Hoewel talle bruin kiesers van Bloemfontein na middelklaswoonbuurte verhuis het, bly baie nog in Heidedal, die stad se "vergete" tradisionele bruin buurt.
Attie Terblanche, DA-raadslid van wyk 16 in Heidedal, sê dit lyk baie sleg in Heidedal weens die gebrek aan dienslewering.
"Dit was al die jare 'n ANC-wyk, wat ek tien jaar gelede by die party gewen het. Die ANC voel gebelg hieroor omdat Heidedal se bruin en swart inwoners nou onder 'n DA-raadslid val."
Hy sê in die groter prentjie van Mangaung lyk Heidedal nie anders as ander woonbuurte nie omdat vullis daar ook nie verwyder word nie, straatligte nie werk nie en strate vol rioolvuil en slaggate is.
"Dit neem regtig weke om 'n waterlek te kom herstel. Ek het vir Heidedal voorafbetaalde watermeters by 'n kontrakteur gereël, maar toe die kontrakteur dit begin installeer, het die metro dit stopgesit omdat hulle sê ek wil stemme werf."
Terblanche sê die hoofkontrakteur en sy subkontrakteurs vir die watermeters word letterlik miljoene rande betaal, maar werk in Heidedal is vir eers gestaak.
"Altesame 100 tweevertrek-huise in Heidedal sou deur die provinsie oorgebou word, maar dit is ook nou vir eers van die baan."
Hy sê die ANC in die metro en in die provinsie sê altyd hulle verskaf dienste aan almal, maar sodra die dienste na 'n DA-wyk moet kom, weerhou hulle dit.
"Nietemin ken die mense my en sal ons hard veg en werk sodat inwoners kry wat hulle verdien."

Gatvol - maar niks gebeur nie
Gatvol is 'n informele nedersetting in Heidedal.
"Die mense word daar aangehou in die hoop dat hulle in verkiesing vir die ANC sal stem en word nie verskuif soos wat aan hulle beloof is nie."
Terblanche sê hy het 'n kontrakteur gehelp om in Gatvol waterpype te verleng sodat meer mense water kon kry.

In wyk 47 van die DA-raadslid Mokgadi Kganakga is nog net een stempunt van Heidedal oor nadat die Afbakeningsraad die grense van dié wyk verander het.
'n Voormalige ANC-politikus wat anoniem wil bly, sê: "Heidedal het onder die ANC, soos die res van die Mangaung-metro die afgelope vyf jaar, verder agteruit geboer. Daar is groot werkloosheid, gepaardgaande armoede, alkohol- en dwelmafhanklikheid en misdaad."
Hy sê selfs voormalige ANC-leiers is opsy geskuif en baie van die inwoners vra wat het van mense soos Maureen Scheepers, Amos Goliath en Rassie Erasmus, geword.
"Selfs Tony Marais en Eddie Goliath moes 'n ander heenkome by die EFF gaan soek het voordat hulle dood is," sê hy.
Hy sê Heidedal-leiers wat nie die erkenning kry wat hulle verdien vir hul bydrae tot die anti-apartheidstryd nie, is onder andere wyle Pieter Swartz "wat as een van Nelson Mandela se 12 dissipels beskou is" en wyle Annie Jacobs, wat deelgeneem het aan vroue-optog teen die paswette op 9 Augustus 1956.

Heidedal verval
Inwoners kla ook oor die Clive Solomon- en Billy Murison-stadion in Heidedal wat nie in stand gehou word nie, terwyl die Norman Doubell-saal en die munisipale kantoor in 'n haglike toestand is. Twee klinieke is afgebreek en die Heatherdale-begraafplaas is met bossies en onkruid begroei.
Benji Williams, VF Plus-kandidaat, sê hy is die voorsitter van die Heidedalse werkloosheidsforum en hul forum het al vir 300 mense 'n tydelike werkgeleentheid geskep.
"Ek wil graag 'n groot verandering in Heidedal teweeg bring as ek raadslid hier word."
Adriaan de Bruyn, VF Plus-LP, sê Heidedal het 'n groot behoefte aan verandering en verbeterde dienslewering.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-raadslid van die Mangaung-metro, sê 'n groot klomp probleme in Heidedal kan met 'n enkele optrede reggestel word. Daar is net een vullishouer voor die munisipale kantoor en al wat nodig is, is om nog vullishouers daar te plaas.
"By die Omega-tehuis vir bejaardes en by Genadewonings leef bejaardes onder moeilike omstandighede weens gebrekkige dienslewering."
Werner Horn, DA-LP en die party se verkiesingsveldtogbestuurder in die Vrystaat, sê die DA het in die 2011- en die 2016- plaaslike verkiesing wyk 16 in Heidedal verower.
"Ons is vol vertroue dat ons met vanjaar se verkiesing dit weer gaan doen, terwyl die Patriotic Alliance (PA) van Gayton McKenzie, 'n boorling van Heidedal, die new kid on the block is. Wat ons sien of vermoed, is dat die PA eerder stemme van die ANC as van die DA gaan wegvat," sê hy.
McKenzie was nie self beskikbaar toe hy om kommentaar gebel is nie.

Logan Kruger is die ANC-kandidaat en die PA-kandidaat is Quinton Norris. Daar staan minstens 12 kandidate in Heidedal.
Mxolisi Siyonzana, uitvoerende ANC-burgemeester van die metro, sê die metro maak nie 'n uitsondering van DA-wyke nie en probeer oral dienste lewer.
"Uitdagings in Heidedal sal gepak word," sê hy.
"Mense wat sê hulle kry nie dienste in Heidedal nie moet sê watter hulle nie kry nie, want ons lewer almal daar."





















