Misdaad

Vrou op landgoed in Groot-Brakrivier gedreig, beroof

'n Vrou is Maandag op 'n landgoed in Groot-Brakrivier in die Suidwes-Kaap in haar huis met 'n mes gedreig en beroof.

Die voorval het omstreeks 03:40 in die Avonddans-landgoed gebeur.

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, sê die 39-jarige vrou het weens 'n geraas wakker geword. Sy het ondersoek ingestel en 'n man in die televisiekamer aangetref.

"Hy het haar met 'n mes gedreig, 'n onbekende bedrag kontant gesteel en gevlug."

Die trustee-komitee van die landgoed het by navraag gesê die Avonddans II-huiseienaarsvereniging betreur die voorval.

Luidens die verklaring is Avonddans 'n omheinde landgoed met toegangsbeheer waar elke eienaar verantwoordelik is vir sy of haar eie sekuriteit. Die huiseienaarsvereniging het bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel.

Volgens Spies ondersoek die polisie 'n saak van huisroof.

'n 25-jarige man is in verband met die voorval in hegtenis geneem, maar dis nie bekend of en wanneer hy in die hof verskyn het nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM