Mense

Ma’s van Junior Bokke van Bloem bars van trots ná oorwinning

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jean Erasmus en JJ Theron ná die wedstryd met die trofee nadat die Jong Bokke Nieu-Seeland met 23-15 in die eindstryd van die o. 20-Wêreldtoernooi geklop het. Hulle albei het in 2023 vir Grey Kollege se eerste span gespeel.  Foto: Instagram/Jean Eras

Die harte van die ma's van drie Jong Bokke van Bloemfontein bars van trots.

Die drie rugbyspelers van Bloemfontein was die afgelope naweek deel van die Junior Springbokspan wat as die o. 20-wêreldkampioen gekroon is.

Twee van die spelers is oudleerlinge van Grey Kollege in die stad, en een 'n oudleerling van die Hoërskool Fichardtpark.

Suid-Afrika het Nieu-Seeland Saterdag in Rovigo, Italië, met 23-15 in die eindstryd van die o. 20-Wêreldtoernooi geklop. Dit was die eerste keer in 13 jaar dat die Junior Bokke die toernooi wen.

JJ Theron se ma, Amanda, sê haar seun het ná die wedstryd 'n video-oproep na haar gemaak om sy medalje te wys. Theron het die naweek as slot uitgedraf, en was tot 2023 die kaptein en agtsteman van Grey Kollege in Bloemfontein se eerste span.

"Dit was baie mooi toe die eindfluitjie blaas en ek daardie absolute trots van elke speler sien en hoe hulle almal in die blydskap deel," sê Amanda.

"Ek weet watter voorreg dit vir hom was om deel te kon wees van die span."

JJ Theron met die beker nadat die Junior Springbokspan Nieu-Seeland die naweek geklop het.  Foto: Verskaf
JJ Theron met die beker nadat die Junior Springbokspan Nieu-Seeland die naweek geklop het. Foto: Verskaf

Sy sê sy het altyd geweet haar seun gaan rugby speel.

"Hy het permanent met daardie ovaalbal rondgeloop. Dit verg baie harde werk om op daardie vlak te kan speel."

Jaco Grobbelaar het Theron die naweek ná rustyd as slot vervang. Hy het in 2023 vir Fichardtpark se eerste span uitgedraf.

Jaco Grobbelaar, 'n oudleerling van die Hoërskool Fichardtpark wat ook die naweek deel was van die Junior Springbokspan.  Foto: Facebook
Jaco Grobbelaar, 'n oudleerling van die Hoërskool Fichardtpark wat ook die naweek deel was van die Junior Springbokspan. Foto: Facebook

Hy was die eerste leerling van dié skool wat vir die SA Skolespan gespeel het, en het ook met agt onderskeidings in die matriekeindeksamen gespog.

Grobbelaar se ma, Atella, sê haar seun het reeds voor skool begin rugby speel en die spel loop al van kleins af in sy are. Sy sê sy "bars van trots" om haar seun op hierdie vlak te sien speel.

Jean Erasmus, wat ook in 2023 vir Grey Kollege se eerste span gespeel het, het die naweek as reserwe-stut op die veld gedraf.

Die drie het hulle Dinsdag weer by die Bulle se spanoefening aangesluit.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM