Een van die vereistes om as politieke party vir deelname aan die munisipale verkiesing te registreer is om ’n kenteken of logo te hê.
Sê maar ’n foto van ’n paddastoel wat lyk of dit uit ’n feëverhaal kom, maar giftig is, soos die rooihoedamaniet of vlieëgifswam van die Khowa Residents Association in die Oos-Kaap.
Wel, dit laat jou sekerlik uitstaan tussen die magdom partyprentjies van hande – hande wat skud, hande wat na mekaar uitreik, gebalde vuiste.
Nog ’n vereiste is om ’n naam te hê van nie meer as 60 letters nie. Dink byvoorbeeld aan die Decent Political Party van Limpopo en die Our Last Hope Party in Mpumalanga.
Die Save Ditsobotla Movement is besonder dapper, want die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes is heel moontlik die kampioen van swak plaaslike bestuur – met báie sterk mededingers.
’n Kombinasie van ’n treffende naam en logo is sekerlik nóg beter. Die Disrupt Party in Gauteng het ’n groen hutsmerk en die No Stress Party in KwaZulu-Natal ’n daggablaar. Die Wes-Kaapse Service To Our People’s Party met hul afkorting, STOPP, op ’n rooi stopteken, lyk na die wenner in dié kategorie.
’n Party wat op munisipale vlak wil registreer, moet die handtekeninge van 300 geregistreerde kiesers hê. Tog kon heelwat van hulle in die 2021-verkiesings nie naastenby 300 stemme trek nie. Twee het elk net een stem gekry.
Volgens dr. Harlan Cloete, ’n kenner van plaaslike politiek, kan ons in aanloop tot die 2026-verkiesing net ’n verdere toename verwag – ’n voortplanting van sampioenpartye.
Hy sê dis omdat gemeenskappe vertroue verloor in groter partye wat nie in voeling is met hul nood nie.
Tog het ervaring ons geleer hoe die stert van ’n klein party die hond kan rondswaai – met katastrofiese gevolge vir die stabiliteit van dié instellings wat moet sorg dat ons water kry en ons riool en vullis verwyder word.
Daar hang baie sulke stertfoto’s in die antiheldesaal van plaaslike politiek.
Die DA het vroeër vanjaar ’n wetsontwerp by die parlement ingedien wat daarvoor voorsiening maak dat ’n party nie meer op ander se uitlaatgas ’n raad mag haal nie. In die ingewikkelde langdeelsom waarmee bepaal word hoeveel raadslede elke party kry, is daar altyd ’n surplus van stemme (’n res, in skoolsomterme). Soos dit nou werk, kan ’n amper-party wat nog geen setel het nie, ook in daardie surplus deel en dus wel ’n raadslid kry.
Die DA wil ook ’n beperking plaas op hoe dikwels ’n mosie van wantroue teen ’n burgemeester of speaker ingestel kan word sodat ’n metaforiese draaideur nie by elke munisipale raadsaal geïnstalleer hoef te word nie.
Dit onthef die DA en ander groot partye egter nie van hul verantwoordelikheid teenoor ons nie. Die groot honde moet besef terwyl hulle baklei, hardloop die klein hondjies dikwels met die been weg. In sommige gevalle kry hulle sommer Wagyu-steak of pâté de foie gras onder die tafel ook.
En wat van ons, die kiesers?
My gunsteling-brein-afskakel-program op TV is waar mense blyplek in ’n ander land soek. Hulle het ’n lang lys vereistes, maar nie noodwendig die begroting daarvoor nie.
Hulle wil byvoorbeeld Europese sjarme hê, maar nie die on-Amerikaanse klein yskassie nie. Of hulle soek ’n plekkie in die middestad, maar kla dan oor die straatlawaai.
Die kans is goed dat geen enkele party aan al jou vereistes gaan voldoen nie. Maar dink mooi voor jy ’n stert instuur wat van jou vergeet sodra sy parkeerplek aan hom toegeken word.
Heel onrusbarend kon die party Us the People in 2021 net 663 stemme kry.
• De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
















