg om huise en winkels te laat oorstroom, met motors wat meegesleur is en baie paaie in Safi en die omgewing wat onbegaanbaar was, wat die gebied van die buitewêreld afgesny het.
Reddingspogings duur voort. – Reuters
2025-12-15 04:47:40
Lai skuldig bevind in Hongkong
Die pro-demokratiese mediamagnaat Jimmy Lai van Hongkong is Maandag skuldig bevind op drie aanklagte wat met nasionale veiligheid verband hou.
Aanklaers het aangevoer Lai was die meesterbrein agter twee samesweringsplanne om ander lande te vra om teen Hongkong of China op te tree.
Aanklaers het hom daarvan beskuldig dat hy materiaal gepubliseer het wat “ontevredenheid” teen die regering aangemoedig het.
Lai het skuld ontken. Hy kan lewenslange tronkstraf opgelê word.
Die saak het Hongkong se geregtelike onafhanklikheid op internasionale vlak onder die loep laat kom te midde van die jare lange onderdrukking van regte en vryhede in die gebied. – AFP
2025-12-15 05:09:30
Pelosi bring hulde aan Reiner, vrou
Nancy Pelosi, oudspeaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, sê die dood van die Hollywood-akteur en regisseur Rob Reiner (78) en sy vrou, Michele Singer (68), is verpletterend.
Vroeër is berig die egpaar is Sondag dood in hul huis aangetref.
“Dis moeilik om aan iemand te dink wat meer merkwaardig en uitnemend is in elke veld en doelwit wat hulle nagestreef het. Rob was kreatief, snaaks en geliefd. En in al hul pogings was Michelle sy onmisbare vennoot, intellektuele hulpbron en ’n liefdevolle vrou,” sê Pelosi op X.
https://x.com/SpeakerPelosi/status/2000423280579064242
2025-12-15 05:28:48
Reiner-familie versoek privaatheid
’n Woordvoerder van die Reiner-familie het Sondag laat bevestig dat Michele Singer en Rob Reiner oorlede is, en het die verlies as “tragies” beskryf en om privaatheid gevra terwyl familielede treur.
“Ons is hartseer oor hierdie skielike verlies, en ons vra om privaatheid gedurende hierdie ongelooflik moeilike tyd,” het die woordvoerder in ’n verklaring gesê.
Alan Hamilton, die adjunkhoof van die Los Angeles-polisiedepartement, het op 'n mediakonferensie gesê dat die polisie nie die twee mense gaan identifiseer wat by Rob Reiner se huis gevind is nie en dat daardie inligting van die lykskouer van die LA-distrik sal kom. – CNN

Rob Reiner en sy vrou, Michele Singer, by ’n geleentheid in Los Angeles, Kalifornië, op 9 September vanjaar. Getty Images/GA/The Hollywood Reporter
2025-12-15 05:47:25
‘Persoon van belang’ in skietery by Brown-Universiteit vrygelaat
Die man wat as ’n “persoon van belang” aangehou word in die skietery by die Brown-Universiteit waarin twee studente dood en nege beseer is, sal uit aanhouding vrygelaat word.
Oscar Perez, polisiehoof van Providence in die deelstaat Rhode Island, het vroeër Sondag op ’n mediakonferensie gesê dat ’n man in sy 20's aangehou word in verband met Saterdag se voorval, maar hy het geen verdere besonderhede gegee nie.
Op ’n mediakonferensie Sondagaand laat het amptenare egter gesê die man sal uit aanhouding vrygelaat word en wetstoepassers gaan ander leidrade opvolg wat die ondersoek in ’n “ander rigting" stuur. – Reuters
2025-12-15 06:49:06
5 vasgetrek weens skietery van 3 in Sirië
Sirië het vyf mense in hegtenis geneem wat na bewering betrokke was by die aanval op Amerikaanse en Siriese troepe.
Twee Amerikaanse soldate en ’n burgerlike tolk is Saterdag deur ’n aanvaller doodgeskiet wat ’n konvooi Amerikaanse en Siriese magte geteiken het voordat die persoon doodgeskiet is.
Die Siriese ministerie van binnelandse sake het die aanvaller beskryf as ’n lid van die Siriese veiligheidsmagte wat daarvan verdink word dat die persoon simpatiseer met die terreurgroep Isis. – Reuters
2025-12-15 07:44:26
Thailand loods bomaanvalle tot diep in sy gebied, sê Kambodja
Kambodja het Thailand Maandag daarvan beskuldig dat hulle bomaanvalle tot diep in hul gebied geloods het insluitend gebiede minder as twee uur per voertuig vanaf die land se hoof-toeristeaantreklikheid, die eeue oue Angkor-tempels.
Minstens 28 mense is dood en ongeveer 800 000 ontheem sedert gevegte weer verlede week langs die twee lande se grens uitgebreek het.
Kambodja het gesê Thaise magte het Maandagoggend hul aanval “diep in” Kambodjaanse gebied uitgebrei.
Militêre amptenare aan albei kante het gesê skermutselings en aanvalle langs die grens het Maandag voortgeduur. – AFP
2025-12-15 07:51:18
Leier van 2024-opstand in Bangladesj na buiteland gestuur ná sluipmoordpoging
Bangladesj se tussentydse regering sê hy gaan ’n leier van die 2024-opstand vir behandeling na Singapoer stuur nadat hy in ’n sluipmoordpoging gewond is.
Gemaskerde aanvallers het Vrydag die studenteleier Sjarif Osman Hadi geskiet toe hy ’n moskee in die hoofstad, Dhaka, verlaat het. Hy is in die oor gewond.
Die skietery het plaasgevind een dag nadat die owerhede ’n datum aangekondig het vir die eerste verkiesing sedert die studente-geleide opstand verlede jaar die outokratiese regering van sjeik Hasina omvergewerp het.
Hadi is ’n kandidaat in die verkiesing. – AFP
2025-12-15 08:39:19
EU besluit vandeesweek oor finansiering aan Oekraïne
Die Europese Unie (EU) moet vandeesweek op ’n kritieke beraad “baie belangrike” besluite neem oor die finansiering van Oekraïne.
Gesprekke oor die gebruik van bevrore Russiese bates word egter moeiliker, het Kaja Kallas, die EU se buitelandsebeleidshoof, gesê.
Die EU se 27 leiers sal Donderdag in Brussel byeenkom om ’n plan te probeer beraam om Kijif vir die komende jare te finansier.
België, wat die grootste deel van die Russiese sentrale-bank-bates huisves wat in die EU bevries is, het tot dusver ’n plan teengestaan om die geld te gebruik om ’n lening aan Oekraïne te verskaf. – AFP
2025-12-15 09:14:46
Gesprekke duur voort tussen Zelenski, Amerikaanse gesante
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne sal na verwagting Maandag voortgaan met gesprekke in Berlyn met pres. Donald Trump se gesante oor hoe om die oorlog met Rusland te beëindig.
Terwyl die konflik gewoed het, het Zelenski se afvaardiging Sondag meer as vyf uur lank saam met Steve Witkoff en Jared Kushner vergader.
Witkoff het daarna op X gesê dat “baie vordering gemaak is, en hulle sal môreoggend (Maandag) weer vergader”. – AFP
2025-12-15 09:45:10
Japan se enigste twee pandas volgende maand na China teruggestuur
Twee pandas by ’n dieretuin in Tokio sal in Januarie aan China terugbesorg word, het die regering van Tokio Maandag gesê.
Dit sal Japan moontlik die eerste keer in ’n halfeeu sonder dié geliefde diere laat.
Die pandas wat as deel van China se “panda-diplomasie”-program geleen is, simboliseer vriendskap tussen Beijing en Tokio sedert die normalisering van diplomatieke bande in 1972. – AFP
2025-12-15 10:14:14
5 vas wat glo 7 ton kokaïen smokkel
Die Griekse polisie het vyf vermeende lede van ’n internasionale misdaadnetwerk in hegtenis geneem wat na raming sewe ton kokaïen van Venezuela na Europa op ’n vissersboot gesmokkel het, het twee polisiebeamptes Maandag gesê.
Die inhegtenisnemings, in verskeie dele van Griekeland, volg op ’n ondersoek wat in samewerking met die Amerikaanse dwelmadministrasie van stapel gestuur is.
Die vaartuig het vanaf ’n klein hawe in Griekeland na Latyns-Amerika vertrek.
Ondersoekers glo dat dit later tot sewe ton kokaïen naby Venezuela opgelaai het. – Reuters
2025-12-15 10:19:19
Louvre-museum gesluit weens staking
Die Louvre-museum in Parys sal Maandag gesluit bly nadat personeel ten gunste van ’n staking oor betaling en werksomstandighede gestem het.
Dit ontwrig toegang vir duisende besoekers tot die wêreld se museum wat die meeste besoek word.
Die staking, wat deur 400 werknemers ondersteun is en deur vakbondverteenwoordigers aangekondig is, kom op ’n besonder moeilike tyd vir die museum.
Die museum steier ná ’n rooftog in Oktober van juwele ter waarde van €88 miljoen en onlangse infrastruktuurprobleme, insluitend ’n waterlek wat antieke boeke beskadig het. – Reuters
2025-12-15 10:28:30
Dodetal weens oorstromings in Marokko styg
Die dodetal weens oorstromings wat die kusdorp Safi in Marokko oor die naweek getref het, het tot 37 gestyg, het die plaaslike owerhede Maandag gesê.
Altesaam 14 mense word tans in die hospitaal behandel.
Soek-en-reddingsoperasies het Maandag voortgeduur ná die dodelikste weergebeurtenis van dié aard in Marokko in meer as ’n dekade.
Vroeër is berig een uur se swaar reën was genoeg om huise en winkels te laat oorstroom, met motors wat meegesleur is en baie paaie in Safi en die omliggende dele wat onbegaanbaar was, wat die gebied van die buitewêreld afgesny het.

Mense loop Sondag oor ’n plein ná oorstromings in Safi, Marokko. Foto: AFP
2025-12-15 11:18:29
Thailand hou in Februarie verkiesing
Thailand se volgende algemene verkiesing sal op 8 Februarie plaasvind, het die verkiesingskommissie Maandag gesê. Partye moet hul kandidate vir premier voor die einde van die jaar benoem.
“Die verkiesingskommissie het vandag verkiesingsbesonderhede opgestel en aan die kommissaris voorgelê, wat ingestem het dat Sondag 8 Februarie 2026 die verkiesingsdag sal wees,” lui ’n verklaring deur die kommissie. Vooraf-stemmery sal op 1 Februarie plaasvind.
Die stap kom nadat konflik, wat voortspruit uit ’n dekades lange grensgeskil tussen Thailand en Kambodja, hierdie maand weer opgevlam het. Minstens 31 mense is dood en ongeveer 800 000 ontheem weens die voortdurende militêre botsings. – Reuters
2025-12-15 11:25:51
‘Gebroke hart’ weens Sydney-bloedbad

’n Vrou hou ’n plakkaat vas met ’n hart en die inskripsie “Sydney” gedurende ’n rouseremonie by die Brandenburg-poort in Berlyn, Duitsland. Twee gewapende mans het Sondag by Sydney se Bondi-strand op mense losgebrand. Altesaam 15 mense is dood en verskeie ander gewond in ’n “terroristevoorval” wat gemik was op ’n byeenkoms vir die Joodse fees Chanukka in Australië. Foto: Getty Images
2025-12-15 11:36:10
Cliff Richard sê hy is afgelope jaar vir prostaatkanker behandel
Die Britse popster Cliff Richard (85) het Maandag onthul dat hy die afgelope jaar vir prostaatkanker behandel is. Hy sê die siekte is suksesvol behandel. “Hulle het bevind dat ek prostaatkanker het, maar die geluk was dat dit nie baie oud was nie... en nie gemetastaseer het nie. Niks het na die bene of enigiets van die aard beweeg nie,” sê Richard.
Hy het mense aangespoor “om getoets te word”, en gevra dat ’n nasionale toetsprogram vir mans van stapel gestuur word.
Richard is een van Brittanje se eerste plaaslike popsterre – selfs voor die Beatles – en het ’n groot aanhang tuis en in die buiteland opgebou in sy loopbaan wat oor ses dekades strek. – AFP

Cliff Richard Foto: Getty Images
2025-12-15 12:10:38
Pous spreek medelye uit oor Sydney-aanval
Pous Leo XIV het Maandag vir die slagoffers van die aanval op Sydney se Bondi-strand, wat 15 sterftes tot gevolg gehad het, gebid en ’n oproep gedoen vir ’n einde aan antisemitiese geweld.
“Vandag wil ek die slagoffers van gister se terreuraanval teen die Joodse gemeenskap in Sydney aan die Here toevertrou. Ons het genoeg gehad van hierdie vorme van antisemitiese geweld – ons moet die haat in ons harte uitroei,” sê Leo.
Antisemitiese geweld, haat en aanvalle op mense oor hul Joodse afkoms of geloof, is ’n ernstige probleem oor die wêreld heen. – AFP
2025-12-15 12:22:30
Britse bestuurder ‘het in woedebui deur sokkerondersteuners geploeg’, hoor hof
’n Dag van vreugde het in tragedie ontaard toe Paul Doyle (54) van Brittanje in ’n woedebui met sy Ford Galaxy in ’n menigte Liverpool-sokkerondersteuners ingeploeg het. Die voorval het op 26 Mei plaasgevind, kort nadat Liverpool sy 20ste Engelse Sokkerliga-titel met ’n oorwinningsparade deur die stad gevier het.
Luidens getuienis het Doyle, wat Maandag in ’n hof in Liverpool verskyn het, binne slegs twee minute meer as 130 mense beseer, onder wie agt kinders. Een kind was net ses maande oud. Doyle het reeds skuld op 31 aanklagte beken, insluitend nege aanklagte van ernstige liggaamlike leed met opset.
Gedurende die hofverrigtinge is daar gesê dat hy nie deur ideologie gedryf is nie, maar bloot sy humeur verloor het toe hy haastig was om vriende te gaan haal. Ooggetuies het aanvanklik geglo die aanval is terreurverwant.
Die hof het skokkende oomblikke op video gesien waar mense oor Doyle se motor val en selfs onder die voertuig beland. Die vonnisoplegging word Dinsdag verwag. – Reuters
2025-12-15 12:31:41
Laat die gesprekke begin...

Kaja Kallas, die Europese Unie (EU) se hoof van buitelandse beleid, lui ’n klok om die begin van die gesprek van die EU se raad vir ministers van buitelandse sake in Brussel, België, aan te dui. Foto: Reuters
2025-12-15 13:01:59
M23 waarsku: Offensief kan verder suid uitbrei
Rwandees-gesteunde M23-rebelle het glo honderde Burundiese soldate tydens hul mees onlangse offensief in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) gevange geneem.
Hierdie aankondiging kom nadat M23 verlede week die strategiese dorp Uvira naby die grens met Burundi ingeneem het, ongeag ’n Amerikaanse waarskuwing.
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Rwanda daarvan beskuldig dat hy die vredesooreenkoms verbreek en het belowe om op te tree.
M23 beweer die soldate sal aan Burundi terugbesorg word mits dit amptelik versoek word, maar eis dat alle Burundiese magte die streek verlaat.
Gevegte duur voort, terwyl duisende mense reeds dood en honderdduisende ontheem is. M23 dreig ook om verder suid te beweeg. – Reuters
2025-12-15 13:10:21
Staking: Engelse dokters verwerp regering se aanbod
Dokters in Engeland het Maandag die regering se nuutste aanbod oor hul werkomstandighede verwerp. Dit beteken die beplande staking gaan voort.
Volgens die British Medical Association (BMA), wat gekwalifiseerde dokters verteenwoordig wat byna die helfte van die mediese arbeidsmag uitmaak, sal die staking Woensdag begin as deel van verskeie protesoptredes weens salarisse en werkomstandighede.
“Tienduisende dokters in die voorste linies het saamgestem om ‘nee’ te sê vir iets wat duidelik te min en te laat is,” sê Jack Fletcher, BMA-voorsitter.
Keir Starmer, Britse premier, het dokters gevra om nie te staak nie, terwyl hospitale onder groot druk verkeer te midde van grootskaalse griepvoorvalle. – Reuters
2025-12-15 13:16:43
Moordtoneel

’n Lid van die polisie in Los Angeles op die moordtoneel by die Hollywood-akteur en -regisseur Rob Reiner se huis in Brentwood, Kalifornië. Die polisie het vroeër bevestig dat die oorledenes Reiner en sy vrou, Michele Singer Reiner, is. Foto: Getty Images
2025-12-15 14:00:32
Saoedi breek rekord met 340 teregstellings in 2025
Saoedi-Arabië het ’n nuwe rekord opgestel vir die getal teregstellings wat in ’n enkele jaar uitgevoer is, met ’n AFP-telling wat toon dat die koninkryk tot dusver vanjaar 340 mense tereggestel het.
Dit kom nadat owerhede gesê het drie mense is Maandag in die Mekka-streek tereggestel nadat hulle aan moord skuldig bevind is.
Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Saoedi-Arabië sy eie rekord breek sedert regtegroepe die getal teregstellings die eerste keer in die 90’s begin dokumenteer het. Die koninkryk het 338 mense in 2024 tereggestel. – AFP
2025-12-15 14:02:00
Regse Duitse LP aangekla oor Hitler-saluut in parlement
Berlynse aanklaers het Maandag gesê hulle het ’n parlementslid van die regse Alternatief vir Duitsland (AfD)-party aangekla van die uitvoering van ’n Nazi-saluut in die parlement.
Die verdagte het na bewering “ ’n party-kollega gegroet ... met ’n hakskeen-klik en Hitler-saluut” in Junie 2023, het die aanklaers in ’n verklaring gesê. Die saluut is onwettig in Duitsland en is strafbaar met tot drie jaar tronkstraf.
Die koerant Bild het die LP geïdentifiseer as Matthias Moosdorf (60), parlementslid vir die stad Zwickau in die voormalige Oos-Duitse deelstaat Sakse. – AFP
2025-12-15 14:04:09
Shalom

Mense kyk Maandag na blomme en ’n Israeliese vlag wat neergelê is by Bondi-strand in Sydney, Australië, ter nagedagtenis aan die slagoffers van ’n skietery op die strand waarin 15 mense dood is, onder wie ’n 10-jarige meisie, in ’n vermoedelik antisemitiese terreuraanval tydens ’n Joodse fees. Foto: AFP
2025-12-15 15:00:48
Rusland verbied ‘ekstremistiese’ punkgroep Pussy Riot
Rusland het Maandag die feministiese protes-punkgroep Pussy Riot tot “ekstremisties” verklaar – ’n etiket wat gebruik word om kritici van pres. Wladimir Poetin en sy oorlog in Oekraïne te verbied.
Pussy Riot se liedjies en video’s word sedert 2012 in Rusland verbied.
’n Hof in Moskou het gesê dit het aanklaers se versoeke toegestaan “om die punkgroep Pussy Riot tot ’n ekstremistiese organisasie te verklaar en sy aktiwiteite op die grondgebied van die Russiese Federasie te verbied”. – AFP
2025-12-15 15:02:45
Nobelpryswenner breek werwel op vaart na Oslo in vissersboot
Maria Corina Machado, die Venezolaanse opposisieleier en Nobel-vredespryswenner, het ’n werwelfraktuur opgedoen op haar klandestiene reis van Venezuela na Noorweë verlede week.
“Die werwelfraktuur is bevestig,” het haar woordvoerder, Claudia Macera, Maandag gesê nadat die Noorse dagblad Aftenposten eerste daaroor berig het.
Die koerant het berig dat sy die besering opgedoen het tydens ’n hoërisiko-vaart in ’n klein vissersboot. – AFP
2025-12-15 15:07:05
Wag op spoegie petrol

Motorfietsryers moes Maandag weer ure wag om brandstof te kry by ’n vulstasie in Atsjei Tamiang, Noord-Soematra, ’n gebied wat sowat drie weke gelede deur blitsvloede en ernstige oorstromings geraak is. Meer as 1 000 mense is in die oorstromings en grondverskuiwings in Indonesië dood. Foto: AFP
2025-12-15 16:00:57
Trump insinueer Reiner-moord hou verband met sy kritiek op Trump
Pres. Donald Trump het Maandag daarop gesinspeel dat die moord op die Hollywood-regisseur Rob Reiner en sy vrou verband hou met Reiner se kritiek op hóm.
Die Reiners het “klaarblyklik gesterf weens die woede wat hy by ander ontketen het deur sy enorme, onversetlike en ongeneeslike siekte bekend as TRUMP-VERSTEURINGSINDROOM”, het Trump op Truth Social geskryf.
“Hy was bekend daarvoor dat hy mense MAL gemaak het deur sy siedende obsessie met President Donald J. Trump, met sy ooglopende paranoia wat nuwe hoogtes bereik het terwyl die Trump-administrasie alle doelwitte en verwagtinge van grootsheid oortref het.” – AFP
2025-12-15 16:08:39
Seun in hegtenis weens moorde op Rob Reiner en vrou – berigte
Nick Reiner (32), seun van die Hollywood-regisseur Rob Reiner (78) en sy vrou, Michelle Singer (68), is in hegtenis geneem nadat die egpaar Sondag in hul huis in Los Angeles dood gevind is.
Luidens berigte in die Amerikaanse media is die egpaar se kele afgesny. Daar was blykbaar geen gedwonge toegang tot die huis nie.
Volgens CBS en ABC is Nick in hegtenis geneem, en die Los Angeles Times het berig dat hy aangehou word as verdagte in die moorde.
Nick het in 2016 in ’n onderhoud met die tydskrif People openlik oor sy dwelmstryd gepraat. – AFP, Reuters
2025-12-15 16:12:54
FBI fnuik bomaanvalle op teikens in LA, sê prokureur-generaal
Die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) het ’n bomkomplot gefnuik wat op verskeie teikens in Los Angeles en omstreke gemik was.
Dit sluit immigrasie-agente en hul voertuie in, het Pam Bondi, die Amerikaanse prokureur-generaal, Maandag in ’n verklaring gesê.
“Die Turtle Island Liberation Front – ’n linkse, pro-Palestynse, antiregerings- en antikapitalistiese groep – was besig om ’n reeks bomaanvalle op verskeie teikens in Kalifornië te beplan wat op Oujaarsnag sou begin.”
Vier mense is aangekla van sameswering en die besit van ploftoestelle. Ploftoestelle sou volgens Bondi in aanvalle op vyf Amerikaanse maatskappye in die Los Angeles-gebied gebruik word. – Reuters
2025-12-15 17:08:24
Amerika bied veiligheidswaarborge aan Oekraïne, verwag dat Rusland dit sal aanvaar
Die VSA het Maandag aan Oekraïne sterk veiligheidswaarborge aangebied in ’n poging om die oorlog met Rusland te beëindig. Amerikaanse amptenare het die ure lange onderhandelings in Berlyn met pres. Wolodimir Zelenski vanb Oekraïne as positief beskryf.
Pres. Donald Trump van die VSA sou later die dag met Zelenski en Europese leiers praat om die ooreenkoms te bevorder. Die voorstel bied waarborge soortgelyk aan die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) se art. 5, waarvolgens 'n aanval op een bondgenoot ’n aanval op almal is.
Amerika glo Rusland sal die voorstel aanvaar, hoewel Oekraïne dit ook moet goedkeur. Territoriale geskille is egter nog nie opgelos nie, met Trump wat voorspel dat Oekraïne uiteindelik grondgebied sal moet afstaan. Samesprekings oor moontlike ekonomiese vrysones in betwiste gebiede is ook gevoer. – AFP
2025-12-15 17:15:51
Oekraïne -oorlog: ‘Daar’s nog groot struikelblokke om te oorkom’
Amerikaanse onderhandelaars het tydens vredesonderhandelinge in Berlyn aan Oekraïne gesê dat hy moet instem om sy magte uit die oostelike Donetsk-streek te onttrek as deel van enige ooreenkoms om die oorlog te beëindig, sê ’n amptenaar met kennis van die saak.
Die bron, wat op voorwaarde van anonimiteit praat terwyl Oekraïense en Amerikaanse onderhandelaars ’n tweede dag van gesprekke in die Duitse hoofstad afgesluit het, sê Oekraïne het verdere sameprekings versoek.
’n Ander bron sê daar is steeds groot struikelblokke om te oorkom voordat ’n ooreenkoms bereik kan word. Oekraïne verkeer onder groot druk van pres. Donald Trump om toegewings aan Rusland te maak om Europa se dodelikste konflik sedert die Tweede Wêreldoorlog, wat met Rusland se inval in 2022 begin het, te beëindig. – Reuters
2025-12-15 17:19:38
Franse boere betoog

’n Lugfoto wys Franse boere wat die A64-snelweg met hul trekkers blokkeer om te protesteer teen regeringsmaatreëls, insluitend die uitdunning van hele beeskuddes, wat daarop gemik is om ’n uitbraak van knopvelsiekte onder vee naby Carbonne te beperk. Foto: Reuters
2025-12-15 18:00:03
Seun van vermoorde filmvervaardiger sukkel glo al jare met dwelmverslawing
Nick Reiner, seun van Hollywood filmvervaardiger Rob Reiner, het al openlik oor sy stryd met dwelmmisbruik en tye van haweloosheid gepraat.
Nick is in hegtenis geneem in verband met die moord op Reiner en sy vrou, Michelle Singer, Nick se ma. Hul lyke is Sondag in hul huis in Los Angeles gevind.
Nick het in 2016 aan People vertel dat hy op 15 vir die eerste keer in rehabilitasie was, en uiteindelik minstens 17 keer in rehabilitasieplekke opgeneem is. Nick en Reiner het saam die film Being Charlie geskryf, gegrond op Nick se ervarings met heroïenverslawing en haweloosheid.
"Dit was die persoonlikste projek waaraan ek ooit deelgeneem het," het Reiner in 2016 gesê. Nick het aan People gesê: "Toe ek daar buite was, kon ek gesterf het." – Reuters
2025-12-15 18:01:14
Vordering gemaak in vredesgesprekke, sê Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Maandag gesê "vordering" is gemaak in die gesprekke met die Amerikaanse gesante in Berlyn oor die VSA se veiligheidswaarborge vir Oekraïne in sy konfrontasie met Rusland.
"Ons het vordering daar gemaak. Ek het die besonderhede van die weermag gesien waaraan hulle gewerk het, en dit lyk baie goed, al is dit slegs die eerste konsep," het Zelenski aan verslaggewers in Berlyn gesê.
Zelenski is sedert 2019 die president van Oekraïne. Hy het wêreldwyd bekend geword as die gesig van Oekraïne se weerstand teen Rusland se grootskaalse inval in 2022. Veiligheidswaarborge van Amerika en ander Westerse lande is ’n kernkwessie vir Oekraïne, aangesien dit ’n buffer bied teen verdere Russiese aggressie. – AFP
2025-12-15 18:16:21
Die feestyd is weer hier

’n Toeris neem foto’s van 'n 19 m-hoë sneeuman by die Harbin Qunli-musiekpark in Harbin, China. Foto: Getty Images
2025-12-15 19:01:28
15 sterf in Ecuador-tronk te midde van vrese vir TB-uitbreking
Ecuador se gevangenisowerheid het Maandag gesê 15 gevangenes by die Litoral-gevangenis in die stad Guayaquil is tussen Donderdag en Sondag dood aangetref.
Die owerheid het gesê die oorsaak van die gevangenes se dood moet nog bepaal word, maar hul lyke het nie tekens van geweld getoon nie.
Familielede van gevangenes in die Penitenciaria del Litoral het gesê daar was vroeër vanjaar ’n tuberkulose (TB)-uitbreking in die tronk.
Talle gewelddadige voorvalle het die afgelope maande in die gevangenis voorgekom, waaronder minstens 31 sterftes in November ná ’n dag van oproer. – Reuters
2025-12-15 19:04:18
Dodetal in Bolivië-vloede styg tot 20; tientalle vermis
Die dodetal weens oorstromings in Bolivië het tot 20 gestyg nadat ’n rivier in die oostelike Santa Cruz-streek sy walle oorstroom het.
Daar word verwag dat die dodetal verder sal styg namate reddingspanne voorheen ontoeganklike gebiede bereik, het die adjunkminister van burgerlike verdediging Maandag gesê.
Minstens 24 mense word steeds vermis en honderde gesinne is sonder skuiling gelaat ná dae van intense reën, het owerhede gesê.
Minstens 300 mense is per helikopter gered en sowat 2 100 gesinne rondom die Pirairivier word geraak. – Reuters
2025-12-15 19:06:01
Chilene verkies nuwe president

José Antonio Kast van die Republikeinse Party in Chili lewer ’n toespraak in Santiago nadat Chileense kiesers hom tot nuwe president verkies het. Kast, die mees regse president in 35 jaar van demokrasie in die land, is verkies met ’n oorweldigende 58% van die stemme. Foto: AFP
2025-12-15 20:01:05
Trinidad en Tobago sê VSA-weermag kan sy lughawens gebruik
Trinidad en Tobago het Maandag gesê hy het Amerikaanse weermagvliegtuie gemagtig om sy lughawens te gebruik.
Dit kom te midde van toenemende vrese dat Amerika dalk vir ’n aanval op die nabygeleë Venezuela voorberei.
Dié eilandgroep, wat op sy naaste punt minder as 20 km van Venezuela af is, is ’n sterk ondersteuner van pres. Donald Trump se veldtog van militêre en ekonomiese druk op Venezuela.
Trinidad en Tobago se minister van buitelandse sake het gesê hy het die groen lig gegee vir Amerikaanse weermagvliegtuie om "in die komende weke" van sy lughawens gebruik te maak. – AFP
2025-12-15 20:03:07
Wapenstilstand in Oekraïne nou vir eerste keer denkbaar – Merz
’n Wapenstilstand in Oekraïne is vir die eerste keer sedert die begin van die oorlog in sig, het Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, Maandag gesê ná die jongste ronde samesprekings tussen verteenwoordigers van Oekraïne, Europa, Amerika en Navo in Berlyn, Duitsland.
"Ons wil saam met die Oekraïners, ons Europese bure en Amerika die pad na vrede loop," het Merz in ’n plasing op X geskryf.
Europese leiers het ingestem om "watter besluite ook al" uiteindelik deur pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne oor spesifieke Oekraïense kwessies geneem word, te ondersteun, lui ’n Britse regeringsverklaring Maandag ná die vergadering in Berlyn. – Reuters

Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, verwelkom Giorgia Meloni, premier van Italië, Maandag by ’n vergadering met Europese leiers in Berlyn oor vrede in Oekraïne. Foto: Reuters
2025-12-15 20:33:07
Trump sê Oekraïne-ooreenkoms 'nader as ooit'
Pres. Donald Trump het Maandag gesê dat ’n ooreenkoms om die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te beëindig nader as ooit is nadat hy met sy Oekraïense ampsgenoot, Wolodimir Zelenski, en ’n rits Europese leiers gepraat het.
"Ek dink ons is nou nader as wat ons ooit was," het Trump aan verslaggewers in die Withuis gesê en bygevoeg dat hy "baie lang en baie goeie gesprekke" gehad het met Zelenski en ander, onder wie die leiers van Brittanje, Frankryk, Duitsland en Navo. – AFP
2025-12-16 05:59:15
8 dood in aanvalle op 3 vaartuie in internasionale waters, sê Amerika
Die Amerikaanse Suidelike Kommando het Maandag gesê dat hy aanvalle op drie vaartuie in internasionale waters uitgevoer en agt mans doodgemaak het.
“Intelligensie het bevestig dat die vaartuie langs bekende dwelmsmokkelroetes in die oostelike Stille Oseaan beweeg het en betrokke was by dwelmsmokkelary,” het die weermag gesê.
Amerika het meer as 20 vaartuie in die Stille Oseaan en Karibiese See naby Venezuela aangeval as deel van ’n militêre veldtog teen dwelmsmokkelary.
Minstens 90 vermeende dwelmsmokkelaars is reeds dood voor Maandag se aanvalle. – Reuters
2025-12-16 06:05:38
Trump dagvaar BBC vir $10 miljard
Pres. Donald Trump het Maandag ’n regsgeding teen die BBC aanhangig gemaak weens laster oor geredigeerde snitte van ’n toespraak wat dit laat lyk het asof hy ondersteuners beveel het om die Amerikaanse kongresgebou te bestorm.
Trump beweer die BBC het hom belaster en ’n wet oortree wat misleidende en onregverdige handelspraktyke verbied.
Hy eis $5 miljard in skadevergoeding vir elk van die regsgeding se twee aanklagte.
Die BBC het Trump om verskoning gevra en erken dat hy ’n oordeelsfout gemaak het en dat die wysiging die verkeerde indruk geskep het dat hy ’n direkte beroep om gewelddadige optrede gedoen het. – Reuters
2025-12-16 06:41:26
Trump klassifiseer fentaniel was wapen van massavernietiging
Pres. Donald Trump het Maandag ’n uitvoerende bevel onderteken wat fentaniel tot ’n wapen van massavernietiging verklaar.
Dit is ’n stap wat die Amerikaanse regering se gesag dramaties uitbrei om die sintetiese opioïed, wat jaarliks vir tienduisende Amerikaanse sterftes weens oordosisse blameer word, te beveg.
Die klassifikasie, wat ongekend vir ’n narkotiese middel is, dui op Trump se voorneme om fentaniel nie net as ’n openbare gesondheidskrisis te behandel nie, maar as ’n nasionale veiligheidsbedreiging gelykstaande aan chemiese oorlogvoering. – Reuters
2025-12-16 07:12:58
Tiener in besette Wesoewer doodgeskiet
Die Palestynse ministerie van gesondheid het Maandag gesê dat Israeliese magte ’n tienerseun in die besette Wesoewer doodgeskiet het.
“Ammar Yaser Mohammad Taamara (16) is dood weens ’n koeël in die bors wat deur die besettingsmagte (Israel) afgevuur is in hul klopjag op die dorp Toeqoe, suidoos van Bethlehem.”
Die Israeliese weermag het in ’n verklaring gesê daar was ’n “konfrontasie” in die Toeqoe-gebied waartydens klippe na sy soldate gegooi is.
“Die soldate het metodes gebruik om oproer te hanteer en later op ’n hoofaanhitser geskiet”. – AFP
2025-12-16 07:44:18
Soektog duur voort na Brown-Universiteit-skieter
’n Gewapende man was Maandag steeds op vrye voet nadat ’n massaskietery die naweek by die elite-Brown-Universiteit twee mense dood en nege gewond gelaat het.
Die owerhede het nuwe beeldmateriaal bekend gemaak van ’n gemaskerde “persoon van belang” wat op kringtelevisiekameras vasgevang is.
Die skietery het Saterdag plaasgevind in ’n gebou waar eksamens aan die gang was op die kampus in Providence, Rhode Island.
Die owerhede het aanvanklik ’n man in verband met die skietery aangehou, maar het hom later vrygelaat en gesê dat hy nie met die skietery verbind is nie. – AFP
2025-12-16 08:26:28
Duisende Thaise burgers gestrand te midde van konflik met Kambodja
Thailand werk daaraan om tot 6 000 burgers wat nie kan terugkeer huis toe nie te repatrieer. Dit kom aan die begin van ’n tweede week van gevegte langs die betwiste grens. Die weermagte van die Suidoos-Asiatiese bure bots op verskeie plekke op hul 817 km lange grens.
Kambodja se sluiting van sy beheerpunt in die stad Poipet verhoed die terugkeer van duisende Thaise werkers wat daar byeengekom het.
Thailand se ministerie van buitelandse sake het Dinsdag gesê burgers in Poipet kan hulp soek om lugreise huis toe te reël by die konsulaat in die stad Siem Reap in Kambodja. – Reuters
2025-12-16 08:35:44
China eis weer dat premier van Japan uitlatings oor Taiwan terugtrek
China het Dinsdag sy eis herhaal dat Sanae Takaitsji, premier van Japan, haar uitlatings oor Taiwan terugtrek.
Dit kom meer as ’n maand nadat Takaitsji gesê het ’n hipotetiese Chinese aanval op Taiwan kan as ’n eksistensiële bedreiging vir Japan beskou word en ’n militêre reaksie van Tokio ontlok.
“Wat sleutelkwessies betref, probeer Japan bluf en ploeter daardeur om mense te verwar,” het Guo Jiakun, woordvoerder van die Chinese ministerie van buitelandse sake, gesê. – Reuters
2025-12-16 09:16:32
10-jarige glo deur medeleerling by skool in Rusland doodgesteek
’n Tiener is Dinsdag by ’n skool in Rusland deur ’n ouer leerling doodgesteek, het die owerhede gesê.
“Die polisie het inligting ontvang dat ’n leerling ’n sekuriteitswag gesteek, pepersproei gespuit en toe ook ’n 10-jarige leerling gesteek het wat dood is,” het die polisie op Telegram gesê.
Luidens die verklaring is die aanvaller in aanhouding ná die voorval in Gorki-2, ’n dorpie wes van Moskou in die Odintsowo-distrik. Die aanvaller is 15 jaar oud. – AFP
2025-12-16 09:20:13
Bondi-aanval: Aanvallers volg glo Isis-ideologie
Die mans wat Sondag 15 mense ten tyde van ’n Hanukkah-geleentheid by Bondi-strand in Sydney doodgeskiet het, is glo deur Isis geïnspireer.
Die voorval word ondersoek as ’n terreurdaad waarin die Joodse gemeenskap geteiken is.
Die Australiese polisie sê albei die mans het verlede maand na die Filippyne gereis. Die doel van die besoek word ondersoek.
“Vroeë aanduidings is dat dit ’n terreuraanval geïnspireer deur Isis was wat na bewering deur ’n pa en seun gepleeg is,” het Krissy Barrett, Australiese federale polisiekommissaris, op ’n mediakonferensie gesê. – Reuters
2025-12-16 10:00:19
‘Aggressor’ Kambodja moet eerste skietstilstand aankondig – Thailand
Thailand sê Kambodja moet eerste ’n skietstilstand afkondig om gevegte tussen die twee lande te stop ná meer as ’n week van dodelike botsings langs die grens.
“As die aggressor op Thaise grondgebied, moet Kambodja eerste ’n skietstilstand afkondig,” het Maratee Nalita Andamo, woordvoerder van die Thaise ministerie van buitelandse sake, gesê.
Hernude gevegte tussen die buurlande het minstens 32 mense, onder wie soldate en burgerlikes, dood gelaat en ongeveer 800 000 ontheem, het amptenare gesê. – AFP
2025-12-16 10:24:47
Skietstilstand oor Kerstyd hang af van vredesooreenkoms, sê Kremlin
Die Kremlin sê dat ’n Kersfees-skietstilstand wat Oekraïne voorgestel het daarvan afhang of ’n vredesooreenkoms bereik word of nie.
Pres. Wolodimir Zelenski het Maandag gesê Oekraïne ondersteun die voorstel van ’n skietstilstand gedurende die Kerstyd.
“Die vraag is nou of ons ’n ooreenkoms sal bereik of nie,” het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, gesê toe hy oor die idee gevra is. “Ons wil vrede hê. Ons wil nie ’n skietstilstand hê om Oekraïne ruimte te gee om asem te haal en hom voor te berei vir ’n voortsetting van die oorlog nie.” – Reuters
2025-12-16 11:19:44
Student (19) in Pole vas wat glo aanval op Kersmark wou uitvoer
Die veiligheidsdienste in Pole het ’n 19-jarige student aangekla wat na bewering voorbereidings getref het vir ’n aanval by ’n Kersmark.
Mateusz W., ’n student aan die Katolieke Universiteit van Lublin, wou ’n aanval met plofstof uitvoer en het beplan om by ’n terroristeorganisasie aan te sluit, het Jacek Dobrzynski, ’n woordvoerder van Pole se spesiale dienste, gesê.
“Die man was baie gefassineer deur Islam en het kontak met Isis probeer maak,” het Dobrzynski op ’n mediakonferensie gesê.
Hy het geweier om te sê in watter stad die aanval uitgevoer sou word om “nie paniek te veroorsaak nie”. – Reuters
2025-12-16 11:25:55
Minstens 5 soldate dood in aanval deur selfmoordbomaanvaller in Nigerië
Minstens vyf soldate is dood toe ’n selfmoordbomaanvaller ’n militêre installasie in die noordooste van Nigerië naby die grens met Kameroen getref het, het veiligheids- en plaaslike verdedigingsbronne gesê.
Die aanvaller het Sondag ’n militêre installasie in Firgi naby die dorp Pulka in die staat Borno geteiken, het bronne Maandagaand en Dinsdagoggend aan AFP gesê.
Militante het vanjaar aanvalle op militêre basisse in die noordooste verskerp, namate ’n jare lange opstand deur djihadiste voortduur. – AFP
2025-12-16 12:16:20
Bondi-strand-aanvaller was Indiese burger, immigreer 27 j. gelede na Australië
Die polisie in Indië het Dinsdag bevestig dat een van die twee gewapende mans wat Sondag 15 mense by die Bondi-strand in Sydney, Australië, doodgeskiet het, ’n Indiese burger was.
Sajid Akram (50) het die aanval uitgevoer met sy seun Naveed (24), wat volgens die owerhede op Australiese immigrasierekords as ’n Australiese burger gelys is.
“Sajid Akram is oorspronklik van Hyderabad, Indië. Hy het ongeveer 27 jaar gelede, in November 1998, na Australië geëmigreer op soek na werk,” het die polisie in Indië gesê.
Volgens die polisie het Akram die afgelope 27 jaar beperkte kontak met sy familie gehad. – AFP
2025-12-16 12:27:08
Sowat 30 aangekla weens mislukte staatsgreeppoging in Benin
Benin het Dinsdag sowat 30 mense, die meeste van hulle soldate, aangekla weens beweerde bande met ’n mislukte staatsgreeppoging vroeër vandeesmaand, het regsbronne aan AFP gesê.
Soldate het op 7 Desember op nasionale televisie verskyn om aan te kondig dat pres. Patrice Talon ontsetel is, maar die poging tot ’n staatsgreep is vinnig deur lojale weermagte met die hulp van die Nigeriese lugmag en Franse spesiale magte die nekslag toegedien.
Die beskuldigdes word vervolg weens “verraad, moord en die bedreiging van staatsveiligheid”, het die bronne gesê. – AFP
2025-12-16 12:34:23
1ste Europese vlug in 35 jaar land op Bagdad-lughawe
Irak se ministerie van vervoer het Dinsdag gesê ’n vlug wat deur Aegean Airlines van Griekeland bedryf word, is die eerste Europese vlug in 35 jaar wat op die Bagdad Internasionale Lughawe geland het.
Die ministerie sê die aankoms dui op “Irak se terugkeer na die Europese lugvaartkaart” en lui ’n “nuwe fase van herstel vir Irak se lugvaartsektor” in.
Europese lugdienste het sedert die vroeë 1990’s om veiligheidsredes nie direkte vlugte na die Bagdad Internasionale Lughawe onderneem nie, toe Saddam Hoesein, Irak se voormalige heerser, Koeweit binnegeval het. – AFP
2025-12-16 13:20:50
BBC sê hy sal Trump se $10 mjd.-lastereis teenstaan
Die BBC sal homself verdedig teen pres. Donald Trump se lastergeding waarin $10 miljard in skadevergoeding geëis word, het ’n woordvoerder van die Britse uitsaaier Dinsdag aan AFP bevestig.
“Soos ons reeds voorheen duidelik gemaak het, sal ons die saak verdedig. Ons gaan nie verdere kommentaar lewer oor lopende regsgedinge nie,” het ’n BBC-woordvoerder gesê nadat Trump die regsgeding in Florida ingedien het oor ’n dokumentêre program wat ’n toespraak van hom voor die bestorming van die Amerikaanse kongresgebou in 2021 misleidend geredigeer het. – AFP
2025-12-16 13:26:14
21 jaar tronkstraf vir man wat in Liverpool-sokkerskare injaag
’n Britse man wat meer 134 mense, insluitend agt kinders, beseer het deur met sy motor in ’n skare Liverpool-sokkerondersteuners in te jaag temidde van ’n Premierliga-oorwinningsparade in Mei, is Dinsdag op 31 aanklagte tot 21½ jaar tronkstraf gevonnis.
Paul Doyle (54) het verlede maand skuld beken op die 31 aanklagte teen hom.
Die aanklaer het Maandag gesê Doyle was “ ’n woedende man wie se woede hom heeltemal oorgeneem het” toe hy opsetlik in jubelende ondersteuners ingejaag het. – Reuters
2025-12-16 13:33:47
Vroegoggend-seëninge

’n Hindoe-gelowige in Chennai, Indië, vra vroegoggend seëninge van priesters terwyl hulle buite ’n tempel in die Mylapore-woonbuurt bid en gesange sing. Foto: AFP
2025-12-16 14:00:33
Nóg 8 dood in VSA-aanvalle op vermeende dwelmbote
Aanvalle op drie beweerde dwelmbote in die oostelike Stille Oseaan het Maandag die lewe van agt mense geëis, het die Amerikaanse weermag gesê.
Die weermag het die jongste drie aanvalle op X aangekondig en gesê die agt mense wat dood is, was betrokke by dwelmhandel, hoewel geen bewyse daarvoor verskaf is nie.
Tot dusver is minstens 26 vaartuie vernietig en minstens 95 mense dood in die omstrede veldtog wat in September in die Karibiese See en oostelike Stille Oseaan teen vermoedelik dwelmbote van stapel gestuur is. – AFP
2025-12-16 14:01:58
Bevriesde Russiese bates noodsaaklik vir Oekraïne – Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Dinsdag gesê sy land sukkel om aan sy finansiële behoeftes te voldoen en dat ’n besluit van die Europese Unie om bevriesde Russiese bates te gebruik om Oekraïne te ondersteun, van kritieke belang is.
Zelenski het op ’n gesamentlike perskonferensie met Dick Schoof, die waarnemende Nederlandse premier, in Den Haag gesê die gebruik van bevriesde Russiese bates sal Oekraïne help om te vergoed vir ’n afname in ondersteuning van sommige van sy bondgenote. – Reuters
2025-12-16 14:03:19
Wreed weggeruk

Familielede van een van die slagoffers van die massaskietery Sondag tydens ’n Joodse feesviering by die Bondi-strand in Sydney, Australië, Dinsdag by ’n waak by die strand. Foto: Reuters
2025-12-16 15:05:35
‘Rusland bedreig regstreeks vrede in Europa’
Rusland is die mees betekenisvolle, regstreekse en langdurige bedreiging vir veiligheid, vrede en stabiliteit in die Euro-Atlantiese gebied, het Finland, Swede, Estland, Letland, Pole, Bulgarye, Roemenië en Litaue Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring gesê.
Die agt lande het op ’n vergadering in Helsinki, Finland, gesê die verdediging van Europa se oostelike grens is ’n “onmiddellike” prioriteit te midde van die bedreiging wat Rusland inhou.
“Rusland bly vandag, môre en in die voorsienbare toekoms ’n bedreiging vir die hele Europa,” het Petteri Orpo, die Finse premier, op ’n mediakonferensie gesê. – AFP, Reuters
2025-12-16 15:06:52
Britte ondersoek omkopery deur buiteland in politiek
Die Britse regering het Dinsdag ’n onafhanklike ondersoek van stapel gestuur na buitelandse finansiële inmenging in politiek.
Dit kom nadat Nathan Gill, ’n voormalige senior lid van die Reform UK-party, verlede maand tot meer as 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy erken het dat hy meer as $53 000 aan omkoopgeld aanvaar het om pro-Russiese toesprake tussen 2018 en 2019 in die Europese Parlement te maak.
“Die feite is duidelik. ’n Britse politikus het omkoopgeld aanvaar om die belange van die Russiese regime te bevorder,” het die regering in ’n verklaring gesê.
“Dit is ’n vlek op ons demokrasie. Die onafhanklike ondersoek het ten doel om daardie vlek te verwyder.” – Reuters
2025-12-16 15:09:25
Vriesende nuwe jaar

’n Voetganger stap Maandagaand verby Nuwejaarsversierings in Jakoetsk, Rusland, terwyl die temperatuur tot onder -47 °C gedaal het. Foto: Reuters
2025-12-16 16:03:46
17 miljoen Afgane weet nie waar hulle die winter gaan kos kry – VN
Die aantal mense wat hierdie winter die gevaar loop van akute voedselonsekerheid in Afganistan, neem toe en staan nou op meer as 17 miljoen, het die Verenigde Nasies (VN) Dinsdag gewaarsku.
“Die situasie versleg, en ons moet nou optree aangesien Afganistan die winter betree, waartydens behoeftes die grootste is,” het Jean-Martin Bauer van die VN se Wêreldvoedselprogram gesê.
Die 17 miljoen is “drie miljoen meer as verlede jaar”, het hy op ’n mediakonferensie in Genève, Switserland gesê. Verder is “daar byna vier miljoen kinders in ’n situasie van akute wanvoeding,” het hy bygevoeg. – AFP
2025-12-16 16:07:17
Twee vermeende Hezbollah-lede in Brittanje aangekla
Die Britse polisie het Dinsdag gesê hy het twee mans daarvan aangekla dat hulle lid is van die verbode groep Hezbollah, en dat hulle terrorisme-opleidingskampe in Libanon bygewoon het.
Die twee mans word van altesaam nege terreur-oortredings aangekla.
Annis Makki (40) word onder meer daarvan aangekla dat hy in 2021 ’n terrorisme-opleidingskamp in Libanon bygewoon het, deelname aan die voorbereiding van terreurdade, lidmaatskap van Hezbollah, en ondersteuning van sowel Hezbollah as die verbode militante groep Hamas.
Mohamed Hadi (33) word daarvan aangekla dat hy 'n lid van Hezbollah is en in 2015 en 2021 opleidingskampe in Libanon bygewoon het. – Reuters
2025-12-16 16:08:15
Rugbuig-gimnastiek

Jasmine Althea Ramilo van die Filippyne Dinsdag in aksie in ’n individuele ritmiese gimnastiek-item op die Suidoos-Asiatiese Spele in Pathum Thani, Thailand. Foto: Reuters
2025-12-16 17:01:35
EU swaai om oor verbod op binnebrandenjins teen 2035
Die Europese Kommissie het Dinsdag voorgestel dat die Europese Unie (EU) se effektiewe verbod op nuwe petrol- en dieselvoertuie van 2035 af laat vaar word deur die verkoop van sommige nie-elektriese voertuie toe te laat ná intense druk van Duitsland en Italië, asook die Europese motorbedryf.
Huidige EU-regulasies vereis dat alle nuwe voertuie van 2035 af geen emissies mag hê nie. Dinsdag se voorstel behels dat die teiken verskuif na ’n 90%-vermindering in emissies, in plaas van 100%. – AFP, Reuters
2025-12-16 17:03:20
Familie soek antwoorde oor Iranse Nobelpryswenner
Die Iranse owerhede weier om ’n onafhanklike mediese ondersoek van Narges Mohammadi, die menseregte-aktivis en Nobel-vredespryswenner, toe te laat nadat sy met haar inhegtenisneming vier dae gelede geslaan is, het haar familie Dinsdag gesê.
Haar broer Hamid Reza Mohammadi, wat in Noorweë woon, het aan verslaggewers gesê sy het Sondagaand in ’n kort telefoonoproep aan haar ander broer in Iran gesê die polisie het haar met knuppels in die gesig, oor die kop en teen die nek geslaan.
“Ons broer het probeer om hulle te oortuig dat ’n onafhanklike dokter haar ondersoek, maar hulle het nie daartoe ingestem nie,” het hy gesê.
Die familie het geen inligting oor waar sy haar bevind of oor haar gesondheid nie. – AFP, Reuters
2025-12-16 17:04:52
Lekker op my trekker

Britse boere op hul trekkers betoog Dinsdag buite die Britse parlement teen die regering se planne om boedelbelasting te hervorm. Foto: Reuters
2025-12-16 18:09:34
Twee vas oor brand by Bosniese ouetehuis waarin 17 sterf
Twee senior bestuurders van ’n Bosniese ouetehuis is Dinsdag in hegtenis geneem weens beweerde swak veiligheidstandaarde nadat ’n brand verlede maand die lewe van 17 bejaarde inwoners geëis het.
Volgens die owerhede is die brand in Tuzla, sowat 80 km noordoos van Sarajevo, deur 'n foutiewe kragkabel agter ’n inwoner se bed veroorsaak.
Die spoed waarteen die brand versprei het, het dit onmoontlik gemaak vir baie bejaarde en ernstig siek inwoners om daaraan te ontsnap. Tientalle ander is oook in die brand beseer. – AFP
2025-12-16 18:10:56
Noordpool-streek het warmste jaar sedert 1900 beleef
Die Noordpool-streek het sy warmste jaar beleef sedert rekordhouding begin is, het ’n Amerikaanse wetenskaplike agentskap Dinsdag aangekondig.
Tussen Oktober 2024 en September 2025 was temperature 1,60 grade Celsius bo die gemiddelde van 1991 tot 2020, het die Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie in sy jaarlikse Noordpool-verslag gesê. Dit is gegrond op data wat tot 1900 terugdateer. – AFP
2025-12-16 18:12:44
Eers bomme, nou water

Ontheemde Palestyne loop Dinsdag deur vloedwater ná swaar reën in Gasastad. Foto: AFP
2025-12-16 19:04:35
Europese deelname sal Oekraïne-gesprekke belemmer – Kremlin
Pres. Wladimir Poetin se woordvoerder het Dinsdag aangedui dat die Kremlin gekant is teen Europese deelname aan samesprekings oor die beëindiging van die konflik in Oekraïne.
"Die deelname van die Europeërs … voorspel niks goed nie," het Russiese nuusagentskappe Dmitri Peskof, die Kremlin-woordvoerder, aangehaal.
Peskof het ook gesê dat die Kremlin nog nie ingelig is oor die uitkoms van die samesprekings Maandag in Berlyn tussen pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne en Europese leiers nie.
Volgens die Kremlin sal die uitkoms van dié samesprekings eers bepaal moet word voordat Rusland aan nuwe gesprekke kan deelneem. – AFP
2025-12-16 19:06:21
Netanyahu 'eis' dat Westerse regerings antisemitisme beveg
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het Westerse lande versoek om hul stryd teen antisemitisme te verskerp en Joodse gemeenskappe te beskerm ná ’n massaskietery by ’n Joodse geleentheid Sondag in Sydney, Australië, waarin 15 mense dood is.
"Ek eis dat Westerse regerings doen wat nodig is om antisemitisme te bestry en die veiligheid en beskerming te bied wat Joodse gemeenskappe oor die wêreld heen nodig het.
"En hulle sal goed doen om ons waarskuwings in ag te neem. Ek eis optrede – nou," het Netanyahu Dinsdag in ’n video-toespraak gesê. – AFP
2025-12-16 19:08:05
Bomskade en Kersbome

’n Vrou stap Dinsdag verby ’n straatmark waar Kersbome verkoop word voor ’n gebou in Kijif, Oekraïne, wat in Russiese missiel- en hommeltuigaanvalle beskadig is. Foto: Reuters
2025-12-16 20:03:50
Trump het 'alkoholis se persoonlikheid', sê stafhoof in artikel
Pres. Donald Trump het ’n “alkoholis se persoonlikheid”, sê Susie Wiles, Trump se stafhoof, in ’n artikel wat Dinsdag deur Vanity Fair gepubliseer is – en wat Wiles vinnig afgemaak het as ’n stuk wat ten doel het om Trump deur die modder te sleep.
Wiles noem ook visepres. JD Vance ’n “aanhanger van samesweringsteorieë”, Elon Musk ’n “vreemde enetjie” en “erkende” ketamien-gebruiker, en gee sappige menings oor ander figure in die Trump-administrasie.
Luidens die artikel het Wiles gesê Trump het, hoewel hy nie drink nie, ’n “alkoholis se persoonlikheid” en hy “funksioneer vanuit die idee dat daar niks is wat hy nie kan doen nie. Niks, nul, niks.”
In ’n plasing op X het Wiles die artikel ’n “hit piece” genoem en gesê dit laat belangrike konteks weg en haal haar selektief aan “om ’n negatiewe narratief oor die president en ons span te skilder”.
Volgens Vanity Fair is die artikel gegrond op ’n reeks onderhoude met ’n ervare politieke joernalis oor die afgelope jaar. – AFP, Reuters
2025-12-16 20:08:44
Rob Reiner se seun medies ongeskik vir 1ste hofverskyning
Die seun van die bekende Hollywood-regisseur Rob Reiner is Dinsdag medies ongeskik verklaar vir sy eerste hofverskyning, het sy prokureur buite die hof gesê.
Nick Reiner (32), wat ’n geskiedenis van dwelmmisbruik het wat terugstrek na sy tienerjare, sal na verwagting formeel aangekla word in verband met die dubbele moord op sy ouers sodra hy in staat is om in ’n hof in Los Angeles te verskyn.
“Elke aangehoudene moet mediese klaring kry voordat hulle vervoer kan word,” het Alan Jackson, Reiner se prokureur, aan joernaliste gesê en dit as “prosedureel” beskryf.
“Hopelik sal hy môre (Woensdag) geskik verklaar word sodat ons hom hier (by die hof) kan kry.” – AFP
2025-12-16 20:30:04
Nie ideale kat-wêreld

Tanya Mozingo van Pacific, Washington, dra Dinsdag haar kat, Mr Fritz, deur vloedwater wat veroorsaak is deur ’n tydelike vloedversperring langs die White-rivier wat meegegee het ná swaar reën. Foto: Reuters
2025-12-17 03:44:01
Trump beveel ‘blokkade’ van olietenkers wat Venezuela verlaat, binnegaan
Pres. Donald Trump het Dinsdag ’n “blokkade” gelas van alle gesanksioneerde olietenkskepe wat Venezuela binnekom en verlaat.
Dit is onduidelik hoe Trump die maatreël sal afdwing. Die administrasie het duisende troepe en byna 12 oorlogskepe, insluitend ’n vliegdekskip, na die streek verskuif.
“Vir die diefstal van ons bates en baie ander redes, insluitend terrorisme, dwelmsmokkelary en mensehandel, is die Venezolaanse regime as ’n buitelandse terroriste-organisasie aangewys,” het Trump op Truth Social geskryf.
“Daarom beveel ek vandag ’n TOTALE EN VOLLEDIGE BLOKKADE VAN ALLE GESANKSIONEERDE OLIETENKSKEPPE wat Venezuela binnegaan en verlaat.” – Reuters
2025-12-17 03:50:13
Familielede groet Bondi-strand-slagoffer

Familielede van rabbi Eli Schlanger, wat Sondag in die skietery by ’n Joodse Hanukkah-viering by Bondi-strand doodgeskiet is, huil Woensdag terwyl hulle oor sy kis leun by ’n begrafnis in Sydney, Australië. Foto: Reuters
2025-12-17 04:04:44
Dokters in Engeland begin Woensdag vyfdaagse staking
Dokters in Engeland begin Woensdag ’n vyfdaagse staking oor salarisse en werksomstandighede te midde van ’n toename in griepgevalle.
Dit is die jongste in ’n reeks stakings vanjaar deur junior dokters, wat byna die helfte van die mediese werksmag uitmaak en sê hul salarisse is oor meer as ’n dekade heen geërodeer.
Die regering sê hy kan nie bekostig om salarisse meer te verhoog as wat hy reeds gedoen het nie.
Wes Streeting, Britse minister van gesondheid, het die stakings “selfbevredigend, onverantwoordelik en gevaarlik” genoem. – Reuters
2025-12-17 04:15:35
Harvard-lykshuisbestuurder kry 8 j. vir diefstal, verkoop van organe
’n Voormalige lykshuisbestuurder van die Harvard- mediese skool is Dinsdag tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir die diefstal en verkoop van organe en ander dele van kadawers wat vir mediese navorsing en onderwys aan die skool geskenk is.
Cedric Lodge, wat Harvard se lykshuis vir meer as twee dekades bestuur het voor sy inhegtenisneming in 2023, is gevonnis nadat hy in Mei skuld beken het.
Sy vrou, Denise Lodge, is tot een jaar tronkstraf gevonnis nadat sy erken het dat sy deel was van die verkoop van gesteelde menslike oorskot. – Reuters
2025-12-17 04:22:45
Tweede dokter gevonnis weens Matthew Perry se dood
’n Tweede dokter in Kalifornië is Dinsdag tot agt maande huisarres gevonnis vir die onwettige verskaffing van ketamien aan die Friends-ster Matthew Perry.
Die kragtige kalmeermiddel het in 2023 Perry se noodlottige dwelmoordosis op die ouderdom van 54 in ’n borrelbad veroorsaak.
Dr. Mark Chavez (55) het in Oktober skuld beken op ’n enkele misdryf van sameswering om die middel te versprei en het sy mediese lisensie in November prysgegee.
Chavez is ook tot 300 uur gemeenskapsdiens gevonnis. – Reuters
2025-12-17 05:03:25
Oudpolisiehoë vermy tronkstraf weens besit van kinderpornografie
’n Hof in Nieu-Seeland het Woensdag die land se voormalige adjunk-polisiekommissaris tot nege maande huisarres gevonnis nadat hy erken het dat hy materiaal waarin kinders seksueel uitgebuit word en bestialiteit besit het.
Jevon McSkimming (52) is in Junie in hegtenis geneem en aangekla op agt aanklagte van die besit van aanstootlike materiaal.
Hy het in November skuld beken op drie aanklagte, insluitend die besit van materiaal waarin kinders seksueel uitgebuit word en bestialiteit wat op sy werktoestelle gestoor was.
Die hof het ook bevel McSkimming hoef nie as kinderseksoortreder te registreer nie. – AFP
2025-12-17 05:15:55
Nog ’n tiener in besette Wesoewer doodgeskiet
Israeliese setlaars het ’n 16-jarige Palestyn naby Bethlehem in die besette Wesoewer doodgeskiet, het Wafa, die amptelike Palestynse nuusagentskap, Dinsdag berig.
Moeheeb Ahmed Djibril is doodgeskiet kort ná die begrafnis van nog ’n tiener wat Maandag dood is.
Die Israeliese weermag sê sy troepe is na die gebied gestuur “na aanleiding van ’n verslag wat ontvang is rakende gemaskerde terroriste wat klippe en verfbottels na Israeliese burgerlike voertuie gegooi het”.
Die weermag sê hy wou orde herstel en is bewus daarvan dat ’n Palestyn deur geweervuur gewond is en later aan sy wonde beswyk het. – AFP
2025-12-17 05:25:53
Parlement van Nieu-Suid-Wallis volgende week teruggeroep vir strenger wapenwette
Die leier van die deelstaat Nieu-Suid-Wallis in Australië het Woensdag gesê hy sal die parlement volgende week terugroep om omvattende hervormings van geweer- en betogingswette deur te voer.
Dit volg dae nadat ’n pa en seun 15 mense by ’n Joodse Hanukkah-viering op Bondi-strand in Sydney doodgeskiet het.
Die begrafnisse van die Joodse slagoffers van Sondag se aanval het Woensdag begin te midde van woede oor hoe die gewapende mans, van wie een kortliks ondersoek is vir bande met ekstremiste, toegang tot kragtige vuurwapens toegelaat is. – Reuters
2025-12-17 06:25:33
Filippyne ontken bande met Bondi-strand-aanvalle
Die Filippyne het Woensdag gesê daar is geen bewyse dat die land vir die opleiding van terroriste gebruik word nie.
Dit volg een dag nadat onthul is dat die mans wat agter die Bondi-strand-massaskietery in Australië is, in November ’n suidelike eiland in die Filippyne bekend vir Islamitiese opstande besoek het.
“(Pres. Ferdinand Marcos) verwerp die algemene verklaring en die misleidende karakterisering van die Filippyne as die Isis-opleidingsbrandpunt ten sterkste,” het Claire Castro, woordvoerder van die president, gesê.
“Daar is geen bevestiging dat individue wat betrokke was by die Bondi-strand-voorval enige vorm van opleiding in die Filippyne ontvang het nie.” – AFP
2025-12-17 07:16:20
Bondi-strand: 15 aanklagte van moord teen man
Die polisie in Australië het Woensdag een van die vermeende gewapende aanvallers van die Bondi-strand-slagting van moord en terrorisme aangekla.
Sajid Akram (50), wat op die toneel doodgeskiet is, en sy seun, Naveed (24), word daarvan beskuldig dat hulle Sondagaand tydens ’n Joodse feesviering 15 mense doodgeskiet het.
Naveed is Woensdag op 15 aanklagte van moord aangekla nadat hy sy bewussyn herwin het, asook op aanklagte dat hy ’n terreurdaad gepleeg het en ’n bom geplant het met die doel om ander leed aan te doen.
Hy is in die hospitaal nadat hy ook op die toneel geskiet is. – AFP
2025-12-17 07:25:56
Nog 7 lande se burgers mag nie VSA besoek
Pres. Donald Trump het Dinsdag ’n lys van lande wat onderhewig is aan ’n algehele reisverbod uitgebrei en burgers van ’n bykomende sewe lande verbied om Amerika binne te gaan.
Dinsdag se stap verbied burgers van Burkina Faso, Mali, Niger, Suid-Soedan, Sirië en diegene wat oor reisdokumente van die Palestynse Owerheid beskik.
Die optrede plaas ook ’n algehele verbod op Laos en Sierra Leone, wat voorheen slegs onderhewig was aan gedeeltelike reisbeperkings.
Die jongste stap bring die getal lande wie se burgers beperkte toegang tot Amerika het bloot op grond van nasionaliteit, op byna 40 te staan. – Reuters, AFP
2025-12-17 07:32:10
Noodleniging in Marokko te midde van moeilike winter
Marokko het landwyd noodleniging van stapel laat loop om tienduisende gesinne te help wat hierdie winter onder vriesende temperature, swaar reën en sneeu gebuk gaan, het die owerhede Dinsdag gesê.
Minstens 37 mense is Sondag weens oorstromings ná stortreën in die kusprovinsie Safi dood.
Sowat 70 huise en winkels is beskadig, motors is weggespoel en paaie afgesny.
Die noodlenigingsoperasie sal 28 provinsies teiken met voedselvoorrade en komberse wat onder ongeveer 73 000 huishoudings versprei sal word. – Reuters
2025-12-17 08:32:25
Louvre bly gesluit wyl staking voortduur
Die Louvre in Parys, die museum wat die meeste ter wêreld besoek word, het Woensdagoggend gesluit gebly terwyl personeel besprekings voortgesit het oor die verlenging van ’n staking oor salarisse en werksomstandighede wat Maandag begin het.
Die staking kom ná ’n skouspelagtige rooftog van juweliersware ter waarde van €88 miljoen in Oktober, sowel as onlangse infrastruktuurprobleme, insluitend ’n waterlekkasie wat antieke boeke beskadig het.
Vakbonde sê personeel by die Louvre is oorwerk en word wanbestuur, en hulle vra vir meer aanstellings, salarisverhogings en die herleiding van besteding. – Reuters
2025-12-17 08:43:05
‘Europa moet vir eie veiligheid verantwoordelik wees’
Europa moet verantwoordelik wees vir sy eie veiligheid, het Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, Woensdag gesê.
“Dit is nie meer ’n opsie nie. Dit is ’n moet,” het sy aan die Europese parlement gesê.
Sy het bygevoeg dat Europa “dit nie kan bekostig om ander toe te laat om sy wêreldbeskouing te definieer nie”.
Sy het ook gesê terwyl die Amerikaanse nasionale veiligheidsstrategie tereg sê dat Europa se aandeel in die globale BBP afneem, Amerika op “dieselfde pad” is. – Reuters
2025-12-17 09:31:37
Opskorting van konstruksie onder maatreëls weens besoedeling in Delhi
Die owerhede in Indië se hoofstad, Nieu-Delhi, het Woensdag streng maatreëls ingestel in ’n poging om lugbesoedeling te beperk.
Die beperkings verbied die toegang van ouer dieselvragmotors tot die stad en skort konstruksiewerk op, insluitend aan openbare projekte.
Kapil Mishra, ’n minister in die plaaslike regering, het Woensdag aangekondig dat alle private en regeringskantore in die stad met 50%-bywoning op kantoor sal funksioneer. Die res van die personeel sal van die huis af werk. – Reuters
2025-12-17 09:48:00
Rusland steeds gekant teen Europese soldate in Oekraïne, maar besprekings kan voortduur
Die Kremlin sê Rusland se standpunt oor die ontplooiing van enige Europese soldate na Oekraïne onder ’n moontlike toekomstige vredesooreenkoms, is wyd bekend, maar dat die onderwerp bespreek kan word.
Onder die huidige Amerikaanse voorstelle sal Oekraïne ’n veiligheidswaarborg van die Weste ontvang dat ’n militêre mag onder leiding van Europa Oekraïne sal help deur in Wes-Oekraïne weg van die frontlinies te opereer.
Toe hy oor die berigte gevra is, het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, gesê dat hy nie deurlopende kommentaar aan die media oor die diplomasie wou lewer nie, maar dat Rusland se standpunt teen enige sodanige ontplooiing duidelik is. – Reuters
2025-12-17 10:04:34
Seun (15) aangekla van moord op meisie (9) in Brittanje
Die polisie in Brittanje het Woensdag ’n 15-jarige seun van moord aangekla ná die dood van ’n negejarige meisie in die suidweste van Engeland.
Die meisie, Aria Thorpe, is Maandag aan ’n enkele steekwond dood, het ’n nadoodse ondersoek bevind.
Die seun sal later Woensdag in die landdroshof in Bristol verskyn.
Hy is in hegtenis geneem in ’n gebied naby die huis waar die meisie gevind is, lui ’n verklaring van die polisie. – Reuters
2025-12-17 10:11:33
Krisis in Soedan een van wêreld se ‘mees verwaarloosde van 2025’
Die humanitêre ramp in Soedan is een van die wêreld se mees verwaarloosde krisisse van 2025, volgens ’n peiling van hulpagentskappe.
Sowat 30 miljoen Soedannese het hulp nodig, maar kenners waarsku dat pakhuise byna leeg is, hulpoperasies ineenstort het en twee stede in hongersnood gedompel is.
“Die Soedan-krisis behoort elke liewe dag voorbladnuus te wees,” het Abdurahman Sharif, humanitêre direkteur van Save the Children, gesê.
“Kinders beleef ’n nagmerrie reg voor ons, maar die wêreld bly skaamteloos wegkyk.”
Die Demokratiese Republiek die Kongo, wat gewikkel is in 'n burgeroorlog wat wyd beskou word as die dodelikste konflik sedert die Tweede Wêreldoorlog, is tweede op die lys. – Reuters
2025-12-17 11:22:26
Japan ‘altyd oop’ vir dialoog met China
Sanae Takaitsji, Japan se premier, sê Japan is “altyd oop” vir dialoog met China ondanks ’n diplomatieke rusie tussen die twee lande oor opmerkings wat sy oor Taiwan gemaak het.
“China is ’n belangrike buurland van Japan en ons moet konstruktiewe en stabiele betrekkinge handhaaf,” het Takaitsji Woensdag op ’n nuuskonferensie gesê.
“Japan is altyd oop vir dialoog met China. Ons maak nie die deur toe nie.”
Die spanning volg nadat Takaitsji in November gesê het dat Japan militêr kan ingryp in enige aanval op Taiwan. China eis dié selfregerende demokratiese eiland as deel van sy grondgebied en het al voorheen gedreig om geweld te gebruik om dit onder sy beheer te bring. – AFP
2025-12-17 11:31:42
Bondi-strand: Aanvallers nie in Filippyne opgelei
Daar is geen bewyse wat aandui dat die twee verdagtes wat betrokke was by die aanval by die Bondi-strand in Australië enige vorm van militêre opleiding ontvang het terwyl hulle in die Filippyne was nie, sê Eduardo Año, die Filippyne se nasionale veiligheidsraadgewer.
Año sê ’n blote besoek aan die land staaf nie bewerings van terroriste-opleiding nie. Die duur van hul verblyf sou geen sinvolle of gestruktureerde opleiding toegelaat het nie. Sy reaksie volg op ’n soortgelyke ontkenning vroeër deur pres. Ferdinand Marcos.
Twee mans het Sondag op ’n Hanukkah-viering by Sydney se Bondi-strand losgebrand en 15 mense doodgeskiet in ’n aanval wat skokgolwe deur Australië gestuur het en vrese vir antisemitisme en gewelddadige ekstremisme verhoog. – Reuters
2025-12-17 11:35:48
Joodse gemeenskap in rou gedompel

Rouklaers volg die lykswa met die kis van rabbi Eli Schlanger, wat op 14 Desember by die Bondi-strand doodgeskiet is, ná sy begrafnisdiens by die Chabad of Bondi-sinagoge in Sydney, Australië. Foto: AFP
2025-12-17 12:00:58
Franse regering in kuberaanval geteiken
’n Kuberaanval wat verlede week die Franse ministerie van binnelandse sake se e-posbedieners getref het, het tientalle lêers beskadig, sê Laurent Nuñez, minister van binnelandse sake.
Volgens Nuñez is die voorval ernstiger is as wat aanvanklik vermoed is.
Nuñez het op 12 Desember gesê daar is geen bewyse wat daarop dui dat die bedieners ernstig in gevaar gestel is nie.
“Dit is ernstig,” het hy Woensdag aan joernaliste gesê. “ ’n Paar dae gelede het ek gesê ons weet nie of enige lêers gekompromitteer is of nie. Nou weet ons dat hulle gekompromitteer is, maar ons weet nie wat die omvang daarvan is nie.”
Die beskadigde lêers het misdaadrekords ingesluit. Daar is nog geen aanduiding wie die aanval uitgevoer het nie. – Reuters
2025-12-17 12:09:54
Gesloop...

’n Man staan tussen die puin van ’n Palestynse huis wat deur die Israeliese weermag in die dorpie Kalandia, suid van Ramallah in die besette Wesoewer, gesloop is. Foto: Getty Images
2025-12-17 12:22:41
EU-wetgewers gee finale goedkeuring aan Russiese gasverbod
Die Europese parlement het Woensdag gestem om ’n verbod op alle invoer van Russiese gas teen die einde van 2027 in te stel.
’n Groot meerderheid van die wetgewers het in Straatsburg ten gunste van die verbod gestem, wat die laaste hindernis uit die weg geruim het vir die maatreël om amptelik aangeneem te word.
Die Europese Unie (EU) probeer deur dié verbod om die vloei van geld stop te sit wat Rusland gebruik om oorlog teen Oekraïne te voer.
“Dit is geskiedkundig: Die EU gee ’n reusetree na ’n nuwe era vry van Russiese gas en olie,” sê Ville Niinistö, ’n wetgewer van Finland. “Rusland kan nou nooit weer die uitvoer van fossielbrandstof as ’n wapen teen Europa gebruik nie.” – AFP
2025-12-17 13:14:24
Warner Bros. Discovery verwerp vyandige oornameaanbod
Warner Bros. Discovery het Woensdag ’n vyandige oornamebod van Paramount verwerp, wat verlede week van stapel gestuur is om Netflix se planne te dwarsboom om die Hollywood-reus en eienaar van CNN oor te neem.
Warner Bros. Discovery sê dat die voorwaardes van ’n samesmelting met Netflix gunstiger is, terwyl die Paramount-aanbod steeds nie daarin slaag om die belangrikste bekommernisse die hoof te bied wat herhaaldelik gekommunikeer is tydens die uitgebreide betrokkenheid en hersiening van Paramount se ses vorige voorstelle nie.
“Ons is vol vertroue dat ons samesmelting met Netflix uitstekende en meer waarde vir ons aandeelhouers inhou,” sê Warner Bros. Discovery. Netflix het die bedryf op 5 Desember verras toe hy aangekondig het dat hy ’n ooreenkoms bereik het om die rolprent- en televisie-ateljee vir bykans $83 miljard oor te neem – die grootste konsolidasie-ooreenkoms in die vermaaklikheidsbedryf hierdie dekade. – AFP
2025-12-17 13:17:26
Strenger stappe kom teen diegene wat Jode in Brittanje teiken
Die Britse polisie sê strenger stappe sal geneem word teen Die Britse polisie sê strenger stappe sal gedoen word teen mense wat plakkate en liedjies gebruik om die Joodse gemeenskap te teiken. Volgens die polisie het onlangse gewelddadige voorvalle die konteks rondom hierdie voorvallle verander.
Die stap kom dae nadat 15 mense dood is in ’n massaskietery tydens ’n Joodse fees by Australië se Bondi-strand.
Twee Joodse aanbidders is ook in Oktober dood in ’n aanval by ’n sinagoge in Manchester in die noorde van Engeland. Joodse groepe het vroeër gevra vir strenger optrede oor die taal wat by pro-Palestynse betogings gebruik word. – Reuters
2025-12-17 13:33:03
Oorlogmasjien...

’n Nuwe F-35-vegvliegtuig, wat deur Finland bestel is, word onthul tydens ’n seremonie by die Lockheed Martin Aeronautics-fasiliteit in Fort Worth, Texas, in Amerika. Foto: Reuters
2025-12-17 14:02:13
Duitse regering steun jag van wolwe om troppe te bestuur
Die Duitse regering het Woensdag wetgewing goedgekeur wat gereelde jag op wolwe sal toelaat om hul bevolkings in gebiede met groot troppe te bestuur.
Stygende veeverliese weens wolwe in onlangse jare het intense debat in Duitsland ontlok en boere teen bewaringsbewustes te staan gebring, wat die terugkeer van wolwe in dele van die land as ’n omgewingsukses beskou.
“Die terugkeer van die wolf na Duitsland en Europa is ’n sukses van spesiebewaringsbeleid, maar die toenemende verspreiding daarvan het ook gelei tot konflik met veeboerdery en dele van die bevolking,” het ’n regeringswoordvoerder gesê kort nadat die kabinet die wetsontwerp goedgekeur het. – AFP
2025-12-17 14:04:01
Poetin sê Rusland sal ‘beslis’ sy doelwitte in Oekraïne bereik
Pres. Wladimir Poetin het Woensdag gesê Rusland sal “beslis” sy doelwitte in die offensief in Oekraïne bereik, insluitend die oorname van die gebiede waarop dit as sy eie aanspraak maak.
Dit kom te midde van ’n vlaag van internasionale diplomasie om die oorlog te beëindig.
“Die doelwitte sal beslis bereik word,” het Poetin op ’n vergadering met die ministerie van verdediging in Moskou gesê. “Ons sal verkies om die grondoorsake van die konflik deur diplomasie uit te skakel,” het hy gesê, maar belowe om Oekraïense grondgebied wat Rusland glo geannekseer het, “met militêre middele” in te neem as Oekraïne en “sy buitelandse beskermhere weier om aan inhoudelike besprekings deel te neem.” – AFP
2025-12-17 14:06:47
Tot siens, Lei Lei

Die Japanse regering het aangekondig dat Lei Lei, een van die twee pandas in die Oeno-dieretuin in Tokio, Japan, in Januarie aan China terugbesorg gaan word. Dit sal Japan vir die eerste keer in ’n halfeeu sonder hierdie geliefde diere laat. Foto: STR/Jiji Press/AFP
2025-12-17 15:03:12
Mexiko sê VN moet ‘bloedvergieting’ in Venezuela voorkom
Claudia Sheinbaum, die Mexikaanse president, het Woensdag die Verenigde Nasies (VN) gevra om “sy rol te vervul” om bloedvergieting in Venezuela te voorkom namate spanning tussen dié land en Amerika toeneem.
Sheinbaum het op ’n mediakonferensie gesê dat Mexiko teen ingryping en buitelandse inmenging in Venezuela is.
Pres. Donald Trump het Dinsdag ’n “blokkade” beveel op olietenkskepe wat Venezuela aandoen en verlaat, ’n stap wat die regering van pres. Nicolás Maduro ’n “groteske bedreiging” genoem het. – Reuters
2025-12-17 15:06:53
Inwoners in Zaporizjzjia ontruim ná aanval

Paramedici help Woensdag ’n inwoner ontruim uit ’n woonstelgebou in Zaporizjzjia, Oekraïne wat in ’n Russiese lugaanval getref is. Meer as 25 mense is in die aanval beseer. Foto: Reuters
2025-12-17 15:33:39
China spreek steun vir ‘strategiese vennoot’ Venezuela uit
China spreek steun vir ‘strategiese vennoot’ Venezuela uit China is teen “eensydige afknouery” en ondersteun lande om hul eie soewereiniteit te beskerm, het dié land se minister van buitelandse sake Woensdag aan sy Venezolaanse ampsgenoot gesê.
Dit volg op verhoogde druk deur pres. Donald Trump op Venezuela. Hy het onder meer Dinsdag ’n “blokkade” beveel op olietenkskepe wat die land aandoen en verlaat.
Minister Wang Yi het gesê China en Venezuela is strategiese vennote, luidens ’n verklaring van die Chinese ministerie van buitelandse sake.
“China glo die internasionale gemeenskap verstaan en ondersteun Venezuela se standpunt om sy regmatige regte en belange te verdedig,” het Yi gesê. – Reuters
2025-12-17 16:06:18
Gewese Franse leier Sarkozy se ‘tronkboek’ ’n topverkoper
Nicolas Sarkozy, gewese Franse president, se haastig geskryfde boek oor sy onlangse tronkervaring het volgens sy uitgewer binne minder as ’n week bykans 100 000 eksemplare verkoop.
Sarkozy (70) het sy drie weke agter tralies omskep in Le journal d'un prisonnier (Dagboek van ’n gevangene). Sarkozy, president van 2007 tot 2012, is in September daaraan skuldig bevind dat hy probeer het om finansiering by Moeammar Ghaddafi, voormalige Libiese leier, te kry vir sy verkiesingsveldtog.
Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, maar het die gevangenis op 10 November verlaat nadat hy slegs 20 dae uitgedien het toe ’n regter opdrag gegee het vir sy vrylating hangende sy appèl. – AFP
2025-12-17 16:07:17
Duitsland gee groen lig vir bykans R1 000 miljard se militêre aankope
Duitse wetgewers het Woensdag militêre aankope van nagenoeg €50 miljard (sowat R1 000 miljard) goedgekeur, het die regering gesê, terwyl die land sy verdedigingbesteding versnel om die bedreiging die hoof te bied wat Rusland inhou.
“Ons stuur ’n sein na die (Navo-)alliansie en ons vennote: Duitsland neem die leiding,” het die ministerie van verdediging gesê, en aankope gelys wat wissel van missiele vir lugverdedigingstelsels tot gepantserde mediese voertuie, satellietstelsels en nuwe uniforms. – AFP
2025-12-17 16:08:12
‘Ons is honger’

Palestyne ontvang Woensdag kosrantsoene by ’n noodlenigingskombuis in Chan Joenis in die suide van die Gasastrook. Foto: AFP
2025-12-17 17:10:11
VSA beplan nuwe sanksies teen Rusland as hy vredesooreenkoms verwerp
Amerika oorweeg nuwe sanksies teen Rusland se energiesektor om dié land onder meer druk te plaas indien hy ’n vredesooreenkoms met Oekraïne sou verwerp, berig Bloomberg.
Opsies sluit in die teiken van skepe wat Russiese olie uitvoer, asook tussengangers wat dié handel vergemaklik. Terwyl nog geen finale besluit geneem is nie, sê die Amerikaanse tesourie alle opsies bly op die tafel.
Volgens die Amerikaanse media gaan die nuwe maatreëls binnekort aangekondig word nadat gesprekke vroeër vandeesweek tussen Amerikaanse en Europese amptenare gevoer is.
Die Kremlin waarsku egter nuwe sanksies kan betrekkinge verder benadeel. – Reuters
2025-12-17 17:17:17
Bondgenote moet Rusland wys oorlog is nutteloos, sê Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Woensdag ’n beroep op sy bondgenote gedoen om hul steun aan sy land te verseker en aan Rusland te wys dat dit “sinloos” is om met die oorlog voort te gaan.
So het hy gesê kort voor ’n belangrike Europese Unie (EU)-beraad oor Rusland se bevrore bates. “Die uitkoms van dié beraad – die uitkoms vir Europa – moet wees dat Rusland besef dis nutteloos om volgende jaar met die oorlog voort te gaan omdat Oekraïne die nodige steun sal kry.”
Die EU en ander Westerse lande het miljarde euro’s se Russiese bates – hoofsaaklik buitelandse valutareserwes – in Europa bevries ná Rusland se inval in Oekraïne. Die huidige EU-beraad fokus op die vraag of en hoe dié bevrore bates aangewend kan word om Oekraïne finansieel te ondersteun. – Reuters
2025-12-17 17:27:00
Die jaar is op sy rug

Mense stap verby Nuwejaar-versierings naby ’n advertensiebord wat militêre diens onder kontrak in die Russiese weermag adverteer, in Sint Petersburg, Rusland.
Foto: Reuters
2025-12-17 17:59:16
Nick Reiner in hof, saak uitgestel tot Januarie
Nick Reiner (32), die jongste seun van die Hollywood-filmmaker Rob Reiner en die fotograaf Michele Singer Reiner, het Woensdag vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklagte van die dubbele moord op sy ouers.
Die Reiner-egpaar is Sondagoggend dood in hul huis in Brentwood, Los Angeles, aangetref, skaars ure nadat Nick vermoedelik gevlug het nadat sy ouers dood is.
Nick, bebaard en geklee in ’n blou baadjie, het nog nie sy pleit ingedien nie. Die formele aanklag is tot 7 Januarie uitgestel. Reiner, wat al voorheen erken het dat hy 'n jare lange worsteling met dwelmverslawing het, is Sondagaand in hegtenis geneem. Hy bly in aanhouding sonder borgtog. – Reuters
2025-12-17 18:01:55
VSA stuur magte na Ecuador vir operasie teen dwelms
Die VSA het Woensdag 'n tydelike ontplooiing van lugmagpersoneel na Ecuador aangekondig as deel van sy streekveldtog teen dwelmmiddels.
Daar is nie enige aanduiding van die omvang van die ontplooiing nie, wat kom namate spanning toeneem oor die stryd tussen die Latyns-Amerikaanse olieprodusent Venezuela en die VSA.
Die personeel sal by Ecuador se Manta-lugmagbasis ontplooi word, wat vir 'n dekade tot 2009 as 'n Amerikaanse basis gedien het.
Ecuador se ministerie van verdediging sê dat Amerikaanse vliegtuie met “militêre materiaal” in die land aangekom het, maar het geen verdere besonderhede gegee nie. – AFP
2025-12-17 18:08:25
Iets broei in Puerto Rico

Militêre personeel staan op die Amerikaanse aanvalskip die 'USS Iwo Jima', in Ponce, Puerto Rico. Die VSA het Woensdag 'n tydelike ontplooiing van sy magte na Ecuador aangekondig as deel van sy streekveldtog teen dwelmmiddels.
Foto: Getty Images
2025-12-17 19:02:22
Venezuela-weermag ‘nie geïntimideer’ deur Trump – minister
Die Venezolaanse weermag het Woensdag gesê hy is “nie geïntimideer” deur die dreigemente van pres. Donald Trump nie, wat ’n blokkade afgekondig het op sekere olietenkskepe wat die land aandoen en verlaat.
“Ons sê aan die Amerikaanse regering en sy president dat ons nie geïntimideer word deur hul kru en arrogante dreigemente nie,” het Wladimir Padrino López, minister van verdediging, gesê.
“Die waardigheid van hierdie vaderland is nie onderhandelbaar of geïntimideer deur enigiemand nie,” het Lopez bygevoeg. – AFP
2025-12-17 19:06:17
Oscars vanaf 2029 eksklusief op YouTube gestroom
Die Oscars sal vanaf 2029 eksklusief op YouTube te sien wees, het die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, die liggaam wat verantwoordelik is vir die Oscars, Woensdag aangekondig.
Die nuwe meerjarige ooreenkoms beteken dat Hollywood se mees gesogte toekenningsgeleentheid vir die eerste keer uitsluitlik via stromingsdiens beskikbaar sal wees, wat die gordyn laat sak op ’n dekades lange verhouding met die Amerikaanse uitsaaier ABC.
Die jaarlikse Oscars, wat die jaar se grootste prestasies in rolprentkuns vier, word gereeld deur sowat 20 miljoen Amerikaners en miljoene meer wêreldwyd gekyk. – AFP
2025-12-17 20:03:48
Denemarke wil boerkas, nikaabs in skole, universiteite verbied
Die Deense regering het Woensdag gesê hy wil die land se verbod op gesigsluiers in openbare plekke na skole en universiteite uitbrei.
“Boerkas, nikaabs of ander kleredrag wat mense se gesigte versluier, het geen plek in ’n Deense klaskamer nie,” het Rasmus Stoklund, minister van immigrasie en integrasie, in ’n verklaring gesê.
Denemarke het in 2018 die dra van Islamitiese gesigsluiers soos die boerka en nikaab in openbare plekke verbied, met oortreders wat ’n boete opgelê kan word.
Menseregte-aktiviste en godsdienstige groepe het die verbod gekritiseer as diskriminerend en ’n skending van sowel godsdiensvryheid as vroue se vryheid van keuse. – AFP
2025-12-17 20:05:59
13 aanbidders ontvoer in aanval op kerk in Nigerië
Minstens 13 aanbidders is ontvoer toe gewapende mans ’n kerk in die Kogi-deelstaat in Sentraal-Nigerië aangeval het, het ’n amptenaar Woensdag gesê.
Volgens Kogi se inligtingskommissaris het die aanval op die kerk Sondagoggend tot ’n skietgeveg gelei tussen die aanvallers en plaaslike jagters wat deur die deelstaat aangestel is as ’n eerste verdedigingslinie ná soortgelyke voorvalle.
Vier van die aanvallers is dood en minstens 10 ander is gewond, het die kommissaris gesê.
Die aanval is die jongste in ’n reeks ontvoerings in Sentraal-Nigerië. Meer as 300 kinders en 12 personeellede is in November deur gewapende mans by ’n Katolieke kosskool ontvoer. – Reuters
2025-12-18 03:43:25
Trump spog oor 'prestasies', kla oor 'gemors' wat hy van Biden erf
Pres. Donald Trump het Woensdagaand (Donderdagnag SA tyd) in ’n toespraak vanuit die Withuis gespog oor sy prestasies en sy Demokratiese voorganger blameer vir stygende verbruikerspryse.
“Elf maande gelede het ek ’n gemors geërf en ek maak dit reg,” het Trump gesê.
Trump, wat gereeld kla dat hy nie erkenning kry vir sy prestasies nie, het min nuwe beleidsinisiatiewe aangebied om hoë koste aan te pak.
In plaas daarvan het hy die skuld gepak op oudpres. Joe Biden, vorige handelsooreenkomste, immigrante en wat hy as ’n korrupte stelsel beskryf het. – Reuters

Pres. Donald Trump van Amerika Foto: Getty Images/The New York Times/Bloomberg
2025-12-18 03:50:47
Albanese beloof optrede teen haatspraak
Anthony Albanese, premier van Australië, het Donderdag optrede teen haatspraak belowe ná ’n aanval by ’n Joodse viering op Bondi-strand, Sydney, waarin 15 mense doodgeskiet is.
Albanese is deur baie in die Joodse gemeenskap gekritiseer omdat die regering nie genoeg doen om ’n toename in antisemitisme sedert die begin van die oorlog in die Gasastrook te bestry nie.
Hy het onder meer gesê die regering sal poog om wetgewing in te stel wat dit makliker maak om mense wat haatspraak en geweld bevorder, aan te kla. – Reuters
2025-12-18 04:25:58
Venezuela versoek VN-vergadering oor 'voortdurende Amerikaanse aggressie’
Venezuela het Woensdag versoek dat die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) vergader om “voortdurende Amerikaanse aggressie” teen die land te bespreek.
’n VN-diplomaat het gesê ’n vergadering sal waarskynlik vir Dinsdag geskeduleer word.
Pres. Donald Trump het Dinsdag ’n “blokkade” van alle gesanksioneerde olietenkers wat Venezuela binnekom en verlaat, gelas in Washington se jongste maatreël om druk op pres. Nicolás Maduro se regering te verhoog. – Reuters
2025-12-18 04:38:10
Skieter by Brown-Universiteit steeds nie geïdentifiseer
Die gewapende man wat Saterdag twee studente by Brown-Universiteit doodgeskiet en agt gewond het, was Woensdag steeds op vrye voet.
“Dit is buite die norm,” het Felipe Rodriguez, ’n voormalige speurder van die New York-polisie gesê.
“Massaskieters word oor die algemeen op die toneel doodgemaak of vinnig gevang.”
Die man het in ’n klaskamer losgebrand en in die omliggende strate in Providence, Rhode Island, ontsnap. Sommige inwoners verlaat nie hul huise nie en hou hul kinders tuis. – Reuters
2025-12-18 04:48:30
Israel gaan reuse-ooreenkoms met Egipte aan oor gas
Israel het ’n ooreenkoms goedgekeur ingevolge waarvan aardgas aan Egipte verskaf sal word.
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het die ooreenkoms oor gas as die land se grootste ooit beskryf.
Israel het die uitvoerooreenkoms in Augustus met Chevron en sy vennote NewMed NWMDp.TA en Ratio onderteken om tot $35 miljard se gas aan Egipte te verskaf.
Netanyahu het gesê die ooreenkoms, wat weens ’n paar uitstaande kwessies vertraag is, sal stabiliteit in die streek help verseker. – Reuters
2025-12-18 05:00:47
3 dood in Rusland weens Oekraïense hommeltuigaanvalle
Drie mense is oornag dood in Oekraïense hommeltuigaanvalle in die streek Rostof in Rusland.
’n Aanval het ’n brand op ’n vragskip in die hawe van die streekhoofstad veroorsaak, waarin twee bemanningslede dood en drie beseer is, het Joeri Slioesar, waarnemende streekgoewerneur, op Telegram gesê.
Die brand is later geblus. ’n Burger is ook dood en ses ander beseer in die dorp Bataisk, naby die hawefasiliteite. – AFP
2025-12-18 05:07:12
Amerikaanse, Russiese amptenare vergader die naweek
Amerikaanse en Russiese amptenare sal die naweek in Miami vergader in nuwe gesprekke oor pres. Donald Trump se plan om die oorlog in Oekraïne te beëindig, het ’n amptenaar van die Withuis Woensdag aan AFP gesê.
Die gesprekke kom nadat pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne die vordering geprys het op twee dae van vergaderings in Berlyn tussen Amerikaanse en Oekraïense gesante. – AFP
2025-12-18 05:17:04
Honderde dagvaar Japannese regering weens klimaatverandering
Honderde mense oor Japan heen sal Donderdag die sentrale regering dagvaar om skadevergoeding te eis oor die “ongrondwetlike” gebrek aan optrede teen klimaatsverandering.
Die regsgeding kritiseer Japan se “onvoldoende” stryd teen die klimaatkrisis en sê dit stel die gesondheid en lewensbestaan van die ongeveer 450 eisers in gevaar.
Kiitsji Akijama, een van die eisers en ’n konstruksiewerker, het aan AFP gesê meedoënlose hitte het sy span gedwing om stadiger te werk, wat “groot verliese” vir sy sakeonderneming veroorsaak het.
Daar was ook voorvalle waar “mense by die werk ineenstort of dood is nadat hulle huis toe gegaan het”, het Akijama gesê. – AFP
2025-12-18 05:27:29
4 dood in nóg ’n Amerikaanse aanval op boot in Stille Oseaan
Vier mense is Woensdag dood toe Amerikaanse magte ’n aanval uitgevoer het op ’n vaartuig wat na bewering by dwelmsmokkelary in die Stille Oseaan betrokke was.
Die Amerikaanse weermag het ’n “dodelike aanval uitgevoer op ’n vaartuig wat deur ’n aangewese terroriste-organisasie bedryf word” in die ooste van die Stille Oseaan wat by “dwelmsmokkelary-operasies betrokke was”, het die Amerikaanse Suidelike Kommando gesê.
Die jongste aanval bring die dodetal op 99 te staan sedert Amerika in September begin het om bote wat na bewering dwelms smokkel in die Karibiese See en die ooste van die Stille Oseaan aan te val. – AFP
2025-12-18 06:03:02
8 in Soedan dood wyl hulle vlug
Agt mense is Woensdag in ’n hommeltuigaanval dood terwyl hulle uit die beleërde Soedannese stad Kadoegli in die deelstaat Suid-Kordofan gevlug het, het ooggetuies aan AFP gesê.
Die aanval was in Koerkal, ongeveer 15 km noord van Kadoegli, wat deur die weermag beset word, maar vir ongeveer 18 maande deur hul vyande, die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF), omsingel is.
Sedert die weermag in Oktober uit die stad El-Fasjer verdryf is, het die RSF sy visier op Kordofan gevestig. – AFP
2025-12-18 06:41:10
Kambodja sê Thaise weermag voer aanvalle op belangrike stad uit
Kambodja sê Thailand se weermag het Donderdag bomaanvalle op die stad Poipet, ’n belangrike oorgang tussen die twee nasies waar verskeie casino's geleë is, uitgevoer.
Thaise magte het Donderdag omstreeks 11:00 plaaslike tyd “twee bomme in die gebied van die Poipet-munisipaliteit in die Banteay Meanchey-provinsie ontplooi”, het die Kambodjaanse ministerie van verdediging in ’n verklaring gesê.
Thailand het teen vroeg Donderdagmiddag nog nie kommentaar gelewer oor die aanval nie. Hernieude gevegte op die buurlande se grens het op 8 Desember uitgebreek. – AFP
2025-12-18 07:09:11
6 beseer in Russiese aanval op Oekraïne
Ses mense is beseer toe Rusland ’n “massiewe” hommeltuigaanval op Oekraïne se sentrale Tsjerkasi-streek uitgevoer het wat ook tot ’n kragonderbreking in ’n deel van die stad Tsjerkasi gelei het, het die plaaslike goewerneur Donderdag gesê.
“ ’n Moeilike nag vir ons Tsjerkasi-streek,” het Ihor Taboerets op Telegram gesê. Volgens Taboerets het die aanval kritieke infrastruktuur geteiken.
Hy sê meer as 12 woonhuise is ook beskadig. – Reuters
2025-12-18 07:37:47
2 dood, groot stede sonder krag ná aanvalle op kragsentrale in Soedan
Groot stede in Soedan is Donderdag in duisternis gedompel nadat ’n belangrike kragsentrale in die ooste van die land in dodelike hommeltuigaanvalle geteiken is.
Ooggetuies het aan AFP gesê hulle het vlamme en rookwolke in die dorp Atbara in die Nylrivierstaat gesien wat deur die weermag beheer word in sy voortdurende oorlog met die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF).
Twee lede van die burgerlike verdedigingsmag is dood terwyl hulle probeer het om die brand te blus, het ’n beampte van die kragsentrale gesê.
Reddingswerkers is in ’n tweede aanval getref en word vir beserings behandel. – AFP
2025-12-18 07:54:28
Europa moet besluit tussen ‘geld vandag of bloed môre’ oor Oekraïne
Europa het ’n keuse tussen “geld vandag of bloed môre”, het Donald Tusk, premier van Pole, Donderdag gesê.
Hy het die opmerking gemaak met sy aankoms by ’n Europese Unie-beraad waar leiers moet besluit hoe om Oekraïne in 2026 en 2027 te finansier om die land in staat te stel om weerstand teen Rusland se inval te bied.
“Nou het ons ’n eenvoudige keuse - óf geld vandag óf bloed môre. En ek praat nie net van Oekraïne nie, ek praat van Europa. En dit is ons besluit om te neem en slegs ons s’n.” – Reuters

