Rico Eagles kan weer sy vlerke sprei nadat 'n lewensveranderende operasie dié jong rugbyspeler 'n tweede kans gegee het - "alles te danke aan vreemdelinge".
Die 22-jarige Eagles het drie weke gelede in 'n klubrugbywedstryd 'n besering aan sy nek opgedoen wat dié jong man permanent verlam kon laat, maar danksy 'n groep barmhartige Samaritane en 'n BackaBuddy-veldtog, kon sy familie binne net drie dae genoeg geld insamel sodat hy 'n werwelhegtingsoperasie kon ondergaan.
Eagles het ná twee weke in drie verskillende hospitale uiteindelik Sondag die operasie ondergaan en is wonderbaarlik Dinsdag reeds ontslaan om by sy pa, Marcus, in Bronkhorstspruit aan te sterk voordat hy eersdaags met fisioterapie begin.
Sy ma, Lorraine, het aan Netwerk24 gesê sy het gebid vir 'n wonderwerk en toe sy Dinsdag vroegoggend die oproep kry dat hy op pad is huis toe, het sy net weer besef hoe groot die Here se genade is en hoe goed die mensdom kan wees.
"My seun is 'n sterk kind en om hom die afgelope paar weke in 'n hospitaalbed te moes sien lê, was hartverskeurend, maar met die genade van God is daar weer 'n glimlag op sy gesig," sê sy.
Eagles is op Saterdag 27 Julie ná sy besering inderhaas na die staatshospitaal in Bronkhorstspruit geneem, maar moes weens tegniese probleme na die Mamelodi-hospitaal verskuif word. Daarna is hy na die Steve Biko- akademiese hospitaal oorgeplaas en nadat sy geliefdes oor etlike dae die nagenoeg R200 000 kon insamel wat hy nodig gehad het vir die operasie, is hy uiteindelik na die Eugene Marais-hospitaal oorgeplaas.
Hy is Sondag deur dr. Helene Basson van Operation Healing Hands geopereer.
Nadat sy en haar man Saterdagaand die hele aand langs sy hospitaalbed was, vertel Lorraine het sy weer besef hoe kosbaar die lewe is en hoop sy dat haar seun se storie ander ma's kan hoop gee "dat daar altyd iemand is wat kan help".
" 'n Mens kan nie die gevoel beskryf as jy hoor jou seun het pas op sy kop geval en moes hospitaal toe gejaag word nie, maar as daar iets is wat hierdie paar weke my geleer het, is dit dat daar altyd iemand is wat omgee," sê sy.
"Daar was soveel mense wat hul hart vir ons oopgemaak het, mense wat ons nie eens ken nie, en om te weet dat my seun se lewe gered is deur vreemdelinge maak my innig dankbaar en gee my hoop."
Een so 'n vrou was Liana Kruger, die ma van die 17-jarige Francois wat vroeër die maand ook 'n operasie moes ondergaan nadat hy gedurende 'n derdespan-rugbywedstryd beseer is.
"Toe ek Rico se storie op Facebook lees, het ek met sy ma kontak gemaak. Terwyl my seun besig is met fisioterapie en baie goed aansterk, het ek besef dat Rico en sy ma ook soos ons 'n ruk terug dalk hulp nodig het," sê Kruger.
LEES OOK | Jong rugbyspeler ‘amper op die been' ná nekoperasie

Soos Kruger glo Lorraine dat haar seun se storie ander kan inspireer en het sy besef dit is nou tyd "to pay it forward".
"André Bester is 'n sportjoernalis wat Rico se storie op sosiale media gedeel het en Michelle Sewell is 'n ma wie se seun ook in 'n rugbywedstryd beseer is en as dit nie vir hulle twee was wat my gehelp het met die BackaBuddy-veldtog nie, kon dinge soveel anders verloop het."
Sewell was ook die een wat kontak gemaak het met Operation Healing Hands om die Eagles-gesin by te staan.
"Ek het net besef die Here het hulle vir 'n rede oor ons pad gestuur en nou is dit my beurt, soos hulle sê, to pay it forward."
Ná Eagles se operasie het hulle besluit om iets te doen om ander te help en die Rico Eagles Initiative op sosiale media begin.
Dié blad is daarop gemik om ander te help om ook hul stories te vertel en saam te werk om jong atlete te help wat in soortgelyke situasies is.
"Alles gebeur met 'n doel en al het Rico besluit om nie weer rugby te speel nie, kan sy storie ander inspireer en ek hoop dat ons nog baie ouers en hul kinders sal kan help."





















