2025-12-30 03:38:54
China bult steeds sy spiere vir Taiwan
China sit sy militêre oefening om Taiwan Dinsdag voort wat blokkades van sleutelhawens en maritieme aanvalle simuleer.
Minstens 10 vuurpyle is reeds gelanseer. Taiwan het 130 Chinese vliegtuie en 14 vlootskepe in 24 uur opgespoor en beskuldig China van "militêre intimidasie".
China se oefeninge volg nadat Amerika wapens aan Taiwan verkoop het. – AFP
2025-12-30 03:50:50
Geen jazz op Oujaarsaand by Kennedy-sentrum
Die Cookers-jazzensemble het hul Oujaarsaand-optrede by die Kennedy-sentrum in Washington DC gekanselleer.
’n Kerskonsert en ’n New Yorkse dansgeselskap se vertonings is ook gekanselleer nadat die sentrum hernoem is om pres. Donald Trump se naam in te sluit.
Die Kennedy-sentrum is vandeesmaand na “Die Donald J. Trump en die John F. Kennedy-gedenksentrum vir die Uitvoerende Kunste” verander.
Kunstenaars is ongelukkig daaroor en kanselleer hul vertonings. – Reuters
2025-12-30 04:01:22
Amerika grom vir Venezuela
'n Vliegtuig van die Amerikaanse kuswag styg Maandag by die Rafael Hernandez-lughawe in die noordweste van Puerto Rico op te midde van toenemende spanning tussen Amerika en Venezuela. Foto: Reuters

2025-12-30 04:30:00
Oudpremier van Bangladesj sterf
Khaleda Zia, Bangladesj se voormalige premier, is vroeg Dinsdagoggend in die ouderdom van 80 dood, het haar Bangladesj Nasionalistiese Party (BNP) bekendgemaak.
Sy sou na verwagting ’n gunsteling in die verkiesing volgende jaar wees.
Haar seun Tarique Rahman, wat Donderdag ná 17 jaar in ballingskap teruggekeer het, neem nou die leisels.
Zia is in 2018 vir korrupsie tronk toe gestuur en verlede jaar vrygelaat. – AFP

Khaleda Zia Foto: Getty Images
2025-12-30 05:28:35
Beyoncé se beursie peul uit
Beyoncé is nou ’n miljardêr, sê Forbes, en sluit aan by ’n eksklusiewe groep van skatryk musikante, onder wie Taylor Swift, Bruce Springsteen en Rihanna.
Nie net het Beyoncé se Renaissance-wêreldtoer byna $600 miljoen in 2023 gegenereer nie, maar is haar album Cowboy Carter ’n reusesukses.
Forbes skat die 44-jarige sangeres het in 2025 sowat $148 miljoen voor belasting verdien. – AFP

Beyoncé Foto: Getty Images
2025-12-30 06:34:08
Irannese winkeleienaars weier om handel te dryf
Pres. Masoud Pezesjkian van Iran por sy amptenare aan om na die "wettige eise" van betogers te luister nadat winkels in Teheran vir 'n tweede dag gesluit is weens die swak ekonomie.
Die Irannese geldeenheid het 'n nuwe laagtepunt bereik teenoor die dollar en verhandel teen 1,42 miljoen rial teenoor 820 000 'n jaar gelede.
Betogers eis dat die regering 'n duidelike ekonomiese strategie voorlê. Inflasie beloop 52%. – AFP
2025-12-30 06:45:01
Aankondiging van oudpremier se dood
'n Aankondiging oor die dood van Khaleda Zia (80), oudpremier van Bangladesj, in die bedrywige hoofstad, Dhaka, nadat sy vroeër in 'n hospitaal daar opgeneem is. Foto: Reuters

2025-12-30 07:30:36
Suid-Korea se president besoek China eersdaags
Pres. Lee Jae-myung van Suid-Korea sal China van Sondag tot Woensdag op uitnodiging van pres. Xi Jinping besoek.
Die Suid-Koreaanse leier hoop om betrekkinge met China, die land se grootste handelsvennoot, te herstel ná jare van gespanne betrekkinge onder sy voorganger, Yoon Suk-jeol, wat onlangs uit die amp verwyder is. – AFP
2025-12-30 08:07:14
Reg vir aksie
F-35A en F-35B Lightning II-vegvliegtuie van Amerika staan by die Rafael Hernandez-lughawe in Aguadilla, Puerto Rico, te midde van spanning tussen pres. Donald Trump se administrasie en die regering van die Venezolaanse president, Nicolás Maduro. Foto: Reuters

2025-12-30 08:18:43
Prentjiemooi oorlogskip in die sneeu
Sowat 1 200 studente van 'n universiteit in Harbin, China, het 'n enorme sneeuskildery geskep van 'n vliegdekskip met drie vegvliegtuie in formasie. Foto: Getty Images

2025-12-30 09:09:42
China ‘bewaker van stabiliteit’
China is ’n “bewaker van stabiliteit” en sal wapenverkope aan Taiwan teenwerk, sê Wang Yi, minister van buitelandse sake.
Hy het Dinsdag op ’n simposium oor internasionale betrekkinge ook tariefoorloë wat wêreldhandel ontwrig, veroordeel.
Intussen gaan China voort met militêre oefening naby Taiwan nadat die eiland wapens by Amerika gekoop het. – AFP
2025-12-30 09:20:34
Chinese maatskappye gedwing om plaaslik toerusting te koop
China dwing mikroskyfievervaardigers om die helfte van hul fabriekstoerusting van Chinese verskaffers te koop wanneer hulle halfgeleieraanlegte bou of uitbrei.
Maatskappye moet verkrygingskontrakte aan die staat kan wys dat minstens 50% van hul toerusting van binnelandse vervaardigers afkomstig is, eerder as buitelandse verskaffers soos dié van die VSA, Japan of Europa.
China wil nie van die buiteland afhanklik wees vir die vervaardiging van halfgeleiers nie. – Reuters
2025-12-30 09:30:12
Indië sê sy ekonomie skop stof in Japan se oë
Indië het Japan verbygesteek om die wêreld se vierde grootste ekonomie te word met 'n BBP ter waarde van $4,18 duisend miljard, wys regeringsyfers wat Maandag uitgereik is.
Daar word nou voorspel dat Indië Duitsland binne drie jaar sal verbysteek en teen 2030 'n BBP van $7,3 duisend miljard sal hê. – AFP
2025-12-30 09:57:48
Haal diep asem, sê Rusland aan VSA en Iran
Rusland raai Iran en Amerika aan om hul verskille uit te stryk voordat die wrywing tussen die twee verder uitkring.
Dit volg nadat pres. Donald Trump Iran teen 'n tweede aanval gewaarsku het sou die land nuwe lewe in sy kernwapenprogram probeer blaas.
LEES OOK | 'Gort gaar' as Hamas nie ontwapen, sê Trump
Rusland het sedert die begin van die oorlog in Oekraïne nouer betrekkinge met Iran gesmee en vanjaar 'n strategiese vennootskap aangegaan. – Reuters
2025-12-30 10:50:16
Iran verklaar Kanadese vloot tot terreurorganisasie
Die Koninklike Kanadese Vloot is terroriste, sê Iran se departement van buitelandse sake.
Iran het die vloot tot ’n terreurorganisasie verklaar as vergelding nadat Kanada sy Revolusionêre Garde in 2024 tot ’n terreurorganisasie verklaar het. – AFP
2025-12-30 10:56:57
Rusland wil lughawe verkoop
Rusland beoog om Moskou se Domodedowo-lughawe vroeg in 2026 te verkoop, enkele maande nadat dit genasionaliseer is.
Die land se vierde besigste lughawe het in Junie staatseiendom geword toe ’n hof bevind het dat die eienaars daarvan buitelandse inwoners sonder bestuursregte was.
Die lughawe is glo diep in die skuld. – Reuters
2025-12-30 11:02:43
Nuwe treinstasie vir besige Beijing
’n Groot nuwe treinstasie is Dinsdag in die Tongzhou-distrik van Beijing, hoofstad van China, in gebruik geneem. Foto: Getty Images

2025-12-30 11:12:02
Oekraïne sê daar is geen bewyse vir ‘aanval’ op Poetin se huis
Oekraïne het Dinsdag alle bewerings van Rusland verwerp dat Oekraïne glo ’n hommeltuigaanval op een van pres. Wladimir Poetin se huise van stapel gestuur het.
Volgens die Oekraïense minister van buitelandse sake, Andrij Sibiga, is daar geen “geloofwaardige bewyse” vir die aanval nie. “Bykans ’n dag het verloop en Rusland het steeds nie enige geloofwaardige bewyse vir sy beskuldigings gelewer nie. En hy sal ook nie, want daar was nie so ’n aanval nie,” het Sibiga op X geskryf.
Die Kremlin hou egter vol dat Oekraïne en die Westerse media se ontkenning van die voorval “waansinnig” is, en sê Rusland hoef nie bewyse te lewer nie aangesien al die hommeltuie neergeskiet is. – AFP
2025-12-30 11:20:27
Iran belowe ‘onversetlike’ teenreaksie op Amerika se dreigemente
Iran se reaksie op enige aggressie sal onversetlik wees, het pres. Masoed Pezesjkian Dinsdag op X geskryf, ’n dag nadat pres. Donald Trump gewaarsku het oor ’n moontlike aanval.
Trump het Maandag gesê Amerika kan ’n verdere groot aanval steun indien Iran begin om sy ballistiesemissiel- of kernwapenprogramme te hervat.
Die spanning tussen Iran en Amerika het die laaste paar jaar toegeneem, veral weens Iran se kernprogram en die ontwikkeling van ballistiese missiele. Amerika en sy bondgenote is bekommerd dat Iran kernwapens kan ontwikkel, terwyl Iran volhou sy program is vreedsaam. – Reuters
2025-12-30 11:26:00
Oefening in die sneeu

Oekraïense rekrute neem deel aan basiese militêre opleiding by ’n onbekende plek in die Zaporizjzjia-streek, te midde van die Russiese inval in Oekraïne. Foto: Oekraïense Gewapende Magte via AFP
2025-12-30 12:11:05
EU waarsku teen China se militêre optrede by Taiwan
Die Europese Unie (EU) het Dinsdag gewaarsku dat China se militêre oefeninge naby Taiwan spanning in die streek verder verhoog.
’n Woordvoerder beklemtoon dat die EU ’n direkte belang by die handhawing van die status quo in die Straat van Taiwan het, ’n strategiese seeroete tussen China en Taiwan.
“Ons is gekant teen enige eensydige optrede wat die status quo verander, veral deur geweld of dwang,” sê die woordvoerder.
Die EU het herhaal dat stabiliteit in die gebied van kardinale belang vir internasionale handel en veiligheid is. – Reuters
2025-12-30 12:20:08
Saoedi-Arabië waarsku VAE oor Jemen-krisis
Saoedi-Arabië het Dinsdag gewaarsku dat 'n opmars deur Verenigde Arabiese Emirate (VAE)-ondersteunde separatiste in Jemen ’n bedreiging vir sy nasionale veiligheid inhou.
Die Saoediese buitelandse ministerie het die VAE se optrede as “uiters gevaarlik” bestempel nadat die Saoedi-geleide koalisie ’n VAE-wapensending na die separatiste geteiken het. Die VAE, ’n land in die Midde-Ooste wat uit sewe emirate bestaan, ondersteun separatiste wat onlangs groot gebiede in die suide van Jemen ingeneem het.
Die Jemenitiese presidensiële raad het intussen ’n noodtoestand afgekondig en alle sekuriteitsooreenkomste met die VAE opgeskort. Saoedi-Arabië eis dat Emiratiese magte binne 24 uur uit Jemen onttrek.
Die spanning tussen die twee Golfstate, tradisioneel bondgenote teen die Hoethi-rebelle, het nou in ’n openlike dispuut ontaard. – AFP
2025-12-30 12:22:09
Skelms en dwelms vir 'n middernagpartytjie

Handelaars dra poppe van onder meer die Colombiaanse dwelmbaas Pablo Escobar om dit op straat te verkoop as deel van voorbereidings vir Nuwejaarsvieringe in Quito, Ecuador. Foto: Getty Images
2025-12-30 13:11:57
Poetin wys nuwe missiel aan wêreld
Rusland het Dinsdag beeldmateriaal van die ontplooiing van sy kernbekwame Oresjnik-hiperspoedmissielstelsel in Belarus, ’n noue bondgenoot, bekend gestel.
Volgens die Russiese staatsmedia is dit die eerste keer dat die Oresnnik-stelsel, wat volgens pres. Wladimir Poetin onkeerbaar is, amptelik vertoon word.
Die ontplooiing, wat die missiele in aktiewe diens plaas in ’n land wat aan Oekraïne en Navo-lande soos Pole, Litaue en Letland grens, kom te midde van verhoogde spanning oor die oorlog in Oekraïne.
Westerse kenners glo die stap beklemtoon Rusland se toenemende afhanklikheid van kernwapendreigemente om die Weste te ontmoedig om wapens aan Oekraïne te voorsien. – Reuters
2025-12-30 13:20:39
Voormalige Nigeriese minister in hof oor geldwassery
Abubakar Malami, Nigerië se voormalige prokureur-generaal en minister van justisie, staan op 16 aanklagte van geldwassery en sameswering tereg. Die land se kommissie vir ekonomiese en finansiële misdrywe (EFCC) het die klagte by die federale hooggeregshof in Abuja ingedien.
Malami, sy seun Abubakar Abdulaziz Malami, en nog ’n beskuldigde, Hajia Bashir Asabe, word daarvan verdink dat hulle die oorsprong van fondse, glo verkry uit onwettige aktiwiteite tussen 2015 en 2025, probeer verdoesel het.
Die groep het glo maatskappyrekeninge en eiendomsbeleggings gebruik om transaksies van meer as 8 miljard naira (sowat R102 miljoen in Suid-Afrikaanse rand) te verbloem.
Die eiendomme sluit ’n luukse dupleks in Maitama, hotelle in Jabi en erwe in Gwarimpa en Asokoro in. Al drie het Dinsdag skuld ontken en bly in aanhouding tot hul borgtogverhoor op 2 Januarie. – Reuters
2025-12-30 13:30:25
Mooi getooi vir my viervoetige vriende...

’n Hond wag vir die begin van die “Sanperrestre” in Madrid, Spanje. Hierdie jaarlikse, feestelike hondestap word gehou om standpunt in te neem teen dieremishandeling en -verlating en skep bewustheid oor aanneming eerder as die koop van honde en katte as troeteldiere. Foto: Reuters
2025-12-30 14:18:39
Russiese hommeltuie tref graanskepe
Die Oekraïense vloot het Dinsdag bevestig dat Russiese aanvalshommeltuie twee burgerlike skepe, die Emmakris III en Captain Karam, getref het toe hulle ’n Swartsee-hawe binnegevaar het om koring te laai.
Volgens die vloot, wat die voorval op Telegram aangekondig het, bedreig sulke aanvalle die lewe van burgerlikes en ondermyn dit wêreldwye voedselsekerheid.
Die aanval kom te midde van voortdurende spanning in die streek, waar Oekraïne een van die wêreld se grootste uitvoerders van graan is. Die Swartsee-roete is van kritieke belang vir die uitvoer van Oekraïense koring na internasionale markte.
Sedert die uitbreking van die oorlog het Rusland herhaaldelik Oekraïense hawens geteiken, wat wêreldwye kommer oor voedseltekorte en stygende pryse aanvuur. – Reuters
2025-12-30 14:28:11
Kragonderbreking kelder treine deur tonnel by Engelse Kanaal
Treinverkeer deur die Engelse Kanaal se tonnel sal Dinsdagmiddag geleidelik hervat word nadat alle treine vroeër na en van Londen opgeskort is weens ’n kragonderbreking.
Die kragtoevoer na die treine in die tonnel het Dinsdagoggend tegniese ingryping aan die kabels vereis. Eurostar, die operateur, het vroeër alle treine tussen Londen, Parys, Amsterdam en Brussel opgeskort weens die kragprobleem.
Die Eurostar-webwerf het ook aangedui dat sekere treine tussen Parys en Brussel vir Dinsdag en later gekanselleer is, hoewel dit nie duidelik is of dit met die kragonderbreking verband hou nie. – AFP
2025-12-30 14:33:31
Treine by Engelse Kanaal ontwrig

Mense gebruik ’n roltrap verby ’n uitbeelding van die Union Jack-vlag by die Gare du Nord in Parys, Frankryk, nadat Eurostar ’n kragprobleem in die tonnel wat Brittanje en Frankryk verbind aangekondig het. Foto: Reuters
2025-12-30 15:01:27
Diewe boor hul pad oop na miljoene in Duitse bank
Diewe het met behulp van ’n groot boor by ’n bankkluis in Gelsenkirchen, Wes-Duitsland, ingebreek en kontant en waardevolle items van sowat €30 miljoen (ongeveer R600 miljoen) gesteel.
Die diewe het toegang tot die kluis verkry deur depositobokse oop te breek waarin geld, goud en juweliersware gehou is. Volgens die polisie is die verdagtes steeds op vrye voet en ’n grootskaalse soektog is van stapel gestuur.
Die rooftog word as een van die grootste bankdiefstalle in Duitsland beskou.
Banke in Europa gebruik dikwels depositobokse vir kliënte se waardevolle besittings, wat dit ’n teiken vir georganiseerde misdaad maak. – AFP
2025-12-30 15:02:33
VAE onttrek ná lugaanval op Moekalla-hawe
Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het Dinsdag aangekondig dat hy sy oorblywende magte uit Jemen onttrek, nadat Saoedi-Arabië ’n oproep gesteun het dat VAE-troepe binne 24 uur die land moet verlaat.
Hierdie stap volg op ’n Saoedi-geleide lugaanval op die suidelike Jemense hawe Moekalla, waar ’n wapensending geteiken is wat glo met die VAE verbind word. Die aanval verteenwoordig die grootste eskalasie tot dusver in die groeiende geskil tussen die VAE en Saoedi-Arabië, twee van die belangrikste Golfmoondhede.
Die VAE en Saoedi-Arabië was tradisioneel bondgenote in die konflik in Jemen, maar onlangse meningsverskille oor die hantering van separatiste en die beheer oor strategiese gebiede lei egter tot spanning. – Reuters
2025-12-30 15:06:07
Almal hier tesame aan einde van die jaar

Gaste juig tydens ’n seremonie ter viering van die sluiting van die einde van die jaar se verhandelingsessie op die Tokio-aandelebeurs (TSE) in Tokio, Japan. Foto: AFP
2025-12-30 16:07:22
Skietvoorvalle in Swede daal, maar bendes bly probleem
Die aantal skietvoorvalle in Swede het die afgelope jaar met meer as die helfte gedaal, wys amptelike syfers.
Tot dusver vanjaar is 147 skietvoorvalle aangemeld, ’n afname van 63% teenoor 2022, toe 390 voorvalle aangemeld is, en 49% minder as in 2024. Die getal sterftes het egter onveranderd op 43 gebly, hoewel dit laer is as die 62 sterftes in 2022.
Die Sweedse regering het nuwe wetgewing ingestel wat onder meer anonieme getuies, meer toesig, strenger strawwe en “veiligheidsones” insluit. Gunnar Strömmer, Sweedse minister van justisie, sê die nuwe metodes begin vrugte afwerp, maar meer moet gedoen word.
Swede het sowat 17 500 aktiewe bendelede en werwing, veral aanlyn, bly ’n uitdaging. – Reuters
2025-12-30 16:08:16
Oekraïne, bondgenote hou beraad oor pogings om oorlog te beëindig
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Dinsdag aangekondig hy sal volgende week ’n beraad met leiers van die land se bondgenote in Frankryk hou te midde van verskerpte diplomatieke pogings om die oorlog te beëindig.
Volgens Zelenski sal die beraad voorafgegaan word deur ’n vergadering van veiligheidsadviseurs van die geallieerde lande wat op 3 Januarie in Oekraïne beplan word.
“Kort daarna sal besprekings op leiersvlak plaasvind – dié vergaderings is noodsaaklik. Ons beplan dit vir 6 Januarie in Frankryk,” skryf hy op X.
Sedert Rusland se inval in 2022 het Oekraïne op internasionale steun staatgemaak om weerstand te bied. Vergaderings met Westerse bondgenote is van kardinale belang vir die koördinering van militêre, humanitêre en diplomatieke hulp. – AFP
2025-12-30 16:09:59
Nasietrots

Soldate vou Taiwan se vlag op tydens ’n daagliks plegtigheid in Taipei waar dit by sonsopkoms gehys en weer gestryk word wanneer die son begin sak. Foto: Reuters
2025-12-30 17:05:00
Humanitêre situasie in Gasastrook katastrofies, waarsku ministers
Die ministers van buitelandse sake van 10 lande het Dinsdag hul “ernstige kommer” uitgespreek oor die verslegting van die humanitêre situasie in die Gasastrook wat hulle as “katastrofies” beskryf.
In ’n gesamentlike verklaring deur Brittanje, Kanada, Denemarke, Finland, Frankryk, Ysland, Japan, Noorweë, Swede en Switserland word beklemtoon dat 1,3 miljoen mense steeds dringende skuiling benodig, terwyl meer as die helfte van gesondheidsgeriewe slegs gedeeltelik funksioneer.
Die ministers versoek Israel om internasionale hulporganisasies toe te laat om volhoubaar te werk en onredelike beperkings op noodsaaklike invoere, soos mediese en skuilingstoerusting, op te hef. Hulle vra ook dat meer grensposte oopgestel word vir humanitêre hulp. Die verklaring verwelkom vordering met die vrylating van gyselaars, maar beklemtoon die voortdurende nood van burgerlikes in die Gasastrook. – AFP
2025-12-30 17:11:53
VSA stel sanksies in teen individue, entiteite in Iran en Venezuela oor wapens
Die Amerikaanse tesourie het Dinsdag aangekondig dat 10 individue en entiteite in Iran en Venezuela op sy sanksielys geplaas is weens hul betrokkenheid by wapenprogramme.
Onder die gesanksioneerdes is die Venezolaanse maatskappy Empresa Aeronautica Nacional SA (Eansa) en Jose Jesus Urdaneta Gonzalez, sy voorsitter, wat gehelp het met die vervaardiging en handel van onbemande hommeltuie vir Iran en Venezuela. Hy het glo namens Eansa met lede van die Venezolaanse en die Iranse weermag saamgewerk om hommeltuie te vervaardig. – Reuters
2025-12-30 17:17:27
Trekker-versperring

’n Lugfoto wys hoe boere se trekkers paaie in Krakow, Pole, versper tydens ’n betoging teen ’n handelsooreenkoms tussen die Europese Unie (EU) en Suid-Amerikaanse lande.
Foto: Reuters
2025-12-30 18:00:52
Venezolaanse oliehandel hou aan ondanks VSA-druk
Minstens twee olietenkskepe het Venezuela die afgelope paar dae bereik terwyl ander onderweg is, ten spyte van Amerika se verskerpte blokkade op vaartuie wat aan sanksies onderworpe is.
Pres. Donald Trump het vandeesmaand ’n blokkade aangekondig op alle skepe onder sanksies wat Venezolaanse waters binnegaan of verlaat, wat die land se olie-uitvoer tot die helfte van November se vlak laat daal het.
Amerika het reeds twee volgelaaide skepe met Venezolaanse olie in beslag geneem en hou die Karibiese See dop, wat baie skeepsoperateurs afskrik.
Venezuela gebruik steeds olie om skuld aan China af te betaal. PDVSA, die staatsoliemaatskappy, het laer pryse en nuwe kontrakte met kliënte beding om uitvoer aan die gang te hou. – Reuters
2025-12-30 18:03:51
Oorlogsone

Oekraïense soldate neem posisie in naby die frontlinie-dorpie Kostiantinifka, te midde van Rusland se aanval op Oekraïne, in die Donetsk-streek, Oekraïne. Foto: Oekraïense Gewapende Magte via Reuters
2025-12-30 19:00:03
Oekraïne, VSA 'bespreek ontplooiing van Amerikaanse troepe'
Pres. Wolodimir Zelenski het Dinsdag bevestig dat Oekraïne en Amerika samesprekings voer oor die moontlike teenwoordigheid van Amerikaanse troepe in Oekraïne as deel van sy veiligheidswaarborge.
Zelenski sê so ’n stap sou Oekraïne se veiligheid aansienlik versterk. Die Withuis het nog nie kommentaar gelewer oor die moontlikheid van Amerikaanse troepe in Oekraïne nie.
Pres. Donald Trump het intussen aangedui dat ’n vredesooreenkoms met Oekraïne “dalk baie naby” is, hoewel moeilike kwessies oor grondgebied steeds onopgelos bly. Rusland het sy onderhandelingsposisie verskerp ná bewerings van ’n Oekraïense aanval op ’n huis van pres. Wladimir Poetin.
Donald Tusk, Poolse premier, het ook verwys na die moontlikheid van Amerikaanse troepe in Oekraïne. – Reuters
2025-12-30 19:01:16
Eurostar-ontwrigting wek nuwe kommer oor diens
Dinsdag se ontwrigting van treine tussen Frankryk en Engeland is die jongste voorval wat Eurostar, die operateur, tref op ’n tydstip dat die maatskappy reeds kritiek ontvang oor sy hoë pryse, veral vir die roete tussen Parys en Londen.
’n Elektriese fout het in Augustus tot die kansellasie van Eurostar-dienste en ernstige vertragings op ander roetes gelei. Die diefstal van kabels op treinspore in Noord-Frankryk het in Junie twee dae lank probleme veroorsaak.
Die tonnel loop reg onder die Engelse Kanaal deur en verbind Folkestone in Engeland met Coquelles in Frankryk. Ongeveer 37,9 km van die tonnel se totale lengte van 50,46 km is onder water, wat dit die wêreld se langste ondersese tonnel maak. – AFP
2025-12-30 19:06:56
Woede vat vlam

Somaliërs verbrand die Israeliese vlag en ’n foto van Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, tydens ’n betoging in Mogadisjoe nadat Israel die eerste land geword het wat die selfverklaarde Republiek van Somaliland formeel as ’n onafhanklike en soewereine staat erken het. Dit is ’n besluit wat die streeksdinamika kan hervorm en Somalië se jarelange teenkanting teen afskeiding kan toets. Foto: Reuters
2025-12-30 19:59:24
Disney gestraf oor kinders se data op YouTube
Die Walt Disney Maatskappy het ingestem om ’n boete van $10 miljoen (sowat R166 miljoen) te betaal as deel van ’n skikking nadat die Amerikaanse departement van justisie aangevoer het dat Disney kinderprivaatheidswette oortree het.
Ingevolge die hofbevel mag Disney nie langer op YouTube werk op ’n manier wat die Amerikaanse wet op die beskerming van kinders se privaatheid aanlyn (Coppa) oortree nie. Disney moet nou ’n program instel om te verseker dat hy in die toekoms aan die wet voldoen wanneer hy inhoud op YouTube aanbied.
Die wet vereis dat webwerwe en aanlyn dienste wat op kinders onder 13 jaar oud gemik is, ouers inlig oor watter persoonlike inligting versamel word en eers hul toestemming kry. – Reuters
2025-12-30 20:00:55
JFK se kleindogter sterf aan seldsame kanker
Tatiana Schlossberg, kleindogter van die 35ste Amerikaanse president, John F. Kennedy, is Dinsdag op 35-jarige ouderdom oorlede.
Haar familie het haar dood aangekondig in ’n plasing op sosiale media deur die John F. Kennedy Presidensiële Biblioteek en Museum. “Ons pragtige Tatiana is vanoggend oorlede. Sy sal altyd in ons harte wees,” het die familie geskryf. Schlossberg was ’n joernalis wat op klimaatsverandering en die omgewing gefokus het, en die tweede kind van Caroline Kennedy, voormalige Amerikaanse diplomaat, en Edwin Schlossberg, ’n ontwerper en kunstenaar.
Schlossberg het in November bekendgemaak dat ’n seldsame vorm van akute miëloïede leukemie, ’n kanker van die bloed en beenmurg, by haar gediagnoseer is.
Sy het destyds ook haar neef, Robert F. Kennedy jr., Amerikaanse minister van gesondheid, gekritiseer oor sy skeptisisme rakende entstowwe en die vermindering van finansiering vir kankernavorsing. – Reuters
2025-12-30 20:09:06
Is Kersvader dan nog hier rond?

’n Straatkunstenaar, geklee as Kersvader, maak seepborrels in Parys, Frankryk. Foto: AFP















