Dit is 'n langnaweek, vrees vir Covid-19 en omdat hul stem nie 'n verskil gaan maak nie, is van die redes dat van Netwerk24 se lesers nie op 1 November stembus toe gaan nie.
Die meerderheid (1 269) van die 1 522 respondente wat aan Netwerk24 se onlangse peiling oor die verkiesings deelgeneem het, gaan egter wel hul stemme uitbring.
Die verkiesings, wat gewoonlik op 'n Woensdag is, is vanjaar op 'n Maandag, en 48 (3,2%) van die respondente gaan dié vakansiedag gebruik om langnaweek te hou.
Van die respondente (43) het aangedui hulle gaan wegbly van die stembus omdat hulle bang is vir Covid-19.
Uit die lesers wat aan die peiling deelgeneem het, het 77 (5,1%) aangedui hulle gaan nie stem nie omdat hul stem nie 'n verskil sal maak nie. Nog 33 (2,2%) woon nie meer waar hulle geregistreer is nie, en gaan dus ook nie stem nie.
Die Verkiesingskommissie het vandeesweek bekend gemaak dat 26,2 miljoen kiesers geregistreer is.
Altesaam 863 (56,7%) van die respondente meen dat elke stem tel, en 230 (15,1%) sê hulle gaan stem omdat 'n mens nie kan kla oor dienslewering as jy nié jou stem uitgebring het nie.
Altesaam 176 (11,6%) sê hulle gaan stem "om te keer dat die verkeerde party" in hul munisipaliteit aan die bewind kom. Daar is ook 'n paar respondente wat nog nie besluit het of hulle wel by een van die 23 151 stempunte landwyd gaan stem nie.
Altesaam 52 gaan op stemdag besluit of hulle wel hul kruisie gaan trek.















