Die Ekurhuleni-metro het sy nuwe basiese maandelikse tarief vir krag vir eers op ys gesit.
Ontstoke inwoners het Sondagaand en Maandag die strate van Tembisa ingevaar uit protes teen die stygende kragprys. Paaie is met klippe en brandende bande versper terwyl verskeie voertuie na berig word beskadig is.

Die metro het vroeër 'n vaste basiese tarief van R109,78 (sonder BTW) vir enkelfase- en R203,89 vir drie-fase-aansluitings ingestel, ongeag verbruik. Die tarief is betaalbaar bo en behalwe die koste van krag per eenheid, wat beteken alle inwoners moet daarvoor hoes, selfs al het hulle slegs die gratis 50 kWh óf glad nie krag deur die loop van die maand gebruik nie.
Ramatolo Tlotleng, woordvoerder vir die metro, het bevestig dat die departemente van energie en finansies 'n noodvergadering hou om oor die pad vorentoe te besin.
Nkosindiphile Xhakaza, burgemeester van die Ekurhuleni-metro, het Tembisa vroegmiddag besoek. Hy was vergesel van metropolisiebeamptes en veiligheidswagte in 'n konvooi terwyl inwoners hom in die verbygaan uitjou.

Xhakaza het toe aangekondig dat die tarief van R126 (BTW ingesluit) vir eers opsy geskuif is.
* Hou Netwerk24 dop vir meer hieroor.

















