Wetenskap

Twee universiteite van VS ontwikkel 3D-model om siektes beter te behandel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Twee universiteite in die Vrystaat is besig om 'n 3D-model te ontwikkel sodat siektes meer doeltreffend behandel kan word.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV), in samewerking met die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, ontwikkel 3D-selkultuurmodelle deur die gebruik van 3D-gedrukte mini-bioreaktors om siektenavorsing te bevorder.

Die huidige 3D-selkultuurtegnieke is dikwels duur en kompleks, en die navorsers beoog om hierdie behoefte meer kostedoeltreffend te maak.

Deur hierdie gevorderde tegnieke meer toeganklik te maak, beoog die span om die betroubaarheid van dwelmtoetsing te verbeter en die afhanklikheid van toetse op diere aansienlik te verminder, lui 'n verklaring deur die UV vandeesweek.

Dr. Angélique Lewies Foto: Verskaf
Dr. Angélique Lewies Foto: Verskaf

Die projek word gelei deur dr. Angélique Lewies, navorser van die Robert W.M. Frater Kardiovaskulêre Navorsingsentrum (Frater-sentrum) in die UV.

Lewies se navorsing spesialiseer in die verhouding tussen kankerbehandeling en hartgesondheid.

Haar navorsing fokus op die voorkoming van skade aan hartspierselle wat deur chemoterapie veroorsaak word.

Volgens haar fokus die projek op die skepping van 3D-selkulture, bekend as sferoïede en organoïede, wat menslike weefsel meer akkuraat naboots.

Hierdie 3D-modelle kan die betroubaarheid van dwelmtoetsing verbeter.

"Tradisionele medisyne-ontwikkeling en siektestudies maak dikwels staat op plat (2D) selkulture en diermodelle," sê Lewies.

"Terwyl diermodelle noodsaaklik is vir die begrip van siektes en die toets van medisyne-veiligheid, voorspel hulle nie altyd hoe mense sal reageer nie en hul gebruik bring etiese kwessies mee," voeg sy by.

Zurika Murray, 'n gedragsgenetikus en dr. Marieka Gryzenhout, 'n C-gegradeerde wetenskaplike en senior lektor, staan haar by met die navorsing. Hulle is ook van die UV.

"Kardiale-sel-beskadiging, bekend as kardiotoksisiteit, kan lei tot ernstige kardiovaskulêre siektes en is 'n groot rede waarom sommige medisyne van die mark onttrek word. Deur 3D-kankersferoïede en kardiale organoïede (mini-hartmodelle) te ontwikkel, poog my span om maniere te vind om hierdie kardiotoksisiteit te voorkom terwyl hulle die doeltreffendheid van chemoterapie-medisyne verbeter," sê Lewies.

"Boonop ondersoek hulle die kardiotoksiese effekte van natuurlike produkte, soos medisinale plante en sampioene, wat potensiaal toon vir sowel anti-kanker as kardiobeskermende eienskappe."

Haar span is ook goedgekeur deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) om navorsing oor die beheerde psigedeliese verbindings psilosibien en psilosien te doen.

Die projek se langtermynfokus is op die moontlike ontdekking van nuwe medisyne om hart- en breinsiektes te voorkom en te behandel.