Die kerk moet die regering help om blywende oplossings te kry vir die uitdagings wat hom in die gesig staar, sê adj.pres. Paul Mashatile.
Geslagsgeweld en moorde op vroue is van dié uitdagings wat die regering en die kerk saam kan aanpak, het Mashatile Saterdag by die jaarlikse konferensie van die Metodiste Kerk van Suider-Afrika in Butterworth gesê.
“Dit is noodsaaklik dat die kerk op ’n konstruktiewe manier kyk na sy rol in die verskansing van patriargale norme en om na vore te tree as ’n sterk mag vir voorkoming, ingryping en heling.
“Die kerk moet nadelige teologieë konfronteer, veilige omgewings vir oorlewendes skep, verantwoordelikheid onder oortreders bevorder en met ander sektore saamwerk om gemeenskappe te verander in veilige en bemagtigende ruimtes vir almal.
“As ’n kerk is julle geroepe om ’n alternatiewe gemeenskap te wees, ’n bron van lig en deernis in ’n wêreld wat dikwels omhul word deur onsekerheid en onenigheid.”
Volgens Mashatile het hy al herhaaldelik gesê dat dit onmoontlik is om die kerk van politiek te skei.
“Die kerk was ’n bron van hoop toe die nasie in wanhoop verkeer het. Julle het deelgeneem aan ’n grootse strewe om Suid-Afrika te bevry.
“Die kerk het ’n kritieke rol gespeel om steun te gee en ’n veilige toevlugsoord te bied aan diegene wat teen apartheid gekant was en diegene wat onderwerp is aan die brutaliteit van apartheid tydens ’n donker tydperk in ons nasie se geskiedenis.”
Mashatile het die kerk gevra om steeds deel te wees van die stryd om ’n beter samelewing en wêreld.
In ’n samelewing wat dikwels verdeeld is, staan die kerk as ’n bron van solidariteit, deernis en hoop.
“Dit is ’n plek waar mense saamkom om te bid, en mekaar te help en te ondersteun. Dit is waar die belangrikheid van die kerk as ’n alternatiewe gemeenskap lê.”
Die kerk speel voorts ’n belangrike rol in die skep van ’n verenigde gemeenskap en breek die grense van ras, klas en agtergrond af rondom ’n gedeelde stelsel van geloof.
Die kerk speel verder ’n deurslaggewende rol in die bestryding van sosiale euwels en ongeregtighede. Dit motiveer mense om met gemarginaliseerde en onderdrukte individue te skakel en hulle te probeer verstaan, sê Mashatile.




















