Die DA se burgemeesterskandidaat vir Beaufort-Wes het onder skoot gekom nadat dit aan die lig gekom het dat hy die munisipaliteit glo meer as R600 000 in belasting skuld.
Die ANC het sy kommer uitgespreek oor die betrokkenheid van Derick Welgemoed, die DA se burgemeesterskandidaat vir Beaufort-Wes, by verkrygingsbestuurprosesse.
Hy het die bewerings ontken en gesê dat hy gedurende 2005 by die raad aansoek gedoen het om erwe wat al jare vakant is, te koop.
"Ek het twee stukke grond gekoop, waarvan een deur 'n tender en die ander een deur 'n openbare veiling. Ek het 'n prokureur aangestel om die veiling by te woon en die aanbod namens my te maak. Ek het die betrokke erf gekoop. Dit is oorgeplaas deur 'n ontwikkelingstrust," het Welgemoed aan News24 gesê.
Hy sê heelwat erwe in die tweede ontwikkeling is nog vakant, terwyl die trust dormant is.
"Ek is 'n trustee van die betrokke trust en die trust is bankrot. Ek ontken nie dat daar uitstaande belasting is nie. Ek het die erwe deur 'n veiling gekoop."
Welgemoed het bygevoeg dat hy die ANC in Beaufort-Wes ondersoek.
"Ná die verkiesing gaan ons die Beaufort-Wes-munisipaliteit skoonmaak," het hy bygevoeg.
Hy het Saterdagoggend aan Netwerk24 gesê die trust, wat ontwikkeling gedoen en nie die resessie oorleef het nie, is al 13 jaar dormant en bankrot.
"Dit is nou verkiesingstyd en was nooit 'n kwessie nie. Dit is 'n ANC-foefie. Hoekom is dit nou 'n kwessie en nie die vorige 13 jaar nie? Elke keer met 'n verkiesing kom die trust ter sprake en nie ná die verkiesing nie. Ek moet hom net likwideer en klaarkry."
Cameron Dugmore, die verkiesingshoof van die ANC, sê dit is "arrogansie" dat Welgemoed weier om die uitstaande munisipale skuld te vereffen.
"Welgemoed is die direkteur van sy trust en hulle is agterstallig en hy moet persoonlik die geld betaal. Ek dink dit is belangrik dat die munisipaliteit regstappe teen hom instel en op sy eiendom beslag lê omdat hy nie betaal wat hy skuld nie. Dit is grootskaalse korrupsie," het Dugmore bygevoeg.
In 'n brief aan Anton Bredell, die LUR van plaaslike regering in die Wes-Kaap, wat News24 onder oë gehad het, spoor Noel Constable, die munisipale speaker, Bredell aan om teen Welgemoed op te tree.
"As speaker van die raad wil ek dit graag onder die minister se aandag bring dat raadslid Welgemoed R684 297,53 aan die munisipaliteit, wat reeds in 'n finansiële verknorsing verkeer, skuld. Jy word versoek om in terme van die regulasies die nodige stappe teen die raadslid te doen," lui die brief.
Omdat Welgemoed 'n burgemeesterskandidaat is van die party behoort Bredell dadelik die nodige stappe teen hom te doen.
Die munisipaliteit het ook advies van die provinsiale tesourie ingewin nadat Welgemoed daarvan beskuldig is dat hy die openingsbod saam met bestuurders van die verkrygingsbestuurprosesse bygewoon het.
Die tesourie het laas week aanbevelings aan die munisipaliteit gedoen en gesê dat die "rekenpligtige beampte" tugstappe teen Welgemoed moet instel soos uiteengesit in bylae 1, afd. 14 van die oortreding van die kode van die Wet op Plaaslike Regering.
James-Brent Styan, woordvoerder van Bredell, sê die LUR het op die saak gereageer.
"Die minister het kennis geneem van 'n resolusie wat deur die raad geneem is om 'n spesiale komitee te stig om ondersoek in te stel en bevindings te maak oor die beweerde oortreding van die gedragskode deur die raadslid."





