Dienspligtiges en amptenare Dinsdag in die dorp Iwano-Frankowe in die Lwif-streek op die begrafnis van ongeïdentifiseerde Oekraïense troepe. Foto: Getty Images/Anadolu
2025-12-18 08:38:53
Poetin noem Europese politici ‘jong varke’
Pres. Wladimir Poetin het Woensdag in Moskou gesê Rusland sal nog grondgebied in Oekraïne met geweld beset as Oekraïense en Europese politici, wat hy as “jong varke” bestempel het, nie oor Amerikaanse voorstelle vir ’n vredesooreenkoms onderhandel nie.
Amerika het met Rusland, en afsonderlik met Oekraïense en Europese leiers, gesprekke gevoer oor voorstelle om die oorlog te beëindig, maar geen ooreenkoms is bereik nie.
Oekraïne en sy Europese bondgenote is bekommerd oor eise vir Oekraïense gebiedstoegewings. – Reuters
2025-12-18 08:46:58
Ghislaine Maxwell versoek wéér vrylating uit tronk
Ghislaine Maxwell, medepligtige van die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein, het Woensdag ’n aansoek ingedien dat haar skuldigbevindings nietig verklaar word en sy uit die tronk vrygelaat word, toon hofgegewens.
Maxwell is in 2022 skuldig bevind op vyf aanklagte van sekshandel vir haar aandeel aan die werwing van minderjarige meisies sodat Epstein hulle kon misbruik. Sy is 20 jaar tronkstraf opgelê.
Maxwell kon nie voorheen daarin slaag om ’n regter en die tweede rondgaande appèlhof wat in New York gesetel is, te oortuig om haar skuldigbevinding tersyde te stel nie. – AFP
2025-12-18 09:17:39
Narkotiseur sit lewenslank weens vergiftiging van 30 pasiënte
’n Hof in Frankryk het Donderdag ’n narkotiseur tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens die vergiftiging van 30 pasiënte, van wie 12 gesterf het, in ’n beweerde poging om kollegas te diskrediteer.
Sowel kinders as volwassenes is onder die oorledenes.
Frédéric Péchier (53) het as ’n narkotiseur in twee klinieke in die stad Besançon in Oos-Frankryk gewerk toe pasiënte onder verdagte omstandighede tussen 2008 en 2017 hartstilstand gekry het.
Twaalf pasiënte kon nie bygebring word nie. – AFP
2025-12-18 09:25:17
1 000 burgerlikes tereggestel in aanval op kamp vir ontheemdes in Soedan
Meer as 1 000 burgerlikes is doodgemaak toe die Soedannese paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) ’n kamp vir ontheemdes in die Darfoer-streek in Wes-Soedan tussen 11 en 13 April oorgeneem het.
Ongeveer ’n derde van die burgerlikes is summier tereggestel, luidens ’n verslag Donderdag deur die Verenigde Nasies (VN).
“So ’n koelbloedige afmaaiery van burgerlikes of mense wat hors de combat (Frans vir “buite geveg gestel”) is, kan as oorlogsmisdade en moord beskou word,” het Volker Türk, VN-kommissaris vir menseregte, in ’n gepaardgaande verklaring gesê.
Die Zamzam-kamp het ongeveer ’n halfmiljoen mense gehuisves wat deur die burgeroorlog ontheem is. – Reuters
2025-12-18 09:41:36
Rusland maan Amerika oor Venezuela
Rusland se ministerie van buitelandse sake sê hy hoop dat pres. Donald Trump se administrasie nie ’n noodlottige fout oor Venezuela begaan het nie.
Rusland is bekommerd oor Amerikaanse besluite wat internasionale navigasie bedreig.
“Ons hoop dat die D. Trump-administrasie, wat gekenmerk word deur ’n rasionele en pragmatiese benadering, nie ’n noodlottige fout sal maak nie.”
Die ministerie hoop dat Amerika nie in ’n situasie sal beland wat “onvoorspelbare gevolge vir die hele Westelike Halfrond” sal hê nie. – Reuters
2025-12-18 10:26:40
Australiese polisie onderskep motors ná wenk
Die Australiese polisie het Donderdag gesê hulle het twee motors in Sydney onderskep nadat hulle ’n wenk ontvang het dat ’n “gewelddadige daad moontlik beplan word”.
“Op die oomblik het die polisie geen verband met die huidige ondersoek na die Bondi-terreuraanval geïdentifiseer nie,” het die staatspolisie van Nieu-Suid-Wallis gesê.
Amptenare het op die voertuie toegeslaan terwyl hulle deur Liverpool, ’n voorstad in die suidweste van Sydney, gery het.
“Terwyl die ondersoeke voortduur, help sewe mans die polisie met hul ondersoeke,” het die polisie gesê. – AFP
2025-12-18 10:48:54
Britse onderwysers opgelei om vrouehaat te hanteer
Onderwysers in Brittanje sal danksy ’n nuwe strategie opgelei word om vrouehaat in die klaskamer te hanteer.
Die strategie is daarop gemik om geweld teen vroue en meisies oor die volgende dekade te halveer, het die regering Donderdag gesê.
Die “volle mag van die staat sal ontplooi word in die grootste ingryping teen (dié) geweld in die Britse geskiedenis”, het Jess Phillips, minister van beskerming en geweld teen vroue en meisies, gesê.
Die plan volg op die jongste statistieke wat toon dat meer as 40% van jong mans ’n positiewe beskouing oor die internetpersoonlikheid Andrew Tate het, luidens ’n verslag deur die regering. – AFP
2025-12-18 11:06:34
Rusland wil besonderhede uitvind oor VSA se vredespogings in Oekraïne
Die Kremlin het Donderdag aangedui dat Rusland gereed maak vir gesprekke met die VSA oor die moontlikheid van 'n vredesooreenkoms met Oekraïne.
Volgens die Amerikaanse publikasie Politico vergader amptenare van albei lande hierdie naweek in Miami in Florida. Die Russiese afvaardiging sluit pres. Wladimir Poetin se beleggingsgesant, Kirill Dmitrief, in.
Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, het intussen bevestig dat Rusland daarop ingestel is om inligting te bekom oor Amerika se gesprekke met Europese lande en Oekraïne.
Poetin het Woensdag gewaarsku dat Rusland bereid is om selfs meer Oekraïense grondgebied in te neem indien Oekraïne en sy Europese bondgenote nie saam oor 'n vredesvoorstel onderhandel nie. Europese leiers het op hul beurt beklemtoon dat hulle Oekraïne steeds ten volle ondersteun. – Reuters
2025-12-18 11:14:03
Legendariese oorlogskorrespondent Peter Arnett sterf
Peter Arnett, legendariese oorlogsverslaggewer wat dekades lank wêreldkonflikte gedek het, is Woensdag in die ouderdom van 91 oorlede.
Arnett, wat in Nieu-Seeland gebore is en later ’n Amerikaanse burger geword het, het die Pulitzerprys in 1966 verwerf vir sy onverskrokke beriggewing uit Viëtnam.
In sy loopbaan het hy as CNN-verslaggewer in Bagdad oor die Golfoorlog verslag gedoen, en ’n onderhoud gevoer met Saddam Hoesein, destydse diktator-president van Irak.
Arnett het ook in 1997 Osama bin Laden, leier van Al-Kaïda, wat later die 9/11-terreuraanvalle op Amerika beplan het, ontmoet. Sy verslaggewing het dikwels die amptelike weergawes van wêreldmagte uitgedaag. Hy word oorleef deur sy vrou, Nina Nguyen, en hul kinders, Elsa en Andrew. – AFP

Die Amerikaanse joernalis Peter Arnett tydens 'n regstreekse uitsending vir CNN vanaf Hotel Al Rashhed tydens die Golfoorlog, op 21 Februarie 1991.
Foto: Getty Images
2025-12-18 11:21:41
Ideale skuilplek

'n Man kruip weg in 'n betonskuiling in Surin, Thailand, nadat gevegte weer uitgebreek het tussen Thailand en Kambodja. Foto: Getty Images
2025-12-18 12:06:27
Franse polisie vang gevangene wat met lakens uit tronk ontsnap
Die Franse polisie het Donderdag die tweede gevangene vasgetrek wat einde November uit ‘n tronk in Dijon ontsnap het.
Die negentienjarige, wat aangekla is van ‘n dwelmverwante poging tot moord, het saam met ‘n ander gevangene deur hul sel se tralies gesaag en lakens as ’n tou gebruik om te ontsnap. Die man is in Marseille, sowat 500 km van die tronk af, vasgetrek. Hy is in ‘n vervalle woonstel in ‘n bekende dwelmhandelsgebied aangekeer.
Sy mede-ontsnapte, ‘n 32-jarige man wat van geweld teen 'n lewensmaat aangekla word, is reeds ‘n dag nadat hulle uit die tronk ontsnap het in ‘n kroeg in hegtenis geneem.
Die ontsnapping het skerp reaksie uitgelok oor toestande in Franse tronke, waar oorbevolking en gebrekkige sekuriteit aan die orde van die dag is. – AFP
2025-12-18 12:12:00
Aardbewing tref Taiwan, geen skade aangemeld
’n Aardbewing van 5,1 het Donderdag sowat 18 km oos van Hualien in Taiwan plaasgevind, het die eiland se weerdiens bevestig. Geen skade of beserings is onmiddellik aangemeld nie.
Die aardbewing het geboue in die hoofstad, Taipei, vir ’n paar oomblikke laat skud. Volgens die weerdiens het die aardbewing op ’n diepte van 31,6 km voorgekom.
Taiwan lê op die grens tussen twee tektoniese plate en aardbewings kom dikwels daar voor. Meer as 100 mense is in 2016 in ’n aardbewing in die suide van Taiwan dood, terwyl 2 000 mense in 1999 weens ’n skudding van 7,3 gesterf het. – Reuters
2025-12-18 12:22:21
‘Dr Death’ op die agtersitplek

Frédéric Péchier (regs), ’n Franse narkotiseur wat deur aanklaers as “Dr Death” beskryf word, arriveer Donderdag by die hof in Besançon in Frankryk waar hy skuldig bevind is aan die opsetlike vergiftiging van 30 pasiënte en die dood van 12 ander. Foto: AFP
2025-12-18 13:12:42
Britse regering veroordeel Russiese tronkstraf vir burger wat vir Oekraïne veg
Die Britse regering het Donderdag die lang tronkstraf wat ’n Russiese hof Hayden Davies, ’n Britse burger opgelê het, veroordeel.
Davies is skuldig bevind aan sogenaamde huursoldaat-aktiwiteite omdat hy saam met Oekraïense magte geveg het. Dis ’n aanklag wat die Britse regering as “vals” beskryf. “Ingevolge internasionale reg mag krygsgevangenes nie vervolg word bloot omdat hulle aan vyandelikhede deelgeneem het nie,” het die Britse buitelandse kantoor benadruk.
“Ons eis dat Rusland sy verpligtinge, insluitend dié ingevolge die Genève-konvensie, nakom en ophou om krygsgevangenes vir politieke en propaganda-doeleindes te gebruik.” – AFP
2025-12-18 13:19:37
Zelenski: Tekort in hulpbedrag bring vervaardiging van hommeltuie in gedrang
Oekraïne sal in 2026 na raming met ’n tekort van €45 miljard tot €50 miljard (ongeveer R921 miljard tot R1 023 miljard) aan buitelandse hulp sit, het pres. Wolodimir Zelenski Donderdag in Brussel gesê.
Indien Oekraïne nie teen volgende jaar die eerste paaiement van ’n lening ontvang wat uit bevriesde Russiese bates gefinansier word nie, sal hy sy vervaardiging van hommeltuie drasties moet inperk.
Volgens Zelenski beteken dit dat die land veel minder hommeltuie as Rusland sal hê en nie oor die vermoë sal beskik om langafstandaanvalle op Russiese energie-infrastruktuur uit te voer nie.
Die Europese Unie beraadslaag tans oor die beskikbaarstelling van die geld. – Reuters
2025-12-18 13:26:30
Koning geniet ook sy biertjie

Koning Charles III proe aan ’n Guinness-moutbier tydens sy besoek aan die Guinness Open Gate Brewery in Londen, Engeland. Foto: Getty Images
2025-12-18 14:00:51
3 vas nadat olifant in Sri Lanka lewend aan brand gesteek is
Die Sri Lankaanse polisie het Donderdag drie mans in hegtenis geneem op ’n klag van wreedheid teenoor diere nadat ’n video wat wyd versprei is, gewys het hoe hulle ’n wilde olifant aan die brand steek.
Die polisie sê die verdagtes, tussen die ouderdom van 42 en 50, is in hegtenis geneem sowat 200 km noord van die hoofstad, Colombo.
Volgens natuurbewaarders is die dier eers geskiet en gewond voordat dit aan die brand gesteek is.
Olifante word as heilig in Sri Lanka beskou en deur die wet beskerm, maar boere en inwoners van afgeleë dorpies val soms wilde olifante aan wat oeste vernietig. – AFP
2025-12-18 14:02:19
Beslag gelê op 27 t. onwettig vervaardigde sigarette in Italië
’n Onwettige tabakfabriek wat 4 miljoen onwettige sigarette per dag vervaardig en miljoene euro's in belasting en heffings ontduik het, is Donderdag deur die Italiaanse en Europese Unie-owerhede ontdek.
Die fabriek sowat 30 km suid van Rome het sigarette vervaardig en verpak as bekende handelsmerke soos Marlboro, Rothmans, Camel en Winston.
Sewe mans van Oekraïne en Bulgarye is in hegtenis geneem. – Reuters
2025-12-18 15:03:47
Duitse man lewenslank tronk toe oor motor-aanval by karnaval
’n Duitse man is Donderdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis en is ook in psigiatriese sorg geplaas nadat hy in Maart vanjaar met sy motor in mense by ’n karnavalmark ingejaag het.
Die aanval in die stad Mannheim het die lewe van ’n 83-jarige vrou en ’n 54-jarige man geëis en talle ander mense beseer.
Alexander Scheuermann (40) is skuldig bevind op twee aanklagte van moord en ses aanklagte van poging tot moord nadat hy met sy swart Ford teen snelhede van tot 80 km/h in die skare ingejaag het.
Ondersoeke het “geen bewyse van ’n politieke motief openbaar nie”, het aanklaers gesê. – AFP
2025-12-18 15:06:49
Rusland dreig oor hervatting van Amerikaanse kerntoetse
Rusland sal “gepas” reageer indien Amerika kerntoetse hervat, het die Interfax-nuusagentskap Donderdag vir Waleri Gerasimof, hoof van die algemene staf van Rusland se gewapende magte, aangehaal.
“Indien dié toetse deur die Amerikaanse kant hervat word, sal gepaste teenmaatreëls volg,” het Gerasimof gesê. – Reuters
2025-12-18 15:56:54
VSA stel sanksies in teen nóg 2 Wêreldhof-regters oor Israel
Amerika het Donderdag sanksies ingestel teen nog twee regters van die Internasionale Geregshof (Wêreldhof) ter ondersteuning van Israel.
Die hof het vroeër ’n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van Benjamin Netanyahu, Israel se premier.
Marco Rubio, Amerika se minister van buitelandse sake, het in ’n verklaring gesê die twee regters, van onderskeidelik Mongolië en Georgië, het vroeër die week gestem teen Israel, wat bevindings van die hof betwis het. – AFP
2025-12-18 16:04:03
Oekraïne benodig Russiese bates vir begrotingstekort – Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Donderdag gesê hy het sy Europese bondgenote meegedeel dat sy land vanjaar nog ’n besluit benodig oor ’n plan om bevriesde Russiese bates te gebruik om Oekraïne se begrotingstekort aan te vul.
“Ons bondgenote is ingelig dat die besluit teen die einde van dié jaar geneem moet word,” het Zelenski aan joernaliste gesê by ’n Europese Unie-beraad om te probeer ooreenkom oor die plan, wat teenkanting van lande soos België kry.
Zelenski het ook gesê Oekraïne word deur ’n tekort van tot $59 miljard in buitelandse hulp in die gesig gestaar in 2026.
Hy het gesê as sy land nie teen vroeg volgende jaar ’n eerste betaling van ’n lening, gewaarborg deur die Russiese bates, ontvang nie, dit aansienlik sal moet sny in die produksie van hommeltuie. – AFP, Reuters
2025-12-18 16:21:14
Britse aristokraat vervolg oor hy glo sy vrou wurg
’n Lid van een van Brittanje se mees aristokratiese families en wat verwant is aan prinses Diana en Winston Churchill, staan tereg op aanklagte dat hy sy vervreemde vrou gewurg het, luidens hofdokumente wat Donderdag bekend gemaak is.
Charles (Jamie) Spencer-Churchill (70), die hertog van Marlborough, moes in die landdroshof in Oxford verskyn op drie aanklagte dat hy sy tweede vrou, Edla Marlborough, tussen November 2022 en Mei 2024 opsetlik gewurg het.
Spencer-Churchill kon egter nie Donderdag in die hof wees nie, en die saak teen hom is uitgestel tot 5 Januarie. – AFP
2025-12-18 16:23:32
Lula sê hy sal Bolsonaro se vonnisvermindering veto
Luiz Inácio Lula da Silva, Brasilië se president, het Donderdag gesê hy sal ’n wetsontwerp veto wat deur die kongres goedgekeur is en wat die tronkstraf kan verkort van Jair Bolsonaro, die voormalige president, wat sy straf uitdien ná ’n mislukte staatsgreeppoging.
Brasilië se senaat het Woensdag die wetsontwerp goedgekeur, wat nou aan Lula voorgelê sal word.
“Wanneer dit (die wetsontwerp) op my lessenaar beland, sal ek dit veto. Dit is geen geheim vir enigiemand nie,” het Lula op ’n perskonferensie gesê.
“Ek het die reg om dit te veto, en dan het hulle die reg om my veto om te keer of nie. Dis hoe dit werk.” – AFP
2025-12-18 17:15:00
Switserse deelstaat sê nee vir selfone in klaskamers vir dié leerlinge
Die parlement van die Switserse deelstaat Fribourg het Donderdag gestem om skoolgaande kinders tot sowat 15 jaar oud te verbied om selfone op skool te gebruik.
Met 67 stemme teenoor 35 het die wetgewer ’n voorstel goedgekeur wat dit verpligtend maak dat leerlinge hul selfone en ander elektroniese toestelle afskakel en wegpak, op die skoolterrein en tydens buiteskoolse aktiwiteite.
Volgens die voorstel wil die verbod persoonlike interaksie aanmoedig, die skoolatmosfeer en lewensgehalte van leerlinge en onderwysers verbeter, en afknouery en uitsluiting teenwerk. – Reuters
2025-12-18 17:20:25
Mexiko bied aan om VSA-ingryping in Venezuela te keer
Pres. Claudia Sheinbaum van Mexiko het Donderdag aangebied om as bemiddelaar op te tree om enige moontlike Amerikaanse ingryping in Venezuela te voorkom.
Sheinbaum se voorstel volg kort nadat pres. Luiz Inácio Lula da Silva van Brasilië ook te kenne gegee het dat hy bereid is om as tussenganger op te tree in onderhandelinge tussen Amerika en Venezuela.
“Ons gaan, saam met alle lande wat dit begeer – in Latyns-Amerika of op ander vastelande – na ’n vreedsame oplossing soek om enige Amerikaanse ingryping te keer,” het Sheinbaum aan joernaliste gesê. – AFP
2025-12-18 17:28:06
'Basta met die oorlog, kom ons trou!'

200 paartjies neem deel aan ’n massa-huwelikseremonie in Al-Zawaida in die Gasastrook. Die geleentheid, genaamd “Ons is lief vir die lewe, ondanks die volksmoord”, is deur die Turkse Al-Ribat-vereniging gereël om paartjies te help om te trou, ondanks die verwoesting van die oorlog wat op 7 Oktober 2023 deur ’n Hamas-aanval op Israel begin het. Foto: AFP
2025-12-18 17:57:57
Dubai se inwoners gewaarsku om binnenshuis te bly weens gure weer
Dubai se polisie het inwoners Donderdag gewaarsku om binnenshuis te bly en net uit te gaan as dit absoluut noodsaaklik is.
Dié streng waarskuwing volg nadat reën vroeër die dag reeds strate laat oorstroom het. Kenners waarsku dat die onstuimige weer tot vroeg Vrydag gaan voortduur, met moontlike swaar reënval oor die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) heen, insluitend Dubai en die hoofstad, Abu Dhabi.
Verlede jaar se rekordreënval het die VAE geskok, met honderde huise wat oorstroom het met vloedwater en selfs Dubai se wêreldbekende lughawe wat vlugte moes opskort. – AFP
2025-12-18 18:10:52
Kennedy wil dié soort prosedures vir kinders verbied
Robert F. Kennedy jr., Amerikaanse minister van gesondheid, wil toegang tot geslagsbevestigende sorg vir kinders drasties beperk. In sy nuwe voorstel wil hy hospitale wat kinders dié soort prosedures bied, verbied om by twee groot staatsgesondheidsprogramme, Medicare en Medicaid, aan te sluit.
Dit beteken dié hospitale sal nie meer staatsgeld vir enige mediese dienste via hierdie programme ontvang as hulle steeds dié dienste aan kinders lewer nie. Verder wil Kennedy hê Medicaid en ander gesondheidsprogramme vir kinders moenie langer vir sulke prosedures betaal nie. Kennedy se standpunt is dat slegs berading aan kinders gebied moet word en nie mediese of chirurgiese ingrypings soos puberteitsblokkers, hormone of operasies nie.
Dis in teenstelling met die standpunt van die grootste Amerikaanse mediese verenigings, wat meen kinders behoort saam met hul dokters en ouers oor hul sorg te kan besluit. – Reuters

Robert F.Kennedy jr. Foto: Getty Images
2025-12-18 18:18:15
Rentekoers-Kersgeskenk

Die Bank van Engeland-gebou weerkaats in ’n Kersversiering aan ’n boom in Londen, op die dag dat die monetêrebeleidskomitee besluit het om die rentekoers te verlaag.
Foto: Reuters
2025-12-18 19:01:56
VSA-sanksies ‘flagrante aanval’ op onafhanklikheid – Wêreldhof
Die Internasionale Geregshof (Wêreldhof) het Donderdag gesê Amerikaanse sanksies teen twee van sy regters in die saak wat Israel betrek, is ’n “flagrante aanval” op die hof se onafhanklikheid.
“Sulke maatreëls wat op regters en aanklaers gemik is … ondermyn die reg. Wanneer regters bedreig word oor die toepassing van die wet, word die internasionale regstelsel self in gevaar gestel,” het die hof gesê.
Marco Rubio, Amerika se minister van buitelandse sake, het vroeër in ’n verklaring gesê die twee regters, van onderskeidelik Mongolië en Georgië, het vroeër dié week gestem teen Israel, wat die hof se ondersoek na oorlogsmisdade in die Gasastrook tersyde wou laat stel. – Reuters, AFP
2025-12-18 19:11:55
Demokrate reik nog tientalle nuwe Epstein-foto’s uit
Demokrate in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Donderdag nóg 68 foto’s uit die boedel van die veroordeelde seksmisdadiger wyle Jeffrey Epstein bekend gemaak, ’n dag voordat die Amerikaanse departement van justisie wetlik verplig word om ongeklassifiseerde lêers uit sy ondersoek na Epstein bekend te maak.
Die jongste stel foto’s sluit in sinne uit Lolita, ’n boek oor ’n man se obsessie met ’n 12-jarige meisie, geskryf in swart ink op ’n vrou se lyf; identiteitskaarte van vroue van Rusland, Marokko, Italië, Tsjeggië, Suid-Afrika, Oekraïne en Litaue; en ’n WhatsApp-gesprek oor die stuur van meisies aan iemand wat as “J” geïdentifiseer is, teen $1 000 elk.
Dit sluit ook foto’s in van die miljardêr-sakeman Bill Gates, die politieke aktivis prof. Noam Chomsky, en Steve Bannon, ’n voormalige bondgenoot en hoofraadgewer van pres. Donald Trump. – Reuters

’n Foto van ’n sin uit die omstrede boek Lolita geskryf in swart ink op ’n vrou se voet, is van die 68 nuwe foto’s uit die boedel van die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein wat Donderdag bekend gemaak is. ’n Eksemplaar van Lolita is op die agtergrond. Foto: AFP
2025-12-18 20:00:22
Oekraïne moet ‘vinniger’ beweeg met vrede, sê Trump
Pres. Donald Trump het Donderdag gesê hy glo die onderhandelinge om die oorlog in Oekraïne te beëindig, is “naby aan iets”.
Dit kom voor ’n verwagte vergadering tussen Amerikaanse en Russiese amptenare hierdie naweek in Miami, Florida.
“Wel, hulle is naby aan iets, maar ek hoop Oekraïne beweeg vinnig. Ek hoop Oekraïne beweeg vinnig, want Rusland is daar,” het Trump aan verslaggewers in die Oval Office gesê.
“En jy weet, elke keer as hulle te lank neem, verander Rusland weer van plan.” – AFP
2025-12-18 20:05:13
Befaamde Kennedy-kunssentrum kry ‘Trump’ in sy naam
Die raad van die John F. Kennedy-sentrum vir die uitvoerende kunste, waarin pres. Donald Trump vroeër vanjaar talle van sy bondgenote aangestel het, het besluit om die instelling tot die Trump-Kennedy-sentrum te hernoem, het die Withuis Donderdag gesê.
“Ek is pas ingelig dat die hoogs gerespekteerde raad van die Kennedy-sentrum, sommige van die mees suksesvolle mense van alle dele van die wêreld, pas eenparig gestem het om die Kennedy-sentrum te hernoem na die Trump-Kennedy-sentrum danksy die ongelooflike werk wat pres. Trump die afgelope jaar gedoen het om die gebou te red,” het Karoline Leavitt, die Withuis-woordvoerder, in ’n plasing op X gesê. – Reuters
2025-12-19 03:41:19
Verdagte in skietery by Brown-Universiteit dood gevind
Die verdagte in die massaskietery die afgelope Saterdag by die Brown-Universiteit in Rhode Island, Amerika, is dood gevind, het ’n Amerikaanse aanklaer gesê.
Twee mense is in die tragedie doodgeskiet en minstens agt beseer.
Die owerheid ondersoek ook die moontlikheid dat dieselfde persoon twee dae ná die aanval by Brown ’n professor aan die Massachusetts Institute of Technology vermoor het.
Twee ander federale amptenare het ook bevestig dat die vermeende skieter dood is. Sy lyk is blykbaar in ’n stooreenheid in Salem, New Hampshire, sowat 30 km noord van die middestad van Boston, ontdek.
’n Groot kontingent wetstoepassers het Donderdagaand daar saamgedrom as deel van die ondersoek na die skietery. – Reuters
2025-12-19 03:49:25
Betogings ruk Bangladesj ná dood van leier van 2024-opstand
Bangladesj is Donderdagaand deur gewelddadige betogings in verskeie stede geskud ná die dood van die jeugleier Sjarif Osman Hadi.
Hadi, wat ook ’n kandidaat in die algemene verkiesings was, is verlede Vrydag deur gemaskerde aanvallers in die kop geskiet terwyl hy sy verkiesingsveldtog in Dhaka van stapel gestuur het.
Hy is aanvanklik in ’n plaaslike hospitaal behandel voordat hy na Singapoer gevlieg is vir gevorderde mediese sorg. Hy is ses dae later dood.
Hadi was ’n sleutelfiguur in verlede jaar se opstand wat die outokratiese bewind van premier Sjeikh Hasina Wajed beëindig het. – Reuters
2025-12-19 04:02:38
Nóg 5 dood in Amerikaanse aanvalle op vaartuie in Stille Oseaan
Die Amerikaanse weermag het Donderdag bekendgemaak dat hy nog vyf vermeende dwelmsmokkelaars aan boord van twee vaartuie in die Stille Oseaan om die lewe gebring het.
Dit bring die getal sterftes in die omstrede veldtog in die Karibiese See en die ooste van die Stille Oseaan sedert September op minstens 104 te staan.
Amerika het aanvalle uitgevoer op twee vaartuie wat in internasionale waters opereer en “betrokke was by dwelmsmokkelary-operasies”, het die Amerikaanse Suidelike Kommando op X gesê.
Drie mense is in die eerste vaartuig dood en twee in die tweede vaartuig, het hy gesê. – Reuters
2025-12-19 04:04:48
EU-leiers leen geld om Oekraïne se verdediging te finansier
Die leiers van die Europese Unie het besluit om geld te leen om Oekraïne se verdediging teen Rusland te finansier eerder as om geblokkeerde Russiese bates te gebruik, het diplomate gesê.
“Ons het ’n ooreenkoms. Die besluit om €90 miljard se steun aan Oekraïne vir 2026-’27 te verskaf, is goedgekeur,” het António Costa, president van die Europese Raad, vroeg Vrydagoggend gesê.
Costa het nie gesê wie die bron van die finansiering is nie. – Reuters
2025-12-19 04:21:37
ByteDance span saam met beleggers teen Amerikaanse TikTok-verbod
ByteDance, die Chinese maatskappy wat TikTok besit, het Donderdag gesê dat hy bindende ooreenkomste met drie groot beleggers onderteken het om ’n gesamentlike onderneming te vorm om TikTok se Amerikaanse app te bedryf.
Die onderneming sal deur Amerikaanse en globale beleggers gelei word in ’n poging om ’n verbod op TikTok deur die Amerikaanse regering te omseil.
Die ooreenkoms is ’n mylpaal vir die kortvideo-app wat gereeld deur meer as 170 miljoen Amerikaners gebruik word ná ’n stryd wat in Augustus 2020 begin het, toe pres. Donald Trump die eerste keer onsuksesvol probeer het om die app te verbied. – Reuters
2025-12-19 05:05:54
Voormalige president van Irak gaan VN-vlugtelingagentskap lei
Die algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) het Barham Salih, ’n voormalige president van Irak, Donderdag as die volgende hoë kommissaris vir vlugtelinge (UNHCR) verkies.
Salih het dekades gelede aan vervolging onder Saddam Hoesein ontvlug.
Salih is sonder ’n stemming deur die vergadering van 193 lede verkies nadat António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, hom benoem het.
Salih sal op 1 Januarie 2026 ’n termyn van vyf jaar begin. – Reuters
2025-12-19 05:06:36
Japan verhoog rentekoers tot 0,75%, hoogste in 30 jaar
Die Bank van Japan het Vrydag rentekoerse tot 0,75% verhoog.
Dit is die eerste verhoging sedert Januarie en die hoogste koers in 30 jaar.
Die bank het met ’n eenparige stemming besluit om sy hoofkoers van 0,5% te verhoog, luidens ’n verklaring. – AFP
2025-12-19 05:07:46
Witkoff praat met Katar, Egipte en Turkye oor 2de fase van Gasa-skietstilstand
Steve Witkoff, Amerikaanse gesant, sal Vrydag in Miami, Florida samesprekings hou met senior amptenare van Katar, Egipte en Turkye oor die volgende fase van die skietstilstand in die Gasastrook.
Die Withuis het dit Donderdag aan AFP gesê.
Dit kom te midde van vrese oor vertragings in die pogings om die tweede fase van die ooreenkoms te bereik.
Kragtens die ooreenkoms moet Israel in die tweede fase uit sy posisies in die Gasastrook onttrek.
’n Tussentydse owerheid in plaas van Hamas moet die Palestynse gebied regeer, en ’n internasionale stabiliseringsmag moet ontplooi word. – AFP
2025-12-19 05:59:01
Rusland verwelkom besluit om nie sy bates vir Oekraïne te gebruik
“Die wet en gesonde verstand” het geseëvier, het Kirill Dmitriëf, pres. Wladimir Poetin se spesiale gesant vir belegging en ekonomiese samewerking, gesê.
Dit volg op die besluit deur leiers van die Europese Unie (EU) om geld te leen om Oekraïne se verdediging teen Rusland te finansier eerder as om geblokkeerde Russiese bates te gebruik.
“(Dis) ’n groot SLAG vir EU-oorlogstokers gelei deur die mislukte Ursula,” het Dmitriëf gesê met verwysing na Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie.
“Redelike stemme in die EU het die ONWETTIGE gebruik van Russiese reserwes om Oekraïne te finansier, GEBLOKKEER.” – Reuters
2025-12-19 06:38:49
Kersvader voer die visse

Die Brasiliaanse duiker Felipe Luna, wat as Kersvader geklee is, vermaak Donderdag toeskouers in ’n vertoning in die akwarium AquaRio in Rio de Janeiro. Foto: AFP
2025-12-19 07:35:40
Australië gaan vuurwapens by eienaars terugkoop
Australië gaan ’n omvattende skema van stapel stuur om “vuurwapens van ons strate af te kry” deur hulle terug te koop by eienaars, het Anthony Albanese, premier van Australië, Vrydag gesê.
Sajid Akram (50) en sy seun, Naveed (24), word daarvan beskuldig dat hulle Sondag 15 mense by ’n Joodse feesviering op Bondi-strand doodgeskiet het.
Albanese het belowe om wette te verskerp wat Sajid toegelaat het om ses kragtige vuurwapens te besit.
Australië sal vuurwapeneienaars betaal om “oortollige, nuut verbode en onwettige vuurwapens” te oorhandig. – AFP
2025-12-19 07:44:48
Groenkaart-lotery opgeskort ná verdagte in skietery by Brown Universiteit geïdentifiseer is
Kristi Noem, Amerikaanse minister van binnelandse veiligheid, het Donderdag die groenkaart-lotery opgeskort en gesê dat dit deur die vermeende massaskieter by Brown-Universiteit gebruik is.
Claudio Neves Valente (48), ’n Portugese burger, word onder meer daarvan beskuldig dat hy die afgelope Saterdag twee studente doodgeskiet en agt gewond het terwyl hulle in ’n klaskamer eksamen geskryf het.
Noem sê ’n groenkaart is in 2017 aan Neves Valente toegestaan.
In die lotery vir Amerikaanse groenkaarte word tot 55 000 permanente verblyfvisums jaarliks toegeken aan mense “uit lande met lae immigrasiekoerse na Amerika”, volgens die owerhede. – AFP
2025-12-19 08:23:46
Franse vrou gevonnis wat by Isis aansluit
’n Tweede Franse vrou wat gerepatrieer is uit ’n Siriese kamp waar lede van die Islamitiese Staat (Isis) en ontheemdes aangehou is, is Donderdag tot 10 jaar tronkstraf gevonnis.
Carole Sun (30) is deur ’n spesiale strafhof in Parys skuldig bevind aan betrokkenheid by ’n terroristiese misdadige sameswering.
Sy het Frankryk in Julie 2014 saam met haar broer verlaat en na Sirië gereis, en is in Desember 2017 deur Koerdiese magte in hegtenis geneem toe Isis se selfverklaarde kalifaat besig was om in duie te stort.
Sun is op 5 Julie 2022 gerepatrieer.
Sy het aan die hof gesê sy is aanlyn geradikaliseer. – AFP
2025-12-19 08:32:52
Wiz Khalifa in absentia tot 9 maande tronkstraf in Roemenië gevonnis
’n Roemeense hof het die rapper Wiz Khalifa nege maande tronkstraf opgelê nadat hy tydens ’n konsert in Julie 2024 dagga op die verhoof gerook het.
Khalifa, wie se regte naam Thomaz Cameron Jibril is, het erken dat hy dagga gerook het.
’n Roemeense appèlhof het ’n vorige boete vir die besit van dwelms tersyde gestel en beslis dat die rapper die vonnis agter tralies moet uitdien.
Hy is in absentia gevonnis. Volgens ’n kenner is dit onwaarskynlik dat Amerika hom sal uitlewer.
Die rapper is veral bekend vir die liedjie “See You Again”. – BBC
2025-12-19 08:45:09
Noorse kroonprinses gaan waarskynlik longoorplanting benodig
Mette-Marit (52), kroonprinses van Noorweë wat aan ’n chroniese longtoestand ly, sal waarskynlik ’n longoorplanting moet ondergaan ná ’n “duidelike agteruitgang”, het die paleis Vrydag gesê.
“Ons nader die tyd wanneer ’n longoorplanting uitgevoer moet word en ons tref die nodige voorbereidings sodat dit moontlik sal wees wanneer die tyd aanbreek.”
Die prinses het in Oktober 2018 aangekondig dat ’n seldsame vorm van pulmonale fibrose by haar gediagnoseer is, ’n ongeneeslike siekte wat letsels aan die longe veroorsaak en die lyer kortasem laat. – AFP
2025-12-19 09:11:31
545 migrante deur Griekse kuswag gered
Griekeland se kuswag het Vrydag minstens 545 migrante van ’n vissersboot naby Europa se mees suidelike eiland, Gavdos, gered.
Dit is een van die grootste groepe wat die land die afgelope maande bereik het.
Die migrante is tydens ’n soektog sowat 29,6 km van Gavdos af gevind, lui ’n verklaring van die Griekse kuswag.
Hulle is almal gesond en word na die hawe van Agia Galini op die nabygeleë eiland Kreta geneem. – Reuters
2025-12-19 09:43:27
Vlugte gekanselleer weens hewige reënstorm in VAE
Lughawe-owerhede in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het Vrydag tientalle vlugte gekanselleer of vertraag en paaie in groot stede is verspoel toe die grootste reënstorm in maande die woestynnasie getref het.
Dubai se Emirates-lugredery het 13 vlugte gekanselleer en daar was ook vertragings en kansellasies by die nabye Sjarjah-lughawe.
Die storm herinner aan April 2024, toe rekord-reënval wydverspreide oorstromings veroorsaak het en tot die kansellasie van meer as 2 000 vlugte by Dubai se belangrikste internasionale lugsentrum gelei het. – AFP
2025-12-19 10:34:34
Voorwaardes oor Oekraine dieselfde as dié van Junie 2024, sê Poetin
Pres. Wladimir Poetin van Rusland sê sy land se voorwaardes vir die beëindiging van die oorlog met Oekraïne is onveranderd van dié wat hy in Junie verlede jaar uiteengesit het.
Poetin het sy jaareind-mediakonferensie aangebied.
Hy sê hy sien nie gereedheid aan die Oekraïense kant om ’n vredesooreenkoms te bereik nie, maar daar was “sekere aanduidings” dat hulle bereid was om in dialoog te tree.
Een van die hoofvoorwaardes sedert Junie 2024 is “om die oorsake aan te pak wat tot hierdie krisis gelei het”, het Poetin gesê. – Reuters
2025-12-19 10:47:38
Russiese burger deur Israel aangekla wat glo vir Iran spioeneer
Israel het ’n Russiese burger aangekla van spioenasie vir Iran, insluitend die neem van foto’s van Israeliese hawens en infrastruktuur onder leiding van Iranse intelligensie-agentskappe.
Die Russiese individu is toe in 'n digitale geldeenheid betaal, het Israel se agentskap vir binnelandse veiligheid Vrydag in ’n verklaring gesê.
’n Dekades lange “skadu-oorlog” tussen Israel en Iran het in Junie tot ’n direkte oorlog geëskaleer toe Israel verskeie teikens in Iran aangeval het. Die oorlog het 12 dae geduur. – Reuters
2025-12-19 11:11:52
Trump wil Amerikaners gerusstel oor ekonomie
Pres. Donald Trump gaan Vrydag na Noord-Carolina om Amerikaners te oortuig dat hy die land se ekonomie reg bestuur, veral met 'n belangrike verkiesingsjaar aan die kom. Met pryse wat styg en werkloosheid aan die toeneem, kom Trump voor uitdagings te staan.
Hy glo dat sy beleid die Amerikaanse ekonomie spoedig weer sal laat groei. Trump sê enige probleme is die Demokrate se skuld.
Verder spog hy dat petrolpryse daal, invoertariewe die staatskas laat groei en dat buitelandse beleggers miljarde in die VSA belê, wat nuwe werksgeleenthede beteken.
Republikeine is egter bekommerd. Indien die ekonomie nie verbeter nie, kan hulle dalk beheer oor die senaat en huis van verteenwoordigers verloor in die tussenverkiesings in November volgende jaar. – Reuters
2025-12-19 11:21:13
‘Volgende skuif is julle s’n’, sê Poetin oor Oekraïne-oorlog
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het Vrydag gesê die Weste is verantwoordelik om ’n einde te maak aan die oorlog in Oekraïne.
”Die volgende skuif is julle s’n,” het hy gesê en volgehou dat Rusland nie tou opgegooi het met die vredesonderhandelinge nie, en dat hy selfs sekere kompromisse in die Amerikaanse voorstel aanvaar het.
Poetin beskuldig eerder die Oekraïense leiers en hul Europese bondgenote daarvan dat hulle die proses verhinder. Die oorlog in Oekraïne woed al byna vier jaar lank, met verskeie onderhandelinge wat tot dusver nie resultate opgelewer het nie. – AFP
2025-12-19 11:27:42
Koninklike saluut

Koning Charles III salueer op ‘n parade deur vlootkadette in Dartmouth, Engeland. Kapt. Andrew Bray (links), wat die parade lei, staan langs Charles.
Foto: Getty Images
2025-12-19 12:01:17
Talle beseer in aanval in Taipei
Talle mense is Vrydag in Taipei beseer nadat ’n persoon rookbomme in ’n moltreinstasie gegooi en omstanders aangeval het, berig plaaslike media.
Volgens Taiwan se Central News Agency het die aanvaller vermoedelik sy eie lewe geneem. Dit is nog nie duidelik wat die motief vir die aanval was nie. Tsjo Joeng-tai, Taiwan se premier, het ook die voorval bevestig.
Taipei, die hoofstad van Taiwan, beskik oor ’n moderne en besige moltreinstelsel wat daagliks deur duisende pendelaars gebruik word. Voorvalle van geweld in Taiwan se moltreinstelsel is skaars en daarom het Vrydag se aanval groot skok in die gemeenskap veroorsaak. – Reuters
2025-12-19 12:11:46
Libanon en Israel vergader: Hoop op blywende vrede
Verteenwoordigers van Libanon en Israel, sowel burgerlik as militêr, het Vrydag vergader om die voortgesette skietstilstand met Hezbollah te bespreek.
Die vergadering, waaraan Amerika, Frankryk en die Verenigde Nasies (VN) deelgeneem het, het naby die grens tussen die twee lande plaasgevind. Die vergadering het gefokus op vrede, veiligheid en die belangrike proses om mense terug te bring na hul huise ná die verwoestende konflik van meer as ’n jaar lank.
Duisende mense is weens die geweld uit die grensgebiede van Libanon verplaas. Militêre afgevaardigdes het oor veiligheidsake gepraat, terwyl burgerlike verteenwoordigers gekyk het na die terugkeer van inwoners asook herbouing en ekonomiese herstel.
Die afgevaardigdes het uiteindelik saamgestem dat blywende vrede net moontlik is as daar vordering is met veiligheid sowel as die ekonomie. – AFP
2025-12-19 12:16:58
Kyk so ’n tamaai bom…

John Healey, Britse minister van verdediging (regs), bekyk ’n Russiese hoëfragmentasie-lugbom op ’n besoek aan soldate in Colchester in Engeland. Foto: Getty Images
2025-12-19 13:03:34
Skokkende Duitse hofsaak herinner aan Pelicot-geval
’n Hof in die Duitse stad Aachen het Vrydag ’n voormalige opsigter, Fernando P., tot agt jaar en ses maande tronkstraf gevonnis nadat hy jare lank sy vrou met slaappille bedwelm en verkrag het.
Hy het die verkragtings verfilm en dit op die internet versprei. Die polisie het hom vasgetrek nadat hulle ’n wenk oor die aanlyn video’s ontvang het.
Die hofsaak roep herinneringe op van die berugte geval in Frankryk van Gisèle Pelicot, wie se man, Dominique Pelicot, haar oor jare heen bedwelm het en ander mans genooi het om haar te verkrag.
Gisèle het wêreldwyd bekend geword vir haar moedige getuienis in die hof. – AFP
2025-12-19 13:12:48
VSA-weermag sukkel met finansiële aanspreeklikheid
Die Amerikaanse departement van verdediging (die Pentagon) kon vir die agtste agtereenvolgende jaar nie sy jaarlikse finansiële oudit slaag nie.
Die aanhoudende probleme met finansiële aanspreeklikheid het al tot wye kritiek uit sowel Demokratiese as Republikeinse geledere gelei, en het selfs ’n belangrike verkiesingskwessie geword.
Volgens Pete Hegseth, Amerikaanse minister van verdediging, kan “die departement nie dekades van oorlog, die verwaarlosing van Amerika se verdedigingsbedryf, en die nasionale skuldkrisis oplos deur onbeheersde besteding nie”. Sy woorde beklemtoon die groot finansiële uitdagings waarmee Amerika se militêre instellings nou al jare lank worstel.
Die Pentagon is die grootste regeringsagentskap in die VSA, met ’n begroting van ongeveer $800 miljard per jaar, en het al dikwels in die verlede gesukkel om volledige rekenskap van al sy bates en uitgawes te verskaf. – Reuters

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images
2025-12-19 13:18:02
Skoktoneel...

Joernaliste staan buite ’n winkel naby die Zjongsjan-moltreinstasie terwyl die ingang van die gebou met geel polisielint afgesper word nadat verskeie mense beseer is in ’n aanval in Taipei, Taiwan. Foto: Reuters
2025-12-19 14:00:25
3 sterf toe aanvaller mense op Tapei-stasie met mes aanval
Drie mense is dood en vyf beseer nadat ’n aanvaller gewapen met ’n mes Vrydag ’n vlaag van geweld in Sentraal-Taipei, Taiwan, ontketen het.
Die aanvaller is dood toe hy van ’n gebou geval het nadat die polisie hom agternagesit het, het die land se premier gesê.
Die man het rookbomme in Taipei se hoofstasie laat afgaan en toe na ’n nabygeleë moltreinstasie in ’n besige inkopiegebied gehardloop, waar hy mense onderweg aangeval het, het premier Tsjo Djoeng-tai gesê.
Die aanvaller het ’n misdaadrekord en uitstaande lasbriewe gehad, het Tsjo gesê.
Afgesien van rookgranate het hy skynbaar ook items soos petrolbomme gehad wat glo op die toneel gebrand het, en hy het klaarblyklik ook ’n koeëlvaste baadjie en ’n masker gedra, het Tsjo gesê. – Reuters
2025-12-19 14:05:57
Sterftes in Oekraïne-oorlog nie Rusland se skuld – Poetin
Pres. Wladimir Poetin het Vrydag gesê hy neem geen verantwoordelikheid vir die lewensverlies in die Oekraïne-oorlog nie, ’n konflik wat tienduisende lewens aan albei kante geëis het.
“Ons beskou onsself nie as verantwoordelik vir die lewensverlies nie. Ons het nie dié oorlog begin nie,” het Poetin op sy jaarlikse perskonferensie in Moskou gesê en sy gereelde narratief herhaal dat Oekraïne en die Weste verantwoordelik is vir die konflik wat in Februarie 2022 met Rusland se aanval begin het. – AFP
2025-12-19 14:12:57
‘Rusland sal nie aanval as hy met respek behandel word’
Pres. Wladimir Poetin het Vrydag gesê Rusland sal nie ander lande aanval indien hy “met respek” behandel word nie en het kommer van Navo-lande aan sy westelike grens oor ’n moontlike bedreiging deur Rusland afgemaak.
“Sal daar nuwe spesiale militêre operasies wees? Daar sal geen operasies wees nie as jy ons met respek behandel, as jy ons belange respekteer, net soos ons voortdurend probeer het om joune te respekteer,” het Poetin op sy jaarlikse regstreekse perskonferensie gesê. – AFP
2025-12-19 15:00:41
Noorse kroonprinses moet dalk longoorplanting ondergaan
Kroonprinses Mette-Marit (52) van Noorweë sal waarskynlik ’n longoorplanting moet ondergaan ná ’n verswakking in haar chroniese longtoestand, het die koninklike paleis Vrydag gesê.
Die prinses het in Oktober 2018 aangekondig dat ’n seldsame vorm van longfibrose, ’n ongeneeslike siekte wat letsels op die longe veroorsaak en asemnood meebring, by haar gediagnoseer is.
“Ons nader die tyd wanneer ’n longoorplanting uitgevoer moet word en ons tref die nodige voorbereidings sodat dit moontlik sal wees wanneer die tyd aanbreek,” sê prof. Are Martin Holm, hoof van pulmonêre medisyne aan Oslo se universiteitshospitaal, in ’n verklaring van die paleis. – AFP
2025-12-19 15:01:41
'Vermetele' plan oor vredesmag vir Oekraïne bedreig Rusland, sê minister
Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, het Vrydag ’n Europese voorstel gekritiseer om ’n multinasionale vredesmag te skep om enige potensiële vredesooreenkoms in Oekraïne te polisieer en dit as ’n “vermetele bedreiging” teen Rusland beskryf.
“Dit gaan nie soseer oor veiligheid as oor nog ’n poging . . . om Oekraïense grondgebied te omskep in ’n afspringplek van bedreigings teen Rusland nie,” het Lawrof gesê tydens ’n besoek aan Kaïro, Egipte. – AFP
2025-12-19 15:43:53
Rome gaan geld vra vir toegang tot wêreldbekende fontein
Toeriste sal voortaan toegangsgeld van €2 (byna R40) moet betaal om naby Rome se wêreldbekende Trevi-fontein te kom, het Roberto Gualtieri, burgemeester van Italië se hoofstad, Vrydag aangekondig.
Die fontein in ’n openbare plein wat daagliks hordes toeriste lok, sal steeds van ’n afstand gratis besigtig kan word, maar nadere toegang sal net vir kaartjiehouers wees, het Gualtieri op ’n mediakonferensie gesê. – AFP
2025-12-19 16:00:43
Byna 540 migrante op een boot naby Griekse eiland gered
Byna 540 migrante op ’n seilboot is vroeg Vrydag suid van die eiland Kreta gered, het die Griekse kuswag Vrydag gesê.
Die 539 voornemende asielsoekers is naby die klein eiland Gavdos in die Libiese See gered, sê ’n kuswagwoordvoerder. Sover die kuswag kon vasstel, was burgers van Bangladesj, Pakistan, Egipte, Eritrea, Somalië, Soedan en die Palestynse gebiede aan boord van die boot, sê die woordvoerder.
Volgens die woordvoerder is dit onduidelik uit watter hawe hulle vertrek het, maar dit was waarskynlik in Libië. – AFP
2025-12-19 16:08:05
Poetin waarsku teen EU se gebruik van bevrieste Russiese bates vir Oekraïne
Indien die Europese Unie (EU) die groen lig gee dat bevrieste Russiese bates gebruik word om Oekraïne te finansier, sal dit “ernstige gevolge” vir die EU inhou, het pres. Wladimir Poetin van Rusland Vrydag gewaarsku.
Leiers van die EU het Donderdag besluit om geld te leen om Oekraïne se verdediging teen Rusland te finansier eerder as om bevrieste Russiese bates te gebruik.
Poetin het op sy jaarlikse jaareind-mediakonferensie gesê om met die plan voort te gegaan het, sou “roof” wees en bygevoeg: “Maar waarom kan hulle nie dié rooftog uitvoer nie? Want die gevolge kan ernstig wees vir die diewe.” – AFP
2025-12-19 17:08:18
Amerika, Oekraïne en Europese lande om een tafel vir vrede
Diplomasie is in volle gang nadat die VSA Vrydag Oekraïne se Europese bondgenote uitgenooi het na nuwe samesprekings in Amerika.
Die gesprekke, deel van die VSA se diplomatieke veldtog die afgelope maand, het ten doel om die byna vier jaar lange oorlog in Oekraïne te beëindig. Oekraïne se hoofonderhandelaar, Roestem Oemerof, het bevestig Europese vennote sluit hulle nou aan by die konsultasies - 'n keerpunt nadat Amerika in November Europa geskok het met ’n voorstel wat na bewering Rusland bevoordeel. Rusland self het nog nie op die jongste plan gereageer nie, maar pres. Wladimir Poetin sê dit is nou Oekraïne en die Weste se skuif.
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Vrydag gesê gesprekke om die oorlog in Oekraïne te beëindig, gaan nie daaroor om 'n ooreenkoms op enigiemand af te dwing nie. Hy het gesê dat vordering gemaak is, maar bygevoeg dat die laaste kwessies altyd die moeilikste is. – AFP, Reuters
2025-12-19 17:09:42
Poetin op die kassie...

'n TV-skerm wys 'n regstreekse uitsending van pres. Wladimir Poetin se jaareind- nuuskonferensie in 'n woonstelgebou in Omsk, Rusland. Foto: Reuters
2025-12-19 17:18:31
Franse boere bots met regering oor beesuitwissing, handelskwessies
Die Franse regering het Vrydag gewaarsku dat nuwe padblokkades deur stakende boere gedurende die feestyd nie geduld sal word nie.
Boere in die suidweste van die land betoog al vir langer as ’n week teen die uitwissing van beeste om die verspreiding van knobbelvelsiekte, ’n virus wat harde knoppe op beeste se velle veroorsaak, te probeer stuit.
Boere is verder ontevrede oor die handelsooreenkoms tussen die Europese Unie en Mercosur, ‘n handelsblok in Suid-Amerika, bestaande uit lande soos Brasilië, Argentinië, Paraguay en Uruguay.
Mercosur fokus op vrye handel en ekonomiese samewerking tussen lidlande. Boere waarsku dat hulle nie heeltemal gaan ophou betoog as daar nie duidelike toegewings oor die beesuitwissing en internasionale handel kom nie. – AFP
2025-12-19 17:59:49
Rubio: VSA nie bekommerd oor moontlike eskalasie met Rusland oor Venezuela
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Vrydag aan joernaliste gesê die VSA is nie bekommerd oor ’n moontlike eskalasie met Rusland rakende Venezuela nie te midde van die opbou van Amerikaanse militêre magte in die Karibiese gebied.
Die Trump-administrasie het reeds duisende troepe, ’n vliegdekskip, oorlogskepe en vegvliegtuie na die streek gestuur.
“Ons verwag van Rusland om net retoriese steun aan pres. Nicolás Maduro van Venezuela te gee. Dit beïnvloed nie ons optrede nie,” het Rubio gesê.
Rusland het gewaarsku teen ’n “dodelike fout” deur Amerika en sê hy is besorg oor die land se bedreiging van internasionale seevaart.
Die VSA het onlangs optrede teen wat hy noem dwelmskepe in die streek van stapel gestuur, beslag gelê op 'n olietenkskip en ’n blokkade ingestel op alle olie-uitvoer en -invoer wat aan sanksies onderhewig is. - Reuters
2025-12-19 18:11:06
Guterres eis onmiddellike vrylating van VN-personeel in Jemen
Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het Vrydag die Hoethi-rebelle se aanhouding van nóg 10 VN-personeellede in Jemen veroordeel.
Dit bring die totaal op 69 te staan, volgens sy woordvoerder Stephane Dujarric. Die Irans-gesinde Hoethi’s hou die VN-personeel sedert Donderdag gevange, en Guterres dring aan op hul onmiddellike vrylating.
“Hierdie aanhoudings maak dit onmoontlik om lewensbelangrike humanitêre hulp in die Hoethi-beheerde gebiede te lewer en benadeel miljoene mense in nood,” het Dujarric bygevoeg.
Die VN het al herhaaldelik ontken dat sy personeel of operasies in Jemen by spioenasie betrokke is. Die Hoethi’s beheer die grootste deel van Jemen, insluitend die hoofstad Sanaa, sedert 2014. – Reuters
2025-12-19 18:23:25
Ter herinnering aan Bondi-slagoffers

‘n Lugfoto wys branderplankryers wat 'n sirkel vorm om respek te betoon vir die slagoffers van 14 Desember se massaskietery by Bondi-strand in Sydney, Australië.
Foto: Getty Images
2025-12-19 19:01:16
7 Colombiaanse soldate sterf in guerrilla-aanval – weermag
Colombia se ELN-guerrillagroep het ’n militêre basis naby die grens met Venezuela met hommeltuie en plofstof aangeval, sewe soldate doodgemaak en 30 gewond, het die weermag Vrydag gesê.
Die aanval Donderdagnag op die landelike militêre buitepos in Aguachica was die tweede dodelike botsing met veiligheidsmagte in ’n week. Twee polisiebeamptes is Dinsdag in Cali doodgemaak.
ELN, geïnspireer deur die Kubaanse rewolusie, is in 1964 gestig en is die oudste oorblywende guerrillagroep in die Amerikas. Die groep beheer kernbelangrike gebiede waar dwelms in Colombia vervaardig word.
Pogings om ’n vredesooreenkoms met die groep te onderhandel, het herhaaldelik misluk. – AFP
2025-12-19 19:02:58
Geen vrede moontlik tensy Hamas ontwapen word – Rubio
Daar kan geen vrede in die Gasastrook wees tensy Hamas ontwapen word en nie meer ’n bedreiging vir Israel inhou nie, het Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, Vrydag gesê.
“As Hamas ooit in die toekoms in ’n posisie is waar hulle Israel kan bedreig of aanval, gaan jy nie vrede hê nie,” het Rubio aan joernaliste gesê. “Dit is hoekom ontwapening so krities belangrik is.” – AFP
2025-12-19 19:43:12
Charlie Kirk se weduwee steun Vance as volgende president
Die weduwee van die vermoorde aktivis Charlie Kirk het visepres. JD Vance onderskryf as president vir 2028 en die ondersteuning beloof van die invloedryke jeugorganisasie wat haar man gestig het.
Erika Kirk het gesê sy steun die vise-president om Amerika se 48ste president te word. Charlie Kirk se organisasie, Turning Point USA, het ’n belangrike rol gespeel in die mobilisering van jong mense om in 2024 vir Donald Trump te stem.
"Ons gaan my man se vriend JD Vance verkies op die klinkendste manier moontlik," het sy op AmericaFest gesê, die eerste groot Turning Point-byeenkoms sedert Kirk vermoor is.
Vance gaan Sondag op die byeenkoms praat. Hy het nog nie sy kandidatuur vir 2028 bevestig nie, maar daar word verwag dat hy homself beskikbaar gaan stel. – AFP
2025-12-19 20:02:48
Skrywer David Walliams uitgewer kwyt ná teister-aantygings
HarperCollins UK, die uitgewer van David Walliams, ’n topverkoper- Britse kinderboekskrywer, het Vrydag bande met hom verbreek ná berigte dat Walliams sommige van die uitgewer se junior vroulike werknemers geteister het.
Die Daily Telegraph het berig dat een van die vroue wat besorgdhede oor die 54-jarige uitgespreek het, ’n uitbetaling van die uitgewer ontvang en die maatskappy verlaat het.
“Ná noukeurige oorweging … het HarperCollins UK besluit om geen nuwe boeke deur David Walliams uit te gee nie. Die skrywer is bewus van hierdie besluit,” het die uitgewer in ’n verklaring gesê.
Walliams het al meer as 60 miljoen boeke verkoop en sy boeke is in 55 tale vertaal. – Reuters
2025-12-19 20:04:06
VSA stel sanksies in teen familie, bondgenote van Maduro
Amerika het Vrydag sanksies ingestel teen familielede en bondgenote van pres. Nicolás Maduro van Venezuela en sy vrou.
Die Amerikaanse departement van finansies het in ’n verklaring gesê sanksies is ingestel teen sewe mense wat “Nicolás Maduro se skelm narkostaat ondersteun”.
“Ons sal nie toelaat dat Venezuela ons nasie oorstroom met dodelike dwelms nie,” het Scott Bessent, minister van finasies, in die verklaring gesê.
“Maduro en sy misdadige medepligtiges bedreig ons … vrede en stabiliteit. Die Trump-administrasie sal voortgaan om die netwerke te teiken wat sy onwettige diktatuur ondersteun.” – Reuters















