Verkiesing 2021

Knysna se Ricky loop oor na ANC

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Van Aswegen
Van Aswegen

Ricky van Aswegen, Knysna se burgemeester en die enigste Cope-stadsraadslid in die land, is weer 'n ANC-lid.

Van Aswegen was die afgelope jaar burgemeester in 'n taamlik stabiele koalisieregering saam met die ANC in Knysna nadat 'n DA-koalisie in duie gestort het. Toe die Verkiesingskommissie die verkiesingslyste bekend maak, was Van Aswegen die ANC se burgemeesterskandidaat.

Die DA het 49,61% van die stemme gekry en die helfte van die 20 stadsraadslede in Knysna in sy sak gehad ná die vorige plaaslike verkiesings, in 2016, maar het nog 'n raadslid nodig gehad om 'n volstrekte meerderheid te verkry. Naas die sewe ANC-lede was daar 'n lid vir Cope (Van Aswegen), 'n raadslid wat die African Christian Democratic Party (ACDP) verteenwoordig het en 'n plaaslike party, die Knysna Unity Congress (KUC).

Die DA het die ACDP as sy vennoot gekies, maar uiteindelik het twee DA-raadslede gerebelleer, die DA-burgemeester uitgestem en 'n nuwe bewind gevorm waarin een van die twee DA-raadslede, Mark Willemse, tot burgemeester verkies is met die steun van die ANC-raadslede, Van Aswegen en die raadslid van die KUC. Die twee rebelle is deur die DA gedwing om uit te tree en tussenverkiesings is gehou, maar teen alle verwagtings in het nog 'n DA-raadslid na die ANC oorgeloop en die DA kon nie beheer herwin nie.

Uiteindelik het Van Aswegen burgemeester geword.

"Ek het dit oorweeg om uit te tree, maar die ANC het my genader en gesprekke gevoer oor die moontlikheid om aan te bly. Dis egter reeds etlike maande lank duidelik dat ek as proporsionele raadslid sal moet aanbly en nie in die wyk sal staan soos ek tot dusver gedoen het nie," sê hy.

Dit het vir hom duidelik geword dat die rol van 'n wyksraadslid en 'n burgemeester moeilik gekombineer kan word. " 'n Mens skeep een van die twee af. Jou kiesers in die wyk verwag van jou om voorkeur aan hulle te gee. Ek was 'n lid van die ANC voordat Cope afgestig het en dit was duidelik dat ek na die ANC sal teruggaan as ek langer wil dien."

Jan De Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM