Politiek

‘Grondwet moet verander oor tyd’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Grondwet moet verander om toe te laat vir meer tyd as 14 dae vir deegliker onderhandelings oor die wat en die hoe van koalisieregerings ná 'n verkiesing, het Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, Sondagaand gesê.

Hy was die hoofspreker by die bekendstelling van die Sentrum vir die Konstitusionele Transformasie van Suid-Afrika en die kwarteeu-bestaansviering van die FW de Klerk-stigting.

Elders ter wêreld neem ander lande tot 100 dae en langer om regerings in soortgelyke omstandighede te vestig.

—  Alan Winde, Wes-Kaapse premier

Winde was deel van die DA se onderhandelingspan oor die regering van nasionale eenheid (RNE). Volgens hom is baie van die haakplekke wat nou binne die RNE opduik, daaraan te wyte dat daar eenvoudig nie genoeg tyd was om selfs die basiese grondtrekke van so 'n regering deur te praat nie.

"Ons het 14 dae gehad en elders ter wêreld neem ander lande tot 100 dae en langer om regerings in soortgelyke omstandighede te vestig," het Winde gesê.

Om ooreen te kom oor wat partye oor saamstem en waaroor hulle verskil en hoe dit hanteer moet word, neem veel langer as twee weke. Oor presies hoe lank toegelaat moet word, het Winde gesê dit moet 'n punt van debat wees, "maar dit kan eenvoudig nie 14 dae wees nie".

'n Ander aspek van die Grondwet wat vernuwe moet word is art. 139, wat volgens hom nie genoeg ruimte laat vir ingrepe by munisipaliteite wat nie hul verpligtinge teenoor burgers nakom nie.

"Op die oomblik is daar 'n magdom sulke munisipaliteite."

Winde meen sekere outomatiese snellers moet in die stelsel ingebou word, soos dat 'n finansiële ingreep outomaties moet gebeur as 'n munisipaliteit byvoorbeeld 'n tweede gekwalifiseerde oudit ontvang.

"Miskien moet dit vir die provinsies ook geld."

Hy het ook gevra wat moet gebeur as 'n nasionale regering nie sy verpligtinge nakom nie, soos wat volgens hom die geval is met die misdaadkrisis in die Wes-Kaap.

"Dit kom neer op die mislukking van die polisie en die strafregstelsel om die moordkoers van 4 000 per jaar af te bring. Dit skreeu ten hemele dat dit nie verander nie, en daar ook geen doeltreffende manier is om verandering af te dwing nie."

Dave Steward, voormalige privaatsekretaris van wyle oudpres. FW de Klerk en voorheen uitvoerende hoof van die stigting, het die krag van die Grondwet benadruk en gesê "daarsonder sou Suid-Afrika nie vir Jacob Zuma oorleef het nie".

Gaste by die geleentheid het ingesluit Elita de Klerk (FW de Klerk se weduwee), Barbara Barrett ('n voormalige Amerikaanse ambassadeur), Moeletsi Mbeki (politieke ontleder), Raenette Taljaard (akademikus, voormalige DA-LP en voorheen direkteur van die Helen Suzman-stigting) en Jan Braai.

Dave Steward, voormalige kantoorhoof en toespraakskrywer van wyle oudpres. FW de Klerk, deel 'n herinnering oor 'n foto uit die grondwetlike oorgangsproses. Foto: Willem Jordaan
Dave Steward, voormalige kantoorhoof en toespraakskrywer van wyle oudpres. FW de Klerk, deel 'n herinnering oor 'n foto uit die grondwetlike oorgangsproses. Foto: Willem Jordaan

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM