Met die plaaslike verkiesings op 1 November op hande is die politieke stryd rakende die Kannaland-munisipaliteit van die vuurwarmste in die Wes-Kaap.
In Kannaland (met dorpe soos Ladismith, Zoar en Vanwyksdorp) waar die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) die meerderheid raadslede het, het dié party, asook die DA en die ANC kandidate wat in al vier wyke staan.
Die munisipaliteit gaan die afgelope klompie jare gebuk onder 'n finansiële krisis en het volgens die DA teen die einde van September agterstallige skuld van R19 miljoen by Eskom gehad.
In die verkiesing in 2016 het Icosa drie setels verwerf en die DA en ANC elk twee.
Die hooggeregshof in Kaapstad het vroeër in Oktober beslis dat die Wes-Kaapse regering se finansiële herstelplan vir die Kannaland-munisipaliteit onwettig en ongrondwetlik is.
Die munisipaliteit is sedert 2016 onder gedeeltelike administrasie van die Wes-Kaapse provinsiale uitvoerende bestuur.

LEES OOK: Bredell-hulle ‘hou opsies oop' ná hofuitspraak oor Kannaland
Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van Icosa, sê werkskepping, behuising en die ontwikkel van die jeug is vir hulle belangrik.
"Bemagtiging van ons mense en plaaslike besighede wat benadeel was, is ook van die belangrike fokuspunte. Ons gaan ook aan deernishulp vir meer mense in 'n hoë salarisgroep aandag gee."
Volgens hom is plaaslike regering baie belangrik, "want dit is waar dienslewering plaasvind".
"As daar nie 'n plan vanaf die plaaslike munisipale kant op die tafel gesit word nie, kan daar nasionaal niks gedoen word nie. Jy moet 'n waterdigte plan hê om dienslewering vir almal te verseker."

Volgens hom is Icosa positief daaroor dat hulle beter by die stembus gaan vaar as in 2016.
"Ons het meer as 500 kandidate wat geregistreer is. Kannaland kan gerus dopgehou word en Icosa is ook opgewonde oor die Kaapse metrogebied waar 92 kandidate in wyke gaan staan."
Tertius Simmers, adjunkleier van die DA in die Wes-Kaap, sê hulle sal op deurslaggewende kwessies fokus indien hulle in Kannaland suksesvol is. Hulle wil vir Kannaland 'n herstelplan saamstel wat op broodnodige tegniese bystand vir 'n grootskaalse meesterplan fokus wat ontwikkeling sal ontsluit en werksgeleenthede sal skep. 'n Finansiële herstelplan is ook noodsaaklik om 'n volhoubare Kannaland te verseker.
"Die uitdagings waardeur die munisipaliteit in die gesig gestaar word, is finansiële stabiliteit en volhoubaarheid wat alle aspekte van basiese dienslewering en ontwikkeling beïnvloed."

Die ANC in Kannaland roem hom daarop dat sy kandidate mense is wat deur die gemeenskap gekies is om inwoners te verteenwoordig, sê Anthony Ewerts, voormalige adjunkburgemeester van Kannaland en ANC-lid.
Volgens hom wil die ANC korrupsie uitroei, 'n skoon regering daarstel en toesien dat dienslewering doeltreffend geskied. Hulle wil ook die bou van huise versnel omdat daar glo geen huise in Kannaland gebou word nie "omdat die DA Icosa wil straf". Werkloosheid gaan ook aandag kry.
"Vroue, die jeug en mense met ongeskikthede sal voorkeur geniet."

Kannaland steun ook swaar op toerisme en as sulks wil die ANC die bekende R62-roete onder toeriste bemark en die ekonomiese ontwikkeling van die munisipale gebied bevorder.
"Ons het grond en water en sal beleggings lok sodra ons ná 1 November in beheer is," sê hy.
Van die uitdagings in die gebied is straatkinders wat volgens hom toeriste afskrik.
"Ons wil saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling werk en kyk na 'n moontlike interimhuis vir die kinders. Hulle moet weer in die gemeenskap geïntegreer word en by hul familie geplaas kan word."



















