Omgewing

Tafelberg-sweefspoor heropen betyds vir Toerismemaand

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enver Duminy (links), uitvoerende hoof van Kaapstad-toerisme, Wahida Parker, besturende direkteur van die Tafelberg-sweefspoormaatskappy, en Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Maandag by die heropening van die Tafelberg-sweefspoor.Foto: Johann Botha
Enver Duminy (links), uitvoerende hoof van Kaapstad-toerisme, Wahida Parker, besturende direkteur van die Tafelberg-sweefspoormaatskappy, en Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Maandag by die heropening van die Tafelberg-sweefspoor.Foto: Johann Botha

Na sewe weke van instandhoudingswerk aan die Tafelberg-sweefspoor is dié toeristemagneet weer oop vir die publiek, net betyds vir Toerismemaand.

Tafelberg het reeds Maandagoggend gewemel van besoekers wat na die heropening van die sweefspoor gestroom het.

"Meer as 'n miljoen toeriste gebruik jaarliks die Tafelberg-sweefspoor, en net vir vandag is 7 000 kaartjies verkoop," sê Alan Winde, Wes-Kaapse premier in 'n verklaring deur die Tafelberg-sweefspoormaatskappy.

Die span het soos beplan die sperdatum van die heropening op 2 September behaal.

Die Tafelberg-sweefspoor is nou weer oop vir besoekers.Foto: Johann Botha
Die Tafelberg-sweefspoor is nou weer oop vir besoekers.Foto: Johann Botha

Vanjaar se instandhoudingswerk, wat op 15 Julie begin het, was grootliks om te verseker dat elke besoeker se ervaring "niks minder as wêreldklas is nie", lui die verklaring.

"Ons het die spoortoue vervang, die hang- en beweegtoerusting opgeknap en aan die oorspronklike toerustingvervaardiger se spesifikasies voldoen," sê Selma Hercules, uitvoerende direkteur van die Tafelberg-sweefspoormaatskappy.

Dit is die eerste keer sedert 1997 wat die sweefspoor vir so lank gesluit was weens die omvangryke instandhoudingswerk.

Die vier kabels van die sweefspoor is onder meer vervang, wat die grootste gedeelte van die instandhoudingswerk was.

LEES OOK | Tafelberg-sweefspoor behoort steeds 2 September te open ondanks gure weer

"Dit is alles deel van ons voortdurende verpligting tot veiligheid, gehalte en uitnemendheid," sê Hercules.

Met die lente wat byna met ons is kon die heropening van die Tafelberg-sweefspoor nie op 'n meer perfekte tyd gekom het nie, lui die verklaring.

"Toerismemaand is ons kans om te skitter," sê Hercules.

"Ons nooi plaaslike inwoners en internasionale besoekers uit om die asemrowende skoonheid van Tafelberg te herontdek en die beste uitsig in die stad vanaf ons moderne kabelbaan te geniet."

Die Tafelberg-sweefspoormaatskappy is onlangs benoem as die radiostasie KFM 94.5 se Beste van die Kaap se toeristeaantreklikhede vir die derde agtereenvolgende jaar.

Tafelberg is ook genomineer as een van Afrika se voorste toeristeaantreklikhede by die gesogte World Travel Awards, met die 8ste September as die sluitingsdatum om te stem.

Suid-Afrikaners wat hul verjaardag tydens die instandhoudingswerk gevier het, het tot 30 September om hul gratis kaartjie af te haal.

Besoekers word aangeraai om eerder kaartjies aanlyn te koop aangesien dit vir sewe dae geldig is, die besoekdatum verander kan word en kaartjies terugbetaalbaar is in geval van gure weer.

Met padwerke wat deurlopend op Tafelbergweg plaasvind word die gratis pendeldiens van Laer Kloofnek af aanbeveel. Tot 14 Desember vertrek die eerste kabelkarretjie om 08:30 en keer die laaste een om 18:00 terug.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM