Al wat "gebrekkige kapasiteit in die staat" eintlik beteken, is daar is ondoeltreffendheid en ondoelmatigheid in die openbare sektor, sê Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur.
Die verwysing na gebrekkige vermoë in die staat maak haar ergerlik.

"Dis nie 'n gebrek aan kapasiteit nie. Dit beteken net die verkeerde mense is in die verkeerde posisies," het sy Donderdag op die simposium vir volhoubare infrastruktuurontwikkeling in Suid-Afrika gesê.
Die simposium is verlede jaar die eerste keer aangebied om belangrike infrastruktuurprojekte te identifiseer vir finansiering wat vinnig aan die gang kan kom om 'n impak te maak.
Infrastruktuurontwikkeling is 'n belangrike deel van die regering se plan om lewe in die ekonomie te blaas.
Die regering wil met sy Infrastruktuurfonds R1 100 miljard se beleggings oor die volgende tien jaar ontsluit. Pensioenfondse, banke en ander private instellings sal R10 verskaf vir elke R10 wat die regering gee, berig Bloomberg.
Altesame 62 projekte is ná die 2020-simposium in die Staatskoerant afgekondig en finansiering van R340 miljard van die private sektor verseker. Daarvan is R119 miljard se projekte reeds voltooi, nog in aanbou of in die finale fases van voorbereiding, het De Lille gesê.
'n Volgende 55 projekte van sowat R600 miljard is nou beskikbaar. Sowat R441 miljard se finansiering is nog uitstaande, het sy gesê.
Sugen Pillay, president van die vereniging vir raadgewende ingenieurs, het gebrekkige kapasiteit in die staat uitgesonder as 'n groot uitdaging vir die private sektor wanneer dit by infrastruktuurprojekte kom.
In dié opsig het dr. Miriam Altman, 'n ekonoom en mede-outeur van die Nasionale Infrastruktuurplan tot 2050 (NIP 2050), verwys na die klem wat die plan op die herbou van mensekapasiteit in die staat plaas.
"Die kapasiteit was daar, maar soveel het die afgelope dekade verlore gegaan. Ons vaar nie goed daarmee om planne tot uitvoer te bring nie. 'n Goeie idee wat jy tot uitvoer bring, met die regte finansiële uitkomste, dit is 'n goeie plan," het sy gesê.
"Suid-Afrika sukkel om daar te kom. Die staat kan nie altyd dienste inkoop of sekondeer nie.
"Dit kan deur vennootskappe gebeur, maar dis belangrik dat die staat ook sy eie tegniese kenners het."
Dis nie 'n gebrek aan kapasiteit nie. Dit beteken net die verkeerde mense is in die verkeerde posisies.
— Patricia de Lille
Prof. Danie Meyer van die Universiteit van Johannesburg se kollege vir sake en ekonomie het aan Rapport gesê die regering se nuwe distriksontwikkelingsmodel is gemik op beter samewerking tussen die drie sfere van regering (nasionaal, provinsiaal en plaaslik).
"Die idee is goed omdat dit groter koördinering veronderstel met beplanning en besteding, maar dis steeds dieselfde mense wat daar sit en tot dusver nie die werk gedoen kon kry nie."
Hy het gesê kundiges van universiteite kan betrek word om staatswerkers te help oplei.
Altman het gesê die NIP 2050 is duidelik oor hoe belangrik uitvoerende bestuur en tegniese vaardigheid in die staat is.
"Daar is duidelike bewyse dat die vermoë vir beplanning, finansiering, verkryging en implementering van kritieke netwerk-infrastruktuur afneem. Hoewel daar ook suksesse is, is die algehele prentjie een van swak resultate wat nie aan Suid-Afrika se langtermyn-agenda van indiensneming, gelykheid en armoedeverligting voldoen nie," lui die dokument.
Altman het gesê die NIP is nie bedoel as 'n databasis van alle projekte, 'n konsolidering van meesterplanne of 'n meganisme vir sentrale besluitneming nie.
"Ons moes iets doen omdat ons nie vorder soos ons moet nie. Die NIP probeer die belangrikste optrede identifiseer wat nodig is vir beter openbare infrastruktuurlewering vir voordele op kort en lang termyn."



















