Omgewing

Hommeltuie help Everest skoon hou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Man bestuur ’n swaarvrag-hommeltuig om vullis wat by die Everest-basiskamp gestort is, op te ruim in ’n foto wat op 11 Mei geneem is en deur Airlift Technology uitgereik is.
’n Man bestuur ’n swaarvrag-hommeltuig om vullis wat by die Everest-basiskamp gestort is, op te ruim in ’n foto wat op 11 Mei geneem is en deur Airlift Technology uitgereik is. (Foto: AFP)

’n Span hommeltuigoperateurs het hulle hierdie klimseisoen by klimmers en gidse by die berg Everest se basiskamp aangesluit, gewapen met swaardiens-hommeltuie om vullis van die wêreld se hoogste berg te verwyder.

Tonne vullis, van leë blikkies en gashouers tot bottels, plastiek en weggooi-klimtoerusting, het die eens ongerepte Everest die bynaam van die “hoogste vullisdrom ter wêreld” besorg.

Twee DJI FC 30-swaarvrag-hommeltuie is na Kamp 1 op 6 065 m gevlieg, waar hulle 300 kg vullis gedurende die klimseisoen, wat gewoonlik van April tot vroeg in Junie duur, afgevlieg het.

“Die enigste opsies was helikopters en mannekrag,” het Raj Bikram Maharjan van Airlift Technology, wat die projek ontwikkel het, gesê.

“As ’n oplossing vir hierdie probleem het ons ’n konsep bedink om ons swaarvrag-hommeltuig te gebruik om vullis te vervoer.”

Ná ’n suksesvolle toetssessie op Everest verlede jaar, het die maatskappy die stelsel op die nabygeleë Ama Dablam-berg getoets, waar dit 641 kg afval verwyder het.

“Dit is ’n revolusionêre rit in die berge om dit skoner en veiliger te maak,” het Tashi Lhamu Sherpa, adjunkvoorsitter van die Khumbu Pasang Lhamu- landelike munisipaliteit, wat toesig hou oor die Everest-gebied, gesê.

‘Omwenteling’

Die hommeltuie bewys dat hulle baie meer doeltreffend, koste-effektief en veilig is as vorige metodes, het Tshering Sherpa, hoof van die Sagarmatha-besoedelingsbeheerkomitee, gesê.

“In net 10 minute kan ’n hommeltuig soveel vullis vervoer as wat dit 10 mense ses uur sal neem,” het Sherpa aan AFP gesê.

Die kragtige hommeltuie kos sowat $20 000 elk, maar is deur die vervaardiger verskaf om die operasie te ondersteun en sy handelsmerk te bevorder.

Ander koste is gedeeltelik deur die plaaslike owerhede gedek.

Benewens afvalverwydering, is die hommeltuie ook ontplooi om noodsaaklike klimtoerusting, soos suurstofsilinders, lere en toue, af te lewer, wat die aantal gevaarlike reise oor die Khumbu-ysval, een van Everest se dodelikste dele, verminder.

Dit kan help om die veiligheid vir die gidse en draers te verbeter, veral die vroeë “voorbereidingspanne” wat roetes aan die begin van die nuwe seisoen vestig.

“Mense in die voorbereidingspan was baie tevrede,” het Nima Rinji Sherpa, die jongste klimmer wat ál 14 van die wêreld se hoogste bergspitse bereik het, gesê.

“Hulle kan eenvoudig net gaan en die hommeltuig sal lere of die suurstof en toue vir hulle vervoer. Dit spaar baie tyd en energie.”

Airlift Technology sal volgende maand die hommeltuie na Manaslu, die wêreld se agtste hoogste berg, neem.

“Dis nie net in oorloë wat hommeltuie nuttig is nie,” het Maharjan gesê.

“Hulle kan lewens red en die omgewing beskerm. Vir klimaats- en humanitêre werk gaan hierdie tegnologie ’n omwenteling wees.”

afp

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM