Verkiesing 2021

Regstelaksie ‘met ons totdat voorvaders se sondes uitgewis is’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys.  Foto: Elizabeth Sejake
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Elizabeth Sejake

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het op sosiale media na Orania gekap en meen dié Afrikaner-dorp in die Noord-Kaap se dae is getel.

Sy uitlatings kom nadat die VF Plus - 'n groot voorstander van selfbeskikking - die naweek sy verkiesingsmanifes bekend gestel het en daarin klem lê op die beëindiging van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.

Lesufi het in reaksie getwiet dat die VF Plus "kan aanhou droom" en dat regstellende aksie "met ons sal wees totdat die sondes van jou voorvaders uitgewis is".

"Ons is nie bang nie. Orania sal waai. Jy kan gil en skreeu nes jy wil," lui die boodskap.

Lesufi het al voorheen teen Orania uitgevaar. In Junie 2020 het hy op Twitter kommentaar gelewer op 'n foto van dié dorp se "geldeenheid" en vlag.

Hy het geskryf dat die geldeenheid slegs gebruik word deur mense wat 'n "sekere taal praat" en dat "verraad" teen 'n nierassige Suid-Afrika gepleeg word.

Die twiet van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Twitter
Die twiet van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Twitter

Joost Strydom, uitvoerende hoof van Orania, het by navraag gesê Lesufi het beslis sy mes in vir Orania.

"Pleks daarvan dat hy so baie energie aan Orania bestee, moet hy eerder aandag aan die uitdagings in sy eie departement gee. Daar is die kwessie oor die R400 miljoen wat sy departement in die Covid-19-pandemie aan die ontsmetting van skole bestee het," sê Strydom.

Volgens hom gaan Orania nêrens nie. Sy bevolking van sowat 2 000 inwoners groei gemiddeld 10% per jaar. Die Covid-19-pandemie het tot 'n toestroming van aansoeke om verblyfreg gelei.

"As dit so aangaan, sal ons teen die einde van 2021 meer as 1 000 aansoeke om verblyfreg ontvang het," sê Strydom.

Wynand Boshoff, leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, sê in 'n verklaring Lesufi probeer Orania "straf" weens die VF Plus se standpunt oor regstellende aksie.

Hy sê art. 235 van die Grondwet oor selfbeskikking gee erkenning aan Orania as selfstandige plaaslike owerheid.

"Lesufi se mees onlangse anti-Orania-twiet bevestig dat enige sukses wat Afrikaners behaal hom dwars in die krop steek. Hy wil liewer 'n beleid volg wat werkverrigting benadeel en Orania, wat meer belasting betaal as staatsgeld ontvang, vernietig," lui Boshoff se verklaring.

Prof. Koos Malan, grondwetkenner van die Universiteit van Pretoria, sê die regering het wetlik gesproke geen mandaat om by Orania te mag inmeng nie.

Volgens Malan is die dorp se bestaansreg gegrond op die reg van vryheid van assosiasie. Dit werk glo baie soos 'n private veiligheidskompleks omdat inwoners gekeur word en hulle ook aan sekere reëls onderhewig is.

"Omdat aansoekers nie suiwer op grond van velkleur afgekeur word nie, vind daar geen diskriminasie plaas nie," sê Malan.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM