Dit sal nie meer so maklik vir die ANC wees om besluite in die Mangaung-metroraad (Bloemfontein en omliggende dorpe) deurgestoomroller te kry as al sy raadslede nie op 'n vergadering teenwoordig is nie.
Dit kom nadat dié party se steun van die 58 setels wat hy met die 2016- plaaslike verkiesing behaal het, tot 51 in die 2021-verkiesing gedaal het. Die ANC gaan dus voortaan 'n hele sewe raadslede minder in die raad hê.
Jabulani Tshabalala, provinsiale kiesbeampte van die Verkiesingskommissie (OVK), het op 'n nuuskonferensie Donderdag bekend gemaak dat die ANC in die metro 51,51% van die steun gekry het (teenoor 56,5% in 2016), die DA 25,48% (25,96%) en die EFF 11,37% (8,66%).
Die DA kry nou 26 setels nadat hy 27 gehad het.

Werner Horn, Vrystaatse voorsitter van die DA en provinsiale veldtogbestuurder, sê dit kom nadat die DA wyk 16 in Heidedal aan die ANC afgestaan het.
Die EFF se getal setels in die metro verhoog van nege tot 12 en die VF Plus se setels van twee tot vyf.
Pappie Mokoena, oud-burgemeester, se Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) het twee setels gekry. Sy Agency of a New Agenda (ANA)-party, wat nie meer bestaan nie, het een setel gehad.
Die Patriotic Alliance (PA) het twee setels en word vir die eerste keer in die metroraad verteenwoordig.
Die AIC, wat twee raadslede gehad het, kry nou een.
Die ACDP maak ná tien jaar weer sy toetrede tot die raad danksy die een setel wat hy gewen is.
Cope het sy enkele setel verloor, terwyl die ATM vir die eerste keer 'n setel kry.

In totaal is daar 101 raadslede.
Zolile Mangcotywa, ANC-hoofsweep in die metro, gaan nie terugkeer na die raad nie.
Die ANC het elf proporsionele raadslede in die metro gekry.
Hardie Viviers, koukusleier van die DA, sê hy is baie dankbaar dat die party 26 van sy setels behou het. "Ons proporsionele toedeling van 15 is presies dieselfde as die vorige keer.
"Ons het almal gedink dat die lae ANC-opkoms ons meer op die proporsionele lys sou bevoordeel.
"Ongelukkig was die opkoms oor die algemeen laag en was dit heel moontlik die rede waarom die DA nie meer op die proporsionele lys bevoordeel is nie."
Hy sê al wat die party verloor het, is wyk 16 in Heidedal.
"Die DA bly die amptelike opposisie in die metro."
Tammy Breedt, VF plus-LP, sê die party is verheug daaroor dat sy setels van twee tot vyf vermeerder het.
"Ons het 'n dinamiese span wat die inwoners van Mangaung sal kan dien en wat werklikwaar die gewete van die raadsaal kan wees."
Die VF Plus se raadslede is:
- Dr. Elizabeth Snyman van Deventer
- Henry Denner
- Maré-Lize Wewege
- Valerie de Kock
- Braam Vorster
Die ANC se proporsionele raadslede is:
- Vuyelwa Jonas-Malephane
- Patrick Monyakoana* Molefi Morake
- Lulama Titi-Odile
- Motshewa Tladi
- Mapaseka Mothibi-Nkoane
- Maditaba Matsoetlane
- Puseletso Seleke
- Ntombi Nhlapo* Stefani Lockman
- Mxolisi Siyonzana, die huidige burgemeester
Nie 'n wit ANC-raadslid:
Die ANC het geen wit raadslid in die metro oor nie nadat Thabo Olivier en dr. Jeanine Nothnagel al voor die verkiesings verwittig is dat hul name nie weer op die kandidaatlys is nie.
Neels van Rooyen, 'n oud-wetgewerlid, was te laag op die proporsionele lys van die ANC en het dit ook nie as proporsionele raadslid gemaak nie.






















