'n Dringende interdik gaan teen die uitvoerende gesag van Wes-Kaapse regering gebring word indien hulle wel besluit om Knysna onder administrasie te plaas en die munisipale raad te ontbind.
Die besluit, tesame met 'n antwoord op 'n kennisgewing van Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, waarin hy sy voorneme aangekondig het om by die munisipaliteit in te gryp, onder meer weens bestuurs- en diensleweringsprobleme, is Vrydag op 'n spesiale raadsvergadering deur Knysna se munisipale raad aanvaar. Die kennisgewing kan daartoe lei dat die dorp onder administrasie geplaas word.
Die Knysna-munisipaliteit word beheer deur 'n koalisie van die ANC, EFF, PA en PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners), met Mark Willemse van die Knysna Independent Movement (KIM) wat onlangs as speaker aangewys is.
Die munisipaliteit het tot Vrydag gehad om redes aan te voer vir waarom Bredell nie moet ingryp nie. Wouter Kriel, Bredell se woordvoerder, het Maandag bevestig 'n skrywe van die munisipaliteit is Vrydag ontvang en word tans bestudeer.
Die munisipaliteit is nog nie onder administrasie geplaas nie. Netwerk24 het berig die munisipaliteit se reaksie op die kennisgewing sal oorweeg word, waarna Bredell dan aanbevelings aan die Wes-Kaapse provinsiale raad sal maak vir oorweging en goedkeuring.
Indien die munisipale raad wel ontbind word, sal 'n administrateur deur die provinsiale regering aangestel word. Die administrateur is daarvoor verantwoordelik om die voortgesette funksionering van die munisipaliteit te verseker totdat 'n nuwe munisipale raad verkies word. Die administrateur neem die rol van die munisipale raad oor en die munisipale bestuurder rapporteer aan die administrateur.

Christopher Bezuidenhoudt, munisipale woordvoerder van Knysna, het Maandag gesê 'n gekonsolideerde antwoord (op die kennisgewing) is deur die munisipale raad goedgekeur en Vrydag aan Bredell voorgelê.
"Die raad het ook besluit dat indien die LUR aan die provinsiale uitvoerende gesag aanbeveel om ingevolge artikel 139 1C van die Grondwet in te gryp om die Knysna-raad te ontbind en hierdie besluit word aangeneem, die raad 'n dringende interdik teen die besluit van die provinsiale uitvoerende gesag sal aanvra," sê Bezuidenhoudt.
Bredell se kennisgewing bevat onder meer inligting oor die langdurige verwaarlosing van infrastruktuur, besluite oor begrotingstoewysings en mislukkings in die munisipaliteit se bestuur van afvalwater, watervoorsiening en vullisverwydering. Knysna se raad het verlede jaar 'n herstelplan van die provinsiale en nasionale regering aanvaar, onder meer om die water- en sanitasieprobleme in die dorp op te los.
Thando Matika van die ANC, die burgemeester, het Vrydag op die raadsvergadering (wat aanlyn uitgesaai is) gesê dit gaan nie help om die raad te ontbind nie en dat dit nie in die beste belang van die munisipaliteit is nie. Volgens hom word goeie vordering gemaak om stabiliteit in die munisipaliteit teweeg te bring, maar "alles kan nie in een dag gedoen word nie".
















