Onderwys

Onnie maak ’n plan: Groentetuin voed ’n gemeenskap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dis 'n Woensdagoggend in Witsand, buite Atlantis, en leerlinge aan die Witsand Primêre Skool staan soos soldaatjies in 'n netjiese ry.

Teen 06:00 is Mamma Joyce al in die kombuis, en teen 07:30 begin die tou vir ontbyt langer word. Dis een van twee etes wat die leerlinge per dag kry.

Gert Matthyse is die skoolhoof van die Witsand Primary School in Atlantis. By hom is sy vrou, Lucille, wat hom ingeskryf het vir die kompetisie. Foto's: Marzahn Botha
Gert Matthyse is die skoolhoof van die Witsand Primary School in Atlantis. By hom is sy vrou, Lucille, wat hom ingeskryf het vir die kompetisie. Foto's: Marzahn Botha

Op die terrein is alles pynlik netjies - 'n stil soort dissipline en trots hang in die lug. En in die middel van dit alles, staan 'n man met 'n sagte stem en vasberade visie: Gerhard Matthyse, die skoolhoof wat nie net 'n funksionele skool van die grond af gekry het nie, maar ook 'n groentetuin-en-voedselskema begin het om te sorg dat kinders nie op leë mae leer nie.

Matthyse is 'n finalis in Rapport, Netwerk24 en die Rapport Onderwysfonds se Onnie maak 'n plan-kompetisie.

Die skool se voedselskema finansier net 156 kinders, maar daar moet elke dag 850 gevoed word.

Matthyse se antwoord was om vir die skool 'n groentetuin te begin.

"Met die hulp van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en Lukhanyo Hub het ons 'n tonnel opgerig. Ons koop self die saad. 'n Ouer, Mienies Goeieman, is deur die departement as 'n nie-doserende personeellid opgelei om die tuin te bestuur. Vandag verskaf ons self groente aan die kombuis en verkoop van die groente vir ekstra inkomste," sê Matthyse.

Die skool verbou spinasie, aartappels, rissies en uie wat hulle ook aan die gemeenskap verkoop. Dan voel inwoners ook deel van die skool.

"Die ouers besef die waarde van die skool en daarom ondersteun hulle ons op so 'n manier, al kan hulle nie skoolfonds betaal nie. So, dit is vir die kombuis, die leerlinge en die gemeenskap belangrik," sê Khanyisa Tima, koördineerder van die groentetuin-en-voedselskema.

Die adjunkhoof, Thobeka Hire, Franklin Groepies en Khanyisa Tima sit by die groente in die groentetonnels. Die tuinier Miemie Goeieman (afwesig) sien hoofsaaklik om na die tuin.
Die adjunkhoof, Thobeka Hire, Franklin Groepies en Khanyisa Tima sit by die groente in die groentetonnels. Die tuinier Miemie Goeieman (afwesig) sien hoofsaaklik om na die tuin.

Kool en tamatie-saailinge word volgende seisoen geplant. Rissies en groenrissies is pas geoes, en hulle het 'n hele paar bokse rissies uitgekry wat aan die gemeenskap verkoop is.

Goeieman gaan ook gereeld vir opleiding en sorg dat die saailinge al reg is 'n maand voordat dit uitgeplant word. Die kinders help ook plant as dit by hul leermodule inskakel, vertel Matthyse.

Witsand Primêr is in 2021 gestig met 334 leerlinge, maar sonder basiese infrastruktuur.

Daar was net 10 klaskamers, geen meubels, geen personeellede en geen beleid nie.

Matthyse het meubels uit sy huis skool toe geneem.

"Aanvanklik het ons op bokse gesit vir vergaderings en tuinstoele uit ons huise gevat waarop die onderwysers kon sit," sê sy vrou, Lucille, wat hom vir die Onnie maak 'n plan-kompetisie ingeskryf het.

Vandag huisves die skool 956 leerlinge van gr. R tot gr. 7, met 'n vooruitskatting van 1 180 in 2026.

Die leerlinge by die Witsand Primary School kry elke dag 'n twee etes danksy die groentetuin-en-voedselskema.
Die leerlinge by die Witsand Primary School kry elke dag 'n twee etes danksy die groentetuin-en-voedselskema.

Maar ondanks die groei van 400% sedert 2021, het die skool steeds te kampe met strukturele tekortkominge: geen sportterrein nie, 'n waterrekening wat buite beheer is, en 'n voedingskema wat net vir 156 kinders finansiering ontvang, terwyl daar elke dag 850 gevoed moet word.

Die skool is as 'n kwintiel 4-skool geklassifiseer omdat dit volgens die departement van onderwys in 'n gegoede area geleë is, maar in werklikheid ontvang die meeste kinders se ouers 'n Sassa-toelae.

"Ons moes kreatief wees. Ons het 'n art. 20-skoolstatus, wat beteken ons kry net geld vir basiese onderhoud en dienste. Drie jaar gelede moes ons met R10 000 per maand 'n hele skool onderhou," sê Matthyse.

Danksy Matthyse se pleidooi aan die gemeenskap en private ondernemings, kry hulle skenkings van Weet-Bix van PepsiCo en sopbene van sopkombuise. Partykeer gaan dit so goed dat hulle oortollige pap aan kleuterskole kan skenk.

• Die Onnie maak 'n plan-kompetisie word aangebied in samewerking met die Rapport Onderwysfonds, 'n leningskema wat studente al 21 jaar met die ondersteuning van Rapport-lesers help om hulle as onderwysers te bekwaam.

Om 'n bydrae te lewer tot die Rapport Onderwysfonds of meer te wete te kom oor hoe ons jou met jou studie kan help, klik hier of gaan na www.rof.org.za.

Onderwysers in Suid-Afrika is baie kreatief. Dít is duidelik uit die byna 150 inspirerende inskrywings wat ons vir Onnie maak 'n plan ontvang het.

Oor die volgende paar weke sal die res van die 10 finaliste in Rapport op Netwerk24 aan lesers voorgestel word, en van 22 Junie af kan die publiek vir die wenner stem.

Ons sal op dié datum ál 10 finaliste se stories weer publiseer en ook sê hoe die stemproses gaan werk.

Die wenners word op Sondag 27 Julie aangekondig.

Die wenner kry R50 000 en nog R30 000 vir sy of haar skool. Die tweede prys is R30 000 en R20 000 vir die onnie se skool. Die onnie in die derde plek kry R20 000 en R10 000 vir die skool. Die ander sewe finaliste kry R5 000 elk.

nuus@rapport.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM