’n Aardskudding van 3,6 het Dinsdagmiddag inwoners van Springbok in Namakwaland behoorlik laat koes en hol toe hul huise se mure en vensters begin skud en ratel het.
Die skudding het om 17:27 sowat 20 km suidoos van die dorp op ’n diepte van slegs 10 km voorgekom.
Hoewel ’n skudding van dié omvang nie werklik skade aanrig nie, het Namakwalanders hulle boeglam geskrik.
Hul kwinkslae het dalk ’n groter opskudding as die aardskudding ontlok.
Jason Milford, woordvoerder van die Nama Khoi-munisipaliteit, sê hulle het nog geen klagtes oor skade ontvang nie.
Hy het Woensdagoggend heerlik gelag toe hy vertel hoe ’n inwoner hom tydens die skudding angsbevange gebel het. “In daardie stadium was ek nét so paniekbevange en al wat ek aan hom oor die foon geskree het, is: ‘Los alles agter en hardloop uit by die voordeur. Die wêreld is besig om te vergaan!’ ”
Die inwoner se repliek daarop was: “O, jirre, net nie dit nie – ek is nog nie gereed nie.”
Margeret Cloete, onderwyseres van Springbok, het aan Netwerk24 gesê as ’n skudding van 3,6 só voel, wil sy nie ’n erger een beleef nie. “My mure en vensters het geratel. Ek het my doodgeskrik.”
Sy sê sy het Woensdagoggend verskriklik lekker by die skool gelag toe ’n kollega opgemerk het dat sy so groot geskrik het dat “my melk in my borste gestol het”.
Pieta van der Walt van die Springbok-hotel sê hy het nog lekker rustig op die hotel se stoep gesit en koffie drink toe die skudding getref het. “Die volgende oomblik dreun die wêreld en die aarde bewe onder my gat!”
Jaen-Mari van Niekerk sê die aardskudding het haar nou gewys wat haar man in ’n krisis sal doen. “My man het net aan homself gedink, en my en die kinders vergeet! Hy het geskrik en by die huis uit gehardloop,” lag sy lekker. “Maar volgende keer hardloop ons vir hom weg.”
Hoewel aardskuddings nie gereeld in Springbok voorkom nie, ondervind inwoners van Komaggas wel die afgelope jaar gereeld trillings in die gebied. Dit het baie inwoners van die gebied al bekommerd en hulle vermoed dit kan met mynbedrywighede in die gebied verband hou.
Hulle wonder ook of die skudding Dinsdag met die trillings verband kan hou.

Die Raad vir Geowetenskappe het die aardskudding bevestig.
“Opnames van die Suid-Afrikaanse Nasionale Seismograafnetwerk (SANSN) dui daarop dat dié gebeurtenis ’n impak van 3,6 geregistreer het. Die episentrum van die aardskudding is sowat 20 km suidoos van Springbok,” sê die raad in ’n amptelike verklaring.
“Die dorpe Komaggas en Springbok is geografies sowat 42 km van mekaar geleë en daar is geen bewyse van ’n seismies oorsaaklike verband tussen die Komaggas-skuddings en gister se gebeurtenis naby Springbok nie,” sê dr. Eldridge Kgaswane, seismoloog en hoofwetenskaplike van die Raad vir Geowetenskappe.
Hy sê as so ’n verband bestaan het, sou die raad verwag het om deurlopend seismiese aktiwiteit ooswaarts te sien uitbrei na aangrensende dorpe soos Buffelsrivier, Nababeep, O’Kiep, Goop, ensovoorts, wat tussenin lê.
“Met betrekking tot die Komaggas-skuddings het ons onlangs ’n mediaverklaring uitgereik en ons doen ’n lopende interne ondersoek na hul oorsprong.”
Hy sê die raad, saam met ander belanghebbendes, het reeds twee terreinbesoeke in die gebied gedoen. “Die presiese oorsaak van die skuddings bly egter onseker. Ons stel tans ’n multidissiplinêre verslag saam wat met die owerhede gedeel sal word sodra dit voltooi is.”
Kgaswane sê die raad verwag dat die verslag verdere insigte en leiding sal bied om hul navorsingsprogram oor die skuddings te verbeter.
Die Raad vir Geowetenskappe doen ’n beroep op die inwoners van Springbok om sy vraelys oor hul ervaring van die aardskudding hier in te vul.
“Dié inligting help ons geweldig baie om die voorkoms van aardskuddings te ondersoek.”


















