Omgewing

Opwinding ‘broei’ in Nasionale Dieretuin in Pretoria

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria is die laaste paar dae verras met die geboorte van agt flaminkies wat lank voor dié voëls se natuurlike broeityd hul opwagting in die dieretuin gemaak het.

Sarah Chabangu, die dieretuin se kurator van voëlspesies, sê dit is een van die mees unieke verskynsels wat hulle in jare by die dieretuin gesien het aangesien flaminke normaalweg in die somer broei.

Dié grootflaminkkuiken, wat Donderdag in die Nasionale Dieretuin in Pretoria uitgebroei het, is een van agt kuikens wat tot dusver hul opwagting gemaak het. Foto: Deaan Vivier
Dié grootflaminkkuiken, wat Donderdag in die Nasionale Dieretuin in Pretoria uitgebroei het, is een van agt kuikens wat tot dusver hul opwagting gemaak het. Foto: Deaan Vivier

"Toe die grootflaminke begin eiers lê, was ons baie verbaas, want dit is nog lank voor hul natuurlike broeityd. Nou het ons in die afgelope tien dae al agt gesonde kuikens bygekry. Die jongste een het Donderdag uitgebroei," sê Chabangu.

Dis nie die enigste jongelinge in die dieretuin, wat 4 000 diere huisves, nie.

Die kameelperd Enzo is op 8 Junie in die Nasionale Dieretuin in Pretoria gebore. Foto: Deaan Vivier
Die kameelperd Enzo is op 8 Junie in die Nasionale Dieretuin in Pretoria gebore. Foto: Deaan Vivier

Die dieretuin is oorstelp van vreugde nadat 'n kameelperdjie op 8 Junie gebore is. Enzo, soos hy gedoop is, steel reeds harte terwyl hy tussen die drie ouer kameelperde speel. Daar is ook twee luiperds wat 'n jaar oud is, en aasvoëlkuikens wat binnekort hul opwagting sal maak.

Twee jong luiperds in die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Twee jong luiperds in die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Tracy Rehse, direkteur van bewaring en versamelings, sê die jongelinge is nie net 'n groot trekpleister vir besoekers nie, maar dui op 'n gesonde ekosisteem.

"Nuwe babas maak ons baie opgewonde omdat dit 'n aanduiding is van 'n gesonde, groeiende versameling en ekosisteem," sê Rehse. "Dit is altyd opwindend om kleintjies te hê en hulle dra by tot die volhoubaarheid van die bevolking, in dieretuine en in die natuur."

Een van drie kransaasvoëls wat onlangs eiers gelê het in die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Een van drie kransaasvoëls wat onlangs eiers gelê het in die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Volgens Rehse bly nie al die kleintjies noodwendig in die dieretuin nie en word hul natuurlike gedrag in ag geneem.

"Die spesie en geslag bepaal wat met die diere gebeur. In die meeste tropdiere, byvoorbeeld, sal die vroulike diere in die natuur by die trop bly. Die mannetjies trek. "Enkellopende spesies of spesies wat in pare bly, sal almal in die natuur rondtrek. In uitsonderlike gevalle, soos met sekere neushoringvoëlspesies, sal die wyfies trek en die mannetjies agterbly."

Soos die diertjies ouer word, word daar gepaste tuistes vir hulle gevind.

Shamiela Ebrahim, bemarker van die dieretuin, sê die span is werklik opgewonde om die nuwe lewe op hul terrein te sien en is dankbaar om elke dag 'n bydrae te kan lewer tot die bewaring van die land se ryk natuurerfenis.

- fc.pelser@media24.com

FC Pelser

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM