Wetenskap

1ste geval gevind van krokodil wat haarself bevrug

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die eerste geval van 'n krokodil wat haarself bevrug het, is by 'n reptielpark in Costa Rica geïdentifiseer.

Sy het 'n fetus voortgebring wat 99,9% geneties identies aan haarself was, berig BBC.

Die verskynsel van 'n sogenaamde "maagdelike geboorte" is al voorheen gevind in sekere spesies van voëls, visse en ander reptiele, maar nog nooit vantevore by 'n krokodil nie.

Foto ter illustrasie.  Foto: Pexels-Pixabay
Foto ter illustrasie. Foto: Pexels-Pixabay

Wetenskaplikes sê dié eienskap is moontlik van 'n evolusionêre voorouer geërf en dinosourusse was dus moontlik ook in staat tot selfvoortplanting.

Sky News berig die eier is in Januarie 2018 deur 'n 18-jarige vroulike Amerikaanse krokodil in Parque Reptilandia gelê.

Die fetus was ten volle gevorm maar dood, en het dus nie uitgebroei nie.

Die reptielpark het die krokodil gekry toe sy twee jaar oud was en sy is haar hele lewe lank apart van ander krokodille gehou.

Die park se wetenskaplikes het navorsers van Virginia Polytechnic in Amerika gekontak. Hulle bestudeer sogenaamde maagdelike geboortes, wetenskaplik bekend as partenogenese.

Hulle het die fetus ontleed en gevind dat dit meer as 99,9% geneties identies aan sy ma was - wat bevestig dat dit geen pa het nie.

Die navorsers skryf in die Royal Society-joernaal Biology Letters dat maagdelike geboortes meer algemeen by krokodille kan voorkom, maar nog nie opgemerk is nie omdat mense nie daarna gesoek het nie.

"Dit is nie ongewoon vir reptiele in gevangenskap om eiers te lê nie. Gegewe die tydperk van isolasie van maats, sal dit normaalweg as nielewensvatbaar beskou word en weggegooi word. Hierdie bevindinge dui daarop dat eiers nagegaan moet word vir potensiële lewensvatbaarheid wanneer mannetjies afwesig is," sê die wetenskaplikes.

Dit is onduidelik hoekom partenogenese by verskillende spesies voorkom, maar dit kom nou meer gereeld voor in wetenskaplike literatuur, waarskynlik omdat navorsers nou daarna soek. Een teorie is dat dit gebeur in spesies wat tot partenogenese in staat is wanneer getalle afneem en hulle op die rand van uitsterwing is.