Omgewing

Mpumalanga se Panorama-roete ‘vervalle’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Museum by die Bourke’s Luck-kolkgate. Toeriste moes egter Dinsdag in die donker rondtas. Daar word glo glad nie verbeterings hier gedoen nie en die vismotte het hul intrek geneem in van die opgestopte diere.  Foto: Arisa Schamrel

'n Mens herken dadelik die verskillende tale wat toeriste by die Bourke's Luck-kolkgate praat: Duits, Frans en Nederlands.

Maar in die badkamers vra almal eenparig in Engels, ewe verbaas: "There is no water?!"

By dié gewilde toeristebestemming, deel van Mpumalanga se wêreldbekende Panorama-roete, was daar Dinsdag nie krag nie. Gevolglik ook nie water nie.

"Die gebied het nie krag nie en daar is geen rugsteunkrag nie," sê Lisa Sheard, 'n private toeristeoperateur met meer as 30 jaar se ondervinding in die bedryf.

Oupa Pilane, spesiale gesant vir toerismeontwikkeling en transformasie by die KLCBT, het die media op 'n toer geneem om die vervalle besienswaardighede in die Panorama-roete te sien. Een van die klagtes is die verbleikte borde soos die een agter Pilane.  Foto: Arisa Schamrel

Die gebrek aan rugsteunkrag is net een van die uitdagings wat die private toerismesektor en die Kruger Laeveld-toerisme-en-sakekamer (KLCBT) het oor die besienswaardighede langs die roete.

Hulle beskuldig Mpumalanga se Toerisme-en-Parkeraad (MTPA) daarvan dat hy die besienswaardighede - insluitend Bourke's Luck, Drie Rondawels, God's Window en Pinnacle Rock - "vervalle" laat raak en nie die geld wat hulle van toeriste invorder behoorlik aanwend nie.

"Ons wil nie baklei nie, maar jy kan sien hoe vervalle dit hier lyk.

Die badkamers by Pinnacle Rock is ook vervalle. Foto: Arisa Schamrel
Die badkamers by Pinnacle Rock is ook vervalle. Foto: Arisa Schamrel

"Geld word van toeriste verhaal, maar dit word nie aangewend nie," sê Oupa Pilane, spesiale gesant vir toerismeontwikkeling en transformasie by die KLCBT.

Hy beweer elke besienswaardigheid ontvang slegs R2 000 per maand om dit in stand te hou.

"Ek bestee dit in één naweek net aan toiletpapier," sê Pilane, eienaar van die Graskop Gorge Lift, wat die grond by die plaaslike munisipaliteit huur en dit ontwikkel het - " 'n model wat werk".

Lisa Sheard, 'n ou hand in die toerismebedryf, tel vullis op by Pinnacle Rock. Foto: Arisa Schamrel
Lisa Sheard, 'n ou hand in die toerismebedryf, tel vullis op by Pinnacle Rock. Foto: Arisa Schamrel

Hy het die media Dinsdag genooi om die bogenoemde besienswaardighede te besoek.

By al dié plekke, wat deur die MTPA bestuur word, was die badkamers in 'n haglike toestand.

"Daar is nie eens toiletpapier nie. Ons kan nie eens die basiese goed regkry nie," is Sheard en Pilane dit eens.

'n Waterlekkasie in 'n badkamer by God's Window. Baie van die toilette hier is buite werking.  Foto: Arisa Schamrel
'n Waterlekkasie in 'n badkamer by God's Window. Baie van die toilette hier is buite werking. Foto: Arisa Schamrel

Hulle is van mening dat 'n ooreenkoms met die privaat sektor die oplossing is.

"Ons het ons kundigheid aan hulle (die MTPA) aangebied; ons het vir hulle gesê om na die Gorge te kom kyk - heeltemal gratis - en dan kan ons vir hulle raad gee oor hoe om die besienswaardighede te bestuur.

"Hulle het net geweier," sê Pilane.

'n Ongebruikte watertenk lê by die badkamers by God's Window. Foto: Arisa Schamrel
'n Ongebruikte watertenk lê by die badkamers by God's Window. Foto: Arisa Schamrel

Pilane sê die opgradering van die besienswaardighede het die potensiaal om duisende werkgeleenthede te skep en 'n reuse-impak te hê op die hoë werkloosheidsvlakke in die provinsie.

Linda Grimbeek, uitvoerende hoof van die KLCBT, was saam met twee verteenwoordigers van die MTPA op die toer om 'n assessering van die "verval" te doen.

Die twee mans is deur die MTPA aangestel om die assessering te doen, maar het aan die media gesê hulle kan nie kommentaar lewer nie.

Lisa Sheard, wat onder meer die Misty Mountain Lodge besit, staan by 'n geroeste reling by die Bourke's Luck-kolkgate. Foto: Arisa Schamrel
Lisa Sheard, wat onder meer die Misty Mountain Lodge besit, staan by 'n geroeste reling by die Bourke's Luck-kolkgate. Foto: Arisa Schamrel

Grimbeek sê daar sal binne 10 dae ná die besoek 'n plan in samewerking met die MTPA ter tafel gelê word met duidelike kort-, medium-, en langtermyndoelwitte.

'n Egpaar van Bloemfontein wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het by God's Window aan Netwerk24 gesê hulle het 20 jaar gelede daar verloof geraak en sewe jaar gelede die besienswaardighede vir hul kinders gaan wys.

"Dit het in die afgelope sewe jaar heeltemal agteruitgegaan.

Nog 'n verbleikte naambord, dié keer by die Drie Rondawels. Foto: Arisa Schamrel
Nog 'n verbleikte naambord, dié keer by die Drie Rondawels. Foto: Arisa Schamrel

"Ons kinders se kinders gaan nie hierdie besienswaardighede kan geniet nie," sê die egpaar.

Intussen is daar ook vrae geopper oor "twyfelagtige" tenders wat na bewering deur die MTPA aanvaar is, juis om hierdie besienswaardighede in stand te hou.

Sheard voer aan daar is byvoorbeeld in 2021 al 'n tender aanvaar om verbeterings by Bourke's Luck aan te bring, maar dit is nooit gedoen nie.

Die uitsig by die Drie Rondawels is asemrowend, maar die bord wat die geskiedenis hiervan vertel, is onleesbaar weens brandskade. Foto: Arisa Schamrel
Die uitsig by die Drie Rondawels is asemrowend, maar die bord wat die geskiedenis hiervan vertel, is onleesbaar weens brandskade. Foto: Arisa Schamrel

Nuwe LUR vir toerisme laat hoop opvlam

Mandla Ndlovu, premier van Mpumalanga, het Dinsdag aangekondig dat Jesta Sidell as nuwe LUR vir toerisme in die provinsie sal dien.

Grimbeek sê sy en die KLCBT is verheug oor die aanstelling.

"Ons ken haar; sy is 'n antwoord op ons gebede," sê Grimbeek en voeg by dat hulle reeds 'n verhouding met die nuwe LUR het.

Ndlovu het Cathy Dlamini ook as LUR vir onderwys in die pad gesteek en Lindi Lettie Masina in haar plek aangestel.

arisa.jvrensburg@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM