Munisipaliteite

‘Spesiale uitbreiding’ van Kaapstad wink langs N7

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die beoogde Milkwood City se stadskern daar sal uitsien.  Foto: Milkwood City
’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die beoogde Milkwood City se stadskern daar sal uitsien. Foto: Milkwood City

'n Nuwe stedelike ontwikkeling wat as 'n spesiale uitbreiding van Kaapstad beskou word, kan in die nabye toekoms minder as 'n uur se ry van die Moederstad af verrys.

Die Milkwood City-projek sowat 35 km van Kaapstad sal meer as 3 000 ha langs die N7-hoofweg beslaan en beoog om minstens 800 000 inwoners te lok.

Volgens die ontwikkeling se webwerf is 2 000 ha van die beskikbare 3 100 ha ontwikkelbaar en sal die MyCiTi-busdiens Milkwood City met Kaapstad se middestad en Atlantis verbind.

Die ontwikkeling maak ook voorsiening vir 200 000 wooneenhede (bestaande uit 50 000 maatskaplike wooneenhede, 100 000 bekostigbare wooneenhede en 50 000 markverwante wooneenhede), 'n treinstasie, onderwysgeriewe (vroeë kinderjare tot tersiêr), gemeenskaps- en gesondheidsgeriewe, 4 miljoen vierkante meter se verhuurbare kommersiële ruimte en meer as 600 openbare ruimtes.

Die gemiddelde bruto digtheid van Milkwood sal sowat 65 wooneenhede per hektaar wees, wat vergelykbaar is met die huidige digtheid van Seepunt. Die tydlyn vir die projek is 15 jaar.

Bruto bevolkingsdigtheid verwys na die bevolking van 'n gebied gedeel deur die algehele gebied, dus wat alle grondgebied en ook water insluit.

Volgens die webwerf sal Milkwood uitbrei in die westelike groeisektor op grond van wat die Kaapstad-metro in sy ruimtelike ontwikkelingsraamwerk vir toekomstige stedelike ontwikkeling geïdentifiseer het.

'n Kunstenaarsvoorstelling van geboue in die beoogde Milkwood City. Foto: Milkwood City
'n Kunstenaarsvoorstelling van geboue in die beoogde Milkwood City. Foto: Milkwood City

Dis ook die enigste ontwikkeling wat in staat is om Kaapstad se groeibehoeftes op skaal te takel en met die metro se behuisingsagterstand van meer as 400 000 huise sal help, lui inligting op die webwerf.

Die ontwikkelings sal 200 000 regstreekse en onregstreekse werkgeleenthede skep en ook internasionale beleggers lok, word voorspel.

Gita Goven, voorsitter van Africa 123 en Milkwood Holdings (die ontwikkelaar), sê by navraag dit sal in werklikheid 'n "spesiale uitbreiding" van Kaapstad wees.

Daar word lank reeds aan die projek beplan, sê sy.

Al die grondslagbeplanning is gedoen. "Ons onderhandel tans oor finansiering en sodra ons dit het, sal ons begin met die omgewingsimpakstudie en die hersoneringsprosesse."

Volgens Goven het die regering ná die apartheidsera hard gewerk om infrastruktuur te verskaf, maar terselfdertyd het bestaande infrastruktuur agteruitgegaan weens groei, oorlading en ouderdom. "Ons is nou in die situasie dat die infrastruktuur nie meer veel ekstra lading kan hanteer nie."

Volgens haar groei Kaapstad met sowat 25 000 huishoudings per jaar en is die stad beperk weens sy ligging (omring deur onder meer die see en berge) vir uitbreiding.

- jkruger@24.com

mailto:jkruger@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM