Hierdie is 'n revolusionêre tyd vir hernuwing in die ANC, het pres. Cyril Ramaphosa Maandag aan honderde juigende ondersteuners in Kimberley gesê.
Hy het by die Donkerhoek-sportterrein in wyk 8, die laaste wyk wat hy Maandag besoek het, gepraat en die jongste raadslidkandidaat van die ANC, Kagisho Sonyoni (26), aan die skare voorgestel.
Die ANC vernuwe homself met 25% van sy kandidate wat jong mense en 46% wat vroue is, het hy gesê.
Hoewel Ramaphosa se besoek aan Kimberley Maandagoggend met teenkanting afgeskop het, het dit op 'n jolige noot geëindig.
Ons is excited, man!

Hy het drie wyke, waaronder die buurte Greenpoint, Homevale en Donkerhoek, in die aanloop tot die munisipale verkiesings op 1 November besoek.
Hoogs ontevrede inwoners van Homevale het hom egter begroet met plakkate oor hul griewe en 'n memorandum wat hulle ná sy toespraak aan hom oorhandig het.
Die klagtes het hoofsaaklik oor die voortslepende gebrek aan dienslewering gegaan. Tydelike gesondheidswerkers het ook gedreig om alle klinieke in die Frances Baard-distrik te sluit indien hulle nie permanente aanstellings en terugbetalings kry nie, berig Charles Smith.
By die Donkerhoek-sportterrein het egter 'n heel ander atmosfeer geheers.

Dit is vir ons die dinamiese hernuwingsproses wat die ANC as 'n organisasie ten volle in voeling gebring het met ons gemeenskappe. Hulle was die finale besluitnemers.
Die honderde opgewonde inwoners kon nie wag dat die president sy opwagting maak nie.
"Ons is excited, man!" het 'n vrou oorstelp geskree toe die president se motor opdaag en ondersteuners gekeer moes word wat hom tegemoet wou hardloop.
"Bly asseblief waar julle is, die president sal almal groet," het Deshi Ngxanga, sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, uitgeroep.
Ook hier het Ramaphosa belowe dat dienslewering aandag sal kry en nog huise gebou sal word.
Hy het Sonyoni, wat twee grade agter sy naam skryf, daarna aan die inwoners bekend gestel.

"Ons is trots en opgewonde oor die nuwe, jong kandidate wat met vars en nuwe idees na die tafel toe kom."
Aan Sonyoni het hy gesê hy moet die gemeenskap dien.
"Jy het die ondersteuning van die gemeenskap en ons wil hê jy moet ywerig, getrou, eerlik en met integriteit vir hulle gaan werk."
Ramaphosa het ook tong-in-die-kies vir die meisies in die skare gesê: "Kyk, hy is iets vir die oog en dra ook stovepipe-broeke."
Ramaphosa het ná sy toespraak aan joernaliste gesê hy is opgewonde oor die nuwe, jong kandidate.
"Hulle is jonk en energiek. Die goeie ding is dat hulle deur die gemeenskap benoem en gekies is."
Hy sê dit is die gemeenskap self wat dié kandidate ondersteun.
"Dit is vir ons die dinamiese hernuwingsproses wat die ANC as 'n organisasie ten volle in voeling gebring het met ons gemeenskappe. Hulle was die finale besluitnemers."
Ramaphosa sê dit is vir die ANC op vele vlakke revolusionêr en dat die verkiesingsveldtog sy eenheid konsolideer en die party se strukture sterker maak.
"Dit bring nuwe talent na vore met vars nuwe idees en gaan formidabele spanne in al ons plaaslike regerings tot gevolg hê."




















