Verkiesing 2021

ANC se steun minder, setels meer in Noord-Kaap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Deshi Ngxanga, sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, toe hy Maandag sy kruisie getrek het. Foto: Verskaf
Deshi Ngxanga, sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, toe hy Maandag sy kruisie getrek het. Foto: Verskaf

Waardevolle lesse is te leer uit die sesde munisipale verkiesings in die Noord-Kaap sedert die begin van die demokrasie in 1994.

Die Noord-Kaapse se kiesersopkoms was die beste in die land en 53,59% van die geregistreerder kiesers het hul stemme uitgebring.

Die finale uitslae spreek boekdele oor die verskuiwing van mag op die politieke speelveld in dié provinsie, met al hoe meer kiesers wat hul vertroue nou eerder in gemeenskapsorganisasies plaas.

Sowat 40 000 stemme het na dié organisasies, onafhanklike kandidate en kleiner en nuutgestigte partye gegaan.

Die ANC én die DA in die Noord-Kaap het egter Donderdag volgehou dat hulle nie steun verloor het nie.

Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die ANC, sê in 'n verklaring die party is dankbaar en staan verleë oor die ondersteuning wat sy kiesers steeds by die stembus getoon het.

"Ons het meer veld gewen as wat ons verloor het."

Die ANC se gewildheid het van 58,26% in 2016 tot 50,55% in 2021 gedaal, maar die ANC het inderdaad nou 229 setels teenoor 2016 se 227 gewen.

"Die wil van ons mense het in al ons wyke geseëvier."

Volgens Ngxanga het die ANC dus daarin geslaag om veld te wen.

Harold Mcgluwa, die DA se provinsiale leier in die Noord-Kaap, het in Kimberley gestem. Foto: Verskaf
Harold Mcgluwa, die DA se provinsiale leier in die Noord-Kaap, het in Kimberley gestem. Foto: Verskaf

"Dit is 'n oorwinning wat ons nie as vanselfsprekend aanvaar nie en ons is opreg dankbaar vir die stemme wat in ons guns uitgebring is."

Harold McGluwa, die DA se provinsiale leier, sê die party het nie steun verloor nie, maar die resultate wys dat kiesers vertroue in die provinsiale regering verloor het.

Die DA se steun het van 24,85% in 2016 tot 19,97% vanjaar gedaal.

Die party het nou 88 setels teenoor die 98 wat hy in 2016 behaal het.

McGluwa sê kleiner partye soos die Patriotic Alliance (PA) en Good en ook gemeenskapsorganisasies het die DA gedruk.

"Dit is waaroor die politiek gaan. Raadslede moet meer sigbaar en tussen die mense wees, want dit is met hulle wie mense hulle vereenselwig."

Hy sê die DA sal oor die volgende paar dae die uitslae ontleed en oorweeg met watter partye of gemeenskapsorganisasies hy in die onderskeie munisipaliteite sal kan saamwerk.

"Dit moet organisasies wees wat waardes en sienings met die DA deel."

Twee organisasies wat wel in dié stadium vir die DA uitstaan, is die Siyathemba-gemeenskapsbeweging (SGB) in Prieska en die Namakwa Civic Movement (NCM) in Springbok.

Ngxanga sê die ANC het in sy manifes belowe om sy raadslede verantwoordbaar en beskikbaar te hou vir die gemeenskap wat hulle verkies het.

"Dit is 'n belofte waartoe ons verbind sal bly. Ons bly daartoe verbind om die pas van dienste wat gelewer word te versnel en die gehalte te verbeter. Ons is verplig om uit te blink ná die ondersteuning wat ons van ons kiesers ontvang het."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM