As iemand my nou moet sien! Dis wat ek dink toe ek my vinger diep in die browniedeeg druk, aflek en 'n streep sjokolade op my pajamahemp mors. Ek is nie normaalweg 'n slordige mens nie. Inteendeel, ek is nogal 'n perfeksionis.
Maar vandag lyk ek soos 'n misoes.

Dié grillerige prentjie is wêrelde verwyder van die "New hair, who dis?"- foto wat ek vroeër op sosiale media gedeel het. Want sien, ure gelede kón jy my nog deur 'n ring trek. Maar nou is ek by die huis.
Dis helder oordag, maar die grimering is klaar af, die nuut gekleurde hare waarmee ek netnou nog gespog het, is in 'n bolla, en ek het my slaapklere aan.
Die afgelope jaar was dié kort periodes van absolute verval binne my vier mure my behoud. Ons noem dit lankal 'n sloerstaking, maar dit het eers onlangs 'n Engelse naam gekry: "goblin mode".
Mense moes die woord van die jaar uit drie finaliste kies: 'goblin mode', 'metaverse' en '#IStandWith'. 'Goblin mode' het met 93% van stemme skoonskip gemaak.
Dié begrip het die rondtes begin doen nadat Oxford University Press dit einde verlede jaar as die woord van 2022 aangewys het. Dit verwys na dit wat 'n mens doen as jy nie eens meer probeer om netjies te wees nie - wanneer jy jou skottelgoed ongewas laat en skaamteloos soos 'n slonskous lewe vir respyt van die alledaagse en oorweldigende gewoel.
Toe ons redakteur my dus uitdaag om amptelik vier dae lank in "goblin mode" te lewe, het ek gedink: Dis die maklikste opdrag ooit!
'n Verrassing het op my gewag.

Vrydag 16 Desember: Dag 1 van goblin mode
08:00: Ons het beurtkrag. Ek kan seker water vir koffie op die gasstofie kook, maar is eerlikwaar nie lus nie en vat die 2 L-boks vrugtesap en my ontbytpap terug bed toe.
12:00: Ek sit-lê steeds in die bed en het vandag nog net my tande geborsel. Selfs die gordyne is nog toe. My skootrekenaar lê op die bedkassie. Ek het vroeër die beste bedoelings gehad om 'n klomp persoonlike admin op datum te bring noudat ek besluit het ek gaan vandag nêrens heen nie. Pleks daar-van het ek die afgelope drie uur 'n dekade se beste en vrotste Got Talent-oudisies op my selfoon gekyk.
Ek sal my lyf goblin hou, maar hierdie goblin moet skoon wees, al lyk sy soos 'n kreatuur van die nag.
My man verstaan en omarm die vrotvel-opdrag: Hy bring vir ons McDonald's vir middagete. Iewers probeer iemand my op WhatsApp-video bereik - ek maak of ek dit nie sien nie. Vandag is nie die dag vir gesig wys en geselsies maak nie. My hare hang in gekoekte slierte langs my gesig af.
16:00: Deur die loop van die middag het ek die bed vir die rusbank voor die televisie verruil, maar steeds nie 'n gordyn oopgetrek nie. Dis so lekker - dit voel amper of ons van die wêreld ontsnap in die stilte van ons eie huis. Ek bestel pizza vir aandete en ons binge die res van die aand reekse op Netflix. Daai aand klim ons terug in die (steeds!) onopgemaakte bed.

Saterdag 17 Desember: Dag 2 van goblin mode
08:30: Ek stort so gou as wat my oë oopgaan. Ek sal my lyf goblin hou, maar hierdie goblin moet skoon wees, al lyk sy soos 'n kreatuur van die nag.
Die wasgoedmandjie begin oorloop en twee dae se skottelgoed en onbeantwoorde WhatsApp-boodskappe hoop op. Ek probeer my nie daaraan steur nie en doen 'n paar takies in en om die huis.
Vir iemand soos ek, wat van nature 'n perfeksionis is, begin die boemelary gaandeweg 'n bietjie meer stresvol as ontspannend raak. Al die slonsigheid om my is steurend.

13:00: Die vorige aand se oorskietpizza word middagete- sommer weer voor die televisie. Ek is nog honger en eet die laaste jogurt sommer so uit die bak om nie ekstra skottelgoed te maak nie.
Die middag kom laai Checkers 'n paar inkopies af. Dit sluit voorafbereide maaltye vir aandete in, want ek gaan steeds nie kosmaak nie. Ek vra die drywer om my pakkies buite die hek te los en sluip dan uit om dit te gaan haal voor iemand my sien.
En dan raak dit alles net een te veel!
Teen laatmiddag is ek lusteloos van al die rondsit en niksdoen. Ons kan die vuil skottelgoed ook nie meer uitstaan nie. Ek spring in, kook gesonde kos vir aandete,verf my naels en gooi 'n bondel wasgoed in die wasmasjien.
Dit kom voor of dié slaplê tóg maar sy perke het.

Sondag 18 Desember: Dag 3 van goblin mode
10:00: Wat vier dae van lekker leeglê moet wees,laat my ál meer benoud voel en sommer net jig! Ek het ernstige kajuitkoors. Ek was my hare en voel soos 'n nuwe mens.
Ons gaan ry 'n paar draaie, maar ek dollie myself nie juis op nie. Dit is wel nogal bevrydend om "slegs oukei" te lyk - en te besef almal om jou lyk hierdie tyd van die jaar ook "slegs oukei" en dat daar eintlik niks mee fout is nie.
13:30: Noudat ek 'n ruk uit die huis was en mens gevoel het, is ek weer gereed om die res van die dag 'n sloermoer te gooi, maar hierdie slag antwoord ek die video-oproep op WhatsApp.
Maandag 19 Desember: Dag 4 van goblin mode
08:00: Die nuusredakteur sê ek is welkom om nog'n dag in die bed te bly.Ek laat weet baie hoflik: "Daar is nie eens'n manier nie. My hare is gewas, my beenhare is geskeer en ek is gereed vir die dag. Ek is nou eers klaar met die slonskousstorie, dankie."
Dit gaan nie daaroor om op te gee op die lewe of alle sosiale en morele stelsels nie - dis 'n klein vakansietjie van jou beste self.
— Carola Long, Financial Times
Daar is 'n rede dat "goblin mode" as die woord van die jaar gekies is. Die publiek het dit aangewys in reaksie op die volmaakte lewe wat almal oënskynlik op sosiale media lei, sê Casper Grathwohl, president van Oxford University Press se afdeling Oxford Languages.
Mense moes die woord uit drie finaliste kies: "goblin mode", "metaverse" en "#IStandWith". "Goblin mode" het met 93% van stemme skoonskip gemaak.
"As jy kyk na die jaar wat ons gehad het, resoneer "goblin mode" met almal van ons wat in dié stadium ietwat oorweldig voel. Dis 'n verligting om te erken dat ons nie altyd ons ideale, versorgde self is wat ons voel ons op Instagram en TikTok moet ten toon stel nie," sê Casper.

Mense moet ook nie dink "goblin mode" beteken net om grillerig te wees nie, sê Carola Long van die FinancialTimes. "Vergeet van hierdie veroordelende woorde soos ‘lui' en ‘gierig' - dit is 'n viering van die wilde, ongefilterde self, 'n gesonde en herstellende toestand van antiperfektheid. Dit gaan nie daaroor om op te gee op die lewe of alle sosiale en morele stelsels nie - dis 'n klein vakansietjie van jou beste self."
"Goblin mode" is meer 'n ingesteldheid as enigiets anders, sê Dave McNamee, wie se twiette oor die saak verlede jaar die internet laat gons het.
"Dit is wanneer jy tweeuur die oggend wakker word en in 'n lang T-hemp kombuis toe skuifel om iets vreemds soos gesmelte kaas op soutbeskuitjies aanmekaar te slaan. Dis wanneer jy glad nie omgee of dinge mooi lyk nie, want waarom sal 'n goblin omgee hoe hy lyk?"
Dit sal nie vir almal werk nie. Party mense ontspan deur op die rusbank te lê. Ander ontspan deur op hul eie voorwaardes besig te bly.
Die plaaslike sielkundige Naomi Holdt het 'n ruk gelede iets hieroor op Facebook geskryf. Volgens haar het ons 2022 binnegegaan met die idee dat ons vir die twee "verlore" voorafgaande jare wou "opmaak".
Dít terwyl ons eintlik nog moes fokus op ons fisieke en psigiese herstel.
Die gevolg is dat almal nou buitengewoon moeg en afgerem voel. 'n Matige bietjie "goblin mode" was in my geval dus net die ding wat my 'n hupstootjie moes gee om die laaste maand van die jaar te oorleef. Maar vier dae was te lank. Dit sal nie vir almal werk nie. Party mense ontspan deur op die rusbank te lê. Ander ontspan deur op hul eie voorwaardes besig te bly.
Ek dink die belangrikste boodskap vir my was: Dis oukei om soms net te oorleef - hoe jy dit ook al doen.

















