Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) is op soek na karkasse van boomeekhorings vir 'n studie oor dié knaagdiertjies.
Hulle vra mense om veral op die uitkyk te wees vir vars karkasse van eekhorings wat moontlik doodgery is of as deel van 'n plaagdier-veldtog van kant gemaak moes word.

Prof. Sonja Matthee, verbonde aan die departement van bewaringsekologie en entomologie aan die US, sê hulle het dit nodig vir hul genetiese studie oor die boomeekhoring se evolusionêre geskiedenis. Dis die eerste keer dat dié navorsing gedoen word.
Dit het oorspronklik begin as 'n studie oor die parasiete wat op dié Smith se boomeekhorings (Paraxerus cepapi) voorkom, maar namate die studie gevorder het, het hulle besef min inligting is oor hierdie eekhorings bekend.
Smith se boomeekhorings kom net in Suider-Afrika voor, veral in die Savanne-bosveld van Limpopo, Mpumalanga en Noordwes. Hulle maak gereeld nes in die holtes van ou mopanie- en doringbome.
Daar is byna 50 jaar gelede in 1977 'n studie daaroor gedoen.
Matthee werk saam met prof. Conrad Matthee van die universiteit se departement van plant- en dierkunde, en Inge Raubenheimer, 'n MSc-student, aan die navorsing.
Hulle is in 'n laboratorium in Hoedspruit en het al die nodige permitte om die navorsing te doen.

Hulle het reeds 99 monsters ondersoek oor die twee jaar dat hulle met die projek besig is, maar sal graag nog tien of 20 karkasse uit die omgewing van Komatipoort, Mbombela en Musina wil kry.
Hulle vra mense om nie die diertjies dood te maak ter wille van die navorsing nie. Hulle soek net karkasse van diertjies wat reeds op 'n ander manier dood is.
"Ons is geduldig. Ons versamel hulle nie self nie," het sy aan Netwerk24 gesê.
Die karkasse moet in 'n plastieksakkie verseël word en dan in nog 'n plastieksak geplaas word voordat dit gevries word om vir die studie gebruik te word.
Die navorsers wil ook graag subspesies van die boomeekhoring in Namibië, Botswana en Zimbabwe bestudeer. Dit sal 'n soorgelyke navorsingsproses wees.
Hulle het reeds ontdek dat daar drie luisspesies op die boomeekhorings voorkom. Die 1977-studie dui net een spesie aan.
Dis juis om hierdie rede dat die verseëlde sakkie so belangrik is. Die parasiete soos bosluise, vlooie, luise en myte wat afval, kan dan steeds bestudeer word.
Matthee vra dat wanneer iemand 'n boomeekhoring kry en vries, hulle ook die koördinate of naaste dorp en die maand wat die karkas gevind word sal dokumenteer.
Sy kan by 021 808 4777 gebel word of mense kan 'n e-pos na smatthee@sun.ac.za stuur vir meer inligting en hoe om die karkasse by hulle uit te kry.
• Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.




















