2025-12-22 03:45:49
Naweek se gesprekke oor Oekraïne ‘produktief’
Die gesprekke wat die afgelope drie dae tussen Amerikaanse, Europese en Oekraïense amptenare in Florida gehou is, was produktief, volgens Steve Witkoff, Amerikaanse gesant.
Nadat hulle Saterdag met Russiese amptenare vergader het, het Witkoff en Jared Kushner, ook ’n Amerikaanse gesant, Sondag met amptenare van Oekraïne en Europa vergader en toe afsonderlik met die Oekraïense afvaardiging.
Witkoff het in ’n inskrywing op sosiale media Sondag se gesprekke as “produktief en konstruktief” bestempel en gesê dit het gefokus op ’n “gedeelde strategiese benadering tussen Oekraïne, Amerika en Europa”. – Reuters
2025-12-22 03:57:15
Foto van Trump in Epstein-lêers uitgereik ná hersiening
’n Foto van pres. Donald Trump wat uit die versameling van Jeffrey Epstein-lêers verwyder is, is Sondag weer bygevoeg nadat amptenare vasgestel het dat geeneen van Epstein se slagoffers in die beeld is nie.
Die foto, wat ’n lessenaar met ’n oop laai wys wat ’n foto van Trump saam met verskeie vroue bevat, is deur die suidelike distrik van New York geoormerk vir hersiening om potensiële slagoffers te beskerm.
Die foto is sonder enige verandering of redigering herplaas, het die departement van justisie gesê.
Die departement het Vrydag duisende dokumente openbaar gemaak van ondersoeke na Epstein, veroordeelde seksoortreder. – Reuters
2025-12-22 04:08:55
Oorblywende ontvoerde Nigeriese skoolkinders vrygelaat
Die oorblywende 130 Nigeriese skoolkinders wat in November by ’n Katolieke skool in die deelstaat Niger ontvoer is, is vrygelaat.
“Hulle sal na verwagting Maandag weer by hul ouers aansluit,” het Bayo Onanuga, woordvoerder van die president, gesê.
“Die vrylating van die skoolkinders het gevolg op ’n militêre intelligensie-gedrewe operasie.
”Die kinders was onder die meer as 300 leerlinge en 12 personeellede wat in die vroeë oggendure van 21 November deur gewapende mans gevange geneem is.
Vyftig van die kinders het kort daarna daarin geslaag om te ontsnap.
Altesaam 100 leerlinge is op 8 Desember gered. – Reuters
2025-12-22 04:26:50
Akteur van 'The Wire' oorlede
Die Amerikaanse akteur James Ransone (46), veral bekend vir sy rol as die dwelmhandelaar Ziggy Sobotka in die Amerikaanse misdaaddrama The Wire, is oorlede, het amptenare Sondag gesê.
Volgens die kantoor van die lykskouer van die Los Angeles-distrik het Ransone homself om die lewe gebring. Ransone is in Baltimore, Maryland, gebore.
Baltimore was die hooffokus van The Wire in die vroeë 2000’s en die TV-reeks het gehandel oor polisiebeamptes en die dwelmhandelaars wat hulle ondersoek het. – AFP

James Ransone Foto: Getty Images/FilmMagic
2025-12-22 04:33:17
16 dood in busongeluk in Indonesië
Minstens 16 mense is dood toe ’n bus Maandagoggend vroeg teen ’n versperring op ’n Indonesiese snelweg vasgery en omgeslaan het.
Die bus, wat vanaf die hoofstad, Djakarta, na Jogiakarta op pad was, het teen ’n “redelik hoë” spoed gery toe dit ’n draai by ’n snelwegwisselaar bereik het, het die hoof van die plaaslike soek-en-reddingsagentskap gesê.
Altesaam 34 mense is gered. Die omvang van hul beserings is nie aangedui nie. – AFP
2025-12-22 05:01:11
Amerikaanse kuswag op spoor van 'gesanksioneerde tenkskip'
Die Amerikaanse kuswag het Sondag nog ’n beweerde gesanksioneerde tenkskip agternagesit, het ’n Amerikaanse amptenaa gesê.
Die “aktiewe agtervolging” in die Karibiese See het plaasgevind ’n dag nadat die kuswag die tweede vaartuig in twee weke in die see by Venezuela in beslag geneem het.
Pres. Donald Trump het op 16 Desember ’n blokkade van “gesanksioneerde olieskepe” aangekondig wat na en vanaf Venezuela vaar. – AFP
2025-12-22 05:02:05
Minstens 12 lyke binne 3 dae in Guatemala gevind
Minstens 12 lyke is binne drie dae in ’n beboste gebied in die buitewyke van die stad Guatemala in Guatemala gevind.
Hans Lemus, woordvoerder van die brandweer, het Sondag gesê twee lyke is Vrydag gevind en Saterdag is drie lyke en ’n menslike skelet gevind.
Sondag het die owerhede met die hulp van soekhonde die oorskot van nog ses mense en lyke wat in lakens en plastieksakke toegedraai is, opgespoor.
Die owerhede het gesê die moorde kan verbind word met bendes wat oor grondgebied baklei. – AFP
2025-12-22 05:03:32
Israeliese minister doen beroep op Jode om na Israel te verhuis
Gideon Sa’ar, Israeliese minister van buitelandse sake, het Sondag ’n beroep gedoen op Jode in Westerse lande om na Israel te verhuis om aan toenemende antisemitisme te ontsnap.
“Jode het die reg om oral in veiligheid te leef. Maar ons sien en verstaan ten volle wat gebeur en ons het ’n sekere historiese ervaring. Vandag word Jode oor die wêreld heen gejag,” het Sa’ar gesê.
“Vandag doen ek ’n beroep op Jode in Engeland, Frankryk, Australië, Kanada, België: Kom na die land van Israel! Kom huis toe!” – AFP
2025-12-22 06:02:47
19 nuwe nedersettings in besette Wesoewer goedgekeur
Israel het die vestiging van 19 nuwe nedersettings in die besette Wesoewer goedgekeur.
Volgens Bezalel Smotrich, Israeliese minister van finansies, is die stap daarop gemik om die vestiging van ’n Palestynse staat te voorkom.
Die besluit, wat deur die veiligheidskabinet geneem is, bring die totale aantal nedersettings wat oor die afgelope drie jaar goedgekeur is, op 69 te staan.
Dit kom dae nadat die Verenigde Nasies gesê het die uitbreiding van Israeliese nedersettings in die Wesoewer, wat almal onwettig is kragtens internasionale reg, het die hoogste vlak sedert 2017 bereik. – AFP
2025-12-22 07:12:30
Russiese generaal sterf toe motorbom ontplof
’n Russiese generaal is Maandag in die suide van Moskou dood toe ’n bom onder sy motor ontplof het, het Russiese ondersoekbeamptes gesê.
Die beamptes vermoed dat Oekraïense spesiale magte agter die aanval kan wees.
Die bom het onder die Kia Sorento-motor ontplof wat bestuur is deur lt.genl. Fanil Sarwarof, hoof van die Russiese generale staf se direktoraat vir operasionele opleiding van die weermag, toe hy om 06:55 plaaslike tyd ’n parkeerplek verlaat het. – Reuters

Die toneel in Moskou, Rusland, waar ’n Russiese generaal Maandag dood is toe ’n motorbom ontplof het. Foto: AFP/Russiese ondersoekkomitee
2025-12-22 07:33:48
Wêreld se grootste kernkragsentrale in Japan gaan bedrywighede hervat
Japan het Maandag met ’n streekstemming die laaste stap gedoen om die wêreld se grootste kernkragsentrale toe te laat om bedrywighede te hervat.
Dit volg byna 15 jaar ná ’n ramp by die Foekoesjima-kernkragsentrale toe ’n reuse-aardbewing en tsoenami die gebied in Maart 2011 getref het.
Die Kasjiwazaki-Kariwaka-kernkragsentrale, wat ongeveer 220 km noordwes van Tokio is, was een van 54 reaktors wat ná die ramp gesluit is.
Kasjiwazaki-Kariwa sal bedryf word deur Tokyo Electric Power Co (Tepco), wat destyds die Foekoesjima-kernkragaanleg bedryf het. – Reuters
2025-12-22 07:41:18
Boeing van Air India draai om weens daling in oliedruk
’n Boeing 777-vliegtuig van Air India moes omdraai nadat ’n daling in oliedruk die vlieëniers gedwing het om een van die straler se enjins af te skakel, het Indië se lugvaartreguleerder Maandag gesê.
Die vliegtuig, wat na Mumbai onderweg was, het veilig in Delhi geland en die voorval sal ondersoek word.
Moderne vliegtuie is ontwerp om veilig te vlieg en te land met ’n enkele enjin, indien nodig.
Air India het vanjaar onder die loep gekom ná die neerstorting van ’n Boeing Dreamliner op 12 Junie waarin 260 mense dood is. – Reuters
2025-12-22 08:00:48
Albanese vra Joodse gemeenskap in Australië om verskoning
Anthony Albanese, premier van Australië, het Maandag die land se Joodse gemeenskap om verskoning gevra ná die massaskietery op ’n Hanukkah-feesviering waarin 15 mense dood is.
“As premier voel ek die gewig van verantwoordelikheid vir ’n gruweldaad wat plaasgevind het terwyl ek premier is. Ek is jammer oor wat die Joodse gemeenskap en ons nasie as geheel ervaar het.
“Die regering sal elke dag werk om Joodse Australiërs te beskerm, om hul fundamentele reg as Australiërs te beskerm om trots te wees op wie hulle is en om hul geloof te beoefen.” – AFP
2025-12-22 08:43:37
Somalië ontplooi veiligheidspersoneel voor seldsame verkiesing Donderdag
Somalië sal meer as 10 000 veiligheidspersoneel in die hoofstad, Mogadisjoe, ontplooi vir Donderdag se verkiesing, het die minister van veiligheid Sondag gesê.
Die land sukkel om aan die dekades lange konflik en chaos te ontsnap, en voer ’n stryd teen ’n bloedige Islamitiese opstand en gereelde natuurrampe.
In April het Somalië vir die eerste keer in dekades kieserregistrasie van stapel gestuur.
Dit is ’n stap in die rigting van algemene stemreg en ’n einde aan die komplekse stemstelsel wat sedert 1969 gebruik word.
Die verkiesing sal die eerste direkte verkiesing in byna 60 jaar wees. – AFP
2025-12-22 09:28:57
China vaar uit teen Amerika se optrede in internasionale waters
China het Maandag gesê Amerika se beslaglegging op ’n ander land se skepe is ’n ernstige skending van internasionale reg.
Venezuela het die reg om betrekkinge met ander lande te ontwikkel, het Lin Jian, woordvoerder van China se ministerie van buitelandse sake, gesê en dat China alle “eensydige en onwettige” sanksies teenstaan.
Die Amerikaanse kuswag het Saterdag ’n tweede olietenkskep in internasionale waters langs die Venezolaanse kus onderskep.
Dit volg dae nadat pres. Donald Trump ’n “blokkade” aangekondig het van alle gesanksioneerde olietenkskepe wat Venezuela binnekom en verlaat. – Reuters
2025-12-22 09:35:19
Israel sloop woongebou in Oos-Jerusalem
Israel het Maandag ’n woongebou van vier verdiepings in Oos-Jerusalem gesloop en tientalle Palestyne dakloos gelaat.
Die gebou, wat in die Silwan-woonbuurt naby die Ou Stad geleë was, het bestaan uit 12 woonstelle wat ongeveer 100 mense gehuisves het.
Dit was die jongste in ’n reeks geboue wat gesloop is as deel van Israeliese amptenare se aanslag op wat hulle noem ongemagtigde strukture in die geannekseerde Oos-Jerusalem. – AFP
2025-12-22 09:51:03
Denemarke waarsku VSA ná Trump Groenland-gesant aanwys
Denemarke het Amerika Maandag gewaarsku om sy soewereiniteit te respekteer nadat pres. Donald Trump ’n spesiale gesant vir Groenland, die Deense outonome gebied wat Trump wil annekseer, aangewys het.
Trump het al herhaaldelik gesê dat Amerika Groenland om veiligheidsredes benodig.
Trump het Jeff Landry, goewerneur van Louisiana, as die gesant aangewys.
“Jeff verstaan hoe noodsaaklik Groenland vir ons nasionale veiligheid is,” het Trump gesê.
“Die aanstelling bevestig die voortgesette Amerikaanse belangstelling in Groenland,” het Lars Lokke Rasmussen, Deense minister van buitelandse sake, gesê.
“Ons dring egter daarop aan dat almal, insluitend Amerika, respek moet toon vir die territoriale integriteit van die Koninkryk van Denemarke.” – AFP
2025-12-22 10:51:34
Denemarke gaan VSA-ambassadeur ontbied oor Groenland-gesant
Denemarke gaan die Amerikaanse ambassadeur ontbied nadat pres. Donald Trump aangekondig het dat hy ’n spesiale gesant vir Groenland, ’n outonome Deense gebied wat hy gedreig het om te annekseer, aangestel het.
“Ek is diep verontrus oor die aanstelling en die verklaring (van Trump), wat ek heeltemal onaanvaarbaar vind,” het Lars Lokke Rasmussen, Deense minister van buitelandse sake, in ’n televisieonderhoud gesê.
Hy het bygevoeg dat Dennemarke die Amerikaanse ambassadeur in die komende dae sal ontbied “om ’n verduideliking te kry”. – AFP
2025-12-22 13:08:11
3 dood in Israeliese aanval op voertuig in Libanon
Libanese staatsmedia sê drie mense is dood in ’n Israeliese aanval Maandag naby die suidelike stad Sidon.
Israeliese owerhede het op hul beurt aangevoer hulle het Hezbollah-operateurs geteiken.
Die staatsbeheerde Nasionale Nuusagentskap het gesê ’n Israeliese hommeltuig het ’n voertuig langs ’n pad sowat 10 km vanaf die kusstad Sidon geteiken en “drie insittendes is dood”.
’n Israeliese militêre verklaring lui die weermag het “verskeie Hezbollah-terroriste in die area van Sidon aangeval”. – AFP
2025-12-22 13:11:54
Indonesië verban Britse porno-ster vir 10 jaar
Indonesië het die Britse porno-ster Bonnie Blue vir 10 jaar toegang tot die land verbied, het immigrasiebeamptes Maandag gesê ná haar deportasie oor die produksie van inhoud wat “openbare onrus” kan veroorsaak.
Die 26-jarige, wie se regte naam Tia Billinger is, is vroeër die maand gedeporteer nadat polisie ’n ateljee in Badung, ’n gewilde toeristegebied naby Bali se provinsiale hoofstad, Denpasar, deurgesoek het.
Sy is saam met twee Britse mans en ’n Australiese man aangehou op vermoede dat hulle pornografiese inhoud vervaardig het. – AFP
2025-12-22 14:00:15
Guerillagroep ontvoer 18 Colombiaanse soldate
18 Colombiaanse soldate is ontvoer terwyl hulle ’n operasie teen die ELN-guerrillagroep uitgevoer het, het Pedro Sánchez, minister van verdediging, gesê.
Die soldate is omsingel deur “byna 200 mense en met geweld en teen hul wil na ’n inheemse reservaat geneem” in die noordweste van die land, naby die grens met Panama, het Sánchez in ’n plasing op X gesê.
Die ELN, oftewel Nasionale Bevrydingsleër, wat in 1964 gestig is en geïnspireer is deur die Kubaanse rewolusie, is die oudste oorlewende guerrillagroep in die Amerikas.
Die groep beheer belangrike dwelmproduserende streke van die land. – AFP
2025-12-22 14:01:55
‘Intelligensieverslae sê Poetin se oorlogdoelwitte is onveranderd’
Amerikaanse intelligensieverslae waarsku steeds dat pres. Wladimir Poetin van Rusland nie sy doelwitte laat vaar het om die hele Oekraïne te verower en dele van Europa, wat aan die voormalige Sowjetunie behoort het, terug te eis nie, volgens ses bronne in die Amerikaanse intelligensiegemeenskap.
Dit kom ondanks vredesonderhandelaars se pogings om die oorlog in Oekraïne te beëindig op terme wat Rusland met baie minder grondgebied sal laat.
Die verslae skets ’n heel ander prentjie as dié wat deur pres. Donald Trump en sy Oekraïne-vredesonderhandelaars voorgehou word, wat gesê het Poetin wil die konflik beëindig.
Die verslae weerspreek ook die Russiese leier se ontkennings dat hy ’n bedreiging vir Europa inhou. – Reuters
2025-12-22 15:01:29
‘Stadige vordering’ in gesprekke met VSA oor Oekraïne – Rusland
Rusland het Maandag ná gesprekke die naweek in Miami wat nie dooiepunte kon oplos nie, gesê daar is “stadige vordering” in gesprekke met Amerika oor ’n plan om die oorlog in Oekraïne te beëindig.
“Stadige vordering word waargeneem,” het Russiese staatsmedia Sergei Riabkof, die adjunkminister van buitelandse sake, aangehaal nadat sowel Rusland as Oekraïne onderhandelaars na die stad in Florida gestuur het vir afsonderlike gesprekke met pres. Donald Trump se gesante, Steve Witkoff en Jared Kushner. – AFP
2025-12-22 15:02:10
VSA verdriedubbel aanbod aan migrante om te self-deporteer
Die Trump-administrasie het sy toelae aan migrante wat kies om vrywillig uit Amerika te “self-deporteer” verdriedubbel tot $3 000, het die departement van binnelandse veiligheid Maandag gesê.
Die toelae sal gegee word aan mense wat onwettig in Amerika is en self besluit om die land teen die einde van die jaar te verlaat, het die departement gesê. Die aanbod sluit ’n gratis vlug terug na hul geboorteland in.
“Onwettige immigrante moet hierdie geskenk benut en self-deporteer, want as hulle dit nie doen nie, sal ons hulle vind, ons sal hulle arresteer, en hulle sal nooit terugkeer nie,” het Kristi Noem, minister van binnelandse veiligheid, in ’n verklaring gesê. – Reuters
2025-12-22 15:42:42
Britse sanger Chris Rea (74) sterf, sê familie
Die Britse sanger Chris Rea, bekend om liedjies soos “On the Beach” en “Auberge”, is in die ouderdom van 74 jaar oorlede, het ’n familiewoordvoerder Maandag aan die Britse media gesê.
“Die sanger-liedjieskrywer en kitaarspeler Chris Rea is vroeër vandag in die hospitaal oorlede ná ’n kort siekte,” het die familie in ’n verklaring gesê, volgens die Britse Press Association-nuusagentskap. – AFP
2025-12-22 16:03:30
Nigerië sê ‘diplomatieke geskil’ met VSA ‘grootliks opgelos’
Die Nigeriese regering het Maandag gesê sy onlangse diplomatieke geskil met Amerika, waarin pres. Donald Trump met militêre ingryping gedreig het oor beweerde massamoord op Christene, “is grootliks opgelos”.
“Die onlangse diplomatieke geskil met Amerika is grootliks opgelos deur ’n ferm, respekvolle betrokkenheid wat gelei het tot ’n beter vennootskap tussen Amerika en Nigerië,” het Nigerië se minister van inligting, Mohammed Idris, gesê. – AFP
2025-12-22 16:04:49
Finland verhoog weermag-reserviste se ouderdom tot 65
Finland het Maandag aangekondig dat dit volgende jaar die ouderdom van militêre reserviste van 60 tot 65 sal verhoog om die land se militêre paraatheid teen enige bedreiging van die naburige Rusland te versterk.
Antti Hakkanen, die minister van verdediging, het gesê die hervorming, wat op 1 Januarie in werking tree nadat dit deur die president onderteken is, sal oor vyf jaar ’n toename van sowat 125 000 reserviste tot gevolg hê.
“Die getal Finse reserviste sal teen 2031 rondom een miljoen wees,” het Hakkanen in ’n verklaring gesê.
Finland, wat ’n bevolking van 5,6 miljoen het, se reserwemag bestaan uit sowat 900 000 burgers. Diensplig is verpligtend vir alle Finse mans wanneer hulle 18 word, en vrywillig vir vroue. – AFP
2025-12-22 17:00:20
Rusland beloof 'volle steun' teen VSA se 'vyandigheid' – Venezuela
Yván Gil Pinto, Venezuela se minister van buitelandse sake, het Maandag gesê Rusland het sy "volle steun" aan die Suid-Amerikaanse land uitgespreek terwyl hy ’n blokkade van olietenkskepe deur Amerikaanse magte in die Karibiese See die hoof probeer bied.
Sergei Lawrof, die Russiese minister van buitelandse sake, "het Rusland se ferm solidariteit met die mense van Venezuela en met pres. Nicolas Maduro Moros uitgespreek, en sy volle steun herbevestig teen die vyandigheid teen ons land," het Pinto op Telegram gesê ná ’n telefoongesprek met sy Russiese eweknie. – AFP
2025-12-22 17:01:23
Sri Lanka-sikloon veroorsaak $4,1 mjd. se skade – Wêreldbank
Die sikloon Ditwah, wat Sri Lanka verlede maand getref het, het na raming $4,1 miljard in regstreekse fisieke skade aan geboue, die landbou en kritieke infrastruktuur veroorsaak, luidens ’n Wêreldbank-verslag wat Maandag uitgereik is.
Meer as 640 mense het in die natuurramp gesterf en meer as 10% van Sri Lanka se bevolking is geraak. Die totale geskatte skade is gelykstaande aan sowat 4% van Sri Lanka se bruto binnelandse produk.
Volgens die Wêreldbank verteenwoordig infrastruktuur, insluitend paaie, brûe, spoorweë en waternetwerke, die meeste van die skade. – AFP
2025-12-22 18:05:34
VSA-powerball-boerpot op $1,6 mjd.; 4de grootste in geskiedenis
Die Amerikaanse Powerball-boerpot het staan op sowat $1,6 miljard (sowat R27 miljard) voor Dinsdagoggend vroeg se trekking.
Die boerpot is die vierde grootste in Powerball-geskiedenis en die vyfde grootste onder Amerikaanse loteryboerpotte. Die grootste Powerball-boerpot nog was $2,04 miljard, wat in 2022 in Kalifornië gewen is.
Die kans om die boerpot te wen is 1 uit 292,2 miljoen.– Reuters
2025-12-22 18:14:42
Banksy onthul sy jongste muurskildery in Londen
Die Britse straatkunstenaar Banksy het Maandag sy jongste werk in Sentraal-Londen onthul te midde van bespiegelings dat ’n identiese tweede werk elders in die stad ook sy werk is.
Die swart-wit-muurskildery, geskilder op die kant van ’n ou gebou in Bayswater, is van twee mense, waarskynlik kinders, met musse en stewels wat lê en opkyk en wys na die lug.
Banksy, wie se ware identiteit steeds ’n raaisel is, het Maandag ’n foto van die werk op sy amptelike Instagram-rekening geplaas.
’n Amper identiese kunswerk het ook ’n paar kilometer verder in die Tottenham Court Road-gebied verskyn. – AFP

’n Vrou neem Maandag ’n foto van die straatkunstenaar Banksy se jongste muuskildery in Bayswater, Londen. Foto: AFP

Voetgangers stap Maandag verby ’n muurskildery in die Tottenham Court Road-gebied van Londen wat moontlik ook deur die straatkunstenaar Banksy geskep is. Foto: AFP
2025-12-22 19:02:30
6 Britse mans aangekla van meer as 60 seksuele oortredings teen vrou
Ses mans, onder wie die vrou se voormalige man, is aangekla van meer as 60 seksuele oortredings teen haar tussen 2010 en 2023, het aanklaers Maandag gesê.
Philip Young (49) van Swindon, Engeland, staan tereg op 56 aanklagte, onder meer verskeie van verkragting, die toedien van ’n middel met die doel om iemand te bedwelm om seksuele aktiwiteit moontlik te maak en voyeurisme. Hy is ook aangekla van die besit van onwelvoeglike beelde van kinders en ander ekstreme beelde. Hy bly in aanhouding totdat hy Dinsdag in die hof verskyn.
Vyf ander mans tussen die ouderdomme van 31 en 61 staan tereg op aanklagte van onder meer verkragting, seksuele aanranding en seksuele aanraking in dieselfde tydperk. – Reuters, AFP
2025-12-22 19:03:28
Longkanker is by hom gediagnoseer, sê sanger Barry Manilow
Die Amerikaanse sanger-liedjieskrywer Barry Manilow (82) het Maandag op Instagram aangekondig longkanker is by hom gediagnoseer.
Dit het hom genoop om sy geskeduleerde konserte te staak terwyl hy ’n operasie ondergaan.
“Soos baie van julle weet, het ek onlangs ses weke brongitis gehad, gevolg deur ’n herhaling van nog vyf weke,” skryf die Grammy-wenner in ’n verklaring op Instagram.
“Hoewel ek weer gesond en terug op die verhoog was . . . het my dokter ’n MRI (magnetiese resonansiebeelding) versoek net om seker te maak alles is in orde. Die MRI het ’n kankergewas op my linkerlong ontdek, wat verwyder moet word,” sê hy.
Manilow verwag om teen Februarie beter te voel, aangesien sy behandeling nie bestraling of chemoterapie vereis nie. – Reuters
2025-12-22 20:01:41
Netanyahu belowe onafhanklike ondersoek na aanval op 7 Oktober
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het Maandag ’n regeringsbesluit geloof om ’n kommissie van ondersoek in te stel na die aanval op 7 Oktober 2023 en die publiek verseker daar sal geen politieke inmenging wees nie.
“Dit sal ’n gebalanseerde kommissie wees om die gebeure van 7 Oktober en die omstandighede wat daartoe gelei het, te ondersoek,” sê Netanyahu in ’n videoverklaring.
Hy sê politici sal nie op die kommissie dien nie en die lede van die kommissie sal gelykop bepaal word deur die regerende koalisie en die opposisie. – AFP
2025-12-22 20:02:37
Brian May onthul Queen-liedjie van 1974-album wat nooit uitgereik is
Brian May, kitaarspeler van die musiekgroep Queen, het Maandag ’n liedjie van die groep onthul wat nooit uitgereik is en “niemand nog ooit gehoor het nie”.
Die snit – formeel genaamd “Not for Sale (Polar Bear)” – is oorspronklik opgeneem vir Queen se 1974-album, Queen II, maar het nie die finale weergawe gehaal nie. Dis vir die eerste keer uitgesaai aan die einde van ’n uur lange radioprogram wat deur May op Planet Rock-radio aangebied is en bevat wat klink na die kenmerkende stem van die oorlede voorsanger Freddie Mercury.
May sê dit was ’n eksperimentele liedjie toe dit oorspronklik in die vroeë 1970’s opgeneem is. – AFP
2025-12-23 03:51:20
Trump onthul planne vir 'Trump-klas’-slagskepe
Pres. Donald Trump het Maandag planne aangekondig vir ’n nuwe “Trump-klas”-slagskepe, wat die begin van ’n uitgebreide vlootopbou aandui.
Trump het gesê die nuwe slagskepe sal groter, vinniger en “100 keer kragtiger” wees as enige wat voorheen gebou is.
Die skepe sal die middelpunt vorm van wat hy ’n uitgebreide “Golden Fleet” noem, wat daarop gemik is om die oorheersing van die Amerikaanse vloot te verstewig.
Die program sal met twee skepe begin en sal na verwagting tot tussen 20 en 25 skepe groei. – Reuters
2025-12-23 04:09:31
Sal slim wees vir Maduro om mag prys te gee, sê Trump
Pres. Donald Trump het Maandag gesê dit sal slim wees vir pres. Nicolás Maduro van Venezuela om mag prys te gee.
Trump se veldtog teen Maduro sluit in ’n verskerpte militêre teenwoordigheid in die streek en tientalle militêre aanvalle op skepe wat na bewering dwelms in die Stille Oseaan en Karibiese See naby Venezuela smokkel.
Toe hy gevra is of die doel was om Maduro uit sy amp te dwing, het Trump aan verslaggewers gesê: “Wat hy wil doen, is sy besluit. Ek dink dit sal slim wees vir hom om dit te doen. Maar weer eens, ons gaan uitvind.
“As hy taai speel, sal dit die laaste keer wees dat hy ooit taai sal speel.” – Reuters

Pres. Nicolás Maduro van Venezuela. Foto: Getty Images
2025-12-23 04:19:47
Novo Nordisk se gewigsverliespil goedgekeur
Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie het Maandag Novo Nordisk se gewigsverliespil goedgekeur.
Dit gee die Deense medisynevervaardiger ’n voorsprong in die wedloop om ’n kragtige orale medikasie vir gewigsverlies te bemark.
Die pil bevat 25 milligram semaglutied, dieselfde aktiewe bestanddeel as in inspuitbare Wegovy en Ozempic, en sal onder die handelsnaam Wegovy verkoop word.
Novo Nordisk verkoop reeds Rybelsus, ’n orale semaglutied vir tipe 2-diabetes. – Reuters
2025-12-23 04:50:22
Frankryk druk vir noodbegrotingswet om staatsluiting te voorkom
Frankryk se regering sal druk op wetgewers plaas om noodwetgewing goed te keur om die staat tot Januarie aan die gang te hou nadat hulle nie oor ’n 2026-begroting kon ooreenkom nie.
Maud Bregeon, regeringswoordvoerder, het Maandag gesê die spesiale wet is daarop gemik om finale onderhandelinge oor die begroting ’n kans te gee.
’n Gesamentlike komitee van wetgewers van albei huise van die parlement het Vrydag misluk met pogings om ’n volledige 2026-begrotingswetsontwerp op te stel.
Dit het Sébastien Lecornu, premier van Frankryk, gedwing om hom tot hierdie tydelike maatreël te wend om besteding, belastinginvordering en lenings tot Januarie te verleng. – Reuters
2025-12-23 05:04:38
Amazon blokkeer meer as 1 800 werkaansoeke van N-Koreane
Die Amerikaanse tegnologiereus Amazon sê hy het meer as 1 800 Noord-Koreane geblokkeer om by die maatskappy aan te sluit.
Dit kom terwyl Noord-Korea groot getalle internettegnologiewerkers oorsee stuur om geld te verdien en vir geldwassery.
Stephen Schmidt, hoofveiligheidsbeampte van Amazon, het verlede week gesê Noord-Koreaanse werkers het “probeer om afstand-IT-poste by maatskappye wêreldwyd te bekom, veral in Amerika”. – AFP
2025-12-23 05:19:58
Medeskepper van 'Call of Duty' sterf
Vince Zampella (55), die bekroonde medeskepper van die videospeletjie-reeks Call of Duty, is in ’n motorongeluk dood, het die maatskappy Electronic Arts Maandag bekend gemaak.
Die ontwikkelaar en uitvoerende beampte is Sondag dood toe hy sy Ferrari op ’n pad noord van Los Angeles bestuur het.
“Om onbekende redes het die voertuig van die pad af gedraai, ’n betonversperring getref en in vlamme uitgebars,” het Kalifornië se hoofwegpatrollie in ’n verklaring gesê sonder om die twee slagoffers in die ongeluk te identifiseer.
Zampella se ateljees het van die wêreld se topverkoper-videospeletjies vervaardig. Dit sluit in Call of Duty, wat reeds in 2003 uitgereik is en steeds 100 miljoen aktiewe spelers maandeliks het. – AFP

Vince Zampella Foto: Getty Images/Variety
2025-12-23 05:25:22
5 dood toe Mexikaanse vlootvliegtuig neerstort
Minstens vyf mense is dood toe ’n Mexikaanse vlootvliegtuig in die waters van die Amerikaanse deelstaat Texas neergestort het terwyl dit ’n mediese oorplasing uitgevoer het.
Agt mense was aan boord van die vliegtuig, wat op ’n humanitêre sending was, het die Mexikaanse vloot in ’n verklaring gesê.
Twee mense het die ongeluk oorleef terwyl vyf ander dood is. Een persoon word steeds vermis ten spyte van soekpogings deur die Amerikaanse kuswag.
Die ongeluk het plaasgevind terwyl die vliegtuig Galveston in Texas genader het. – AFP
2025-12-23 06:01:03
Maduro kap terug teen Trump
Pres. Nicolás Maduro van Venezuela het Maandag teruggekap teen pres. Donald Trump, wat Amerikaanse vlootmagte beveel het om Venezuela se olietenkskepe te onderskep.
Volgens Maduro moet Trump eerder fokus op Amerika as om Venezuela te dreig.
“Hy sal beter daaraan toe wees in sy eie land wat ekonomiese en maatskaplike kwessies betref en hy sal beter daaraan toe wees in die wêreld as hy na sy land se sake omsien,” het Maduro gesê in ’n toespraak wat op televisie uitgesaai is. – AFP
2025-12-23 06:02:10
11 soldate in Ecuador gevonnis weens dood van 4 kinders
Elf soldate is in Ecuador tot byna 35 jaar tronkstraf gevonnis vir die ontvoering en dood van vier kinders verlede jaar, het aanklaers Maandag gesê.
Die kinders, wat tussen 11 en 15 jaar oud was, het sokker gaan speel in die geweldgeteisterde hawestad Guayaquil voordat hulle deur die Ecuadoriaanse lugmag aangehou is.
Hul verbrande lyke is op Oukersaand gevind, met skietwonde aan hul koppe en tekens van marteling.
Al 11 soldate is tot 34 jaar en agt maande tronkstraf gevonnis vir die misdaad van "gedwonge verdwyning". – AFP
2025-12-23 06:41:43
Pole ontplooi vliegtuie ná Russiese aanvalle op Oekraïne
Poolse en geallieerde vliegtuie is Dinsdag vroeg ontplooi om die veiligheid van die Poolse lugruim te verseker nadat Rusland lugaanvalle op die weste van Oekraïne naby die grens met Pole geloods het.
“Vegvliegtuie is ontplooi en lugverdediging- en radarstelsels op die grond is op 'n verhoogde gereedheid geplaas,” het die Poolse operasionele bevel van die gewapende magte gesê.
“Hierdie maatreëls is voorkomend van aard en is daarop gemik om die lugruim te beveilig en te beskerm, veral in gebiede aangrensend aan die bedreigde streke.” – AFP
2025-12-23 07:42:20
Trump het steeds oog op Groenland
Pres. Donald Trump het Maandag herhaal Amerika benodig Groenland vir sy nasionale veiligheid en het gesê Jeff Landry, goewerneur van Louisiana wat hy as spesiale gesant in Groenland aangewys het, sal “die aanslag lei”.
“As jy na Groenland kyk, op en af langs die kus, is daar Russiese en Chinese skepe oral. Ons het dit nodig vir nasionale veiligheid. Ons moet dit hê,” het Trump gesê.
“Jy kan nie ’n ander land annekseer nie. Nie eens met ’n argument oor internasionale veiligheid nie,” het Mette Frederiksen, premier van Denemarke, onder meer gesê. – Reuters
2025-12-23 07:49:09
Russiese aanvalle lei tot kragonderbrekings in Oekraïne
Kragonderbrekings is Dinsdag in verskeie Oekraïense streke ondervind te midde van ysige winterweer nadat Rusland ’n aanval met hommeltuie en missiele van stapel gestuur het.
“Rusland val weer eens ons energie-infrastruktuur aan. Gevolglik is noodkragonderbrekings in ’n aantal Oekraïense streke ingestel,” het die ministerie van energie op Telegram gesê.
Brande het in verskeie streke uitgebreek terwyl die kwik in die grootste deel van die land tot vriespunt geval het.
Minstens twee mense is dood en verskeie mense beseer in die aanvalle. – AFP
2025-12-23 08:23:09
Premier van Soedan vra VN se steun vir vredesplan
Kamil Idris, premier van Soedan, het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad Maandag versoek om “aan die regte kant van die geskiedenis” te staan deur ’n vredesplan vir die land te steun wat ’n skietstilstand en globale monitering van die konflik vereis.
Die Soedannese weermag is sedert April 2023 in ’n oorlog gewikkel met die Blitsondersteuningsmag (RSF).
Tienduisende mense is dood en miljoene mense ontheem.
Benewens sy oproep om ondersteuning van ’n skietstilstand en internasionale monitering, het Idris belowe om vrye verkiesings te reël ná ’n oorgangstydperk. – AFP

Kamil Idris, premier van Soedan. Foto: Getty Images
2025-12-23 08:30:32
5 dood in aanval op polisiebeamptes in Pakistan
Vyf Pakistanse polisiebeamptes is Dinsdag dood toe hul voertuig in ’n lokval gelei is.
Die voorval het in die Khyber Pakhtunkhwa-provinsie in die noordweste van die land plaasgevind.
Die voertuig is eers met geïmproviseerde plofstof geteiken voordat die aanvallers losgebrand het, wat vier beamptes en die bestuurder se lewe geëis het, het die provinsiale polisie gesê.
Geen groep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.
Pakistan gaan gebuk onder ’n oplewing in militantegeweld. – Reuters
2025-12-23 08:37:49
2 mynwerkers in Pole dood weens metaan-lekkasie
Twee mynwerkers is weens ’n metaan-lekkasie by ’n myn in Pole dood.
Die ongeluk het Maandagmiddag by die Pniówek-steenkoolmyn in Suid-Pole gebeur, het die operateur Jastrzebska Spólka Weglowa (JSW) Dinsdag gesê.
Die twee “baie ervare” mynwerkers was 830 m onder die grond, het JSW gesê.
Agt werkers is gered.
Veertien mynwerkers en nooddienswerkers is in April 2022 by dieselfde myn in ’n metaangasontploffing dood. – AFP
2025-12-23 09:28:34
Mianmar se junta intimideer mense om te stem, sê VN
Die Verenigde Nasies (VN) sê Mianmar se junta gebruik geweld en intimidasie om mense te dwing om te stem in die komende verkiesing, terwyl gewapende opposisiegroepe soortgelyke taktiek gebruik om mense weg te hou.
“Die militêre owerhede in Mianmar moet ophou om brutale geweld te gebruik om mense te dwing om te stem en ophou om mense te arresteer as hulle verskillende menings huldig,” het Volker Türk, VN-hoof van menseregte, gesê.
Die verkiesing, wat die eerste in vyf jaar is, begin Sondag en sal in fases oor ’n tydperk van ’n maand plaasvind. – AFP
2025-12-23 10:23:00
Nog meer as 11 000 Epstein-lêers, honderde video’s beskikbaar gestel
Die Amerikaanse departement van justisie het Dinsdag vroeg (Amerikaanse tyd) meer as 11 000 lêers beskikbaar gestel wat verband hou met ondersoeke na die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein.
Dit bevat dokumente en honderde video’s, sowel as hofrekords, e-posse, nuusartikels, foto’s, sigblaaie en klankopnames.
Dit sluit blykbaar ook dokumente van die federale speurdiens (FBI), interne kommunikasie van die departement van justisie en dagvaardings in, luidens ’n aanvanklike oorsig van CBS News.
Dit bevat ook toesigmateriaal van Augustus 2019, die maand toe Epstein dood in sy tronksel gevind is. Ondersoeke het vasgestel hy het homself om die lewe gebring. – CBS News, AFP

’n Foto sonder ’n datum van Jeffrey Epstein, die veroordeelde seksoortreder, wat deel is van inligting wat Vrydag deur die Amerikaanse departement van justisie beskikbaar gemaak is. Foto: Reuters
2025-12-23 13:00:43
Bewerings teen Trump in dié Epstein-dokumente ‘onwaar, sensasioneel’
Die Amerikaanse departement van justisie het Dinsdag gesê sommige van die nuutste dokumente wat uit die Epstein-lêers vrygestel is en wat net voor die 2020 Amerikaanse verkiesing by die FBI ingedien is, bevat “onwaar en sensasionele bewerings” teen pres. Donald Trump.
Die departement het vroeër Dinsdag meer as 11 000 lêers beskikbaar gestel wat verband hou met ondersoeke na die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein.
“Om duidelik te wees, die bewerings is ongegrond en vals, en as dit enige greintjie geloofwaardigheid gehad het, sou dit beslis reeds teen pres. Trump gebruik gewees het,” het die departement in ’n plasing op X gesê. – Reuters
2025-12-23 13:01:38
Greta Thunberg glo by Londen-protes in hegtenis geneem
Die polisie in Londen het Dinsdag die Sweedse aktivis Greta Thunberg in hegtenis geneem by ’n betoging ter ondersteuning van pro-Palestynse eetstakers, het Palestynse aktivistegroepe gesê.
“Greta Thunberg is ingevolge terreurwetgewing in hegtenis geneem tydens die Prisoners for Palestine-protes,” het die Prisoners for Palestine-groep in ’n verklaring gesê.
“Die gevangenes word onder meer aangekla van ondersteuning van die verbode Palestine Action-groep, en Thunberg het ’n plakkaat omhoog gehou waarop staan: ‘Ek ondersteun die Palestine Action-gevangenes. Ek is teen volksmoord,’ ” het die groep bygevoeg. – AFP
2025-12-23 14:00:55
2 Britte skuldig bevind ná terreurkomplot teen Joodse gemeenskap
Twee Britse mans is Dinsdag skuldig bevind aan die beplanning van ’n aanval op die Joodse gemeenskap in Noordwes-Engeland met die doel om honderde onskuldige mense met outomatiese vuurwapens dood te maak.
Walid Saadaoui (38) en Amar Hussein (52) is albei skuldig bevind op ’n enkele aanklag van die voorbereiding vir terreurdade. Volgens aanklaers is hulle deur die terreurgroep Isis geïnspireer.
Saadaoui en Hussein het albei onskuldig gepleit. Saadaoui het aangevoer dat hy met die komplot saamgespeel het uit vrees vir sy lewe. Hussein het nie getuig nie. – Reuters
2025-12-23 14:04:38
Hoethi’s, Jemen-regering gaan 3 000 gevangenes uitruil
Jemen se Hoethi-rebellegroep en die land se internasionaal erkende regering het Dinsdag ooreengekom op die uitruiling van byna 3 000 gevangenes, insluitend sewe Saoedi’s.
Dié deurbraak-ooreenkoms kom ná byna twee weke van samesprekings in Maskat, die hoofstad van die naburige Oman, ’n sleutelbemiddelaar in die konflik wat al langer as ’n dekade duur.
Amptenare het min besonderhede gegee oor die volgende stappe. – AFP
2025-12-23 15:00:32
Israeliese weermag ondersoek dood van tiener in Wesoewer
Die Israeliese weermag ondersoek die omstandighede rondom die dood van ’n tienerseun dié naweek aan die hand van Israeliese soldate in die besette Wesoewer.
Videomateriaal wat op sosiale media geplaas is, wys hoe die 16-jarige seun twee Israeliese soldate by ’n kruising in die noorde van die Wesoewer nader. Een van die knielende soldate staan op en skiet, waarna die tiener inmekaarsak.
“ ’n Terroris het ’n blok na die soldate gegooi... en die terroris is uitgeskakel,” het die Israeliese weermag Saterdag gesê.
Die beeldmateriaal wys egter nie dat die tiener enigiets na die soldate gooi nie.
Die tiener is later deur die Palestynse gesondheidsministerie geïdentifiseer as Rajan Mohammed Aboe Moeala. – AFP
2025-12-23 15:20:03
Israeliese weermag sal nooit uit Gasastrook onttrek, sê minister
Die Israeliese weermag sal hom weens veiligheidsredes nooit volledig uit die Gasastrook onttrek nie, en ’n burgerlike militêre weermageenheid sal in die Palestynse enklawe gestig word, het Israel Katz, dié land se minister van verdediging, Dinsdag gesê.
In terme van ’n vredesplan wat in Oktober deur Israel en die militante groep Hamas onderteken is, sal die Israeliese weermag hom geleidelik heeltemal uit die enklawe onttrek en Israel sal nie burgerlike nedersettings in die gebied vestig nie.
“Ons... sal die Gasastrook nooit heeltemal verlaat nie. Ons is daar om te beskerm, om te voorkom wat gebeur het,” sê Katz in ’n toespraak met verwysing na Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023.
Die kantoor van die premier het geweier om kommentaar te lewer.
Katz het later in ’n verklaring gesê die Israeliese regering het geen voorneme om nedersettings in die Gasastrook te vestig nie. – Reuters
2025-12-23 16:02:38
Trump nooi Kazakstan, Oezbekistan na G20-leiersberaad in 2026
Pres. Donald Trump het met die president van Kazakstan en van Oezbekistan gepraat en albei na die G20-beraad volgende jaar in Miami, Florida, genooi, het hy Dinsdag gesê.
“Ons het die belangrikheid bespreek van die bring van vrede na voortgesette konflikte, en verhoogde handel en samewerking tussen ons lande,” skryf Trump op sy sosialemediaplatform, Truth Social.
“Amerika sal volgende jaar die G20-beraad aanbied en ons sal uitnodigings aan albei dié leiers rig om hulle as gaste by ons aan te sluit,” sê hy.
Amerika het die G20-presidentskap op 1 Desember by Suid-Afrika oorgeneem. Trump het kort daarna bekend gemaak dat hy Suid-Afrika nie na volgende jaar se G20-leiersberaad gaan nooi nie, op grond van “verskriklike menseregtevergrype” in Suid-Afrika. – Reuters
2025-12-23 16:04:07
'Ja!' Italië het wel sy volkslied só aangepas
Italië het ’n verandering aan sy volkslied aangebring deur ’n nadruklike “Si!” (Ja!) te verwyder wat gevolg het op ’n oproep om vir die vaderland te sterf, het regeringsbronne Dinsdag gesê.
Amptelike instruksies oor die aanpassing is in die laaste paar weke uitgereik in ooreenstemming met ’n presidentsbesluit wat in Mei in die staatskoerant gepubliseer is en na die aanvanklike weergawe van die volkslied verwys het.
Voor die jongste verandering het die volkslied afgesluit met: “Ons is gereed om te sterf, ons is gereed om te sterf, Italië het geroep! Ja!”
Volgens ’n bron in die presidentskantoor is die wysiging nie om enige politieke rede nie, maar glo ter wille van suiwerheid omdat die aanvanklike lirieke van 1847 glo nie die “Ja!” in gehad het nie. – Reuters
2025-12-23 17:01:18
Komediant Russell Brand aangekla van nog 2 seksuele oortredings
Die Britse polisie het Dinsdag gesê nuwe aanklagte van verkragting en seksuele aanranding is aanhangig gemaak teen die komediant Russell Brand.
Die nuwe aanklagte hou verband met twee vroue en volg op vyf aanklagte wat in April aanhangig gemaak is waarby vier ander vroue betrokke is. Die aanvanklike vyf aanklagte behels twee van verkragting, een van onsedelike aanranding en twee van seksuele aanranding.
Brand (50) sal op 20 Januarie in die landdroshof in Westminster verskyn in verband met die nuwe aanklagte. ’n Verhoor oor die vroeëre aanklagte is vir 16 Junie op die hofrol. – Reuters
2025-12-23 17:05:56
Trump loof BBP-data as bewys van ‘ekonomiese goue era’
Pres. Donald Trump het Dinsdag nuwe ekonomiese data geprys as ’n bewys dat, danksy sy administrasie se beleid, veral sy omstrede tariewe, die VSA ’n “Goue Ekonomiese Era” binnegaan.
“Ekonome was VERKEERD, maar ‘TRUMP’ en ’n paar ander Geniale mense, was reg,” het Trump gesê oor die derde kwartaal se groei in die bruto binnelandse produk wat ver bo ontleders se verwagtinge was.
“Die SUKSES is te danke aan Goeie Regering, en TARIEWE,” het Trump op sy Truth Social-platform geskryf en belowe dat die “Trump Ekonomiese Goue Era VOLSTOOM op pad vorentoe is”. – AFP
2025-12-23 18:03:27
België sluit hom aan by SA se volksmoordsaak teen Israel
België het Dinsdag die jongste land geword wat hom aangesluit het by die saak wat Suid-Afrika in die Internasionale Geregshof (Wêreldhof) aanhangig gemaak het waarin hy Israel van volksmoord in die Gasastrook beskuldig, het die Verenigde Nasies se hoogste hof in ’n verklaring gesê.
Talle lande, waaronder Brasilië, Colombia, Ierland, Mexiko, Spanje en Turkye, het hulle reeds by die saak aangesluit.
België was een van ’n rits lande wat die staat Palestina in September vanjaar erken het. – AFP
2025-12-23 18:04:14
Greta Thunberg vry ná inhegtenisneming by pro-Palestynse betoging
Die Sweedse aktivis Greta Thunberg is uit aanhouding vrygelaat nadat sy vroeër Dinsdag in Londen by ’n pro-Palestynse betoging in hegtenis geneem is, het die Britse polisie gesê.
Die Brits gebaseerde groep Prisoners for Palestine het gesê Thunberg is in hegtenis geneem ingevolge terreurwetgewing omdat sy ’n plakkaat opgehou het waarop gestaan het: “Ek ondersteun die Palestine Action-gevangenes. Ek is teen volksmoord.”
Die Britse regering het Palestine Action as ’n terreurgroep verklaar. – Reuters
2025-12-23 19:05:05
As jy van my verskil, sal jy nooit Fed-voorsitter wees – Trump
Pres. Donald Trump het Dinsdag gesê hy wil hê die volgende voorsitter van die Federale Reserweraad (Fed) moet rentekoerse verlaag as die markte goed vaar. Hy het bygevoeg: “Enigiemand wat van my verskil, sal nooit die Fed-voorsitter wees nie.” – Reuters
2025-12-23 19:06:48
Gestorwe Libanese soldaat had nie bande met Hezbollah – weermag
Libanon het Dinsdag Israeliese aantygings verwerp dat ’n Libanese soldaat wat Maandag in ’n Israeliese lugaanval naby die suidelike stad Sidon dood is, bande met Hezbollah gehad het.
Israel het gesê hy het drie Hezbollah-ekstremiste aangeval wat besig was om die groep se infrastruktuur te herbou en dat een in Libanon se weermagintelligensie gedien het.
Die Libanese weermag het later bevestig dat ’n lid van sy weermag in ’n lugaanval gesterf het, maar Israel se beskuldiging as vals verwerp en gesê dit kom neer op ’n “kwaadwillige aanval” op die weermag. – Reuters
2025-12-23 20:03:24
Straler met Libiese leër-stafhoof aan boord in Turkye vermis
Turkye het Dinsdag gesê hy het kontak verloor met ’n Falcon 50-vliegtuig met vyf passasiers aan boord, onder wie Libië se leër-stafhoof, kort nadat dit vanuit die hoofstad, Ankara, opgestyg het.
Kontak is verloor nadat die vliegtuig omstreeks 20:00 (plaaslike tyd) van Ankara se Esenboga-lughawe vertrek het onderweg na Tripoli, Libië, het Ali Yerlikaya, Turkye se minister van binnelandse sake, in ’n verklaring op X gesê.
Vyf passasiers was aan boord, onder wie genl. Mohammed Ali Ahmed al-Haddad, die Libiese leër-stafhoof, het hy gesê.
Die vliegtuig het ’n noodlandingskennisgewing naby Haymana, sowat 74 km van Ankara, uitgereik, maar kontak met die vliegtuig kon daarna nie weer herstel word nie, het die minister gesê. – AFP, Reuters
2025-12-23 20:09:34
Pous Leo vra vir ‘dag van vrede’ op Kersdag
Pous Leo het Dinsdag ’n beroep gedoen vir ’n wêreldwye dag van vrede op Kersdag en sy “groot hartseer” uitgespreek dat Rusland blykbaar ’n versoek om ’n skietstilstand op Kersdag geweier het.
“Ek hernu my versoek aan alle mense van welwillendheid om ’n dag van vrede te eerbiedig – ten minste op die fees van die geboorte van ons Verlosser,” het Leo aan verslaggewers by sy woning in Castel Gandolfo naby Rome gesê.
“Miskien sal hulle na ons luister en daar sal minstens 24 uur, ’n dag, van vrede oor die wêreld heen wees.” – AFP
2025-12-23 20:32:33
Wrak van vliegtuig met Libiese leërstafhoof aan boord gevind
Turkye het Dinsdagaand gesê die wrak van die vliegtuig wat die stafhoof van die Libiese leër vervoer het, is gevind.
Die vliegtuig met vyf mense aan boord het verdwyn kort nadat dit vanaf Ankara opgestyg het.
“Die wrak van die vliegtuig wat vanaf Ankara se Esenboga-lughawe na Tripoli vertrek het, is gevind… sowat 74 km van Ankara,” het Ali Yerlikaya, Turkse minister van binnelandse sake, op X gesê.
Intussen het Libië se eerste minister bevestig genl. Mohammed Ali Ahmed al-Haddad, die stafhoof, is dood in ’n vliegtuigongeluk in Turkye. – AFP
2025-12-24 03:48:19
Minstens 2 dood, 5 vermis ná brand, ontloffings by verpleeginrigting
Minstens twee mense is Dinsdag dood weens ’n paar ontploffings en ’n brand by ’n verpleeginrigting naby die stad Philadelphia in Amerika.
Die ontploffings en brand is blykbaar deur ’n gaslekkasie veroorsaak.
Vyf mense word vermis in ’n deel van die gebou wat ineengestort het.
’n Onbekende aantal oorlewendes is ook beseer, het die owerhede gesê.
Talle pasiënte en personeel is gered nadat hulle aanvanklik vasgevang was binne ’n gesloopte gedeelte van die gebou. – Reuters
2025-12-24 04:06:46
Amerika onderteken memo’s oor hulpverlening met 4 Afrikalande
Amerika het vier nuwe globale gesondheidmemorandums van verstandhouding (MOU’s) met Madagaskar, Sierra Leone, Botswana en Ethiopië onderteken.
“Elke MOU sluit duidelike maatstawwe, streng tydlyne en gevolge vir swak prestasie in. Dít sal verseker dat Amerikaanse hulpverlening resultate lewer teen prioriteit-siektebedreigings en langtermyn-afhanklikheid op hulpverlening verminder,” het die departement van buitelandse sake Dinsdag gesê.
Die koste sal $2,3 miljard beloop, met Amerika wat $1,4 miljard sal bydra en die vier lande meer as $900 miljoen van hul eie hulpbronne. – Reuters
2025-12-24 04:22:05
Nieu-Suid-Wallis keur strenger wette goed teen vuurwapens, terreur
Nieu-Suid-Wallis in Australië het Woensdag omvattende nuwe vuurwapen- en anti-terreurwette goedgekeur.
Die wetgewing volg op ’n skietery op 14 Desember by ’n Joodse Hanukkah-viering by Bondi-strand, Sydney, waarin 15 mense dood en tientalle gewond is.
Ingevolge die nuwe wette sal die meeste individuele vuurwapenlisensies tot vier vuurwapens beperk word.
Boere mag tot 10 vuurwapens besit. Polisiebeamptes mag meer hê om beperkings op openbare betogings vir tot drie maande ná ’n verklaarde terreuraanval op te lê.
Die openbare vertoon van simbole van verbode terreurorganisasies sal verbied word.
“Globaliseer die intifada”, ’n slagspreuk wat gewoonlik by pro-Palestynse betogings gehoor word, sal ook verbied word. – Reuters
2025-12-24 05:20:54
Oekraïense weermag onttrek aan belangrike dorp in ooste
Soldate van Oekraïne het aan die dorp Siwersk in die ooste van die land onttrek, het die Oekraïense weermag Dinsdag gesê.
Dit kom terwyl Russiese troepe ’n offensief voer wat daarop gemik is om stede wat belangrik is vir Oekraïne se verdediging in die ooste te bedreig.
Die val van Siwersk bring Russiese magte nader aan die stad Slowiansk, ongeveer 30 km wes daarvan.
Slowiansk is ’n anker van die sogenaamde “vesting-gordel” van stede in Oekraïne se Donbas-streek, wat Rusland eis aan hom oorhandig moet word voordat hy sy oorlog beëindig. – Reuters
2025-12-24 05:39:25
Polisiebeampte in Delaware doodgeskiet
’n Verdagte is in aanhouding nadat ’n polisiebeampte Dinsdag in ’n skietvoorval in Wilmington in die Amerikaanse deelstaat Delaware dood is.
Die polisie het omstreeks 14:00 plaaslike tyd gesê dat ’n aktiewe skieter by die verkeersdepartement in Wilmington is.
Kort daarna het die polisie gesê daar is nie meer ’n aktiewe skieter nie en dat ’n verdagte in hegtenis geneem is.
“Ons evalueer steeds addisionele beserings,” het die polisie gesê.
Die polisie het die publiek aangeraai om die gebied te vermy terwyl die ondersoek voortduur. – Reuters
2025-12-24 05:46:50
Woede oor staak van brandstofsubsidies

Myners wat geaffilieer is met Bolivia se hoofvakbond raak Dinsdag slaags met polisiebeamptes by ’n betoging in La Paz ná die regering se besluit om brandstofsubsidies op te hef, wat diesel- en petrolpryse laat styg het. Foto: Reuters
2025-12-24 06:05:01
2 polisielede beseer in klaarblyklike ontploffing in Moskou
Twee polisiebeamptes is Dinsdag beseer in ’n “voorval” in Moskou naby die toneel waar ’n senior Russiese generaal Maandag in ’n motorbomontploffing dood is.
Rusland se ondersoekkomitee, wat ernstige misdaad ondersoek, het Woensdag gesê hy “is besig om die omstandighede vas te stel van ’n voorval in die suide van Moskou waarin twee verkeerspolisiebeamptes beseer is”.
Ondersoekers besigtig die toneel en doen forensiese ontleding, insluitend “mediese en plofstofondersoeke”, sê die komitee.
Plaaslike media berig daar was ’n ontploffing. – AFP
2025-12-24 06:38:05
Amerika weier visums aan voormalige EU-amptenaar, nog 4
Die Amerikaanse departement van buitelandse sake sal visums weier aan ’n voormalige kommissaris van die Europese Kommissie en vier ander.
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle probeer het om Amerikaanse sosialemediaplatforms te “dwing” om standpunte wat hulle teenstaan, te sensureer.
“Hierdie radikale aktiviste en bewapende organisasies sonder winsbejag het sensuurmaatreëls deur buitelandse state bevorder,” het die departement gesê.
Die maatreël teiken onder andere Thierry Breton, ’n voormalige senior tegnologiereguleerder van die Europese Kommissie, wat gereeld met tegnologiemagnate soos Elon Musk gebots het oor hul verpligtinge om die reëls van die Europese Unie na te kom. – AFP
2025-12-24 07:01:01
6 vrygelaat nadat hulle sedert staatsgreep in Guinee-Bissau aangehou is
Guinee-Bissau se regerende junta het Dinsdag gesê hy het ses lede van die politieke opposisie vrygelaat nadat hulle sedert ’n staatsgreep verlede maand aangehou is.
Die ses mense is bondgenote van Domingos Simoes Pereira, hoof van die PAIGC-party wat die land tot onafhanklikwording in 1974 gelei het.
Pereira is sedert die staatsgreep in aanhouding.
Die vrylating is ’n “teken van goeie trou en ’n kompromis vir die terugkeer na konstitusionele normaliteit en respek vir internasionale regte”, het die junta se regerende liggaam in ’n verklaring gesê. – AFP
2025-12-24 07:18:07
2 polisielede dood in ontploffing in Moskou, sê amptenare in aangepaste verklaring
Twee polisiebeamptes is oornag in ’n ontploffing in Moskou dood toe hulle probeer het om ’n verdagte te stuit, het Rusland se ondersoekkomitee Woensdag in ’n verklaring gesê.
Die ondersoekkomitee het vroeër gesê twee polisiiebeamptes is beseer in ’n “voorval” in Moskou naby die toneel waar ’n senior Russiese generaal Maandag in ’n motorbomontploffing dood is.
“ ’n Ploftoestel is geaktiveer” wat naby hul diensvoertuig was toe die beamptes die verdagte genader het.”
Netwerk24 het vroeër berig ondersoekers besigtig die toneel en doen forensiese ontleding. – AFP
2025-12-24 07:26:44
8 dood toe voertuig in dam in China beland
Agt mense, onder wie kinders, is dood toe die direkteur van ’n kleuterskool beheer oor ’n sportnutsvoertuig verloor en dit in ’n dam in die suidooste van China beland het, het staatsmedia Woensdag berig.
Die voorval het Dinsdagmiddag in die Pengze-distrik plaasgevind.
Die ongeluk het by ’n afdraande op die pad plaasgevind wat waarskynlik glad was weens onlangse reënval, luidens berigte.
Luidens ’n verklaring wat oornag deur distriksowerhede uitgereik is, is agt mense, onder wie die bestuurder, dood.
Die verklaring verstrek geen inligting oor die ander slagoffers nie, maar lui dat ’n ondersoek van stapel gestuur is. – AFP
2025-12-24 08:39:55
Rusland beplan kernkragaanleg op maan
Rusland beplan om ’n kernkragaanleg op die maan te plaas teen 2036 om sy maanruimteprogram en ’n gesamentlike Rusland-China-navorsingstasie te rugsteun.
Roscosmos, Rusland se staatsruimtekorporasie, sê die doel van die aanleg is om Rusland se maanprogram van krag te voorsien.
Sedert die Sowjet-ruimtevaarder Joeri Gagarin in 1961 die eerste mens geword het wat ruimte toe gegaan het, het Rusland homself as ’n leidende mag in ruimteverkenning beskou, maar in onlangse dekades het dié land agtergeraak teenoor Amerika en toenemend China. – Reuters
2025-12-24 08:51:07
Kambodja kap afbreek van Hindoe-beeld deur Thaise weermag
Kambodja het Thailand daarvan beskuldig dat hy ’n Hindoe-standbeeld in ’n betwiste grensgebied vernietig het.
Kim Tsjanpanha, ’n regeringswoordvoerder, het gesê die vernietiging van die beeld het Maandag ongeveer 100 m van die grens met Thailand plaasgevind.
’n Soektog op Google Maps het getoon die beeld se ligging is ongeveer 400 m vanaf die grens.
“Ons veroordeel die vernietiging van antieke tempels en beelde wat deur Boeddhistiese en Hindoe-volgelinge aanbid word,” het Tsjanpanha gesê.
Die buurlande se grenskonflik het op 8 Desember hervat.
Meer as 40 mense is dood en ongeveer ’n miljoen mense is verplaas. – AFP
2025-12-24 09:39:55
Rusland hersien nuwe vredesplan deur Oekraïne, Amerika
Oekraïne het sommige toegewings in die nuutste weergawe van ’n vredesplan gekry, wat deur pres. Wolodimir Zelenski onthul is.
Die 20-punt-plan, waaroor Amerikaanse en Oekraïense onderhandelaars ooreengekom het, word deur Moskou hersien.
Oekraïne het daarin geslaag om onmiddellike vereistes vir sy onttrekking aan die Donetsk-streek te verwyder, of dat grond wat deur Moskou se weermag beset word as Russiese grondgebied erken sal word. Eise is ook verwyder dat Oekraïne sy pogings om Navo-lidmaatskap moet prysgee.
Die Kremlin sal waarskynlik nie sy eis vir ’n volledige Oekraïense onttrekking uit die ooste prysgee nie. – AFP
2025-12-24 10:18:13
Aardbewing tref Taiwan
’n Aardbewing van 6,1 het Woensdag die kusdistrik Taitoeng in die suidooste van Taiwan getref, het die eiland se weeradministrasie gesê.
Geen onmiddellike skade is aangemeld nie.
Die aardbewing het geboue in die hoofstad, Taipei, geskud.
Taiwan lê naby die kruising van twee tektoniese plate en is geneig tot aardbewings. Meer as 100 mense is in 2016 in die suide van Taiwan weens ’n aardbewing dood. – AFP
2025-12-24 10:35:04
Noodwetgewing goedgekeur om regeringsluiting in Frankryk te vermy
Wetgewers in Frankryk het Dinsdag noodwetgewing goedgekeur om ’n regeringsluiting te verhoed.
Sébastien Lecornu, premier, was haastig om die wetgewing Maandag laat in te dien.
Dit kom nadat wetgewers van albei huise van die parlement Vrydag misluk het om ’n kompromis oor die begroting te bereik weens verdeeldheid oor die besnoeiing van uitgawes en belastingverhogings.
Die wet, wat eenparig in die laerhuis en senaat aangeneem is, laat die staat toe om limiete op uitgawes van 2025 na die nuwe jaar oor te dra, belasting in te vorder en skuld uit te reik. – Reuters
2025-12-24 13:05:30
Israel sê Hamas skend Gasa-skietstilstand weens ploftoestel
Premier Benjamin Netanyahu van Israel het Hamas Woensdag daarvan beskuldig dat hy die Gasa-skietstilstand geskend het nadat ’n militêre offisier in Rafah in die Gasastrook beseer is toe ’n ploftoestel geaktiveer is.
Israel het in ’n verklaring gesê dat die Palestynse groep by die ooreenkoms gehou moet word. Albei kante het mekaar daarvan beskuldig dat hulle Oktober se brose skietstilstand geskend het. – Reuters
2025-12-24 13:06:24
Israel sloop huis van Palestyn wat van aanval beskuldig word
Die Israeliese weermag het Woensdag die huis gesloop van ’n Palestyn wat daarvan beskuldig word dat hy ’n mes-en-skietaanval uitgevoer het waarin ’n Israeliese burger vroeër vanjaar gesterf het, het die weermag gesê.
Op 10 Julie het twee aanvallers Shalev Zvuluny (22) in ’n inkopiegebied naby Jerusalem doodgemaak voordat die Israeliese weermag hulle doodgeskiet het.
Woensdag het ’n Israeliese weermag-stootskraper die dorp Bazzarjah in die besette Wesoewer binnegegaan en die familiehuis van een van die aanvallers gesloop nadat dit ontruim is. – AFP
2025-12-24 14:01:01
Verkiesings in Oekraïne ná vredesooreenkoms – Zelenski
Oekraïne sal ingevolge die jongste weergawe van ’n Amerika-Oekraïne-konsepvredesplan so gou moontlik ’n presidentsverkiesing hou ná die ondertekening van ’n ooreenkoms om die Russiese inval te beëindig, het pres. Wolodimir Zelenski Woensdag gesê.
Zelenski het aan verslaggewers gesê een punt in die jongste plan wat aan Rusland gestuur is, lui: “Oekraïne moet so gou moontlik verkiesings hou nadat die ooreenkoms onderteken is.” – AFP
2025-12-24 14:02:30
Rusland vonnis Colombiaan wat vir Oekraïne veg tot 19 j.
’n Hof in die Russies beheerde Donetsk-streek van Oekraïne het Woensdag ’n Colombiaan tot 19 jaar tronkstraf gevonnis omdat hy vir Oekraïne se weermag geveg het.
Rusland vervolg buitelandse soldate wat vir Oekraïne veg as huursoldate eerder as krygsgevangenes, wat onder die Geneefse Konvensie beskerm word.
In ’n verklaring het Rusland se prokureur-generaal gesê Oscar Mauricio Blanco Lopez (42) het in Mei 2024 in Oekraïne aangekom om hom by die Oekraïense weermag aan te sluit, en is in Desember deur Russiese soldate gevange geneem. – AFP
2025-12-24 15:07:28
Israel gaan $110 mjd. bestee om onafhanklike wapenbedryf te ontwikkel
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het Woensdag gesê Israel sal $110 miljard oor die volgende dekade bestee aan die ontwikkeling van ’n onafhanklike wapenbedryf om sy afhanklikheid van ander lande te verminder.
“Ons sal voortgaan om noodsaaklike voorrade aan te skaf terwyl ons onsself onafhanklik bewapen,” het Netanyahu gesê.
“Ek weet nie of ’n land heeltemal onafhanklik kan wees nie, maar ons sal daarna streef. Ons doel is om ’n onafhanklike wapenbedryf vir Israel te ontwikkel en die afhanklikheid van enige party, insluitend bondgenote, te verminder.” – Reuters
2025-12-24 15:08:38
Geen konsensus met VSA oor grondgebied in jongste plan – Zelenski
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Woensdag gesê Amerikaanse en Oekraïense onderhandelingspanne kon nie daarin slaag om oor kwessies rakende grondgebied ooreen te kom tydens gesprekke oor hoe om Rusland se oorlog te beëindig nie, en het gevra dat dit op leiersvlak bespreek word.
“Ons het nie ’n konsensus met die Amerikaanse kant bereik rakende die grondgebied van die Donetsk-streek en die Zaporizjzjia-kernkragaanleg nie,” het hy gesê.
Zelenski het bygevoeg: “Ons is gereed vir ’n vergadering met Amerika op leiersvlak om sensitiewe kwessies te bespreek. Kwessies soos grondgebied moet op leiersvlak bespreek word.”
Hy het nie gespesifiseer of dit pres. Wladimir Poetin van Rusland sou insluit nie. – AFP
2025-12-24 16:03:12
Nuwe Algerynse wet verklaar Franse kolonisasie tot misdaad
Algerië se parlement het Woensdag eenparig ’n wetsontwerp aanvaar wat verklaar dat Frankryk se kolonisering van die land ’n misdaad was, en ’n verskoning en vergoeding geëis.
Die wetsontwerp verklaar onder meer dat Frankryk “regsverantwoordelikheid dra vir sy koloniale verlede in Algerië en die tragedies wat dit veroorsaak het”.
Ontleders sê hoewel die stap grootliks simbolies is, is dit steeds polities betekenisvol. – AFP
2025-12-24 16:03:58
EU-lande veroordeel VSA-visumverbod op Europeërs
Die Europese Unie (EU), Brittanje, Frankryk, Duitsland en talle ander Europese lande het Amerika se visumverbod op Europeërs wat aanlyn haat en waninligting beveg, ten sterkste veroordeel en “vinnige en beslissende” teenoptrede belowe.
Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het Woensdag gesê hy sal visums weier aan vyf mense wat daarvan beskuldig word dat hulle probeer het om Amerikaanse sosialemediaplatforms te “dwing” om standpunte wat hulle teenstaan, te sensureer.
Die maatreël teiken onder andere Thierry Breton, ’n voormalige senior tegnologiereguleerder van die Europese Kommissie, wat gereeld met tegnologiemagnate soos Elon Musk gebots het oor hul verpligtinge om die reëls van die Europese Unie na te kom. – Reuters
2025-12-24 17:03:37
Thailand-Kambodja-gesprekke oor grenskonflik begin
Kambodjaanse en Thaise amptenare het Woensdag vier dae van gesprekke by ’n grenspos begin om 'n einde aan die dodelike grenskonflikte tussen die Asiatiese lande te probeer beding.
Die buurlande se langdurige grenskonflik het vandeesmaand weer opgevlam en ’n vroeëre skietstilstand verbreek. Meer as 40 mense is in die nuwe konflik dood en sowat 1 miljoen mense is ontheem, het amptenare gesê.
Die gesprekke sal na verwagting tot Saterdag duur. – AFP
2025-12-24 17:05:03
Meeste Russe hoop Oekraïne-oorlog sal in 2026 eindig – peiling
Die meeste Russe hoop dat die oorlog in Oekraïne in 2026 sal eindig, het die staatsbeheerde meningspeiler Woensdag gesê.
Volgens ontleders van die Russiese Navorsingsentrum oor Openbare Opinie (VTsIOM) kan die peiling daarop dui dat die Kremlin moontlik die publiek se reaksie toets oor ’n moontlike vredesooreenkoms namate diplomatieke pogings verskerp om die konflik te beëindig.
Volgens VTsIOM hoop 70% van die respondente dat 2026 ’n meer “suksesvolle” jaar as 2025 vir Rusland sal wees, terwyl 55% daardie hoop koppel aan ’n moontlike einde aan die oorlog in Oekraïne. – Reuters
2025-12-24 18:02:52
Trump sê komediant Stephen Colbert moet ‘uitgesit’ word
Pres. Donald Trump het in ’n nuwe uitbarsting van venyn gerig op laatnag-geselsprogramme gesê die komediant Stephen Colbert is ’n “patetiese treinwrak” wat “aan die slaap gemaak” moet word.
Colbert se The Late Show is geskeduleer om in Mei 2026 te eindig, ’n besluit wat sy aanhangers sê na sensuur ruik.
In ’n laatnag-plasing op sy Truth Social-platform het Trump geskryf “Stephen werk op haat en dampe... CBS moet hom ‘uitsit’, NOU, dis die medemenslike ding om te doen"
Colbert het sedert 2015 The Late Show aangebied, en dit was die gewildste laatnag-geselsprogram op Amerikaanse televisie. Sy openingsmonoloë rig dikwels kritiek op Trump. – AFP
2025-12-24 18:04:42
Ghana neem tientalle Nigeriërs in hegtenis oor aanlyn bedrognetwerk
Die Ghanese polisie en veiligheidsowerhede het byna 50 Nigeriërs in hegtenis geneem in ’n klopjag teen aanlyn bedrieërs, is Woensdag aangekondig.
’n Klopjag aan die buitewyke van die hoofstad, Accra, “het gelei tot die inhegtenisneming van 48 vermeende kubermisdaad-operateurs... wat vermoedelik Nigeriese burgers is,” het Sam George, die inligtingsminister, gesê.
Die 46 mans en twee vroue word daarvan beskuldig dat hulle by “romansebedrog, aanlyn beleggingsbedrog, nabootsingskemas en onwettige aanlyn goudhandel” betrokke was, het George in ’n plasing op X gesê. – AFP
2025-12-24 19:01:23
7 sterf in ontploffing in Nigeriese moskee tydens aandgebede
Sewe mense is Woensdag dood in ’n ontploffing tydens aandgebede in ’n moskee in Maiduguri, die hoofstad van Nigerië se Borno-deelstaat.
Geen groep het onmiddellik verantwoordelikheid aanvaar vir wat vermoedelik ’n bomaanval was nie.
Die ontploffing het plaasgevind in ’n stad wat al bykans 20 jaar lank die middelpunt is van ’n Islamitiese opstand wat deur Boko Haram en sy splintergroep, Iswap (Isis se tak in Wes-Afrika), gevoer word, waarin tienduisende mense dood en miljoene ontwortel is.
Ekstremiste het al voorheen moskees en ander plekke in Maiduguri in selfmoordbomaanvalle en aanvalle met tuisgemaakte ploftoestelle geteiken. – AFP, Reuters
2025-12-24 19:03:48
14 lande veroordeel nuwe Israeliese nedersettings in Wesoewer
14 lande het Woensdag Israel se onlangse goedkeuring van nuwe Joodse nedersettings in die besette Wesoewer veroordeel.
“België, Kanada, Denemarke, Frankryk, Duitsland, Italië, Ysland, Ierland, Japan, Malta, Nederland, Noorweë, Spanje en Brittanje veroordeel die goedkeuring deur die Israeliese veiligheidskabinet van 19 nuwe nedersettings in die besette Wesoewer,” lui ’n gesamentlike verklaring wat deur die Franse ministerie van buitelandse sake uitgereik is. – AFP
2025-12-24 20:07:51
Miljoen ‘nuwe’ Epstein-dokumente vertraag verdere uitreikings
Die Amerikaanse departement van justisie het meer as ’n miljoen bykomende dokumente gevind wat moontlik verband hou met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein, wat ’n volledige bekendmaking van die sogenaamde Epstein-lêers vir weke vertraag terwyl amptenare besonderhede redigeer om slagoffers te beskerm, het die departement Woensdag gesê.
Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het in November wetgewing aanvaar wat die departement van justisie dwing om alle nie-geklassifiseerde dokumente oor sy ondersoek na Epstein se bedrywighede en sy dood in aanhouding in 2019 openbaar te maak. Die aanvanklike sperdatum was verlede Vrydag.
“Weens die groot hoeveelheid materiaal kan hierdie proses nog ’n paar weke duur,” het die departement in ’n plasing op X gesê. – Reuters
2025-12-24 20:09:58
Israel beloof weerwraak ná Hamas se ‘skietstilstandskending’
Benjamin Netanyahu, die Israeliese premier, het Woensdag gesê Israel sal weerwraak neem nadat ’n militêre offisier in ’n ontploffing in die Gasastrook gewond is.
Hamas het verantwoordelikheid ontken en gesê die ploftoestel was ’n oorblyfsel van die konflik.
Die Israeliese weermag het vroeër gesê ’n ploftoestel in die Rafah-gebied het teen ’n militêre voertuig ontplof.
Hamas het gesê die voorval het plaasgevind in ’n gebied waar die Israeliese weermag volle beheer het, en dat hy gewaarsku het dat ploftoestelle sedert die oorlog in die gebied en elders agtergebly het. – Reuters















