Mense

Linden-afrigter sien om na Australiese hokkiespan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Leon Keulder, 'n biokinetikus en hoof van hokkie by die Hoërskool Linden, Johannesburg, is onlangs gekies om om te sien na die Australiese vrouespan wat aan die wêreldtoernooi vir binnemuurse hokkie in Pretoria deelneem.

Die toernooi het Sondag in die Heartfelt Arena in Pretoria afgeskop en die laaste wedstryd word Saterdag gespeel.

Leon Keulder (middel agter), hoof van hokkie van die Hoërskool Linden, wat aangewys is as die Australiese vrouehokkiespan se biokinetikus. Die span is tans in Suid-Afrika vir die wêreldtoernooi vir binnenshuise hokkie. Hier is hy saam met 'n paar van die spelers.  Foto: Melinda Stuurman
Leon Keulder (middel agter), hoof van hokkie van die Hoërskool Linden, wat aangewys is as die Australiese vrouehokkiespan se biokinetikus. Die span is tans in Suid-Afrika vir die wêreldtoernooi vir binnenshuise hokkie. Hier is hy saam met 'n paar van die spelers. Foto: Melinda Stuurman

Sowel vroue- as manspanne van ses lande neem deel aan die toernooi.

In die vroue-afdeling ding Nederland, Australië, Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Oostenryk en die Verenigde State mee. In die mansafdeling is dit Nederland, België, Oostenryk, Namibië, Nieu-Seeland en Kazakstan.

"Die Australiese span het my sowat 'n week gelede gekontak en gevra of ek hul biokinetikus vir die toernooi sal wees," vertel Keulder.

Hy ken die sport baie goed, maar dit bly vir hom 'n verrassing dat hy gevra is om die vroue te help.

Nadat hy ingestem het om te help, het hy dadelik die vroue wat hy op provinsiale vlak afrig en wat ook in die Suid-Afrikaanse span is, daaroor ingelig.

"Dit was nogal oorweldigend, veral omdat ek wou weet waar hulle van my gehoor het. Maar dit gaan goed en ek vind my voete by die span."

Leon Keulder Foto: Melinda Stuurman
Leon Keulder Foto: Melinda Stuurman

As biokinetikus moet hy seker maak die span is gereed vir die volgende wedstryd en hy moet enige beserings bestuur.

Keulder meen sy jarelange ervaring met die sport het gehelp met sy aanstelling, maar Krisso Hooley, spanbestuurder, sê hy is die perfekte kandidaat.

"Hy het goeie kennis van die spel en spelers en hy verstaan die lywe van hokkiespelers en weet wat hulle nodig het."

Sy ervaring as deel van 'n span van een van die grootste sportnasies ter wêreld is tot dusver baie goed.

Keulder sê die Australiese span werk volgens goeie stelsels.

"Dít laat die spelers goed en veilig voel. Dit laat hulle ook bemagtig voel. Dit is waarskynlik die belangrikste ding wat ek die afgelope paar dae geleer het.

Leon Keulder by die Heartfelt Arena in Pretoria. Foto: Melinda Stuurman
Leon Keulder by die Heartfelt Arena in Pretoria. Foto: Melinda Stuurman

"Daar is ook goeie kameraderie in die span en dit maak alles beter, al verloop dinge nie altyd volgens plan nie."

Hy beplan om die lesse wat hy daar leer, terug te ploeg in die plaaslike spanne waar hy betrokke is.

Woensdag gaan Keulder se moeilikste dag by die toernooi wees wanneer sy span teen Suid-Afrika speel. Sy fokus en pligte bly by Australië, maar sy hart is by sy land se span, sê hy.

Benewens sy werk as biokinetikus, is Keulder betrokke by hokkie as 'n afrigter. Hy rig Linden se eerste-seunspan af, Kingsmead College se eerste-meisiespan asook die Mzansi Hawks in die Johannesburg Hokkie-liga (JHL), waar hy die senior vrouespan afrig.

Hy het ook sy eie klub, Tigers Hockey Academy, wat by die Hoërskool Linden gebaseer is.

Phiwokuhle Mothemela

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM