Munisipaliteite

GRAFIKA | Wes-Kaap het duurste gemiddelde huur in SA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Alhoewel die styging in huurpryse in Suid-Afrika verlangsaam het, word dit steeds duurder om 'n eiendom te huur. En volgens die jongste huureiendomsindeks betaal mense in die Wes-Kaap gemiddeld R10 300 per maand vir huur - R1 000 hoër as in enige ander provinsie.

Dit blyk uit 'n verslag oor die eerste kwartaal vanjaar deur die PayProp Rental Index, 'n organisasie wat onder meer na die groei van huur op provinsiale en nasionale vlak in Suid-Afrika kyk.

Wes-Kaap se gemiddelde huur is die duurste in die land. Foto: Getty Images
Wes-Kaap se gemiddelde huur is die duurste in die land. Foto: Getty Images

Nege van die top-10- duurste woonbuurte was in 2023 in die Wes-Kaap - ses in Kaapstad en een elk in Stellenbosch, Knysna en George.

Kaapstad se eiendomme is ook die duurste in Afrika met "prima residensiële eiendom" wat op gemiddeld $5 600 per m² gewaardeer word.

Plettenbergbaai (Wes-Kaap), Hermanus (Wes-Kaap), Umhlanga (KwaZulu-Natal) en Sandton (Gauteng) is ook op die top-10-lys van Afrika se duurste stede.

Suid-Afrika se gemiddelde huur vir eiendom in die eerste kwartaal van 2024 is R301 meer as die gemiddelde huur in dieselfde tydperk verlede jaar. Die maandelikse gemiddelde huur in Suid-Afrika is R8 654.

Die nasionale gemiddelde toename in huurpryse vir die jaar is 3,8%, met 4,2% in Januarie, 3,8% in Februarie en 3,6% in Maart.

Alhoewel die Wes-Kaap die duurste huurpryse in die land het, het dié pryse met net 4,3% sedert verlede jaar gestyg.

'n Mens kan die goedkoopste verblyf huur in Noordwes, waar die pryse rondom R6 301 is. En dít ondanks die feit dat dié provinsie die grootste styging in pryse in die land gehad het met 9,8% .

Die Oos-Kaap het op twee na die vinnigste huurgroei van enige provinsie gehad, ondanks 'n jaar-tot-jaar-groeikoers van 5,6% in die eerste kwartaal van 2024, wat laer was as die 7,3% wat in die laaste kwartaal van 2023 aangeteken is.

Dié provinsie se gemiddelde huur is nou R7 021 - steeds die derde laagste in Suid-Afrika, maar R371 hoër as 'n jaar gelede.

Dit is vanjaar 3,5% duurder om in Gauteng te huur. Dié verhoging in huurpryse is laer as die nasionale gemiddeld van 3,8% en effens laer as die 3,6%-verhoging wat in die vorige kwartaal aangemeld is.

Die gemiddelde huurprys in Gauteng was R8 943 in die eerste kwartaal van 2024. Dit lyk ook of Gauteng binnekort die derde provinsie kan word met 'n gemiddelde huur van R9 000 per maand.

In KwaZulu-Natal was die gemiddelde huur R8 770 in die eerste kwartaal vanjaar, wat minder is as die gemiddelde huur in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, toe dit R8 801 was. Huur het dus met 0,4% afgeneem.

In die Vrystaat is die gemiddelde huurprys R6 927, wat R579 meer is as in die eerste kwartaal verlede jaar. Huur het oor 'n jaar met 9,1% gestyg in dié provinsie, wat die tweede vinnigste groei in die land is.

Volgens die indeks het Limpopo bogemiddelde huurgroei in 2023 gehad, wat in 2024 voortgeduur het, met 'n styging van 4,8% in die eerste kwartaal.

Die gemiddelde huurgeld in Limpopo was R8 027, wat die gemiddelde huur vir die eerste keer bo R8 000 te staan bring.

Mpumalanga het in 2023 'n bogemiddelde huurgroei met 'n 6,1%-verhoging in die vierde kwartaal van verlede jaar gesien. Die huurgroei het egter in die eerste maande vanjaar tot 1,2% gedaal.

In dié provinsie is die huurkoste gemiddeld R8 369 per maand.

• Stefani Terblanche is 'n beursjoernalis by Netwerk24.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM