Mense

Vrou se verlore trouringe binne minute op strand teruggevind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Van links is Miguel (9), Eddie du Plessis, Michael de Nobrega en Mason (6) met die metaalverklikker.
Van links is Miguel (9), Eddie du Plessis, Michael de Nobrega en Mason (6) met die metaalverklikker. (Foto: Verskaf)

’n Suid-Afrikaanse egpaar van Australië wat tans in Hartenbos kuier, se vakansie is gered deur ’n goedhartige pa en sy twee seuntjies wat die vrou se verloofring en troupand binne minute op die strand kon opspoor.

Eddie du Plessis sê hy en sy vrou, Elaine, en hul driejarige kind kuier tans by sy ouers in Hartenbos. Sy vrou se ringe het op 28 Desember, ’n dag nadat hulle geland het, op die strand verlore geraak.

“My vrou het haar ringe afgehaal om sonroom aan ons dogtertjie te smeer. Sy het die ringe op haar skoot gehou. In die een of ander stadium het sy daarvan vergeet en dit het in die sand geval. Ons het al op die strand opgelet sy dra nie haar ringe nie, maar het toe gedink sy het dit dalk by die huis gelos.”

Eddie du Plessis en sy vrou, Elaine.
Eddie du Plessis en sy vrou, Elaine. (Foto: Verskaf)

Dit was egter nie by die huis nie. Eddie se ma het toe gesê sy is in ’n Facebook-groep waar mense met metaalverklikkers na dinge op die strand soek. Nadat ’n boodskap op die groep geplaas is, het Michael de Nobrega uitgereik.

Eddie en sy skoonsuster het De Nobrega op die strand ontmoet. Sy vrou wou nie saam nie, want sy was bang haar ringe word nie gevind nie. “Sy was daarvan oortuig dis vir altyd weg en was baie hartseer daaroor.”

Eddie-hulle het ’n blok getrek waar die familie die vorige dag gesit het, en De Nobrega en sy seuns het begin soek. Binne drie minute het die metaalverklikker “gepiep-piep” en die verloofring is opgespoor. Die troupand het kort daarna gevolg. Volgens Eddie is die video gemaak nadat die verloofring gevind is.

“Ek was deur die dak! Ek het nie heeltemal geglo die ringe gaan gekry word nie.”

Eddie sê hoewel hy geld saam strand toe geneem het om De Nobrega te betaal, het De Nobrega dit van die hand gewys. Eddie het toe wel R100 aan die twee seuntjies gegee om te deel. Hy wou meer gee, maar De Nobrega het sy voet neergesit.

Eddie-hulle sal in Februarie sewe jaar getroud wees. Hy en sy vrou is al wel 17 jaar saam. Hulle woon al sedert 2017 in Australië nadat sy werk hom daarheen verplaas het.

Die ring, sê hy, was een wat sy graag wou hê en die pand is spesiaal vanuit Amerika bestel.

De Nobrega sê sy vriendin het hom bewus gemaak van die inskrywing op Facebook.

Die verloofring en troupand wat verlore geraak het.
Die verloofring en troupand wat verlore geraak het. (Foto: Verskaf)

Sy twee seuns, Miguel (9) en Mason (6), het hom bygestaan.

Hy het sy Minelab Manticore-metaalverklikker gebruik om die ringe te vind.

Michael sê hy help gereeld mense om hul verlore items op strande te vind. Net die dag nadat hy Eddie-hulle bygestaan het, het hy nog ’n persoon gehelp wat ook hul trouring op die strand verloor het.

“Om die verligting en geluk op mense se gesigte te sien wanneer ons die ringe kry, is baie spesiaal om te aanskou. Vriendelikheid kos niks en om ander uit stresvolle oomblikke te help, is altyd die moeite werd. Ons was veral bly om te help wetende dat die egpaar al die pad van Australië af kom kuier het. Ons hoop hulle geniet die res van hul vakansie en het ’n veilige reis huis toe,” sê hy.

Michael woon al 41 jaar in Hartenbos. Eddie-hulle vlieg op 7 Januarie terug na Australië, waar hulle in Brisbane woon. – carl.thomas@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM