Die 16 mense wat in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Kestell, Qwaqwa en Harrismith) weggebreek het van die ANC en as MAP-16 aan die verkiesing deelgeneem het, praat tans met al die opposisiepartye in die munisipaliteit oor moontlike koalisies.
Maar hulle praat nie met die ANC nie, sê Paratlane Motloung, leier van dié inwoner-organisasie. Met die ANC sal hulle nie in 'n koalisie tree nie.
Dit kom nadat die ANC 39,82% van die stemme gekry het in die raad, die DA 7,39%, die EFF 10,07% en MAP16 28,33%.
Motloung het Maandag gesê: "Ons praat met almal. Ons het met die EFF gepraat, ons praat met die Dikwankwetla Party van Suid-Afrika (DPSA), wat 4,31% van die steun gekry het, en die African Content Movement (ACM), wat 2,02% van die steun gekry het. Ons het Dinsdag 'n afspraak met die VF Plus, wat 0,63% van die steun gekry het.
"Ons het ook al met die DA gepraat. Die DA is nie bereid om met ons in 'n koalisie te gaan as die EFF deel van die koalisie is nie.
"So daar moet nog baie gepraat word of ons die EFF sal los en dalk eerder saam met die DA gaan, ons is druk besig om gesprek te voer.
"Ons sal egter nie met die ANC in 'n koalisie tree nie," het hy benadruk.
In Maluti-a-Phofung het ook die ATM (African Transformation Movement) 1,73% van die steun gekry, die onafhanklikes 1,51% van die steun, en die African Independent Congress (AIC) 1,30% van die steun.

Leona Kleynhans, DA-LPW en kiesafdelingshoof van die DA in die gebied, sê dit is so dat die DA nie saam met die EFF in 'n koalisie sal gaan nie. "Hier is nog geen uitsluitsel nie en ons wag nog om te kyk wat gebeur."
Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, het gesê die DA sal beslis nie met die ANC of die EFF in 'n koalisie in die provinsie tree nie, maar sal saam met ander opposisiepartye werk om die opposisie te versterk.
Oupa Khoabane, woordvoerder van die Vrystaatse tussentydse provinsiale komitee van die ANC, sê die ANC praat met opposisiepartye in die vier Vrystaatse munisipaliteite waar die ANC nie 'n volstrekte meerderheid kon kry nie, soos in Maluti-a-Phofung, maar dat dit nog te vroeg is om te sê wat gaan gebeur.
Die party sal eers Vrydag kan sê wat gaan gebeur.
Hier is nog geen raadsvergadering gehou nie en ons wag om te kyk wat gaan gebeur. My vermoede is dat dit bitter moeilik vorentoe gaan word om begrotings en ander besluite deur te kry met dié verdeling.
Khoabane het ook gesê die ANC is juis bekommerd oor die beheer in Maluti-a-Phofung en Metsimaholo (Sasolburg, Deneysville en Oranjeville), waar hy nie meer as 50% van die stemme kon kry nie.
Die ander twee, Moqhaka (Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus) en Nala (Bultfontein en Wesselsbron), behoort volgens hom nie vir die ANC 'n probleem te wees nie.
In Moqhaka het die ANC 49,17% van die steun gekry, die DA 21,19% en die EFF 11,77%.
"As die ANC met een van die ander kleiner partye saamwerk, het hy 'n meerderheid van 50%," het Khoabane gesê.
In Nala het die ANC ook 48,97% van die stemme gekry, die DA 9,62% en die EFF 23,07%.
Mariëtte Pittaway, DA-kiesafdelingshoof van Metsimaholo, sê dit is doodstil en hulle het nog niks gehoor nie.
Die ANC het daar 34,71% van die steun gekry, wat 16 setels beteken, die DA 26,30% met 12 setels en die EFF wat 25,69% van die steun gekry het, en ook 12 setels kry.
"Hier is nog geen raadsvergadering gehou nie en ons wag om te kyk wat gaan gebeur. My vermoede is dat dit bitter moeilik vorentoe gaan word om begrotings en ander besluite deur te kry met dié verdeling.
"Daar is selfs 'n moontlikheid dat die provinsie later die raad sal moet ontbind, soos wat al in die verlede gebeur het, sodat daar weer 'n verkiesing gehou kan word."
Mandisa Makesini, Vrystaatse EFF-leier, was nie beskikbaar toe sy herhaaldelik om kommentaar gebel is nie.




















