2025-12-17 11:18:38
Familie neem Woensdagoggend afskeid
Samantha Labuschagne, ’n familievriend van Marius van der Merwe, sê Van der Merwe se naasbestaandes het Woensdag om 10:00 in ’n private diens by Medley House, Brakpan, van hom afskeid geneem.
Die familie rus nou, eet ietsie, en berei voor vir wat kom, sê sy.
Van der Merwe se gesin en familie sukkel om sy dood te verwerk, sê Labuschagne.
“Wanneer hy ter ruste gelê is, sal die emosies begin uitwerk. Vir nou was die fokus om sy gedenkdiens te beplan.”
Die gedenkdiens, wat oop is vir openbare bywoning, begin om 14:00.
2025-12-17 11:19:14
Samantha Labuschagne Foto: Melinda Stuurman

2025-12-17 11:20:05
Die laaste voorbereidings word gedoen vir Marius van der Merwe se gedenkdiens. Foto: Melinda Stuurman

2025-12-17 11:24:36
Marius van der Merwe se kis is deur ’n konvooi van drie BMW X5-motors na die diens begelei.

2025-12-17 12:06:35
Die diens begin
Van der Merwe se vrou, Leanne, sy seun Aiden, sy broers Christo en Morné en sy susters Natasha en Verushka het Woensdag om 13:57 sy kis by die Medley House-saal in Brakpan binnegedra.

Sy vrou is geklee in ‘n lang swart rok en dra ‘n breërandhoed met ‘n pienk blom.
Gemeenskapslede het omstreeks 13:30 reeds die saal begin volmaak, en ekstra stoele is ingedra. Daar is ook sitplek buite beskikbaar, maar die wolke pak saam buite Medley House.

Die diens word bygewoon deur verskeie gemeenskapslede, onder andere lede van veiligheidsondernemings in die omgewing. Die diens word gelei deur kapelaan JP Jordaan, van die EMS-kapelaanskap.
2025-12-17 12:13:37
Marius van der Merwe se vrou, Leanne, tydens die diens. Foto: Melinda Stuurman

2025-12-17 12:24:48
Seuns met teddiebeertjie
Twee jong seuns sit voor in die saal op Leanne se skoot – een hou ’n bruin teddiebeertjie vas. Sy vryf deurgaans die seuntjies se rûe.
“Ons wou gehad het hy moet sy seuns sien grootword, trou – maar hy kon nie,” sê kpln. JP Jordaan. Dit beteken nie dat ons moet moed opgee en hoop verloor nie, voeg hy by.
“Marius se gees is nou in die teenwoordigheid van die almagtige God.”
2025-12-17 12:36:23
‘Ek mis jou, my Pappa’ – seun
Kpln. Henry Bruinette het namens familielede briewe voorgelees, onder meer van Van der Merwe se vrou en vier seuns. “Ek mis jou, my Pappa,” skryf Clinton. “Pappa het Brakpan laat cool lyk.” Aiden skryf: “Ek weet Pappa kyk na my en my boeties van bo.”
2025-12-17 12:44:34
‘How do I say goodbye?’
Kpln. JP Jordaan sluit die diens amptelik af met die begrafnisformulier.
’n Skyfievertoning met foto’s van Marius, sy kinders en Leanne asook familie en vriende word gewys.
Dean Lewis se “How Do I say goodbye?” speel in die agtergrond. Daar is baie foto’s van Marius en sy seuns. Familielede vee hul trane weg en snik hoorbaar.
2025-12-17 12:44:42
Een van Marius van der Merwe se seuns lê op sy vrou, Leanne, se skoot. Foto: Melinda Stuurman

2025-12-17 12:59:16
Roosblare op kis
Familie- en gemeenskapslede het een vir een roosblare op die kis neergelê.
“Vandag het ons saam gerou, maar ook saam hoop gevind,” sê kpln. JP Jordaan.
Van der Merwe se vrou, Leanne, sy seun Aiden, sy skoonpa, Rodney, en sy skoonma, Lesley, asook sy vriende Jaco en Tim dra sy kis by die saal uit.
My Chemical Romance se “The Black Parade” speel.
Die diens is verby.

2025-12-17 13:01:54
Veiligheidswagte en polisielede vorm ’n erewag en sing terwyl Van der Merwe se kis die perseel in ’n swart BMW X5 verlaat.















