Daar is geen wetgewing in Suid-Afrika wat koalisievorming reguleer nie, maar die vereniging vir plaaslike regerings (Salga) het riglyne met 15 kritieke gebiede voorgelê waaroor politieke partye ooreen moet kom voordat hulle koalisies vorm.
Dít is egter bloot raadgewend en partye kan steeds na goeddunke optree, sê JP Landman, 'n politieke en neigingontleder, in sy jongste nuusbrief.
"Die lukrake manier hoe koalisies ná die 2016-verkiesings gevorm is en uiteindelik wanfunksioneel was, was nie 'n goeie ervaring vir Suid-Afrikaners nie.
"Die maklikste sal wees as politieke partye op nasionale vlak onderhandel oor koalisies in die 70 munisipaliteite waar geen party 'n volstrekte meerderheid kon behaal nie," sê Landman.
"Dít is egter makliker gesê as gedaan. Die volgende paar weke gaan baie interessant wees."
Kragtens wetgewing het munisipaliteite 14 dae sedert die name van die nuwe raadslede in die Staatskoerant gepubliseer is om nuwe rade saam te stel.

Landman sê die proporsionele stelsel verseker dat die groter partye nie die stelsel van "eerste oor die wenstreep" kan gebruik om kleiner partye uit te hou nie.
"In beginsel is dit goed, veral in Suid-Afrika, maar dit bemoeilik sake en beteken koalisies moet gevorm word om te kan regeer.
"Ná die plaaslike verkiesings in 2016 was daar 27 munisipaliteite waar niemand 'n volstrekte meerderheid kon behaal nie. Nou is daar 70."
Onder dié 70 munisipaliteite tel vyf metro's - Johannesburg, Ekurhuleni, Tshwane, eThekwini (Durban) en Nelson Mandelabaai (Gqeberha).
"Tien jaar gelede het die ANC sewe van die land se agt metro's beheer. Nou beheer hy net twee (Buffalo City/Oos-Londen en Mangaung/Bloemfontein). En in Mangaung kon hy net 50% van die stemme kry," sê Landman.
Hy meen die swak vertoning van die regerende party in vandeesweek se verkiesings versterk die hand van pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, en sy ondersteuners wat die ANC wil hernuwe.
• Die Duitse Konrad Adenauer-stigting het in 2019 verteenwoordigers van verskeie Suid-Afrikaanse politieke partye Duitsland toe geneem om hulle op te lei en op die hoogte te bring van die werkinge van koalisies.
Duitsland het baie ervaring met dié regeringsvorm.
















