Omgewing

Meisie (14) se duim gebreek in robaanval

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Daar's 'n rob agter jou!" het een van die drie kinders wat saam met haar was, aan haar geskree kort voordat die rob skielik op haar afgepyl en haar linkerduim gebreek het.

Aila Garrett (14) se ma, Anndri, sê haar dogter het ook 'n gedeeltelik geskeurde strekspiersening in die robaanval opgedoen.

Volgens Anndri het hul gesin by vriende in Fynbosstrand tussen Stilbaai en Gouritz gekuier toe die voorval gebeur het. Die Garretts is van Glentana naby George.

Aila het op 23 Maart saam met haar broer (15) en twee ander vriende in 'n rotspoel gaan snorkelduik.

Aila Garrett (14) en haar pa, Greg, in die hospitaal. Foto: Verskaf
Aila Garrett (14) en haar pa, Greg, in die hospitaal. Foto: Verskaf

"Hulle was klaar en besig om uit die rotspoel te klim toe die rob van die see se kant af in die rotspoel kom. Aila het hom nie gesien nie, want haar rug was na die rob se kant gedraai."

Anndri sê een van die kinders het aan Aila geskree: "Daar's 'n rob agter jou!", maar sy het paddavoete aangehad en kon nie vinnig genoeg wegkom nie. Toe sy omdraai, toe is die rob op haar.

Volgens Anndri het die rob haar dogter "aanhou aanval terwyl sy probeer het om die dier te skop en geskree het".

"Aila sê die rob se tande het omtrent geklap soos hy na haar gehap het. Sy moes heeltyd keer vir haar gesig. Die ander kinders was te geskok om in te gaan en te help."

Haar seun het huis toe gehardloop en hulle ingelig, waarna hulle hul na die strand gehaas het om die "geskokte" Aila by te staan.

Aila Garrett (14) se linkerduim ná die robaanval. Foto: Verskaf
Aila Garrett (14) se linkerduim ná die robaanval. Foto: Verskaf

Anndri en haar man, Greg, wat albei veeartse is, het die wond dadelik ontsmet en Aila na die Mediclinic George gebring vir behandeling.

Dit gaan tans goed met Aila, sê Anndri. Hoewel die gesin onseker is oor of die betrokke rob hondsdolheid gehad het, het hulle Aila ook laat inent teen die siekte. Sy het reeds vier van vyf gehad.

Planne word nou beraam om haar hand in gips te plaas nadat daar eers in 'n operasie 'n pen in haar duim geplaas is.

Volgens Anndri is robaanvalle in die area waar hulle was, uiters skaars. Robbe word eintlik skaars daar gesien.

Dr. Lesley van Helden, senior staatsveearts van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, sê by navraag "hondsdolheid in robbe is hier om te bly".

"Dis endemies in die robbevolking. Die situasie kan moontlik selfs vererger en ons sal meer gevalle van hondsdolheid en meer robaanvalle in die toekoms sien," sê sy.

Volgens Van Helden werk die Wes-Kaapse veeartsenydienste saam met alle ander relevante partye om vinnig te reageer op vermoedelike gevalle van hondsdolheid onder robbe.

"Ons is betrokke by gereelde gesprekke met veeartse en navorsers om na nuwe opsies vir siektebestuur te soek. Ons werk ook internasionaal saam om bewustheid te kweek oor die moontlikheid van hondsdolheid in die oseaan in ander dele van die wêreld."

Van Helden sê die publiek moet hulself opvoed rakende hondsdolheid, aangesien dit in enige soogdierspesie kan voorkom. - carl.thomas@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM