

2026-01-12 03:35:48
Meer as 500 dood weens betogings in Iran
Meer as 500 mense is glo al in die onrus in Iran dood.
Die menseregteorganisasie HRANA het Sondag sy jongste stertesyfers van aktiviste binne en buite Iran bekend gemaak. Hiervolgens is die dood van 490 betogers en 48 veiligheidspersoneel geverifieer. HRANA is in Amerika gesetel.
Meer as 10 600 mense is intussen al in hegtenis geneem sedert die betogings twee weke gelede uitgebreek het.
Iran het nie ’n amptelike telling gegee nie en Reuters kon nie die tellings onafhanklik verifieer nie. – Reuters
2026-01-12 03:51:42
Volksmoordsaak teen Mianmar begin in Wêreldhof
’n Saak wat Mianmar van die pleeg van volksmoord beskuldig, sal Maandag by die Verenigde Nasies se Internasionale Geregshof (Wêreldhof) begin.
Gambië het die saak in 2019 aanhangig gemaak en Mianmar beskuldig van die pleeg van volksmoord teen die Rohingia, ’n hoofsaaklik Moslem-minderheidsgroep in die afgeleë staat Rakhine in die weste van Mianmar.
Mianmar se gewapende magte het in 2017 ’n offensief geloods wat minstens 730 000 Rohingia uit hul huise na die naburige Bangladesj gedwing het, waar hulle moorde, massaverkragting en brandstigting beskryf het. – Reuters
2026-01-12 04:07:58
Navo moet operasie in Arktiese gebied loods, sê België
Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) moet ’n operasie in die Arktiese gebied loods in reaksie op Amerika se bekommernisse, het Theo Francken, België se minister van verdediging, aan Reuters gesê.
Dit kom te midde van toenemende kommer in Europa oor pres. Donald Trump se dreigemente om beheer oor Groenland te verkry.
“Ons moet saamwerk, saamspan en krag en eenheid toon,” sê Francken.
Trump sê Amerika moet Groenland besit om te verhoed dat Rusland of China dit in die toekoms beset. – Reuters
2026-01-12 04:32:14
Israel hoop Iran-protes bevry land van ‘juk van tirannie’
Israel monitor die betogings in Iran noukeurig, het Benjamin Netanyahu, premier van Israel, Sondag gesê.
“Die demonstrasies vir vryheid het oor die land heen versprei. Die volk van Israel – en inderdaad die hele wêreld – bewonder die geweldige moed van die burgers van Iran,” sê Netanyahu.
“Ons almal hoop dat die Persiese nasie binnekort van die juk van tirannie bevry sal word.” – Reuters
2026-01-12 05:39:41
Een dood in Israeli-aanval op Libanon
Een persoon is dood toe die Israeliese weermag Sondag verskeie aanvalle op die suide van Libanon uitgevoer het.
Die Libanese ministerie van gesondheid sê ’n “Israeliese vyandelike aanval op ’n motor in die stad Bent Djbeil het tot die dood van een burger gelei”.
Die Israeliese weermag sê die aanval was teen ’n lid van Hezbollah. – AFP
2026-01-12 06:05:40
Trump as ‘waarnemende president van Venezuela’ beskryf
Pres. Donald Trump het Sondagaand wat blyk ’n vals skermgreep van Wikipedia te wees op sy platform Truth Social gedeel waarin hy as die “waarnemende president van Venezuela” beskryf word.
Dit is onbekend waar Trump die skermgreep gekry het. Hy het niks by die skermgreep geskryf nie. Trump se profiel op Wikipedia het hom Maandag slegs as die president van Amerika beskryf.
Delcy Rodríguez is die waarnemende president van Venezuela nadat Amerika pres. Nicolás Maduro op 3 Januarie uit sy amp verwyder en gevange geneem het.

Die skermgreep wat Trump op Truth Social gedeel het. Foto: Truth Social
2026-01-12 07:03:18
Woede nadat Australiese Palestynse skrywer van kunsfees verbied is
Tientalle skrywers het hulle aan ’n topkunstefees in Australië onttrek weens ’n besluit om ’n Australiese Palestynse skrywer te verbied.
Dit kom terwyl pogings om antisemitisme te bekamp tot kommer oor vryheid van spraak lei.
Dit het gebeur nadat 15 mense doodgeskiet is by ’n Joodse Hanukkah-viering op Bondi-strand in Sydney op 14 Desember.
Die Adelaide Festival-raad het Donderdag gesê hy sal dr. Randa Abdel-Fattah se uitnodiging herroep omdat “dit nie kultureel sensitief sal wees” om haar op die program te hou “in hierdie ongekende tyd so kort ná (die Bondi-skietery) nie”. – Reuters
2026-01-12 07:08:03
Nog buitelanders deur Venezuela vrygelaat
Venezuela het twee Italiaanse burgers uit die gevangenis vrygelaat, het Giorgia Meloni, premier van Italië, Maandag gesê.
’n Vliegtuig is op pad vanaf Rome om hulle huis toe te bring.
Venezuela se leierskorps het op 8 Januarie gesê hy gaan ’n aansienlike aantal gevangenes vrylaat, onder wie buitelandse burgers, as ’n gebaar van welwillendheid.
Dit volg nadat pres. Nicolás Maduro deur Amerika omvergewerp en gevange geneem is. – Reuters
2026-01-12 07:28:37
Situasie in Iran ‘onder beheer’
Die situasie in Iran is “volkome onder beheer” nadat geweld wat met betogings verband hou oor die naweek toegeneem het, sê Abbas Aragtsji, minister van buitelandse sake van Iran, Maandag via 'n Engelse vertaling van 'n verklaring.
Aragtsji het bygevoeg dat pres. Donald Trump se waarskuwing teen Teheran indien hulle teen die betogers optree, “terroriste” gemotiveer het om betogers en sekerheidsmagte te teiken om buitelandse inmenging uit te lok. – Reuters
2026-01-12 08:04:23
China gekant teen buitelandse inmenging in Iran
China het Maandag gesê hy is gekant teen buitelandse “inmenging” in ander lande nadat pres. Donald Trump gedreig het om militêr in te gryp as Teheran teen betogers optree.
“Ons is altyd in verset teen inmenging in ander lande se interne aangeleenthede,” het Mao Ning, woordvoerder van China se departement van buitelandse sake, gesê toe sy gevra is oor Trump se opmerkings.
“Ons doen ’n beroep op alle partye om meer dinge te doen wat bevorderlik is vir vrede en stabiliteit in die Midde-Ooste,” het sy bygevoeg. – AFP
2026-01-12 08:16:09
China maan Amerika ná opmerkings oor Groenland
China het Maandag Amerika aangemoedig om nie ander lande as ’n verskoning te gebruik om sy eie belange na te streef nie.
Dit kom nadat pres. Donald Trump gesê het Amerika moet beheer neem van Groenland om te verhoed dat Rusland of China dit in die toekoms beset.
“Die Noordpoolstreek raak die algehele belange van die internasionale gemeenskap,” het Mao Ning, woordvoerder van China se ministerie van buitelandse sake, op ’n mediakonferensie gesê.
Sy sê China se aktiwiteite in die Noordpoolstreek is daarop gemik om vrede, stabiliteit en volhoubare ontwikkeling in die streek te bevorder. – Reuters
2026-01-12 09:32:58
Mexiko, Amerika praat ná Trump se dreigement oor grondaanvalle
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Sondag met sy Mexikaanse ampsgenoot, Juan Ramon de la Fuente, gepraat dae nadat pres. Donald Trump gedreig het om grondaanvalle op dwelmkartelle in Mexiko te loods.
“(Hulle) het gepraat oor die behoefte aan sterker samewerking om Mexiko se gewelddadige narkoterroris-netwerke te ontmantel en die smokkelary van fentaniel en wapens te stop," sê Tommy Pigott, ’n woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake. – Reuters
2026-01-12 10:04:05
Mianmar wou Rohingia vernietig, sê Gambië
Mianmar se weermag het doelbewus die Rohingia, ’n hoofsaaklik Moslem-minderheidsgroep, geteiken in ’n poging om die gemeenskap te vernietig, het Dawda Jallow, Gambië se minister van justisie, Maandag aan die Verenigde Nasies se Internasionale Geregshof (Wêreldhof) gesê.
“Dit gaan nie oor esoteriese kwessies van internasionale reg nie. Die Rohingia van Mianmar is geteiken vir uitwissing,” het Jallow gesê.
Vroeër is berig dat Gambië die saak in 2019 aanhangig gemaak het en Mianmar beskuldig van die pleeg van volksmoord. – AFP
2026-01-12 10:28:12
‘Geniale’ sjimpansee sterf
Ai, ’n geniale sjimpansee wat meer as 100 Chinese karakters en die Engelse alfabet kon herken, is dood, het Japannese navorsers gesê.
Ai (49) het deelgeneem aan studies oor waarneming, leer en geheue wat menslike begrip rakende die intelligensie van primate bevorder het, het die Universiteit van Kioto in Japan in ’n verklaring gesê. Sy het Vrydag gesterf aan meervoudige orgaanversaking en ouderdomverwante kwale.
Benewens die bemeestering van Chinese karakters en die alfabet, kon Ai ook die Arabiese syfers van nul tot nege en 11 kleure identifiseer. – AFP
2026-01-12 12:14:39
116 politieke gevangenes van Venezuela vrygelaat
Venezuela het Maandag gesê 116 politieke gevangenes is vrygelaat sedert die regering verlede week aangekondig het dat hulle diegene wat tronk toe gestuur is onder pres. Nicolás Maduro, wat deur Amerika gevangene geneem is, sal begin bevry.
“Hierdie maatreëls het individue bevoordeel wat hul vryheid ontneem is weens dade wat verband hou met die ontwrigting van die grondwetlike orde en die ondermyning van die nasie se stabiliteit,” het die ministerie van die strafdiens in ’n verklaring gesê. – AFP
2026-01-12 12:47:37
Brand in Alpe: Mede-eienaar van kroeg bly in aanhouding
’n Switserse hof het Maandag beveel dat die mede-eienaar van die kroeg in die luukse ski-oord Crans-Montana, wat op Nuwejaarsdag aan die brand geraak het, in aanhouding moet bly.
Die hof het in ‘n verklaring gesê Jacques Moretti vir ’n tydperk van drie maande aangehou sal word, maar dat dit hersien kan word indien maatreëls getref word om te keer dat Moretti op die vlug slaan.
Aanklaers van die Wallis-kanton het aanvanklik Vrydag beveel dat Moretti aangehou word ná 'n lang verhoor van hom en sy vrou, Jessica, hangende 'n besluit of dit geregverdig is.
Die egpaar het hul hartseer oor die brand uitgespreek en gesê hulle sal ten volle met die ondersoek saamwerk. – Reuters

Jacques en Jessica Moretti, die egpaar wat die Switserse kroeg in die ski-oord Crans-Montana bestuur het wat gedurende 'n Oujaarsaandpartytjie gebrand het. Foto: Reuters
2026-01-12 13:12:07
Spaanse owerhede lê beslag op byna 10 ton kokaïen op vragskip
Die Spaanse polisie het hul grootste kokaïenbeslaglegging ter see uitgevoer toe ’n vragskip wat byna 10 ton van dié dwelm vervoer het, geskut is.
Beamptes het die vaartuig, onder die vlag van Kameroen onderweg na Europa vanaf Brasilië, voorgekeer en beslag gelê op 9 994 kg kokaïen wat in ’n soutbesending versteek was.
Altesaam 13 bemanningslede is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op ’n vuurwapen. Owerhede van Amerika, Brasilië, Brittanje, Frankryk en Portugal was daarby betrokke. Spanje se bande met Latyns-Amerika en die nabyheid van Marokko maak dit ’n belangrike Europese toegangspunt vir dwelms. – AFP
2026-01-12 13:26:04
‘Ons is nog nie daar nie,’ sê die EU oor gesprekke met Poetin
Die Europese Unie (EU) het Maandag gesê die tyd is nog nie reg om met pres. Wladimir Poetin van Rusland oor die oorlog in Oekraïne te praat nie. Dít nadat die leiers van Frankryk en Italië gesê het dit is tyd dat Europa weer betrokke raak.
“Daar sal in ‘n stadium gesprekke moet wees, ook met pres. Poetin, en intussen word baie werk daaraan gedoen. Ongelukkig sien ons geen tekens van pres. Poetin dat hy vir ons betrokkenheid oop is nie,” het Paula Pinho, EU-woordvoerder, gesê.
“Ons is nog nie daar nie, maar ons hoop inderdaad dat daar die een of ander tyd sulke samesprekings sal wees, wat uiteindelik tot vrede in Oekraïne sal lei.” – AFP
2026-01-12 13:40:03
Brittanje se mediareguleerder ondersoek X oor 'onwettige, seksueel eksplisiete beelde'
Brittanje se mediareguleerder, Ofcom, het ’n ondersoek na Elon Musk se X begin om vas te stel of sy Grok AI-kletsbot versuim het om Britse gebruikers teen moontlike onwettige inhoud te beskerm.
“Daar was kommerwekkende berigte rakende die Grok AI-kletsbot op X wat gebruik word om naakbeelde van mense te skep en te deel – wat kan neerkom op misbruik van eksplisiete beelde of pornografie,” sê Ofcom, wat ook kommer uitgespreek het oor “geseksualiseerde beelde van kinders wat kan neerkom op beeldmateriaal vir seksuele misbruik van kinders”.
X het geantwoord dat hy onwettige inhoud verwyder, rekeninge opskort en saam met owerhede werk, en het gesê gebruikers wat die Grok AI-kletsbot aanspoor om onwettige inhoud te skep, dieselfde gevolge sal ervaar as dié wat sulke materiaal oplaai. – Reuters
2026-01-12 14:03:57
Senior Russiese amptenaar dood aangetref: 'Waarskynlik selfdood'
’n Senior Russiese amptenaar is dood aangetref by die land se ambassade in Ciprus. ’n Nadoodse ondersoek het getoon dat die oorsaak “waarskynlik selfdood” was, het ’n polisiebron Maandag gesê.
Die man se lyk is verlede Donderdag in sy kantoor ontdek en die polisie is na die ambassade ontbied, maar beamptes is nie toegelaat om die kompleks binne te gaan om ondersoek in te stel nie, het plaaslike media berig. Die lyk is eerder in die ambassade se binnehof aan die polisie oorhandig.
Die amptenaar se naam is nie genoem nie. – AFP
2026-01-12 14:24:34
Kuba ontken gesprekke met VSA
Pres. Miguel Díaz-Canel van Kuba het Maandag gesê dat daar geen gesprekke met die Amerikaanse regering is nie.
Dít is glo in reaksie op opmerkings deur pres. Donald Trump wat Sondag aan joernaliste gesê het dat Amerika “met Kuba praat” en nie duidelikheid verskaf het waaroor die gesprekke handel nie.
Hy het bygevoeg dat geen geld of olie van Venezuela meer na Kuba sou gaan nie. – Reuters
2026-01-12 14:52:37
Rekordgetal passasiers by Heathrow-lughawe in 2025
Brittanje se Heathrow-lughawe het Maandag gesê hy het verlede jaar meer as 84 miljoen reisigers verwelkom – ’n rekordgetal vir die Londense lughawe in die aanloop tot groot opknappings.
Heathrow, Europa se besigste lughawe, het aan ’n nuwe aanloopbaan begin werk om “nog meer verbintenis, handel en ekonomiese groei” vir die land te ontsluit, het Thomas Woldbye, uitvoerende hoof, in ’n verklaring gesê.
Die lughawe het bykans 7,2 miljoen passasiers verlede maand ontvang, die hoogste getal tot nog toe in Desember. – AFP
2026-01-12 15:19:49
Groenland sê Navo behoort hom te verdedig
Groenland se regering het Maandag gesê hy sal sy pogings verskerp om toe te sien dat dié Arktiese gebied deur Navo verdedig word en het weer die onderneming van pres. Donald Trump van die VSA verwerp om die eiland oor te neem.
“Alle Navo-lidlande, die VSA inkluis, het ’n gemeenskaplike belang by die verdediging van Groenland,” het die eiland se koalisieregering in ’n verklaring gesê.
Die eiland is ’n outonome gebied van Denemarke. – Reuters
2026-01-12 15:44:01
Burgerlike sterftes verlede jaar in Oekraïne die hoogste sedert 2022, sê VN
Monitors van die Verenigde Nasies (VN) het meer burgerlike sterftes in Oekraïne in 2025 aangeteken as in enige ander jaar behalwe 2022, namate konflik langs die frontlinie opgevlam en Rusland sy gebruik van langafstandwapens uitgebrei het.
Burgerlike slagoffers in Oekraïne in 2025 sluit in minstens 2 514 sterftes en 12 142 mense wat gewond is – 31% meer as in 2024, het die kantoor van die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte gesê. – AFP
2026-01-12 15:55:28
VSA se militêre optrede in Mexiko eers van baan, sê president
Pres. Claudia Sheinbaum van Mexiko het Maandag gesê dat militêre optrede deur die VSA in Mexiko vir eers uitgesluit is, ná ’n oproep met pres. Donald Trump.
Sheinbaum het tydens haar nuuskonferensie die oggend gesê dat sy die militêre optrede wat Trump aangebied het, van die hand gewys het.
“Ons gaan voort om saam te werk binne die raamwerk van ons soewereiniteit,” het sy bygevoeg. – Reuters
2026-01-12 16:36:34
Iran ontbied Europese gesante oor steun aan betogings
Iran het Maandag diplomate in Teheran ontbied wat Frankryk, Duitsland, Italië en Brittanje verteenwoordig om beswaar te maak teen wat hy beskryf as dié lande se steun aan die betogings in die Islamitiese republiek, het sy ministerie van buitelandse sake gesê.
Die diplomate is ’n video gewys van die skade wat tydens onluste aangerig is en gevra dat hul regerings “amptelike verklarings wat die betogers steun, moet terugtrek”, lui ’n verklaring van die ministerie. – AFP
2026-01-12 16:57:30
Le Pen se politieke lot op die spel met appèlsaak
Die regse Franse leier Marine le Pen begin vandeesweek in Parys met ’n deurslaggewende appèl wat sal bepaal of sy as kandidaat in die 2027-presidentsverkiesing kan staan, nadat sy verbied is om ’n openbare ampsdraer te wees weens ’n skuldigbevinding aan die misbruik van geld.
Le Pen, leier van die Rassemblement National (RN), en ander is verlede jaar skuldig bevind aan die onregmatige aanwending van meer as €4 miljoen van die Europese Unie (EU). – Reuters
2026-01-12 17:03:18
Rusland veroordeel ‘buitelandse inmenging’ in Iran
Rusland het Maandag “pogings deur buitelandse moondhede” veroordeel om by Iran in te meng nadat Amerika gedreig het om in te gryp in die Islamitiese republiek se dodelike, hardhandige optrede teen betogers.
Rusland veroordeel “nog ’n poging deur buitelandse moondhede om in Iran se binnelandse sake in te meng,” het Sergei Sjoigoe, Rusland se minister van verdediging, in ’n oproep met sy Iranse ampsgenoot gesê, berig die staatsmedia. – AFP
2026-01-12 17:42:00
Supertenkskepe van China op pad na Venezuela draai om – skeepsdata
Twee supertenkskepe wat onder China se vlag vaar en op pad na Venezuela was om ruolie op te tel om skuld aan die Asiatiese land af te betaal, het omgedraai en is nou op pad terug na Asië, het LSEG-skeepsdata Maandag gewys.
Die baie groot tenkskepe Xingye en Thousand Sunny het weke lank in die Atlantiese Oseaan geanker gebly en op instruksies gewag te midde van Amerika se versperring en Venezuela se politieke krisis. – Reuters
2026-01-12 17:56:44
VSA trek 100 000 visums terug sedert Trump se 2de termyn begin
Amerika het meer as 100 000 visums teruggetrek sedert pres. Donald Trump se tweede termyn begin het op grond van ’n anti-migrant-beleid, ’n rekord vir ’n enkele jaar, het die staatsdepartement Maandag gesê.
“Die Trump-administrasie het geen hoër prioriteit as die beskerming van Amerikaanse burgers en die handhawing van Amerikaanse soewereiniteit nie,” sê Tommy Pigott, woordvoerder van die staatsdepartement. Die syfer sedert Trump se tweede inhuldiging op 20 Januarie 2025 is twee en ’n half keer die getal wat in 2024 herroep is, in oudpres. Joe Biden te termyn. – AFP
2026-01-12 18:38:32
Trump ontvang Venezolaanse opposisieleier Donderdag by Withuis
Pres. Donald Trump van Amerika sal die Venezolaanse opposisieleier en Nobelpryswenner Maria Corina Machado Donderdag by die Withuis ontvang, sê ’n senior administrasiebeampte.
Die president het voorgestel dat Machado haar prys aan hom kan oorhandig. Amerika het die moontlike rol wat sy in haar land se nuwe leierskorps kan speel, tot dusver geïgnoreer sedert die inhegtenisneming van pres. Nicolás Maduro. – AFP
2026-01-12 19:02:47
Lasbrief uitgereik vir inhegtenisneming van oudassistent van Netanyahu
Die Israeliese polisie het Maandag ’n lasbrief uitgereik vir ’n voormalige assistent van Benjamin Netanyahu, premier van Israel, wat daarvan beskuldig word dat hy betrokke was by twee sake waarby die premier se kantoor betrokke is.
Israel Einhorn, voormalige raadgewer van Netanyahu wat deesdae in Serwië woon, verskyn op ’n lys van mense wat die polisie van betrokkenheid by die “Bild-aangeleentheid” verdink.
Die Bild-aangeleentheid behels die uitlap van geklassifiseerde inligting oor die Israeliese weermag aan die Duitse poniekoerant Bild in September 2024. Twee ander Netanyahu-assistente is in hegtenis geneem en aangekla in verband daarmee. – AFP
2026-01-12 19:05:46
Sowat 50 sterf toe boot in Mali omslaan
’n Boot het naby die legendariese noordelike Malinese stad Timboektoe omgeslaan en verskeie mense is dood, het die streekgoewerneur Maandag gesê.
Sowat 50 mense was glo aan boord met hul bagasie toe die vaartuig laat Donderdag gesink het, sê die goewerneur. “Luidens die voorlopige verslae was die sinking waarskynlik te wyte aan die nienakoming van navigasiereëls. Verskeie mense het hul lewe verloor, ander word vermis en aansienlike wesenlike verliese is aangeteken,” lui ’n verklaring. – AFP
2026-01-12 19:44:06
Nienoodsaaklike personeel verlaat Franse ambassade in Iran
Nienoodsaaklike Franse ambassadepersoneel het Iran verlaat, het twee bronne met kennis van die saak Maandag gesê, terwyl die Islamitiese Republiek se owerhede teen betogings in die land opgetree het.
Die personeel het Sondag en Maandag vertrek, het die bronne bygevoeg sonder om te sê hoeveel mense vertrek het. Die ambassade in Teheran beslaan gewoonlik sowat 30 werknemers, asook tientalle plaaslike personeellede. – AFP
2026-01-12 19:53:34
Israel neem binnekort deel aan halfeindstryd van Eurovision
Israel sal volgens die trekking Maandag aan die eerste halfeindstryd van die Eurovision-sangkompetisie op 12 Mei in Wene deelneem, terwyl vyf lande vanjaar wegbly weens Israel se deelname.
Die wêreld se grootste regstreekse TV-musiekgeleentheid is vasgevang in sy grootste politieke boikot tot nog toe, met net 35 lande wat gaan deelneem. Israel sal Maandag teen 14 ander lande meeding, onder wie die vorige Eurovision-wenners Estland, Finland, Griekeland, Portugal, Serwië en Swede, om plekke in die eindstryd van 16 Mei. – AFP
2026-01-12 20:47:55
Wêreld moet Iran help om verandering te bewerkstellig, sê Zelenski
Die wêreld moet Iraniërs help om op betogings voort te bou en verandering te bewerkstellig wat hulle sal bevry van ’n bewind wat boosheid oor hul eie land en ander lande, onder wie Oekraïne, gebring het, het pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne Maandag gesê.
Zelenski beskryf in ’n videotoespraak die landwye betogings in Iran as ’n “opstand” en dit wys dat Rusland sy noue betrekkinge met Iran moet heroorweeg. – Reuters
2026-01-12 20:55:01
VSA ‘geskroef’ as hoogste hof teen tariewe beslis, sê Trump
Amerika sal “geskroef” wees as die hooggeregshof beslis dat sommige van sy tariewe onwettig is, het pres. Donald Trump Maandag gesê.
Trump skryf op sy sosialemediaplatform, Truth Social, honderdmiljarde dollars sou aan Amerikaanse maatskappye terugbetaal moes word indien teen die vlagskip van sy ekonomiese beleid beslis word.
Hy sê dit sluit ook nie die “terugbetaling” in wat lande en maatskappye sou eis vir beleggings om die tariewe te vermy nie. – AFP
2026-01-13 03:44:15
Minstens 1 dood in aanvalle op Oekraïne
Minstens een persoon is dood toe Russiese magte vroeg Dinsdag aanvalle op Oekraïne se twee grootste stede geloods het.
Timoer Tkatsjenko, hoof van Kijif se militêre administrasie, sê die hoofstad het onder missielaanvalle deurgeloop. Lugverdediging is in werking gestel.
Reuters-ooggetuies het ontploffings in die stad gehoor, maar daar was geen onmiddellike berigte oor ongevalle of skade nie.
Minstens een persoon is dood en drie beseer in aanvalle op die stad Charkif. – Reuters
2026-01-13 03:54:15
4 dood in Ice-aanhouding in eerste 10 dae van 2026
Vier migrante is binne die eerste 10 dae van 2026 dood terwyl hulle in aanhouding van Amerika se immigrasie-owerhede was.
Twee migrante van Honduras, een van Kuba en een van Kambodja is van 3 tot 9 Januarie dood, volgens die Amerikaanse agentskap vir immigrasie- en doeanetoepassing (Ice).
Minstens 30 mense is in 2025 dood terwyl hulle in Ice se aanhouding was, die hoogste dodetal in twee dekades. – Reuters
2026-01-13 04:33:04
Dodetal in Iran styg tot 648, kan egter baie hoër wees – menseregtegroep
Die dodetal in die optrede van die veiligheidsmagte teen die betogings in Iran het tot 648 gestyg, volgens die organisasie Iran Human Rights (IHR) , wat in Noorweë geleë is.
Die organisasie waarsku egter die dodetal is waarskynlik baie hoër en “volgens sommige beramings meer as 6 000”.
Internettoegang is sedert Dinsdag afgesny, wat dit moeilik maak om verslae oor die dodetal onafhanklik te bevestig.
Meer as 10 000 mense is na raming in hegtenis geneem.
Die betogings het op 28 Desember begin en was aanvanklik in reaksie op stygende pryse, maar is nou gemik op die geestelike heersers wat Iran sedert die Islamitiese Revolusie in 1979 regeer. – Reuters
2026-01-13 05:27:34
VSA se huis van verteenwoordigers keur hernuwing van Agoa goed
Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Maandag ’n wetsontwerp aangeneem wat Washington se handelsprogram vir sommige Afrikalande tot 2028 sal hernu.
Die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is vir die eerste keer in 2000 uitgevaardig om belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir geskikte lande Suid van die Sahara en produkte te verskaf.
Die wetsontwerp sal volgende na die senaat gaan.
Netwerk24 het voorheen berig die wetsontwerp wat in September vir hernuwing by die Amerikaanse kongres ingedien is, maak voorsiening daarvoor dat Suid-Afrika uit Agoa geskop word. – Reuters
2026-01-13 05:49:32
Dodetal styg tot 4 in oornagaanvalle op Oekraïne
Die dodetal weens die Russiese aanvalle op Oekraïne oornag het tot vier gestyg. Vroeër is berig Russiese magte het vroeg Dinsdag aanvalle op Oekraïne se twee grootste stede uitgevoer.
Die vier sterftes was in die stad Charkif. Ses mense is beseer, volgens die owerhede.
Kanale op Telegram wat Oekraïne monitor, het gesê ongeveer 20 ballistiese missiele is binne ongeveer ’n uur oornag op Kijif geloods.
Reuters kon nie die Telegram-plasings onafhanklik verifieer nie. – AFP, Reuters
2026-01-13 06:09:08
Franse boere betoog voort oor handelsooreenkoms
Franse boere het Dinsdag vir die tweede keer in ’n week op trekkers in Parys gery om te betoog teen ’n handelsooreenkoms van die Europese Unie (EU).
Die boere sê die ooreenkoms bedreig plaaslike landbou deur onregverdige mededinging met goedkoper Suid-Amerikaanse invoer te skep.
Boere in Frankryk, die EU se grootste landbouprodusent, en ander lidstate betoog al maande oor die EU-Mercosur-ooreenkoms en talle plaaslike griewe. Dinsdag se betoging is gereël deur een van Frankryk se grootste boereverenigings. – AFP
2026-01-13 08:01:39
Carney vertrek vir belangrike besoek na China
Mark Carney, premier van Kanada, vertrek Dinsdag na China, waar hy handel en internasionale sekuriteit sal bespreek.
Dit kom op ’n tyd wanneer Kanada onsekere betrekkinge met Amerika het weens ’n handelsoorlog en dreigemente deur pres. Donald Trump om die land te annekseer.
Dit is die eerste besoek aan Beijing deur ’n Kanadese premier sedert 2017 en kan ’n kritieke verskuiwing in betrekkinge tussen die twee lande aandui terwyl Kanada nuwe vennote vir handel en sekuriteit soek. – Reuters
2026-01-13 08:02:18
Australiese tiener vas weens beweerde fop-oproepe oor massaskietvoorvalle
’n Australiese tienerseun is aangekla in verband met oproepe aan nooddienste oor vals massaskietvoorvalle in Amerika wat wydverspreide kommer veroorsaak het, het die polisie Dinsdag gesê.
Die Australiese federale polisie het inligting by Amerika se federale speurdiens (FBI) ontvang oor ’n lid van ’n aanlyn misdaadnetwerk wat glo betrek word by die fop-oproepe wat beweer dat skietvoorvalle aan die gang is by Amerikaanse supermarkte en universiteite.
Die polisie het verlede maand ’n lasbrief by die seun se huis in die deelstaat Nieu-Suid-Wallis uitgevoer. – Reuters
2026-01-13 08:03:28
Top- Australiese skrywersfees gekanselleer weens ‘anti-Palestynse sensuur’
Een van Australië se topskrywersfeeste is Dinsdag gekanselleer nadat 180 skrywers die geleentheid geboikot het weens ’n besluit om ’n Australies-Palestynse skrywer se deelname aan die fees te verbied.
Die Adelaide Festival-raad het Donderdag gesê hy sal dr. Randa Abdel-Fattah se uitnodiging terugtrek omdat “dit nie kultureel sensitief sal wees” om haar op die program te hou “in hierdie ongekende tyd so kort ná (die Bondi-skietery) nie”.
Altesaam 15 mense is doodgeskiet tydens ’n Joodse Hanukka-viering op Bondi-strand in Sydney op 14 Desember.
Abdel-Fattah sê die besluit was “ ’n ooglopende en skaamtelose daad van anti-Palestynse rassisme en sensuur”. – Reuters
2026-01-13 08:04:33
Verliese weens natuurrampe daal, maar steeds ‘kommerwekkend’
Wêreldwyd het verliese weens natuurrampe skerp gedaal tot $224 miljard in 2025, het die maatskappy Munich Re, ’n herversekeraar, gesê. Die syfer is byna 40% laer as ’n jaar tevore, gedeeltelik omdat daar vir die eerste keer in verskeie jare geen orkaan die Amerikaanse vasteland getref het nie.
Die maatskappy waarsku egter teen ’n “kommerwekkende” tendens van uiterste weergebeurtenisse wat waarskynlik deur klimaatsverandering gedryf is.
Versekerde verliese vir 2025 het gedaal tot $108 miljard.
Die duurste ramp van die jaar was die Los Angeles-brande in Januarie, met verliese van $53 miljard. – AFP
2026-01-13 08:05:23
Betogers benodig steun van internasionale gemeenskap, sê Irannese rolprentvervaardiger
Die onderdrukking in Iran teiken “weerlose” mense wat die ondersteuning van die internasionale gemeenskap benodig om die huidige bestel te beëindig, het Djafar Panahi , ’n prominente Irannese rolprentvervaardiger, Dinsdag gesê.
“Die Irannese mense is vandag weerloos en ten spyte daarvan, is hulle in die strate (om protes aan te teken),” het hy aan die uitsaaier France Inter gesê terwyl hy die wreedheid van die onderdrukking veroordeel het. – AFP
2026-01-13 08:30:52
Ugandese regering beveel organisasies om werk te staak 2 dae voor verkiesing
Uganda se regering het twee plaaslike menseregteorganisasies beveel om hul werk te staak enkele dae voor Donderdag se verkiesing.
Volgens die Verenigde Nasies (VN) se kantoor vir menseregte vind die verkiesings in ’n atmosfeer van “onderdrukking en intimidasie” plaas.
Pres. Yoweri Museveni (81) poog om sy heerskappy van vier dekades te verleng.
Museveni het in 1986 aan bewind gekom nadat hy ’n opstand van vyf jaar lank gelei het. Hy het die grondwet twee keer verander om beperkings op ouderdom en termyne te verwyder. – Reuters
2026-01-13 09:01:06
Voormalige Britse ambassadeur vra om verskoning weens vriendskap met Epstein
Peter Mandelson, voormalige Britse ambassadeur in Washington, het om verskoning gevra aan die slagoffers van wyle Jeffrey Epstein weens sy vriendskap met die veroordeelde seksoortreder.
Mandelson is gekritiseer nadat hy versuim het om verskoning te vra in ’n onderhoud wat Sondag op televisie uitgesaai is. Dit was sy eerste onderhoud sedert hy in September uit sy pos ontslaan is weens die kwessie.
“Ek was verkeerd om hom te glo ná sy skuldigbevinding en om my verband met hom daarna voort te sit,” lui ’n verklaring deur Mandelson.
“Ek vra ondubbelsinnig om verskoning aan die vroue en meisies wat gely het.” – AFP
2026-01-13 09:02:20
Iran se regime ‘in sy laaste dae’, sê Merz
Friedrich Merz, bondskanselier van Duitsland, het Dinsdag gesê dat Iran se regime sy laaste dae beleef.
Dít kom terwyl druk toeneem weens die gewelddadige onderdrukking van betogings waarin honderde mense glo dood is.
“Wanneer ’n regime slegs deur geweld aan mag kan vashou, dan is dit effektief klaar,” het Merz aan verslaggewers gesê.
“Ek glo dat ons nou die laaste dae en weke van hierdie regime aanskou.”
Iran se leiers het “geen regmatigheid” nie omdat hulle nie deur die bevolking verkies is nie en hulle “staan nou op”, het Merz gesê. – AFP
2026-01-13 09:04:23
Iran regering beweer internettoegang weens ‘terroriste-operasies’ afgesny
Iran beweer hy het beveel dat internettoegang afgesny word omdat “terroriste-operasies” tydens betogings begin het.
Die betogings het op 28 Desember begin en internettoegang in die land is sedert Donderdag afgesny.
“Die regering was in gesprek met die betogers. Die internet is slegs afgesny nadat ons terroriste-operasies gekonfronteer het en besef het dat bevele van buite die land kom,” het Abbas Araghchi, minister van buitelandse sake van Iran, Dinsdag aan Al Jazeera gesê.
Menseregteorganisasies beskuldig Iran daarvan dat dit die internet afgesny het om die onderdrukking van betogers weg te steek. – AFP
2026-01-13 10:04:30
Rusland ondersoek dood van 9 pasgebore babas
Rusland het ’n strafregtelike ondersoek ingestel nadat nege pasgebore babas vandeesmaand by ’n kraamhospitaal in Siberië dood is, het die owerhede Dinsdag gesê.
Die staat se ondersoekkomitee vermoed dat daar nalatigheid was. Dit het nie aangedui wie ondersoek word nie.
Ondersoekers het beslag gelê op mediese rekords by die hospitaal, wat in die stad Novokuznetsk is, en voer forensiese toetse uit om die oorsaak van die sterftes te bepaal.
Personeel is ook ondervra.
Die hospitaal se hoofdokter is uit sy pos verwyder. – Reuters
2026-01-13 10:19:05
BBC gaan hof vra om Trump se regsgeding van $10 miljard van die hand te wys
Die BBC gaan volgens hofdokumente ’n Amerikaanse federale hof in Florida vra om ’n siviele saak van $10 miljard wat deur pres. Donald Trump ingestel is, van die hand te wys.
Trump se regsgeding handel oor ’n dokumentêre program waarin sy toespraak aan ondersteuners voor die aanval op die Amerikaanse kongresgebou in Januarie 2021 geredigeer is.
Die regsgeding eis skadevergoeding vir beweerde laster en die oortreding van Florida se wet op misleidende en onbillike handelspraktyke.
Prokureurs van die BBC sê in hofdokumente “Trump sal nie in staat wees om te bewys” dat die dokumentêr “hom enige waarneembare skade veroorsaak het” nie. – AFP
2026-01-13 10:26:34
2 Turkse toeriste, plaaslike bestuurder in Ethiopië doodgemaak
Twee Turkse toeriste en hul Ethiopiese bestuurder is deur gewapende herders in die suidweste van Ethiopië doodgemaak, het streeksowerhede laat Maandagaand gesê.
Die aanval het Maandagoggend plaasgevind in die Suri-distrik, ongeveer 330 km suidwes van die hoofstad, Addis Ababa, en is deur “veeboerrowers” uitgevoer, het streeksowerhede gesê.
Die owerhede het nie nog besonderhede gegee nie.
Die suidweste van Ethiopië is die tuiste van semi-nomadiese herders, veral van die Suri- en Surma-stam, wat dikwels bewapen is om hul kuddes te verdedig. – AFP
2026-01-13 12:22:23
Boedapest-lughawe heropen ná sluiting weens weerstoestande
Die Boedapest-lughawe het Dinsdag heropen ná ’n tydelike sluiting weens uiters ysige toestande, het die lughawe Dinsdag in ’n verklaring op sy Facebook-blad gesê. Die lughawe was ongeveer 'n uur gesluit. – Reuters
2026-01-13 12:28:23
EU sal ‘spoedig’ nog sanksies teen Iran voorstel
Die Europese Unie (EU) sal “spoedig” nog sanksies voorstel teen diegene wat verantwoordelik is vir die onderdrukking van betogings in Iran, het Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, Dinsdag gesê.
“Die stygende aantal ongevalle in Iran is afgryslik. Ek veroordeel onomwonde die oormatige gebruik van geweld en voortgesette beperking van vryheid,” het Von der Leyen op die sosialemedia-platform X gesê.
“Nog sanksies teen diegene wat verantwoordelik is vir die onderdrukking sal vinnig voorgestel word.” – Reuters
2026-01-13 13:20:07
Frankryk meld 1ste keer sedert 2de Wêreldoorlog meer sterftes as geboortes aan
In 2025 het Frankryk vir die eerste keer sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog meer sterftes as geboortes aangemeld. Dit is ’n tree agteruit vir sy jare lange demografiese voordeel bo ander lande in die Europese Unie.
Die nasionale statistiek-instituut (Insee) het verlede jaar 651 000 sterftes en 645 000 geboortes aangemeld. Laasgenoemde het sedert die wêreldwye Covid-19-pandemie drasties afgeneem. Tradisioneel het Frankryk ’n sterker demografie as die meeste Europese lande, maar ’n verouderende bevolking en dalende geboortesyfer toon dat die land nie immuun is teen die demografiese krisis wat oor die hele vasteland heers nie. – Reuters
2026-01-13 13:44:30
VSA se onttrekking aan WGO ‘maak VSA, wêreld onveilig’
Die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Dinsdag gewaarsku dat die Trump-administrasie se besluit om hom aan die Verenigde Nasies (VN) se gesondheidsagentskap te onttrek, spel gevaar vir Amerika, asook die wêreld.
Met die Amerikaanse onttrekking aan die WGO, wat amptelik volgende week in werking sal tree, het Tedros Adhanom Ghebreyesus aan verslaggewers gesê dat die stap “ ’n verlies vir Amerika is, en ook ’n verlies vir die res van die wêreld”. Hy het bygevoeg dat die keuse Amerika, sowel as die res van die wêreld, “onveilig maak”. – AFP
2026-01-13 13:58:43
WGO sê suikerdrankies, alkohol ‘nie voldoende belas’
Luidens twee verslae van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word suikerversoete drankies en alkohol nie voldoende belas nie en bly dit bekostigbaar – wat dit moeiliker maak om die chroniese gesondheidsprobleme wat deur hierdie drankies veroorsaak word aan te pak.
Die WGO het die laaste jare verskeie maal hoër belasting op alkohol en suikerversoete drankies aangevra, en glo dat dit sal help om die verbruik te verminder van dié produkte, wat bydra tot siektes soos diabetes.
Luidens ’n verslag van die WGO het suikerversoete koeldranke in 62 lande in 2024 meer bekostigbaar geword in vergelyking met 2022. – Reuters
2026-01-13 14:40:31
Le Pen se appèlverhoor begin met politieke toekoms op die spel
Die appèlverhoor van Marine Le Pen het Dinsdag begin. Die Franse regse leier hoop om ’n skuldigbevinding aan korrupsie tersyde te stel en om steeds in 2027 president te word.
Dít volg nadat ’n Franse hof haar verlede jaar vir vyf jaar verbied het om ’n openbare amp te beklee weens ’n skema in die Europese Parlement waarby sy en ander amptenare van haar party, Rassemblement National (RN), betrek is. – AFP
2026-01-13 14:51:21
Uganda gaan internet voor verkiesing afskakel
Uganda se kommunikasiereguleerder het selfoondiensverskaffers beveel om openbare internettoegang en sekere telefoondienste vanaf 18:00 Dinsdag af te skakel, twee dae voor die nasionale verkiesing.
Die Uganda-kommunikasiekommissie het in ’n brief aan die maatskappye gesê die ontkoppeling sal van krag bly totdat ’n kennisgewing uitgereik word om internettoegang te herstel. Die onderbreking is bedoel om waninligting en verkiesingsbedrog te bekamp. – Reuters
2026-01-13 15:13:05
Trump aan Iraniërs: ‘Hou aan betoog, hulp is op pad’
Pres. Donald Trump het Dinsdag gesê Iraniërs moet hul landwye betogings voortsit, instellings oorneem en die name van “moordenaars en misbruikers” aanteken terwyl die owerhede in dié land op massabetogings toeslaan.
“Iranse patriotte, HOU AAN BETOOG,” het Trump op sy Truth Social-platform geskryf. “Ek het alle vergaderings met Iranse amptenare gekanselleer totdat die sinlose doodmaak van betogers OPHOU. HULP IS OP PAD.” – AFP
2026-01-13 15:50:35
Rusland kap VSA oor dreigemente van aanval, waarsku teen inmenging in Iran
Rusland het Dinsdag wat hy beskryf as “ondermynende eksterne inmenging” in Iran se binnelandse politiek veroordeel en gesê dreigemente van nuwe militêre aanvalle deur die VSA is “kategories onaanvaarbaar”.
Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, sê in ’n verklaring diegene wat beplan om onluste wat deur die buiteland aangevuur word as voorwendsel vir aggressie teen Iran te gebruik, moet bewus wees van “rampspoedige gevolge” vir die Midde-Ooste en internasionale veiligheid. – Reuters
2026-01-13 16:02:16
Rebelle met Isis-bande vermoor 19 in hinderlaag in DRK
Vegters wat met Isis verbind word, het 14 weermagsoldate en vyf burgerlikes in ’n hinderlaag in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo doodgemaak, het amptenare en ’n plaaslike bron Dinsdag gesê.
Verskeie gewapende groepe is aktief in die streek, onder meer die Allied Democratic Forces, wat deur voormalige Ugandese rebelle gestig is en in 2019 getrouheid aan Isis gesweer het. – AFP
2026-01-13 16:30:08
Hoogste hof in VSA oorweeg wettigheid van transgender-sportverbod
Die federale hooggeregshof het Dinsdag argumente aangehoor oor die wettigheid van wette wat transgender atlete verbied om lede van vrouesportspanne te wees.
Die regters oorweeg appèlle deur Idaho en Wes-Virginië teen beslissings van laer howe in die guns van transgender studente wat die verbod in die twee deelstate uitgedaag het as ’n skending van hul grondwetlike regte. – Reuters
2026-01-13 17:01:39
Epstein-ondersoek: Republikeine wil Clinton aankla ná hy nie by sitting opdaag
Republikeine het Dinsdag stappe begin om oudpres. Bill Clinton van strafregtelike minagting aan te kla nadat hy nie gehoor gegee het aan ’n dagvaarding in die kongres se ondersoek na die seksmisdadiger Jeffrey Epstein nie.
Die toesigkomitee van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, gelei deur die Republikeine, sê hy sal volgende week met verrigtinge begin nadat die 79-jarige Demokraat nie vir ’n geslote sitting Dinsdag opgedaag het nie.
Sy vrou, Hillary, is ook gevra om Woensdag te getuig. – AFP
2026-01-13 17:20:11
VSA gee ‘kritieke militêre voorrade’ aan Nigerië
Amerika het Dinsdag gesê hy het “kritieke militêre voorrade” aan Nigerië gelewer ná sy aanval op Kersdag op militante vegters in die onrustige noordweste.
Die aflewering is die jongste teken van verhoogde veiligheidsamewerking tussen Amerika en Nigerië, en kom ook terwyl Nigerië se nasionale veiligheidsadviseur ’n ooreenkoms van $750 000 (sowat R12,3 miljoen) per maand met ’n Amerikaanse maatskappy aangegaan het om hom vir pres. Donald Trump se administrasie te beywer.
Op die aand van 25 Desember het Amerika op terreine in die staat Sokoto toegeslaan in wat Nigerië ’n “gesamentlike” operasie noem op teikens wat met die terreurgroep Isis verbind word. – AFP
2026-01-13 17:51:06
Egipte verwelkom klassifisering van Moslem-broederskap-takke as terreurgroepe
Egipte het Dinsdag Amerika se stap verwelkom om takke van die Moslem-broederskap in dié en twee ander Arabiese lande as terreurorganisasies te klassifiseer en dit “ ’n deurslaggewende stap” teen ekstremisme genoem.
“Dié besluit weerspieël die gevaar van hierdie groep en sy ekstremistiese ideologie, en die direkte bedreiging wat hy vir streek- en internasionale veiligheid en stabiliteit inhou,” sê die Egiptiese departement van buitelandse sake in ’n verklaring.
Die verklaring lui dat die stap in ooreenstemming is met Egipte se “langdurige houding” jeens die groep, wat hom klassifiseer as ’n terreurorganisasie “gegrond op geweld, ekstremisme en aanhitsing”. – AFP
2026-01-13 17:52:46
Microsoft betaal vir kragvraat KI-sentrums
Microsoft het Dinsdag gesê hy sal die volle elektrisiteitskoste van sy Amerikaanse datasentrums dra om te verhoed dat Amerikaanse huishoudings getref word deur hoër kragrekeninge, aangedryf deur die stygende vraag na elektrisiteit vir kunsmatige intelligensie (KI).
Pres. Donald Trump het dié program Maandag laat op Truth Social aangekondig en gesê sy administrasie het saam met tegnologiemaatskappye gewerk om te verseker dat hulle “op hul eie manier betaal” vir kragverbruik.
“Ek wil nooit hê Amerikaners moet hoër elektrisiteitsrekeninge betaal as gevolg van datasentrums nie,” het Trump geskryf. – AFP
2026-01-13 18:35:16
Israel verbreek bande met 3 organisasies ná VSA se onttrekking
Israel se ministerie van buitelandse sake het gesê hy het Dinsdag bande verbreek met drie internasionale organisasies, waaronder twee agentskappe van die Verenigde Nasies, ná die VSA se onttrekking aan 66 wêreldwye instellings verlede week.
Gideon Saar, minister van buitelandse sake, het die ministerie ook beveel om Israel se voortgesette samewerking met ’n ongespesifiseerde aantal ander organisasies te hersien. – AFP
2026-01-13 19:09:37
‘Moordkomplot’ teen Costa Rica se president blootgelê
Costa Rica se regering het Dinsdag gesê hy het ’n beweerde komplot blootgelê om pres. Rodrigo Chaves aan die vooraand van die algemene verkiesing te vermoor.
Chaves se regse party sal na verwagting die verkiesing op 1 Februarie wen.
Jorge Torres, hoof van die Sentraal-Amerikaanse land se direktoraat van intelligensie en nasionale veiligheid, het ’n “vertroulike bron” aangehaal wat die agentskap in kennis gestel het dat ’n huurmoordenaar betaal is om Chaves aan te val. – AFP
2026-01-13 19:39:22
Suid-Koreaanse aanklaers eis doodstraf vir oudleier Joen
Suid-Koreaanse aanklaers het Dinsdag gevra dat oudpres. Joen Soek-jeol die doodstraf opgelê word weens sy afkondiging van krygswet wat die land in Desember 2024 in ’n chaos gedompel het.
Joen het ’n politieke krisis ontketen toe hy in Desember 2024 ’n einde aan die burgerlike bewind aangekondig en troepe na die parlement gestuur het om dit af te dwing. Sy poging het egter misluk en hy het in Januarie 2025 die land se eerste sittende president geword wat in hegtenis geneem en aangehou is.– AFP
2026-01-13 20:26:18
Trump bied geen duidelikheid oor ‘hulp’ wat na Iran op pad is
Pres. Donald Trump het Dinsdag ná vrae oor wat hy bedoel het met ’n plasing op sosiale media dat “hulp op pad is” na betogers in Iran, aan verslaggewers gesê hulle sal dit self moet uitpluis.
“Julle sal daardie een self moet uitwerk. Jammer,” het hy geantwoord terwyl hy na Detroit gereis het om ’n toespraak te lewer.
Hy het ook gesê niemand kan vir hom ’n akkurate getal gee van hoeveel betogers gesterf het nie. – Reuters
2026-01-13 20:46:39
Israel sê 2 ekstremiste sterf in Gasastrook ondanks skietstilstand
Israel se weermag sê hy het Dinsdag twee ekstremiste in die suide van die Gasastrook in aanvalle met tenks en vegvliegtuie doodgemaak, ondanks sy brose skietstilstand met Hamas.
Die weermag het in ’n verklaring gesê “ses gewapende terroriste” is in die omgewing van Rafah naby sy troepe opgemerk.
Dit het tot ’n skietery oor en weer tussen die vegters en die tenks gelei, met lugaanvalle wat gevolg het. Die Israeliese weermag is intussen op soek na die ander vegters. – AFP
2026-01-13 20:55:38
Meer as 400 gevangenes vrygelaat, sê top-LP in Venezuela
Jorge Rodríguez, hoof van Venezuela se Nasionale Vergadering, het Dinsdag gesê meer as 400 mense is uit die tronk vrygelaat as deel van ’n proses wat verlede week as ’n gebaar van vrede aangekondig is.
Regtegroepe sê egter die getal vrylatings is eerder tussen 60 en 70, terwyl hulle oor die stadige tempo en ’n gebrek aan inligting kla.
Volgens Foro Penal, ’n nieregeringsorganisasie, was minstens 800 politieke gevangenes aan die begin van die jaar agter tralies. – Reuters
2026-01-14 03:47:00
Pionier van Amerikaanse burgerregte-beweging sterf
Claudette Colvin, ’n onbesonge pionier in Amerikaanse burgerregte, is Dinsdag in die ouderdom van 86 dood.
Colvin is in 1955 op 15-jarige ouderdom in hegtenis geneem omdat sy geweier het om haar sitplek op ’n bus aan ’n wit vrou in Montgomery, Alabama, af te staan, nege maande voor Rosa Parks se soortgelyke maar meer bekende daad van verset.
Alhoewel sy dekades lank ’n grootliks onbesonge figuur in die burgerregte-beweging gebly het, het Colvin se daad van rebellie Parks en ander geïnspireer. Haar daad het ook gehelp om die grondslag te vorm vir die federale hofsaak wat rasseskeiding in openbare vervoer onwettig verklaar het. – Reuters
2026-01-14 04:07:22
Amerika moedig burgers aan om Iran te verlaat
Amerika het sy burgers aangespoor om Iran onmiddellik te verlaat.
Dit is luidens ’n kennisgewing wat Dinsdag deur die Amerikaanse virtuele ambassade in Teheran uitgereik is.
“Amerikaanse burgers moet Iran nou verlaat. Oorweeg dit om Iran per land na Turkye of Armenië te verlaat, indien dit veilig is om dit te doen,” lui die kennisgewing.
Iran ervaar tans sy grootste anti-regeringsbetogings in jare. – Reuters
2026-01-14 04:27:51
Groenlanders herhaal hulle wil deel van Denemarke bly
Inwoners van Groenland se hoofstad, Nuuk, het hul ondersteuning uitgespreek dat die eiland deel van Denemarke bly en ’n beroep gedoen vir ’n verposing in die besprekings oor onafhanklikheid.
Die buitelandse-sake-ministers van Groenland en Denemarke vergader Woensdag in Washington met JD Vance, visepresident van Amerika, en Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake.
Dit kom te midde van hernude dreigemente deur pres. Donald Trump om beheer te neem oor Groenland, ’n outonome gebied van Denemarke. – Reuters
2026-01-14 04:37:52
22 dood, 30 beseer toe hyskraan op trein in Thailand val
Minstens 22 mense is dood en 30 beseer toe ’n trein Woensdagoggend in Thailand ontspoor het nadat ’n hyskraan bo-op een van sy waens geval het.
Die ongeluk het in die Sikhio-distrik in die Nakhon Ratsjasima-provinsie plaasgevind, 230 km noordoos van Bangkok.
Plaaslike polisiebeamptes sê dat ’n hyskraan wat aan ’n hoëspoed-spoorprojek gewerk het, ineengestort en die verbygaande trein getref het.
Die trein het toe ontspoor en kortliks vlamgevat. Die brand is geblus en reddingswerk duur voort. – Reuters, AFP
2026-01-14 05:17:42
Kiefer Sutherland aangekeer ná hy glo taxibestuurder aanrand
Die akteur Kiefer Sutherland (59) is Maandag in hegtenis geneem in verband met die aanranding van ’n e-taxibestuurder, volgens die polisie in Los Angeles.
Die Kanadees-Britse akteur is in hegtenis geneem nadat beamptes kort ná middernag op ’n oproep in Hollywood gereageer het.
“Die ondersoek het bepaal dat die verdagte, wat later as Kiefer Sutherland geïdentifiseer is, ’n e-taxi binnegegaan en die bestuurder fisiek aangeval en gedreig het,” het die polisie in ’n verklaring gesê.
Sutherland is ’n paar uur later op borgtog van $50 000 vrygelaat. – AFP

Kiefer Sutherland Foto: Getty Images/FilmMagic
2026-01-14 05:28:36
2025 derde warmste jaar op rekord
Die planeet het sy derde warmste jaar op rekord in 2025 aangeteken.
Die afgelope 11 jaar is nou die warmste wat ooit aangeteken is, volgens die Europese Unie se Copernicus-klimaatveranderingsdiens en Berkeley Earth, ’n navorsingsorganisasie sonder winsbejag in Kalifornië.
Die jaar 2024 was die warmste tot nog toe op rekord en 2023 die tweede warmste.
Berkeley en Copernicus waarsku dat 2026 nie die tendens sal onderbreek nie.
As die El Niño-weerverskynsel vanjaar voorkom, “kan dit 2026 nóg ’n jaar maak wat rekords oortref”. – AFP
2026-01-14 05:42:29
X weer in Venezuela toeganklik
Die sosialemedianetwerk X was Dinsdag weer toeganklik in Venezuela meer as een jaar nadat die app geblokkeer is deur pres. Nicolás Maduro, wat vroeër vandeesmaand deur Amerikaanse magte omvergewerp en gevange geneem is.
Delcy Rodríguez, waarnemende president, het haar biografie opgedateer en geskryf: “Laat ons verenig bly en beweeg na ekonomiese stabiliteit, maatskaplike geregtigheid en die welsynstaat waarna ons verdien om te strewe.”
Elon Musk, eienaar van X, was vroeër betrokke in aanlyn rusies met Maduro weens sy betwiste 2024-verkiesing. Maduro het vergeld deur X te blokkeer. – AFP
2026-01-14 06:18:26
Minstens 18 dood, 11 vermis weens grondstorting in DRK
Minstens 18 mense is dood en verskeie huise het weggespoel weens ’n grondstorting wat deur swaar stortreën veroorsaak is in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK).
Die grondstorting het plaasgevind in Kashebere in die Noord-Kivu-provinsie.
Elf mense word vermis, het plaaslike bronne Dinsdag aan AFP gesê. – AFP
2026-01-14 06:33:19
Amerika beëindig spesiale beskermde status van Somaliërs
Amerika het Dinsdag gesê hy sal die spesiale beskermde status van Somaliërs beëindig en gesê hulle moet die land teen middel Maart verlaat.
Daar is ’n groot Somaliese gemeenskap van ongeveer 80 000 in die deelstaat Minnesota, die voorpunt van klopjagte en deursoekings deur immigrasiebeamptes.
In onlangse weke het Washington teen Somaliese immigrante uitgevaar en beweer hulle is verantwoordelik vir grootskaalse bedrog met staatsvoordele.
Die departement van binnelandse veiligheid het op X gesê hy “BEËINDIG die Tydelike Beskermde Status vir Somaliërs in die Verenigde State”.
“Ons boodskap is duidelik. Gaan terug na jul eie land of ons sal julle self terugstuur.” – AFP
2026-01-14 07:35:53
2 dood, verskeie beseer in aanvalle op Russiese grensstreke
Twee mense is dood en verskeie gewond in Oekraïense hommeltuigaanvalle op Russiese grensstreke, het plaaslike owerhede Woensdag gesê.
’n Woongebou in die stad Rostof-aan die-Don het aan die brand geslaan ná ’n hommeltuigaanval. ’n Man is in hierdie aanval dood.
Vier ander mense, insluitend ’n kind (4), is gewond in aanvalle elders in die Rostof-streek, wat brande in verskeie nywerheidsgebiede veroorsaak het.
’n Vrou is dood en ’n man gewond in die grensstreek Belgorod toe ’n Oekraïense hommeltuig ’n voertuig getref het. – AFP
2026-01-14 07:52:49
Frankryk open volgende maand konsulaat in Groenland
Frankryk open op 6 Februarie ’n konsulaat in Groenland, ’n stap wat sedert verlede jaar beplan word, het Jean-Noël Barrot, Franse minister van buitelandse sake, Woensdag gesê.
Pres. Donald Trump wil hê Amerika moet beheer oor dié Arktiese gebied neem.
Barrot het in ’n onderhoud gesê Amerika moet ophou om Groenland af te pers en ophou sê hulle wil die gebied oorneem.
“Om ’n ander Navo-lid aan te val sal geen sin maak nie, dit sal selfs in teenstelling wees met Amerika se belange ... en so is dit voor die hand liggend dat hierdie afpersing moet stop,” het Barrot gesê. – AFP
2026-01-14 08:36:00
Houers met spore van radioaktiewe sink nou in ‘veilige plek’ in Filippyne
Meer as 20 houers radioaktiewe sink wat maande lank in Manila-baai in die Filippyne gestrand was, is na ’n “veilige plek” aan wal gebring, het die land se direkteur van kernnavorsing Woensdag aan AFP gesê.
Die 23 houers het laat in September in Manila aan boord van die motorskip Hansa Augsburg aangekom nadat Indonesiese owerhede hulle “verwerp en weer uitgevoer” het ná die ontdekking van spore van radioaktiewe sink.
’n Bron met kennis van die kwessie het gesê die houers is Sondag om 10:27 by Manila se hawe afgelaai. – AFP
2026-01-14 09:06:46
Hezbollah waarsku Libanon se regering oor ontwapening
’n Senior Hezbollah-amptenaar het Libanon se regering gewaarsku dat sy pogings om dié groep oor die land heen te ontwapen chaos en moontlik burgeroorlog sal veroorsaak.
Libanon het belowe om alle wapens oor die land heen onder staatsbeheer te bring, in lyn met ’n 2024-ooreenkoms wat ’n oorlog tussen Hezbollah en Israel beëindig het.
Hezbollah hou vol dié ooreenkoms geld slegs vir die mees suidelike streek van Libanon wat aan Israel grens.
Mahmoed Kmati, ’n senior Hezbollah-amptenaar, sê die nastreef van ’n staatsmonopolie op wapens verder noord sal “die grootste misdaad wees wat deur die staat gepleeg word”. – Reuters
2026-01-14 09:15:02
Kommunikasie tussen Iran, Amerika opgeskort
Direkte kommunikasie tussen Abbas Aragtsji, Iran se minister van buitelandse sake, en Steve Witkoff, Amerikaanse gesant, is opgeskort, het ’n senior Irannese amptenaar Woensdag gesê.
Dit kom te midde van pres. Donald Trump se dreigemente om in te gryp weens landwye betogings in Iran.
Die amptenaar sê Amerika se dreigemente ondermyn diplomatieke pogings en dat potensiële vergaderings om ’n diplomatieke oplossing te vind vir ’n dekades lange dispuut oor Iran se kernwapenprogram, ook gekanselleer is. – Reuters
2026-01-14 09:30:57
Dodetal styg ná hyskraan op trein val in Thailand
Die dodetal in die ongeluk toe ’n trein Woensdagoggend in Thailand ontspoor het nadat ’n hyskraan bo-op een van sy waens geval het, het gestyg tot 28 en minstens 67 mense is beseer.
Vroeër is berig die voorval het in die Sichio-distrik in die Nachon Ratsjasima-provinsie plaasgevind, 230 km noordoos van Bangkok.
Die ongeluk het gebeur by ’n konstruksieterrein wat deel is van ’n projek van meer as $5 miljard wat deur China gesteun word om ’n hoëspoed-spoornetwerk in Thailand te bou.
Dit beoog om Bangkok teen 2028 via Laos aan Kunming in China te verbind. – AFP

’n Kind kyk toe terwyl reddingswerkers langs die wrak van ’n trein staan wat ontspoor het toe ’n hyskraan in Thailand ineengestort het. Foto: AFP
2026-01-14 10:06:35
Personeel van VSA-lugmagbasis in Katar aangemoedig om te ontruim
Sommige personeel is aangemoedig om die Amerikaanse lugmagbasis in Katar teen Woensdagaand te verlaat, het drie diplomate aan Reuters gesê.
Die Amerikaanse ambassade in Doha het geen onmiddellike kommentaar gehad nie.
Die basis huisves 10 000 troepe.
Sommige personeel van Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste is in Junie verwyder voor Amerikaanse lugaanvalle op Iran. – AFP
2026-01-14 10:27:33
Kijif beveel verwydering van kinders in 5 dorpies in Zaporizjzjia-streek
Kijif het Woensdag die verpligte verwydering van kinders uit verskeie dorpies in die Zaporizjzjia-streek aangekondig, met verwysing na ’n gevaarlike toename in gevegte en onlangse vordering wat Russiese magte gemaak het.
“Ons het ’n moeilike maar noodsaaklike besluit geneem om die verwydering van kinders saam met hul ouers of wettige voogde uit vyf nedersettings in die Zaporizjzjia-streek te verplig,” het Oleksij Koeleba, adjunkpremier van Oekraïne, aangekondig.
Die streek se hoofstad, ook bekend as Zaporizjzjia, is nou ongeveer slegs 30 km van die gevegsfront met Russiese troepe. – AFP
2026-01-14 12:15:23
Griekse lugvaarthoof bedank nadat lugverkeerkommunikasie ineenstort
Griekeland se ministerie van vervoer het Woensdag gesê die burgerlugvaarthoof het bedank oor die verleentheid van 4 Januarie toe ‘n ineenstorting van radiofrekwensies lugverkeerkommunikasie verlam het.
“Die goewerneur van die Burgerlugvaartowerheid (YPA), George Saounatsos, het sy bedanking by die minister van infrastruktuur en vervoer, Christos Dimas, ingedien,” het die ministerie in ‘n verklaring gesê.
Die stap het gekom ure nadat ‘n ondersoek blootgelê het dat die fout deur “verouderde tegnologie” by die Athene Internasionale Lughawe, een van die wêreld se topreisbestemmings, veroorsaak is. – AFP
LEES OOK: Vlugte in Griekeland weer in bedryf ná radioprobleem
2026-01-14 12:32:24
Switserland bespreek handelsooreenkoms met VSA
Switserland se Federale Raad het ‘n finale onderhandelingsmandaat aanvaar vir samesprekings oor ’n wetlik bindende handelsooreenkoms met Amerika, het die regering Woensdag gesê.
Die besluit deur Switserland se hoogste uitvoerende gesag volg op ‘n nie-bindende Switsers-Amerikaans-Liechtenstein-“raamwerk” waarop op 14 November ooreengekom is. Dit was daarop gemik om Amerikaanse tariewe op Switserse invoer te verminder en die weg te baan vir ’n omvattende ooreenkoms. – Reuters
2026-01-14 12:50:03
Starmer: ‘X verseker hy tree op teen geseksualiseerde KI-beelde’
Die Britse premier, Keir Starmer, het Woensdag gesê Elon Musk se X tree op om volle nakoming van die Britse wetgewing te verseker nadat die land se mediareguleerder ’n ondersoek na die platform begin het oor geseksualiseerde beelde wat deur die Grok AI-kletsbot gegenereer is.
“Ek is vanoggend ingelig dat X optree om volle nakoming van Britse wetgewing te verseker,” het Starmer aan die parlement gesê en bygevoeg dat die regering verdere maatreëls sal instel indien nodig.
Ofcom het Maandag ’n ondersoek na die sosialemedia-platform van stapel gestuur oor die kommer dat Grok seksueel intieme diepvervalsings skep in stryd met sy plig om mense in Brittanje teen onwettige inhoud te beskerm. – Reuters

Die Britse premier, Keir Starmer. Foto: Getty Images
2026-01-14 13:11:36
EU-lening aan Oekraïne grootliks vir militêre toerusting
Tweederdes van ’n noodsaaklike Europese Unie (EU)-lening van 90 miljard euro vir Oekraïne sal aangewend word om vir Kijif se militêre toerusting te betaal, en die res is vir algemene begrotingsondersteuning geoormerk, het Brussel Woensdag gesê.
Die lening, waarop EU-lidlande in Desember ná maande van diplomatieke twis ooreengekom het, bied aan Oekraïne ’n broodnodige reddingsboei namate Rusland se inval sy vyfde jaar nader.
Die Europese Kommissie sê hy wil toesien dat Kijif die eerste uitbetaling in April ontvang. – AFP
2026-01-14 13:36:18
Tesla stem in vir bemiddeling oor teistering-bewerings
Tesla (TSLA.O) het ingestem om bemiddeling te betree, wat die Amerikaanse Kommissie vir Gelyke Indiensnemingsgeleenthede (EEOC) se regsgeding kan oplos, wat Elon Musk se elektriese motorvervaardiger daarvan beskuldig dat hy ernstige en wydverspreide teistering van swart werknemers by sy monteeraanleg in Kalifornië duld.
Die EEOC het gesê hy werk saam met Tesla om ’n bemiddelaar te kies, en onderhandelinge kan in Maart of April begin. Albei kante sal teen 17 Junie ’n voorstel aan die voorsittende regter maak oor wat om te doen as skikkingsbesprekings en bemiddeling onsuksesvol is. Die Amerikaanse distriksregter in San Francisco, Jacqueline Scott Corley, het Dinsdagaand ingestem om ’n paar spertye vir die insameling van bewyse te stel sodat bemiddeling prioriteit kan geniet. – Reuters
2026-01-14 13:39:09
Trump: ‘Groenland is noodsaaklik vir VSA’
Pres. Donald Trump het Woensdag daarop aangedring dat Amerika beheer oor Groenland moet neem met die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) se ondersteuning. Hy het dié uitlating gemaak enkele ure voor gesprekke oor die Arktiese eiland met Deense, Groenlandse en Amerikaanse top-amptenare.
Kort voordat die vergadering met die Amerikaanse visepresident, JD Vance, sou begin, het Trump gesê dat Amerikaanse beheer oor Groenland – ’n outonome gebied wat aan sy Navo-bondgenoot Denemarke behoort – “noodsaaklik” is vir sy beplande Golden Dome-lug-en-missielverdedigingstelsel.
“Navo word baie meer indrukwekkend en doeltreffend met Groenland in die hande van die VERENIGDE STATE. Enigiets minder as dit is onaanvaarbaar,” het hy op sosiale media geskryf. Hy het gesê dat Navo “die pad moet wees” in die bou van die multi-laag-missielverdedigingstelsel. “AS ONS DIT NIE DOEN NIE, SAL RUSLAND OF CHINA, EN DIT GAAN NIE GEBEUR NIE!” – AFP

Amerika se visepresident, JD Vance. Foto: Reuters
2026-01-14 14:26:25
Denemarke, Groenland brei militêre teenwoordigheid uit voor VSA-vergadering
Denemarke en Groenland het Woensdag gesê dat hulle begin het om hul militêre teenwoordigheid in en rondom Groenland te vergroot, in samewerking met bondgenote, as deel van ’n belofte om verdediging te versterk.
Die aankondiging kom terwyl Denemarke en Groenland se ministers van buitelandse sake gereed maak om met Amerika se visepresident, JD Vance, te vergader ná weke van spanning oor Amerika se dreigemente om die eiland oor te neem. –Reuters
2026-01-14 14:51:10
VN: Afskakel van internet in Uganda voor verkiesing ‘kommerwekkend’
Die afskakeling van die internet in Uganda voor die land se verkiesing is kommerwekkend, het die Verenigde Nasies (VN) Woensdag gesê, en die noodsaaklikheid van toegang tot inligting beklemtoon.
“Internetbeperkings en die skorsing van 10 nieregeringsorganisasies voor môre se verkiesing is diep kommerwekkend,” het die VN se Menseregtekantoor op X gesê.
“Alle Ugandese moet in staat wees om deel te neem aan die vorming van hul toekoms en die toekoms van hul land.” – AFP
2026-01-14 15:02:32
VSA sal na verwagting na-oorlogse Gasa-leierskap bekend maak
Pres. Donald Trump sal na verwagting Woensdag voortgaan met sy gefaseerde plan vir Gasa se toekoms deur die administrasie aan te kondig wat die oorloggeteisterde Palestynse gebied sal bestuur, het vier Palestynse bronne gesê.
Israel en Hamas het in Oktober Trump se 20-punt-plan goedgekeur, wat bepaal dat ’n tegnokratiese Palestynse liggaam, onder toesig van ’n internasionale “Vredesraad”, Gasa vir ’n oorgangstydperk moet regeer.
Die raad sal geen Hamas-verteenwoordiging insluit nie. – Reuters
2026-01-14 15:21:01
Transatlantiese bande ‘verbrokkel’, sê Duitse visekanselier
Die Duitse visekanselier het Woensdag gewaarsku dat Europa se bande met die VSA “verbrokkel” terwyl ’n “geskiedkundige tydperk van omwenteling” met die regering van pres. Donald Trump deurgemaak word.
“Die Transatlantiese verhouding soos ons dit geken het, is tans besig om te verbrokkel,” het Lars Klingbeil, ook Duitsland se minister van finansies, in ’n toespraak in Berlyn gesê. – AFP
2026-01-14 15:35:50
Iran boaan Netanyahu se lys van uitdagings voor verkiesing
Benjamin Netanyahu, Israel se premier, word vanjaar deur ’n verkiesing in die gesig gestaar vir die eerste keer sedert Hamas se aanval in 2023 sy geloofwaardigheid wat veiligheid betref, in die gedrang gebring het.
Volgens ontleders sal die uitkoms van die jongste krisis in Iran waarskynlik ook deurslaggewend wees in die red van sy nalatenskap, al dan nie.
Peilings sedert laat 2023 het deurlopend gewys dat Netanyahu die verkiesing in Oktober gaan verloor. - Reuters
2026-01-14 16:06:14
FBI deursoek joernalis se huis op versoek van Pentagon, sê Bondi
Die Amerikaanse speurdiens (FBI) het Woensdag die huis van ’n joernalis van The Washington Post deurgesoek, het Pam Bondi, minister van justisie, gesê en bygevoeg dat amptenare die beweerde uitlek van inligting uit die Pentagon in verband met federale postebesnoeiings ondersoek.
Sy het bevestig dat haar departement en die FBI op versoek van die departement van oorlog ’n deursoekingslasbrief uitgevoer het weens geklassifiseerde en uitgelekte inligting van ’n Pentagon-kontrakteur wat verkry en waaroor berig is. – AFP
2026-01-14 16:33:57
VSA gaan visumverwerking vir 75 lande opskort
Die Trump-administrasie gaan alle visumverwerkings vir aansoekers uit 75 lande opskort, het ’n woordvoerder van die departement van buitelandse sake Woensdag gesê.
Die woordvoerder het nie oor die plan uitgewei nie, waaroor Fox News eerste berig het met verwysing na ’n memorandum van die departement. Dit sal op 21 Januarie begin, berig Fox News.
Somalië, Rusland, Iran, Afghanistan, Brasilië, Nigerië en Thailand is onder die lande wat geraak word. – Reuters
2026-01-14 16:50:44
Sweedse soldate sluit by militêre oefening in Groenland aan
Swede se premier het Woensdag gesê dat hy op versoek van Denemarke soldate gestuur het om hulle by ’n militêre oefening saam met Groenland aan te sluit, nadat pres. Donald Trump van die VSA gedreig het om die Deense outonome gebied oor te neem.
“Sommige offisiere van die Sweedse gewapende magte kom vandag in Groenland aan. Hulle is lede van ’n groep uit verskeie bondgenote,” het Ulf Kristersson, premier, in ’n verklaring op X gesê. – AFP
2026-01-14 17:17:25
Plan om Gasa-oorlog te beëindig, beweeg nou na fase twee, sê Witkoff
’n Plan om die Gasa-oorlog te beëindig, beweeg nou na fase twee met die doel om Hamas te ontwapen, het Steve Witkoff, Amerikaanse spesiale gesant na die Midde-Ooste, Woensdag gesê, ten spyte van ’n aantal Israeliese aanvalle tydens die skietstilstand.
“Ons kondig die bekendstelling aan van fase twee van die president se 20-punt-plan om die Gasa-konflik te beëindig, wat beweeg van ’n skietstilstand na demilitarisering, tegnokratiese bestuur en heropbou,” skryf Witkoff op X.
Die tweede fase sal ook die stigting van ’n Palestynse tegnokratiese komitee van 15 lede insluit om die Gasastrook ná die oorlog te administreer, het Egipte, Amerikaanse bondgenoot en bemiddelaar, vroeër Woensdag aangekondig. – AFP
2026-01-14 17:29:25
15 joernaliste onder politieke gevangenes wat in Venezuela vrygelaat is
Venezuela het 15 joernaliste vrygelaat, onder wie ’n leidende opposisiefiguur, sedert die vrylating van politieke gevangenes begin het ná pres. Nicolás Maduro se gevangeneming, het aktiviste Woensdag gesê.
Die administrasie van waarnemende pres. Delcy Rodriguez het die afgelope ses dae gevangenes vrygelaat en noem dit ’n welwillendheidsgebaar ná Maduro se gevangeneming deur Amerikaanse spesiale magte in Caracas op 3 Januarie. Tot dusver is net ’n breukdeel van die meer as 800 politieke gevangenes vrygelaat. – AFP
2026-01-14 17:47:40
Iran sal ‘beslissend optree’ teen Israel, VSA
Iran is gereed om “beslissend” te reageer op sy vyande Israel en Amerika, het die bevelvoerder van die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps (IRGC) Woensdag gesê en hul leiers daarvan beskuldig dat hulle agter die betogings in die land sit.
Die IRGC is op “die hoogtepunt van gereedheid om beslissend te reageer op die verkeerde berekening van die vyand,” sê IRGC-bevelvoerder Mohammad Pakpour in ’n skriftelike verklaring, waarin hy pres. Donald Trump van Amerika en Benjamin Netanyahu, premier van Israel, daarvan beskuldig dat hulle die “moordenaars van die jeug van Iran” is. – AFP
2026-01-14 17:59:21
Samesprekings tussen VSA, Denemarke en Groenland verby, geen teken van deurbraak
Denemarke en Groenland se topdiplomate het Woensdag in die Withuis samesprekings gehou, met geen onmiddellike teken van ’n deurbraak oor pres. Donald Trump se dreigemente om beheer van die Arktiese eiland oor te neem nie.
Lars Lokke Rasmussen, Deense minister van buitelandse sake, en sy Groenlandse ampsgenoot, Vivian Motzfeldt, het vertrek minder as 90 minute ná die begin van hul vergadering met visepres. JD Vance en Marco Rubio, minister van buitelandse sake.
Geeneen van hulle het ná die vergadering kommentaar gelewer nie. – AFP
2026-01-14 18:25:48
Venezuela reg vir 'nuwe politieke era' ná Maduro
Venezuela se tussentydse president, Delcy Rodriguez, het Woensdag gesê haar land is reg vir " 'n nuwe politieke era" ná die ontsetting van pres. Nicolas Maduro op 3 Januarie in 'n Amerikaanse militêre aanval.
"Die boodskap is 'n Venezuela wat oopmaak vir 'n nuwe politieke era, een wat begrip te midde van verskille en oor ideologiese politieke diversiteit heen moontlik maak," het sy aan verslaggewers by die Miraflores- presidensiële paleis gesê.
Rodriguez, met wie pres. Donald Trump van Amerika ingestem het om saam te werk solank sy Amerika se leiding volg, het ook aangekondig dat Venezuela sedert Desember 406 politieke gevangenes vrygelaat het in 'n proses wat sy gesê het deur Maduro geïnisieer is. - AFP
2026-01-14 19:02:37
Duitsland stuur soldate na Groenland
Duitsland sal Donderdag sy eerste soldate na Groenland stuur, het ’n staatswoordvoerder Woensdag gesê. Dit kom nadat Swede en Noorweë soortgelyke stappe aangekondig het na aanleiding van uitlatings van pres. Donald Trump dat die VSA beheer oor die eiland moet hê.
Meer as ’n dosyn verkenningstroepe sal Donderdag ontplooi word, het die woordvoerder gesê.
Trump het die laaste weke herhaaldelik gesê dat Groenland noodsaaklik is vir Amerikaanse veiligheid en dat die VSA die strategies geleë en mineraalryke eiland moet besit om te verhoed dat Rusland of China dit beset.– Reuters
2026-01-14 20:24:09
Spanje maan burgers om Iran te verlaat weens dodelike betogings
Spanje se ministerie van buitelandse sake het Woensdag sy burgers aangeraai om Iran te verlaat.
Volgens regtegroepe het honderde mense in die hardhandige optrede teen massabetogings gesterf en duisende mense is in hegtenis geneem.
“Spanjaarde wat in Iran is, word aangeraai om die land te verlaat deur gebruik te maak van die beskikbare middele,” het die ministerie in sy bygewerkte waarskuwing aan reisigers gesê. – AFP
2026-01-14 20:52:47
Brittanje sluit sy ambassade in Teheran tydelik
Die Britse ambassade in Teheran, Iran, is tydelik gesluit, het die Britse regering Woensdag gesê.
“Ons het die Britse ambassade in Teheran tydelik gesluit; dit sal nou oor ’n afstand funksioneer. Die ministerie van buitelandse sake se reisadvies is nou bygewerk om dié verandering te weerspieël,” het ’n regeringswoordvoerder gesê.
Die Britse ambassadeur en alle konsulêre personeel is onttrek op grond van ’n veiligheidsbeoordeling en ’n besluit om personeelveiligheid voorop te stel, het ’n Britse amptenaar gesê. – Reuters
2026-01-15 03:34:43
Colombiaanse president vergader binnekort met Trump
Pres. Gustavo Petro van Colombië het Woensdag gesê hy vergader op 3 Februarie met pres. Donald Trump.
Trump en Petro het verlede week telefonies gepraat en Trump het ná die oproep gesê reëlings word getref vir Petro om die Withuis te besoek, dae nadat hy Colombië met militêre stappe gedreig het.
“Ons sal die resultate van hierdie vergadering sien. Dit is van kardinale belang. My bedoeling is dat Colombiane, van alle dele van die land, nie ly nie en in vrede kan leef,” het Petro op ’n kabinetsvergadering gesê. – Reuters
2026-01-15 03:43:23
Thailand: 2 dood toe hyskraan op voertuie val
Twee mense is dood en vyf beseer toe ’n hyskraan Donderdag in Thailand op twee voertuie ineengestort het, sê die polisie.
Die voorval het in die Samoet Sakhon-provinsie naby die hoofstad Bangkok plaasgevind, waar ’n hyskraan wat by die oprigting van ’n verhewe snelweg betrokke was, op die pad onder dit geval het.
Die voorval volg slegs een dag nadat minstens 32 passasiers dood is en tientalle beseer is toe ’n trein Woensdagoggend in Thailand ontspoor het nadat ’n hyskraan bo-op een van sy waens geval het. – Reuters
2026-01-15 04:05:41
Resolusie om Trump se magte in Venezuela te beperk verwerp
Republikeine in die Amerikaanse senaat het Woensdag ’n resolusie verwerp wat pres. Donald Trump sou verhinder om verdere militêre stappe in Venezuela te doen sonder die kongres se magtiging.
Die stemuitslag was baie naby op 51-50 om die resolusie te verwerp.
Drie Republikeine het saam met al die Demokrate gestem ten gunste daarvan om voort te gaan met die resolusie. JD Vance, visepresident, het toe na die kongres gekom om die gelykop telling te breek.
Teenstanders van die resolusie voer aan dat dit nie nodig is nie omdat Amerika nie tans troepe op die grond in Venezuela het nie. – Reuters
2026-01-15 04:50:48
Stembusse open in Uganda
Stembusse het vandag in Uganda geopen, met pres. Yoweri Museveni (81) wat na verwagting sy bewind van 40 jaar sal verleng.
Die stemming vind plaas te midde van die afskakeling van die internet en ondrukking van die opposisie. Die plaaslike Daily Monitor-koerant het ’n volbladartikel gepubliseer oor hoe om “jou huis verkiesingveilig te maak” en burgers aangeraai om deure en vensters te versterk en ’n veilige vertrek aan te wys in geval van onrus.
Dit is ’n bekende gevoel vir Ugandese ná vier dekades onder die bewind van Museveni. – Reuters
2026-01-15 05:45:59
Immigrasieagent skiet man in Minneapolis
’n Federale immigrasieagent het Woensdag ’n man in Minneapolis geskiet en gewond.
Stadsamptenare het die publiek aangespoor om “kalm te bly” een week nadat agente ’n Amerikaanse vrou in dieselfde stad doodgeskiet het.
Amptenare van die departement van binnelandse veiligheid sê ’n “onwettige immigrante uit Venezuela” is geteiken by ’n verkeerstop en het inhegtenisneming teëgestaan.
“Terwyl die persoon en agent op die grond geworstel het, het twee persone uit ’n nabygeleë woonstel gekom en ook die wetstoepassingsbeampte met ’n sneeugraaf en besem aangeval,” sê die departement. – AFP
2026-01-15 05:52:00
Indië versoek burgers om Iran te verlaat
Die buitelandse ministerie van Indië por sy burgers aan om Iran te verlaat.
Volgens menseregteorganisasies is duisende mense in die onderdrukking van massabetogings dood.
Indië skat daar is gewoonlik ongeveer 10 000 van sy burgers in Iran.
“Indiese burgers wat tans in Iran is (studente, pelgrims, sakepersone en toeriste), word aangeraai om Iran te verlaat met die beskikbare vervoermiddels,” sê die Indiese ambassade in Teheran. – AFP
2026-01-15 06:36:08
Israeli’s wys ondersteuning vir betogers in Iran
Ongeveer 100 mense het Woensdag in die stad Holon in Israel byeengekom ter ondersteuning van Irannese betogers.
Betogers het Israeliese vlae langs Irannese vlae van voor die Islamitiese revolusie in 1979 gewaai.
“Wees die stem van die Irannese volk,” lui ’n plakkaat in Hebreeus en Persies.
Die aartsvyande Iran en Israel was verlede jaar in ’n oorlog van 12 dae gewikkel. – AFP
2026-01-15 06:41:40
Bemanning vertrek van Internasionale Ruimtestasie
Vier bemanningslede het Woensdag vanaf die Internasionale Ruimtestasie vertrek nadat ’n mediese probleem veroorsaak het dat hul sending met ’n maand verkort is.
Dit is die eerste ontruiming van sy soort tot nog toe.
Die bemanningslede was vyf maande lank in die ruimte.
Die Amerikaanse ruimteagentskap (Nasa) weier om bekend te maak watter bemanningslid die probleem het of wat die aard van die probleem is, maar beklemtoon dat dit nie ’n noodsituasie is nie. Die geraakte bemanningslid “was en is steeds in ’n stabiele toestand”, het die Nasa-amptenaar Rob Navias Woensdag gesê. – AFP
2026-01-15 06:49:46
Iran heropen lugruim ná tydelike sluiting
Iran het sy lugruim heropen nadat dit byna vyf uur lank gesluit was te midde van kommer oor moontlike militêre konfrontasie tussen Amerika en Iran.
Iran het sy lugruim gesluit vir alle vlugte behalwe internasionale vlugte na en van Iran om 17:15 plaaslike tyd Woensdag, volgens ’n kennisgewing op die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie se webwerf. Die kennisgewing is kort voor 22:00 verwyder, volgens die vlugopsporingswebwerf Flightradar24. – Reuters
2026-01-15 07:36:31
Hewige storm tref Victoria, motors in see gespoel
’n Geweldige storm in die staat Victoria, Australië, het Donderdag kitsvloede veroorsaak wat motors na die see gespoel en krag na duisende huishoudings afgesny het.
Die owerhede het ’n noodwaarskuwing uitgereik vir dorpe langs die Great Ocean Road, ’n gewilde toeristebestemming.
Dit kom dae nadat die bestemming gesluit was weens veldbrande wat begin het te midde ’n somerhittegolf. – Reuters
2026-01-15 07:48:33
Iran ‘beplan nie teregstellings’
Abbas Aragtsji, Iran se minister van buitelandse sake, het Woensdag gesê “daar is geen plan” deur Iran om mense tereg te stel nie.
Dit kom te midde van betogings teen die regering in Iran.
“Daar is geen plan vir teregstellings nie. Dit is buite die kwessie,” het Aragtsji gesê.
Volgens die organisasie Iran Human Rights Society, wat in Noorweë gestel is, word gevangenes gereeld in tronke gehang.
Pres. Donald Trump het Dinsdag gesê hy sal “baie sterk optree” indien Iran begin om betogers tereg te stel. – Reuters
2026-01-15 08:13:09
Rusland gee Britse 'spioen' die trekpas
Rusland het ’n Britse diplomaat wat na bewering ’n spioen is, twee weke gegee om die land te verlaat.
Rusland se federale veiligheidsdiens beweer die man is ’n spioen vir die Britse intelligensiediens.
Rusland se ministerie van buitelandse sake het die hoof van Brittanje se diplomatieke sending ontbied om beswaar aan te teken.
“Daar is weer beklemtoon dat Moskou nie die aktiwiteite van onverklaarde Britse intelligensiebeamptes in Rusland sal verdra nie,” het die ministerie gesê. – Reuters
2026-01-15 08:47:37
X kondig maatreëls aan om Grok te verhinder om beelde te ontklee
Die sosialemediaplatform X het Woensdag maatreëls aangekondig om sy KI-kletsbot Grok te verhoed om beelde van werklike mense sonder klere te skep.
Dit volg ná wêreldwye kritiek oor sy skepping van geseksualiseerde beelde van vroue en kinders.
X het gesê dit sal “die vermoë blokkeer” van alle Grok- en X-gebruikers om beelde van mense in “bikini’s, onderklere, en soortgelyke bekleding” te skep in gebiede waar sulke optrede as onwettig beskou word.
Die sogenaamde Spicy Mode-funksie het gebruikers in staat gestel om geseksualiseerde diepvals beelde van vroue en kinders te skep deur eenvoudige instruksies via teks soos “sit haar in ’n bikini” of “trek haar klere uit”. – AFP
2026-01-15 08:53:46
Rusland ‘bekommerd’ oor Navo-soldate in Groenland
Rusland is bekommerd oor die aankoms van militêre personeel van Navo in Groenland te midde van dreigemente deur pres. Donald Trump om die eiland oor te neem weens nasionale veiligheid.
“Die situasie wat ontvou, is van ernstige kommer vir ons,” het die Russiese ambassade in België, waar Navo se hoofkwartier gesetel is, laat Woensdag in ’n verklaring gesê.
Navo “bou sy militêre teenwoordigheid daar op onder die vals voorwendsel van ’n toenemende bedreiging van Moskou en Beijing”, het die ambassade bygevoeg. – AFP
2026-01-15 09:49:28
Turkye doen beroep om dialoog oor krisis in Iran
Turkye het Donderdag ’n beroep gedoen om dialoog oor die krisis in Iran waar pres. Donald Trump gedreig het om in te gryp weens die onderdrukking van betogings teen die regering.
“Ons wil absoluut hê dat probleme deur dialoog opgelos word,” het Hakan Fidan, minister van buitelandse sake van Turkye, aan verslaggewers gesê.
“Hopelik sal die VSA en Iran die kwessie onder hulself oplos deur bemiddelaars, ander rolspelers, of direkte dialoog. Ons volg die kwessie noukeurig.” – AFP
2026-01-15 10:19:48
Brittanje oorweeg reaksie ‘versigtig’ ná diplomaat in Rusland trekpas kry
Die Britse regering het Donderdag gesê hy oorweeg sy reaksie “versigtig” nadat Rusland ’n Britse diplomaat twee weke gegee om die land te verlaat.
Vroeër is berig Rusland se federale veiligheidsdiens beweer die man is ’n spioen vir die Britse intelligensiediens.
“Dit is nie die eerste keer dat die Kremlin kwaadwillige en ongegronde beskuldigings teen ons personeel maak nie,” het die Britse departement van buitelandse sake in ’n verklaring gesê.
“Hul teiken van Britse diplomate spruit uit desperaatheid en aksies soos dié ondermyn die basiese voorwaardes wat vereis word vir diplomatieke sendings om bedryf te word.” – Reuters
2026-01-15 10:31:30
Oekraïne se opsies raak min, sê Kremlin
Die Kremlin sê Oekraïne se opsies word uitgeput om ’n ooreenkoms te bereik om die oorlog te beëindig.
Dit kom terwyl duisende inwoners in Kijif sonder verhitting is te midde van temperature van -12 °C ná ’n vlaag Russiese aanvalle op die land se kragnetwerk.
“Die situasie versleg daagliks vir die Kijif-regime,” het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, aan verslaggewers gesê en bygevoeg dat Oekraïne se “korridor vir besluitneming vernou”. – AFP
2026-01-15 10:43:03
Pole gaan nie troepe na Groenland stuur
Pole sal nie soldate na Groenland stuur nie, het Donald Tusk, Poolse premier, Donderdag gesê en bygevoeg ’n aanval deur een Navo-land op die gebied van ’n ander sal “die einde van die wêreld soos ons dit ken” wees.
Europese militêre personeel van onder meer Frankryk, Swede en Noorweë sal na verwagting Donderdag in Groenland begin aanland.
Pres. Donald Trump het herhaaldelik verklaar hy gaan beheer van dié outonome Deense gebied neem. – Reuters
2026-01-15 12:15:49
Europese lande berei voor vir militêre oefeninge in Groenland
Europese lande het Donderdag klein getalle militêre personeel na Groenland gestuur, terwyl Denemarke en sy bondgenote voorberei het vir oefeninge om pres. Donald Trump van Amerika te wys hoe veilig die eiland is.
’n Vergadering van amptenare van Amerika, Denemarke en Groenland het Woensdag geen kitsoplossing vir die dispuut oor die eiland opgelewer nie.
Voor die vergadering met Amerika het Groenland en Denemarke gesê hulle het begin om hul militêre teenwoordigheid in en om Groenland te verhoog in noue samewerking met Navo-bondgenote, as deel van hul belofte om Arktiese verdediging te versterk.
Europese bondgenote, insluitend Duitsland, Frankryk, Swede en Noorweë, het gesê hulle stuur militêre personeel om met voorbereidings vir groter oefeninge later vanjaar te begin. – Reuters
2026-01-15 12:27:00
Franse soldate reeds in Groenland
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Donderdag gesê ’n eerste span Franse soldate is reeds in plek in Groenland en meer militêre middele sal in die komende dae ontplooi word.
“ ’n Eerste span Franse soldate is reeds op die terrein en sal in die komende dae deur land-, lug- en seemiddele versterk word,” het Macron in ’n Nuwejaarstoespraak aan die gewapende magte gesê.
Macron het vroeër Donderdag ’n noodkabinetsvergadering in Parys belê om Amerika se pres. Donald Trump se verklaarde voorneme om Groenland te bekom en die kragtige onderdrukking van landwye betogings in Iran te bespreek. – Reuters
2026-01-15 12:48:00
Prins Harry getuig binnekort in hof teen ‘Daily Mail’
Prins Harry van Brittanje sal volgende Donderdag by die hooggeregshof in Londen getuig in sy en ander hoëprofiel- Britse figure se privaatheidsgedinge teen die uitgewer van die Daily Mail, het sy prokureurs Donderdag gesê.
Dit sal die prins se tweede sodanige hofdatum in drie jaar wees, nadat hy in 2023 in ‘n regsgeding teen Mirror Group Newspapers getuig het. In volgende week se saak dagvaar Harry en ses ander, insluitend die sanger Elton John, Associated Newspapers oor beweerde onwettige inligtinginsameling wat tot 30 jaar terug dateer. – Reuters

Prins Harry. Foto: Reuters
2026-01-15 13:19:30
Nederland sluit hom aan by Navo-bondgenote in Groenland
Nederland sal hom by Navo-bondgenote – insluitend Frankryk, Swede, Duitsland en Noorweë – aansluit in voorbereiding vir ’n Deens-geleide militêre oefening in Groenland, en sal een offisier van die Nederlandse vloot stuur, het Ruben Brekelmans, minister van verdediging, Donderdag gesê. – Reuters
2026-01-15 13:43:13
Trump dreig om weermag te ontplooi oor Minnesota-betogings
Pres. Donald Trump van Amerika het Donderdag gedreig om hom op ’n wet te beroep wat binnelandse ontplooiing van die weermag toelaat, terwyl betogings in Minnesota woed nadat ’n federale agent ’n vrou verlede week doodgeskiet het.
“As die korrupte politici van Minnesota nie die wet gehoorsaam en die professionele onrusstokers en opstandelinge keer om die patriotte van ICE, wat net hul werk probeer doen, aan te val nie, sal ek die opstandwet instel en vinnig ’n einde maak aan die bedrog wat in daardie eens magtige staat plaasvind,” het Trump op sosiale media geskryf.
Woensdag in Minneapolis het ’n federale agent ook ’n man gewond, wat verdere betogings veroorsaak het. – AFP
2026-01-15 13:46:35
Burgemeester van Londen vrees ‘massawerkloosheid’ weens KI
Sadiq Khan, burgemeester van Londen, het hom Donderdag by die koor van waarskuwings aangesluit oor die impak van kunsmatige intelligensie (KI) op werkgeleenthede en gesê dat die Britse hoofstad die gevaar loop om “ ‘n era van massawerkloosheid” te betree.
Die burgemeester se kommentaar is ingesluit by ’n toespraak laat Donderdag waarin die geleenthede en risiko’s wat KI inhou, uiteengesit word. Die Britse hoofstad is die tuiste van ’n groot aantal werkgeleenthede in finansiële, professionele en kreatiewe dienste, en Londen is “aan die toppunt van verandering”, sê Khan luidens uittreksels van die toespraak wat aan die media gestuur is. – AFP
2026-01-15 14:01:31
Rekordgetal van 97 m. toeriste besoek Spanje in 2025
’n Rekordgetal van 97 miljoen buitelandse toeriste het Spanje in 2025 besoek, het die minister van toerisme Donderdag gesê.
Dit is ’n toename van 3,5% oor 2024 se 94 miljoen toeriste, terwyl toeristebesteding met 6,8% gestyg het tot $157 miljard, het Jordi Hereu op ’n perskonferensie in Madrid gesê.
Die meeste besoekers is Europeërs, van wie omtrent die helfte Britse, Duitse en Franse vakansiegangers is.
Toerisme verteenwoordig sowat 13% van die ekonomie in die wêreld se mees besoekte land naas Frankryk. – AFP
2026-01-15 14:04:33
Dialoog en diplomasie ‘regte pad vorentoe’ – Groenland
Groenland se premier het Donderdag gevra vir dialoog om spanning oor Groenland op te los, ’n dag ná gesprekke oor die toekoms van die Deense outonome gebied waarop pres. Donald Trump sy visier het.
“Dialoog en diplomasie is die regte pad vorentoe, selfs wanneer baie op die spel is en die druk tasbaar is,” het Jens-Frederik Nielsen, Groenland se premier, in ’n verklaring op Facebook gesê.
Hy het dit verwelkom dat dialoog nou “aan die gang” is ná hoëvlakgesprekke by die Withuis wat nie daarin geslaag het om verskille oor die kwessie op te los nie. – AFP
2026-01-15 15:05:34
‘Iran sal homself verdedig teen enige buitelandse bedreiging'
Iran sal homself "teen enige buitelandse bedreiging" verdedig, het die land se minister van buitelandse sake Donderdag aan sy Saoedi-eweknie gesê.
Dit kom nadat Amerika weier om militêre aanvalle uit te sluit weens Iran se onderdrukking van betogers.
Abbas Araghchi, Iran se minister van buitelandse sake, het in telefoongesprek aan Saoedi-Arabië se Faisal bin Farhan die belangrikheid van "wêreldwye veroordeling van buitelandse inmenging in die binnelandse sake van streeklande" beklemtoon, luidens ’n verklaring op sy Telegram-kanaal. – AFP
2026-01-15 15:06:32
Vertragings teister Uganda-verkiesing ná afsny van internet
Pres. Yoweri Museveni van Uganda het erken dat selfs hy probleme ondervind het om te stem, aangesien tegniese probleme Donderdag se verkiesing ontwrig het.
Museveni (81) hoop om sy bewind van 40 jaar te verleng, te midde van ’n internetblokkering en beweerde polisieoptrede.
Bobi Wine (43), Museveni se teenstander, het die regering daarvan beskuldig van “massiewe stembriefvervalsing”, asook dat staatsmagte amptenare in sy party in hegtenis geneem het, en ’n internetblokkering ingestel is ondanks herhaalde beloftes om dit nie te doen nie.
In talle stemlokale oor die land heen is die stemmery met etlike ure vertraag omdat stembusse stadig afgelewer is en biometriese masjiene wat gebruik word om kiesers se identiteit te bevestig, nie gewerk het nie, glo weens die internetblokkering. – AFP
2026-01-15 16:02:58
VSA lê beslag op nog ’n olietenkskip in Karibiese See
Amerika het beslag gelê op nog ’n olietenskip in die Karibiese See-gebied as deel van sy veldtog om olie wat Venezuela verlaat, te beheer, het die Amerikaanse weermag Donderdag aangekondig.
Dit kom kort voor ’n vergadering later Donderdag tussen pres. Donald Trump en die Venezolaanse opposisieleier Maria Corina Machado in die Withuis.
Mariniers en matrose het die tenkskip Veronica vroegoggend sonder weerstand in ’n operasie voorgekeer, het die weermag op sosiale media gesê en ’n video geplaas van soldate wat op ’n vaartuig se dek neergelaat word.
Die tenkskip is die sesde waarop in die laaste paar weke beslag gelê is. – AFP
2026-01-15 16:04:59
VSA stel sanksies in weens onderdrukking van Iranse betogings
Amerika het Donderdag sanksies ingestel teen Iranse veiligheidsamptenare en banknetwerke en hulle daarvan beskuldig dat hulle ’n gewelddadige onderdrukking van vreedsame betogings gereël en miljarde dollars in olie-inkomste gewas het.
“Amerika staan sterk agter die Iranse volk in hul oproep om vryheid en geregtigheid,” sê Scott Bessent, Amerikaanse minister van finansies, in ’n verklaring gesê.
“Die (Amerikaanse) tesourie sal elke instrument gebruik om diegene te teiken wat agter die regime se tirannieke onderdrukking van menseregte is.” – AFP, Reuters
2026-01-15 17:07:41
Westerse soldate in Oekraïne is onaanvaarbaar – Rusland
Rusland beskou dit as onaanvaarbaar dat Westerse lande soldate ontplooi onder ’n moontlik toekomstige vredesooreenkoms vir Oekraïne, en enige sodanige soldate sal deur Rusland as regmatige teikens beskou word, het dié land se departement van buitelandse sake Donderdag gesê.
Maria Zakharova, woordvoerder van die departement, sê Westerse moondhede soos Brittanje weet baie goed dat die ontplooiing van soldate onaanvaarbaar is vir Rusland, maar het daarop aangedring in konsep-vredesvoorstelle om die proses te ondermyn.
“Enige buitelandse soldate in Oekraïne sal as wettige teikens vir die Russiese gewapende magte beskou word. Die Britse kontingent sal geen uitsondering wees nie.” – Reuters
2026-01-15 17:08:43
Sowat 4,7 m. Aussie-tieners se sosialemediarekeninge al deaktiveer
Sosialemediaplatforms het gesamentlik byna 5 miljoen rekeninge wat aan Australiese tieners behoort, gedeaktiveer in die net meer as ’n maand nadat die land kinders jonger as 16 op sosiale media verbied het, sê die land se internetreguleerder.
Die land se kommissaris vir e-veiligheid sê sosialemediaplatforms het tot dusver sowat 4,7 miljoen rekeninge gedeaktiveer om te voldoen aan ’n wet wat op 10 Desember in werking getree het. Dis veel meer as die aanvanklike ramings en is gelykstaande aan meer as twee rekeninge vir elke Australiër tussen die ouderdom van 10 en 16.
Die wettige minimum ouderdom is onder meer van toepassing op Instagram, Facebook, YouTube, TikTok, Snapchat en X. Reddit sê hy voldoen aan die wet, maar dagvaar die regering om die verbod om te keer. – Reuters
2026-01-15 18:01:34
Wêreld word ál gevaarliker, sê Poetin, maar swyg oor Venezuela en Iran
Die internasionale situasie versleg en die wêreld word al hoe gevaarliker, het pres. Wladimir Poetin van Rusland Donderdag gesê, maar geswyg oor die situasie in Venezuela en Iran.
Poetin het nog nie in die openbaar kommentaar gelewer oor die omverwerping van pres. Nicolás Maduro van Venezuela deur Amerika, die betogings in Iran of pres. Donald Trump se dreigemente teenoor Groenland nie.
“Die situasie op die internasionale verhoog versleg toenemend. Ek dink nie iemand sal daarmee stry nie. Langdurige konflikte word meer intens en nuwe, ernstige brandpunte ontstaan,” het Poetin in ’n toespraak aan nuwe ambassadeurs gesê. – Reuters
2026-01-15 18:04:41
Brittanje verhoog militêre oproep-ouderdom tot 65
Dit sal Brittanje se militêre reserwemag versterk deur die maksimum ouderdom waarop oudsoldate opgeroep kan word, met ’n dekade te verhoog tot 65, het dié land Donderdag gesê.
Ander Europese lande, onder wie Frankryk en Duitsland, het ook reeds stappe gedoen om hul reserwemagte te versterk in reaksie op Rusland se inval in Oekraïne en Amerika se aandrang dat Europa meer verantwoordelikheid vir sy eie veiligheid moet aanvaar.
Die veranderinge sal na verwagting vanaf 2027 in werking tree. – Reuters
2026-01-15 18:50:39
Teregstelling van 800 betogers in Iran gestaak te danke aan Trump, sê Withuis
Iran het die teregstelling van 800 betogers gestaak onder druk van pres. Donald Trump oor sy gewelddadige onderdrukking van ’n golf van betogings, maar Amerikaanse militêre optrede bly ’n opsie, het die Withuis Donderdag gesê.
“800 teregstellings wat geskeduleer en veronderstel was om gister (Woensdag) uitgevoer te word, is gestaak,” het Karoline Leavitt, Withuis-woordvoerder, aan verslaggewers gesê.
“Alle opsies bly op die tafel vir die president,” sê sy en voeg by dat Trump Iran gewaarsku het oor “ernstige gevolge” as nog betogers doodgemaak word. – AFP
2026-01-15 19:08:00
‘Weste moet ophou beweer Rusland en China bedreig Groenland’
Rusland het Donderdag gesê dit is onaanvaarbaar dat die Weste aanhou beweer Rusland en China bedreig Groenland. Dit toon volgens Rusland die inkonsekwentheid van die Weste se uitvoering van die sogenaamde reëlgegronde wêreldorde.
“Eers het hulle die idee bedink dat daar sogenaamde aggressors is en toe dat hulle gereed is om iemand teen hierdie aggressors te beskerm,” het Maria Zacharowa, woordvoerder van die Russiese ministerie van buitelandse sake, gesê.
“Ons staan in solidariteit met China se standpunt oor die onaanvaarbaarheid van verwysings na sekere aktiwiteite van Rusland en China rakende Groenland as ’n rede vir die huidige eskalasie,” het Zakharova gesê. – Reuters
2026-01-15 19:15:19
Europese troepe in Groenland sal Trump nie van stryk bring – Withuis
Die Withuis het Donderdag gewaarsku dat die stuur van Europese troepe na Groenland nie pres. Donald Trump se denke oor die gebied sal beïnvloed nie.
Trump het al gesê Groenland moet aan Amerika behoort en het dit nie uitgesluit om die gebied met geweld oor te neem nie.
“Ek dink nie Europese troepe beïnvloed die president se besluitnemingsproses nie, en dit beïnvloed ook nie sy doelwit om Groenland te verkry nie,” het Karoline Leavitt, die Withuis-woordvoerder, in ’n inligtingsessie gesê. – Reuters
2026-01-15 19:54:15
Machado sê Withuis-vergadering met Trump was ‘wonderlik’
Die Venezolaanse opposisieleier Maria Corina Machado het gesê haar vergadering Donderdag met pres. Donald Trump by die Withuis het baie goed afgeloop en was “wonderlik”.
Sy wou nie sê of sy vir Trump haar Nobel-vredesprys gegee het soos sy voorheen gesuggereer het nie. – Reuters
2026-01-15 20:03:17
Senior Hamas-figuur sterf in Israeliese lugaanval in Gasastrook
’n Plaaslike bevelvoerder in die gewapende vleuel van Hamas is onder die sewe mense wat Donderdag in Israeliese lugaanvalle in die sentrale deel van die Gasastrook gesterf het, het ’n Hamas-bron gesê.
Israel se weermag en Hamas het nie dadelik op versoeke om kommentaar oor die voorval gereageer nie.
Palestynse gesondheidsamptenare het gesê die ander ses oorledenes sluit ’n 16-jarige in.
Meer as 400 Palestyne en drie Israeliese soldate is al dood sedert ’n brose skietstilstand in Oktober 2025 in werking getree het.
Die Verenigde Nasies se kinderagentskap het Dinsdag gesê meer as 100 kinders is sedert die skietstilstand in die Gasastrook dood. – Reuters
2026-01-15 20:04:40
Lyke van minstens 21 migrante in massagraf in Libië gevind
Die lyke van minstens 21 migrante is in ’n massagraf in die ooste van Libië gevind, met tot 10 oorlewendes in die groep wat tekens toon dat hulle gemartel is, het twee veiligheidsbronne Donderdag gesê.
Die bronne, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê veiligheidsmagte het ’n plaas sowat 160 km van Benghazi, die tweede grootste stad in Libië, gefynkam nadat hulle inligting ontvang het oor migrante van Afrika suid van die Sahara wat daar aangehou word.
Die oorlewendes – mans, vroue en kinders – is na ’n hospitaal geneem. Die plaaseienaar is in hegtenis geneem en het erken dat daar ’n massagraf op sy eiendom is, het die bronne gesê. – Reuters
2026-01-16 04:15:02
Machado gee haar Nobelvredesprys-medalje aan Trump
Maria Corina Machado, Venezolaanse opposisieleier, het Donderdag op ’n vergadering in die Withuis haar Nobelprys vir Vrede-medalje aan pres. Donald Trump gegee.
’n Amptenaar van die Withuis het bevestig Trump is van plan om die medalje te hou.
Trump het Donderdagaand op sosiale media geskryf: “Maria het vir my haar Nobelvredesprys gegee vir die werk wat ek gedoen het. So ’n wonderlike gebaar van wedersydse respek. Dankie, Maria!”
Machado sê die geskenk was ter erkenning van Trump se toewyding tot die vryheid van die Venezolaanse volk. – Reuters

Maria Corina Machado reageer Donderdag op ondersteuners terwyl sy die Withuis in Washington DC verlaat. Foto: Reuters
2026-01-16 04:40:20
Alle opsies op tafel oor Iran, sê VSA
Pres. Donald Trump het dit duidelik gemaak dat "alle opsies op die tafel is om die slagting in Iran stop te sit”.
So het Mike Waltz, Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN), Donderdag aan die VN-veiligheidsraad gesê.
Trump het reeds herhaaldelik gedreig om in te gryp ter ondersteuning van die betogers in Iran.
“Pres. Trump is ’n man van aksie, nie eindelose gepraat soos ons by die VN sien nie," sê Waltz.
"Hy het dit duidelik gemaak dat alle opsies op die tafel is om die slagting stop te sit." – Reuters
2026-01-16 04:51:58
Ons wíl vrede hê, antwoord Zelenski op Trump
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Donderdag, na gelang van opmerkings deur pres. Donald Trump die vorige dag, gesê Oekraïne verhinder nié vrede nie.
“Oekraïne was nog nooit en sal nooit ’n hindernis tot vrede wees nie,” sê Zelenski.
Trump het Woensdag aan Reuters gesê hy glo Oekraïne is minder gereed as Rusland om ’n ooreenkoms te sluit.
Zelenski sê egter Rusland se voortgesette aanvalle op Oekraïense energie-infrastruktuur en ander teikens toon dat Moskou nie vrede wil hê nie. – Reuters
2026-01-16 05:06:03
Ontploffing verwoes huise in Utrecht
’n Gaslekkasie het Donderdag ’n kragtige ontploffing veroorsaak wat verskeie huise in die sentrale Nederlandse stad Utrecht vernietig het. Vier mense is beseer.
“Die skade is geweldig, verskeie geboue het ineengestort,” sê Sharon Dijksma, burgemeester van Utrecht.
Noodpersoneel het voortgegaan om die puin as ’n voorsorgmaatreël te deursoek, maar daar is geen berigte van vermiste persone nie. – Reuters
2026-01-16 05:36:41
China teken beswaar aan oor spotprentbeelde van pres. Xi
Die Chinese ambassade in Manila het ’n diplomatieke beswaar ingedien teen ’n woordvoerder van die Filippynse kuswag oor ’n sosialemedia-inskrywing wat spotprentbeelde van pres. Xi Jinping ingesluit het.
China en die Filippyne het verlede week woorde gewissel oor kwessies rakende die betwiste Suid-Chinese See.
Die Chinese ambassade het Vrydag gesê die beelde is ’n “ernstige skending van China se politieke waardigheid” en dat dit ’n “ooglopende politieke uitlokking is, wat die rooi lyn oorgesteek het”. – AFP
2026-01-16 05:44:33
Japan en Amerika versterk verdediging in Oos-Chinese See
Japan en Amerika het Vrydag ooreengekom om hul gesamentlike vervaardiging van verdedigingstoerusting, insluitend projektiele, te versterk en hul militêre teenwoordigheid in die waters suidwes van Japan uit te brei.
Die ooreenkoms volg nadat Sjinjirō Koizoemi, Japan se minister van verdediging, met sy Amerikaanse ampsgenoot, Pete Hegseth, in Washington DC vergader het.
Japan is gewikkel in ’n diplomatieke rusie met China, nadat Sanae Takaitsji, premier van Japan, opgemerk het dat Japan met sy weermag kan ingryp indien China Taiwan sou aanval. – AFP
2026-01-16 06:04:05
Man wat met motor by skare in Duitsland inploeg vandag verhoor
Die verhoor van ’n Afgaanse man wat daarvan aangekla word dat hy in Februarie verlede jaar met ’n motor by ’n skare in München, Duitsland, ingeploeg het, begin Vrydag.
’n Vrou en haar tweejarige dogter is in die voorval dood en 44 mense is beseer.
Die verdagte, wat slegs as Farhad N., geïdentifiseer word, staan tereg op twee aanklagte van moord en 44 aanklagte van poging tot moord. Aanklaers voer aan hy het uit “godsdienstige motivering” opgetree en het verwag om in die voorval te sterf. – AFP
2026-01-16 06:05:02
Raad van vrede vir Gasa aangekondig
Pres. Donald Trump het Donderdag die vorming van ’n Raad van Vrede vir die Gasa-strook aangekondig. Dit is deel van die tweede fase van ’n skietstilstand wat Amerika in Oktober bemiddel het en wat deur Hamas en Israel onderteken is.
Die vorming van die raad kom kort ná die aankondiging van ’n Palestynse tegnokratiese komitee van 15 lede wat gelas is met die bestuur van die dag-tot-dag-regering in die strook ná die oorlog. Die komitee sal werk onder die toesig van die Raad van Vrede waarvan Trump die voorsitter sal wees. – AFP
2026-01-16 06:17:44
Situasie in Gasastrook ‘onmenslik’
’n Topamptenaar van die Verenigde Nasies (VN) het Donderdag versoek dat herstelwerk in die Gasastrook versnel word.
“Ek sou my nooit kon verbeel wat ek vandag gesien het nie, wat totale vernietiging is. Daar is nie veel oor wat nog staande is nie,” het Jorge Moreira da Silva, hoof van die VN-kantoor vir projekdienste, ná ’n besoek aan die strook gesê.
“Ons kan nie wag of uitstel nie.”
Hy voeg by dat inwoners oor die gebied heen in ’n “onmenslike situasie” leef. – AFP

Skuilings binne ’n verwoeste gebou Dinsdag op ’n winderige wintersdag in die stad Gasa. Foto: AFP
2026-01-16 06:28:04
Yoon kry 5 jaar tronkstraf in 1ste uitspraak oor krygswet
Yoon Suk-yeol, voormalige president van Suid-Korea, is Vrydag tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte wat insluit die teësit teen inhegtenisneming ná sy mislukte poging om ’n krygswet in Desember 2024 af te kondig.
Yoon is ook skuldig bevind aan die vervaardiging van amptelike dokumente en die nalaat om te voldoen aan regsprosesse wat vir krygswet vereis word.
Die uitspraak is die eerste wat verband hou met die strafregtelike aanklagte wat teen Yoon ingedien is. – Reuters

Yoon Suk-yeol Foto: Getty Images/Sipa/Bloomberg
2026-01-16 07:10:09
Australië waarsku inwoners oor swaar reën, veldbrande
Australië se nooddienste het Vrydag mense gewaarsku om voorbereid te bly vir skielike swaar reën en gevaarlike veldbrande in die ooste van die land.
Swaar reën het Donderdag ’n stortvloed laat vloei deur sommige dele van die staat Victoria, wat steeds teen 10 groot veldbrande veg.
’n Plaaslike rekord van 186 mm reën het in die 24 uur tot Vrydagoggend op een plek geval, het die staat se meteorologiese diens gesê. – AFP
2026-01-16 08:04:03
Ugandese president voor in vroeë verkiesingsuitslae
Pres. Yoweri Museveni (81) van Uganda het ’n oorheersende voorsprong in die vroeë verkiesingsuitslae wat Vrydag aangekondig is.
Uitslae wat deur die verkiesingskommissie ná Donderdag se stemming aangekondig is, wys dat Museveni met 76,25% van die stemme voorloop, gegrond op tellings van byna die helfte van die stemlokale.
Museveni regeer Uganda sedert hy in 1986 mag gegryp het en wil ’n onbetwiste oorwinning behaal terwyl bespiegeling oor sy uiteindelike opvolging toeneem. – Reuters
2026-01-16 08:32:05
Amerikaanse afvaardiging vergader met Groenland, Denemarke om steun uit te spreek
’n Twee-party-afvaardiging van Amerikaanse wetgewers sal Vrydag met die leiers van Denemarke en Groenland vergader om hulle gerus te stel oor hul ondersteuning ten spyte van pres. Donald Trump se dreigemente om die Arktiese eiland oor te neem.
Die afvaardiging van 11 lede word gelei deur Chris Coons, Demokratiese senator.
“In ’n tyd van toenemende internasionale onstabiliteit, moet ons nader beweeg aan ons bondgenote in plaas daarvan om hulle te verjaag,” het Coons in ’n verklaring gesê.
Hy het bygevoeg dat die afvaardiging ’n “duidelike boodskap dat die kongres tot Navo verbind is” sal stuur. – Reuters
2026-01-16 08:43:39
Lugtaxi’s begin teen einde 2026 in Dubai bedryf
Elektriese lugtaxi’s wat deur die maatskappy Joby Aviation ontwikkel is, is gereed om teen die einde van vanjaar met kommersiële bedrywighede in Dubai te begin.
Joby Aviation het die eerste toetsvlug van sy volledig elektriese lugtaxi in Junie 2025 uitgevoer.
Dit is ’n groot mylpaal in Dubai se pogings om die taxi’s in sy bestaande vervoernetwerke bekend te stel.
Die Joby Lugtaxi kan afstande van tot 160 km aflê teen snelhede wat 320 km/h kan bereik. – Reuters
2026-01-16 08:52:47
Rusland na bewering agter aanval op aanleg in Litaue
Litaue beweer Rusland se militêre intelligensieagentskap was in 2024 verantwoordelik vir ’n poging tot brandstigting op ’n aanleg wat radiogolfskandeerders aan die Oekraïense weermag verskaf.
Ses burgers van Spanje, Colombia, Kuba, Rusland en Belarus is oor die voorval aangekla.
“Die opdragte is aan die oortreders uitgereik deur ’n groep mense wat in Rusland woon, wat verbind is met Rusland se intelligensieagentskap,” het die polisie en aanklaers in Litaue gesê. – Reuters
2026-01-16 09:05:09
Voedselhulp aan miljoene in Soedan teen einde Maart uitgeput, sê VN
Voedselhulp in Soedan gaan teen die einde van Maart opraak tensy nuwe finansiering verseker word, het die Verenigde Nasies (VN) Donderdag gesê.
Miljoene mense in Soedan is vasgevang in die wêreld se grootste hongersnood.
Tienduisende mense is dood en 11 miljoen ontheem tydens ’n oorlog van byna drie jaar tussen die land se weermag en die Blitsondersteuningsmagte (RSF).
“Teen die einde van Maart sal ons voedselvoorrade in Soedan uitgeput wees,” het Ross Smith van die VN se Wêreldvoedselprogram gesê.
Volgens die VN staar voedselonsekerheid nou meer as 21 miljoen mense in Soedan in die gesig met tweederdes van die bevolking wat ’n dringende behoefte aan hulp het. – AFP
2026-01-16 09:16:30
Julio Iglesias ontken bewerings teen hom
Die Spaanse sanger Julio Iglesias ontken dat hy twee voormalige huishoudelike werknemers misbruik het.
Die kantoor van die aanklaer van die hooggeregshof in Spanje het gesê dit het voorlopige verrigtinge oor die klagte ingestel.
Volgens menseregteorganisasies sluit die bewerings gedwonge arbeid en seksuele misbruik in.
“Ek ontken dat ek enige vrou misbruik, gedwing of geminag het. Hierdie beskuldigings is heeltemal vals en veroorsaak vir my groot hartseer,” het Iglesias (82) in Spaans in ’n verklaring op Instagram gesê. – Reuters
2026-01-16 09:39:00
Indonesië dagvaar 6 maatskappye weens dodelike oorstromings
Indonesië se regering het verskeie regsgedinge ingedien, wat meer as $200 miljoen in skadevergoeding van ses maatskappye eis nadat meer as 1 000 mense verlede jaar weens oorstromings in Sumatra dood is.
Omgewingsbewaarders, kundiges en die regering sê ontbossing het ’n rol gespeel in die ramp wat strome modder en houtstompe na dorpe oor die noordweste van die eiland heen ingespoel het.
Die ministerie van omgewing het geweier om meer besonderhede te gee toe hulle met AFP gepraat het oor die beweerde skade wat deur die verweerders veroorsaak is. – AFP
2026-01-16 10:01:40
324 ontplooi om brand in Suid-Koreaanse dorpie te blus
Altesaam 258 mense is veilig verwyder nadat ’n brand Vrydag deur ’n informele nedersetting naby die beroemde Gangnam-distrik in die suide van Seoel, Suid-Korea, gewoed het.
Die brand het in die vroeë oggendure in die dorpie Guryong uitgebreek.
Altesaam 324 brandbestryders, 106 voertuie en ’n helikopter is ontplooi om die brand te blus.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, het die brandweerdienste gesê. Niemand is beseer nie.
Guryong word dikwels beskryf as een van Seoel se grootste oorblywende krotbuurte. – AFP

Brandbestryders op die toneel in Guryong, Seoel, Suid-Korea. Foto: AFP/Yonhab
2026-01-16 10:46:46
Poetin praat met Israel, Iran te midde van betogings
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het Vrydag telefonies met Benjamin Netanyahu, premier van Israel, en pres. Masoed Pezesjkian van Iran gepraat te midde van grootskaalse betogings in die Islamitiese republiek.
Poetin het “Rusland se gereedheid bevestig om sy pogings tot bemiddeling voort te sit”, het Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, gesê.
Peskof het bygevoeg dat Rusland binnekort verdere besonderhede van die gesprek met Pezesjkian sal bekend maak. – AFP
2026-01-16 12:33:53
Duitsland en Sirië praat binnekort oor migrante se terugkeer
Die Duitse kanselier, Friedrich Merz, sal Dinsdag met pres. Ahmed al-Sharaa in Berlyn vergader om Sirië se politieke oorgang en die terugkeer van migrante te bespreek.
Duitsland soek ‘n “nuwe begin” met Sirië se nuwe regering nadat al-Sharaa se magte Bashar al-Assad in Desember 2024 uit die kussings gelig het.
Duitsland, wat ’n dekade gelede sowat een miljoen vlugtelinge, insluitend Siriërs, met ope arms verwelkom het, wil nou ’n strenger migrasiebeleid volg. – Reuters
2026-01-16 12:43:35
Ses vas weens beweerde terrorisme in Litaue
Ses buitelanders is diep in die moeilikheid in Litaue nadat hulle glo in 2024 militêre hulp aan Rusland verleen het.
Die groep is Vrydag amptelik van terrorisme, die finansiering van terrorisme en deelname aan terreurgroepe aangekla.
Die verdagtes – van Spanje, Colombia, Kuba, Rusland en Belarus – het na bewering op bevel van Rusland se intelligensie-agentskap opgetree en die Litause maatskappy TVC Solutions geteiken, wat radiotoerusting vir Oekraïense magte vervaardig.
Die aanval het misluk toe verbygangers dit raakgesien het en alarm gemaak het. Die groep word ook verbind met aanvalle in Tsjeggië, Roemenië en Pole. – AFP
2026-01-16 13:23:32
Oekraïne staan bakhand by Amerika
’n Oekraïense afvaardiging is op pad na Amerika vir gesprekke oor veiligheidswaarborge en na-oorlogse herstelpakkette, sê pres. Wolodimir Zelenski.
Hy hoop om die vredesooreenkoms uiteindelik te beklink en dokumente volgende week by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos te onderteken waar pres. Donald Trump hom moontlik sal ontmoet.
Oekraïne het ‘n “voorspoedplan” van $800 miljard opgetrek wat planne om die land weer op te bou bevat. Dit vereis egter Amerikaanse veiligheidswaarborge.
Trump het gesê Zelenski staan in die pad van vrede, terwyl Oekraïne Rusland daarvan beskuldig dat hulle diplomatieke pogings vertraag. – Reuters
2026-01-16 13:33:04
Machado: 'werklike wenner' van 2024-verkiesing moet president word
Die Venezolaanse opposisieleier en Nobelvredespryswenner María Corina Machado vra dat Edmundo González, wat as die werklike wenner van die 2024-verkiesing beskou word, president word ná Amerikaanse magte Nicolás Maduro op 3 Januarie in hegtenis geneem het.

’n Aanhanger van Machado waai die Venezolaanse vlag en roep “libertad” (Spaans vir ’vryheid’) op Capitol Hill se oostelike voorplein in die Amerikaanse hoofstad Washington DC. Foto: Getty Images
LEES OOK | Machado gee haar Nobelvredesprys-medalje aan Trump
2026-01-16 13:56:16
België se Mathilde vergader met agentskap oor gesinsgeweld

Koningin Mathilde van België besoek die Vlaamse Agentskap vir Justisie en Handhawing, wat onder meer regs- en maatskaplike dienste lewer, in Hasselt om oor gesinsgeweld te praat. Foto: Getty Images.
2026-01-16 14:01:23
Iranse media sê 3 000 in betogings gearresteer
Sowat 3 000 mense is in die onlangse betogings in Iran in hegtenis geneem, volgens sekuriteitsbeamptes wat Vrydag deur die land se Tasnim-nuusagentskap aangehaal is.
Die 3 000 mense wat aangehou is, sluit in "gewapende individue en oproermakers" en "lede van terroriste-organisasies", volgens Tasnim.
Menseregtegroepe skat dat tot 20 000 mense in hegtenis geneem is. – AFP
2026-01-16 14:02:25
Minstens 7 mense dood Ugandese verkiesingsgeweld
Minstens sewe mense is geweldadig dood oornag in sentraal Uganda, het die polisie Vrydag gesê. Dit is ná die nasionale verkiesings wat na verwagting die veteraan-president Yoweri Museveni se bewind tot ’n vyfde dekade sal verleng.
Uit die uitslae wat deur die verkiesingskommissie aangekondig is, nadat 59% van die stemlokale se stemme getel is, lyk dit of Museveni meer as 75% van die stemme in Donderdag se presidensiële verkiesing ontvang het.
Sy hoofteenstander, die gewilde sanger Bobi Wine, het sowat 21% van die stemme verkry en die oorblywende stemme is tussen ses ander kandidate verdeel. – Reuters
2026-01-16 14:02:35
Afghaanse man vir moord verhoor na hy mense in Duitsland glo omry
Die moordverhoor teen ‘n Afghaanse man het Vrydag in Duitsland begin nadat hy verlede jaar met ’n motor in ’n skare ingeploeg het.
Farhad N. (25) staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord nadat ’n 2-jarige dogtertjie en haar ma dood en tientalle ander beseer is. Hy het glo in Februarie 2025 opsetlik mense by ’n vakbondbyeenkoms omgery.
Aanklaers sê hy het uit “godsdienstige motivering” opgetree en het verwag om self in die aanval te sterf. Die voorval was deel van verskeie migrantverwante aanvalle wat Duitsland se immigrasiedebat voor die verkiesings aangewakker het. – AFP
2026-01-16 15:01:04
Machado sê sy sal ‘op regte tyd’ Venezuela se president wees
Maria Corina Machado, Venezolaanse opposisieleier, sê sy sal as president van haar land verkies word “wanneer die regte tyd aanbreek”, luidens ’n onderhoud wat Vrydag op Fox News uitgesaai is.
“Daar is ’n missie, en ons gaan Venezuela omskep in daardie land van genade, en ek glo ek sal as president van Venezuela verkies word wanneer die regte tyd aanbreek, die eerste vrouepresident,” het Machado gesê. – AFP
2026-01-16 15:01:47
Oekraïne kan slegs in 60% van sy kragbehoefte voorsien
Oekraïne se energienetwerk, beskadig deur Russiese hommeltuig- en missielaanvalle, voorsien slegs in 60% van die land se elektrisiteitsbehoeftes, het pres. Wolodimir Zelenski Vrydag gesê terwyl die land deur sy koudste en donkerste winter van oorlog tot nou toe worstel.
Oekraïne het in die afgelope week ’n energienoodtoestand verklaar aangesien sy kragnetwerk verbrokkel onder aanhoudende Russiese aanvalle, bitter koue temperature en byna vier jaar se opgehoopte skade van ’n Russiese veldtog teen sy energienetwerk.
Zelenski het gesê kragopwekkingskapasiteit was Donderdag sowat 11 GW, terwyl die land 18 GW benodig. – Reuters
2026-01-16 16:10:20
Trump dreig met tariewe as lande nie sy Groenland-planne steun
Pres. Donald Trump het Vrydag gesê hy kan handelstariewe oplê aan lande wat nie sy planne steun om Groenland oor te neem nie.
“Ek kan lande moontlik ’n tarief oplê as hulle nie (saamwerk oor) Groenland nie, want ons het Groenland nodig vir nasionale veiligheid,” het Trump by ’n geleentheid in die Withuis gesê. – AFP
2026-01-16 16:11:21
Israelse soldate skiet 14-jarige ‘terroris’ dood in Wesoewer
Israelse soldate het Vrydag ’n 14-jarige Palestynse seun in die besette Wesoewer-dorpie Al-Moeghaijir doodgeskiet, het die Palestynse ministerie van gesondheid gesê, terwyl die Israeliese weermag gesê het soldate het gereageer op klipgooiery.
Kort nadat die ministerie die dood van Mohammed al-Nassan aangekondig het, het die weermag gesê soldate is na die dorpie ontplooi nadat Palestyne “klippe na Israeli’s gegooi, bande aan die brand gesteek en toegangsroetes na die gebied geblokkeer het”.
“Die soldate het gereageer deur waarskuwingskote in die lug te skiet, gevolg deur skote om die terroris uit te skakel,” het die weermag gesê.
Volgens die burgemeester van Al-Moeghaijir is die seun geskiet toe hy ná Vrydaggebede uit ’n moskees gekom het. – AFP
2026-01-16 17:06:18
Man 30 j. tronk toe weens beplanning van aanval op Noorse gay-kroeg
’n Noorse hof het Vrydag ’n Islamitiese aktivis skuldig bevind aan die beplanning van ’n dodelike skietery by ’n gay-kroeg tydens Oslo se Pride-vieringe in 2022 en hom tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.
Arfan Bhatti (48), ’n Noorse burger wat in Oslo gebore is, het tereggestaan op aanklagte van medepligtigheid aan terreur oor die beplanning van die aanval, al was hy tydens die skietery in Pakistan.
Twee mense is dood en agt gewond toe ’n Irans gebore man op die London Pub in Oslo losgebrand het. – Reuters
2026-01-16 17:07:52
Pro-Palestynse aktiviste ontken skuld aan inbraak by Britse lugmagbasis
Vyf pro-Palestynse aktiviste het Vrydag skuld ontken op aanklagte van inbraak by ’n Britse lugmagbasis en die beskadiging van twee vliegtuie in protes teen Brittanje se steun aan Israel.
Die vyf word daarvan beskuldig dat hulle in Junie 2025 by die Brize Norton-lugmagbasis in Sentraal-Engeland ingebreek en rooi verf oor twee vliegtuie gespuit het wat vir hervulling en vervoer gebruik word.
Die groep Palestine Action, wat sedertdien deur die regering verbied is, het verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar. – Reuters
2026-01-16 18:02:24
Seun van sjah sê Iran 'sal val'; vra vir ingryping
Die seun van Iran se ontslape sjah het Vrydag gesê hy is vol vertroue dat die Islamitiese Republiek sal val te midde van massabetogings, en het op ingryping aangedring.
"Die Islamitiese Republiek sal val – nie as nie, maar wanneer," het Reza Pahlavi op ’n nuuskonferensie in Washington gesê. "Ek sal na Iran terugkeer."
Pahlavi woon sedert die Islamitiese revolusie in 1979, wat sy pro-Westerse pa omvergewerp het, in ballingskap in Amerika. Baie betogers het Pahlavi se naam geskreeu tydens onlangse massabetogings in Iran.
Pahlavi het gesê hy wil ’n simboliese leier wees om ’n oorgang na ’n sekulêre demokrasie te lei. Hy het herhaaldelik ’n beroep gedoen op ingryping deur pres. Donald Trump.
"Iran se mense neem beslissende stappe op die grond. Dit is nou tyd vir die internasionale gemeenskap om hulle ten volle te ondersteun," het Pahlavi gesê. – AFP
2026-01-16 18:03:40
Kijif het slegs die helfte van sy elektrisiteitsbehoefte
Oekraïne se hoofstad, Kijif, het slegs sowat die helfte van die elektrisiteit wat dit benodig te midde van temperature onder vriespunt, terwyl hy sy ernstigste oorlogstydse energiekrisis ervaar ná vlae van Russiese aanvalle op sy infrastruktuur, het die burgemeester, Vitali Klitschko, Vrydag gesê.
Sommige van die stad se 3,6 miljoen inwoners is 18 tot 20 uur per dag sonder elektrisiteit.
Klitschko het ook aangekondig skole in Kijif sal tot volgende maand gesluit wees weens die kragtekorte, en dat die intensiteit van straatbeligting tot ’n vyfde van sy vermoë verminder sal word om energie te bespaar. – Reuters, AFP
2026-01-16 19:06:34
Trump bedank Iran dat betogers nie tereggestel word
Pres. Donald Trump het Vrydag sy dank uitgespreek teenoor Iran se leiers toe hy gesê het Iran het die teregstelling van honderde betogers wat in ’n wrede onderdrukking in hegtenis geneem is, gekanselleer.
"Ek het groot respek vir die feit dat alle geskeduleerde teregstellings wat gister sou plaasvind (meer as 800 van hulle) deur die leierskorps van Iran gekanselleer is. Dankie!" het Trump op sy Truth Social-platform geskryf.
Trump het die afgelope twee weke herhaaldelik met militêre optrede teen Iran gedreig om betogers te help, maar hy het oënskynlik van deuntjie verander nadat hy Woensdag gesê het hy is ingelig dat die moorde opgehou het. – AFP
2026-01-16 19:07:43
47 Venezolaanse soldate sterf in VSA-aanval – minister
47 Venezolaanse soldate is dood in die Amerikaanse aanval op Caracas en die gevangeneming van pres. Nicolás Maduro vroeër die maand, het Vladimir Padrino, Venezuela se minister van verdediging, Vrydag gesê. Nege van hulle was vroue, het hy bygevoeg.
Kuba het Donderdag die oorskot van 32 van sy soldate ontvang wat, volgens hom, op die oggend van 3 Januarie in gevegte dood is.
Venezuela se minister van binnelandse sake het verlede week gesê 100 mense is in die aanval dood, sonder om te spesifiseer hoeveel van hulle soldate was. – Reuters
2026-01-16 19:14:34
Ugandese opposisieleier glo in weermaghelikopter ontvoer
Die Ugandese opposisieleier en presidentskandidaat Bobi Wine is met geweld uit sy huis verwyder en in ’n weermaghelikopter na ’n onbekende plek geneem, het sy party Vrydag in ’n plasing op X gesê.
Woordvoerders van Uganda se regering en weermag was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
Wine se National Unity Platform (NUP)-party het laat Donderdag gesê dat die weermag en polisie Wine se huis in die hoofstad, Kampala, omsingel het, "wat hom effektief onder huisarres geplaas het". – Reuters
2026-01-16 20:04:32
Venezuela sal vry wees met steun van VSA, Trump – Machado
Die Venezolaanse opposisieleier María Corina Machado het Vrydag gesê Venezuela sal vry wees danksy die steun van Amerika en pres. Donald Trump.
"Ek wil die Venezolaanse mense verseker dat Venezuela vry gaan wees en dit gaan bereik word met die steun van die mense van Amerika en die president, Donald Trump," het Machado op ’n geleentheid in Washington gesê.
Sy het ook gesê haar land het met ’n "ware oorgang na demokrasie" begin nadat Amerikaanse magte die outoritêre pres. Nicolás Maduro gevange geneem het.
"Ons neem nou beslis die eerste treë van ’n ware oorgang na demokrasie," het Machado gesê en bygevoeg dat dit ’n "enorme impak sal hê op die lewe van alle Venezolane", asook oor die streek en die wêreld heen. – AFP
2026-01-16 20:12:01
FAA maan oor militêre aktiwiteite oor Sentraal- en Suid-Amerika
Die Amerikaanse Federale Lugvaartowerheid (FAA) het Vrydag gesê hy het ’n reeks waarskuwings aan lugrederye uitgereik om versigtig te wees wanneer hulle oor Sentraal-Amerika en dele van Suid-Amerika vlieg weens die risiko’s van moontlike militêre aktiwiteite en GPS-steurings.
Die FAA het gesê hy het kennisgewings uitgereik vir dele van Mexiko, Panama, Colombia en Ecuador, asook ander dele van Sentraal-Amerika en gedeeltes van die lugruim oor die oostelike Stille Oseaan. – Reuters















