Terwyl City Power, kragverskaffer van die Johannesburg-metro, maandeliks miljoene rande se verliese ly weens misdaad, vrees die bestuur ook vir die lewe van hul personeel wat daagliks deur misdadigers gekonfronteer word.
So sê Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, nadat 'n skietery vroeër vandeesmaand tussen drie vermeende kabeldiewe en veiligheidsbeamptes van die maatskappy uitgebreek het.
Op Sondag 13 Julie het veiligheidspanne van City Power gereageer op verdagte aktiwiteite by Main Reef-weg 485, Denver, waar die drie verdagtes betrap is terwyl hulle 'n 35 m lange loopgraaf gegrawe het in 'n beweerde poging tot kabeldiefstal, wat toe in 'n skietery ontaard het.
"Dis vir City Power kommerwekkend dat misdadigers soos dié ons personeel se veiligheid in die gedrang bring, maar ons is dankbaar dat niemand in dié voorval beseer is nie," sê Mangena.

Die mans (tussen die ouderdom van 21 en 23) was na bewering deel van 'n kabeldiefstal- of sabotasie-operasie. Mangena sê dis belangrik om te beklemtoon dat dié soort voorval iets is waarvoor die City Power-spanne daagliks te staan kom. "Ons het in die verlede al van ons werknemers, onder wie veiligheidspersoneel, verloor weens die vyandige en gevaarlike toestande, veral in ondergrondse tonnels waar ons spanne aangeval is.
"Ons is nie verbaas dat misdadigers sonder skroom op ons personeel of veiligheidspanne kan skiet nie; dis georganiseerde en swaar gewapende groepe. Ongelukkig is dit ook nie 'n geïsoleerde voorval nie. Soortgelyke aanvalle gebeur gereeld in ander gebiede waar ons spanne gekaap, bedreig, geïntimideer en selfs as gyselaar aangehou word," sê hy.
Die drie verdagtes staan tereg op verskeie aanklagte van onder meer huisbraak, kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Diefstal by City Power: Verskeie werknemers vasgekeer
Om die kommerkroon te span, sê Mangena die maatskappy het sedert Maart vanjaar ook van sy eie werknemers aangekeer weens beweerde witboordjiemisdade.
"City Power ondersoek tans 47 tugsake nadat 15 werknemers die afgelope maand weens verskeie wandade in hegtenis geneem is."
"Die werknemers ondergaan tans interne tugprosesse ná afloop van 'n forensiese ondersoek na onregmatighede betreffende voorraadverkryging en betalings in Maart vanjaar," sê Mangena.
Terwyl City Power besig is met ondersoeke en verhore, kon Mangena nie meer inligting oor dié sake verskaf nie, maar het aan Netwerk24 bevestig sommige van die verdagtes kan moontlik steeds strafregtelik vervolg word.
Hy sê City Power ly maandeliks miljoene rande se verliese weens misdadige voorvalle soos hierdie.
Vyf dae ná die skietvoorval op Main Reef-weg is drie City Power-werknemers - 'n vakleerling, 'n skoonmaker en 'n EPWP-werker - op 18 Julie vasgetrek toe hulle na bewering die Reuven-diensleweringsentrum in 'n maatskappyvoertuig probeer verlaat het met sowat 840 stukke koperpype wat in bokse versteek is.
"Die werknemers is in 'n roetine-inspeksie deur veiligheidsbeamptes vasgetrek. Die veiligheidsbeamptes het op sowat R200 000 se koper afgekom en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is dadelik in kennis gestel, waarna die mans in hegtenis geneem is," sê Mangena.
Miljoene rande se verliese ‘ 'n druppel aan die emmer'
Volgens Mangena ly City Power reeds maandelikse verliese van bykans R25 miljoen weens diefstal en bedrog, maar dit blyk net 'n druppel aan die emmer te wees.
Op 7 Julie het die polisie in Eldoradopark 'n 60-jarige man van Boloberg-singel vasgekeer wat na bewering met City Power-infrastruktuur naby Mohanie-singel in Lenasia gepeuter het. Dit volg nadat inwoners 'n verdagte voertuig naby die toneel aangemeld het. Die verdagte is positief geïdentifiseer en in hegtenis geneem.
LEES OOK | Vandalisme kos City Power baie, maar hy kry nie meer geld voor G20-beraad
"Hierdie maandelikse verliese is net 'n breukdeel van die uitgawes wat City Power moet aangaan om korrupsie, diefstal en voorvalle van vandalisme teen te werk. Benewens miljoene rande se verlies weens misdaad, moes meer as R300 miljoen in die afgelope boekjaar alleen bestee word aan die herstel van infrastruktuur wat deur vandale en kabeldiewe beskadig is. Verder is R100 miljoen ook aan veiligheid bestee," sê hy.
Meer onlangs het City Power ook, as deel van die City Power Illegal Connection Operation op 26 Julie, 'n groot aantal onwettige kabelverbindings verwyder in Leratong Village en Tshepisong.
Misdadigers kan City Power finansieel verlam
In Junie vanjaar het City Power 'n skikkingsooreenkoms met Eskom aangegaan om sy agterstallige skuld van meer as R3 miljard oor vier jaar af te betaal.
Mangena sê dié strategie is nie net gefokus op die stabilisering van City Power se geldsake nie, maar ook op die herstel van openbare vertroue. "Daarom is dit nou belangriker as ooit tevore om korrupsie en diefstal by City Power hok te slaan."
"Soortgelyke voorvalle, soos onwettige verbindings, nieverkoopmeters en ander nietegniese verliese, soos dié in Julie, het 'n ernstige finansiële impak op City Power en ons bedrywighede," sê hy.
LEES OOK | City Power skik met Eskom om R3,2 mjd. se skuld af te betaal
Volgens Mangena verminder dié praktyke ook die inkomste wat City Power veronderstel is om uit kragverbruik in te vorder, wat lei tot aansienlike verliese.
"Dis geld wat gebruik moes word om te herbelê in infrastruktuurinstandhouding, verouderende toerusting op te gradeer en gesteelde of beskadigde materiaal te vervang."
Mangena sê voorts die verliese skep ook 'n sneeubaleffek en "City Power is dikwels sonder kritieke materiaal.
"Kabeldiefstal, vandalisme en onwettige verbindings dwing ons om geld weg te lei van beplande grootmaat-kragaankope en langtermynverbeterings. In plaas daarvan herlei ons voortdurend hulpbronne na reaktiewe instandhouding en veiligheid. Daarom bly die bestuur toegewyd in sy stryd teen korrupsie en diefstal."















