Omgewing

Tuks help om raaisel van reuse-radiosterrestelsels te ontrafel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe ’n enorme radiostraal kan lyk wat so groot is soos die afstand tussen die Melkweg- en die Andromeda-sterrestelsel. Foto: Verskaf/UP
’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe ’n enorme radiostraal kan lyk wat so groot is soos die afstand tussen die Melkweg- en die Andromeda-sterrestelsel. Foto: Verskaf/UP

'n Internasionale span sterrekundiges - onder leiding van die Universiteit van Pretoria (UP) - kan nou met behulp van superrekenaars die lewensiklus van enorme radiosterrestelsels beter verstaan.

Dié sterrestelsels word ook beskryf as "kosmiese fonteine" en word gekenmerk deur strale oorverhitte gas wat deur die gravitasiekolk in die middel daarvan uitgewerp word.

"Hoewel dit nie ongewoon is om bestraling van sterrestelsels te bespeur nie, is daar min sterrestelsels wat radiostrale uitstuur. Dié soort radiostrale word uitgestraal wanneer die gravitasiekolk in die kern van die stelsel skielik baie vinnig begin om materie rondom dit in te trek," sê die astrofisikus dr. Gourab Giri, hoofskrywer van die navorsing en 'n postdoktorale genoot van die Suid-Afrikaanse radio-sterrekunde-sterrewag van die UP.

Hy het uit Indië aan Netwerk24 gesê "dis soos iemand wat verskriklik baie kos eet en dan opgooi. Net só neem die gravitasiekolk ook baie vinnig baie materie in en omdat die materie self ook roteer, ontstaan 'n teenkrag teen die aantrekkingskrag van die gravitasiekolk.

"Dié teenkrag veroorsaak dat van die materie wat ingetrek word, uit die gravitasiekolk se aantrekking gewerp word teen byna die spoed van lig. Dít is die strale wat ons waarneem."

Die navorsing raak aan 'n kernvraag in die astrofisika oor hoe hierdie enorme strukture oor groot kosmologiese tydskale heen (of dan oor miljarde jare heen soos die mens dit ken) met hul baie dun, gasagtige omgewing in wisselwerking tree.

Dr. Gourab Giri, wat saam met 'n internasionale navorsingspan by die Universiteit van Pretoria superrekenaars gebruik het om meer te leer oor die lewensiklus van radiosterrestelsels. Foto: Verskaf/UP
Dr. Gourab Giri, wat saam met 'n internasionale navorsingspan by die Universiteit van Pretoria superrekenaars gebruik het om meer te leer oor die lewensiklus van radiosterrestelsels. Foto: Verskaf/UP

Volgens Giri het navorsers gevind dat die materie wat uitgewerp word, nie net hul eie sterrestelsel verlaat nie, maar soms ook verby ander nabye sterrestelsels kan strek.

"Navorsers wou uitvind hoekom en hoe hierdie strale vorm, aangesien die gravitasiekolke wat dit veroorsaak, baie klein is vergeleke met die res van die sterrestelsels.

"Ek het in Suid-Afrika met die superrekenaars 'n virtuele heelal geskep en dit het ons gehelp om dit beter te verstaan."

Die radiostrale se vloeipatrone is nageboots om te sien hoe hulle oor honderdmiljoene jare heen optree, sê Giri in die verklaring.

"Die baie gesofistikeerde simulasies maak dit makliker om die waarskynlike lewensiklus van radiosterrestelsels te verstaan deur die verskille tussen hul kleiner, vroeë stadiums en reuse-, volwasse stadiums te wys. Om ons kennis van die vorming en ontwikkeling van die heelal te verdiep, is dit nodig om ook die evolusie van radiosterrestelsels te verstaan," sê Giri.

LEES OOK | Teleskope gewaar radiogolwe wat opjek uit oerknal se dae uitstraal

Die bevindinge van hierdie deurbraak-navorsing daag bekende teoretiese modelle uit deur te verduidelik waarom hierdie radiosterrestelsels so groot word en uiteindelik enorme afstande kan dek. Dit laat ook nuwe vrae ontstaan oor die meganismes van dié enorme kosmiese strukture.

Vir Giri is dié soort navorsing belangrik om veral twee redes. Eerstens is astrofisika vir hom 'n afdeling van fisika wat gebruik kan word om veral kinders meer geesdriftig oor wetenskap te maak. Hy sê as kind het hy baie van die ruimteprogramme op TV gehou en só het hy 'n nuuskierigheid ontwikkel.

Dit kan wetenskaplikes ook uiteindelik help om te weet hoe om die satelliete waarvan die internet en selfone afhanklik is, te beskerm teen probleme soos sonstorms.

- karla.vandermerwe@media24.com

• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM